Tuesday, March 22, 2011

WALLIS EN OSLO EN YSLAND SE $%&@! AS!

Die TIENDE DEEL van my blog oor mev. Doeminie se Annus Horribilis. Hier begin Mev. Doeminie se gewroeg nou vuur spoeg... letterlik. Dis dalk nie so snaaks nie, maar eerder pynigend. Jy is gewaarsku.

Jare lank swoeg ek mos my as af om 'n agent of uitgewer te probeer beïndruk met my skryftalent en boek: Wee Monk's Tale, the Secret of Immortality. Iewers in die middel van 2009 lees ek op die internet van die Internasional Book Fair wat in April 2010 in London gehou word, een van die Groot 5 in die wêreld. Dit gaan ‘n Suid-Afrikaanse fokus hê wat beteken dat ons plaaslike skrywers en uitgewers heelwat aandag en voordeel gaan kry by die skou en selfs ‘n skemerkelk-onthaal met sprekers en alles! My kop werk oortyd. Ek sien hoe ek my boek daar gaan uitdeel en hoe ek gaan skouers skuur met internasionale uitgewers, agente en rolprentmakers! Drucilla dromer is aan die werk in my. Big time! (Op die foto is ek en my gesin in Oslo, Noorweë, vir die groot beplande navorsingstoer)
Ek moet daar wees, besluit ek. Ek bespreek my plek onmiddellik. Maar ek is mos niemand. Ek is nie deel van die elite skrywerskring of uitgewersgroepie van Suid-Afrika nie, so ek word nie amptelik genooi nie. Maar so kommunikeer ek met die organiseerders in London en vertel van my onafhanklike uitgewersmaatskappy, ek is mos, ek het mos al my eie goed gepubliseer en moes ‘n naam: Rene’ van Zyl Uitgewers voor in my boek laat druk by my geregistreerde ISBM nommer. So ontvang ek die uitnodiging na die skemerkelkonthaal waar ek kan ‘networking’ doen aldus die organiseerders!
Daar is my hoop weer volstoom aangeblaas. Ek het nie natuurrampe in ag geneem nie. Al wat my besig gehou het vir sowat 10 maande, was om die verdere spelfoute wat vriende in die tweede druk van my geproefleesde boek opgespoor het, uit te sorteer, so 30 nuwe FOUTLOSE boeke te druk en my visitekaartjie stunning te laat ontwerp en druk. Ek maak CD’s van my draaiboek, vorige kinderboekies waaraan ek en my sus, Esmé, ‘n kunstenaar, gewerk het en wat nog als. Een ding weet ek: Met my God spring ek oor ‘n muur. Hierdie is die kans wat die Here my gee om tussen duisende uitstallers (agente, uitgewers en rolprentmakers) vanoor die hele wêreld iemand te beïndruk. NET EEN IEMAND. Ek bid vir die Here om een mens vir my te stuur wat van my en my boek hou en ons kan bemark. Dit kan ‘n Christenuitgewer wees of ‘n gewone een.
Met bietjie erfgeld van my oom in Somerset-Wes, Stefaans, en sy vrou Anita (wat haar hele lewe net oorsee wou toer en toe slegs vir haar wittebrood daar was) besluit ek om weer vir Anton en ons twee dogters saam te vat. Vir maande lank reël ek die goedkoopste vliegkaartjies met Egypt Air, die goedkoopste verblyf in Jeugsentrums en Travelodges in Wallis. Ons plan is om ‘n week in Wallis te toer met ‘n gehuurde kar en soveel kastele, katedrale en ou kerkies en ruïnes te sien as wat ons kan, dan vlieg ons oor na Noorweë (Bergen en Oslo) sodat ek kan navorsing doen vir my opvolgboek, waaraan ek al begin werk het, en dan vlieg ons terug na Londen vir die drie dae boekskou. Elke detail van my plan werk uit en omdat jy dit vooraf op die internet bespreek, werk dit spotgoedkoop uit.
En ek bid voortdurend dat die Here met ons is en dat hy dalk net dié keer vir my oor die muur sal stoot. So kom Januarie 2010. My reëlings is alles getref. Ons visums is reg.
In my ander horibale kerkstorie, wat Anton se pad met die tradisionele kerk insluit, begin daar onderlangse en agterbakse planne om Anton as predikant uit te werk. Skielik is die hoofmanne, (a.k.a. bestuurspan) nie meer gelukkig nie. Die vernuwing en versoening waarvoor Anton aangestel is, gebeur toe blykbaar te vinnig na die manne se wil. Maar meer daaroor later.
Hierdie situasie bring soveel spanning mee in ons huishouding en met ons verhoudings met sekere van die kerkleiers daar, dat ons Aprilmaand met ‘n sug van verligting op die vliegtuig klim, net om ‘n bietjie weg te kom van alles, te dankbaar om twee weke lank van hierdie spanning ontslae te wees. Ek is veral opgewonde, want ek sien in my geestesoog hoe my drome voor my waar word. Sean, my agtienjarige gestremde seun, bly weer tuis by my suster en my wonderlike engel van ‘n huishulp, Rosina. So 'n oorsese reis is vir hom onmoontlik om mee te maak omdat hy nie goed of lank aaneen kan loop nie en met sy breintjie wat soos 'n driejarige is, gaan alles beslis nie vir hom sin maak nie.
Ons dra swaar aan my klomp boeke, CD’s en visitekaartjies en ek het ‘n paar stukkies klere ingepak wat ek by vriendin Marinda gekry het wat sy noem: powerdressing! Sulke gekreukelde goetertjies wat min plek vat maar blykbaar wondere verrig as jy dit aan het; selfs skoene en juwele wat ek diep weggepak het, spesiaal vir die Boekskou. Ons toer werk fantasties uit. Elke plek wat ons bespreek het en elke kasteel en klooster is soos roomys op ‘n warm dag vir my. Wallis is asemrowend mooi. (Op die foto is ek en Michelle en Chantal by Stonehenge, 'n wonderlike misterieuse plek) Ons vlieg na Noorweë en beleef Oslo en Bergen en die pragtige Fjords, mere, berge, en ons sien hoe die Vikings geleef, gedroom en gewerk het.
Anton merk op net voordat ons terug moet gaan na Oslo vir ons terugvlug na Londen. “Alles het presies uitgewerk. Elke ding wat ons gesien en gedoen het hierdie vakansie was onverbeterlik.” En ons kan nie genoeg dankie sê vir die Here vir elke bederf nie. Ons trein ry deur pragwit sneeustorms en spierwit berge en kom in Oslo aan. Saterdagaand. Sondag is die dag van ons terugvlieg na Londen. Min besef ons wat Donderdag gebeur het en hoe my hele lewe weereens in duie gaan stort daardie Sondag.
Sien, daar is geen Engelse koerante in Noorweë nie. Ons bly in Jeugherberge en kyk nooit televisie (BBC) in die sentrale sitkamer nie. Ons is besig om Noorweë in te drink. Toe ons Sondag begin regmaak om terug te gaan lugawe toe, begin ons agterkom wat gebeur het. Geen vlugte uit of in Europa nie. Die vulkaniese as wat in die lug is as gevolg van 'n vuurspuwende berg in Ysland maak dit lewensgevaarlik vir vliegtuie om te vlieg. Derduisende mense in die wêreld word hierdeur geraak. En ek. En my Londonse boekskou wat Maandag tot woensdag aan is.
(Op die foto is Anton en Michelle en Chantal met 'n koerant in Noorweegs wat vertel van die As in die lug.)

Om jou nou nie te verveel met my lang traumatiese storie nie: ons sit ‘n week lank vas in Oslo, een van die duurste stede in die wêreld. Ek probeer soos ‘n dronk hoender by die internetkafee ons plekke op volgende vlugte of treine of ferries bespreek. Daagliks word daardie dag se vlugte gekanseleer. Ons probeer veerbote bespreek of busse of treine. Alles is of oorvol of ry nie.
Noorweërs is onbehulpsaam, afsydig en praat nie onnodig die Queen se Ingelse taal nie. Teen Dinsdag besef ek dat daar geen manier is hoe ons in Londen gaan kom nie. As ons gelukkig is, dalk oor die naweek, maar die onsekerheid elke dag oor wanneer die vliegtuie weer gaan vlieg, was ondraaglik. Ek het nie oor Sean by die huis bekommer nie, want hy was in goeie hande. Ek het wel oor die meisies se skool begin stres. Hulle beslis nie. Wat is nou lekkerder as om in Oslo rond te loop, want have a heart: hulle klerewinkels is fantasties! Om te oorleef, het ons elke dag McDonald kaasburgetjies gekoop. Dit was genadiglik op special. Saans het ek kos by ‘n tipe supermark gekoop en in die Jeugherberg gaar gemaak. Ons het elke oggend ‘n manier na London probeer vind, nie reggekom nie, en dan maar weer die stad ingevaar per voet en bus om nog iets nuuts te ontdek. (Op die foto is Michelle en Chantal by 'n Moose trofee in Bergen, Noorweë, lekker koud)
Dankie, Vader, Vrydagnag kry ons die eerste vlug na London. Net om engels te kan praat was wonderlik. Saterdag in London probeer ons alles inwerk wat ons daar sou doen. Ons besoek Madame Taussauds en ry die London Eye en gaan na Camden mark, maar dis so 'n antiklimaks. Jy wil daar wees maar jy wil ook nou al tuis wees. Jou hart is in twee geskeur. Anton gaan lughawe toe, ons probeer bel en vlugte kry, maar alles tevergeefs. (Op die foto is ons vier in London by die London Eye. Ja, dit was natuurlik 'n wonederlike vakansie, na alles.)
Ons besluit om Sondag sak en pak op Heathrow te gaan sit en smeek vir ‘n terugvlug na Suid-Afrika. Ek dink die dame by die rekenaar by Egypt Air kon die angs en ellende in my oë sien en ek het onophoudelik gebabbel terwyl die vrou onbehulpsaam my ignoreer en aanhou tik op haar rekenaar. Kyk, as jy vir 'n week in Oslo so geignoreer is, doen dit iets aan jou menswaardigheid en hierdie dag was nie anders nie. Die vrou se assistent wat langs haar staan, sê uiteindelik: “We will help you, calm down.” En ek sê: thank you. Ons vlieg uiteindelik die Sondagmiddag terug na Suid-Afrika. Ons oorspronklike Egypt Air vlug was ook gekanselleer as gevolg van die as. Ek kan jou nie vertel hoe verlig jy is om net te weet jou vliegtuig gaan uiteindelik vlieg nie.
Ek het ‘n maand later eers my boeke en CD’s uit my tasse gehaal ... en my powerdress en my visitekaartjies. My hart was so so seer. My geloof was so broos. Ek kan steeds nie verstaan nie, en sal seker nooit. Ek moet bly glo dat God in beheer is en alles ten goede laat meewerk. Hoe bly ‘n mens dit glo? Die Here moet my help want ek is nou op gebroke geloofskrukke. Ek wil graag die wedstryd van die lewe nou amptelik uitsit en nie meer deelneem nie. En die volgende een en die volgende honderd. My oemf is uit. Ek weet nie of ek ooit weer fiks sal wees vir die speletjie van die lewe nie. My verbeelding, my verwagtings en my geloof in myself en my bediening is te groot. Ek moet begin besef ek is nie die blue-eye meisietjie wat ek dink ek is nie. Ek is nie so oulik as wat ek dink nie. Ja, ek weet dis nie God se tyd nie (sê almal wat iets weet). Grietjie galbraak hier binne in my voel: Ek is die weeskind, ek is die een wat aan die agterspeen suig en my gawes is nie goed genoeg nie. My bediening is nie goed genoeg nie of selfs nodig nie. “I have been weighed and measured and found wanting...” Ek is jammer vir myself en voel sleg omdat ek so smartvraat is. Ek vra die Here om vergifnis, want ek wil nie so wees nie. Ek wil nie so sonder hoop en energie en 'n verwagting leef nie.
Daar is mense wat erger goed oorkom as ek. ‘n Ander skrywer van ons dorp, oppad om haar boekbekendstelling in London te gaan bywoon, is dood kort na die As-fiasko, op ‘n Libiese vlug. Haar vliegtuig het neergestort. Ek leef. Ek het 'n wonderlike gesin, huis, kos, klere. Al wat ek het wat teen my tel is my verbeelding en my verwagtings. So, ek moet dit stop. Dis hoe ek nou voel. Ek stop my groot verwagtings. As die Here dinge wil doen met my gawes, dan sal Hy dit doen op sy tyd. My geloof gaan nie Sy arm draai nie. Hy doen wat Hy moet om balans en orde in die skepping te handhaaf. Ek besef my fairytale geloof van ek glo en God doen, is 'n leuen. Ek moet groot word. God is groter as my geloof. As Hy iets met my gawe wil doen, sal Hy, dit hang nie van my geloof af nie. En ja, ek sien wonderwerke gebeur in ander se lewens, ek sien dit baie goed raak. En daar gebeur weer ander dinge in ons lewe ook. God kan as Hy wil. As dit in Sy plan is. As dit nie is, nie, dan moet ons vervuld wees sonder dit. Dis die lewe. Gaan in vrede. Want jou onvrede versuur ander s’n. Deal with it, my ding! (Op die foto is ek en 'n Noorweegse wolf. Daar is mos die storie oor die twee wolwe in jou wat jy kos gee: die swart wolf of die wit wolf. Die een wat kos kry, gaan sterker wees en oorleef en wen. Ek moet nou myself dwing om die witte te voer! Die swarte kan nogal oordonderend wees.)

My groot probleem: My doel in die lewe, my rede vir bestaan, my droom van skryf, van kinders leer van die Bybel se wonderlike pad deur die eeue heen, is lamgelê. My geloof in myself en in God is opgebruik. Ek weet nie watter natuurramp volgende gaan tref nie. Ek wil my volgende boek skryf, maar is bang en moedeloos voor ek nog begin. Dieselfde pad weer stap? Van jaar in en jaar uit se verwerping deur uitgewers, en baie energie mors op skryf en navorsing, energie wat ek nie het na my gesin, man en gemeente my op 'n dag nodig gehad het nie?
Met hierdie gekneusde hart, kom ek ons mooi land binne. Ons mooi dorp met ons mense wat vir ons omgee... of toe nou nie?
En watse gemors tref ons toe hier aan... amper gelykstaande aan ‘n natuurramp. ‘n Mensgemaakte ramp ... georkestreer deur ‘n groepie kerkleiers wat eens voorgegee het om ons vriende te wees. Mense wat (ek glo) voorgegee het om my man in 'n pos aan te stel met pligte wat hul nooit van plan was om hom 'n kans mee te gee nie. Ek glo: Al wat hulle wou hê was om hul geldkoffers weer vol te kry, want sien, my man preek uit God se genadige Vaderhart uit, sonder uitsluiting van mense en dit lok baie mense. Hoe hierdie spannetjie met hul bose planne gedink het hul kan hul agteraf planne uitvoer sonder verrykende gevolge, weet net hulle alleen. En die hoofstuk wat hierop volg, is 'n seer, rou, wond in die geskiedenis van ons dorp se kerk, geskryf in die bloed van die profete wat oor die eeue heen gehoop het om 'n verskil te maak in mense se lewens, om God se genade te verkondig aan ‘n gebroke wêreld. Hulle is ongelukkig deur hoogmoedige egosentriese leiers verwond en vermoor omdat hulle God se waarheid gepraat het. En vir my die grootste krisis is: daardie manne wat so in hul eie hoogmoed swymel, bid elke aand en sê hul versies op vir dieselfde God as wat ek en jy aanbid. So, wie is ek om te dink hulle is reguit oppad hel toe? Dit is die ergste om te verwerk vir my: dié mense wat ander so vertrap, gaan na dieselfde hemel toe as ek en jy want hul harte en intensies is so edel: hul ‘beskerm net die kerk’ soos sovele oor die eeue heen. Net so min soos hul my verstaan, verstaan ek hulle.
Moenie die volgende hoofstuk lees as jy illusies het oor vrome kerkmense en predikante nie. Ek het nie meer illusies of respek vir enige mens wat jou met 'n lagie Christen-room oor sy snedige woorde en vriendelike glimlag probeer belieg nie. En dit is waaroor my volgende hoofstuk gaan. Mag die Here my vergewe as ek verkeerd is.

3 comments:

  1. Ek, natuurlik, ken hierdie hele storie. Het dit saam met jou beleef. Het in angs by die huis gesit en wag vir julle om terug te kom. Het met tye gedink julle gaan nie terug kom nie. Het die whiplash van die kerkleiers eerstehands ontvang in daardie tyd. Het saam met jou (en sonder jou) my hart uitgehuil die aand toe die pasiespele klaar gemaak het. Maar ek het vandag hierdie verhaal weer deur nuwe oë beleef, deur jou oë en ek wil net vir jou sê dat ek verskriklik hartseer is dat jy so voel. Hartseer oor jou gebroke drome en die hartseerste omdat geen mens dit vir jou kan regmaak nie. Ek is jammer. As ek kon, dan sou ek. Jy is altyd in my gebede.

    ReplyDelete
  2. Dankie Marlene, om so te skryf oor alles maak maar weer ou wonde oop. Die Here sal my hierdeur moet help, want soos jy sê mense kan nie. En sulke tye is dit moeilik om nie die swart wolf te voer nie! Dis maar 'n lewenslange proses om te bly glo in jouself, en ander mense, en om jou geloof sterk te hou. Dankie dat jy daar is vir my en saam huil en lag. Dit maak alles meer hanteerbaar.

    ReplyDelete
  3. Ai Rene as jy maar net weet hoeveel mense gee jy weer moed sonder dat jy dit besef. Jy en Anton is Jesus se hande en voete daar waar dit saak maak. Ek wens ek het al lankal jou blog begin lees ! Baie liefde, Frances

    ReplyDelete