Monday, February 19, 2024

2024: VOL VERRASSINGS

 Ek is baie opgewonde, want ek verwag om 'n jeugboek en twee Romanzas in 2024 uit te gee.

Ook gaan ek my persoonlike getuienis, Geloof soos 'n Blou Onderbroek, uitgee. Dis my verhaal met Sean-Jacques, my breingestremde seun wat al 31 is vanjaar. Hy het op 15 maande oud n vreemde virus opgedoen wat hom met breinskade gelaat het. Soveel mense vra my na ons storie want ek deel graag snaakse staaltjies op Facebook, en glo my, daar is stories wat ons rooi van skaamte gemaak het, maar ons gesin moes deurdruk - deur die trane en lag - vir onsself en vir die situasie, al het baie mense nie verstaan nie. Ek wag vir die proefleser en sal dit later vanjaar uitgee. 

Ek kan solank die eerste Romanza se voorblad deel - dit kom Juniemaand uit. Intussen hou ek my besig met skryf-skryf-skryf!

Hier is:
Toe Gebeur Vegas. 


Monday, March 27, 2023

TWEE JEUGROMANS VIR 2023: DEUR RENé VAN ZYL

2023 IS 'N LEKKER JAAR!

MY NUUTSTE BOEKE IS OP DIE RAK EN BESKIKBAAR BY LAPA, OF NB OF GRAFFITIBOEKE IN PRETORIA. OOK BY BOEKWINKELS EN OP AMAZON.COM AS E-BOEKE! GENIET! 

Daar is nog 'n romanza op pad teen September - Belle, met die hart vol Blomme. Kyk uit!



DIE MONSTER IN MY MELKSKOMMEL - FEB 2023 - LAPA.CO.ZA

 

Lexi word deur ’n monster gejag. ’n Zombie … nee, ’n zombie gekruis met ’n tokkelossie. ’n Zombeloshé. Niemand glo haar nie, behalwe haar nuwe vriende by die traumasensitiewe skool waarnatoe sy nou moet gaan nadat hulle gesin aangeval is tydens ’n inbraak. Saam met Zinzi, Taliep en Michael besluit Lexi: sy gaan die monster vang en uitvind wie daaragter steek. Sy is paraat en het ’n rugsak vol wapens en planne. Maar onverwagte vriendskappe, onverwagte ontdekkings en onverwagte gevoelens laat haar als bevraagteken wat sy gedink het sy weet. Wat is waar, en wat is net in haar kop? ’n Unieke en spanningsvolle verhaal wat op ’n empatieke en humoristiese wyse sensitiewe kwessies rondom trauma behandel. René van Zyl se toetrede tot jeugfiksie is vars en vol impak.

 KORMORANT KOERANT HARTBEESPOORT

René se Monster is op die rak

16/02/2023


 

René van Zyl

Die bekende Hartbeespoort-skrywer, René van Zyl, se nuutste jeugboek is pas op die rakke, maar Die Monster in my Melkskommel is nie net vir die jeug nie – dit is een van daardie treffers wat deur oud en jonk geniet sal word.

 

“Ek is baie opgewonde oor hierdie boek omdat dit ‘n ander tema het as vorige Afrikaanse jeugverhale. Dit spreek trauma by tieners aan op ‘n humoristiese wyse. Daarom sal jongmense juis met die karakters kan identifiseer,” sê sy.

Die boek word deur uitgewers bemark as “’n unieke en spanningsvolle verhaal wat op ’n empatiese en humoristiese wyse sensitiewe kwessies rondom trauma behandel. René van Zyl se toetrede tot jeugfiksie is vars en vol impak.”

Waaroor gaan die boek? Lexi word deur ’n monster gejag. ’n Zombie … nee, ’n zombie gekruis met ’n tokkelossie. ’n Zombeloshé. Niemand glo haar nie, behalwe haar nuwe vriende by die trauma-sensitiewe skool waarnatoe sy nou moet gaan nadat hulle gesin aangeval is tydens ’n inbraak. Saam met Zinzi, Taliep en Michael besluit Lexi sy gaan die monster vang en uitvind wie en wat daaragter steek. Nie net is sy ‘n selfopgeleide Zombie-jagter nie, maar boonop is sy hoogs paraat en het ’n rugsak vol wapens en planne. Onverwagte vriendskappe, onverwagte ontdekkings en onverwagte gevoelens laat haar egter als bevraagteken wat sy gedink het sy weet. Wat is waar, en wat is net in haar kop?

Die Monster in my Melkskommel is René se tweede jeugverhaal. In 2012 is Wee Monk’s Tale, wat oor drie tieners handel wat in die Middeleeue in Ierland en Skotland met ‘n Altaar Bybel vir Vikings moet vlug, gepubliseer. Die boek is steeds as ‘n e-boek beskikbaar.

En sy het verdere goeie nuus. Haar volgende jeugboek verskyn in Julie 2023 en word deur Human & Rossouw uitgewers gepubliseer. Die boek se naam is Tuimeltrein en sy het omtrent die drie tieners in die boek laat rondhardloop vir hul lewe. Die polisie is op hul spoor omdat hulle kwansuis ‘n roomysman vermoor het, maar dit is glad nie wat gebeur het nie. Niemand glo hulle nie. Sonder hul selfone en met ouers wat net die slegste van hul dink, moet hulle bontstaan om uit die moeilikheid te bly.

Die Monster in my Melkskommel word deur Lapa/Penguin Random House uitgegee en is by toonaangewende boekwinkels beskikbaar of kan bestel word by lapa.co.za. Dit is oo as ‘n e-boek beskikbaar by Lapa en Amazon.

TUIMELTREIN (JUNIE 2023) Human & Rossouw

Drie graad elf leerders met totaal uiteenlopende persoonlikhede en sosiale status moet skielik voor die gereg vlug toe ʼn groeptaak ʼn horribale verkeerde rigting inslaan. Sonder selfone en met niemand wat in hul onskuld glo nie, moet Abby (langafstandatleet slash cool girl), Jasper ( gamer slash bad boy) en Henri (drama queen slash reënboogkind) voor die gereg vlug en slegs op mekaar staatmaak om hierdie tuimeltreinrit te oorleef.

Die vraag is: gaan die polisie of die eintlike moordenaar hulle eerste opspoor en watter scenario is die ergste?

Drie graad elf leerders met uiteenlopende persoonlikhede en sosiale status word gedwing om saam aan ʼn klasprojek te werk toe hulle ʼn koelbloedige moord aanskou. Skielik verander hul lewens in ʼn tuimeltreinrit en moet hulle vir hul lewe vlug. En hul moet te midde van groot persoonlikheidsverskille saamwerk om die skelm speurder, wat hulle vir die moord blameer, te uitoorlê. Skielik is hul op hul eie, sonder selfone en hul normale ondersteuningsstelsels om hul raad of hulp te gee.  




Tuesday, March 21, 2023

NUWE FANTASIE GROEPROMAN: OP PAD NA GRYSBERG

NUWE FANTASIE GROEPROMAN: OP PAD NA GRYSBERG! 

Harties skrywer deel van baanbrekerroman.


René van Zyl, bekende skrywer van Harties, was gekies om deel te wees van dié unieke projek waarby 22 van die land se grootste skrywers betrokke was: Op Pad na Grysberg.

Op Pad na Grysberg is ʼn baanbrekerroman waaraan 22 van die van die land se grootste Afrikaanse skywers deelgeneem – onder andere: Kerneels Breytenbach, Madelein Rust, Irna van Zyl, Annerle Barnard, Elsa Winckler, Sidney Gilroy en Jan Vermeulen. Die projek is deur die bekende skrywer, Stefaans Coetzee, geïnisieer en gelei.

Op pad na Grysberg vertel die storie van M, ʼn vrou wie se menswees deur die ongenaakbare elemente van ʼn post apokaliptiese wêreld afgetakel word. Sy rou ook, want haar seun het weggeloop om hom naby Grysberg, die mistieke baken wat bo die landskap uittroon, te gaan vestig. Een aand besluit sy om hom daar te gaan soek, maar die tog soontoe is gevaarlik en die chaotiese stofstrate van Henza, die gevreesde ravyn en die Vloek van Kirikuk wag op haar. Sal sy die moed hê om die reis te voltooi? En sal sy haar seun weer sien?

Dit is ʼn unieke fantasie groeproman deur Suid Afrika se knapste skrywers wat temas van identiteit, verbondenheid en die aard van komplekse, gedeelde menslikheid ondersoek. Elke skrywer het ʼn hoofstuk geskryf sonder om werklik te weet hoe dit gaan eindig en die uiteinde is briljant.


René is bekend vir haar samesweringsrillers, Die Alfadokument en Die Omegakomplot, asook verskeie Romanse en spog hierdie jaar met twee jeugromans: Die Monster in my Melkskommel en Tuimeltrein. Sy sê sy voel gevlei om deel te wees van hierdie grootse Grysberg-projek veral omdat sy in geselskap is van soveel befaamde skrywers. Hierdie storie gaan jou nie los nie. Dis boeiend, vol verrassings en selfs die skrywers kan nie wag om te lees hoe dit eindig nie. tertia@naledi.co.za (078 6488 616) of www.naledi.co.za – Bestellings word na u adres gekoerier R240,00 prys sluit posgeld in.

Tuesday, November 29, 2022

SAMESWERINGSROMANS: DIE OMEGAKOMPLOT & DIE ALFADOKUMENT

 

Die Alfadokument en Die Omegakomplot

deur René van Zyl

(Wenner van Rosa Imbali toekenning vir uitmuntende skryfwerk 2020)

2 SAMESWERINGSROMANS WAAR GELOOF, MAG EN WAANSIN 'N DODELIKE TYDBOM ONTLONT ...

 

Kan twee gewone Christene, wat veg met hul eie emosionele trauma, die mensdom red van magtige sg. ‘Christen’ organisasies en hul vernietigende dwaalleer?

Beide samesweringsrillers is spannende verhale, belaai met flink aksietonele, intense intriges en onverwagte verrassings. Die leser word ingetrek in ʼn parallelle doolhof tussen fiksie en historiese feite terwyl fiktiewe, hedendaagse organisasies oortuigend weergegee word. Die leser word met deernis ingetrek by elke karakter se geloofsoortuigings en ambisie terwyl etiese kwessies realisties belig word.

BESKIKBAAR BY:

imaginemoonstones@gmail.com  of  0823964100

 www.Graffitibooks.co.za  / From Ssack to Sanctuary (Klerksdorp)

of La Vie En Rose (Parys)

Amazon.com - e-boek

Berig: Kormorant, Hartbeespoort. 

Hartbeespoort-skrywer se nuwe boek is hier. 14/07/2022

Na die sukses van haar eerste sameswering-roman, Die Alfadokument in 2020, het die bekende Hartbeespoort-skrywer René van Zyl, in volle vaart weggetrek met die aksiebelaaide opvolg, die Omegakomplot wat nou uitgereik is.

“Die boek kan losstaande van sy voorganger gelees word, maar jy gaan baie nuuskierig raak en die vorige een wil koop, wees gewaarsku,” sê René.

” Dit is ʼn  spannende verhaal waarin geloof en waansin ontmoet en ʼn  dodelike tydbom ontlont,” sê sy.

Volgens die bekende skrywer en joernalis, Erla Diedericks, is die Omegakomplot is ʼn “briljante, spanningsvolle riller met sy wortels in die geskiedenis, navorsing en ʼn  toekomsvisie wat dalk meer werklik is as wat ons besef.”

René, is ʼn oud-joernalis, wat ook bekend is vir haar gemeenskapsmusiekblyspele. Sy het reeds 15 romanse geskryf wat deur Lapa uitgegee is, asook Die Alfadokument, ʼn  samesweringsriller. Haar eerste aksie-avontuurverhaal, Wee Monk’s Tale, the Secret of Immortality, het in 2012 ook groot sukses behaal.

ʼn  Boekbekendstelling vir Die Omegakomplot het plaasgevind op 3 Augustus om 17:00 by Kuierkidz Kuiertuin Skemerberg Hartbeespoort plaas. Kontak René by
082 396 4100.


Romanzas van 2023

TWEE NUWE ROMANZAS DEUR RENé VAN ZYL VIR 2023

 

Lesers kan uitsien na nog twee Romanzas vir 2023 en dit is binnekort op die rakke:

 Roekeloos Verlief

 

Waaroor gaan dit:

 

Steffie Fritze, eienaar van ʼn mobiele troeteldierspa wil beslis nie op die rak bly sit nie, maar haar pogings om die regte lewensmaat te kry, loop telkens op ʼn ramp uit. Toe haar pad met die van speurkaptein Ivan von Beneke kruis, is sy in groot moeilikheid, nie net met die gereg nie, maar ook omdat sy blote aanraking haar hartritme roekeloos aantas. Probleem is: hy dra steeds sy oorlede vrou se trouring en klou vas aan haar vlekkelose nagedagtenis. Steffie is basies haar teenoorgestelde en bots heeltyd met die gereg. Sy bly hoopvol, want Ivan se Duitse herdershond, Max, dink darem die son skyn uit haar uit.

 

Lekker om sulke terugvoer van die teksversorger te kry:

 

Ek is klaar met die versorging van hierdie teks en het dit enorm geniet. Ek het al verskeie tekste van René van Zyl versorg en iedereen was ʼn absolute voorreg. Wat my telkens verstom, is hoe deeglik haar stories deurdink is en hoe goed die navorsing; wat sy byvoorbeeld nie alles met die gegewe van ʼn troeteldierspa vermag in hierdie nuwe Romanza nie, is merkwaardig. Werklik knap gedoen.

 

Graag wil ek veral die erotiese passasies in hierdie teks uitsonder as ʼn besonderse hoogtepunt. Dit is selde dat die leser in ʼn Romanza erotiek van hierdie gehalte teëkom; nie net is die kontekstualisering van die betrokke tonele nommerpas nie, maar die beskrywings is eweneens sensitief en met groot diskresie hanteer. Volpunte aan die skrywer!

 

 

Meer inligting later oor:

 Belle, met die hart vol blomme ...

 

Izabel Blomerus, oftewel Belle, eienares van ʼn blommewinkel in Potchefstroom, stoei met die trauma van ʼn dronk pa wat haar as kind verwerp het en ʼn prins van ʼn eggenoot wat haar vir haar beste vriendin verlaat het, maar haar romantiese hart glo steeds dat die liefde wel bestaan. Haar blommewinkel en drome van ʼn eie blommeplaas, eendag, hou haar gefokus en keer dat sy uitmekaar val. Toe sy tydens haar eks se verlowingspartytjie ʼn semi-ineenstorting beleef, kom ʼn wildvreemdeling tot haar redding, een met smeulende oë en ʼn diep lag wat haar wys ʼn mens kan weer opstaan. Killian Potgieter stoei egter innerlik met sy eie seer wat baie ooreenkom met dié van Belle. Hy is ongelukkig ook die een wat al die snellers van haar traumatiese verlede een vir een laat afgaan en haar hartseer laat toeneem. Moet sy nie liewer wegbly van so ʼn tipe mens wat die slegte emosies uit haar bring nie? Die liefde vind egter altyd ʼn weg, soms moet ʼn mens dalk die ondier kies en nie die prins nie vir ʼn gelukkige einde.

 

Twee nuwe Romanzas vir 2022:

Beskikbaar: www.lapa.co.za of as e-boeke by Amazon.com

SPROKIE VIR 'N PLAASKIND - René van Zyl

 (Lapa Uitgewers/ Penguin Random House 2022)  

Geneviève van Vuuren, oftewel Jenny, se sprokieshuwelik word onverwags deur haar verloofde afgestel. Kwaad, hartseer en teleurgesteld besluit sy impulsief om saam met haar suster en swaer met ʼn kampeerwa deur Italië te gaan reis. Alles verloop goed, totdat die losbol wêreldreisiger, Reinhard Prinz, hulle op die laaste nippertjie vergesel. Al wat Geneviève met Reinhard in gemeen het, is die feit dat hulle albei as kinders deur ʼn ouer verlaat is. Nie een van hulle vertrou die teenoorgestelde geslag nie en is ook nie van plan om van mening te verander nie. Al probleem is die aantrekkingskrag wat vinnig duidelik raak. Geneviève en Reinard is nie blind vir hul gevoelens nie, maar ook nie gereed om dit met mekaar te deel nie. Is die vrees vir verwerping sterk genoeg om in die pad van hul geluk te staan?




DIE HART SOEK WAT HY SOEK - René van Zyl

(Lapa Uitgewers, 2022/ Penguin Random House)

Deur René van Zyl

Elizma Victor werk baie hard om vir haar jong seun, Luka, ʼn goeie ma te wees en om hom te beskerm. Hulle huisie by die see behoort hom veilig te hou van die lelik in die wêreld wat haar al vir jare teister. Sy sal seker maak hy word nie blootgestel aan hartseer of swaarkry nie. En Luka gaan nooit, ooit sy pa ontmoet nie. ʼn Werksgeleentheid lok Elizma Hermanus toe. Die misterieuse skrywer, Zander Adlam, wil hê sy moet drie van sy boeke vertaal, maar sy weet niks van die man af nie. Hy is ʼn hermiet en lyk haweloos, maar sy kon haar nie voorberei op hoe bekend sy oë is nie. Alexander Adendorff, Luka se pa en haar jeugliefde, het haar weer gevind en dis asof die jare se seer verdwyn soos seeskuim. Hierdie keer sal sy egter nie vir sy sjarme val nie. Sy moet haar hart verhard, hom op ʼn afstand hou en fokus op haar werk. Sy moet ook haar kind van hom weghou. Maar die hart soek wat hy soek ..

Tuesday, March 9, 2021

STRANDWOLF - MY NUUTSTE ROMANZA

STRANDWOLF

Deur René van Zyl

My nuutste Romanza, Strandwolf is beskikbaar by boekwinkels en by lapa.co.za of graffiti.co.za - as boek of as e-boek. Daar is Woensdagaand om 20.00 'n onderhoud met my oor die boek op Boekemakranka se facebook bladsy as jy lus het om te luister.  


WAAROOR GAAN DIT?
Tala Robberts, met haar donker hare, vreemde rituele en Rooi Indiaanse bloed, vlug van vreeslike herinneringe en mense wat haar jongmenslewe gesteel het. Sy land met haar vyfjarige seuntjie op ʼn Wes-Kaapse stranddorpie, Strandloper, waar sy net alleen gelos wil word. Die jong predikant op die dorp is gefassineer met haar vreemdheid en spiritualiteit, terwyl ʼn regte wildewragtig-strandloper haar nuuskierigheid aanwakker en haar hart bokspronge laat maak. Voor sy haar kan keer, is sy stewig gewikkel in almal se wel en weë en haar emosies is 'n warboel.  Watter keuse sal sy maak om vir haar en veral haar seun die regte toekoms te verseker? Gaan sy die foute van die verlede herhaal of gaan daardie verlede haar eendag inhaal?

MY BOEKE TOT DUSVER - AS JY DALK EEN GEMIS HET: 





Monday, March 8, 2021

2021: LIEFDE IN DIE BOENDOES EN STRANDWOLF

2021 is hopelik 'n beter jaar as 2020! Ja, ek weet ons moes almal n bietjie rus van onsself en die wêreld en die virus, maar nou kan ons hopelik weer n bietjie leef!

Sover kom daar twee van my Romanzas in 2021 uit: 
(Beskikbaar by lapa.co.za - as boek of e-boek of by Graffitiboeke.com of Amazon.com)

LIEFDE IN DIE BOENDOES (Maart 2021) 

Tydens ʼn werkekskursie na Botswana moet die bleeksiel joernalis, Jani Kleinhans, besluit of sy jag gaan maak op die aantreklike toergids, Ruan, wat haar emosies lelik deurmekaar krap. Of moet sy liewer veilig in haar groef bly en tevrede wees met die perfekte lewensmaat wat tuis vir haar wag? Daar is egter ʼn meer ervare broekjagter in die geselskap, Tersia, wat lyk of sy al die truuks ken om ʼn man te vang. Vraag is: gaan sy Jani se hand in die as slaan of gaan Jani genoeg waagmoed hê om te veg vir wat sy wil hê? Verder is daar genoeg misverstande aan die broei wat dreig om haar hele plan omver te werp en sy besef dit nie eens nie.




STRANDWOLF (JUNIE/JULIE 2021)

Tala Robberts, met haar donker hare, vreemde rituele en Rooi Indiaanse bloed, vlug van vreeslike herinneringe en mense wat haar jongmenslewe gesteel het. Sy land met haar vyfjarige seuntjie op ʼn Wes-Kaapse stranddorpie, Strandloper, waar sy net alleen gelos wil word. Die jong predikant op die dorp is gefassineer met haar vreemdheid en spiritualiteit, terwyl ʼn regte wildewragtig-strandloper haar nuuskierigheid aanwakker en haar hart bokspronge laat maak. Voor sy haar kan keer, is sy stewig gewikkel in almal se wel en weë en haar emosies is 'n warboel.  Watter keuse sal sy maak om vir haar en veral haar seun die regte toekoms te verseker? Gaan sy die foute van die verlede herhaal of gaan daardie verlede haar eendag inhaal?

             



En net miskien kom daar later vanjaar nog n Romanza uit... hou duim vas ... 

en dalk nog n verrassing of twee..