DIE ALFADOKUMENT

Sedert my eerste samesweringsroman uitgekom het in  November 2019 het ek nog net goeie terugvoer gekry. Ek is so dankbaar hieroor. Dit lyk of hierdie nuwe genre in Afrikaans nog baie gewild gaan word. Dan Brown het baie sukses met sulke verhale oorsee en dit blyk dat ons Afrikaners dit in Afrikaans ook soek. Ek is besig met die opvolg van die Alfadokument en daar is weer heerlwat dinge wat bo blink en onder stink. En oral steek n lelike ding sy kop uit!
Kyk gerus na die resensie in die Beeld en Burger van onlangs.

Kyk ook na die video wat my uitgewer, Wenkbrou, saamgestel het ter bemarking van die Alfadokument: 
https://web.facebook.com/wenkbrou/videos/2553866508030050/?t=0

My onderhoud op Ontbytsake op Kyknet vroëer vanjaar:
https://web.facebook.com/WRITINGISCREATING/videos/890811461372071/

En hier is die link na Media 24 se resensie in Burger en Beeld as die foto nie duidelik leesbaar is nie. Dankie Clari Niemand (vryskutresensent van Pretoria) vir die lekker terugvoer!

https://l.facebook.com/l.php?u=https%3A%2F%2Fwww.netwerk24.com%2FVermaak%2FBoeke%2Fsameswering-wat-oortuig-20200308%3Ffbclid%3DIwAR3bq37tLDUpNUdxpiyh1KKQrsgwEMvgEXEuoswjPz2AEaKQqrPQMsNdlHE&h=AT04PXSrNto24tTMxS7AeAf0VSzw-mRQcoBHXe4LGFXG30kykgr_vSjlYFDt4fAbt2ROxLjKB-jvBL7dVm9QqSPwbjqQJ7fgjxkdSmItmr1CWoEaMA2LNTyMdeAHWzGH4aweZRBCkQPji553nCgn956uVkRkXLEXjQh1sD75gg





DIE ALFADOKUMENT, DEUR RENE' VAN ZYL

Jonothan Amid (boekresensent/skrywer) - keurdersverslag: (Opsomming)
VUURDRAAK VERSLAG (Nou- Die Alfadokument) April 2019 Jonathan Amid

 Daar word oor die loop van ongeveer 120 000 woorde ondersoek ingestel na die Orde van die Nikolaite.
 Hierdie is natuurlik ʼn geheime orde in die tradisie van die old school spannings- en avontuurverhale, waar daar onder die dekmantel van goeie dade en in hierdie geval Christelike waardes ʼn totaal ander agenda deurgevoer word.
 Humor en skerp kwinkslae is daar genoeg van, ook in afwisseling tussen die verskeie karakters in terme van hul taalgebruik en idiolek. Die pas is lekker vinnig, maar nie altyd gejaagd nie, die ontgin van plek en ruimte is reeds goed, en daar is tot my groot verligting nie die geneigdheid om die skurke totaal karikatuuragtig te maak nie, ten spyte daarvan dat die tong soms lekker in die kies is.
Hierdie skrywer het werklik talent. Nie alle skrywers verstaan intuïtief hoe die vereistes van die genre baie bepaalde eise aan die skrywer sal stel nie, en dat lesers baie erg is oor sekere elemente wat hul graag in hierdie verhaal sou wou sien.


Johan Jack Smith gesels met René van Zyl oor Die Alfadokument

Die predikantsvrou René van Zyl se samesweringsriller gaan vir seker wenkbroue laat lig. Johan Jack Smith het met haar gesels oor Die Alfadokument.
Die Alfadokument is ’n teks wat heeltemal buite die genre val waarin jy gewoonlik skryf? Wat het jou laat besluit om jou horisonne te verbreed?Ek het eintlik Die Alfadokument al in 2013 begin skryf, nagevors en sonder veel kennis van die publikasiebedryf en die mark dit aangepak. Ek is lief vir spioenasie, misdaad en samesweringsflieks, dus is dit seker my eerste liefde. Ek het die manuskrip aan uitgewers begin stuur, maar die genre was nie in Afrikaans bekend nie en daarom moes ek heelwat herskryf en aanpas, maar steeds was dit anders as die normale misdaadgenres in Afrikaans. Eers toe ek dit aan Wenkbrou stuur, wat nuwe genres aanpak, was dit suksesvol en is dit aanvaar. Ek het aanvanklik in die Romanza-genre begin skryf nadat ek ’n skryfkursus van LAPA Uitgewers en die ATKV in Potchefstroom bygewoon het. Dit was toe vir my ’n lekker uitdaging, want dit het nie die vreeslike navorsing geverg wat met Die Alfadokument gepaard gegaan het nie. Ek het heerlik aan die stories geskryf en toe het LAPA daarvan gehou en dit begin publiseer. Ek het nou al vyf Romanzas en een Super Romanza in twee jaar uitgebring.
Hoe moeilik is dit om genres te verander? Moet jy jouself kort-kort herinner dat jy nie met ’n liefdesverhaal besig is nie?Ek is nogal boots and all in die storie as ek eers begin skryf. Die karakters in Die Alfadokument het meer wroegings en uitdagings as die Romanza-karakters en is dus uit die staanspoor uit meer intense mense om mee te werk. Ek wou Kayla ook baie meer emosioneel afgestomp laat voorkom as gevolg van al die trauma wat sy beleef het, maar ek het ook besef dat ek haar meer menslik moet laat wees (soos ’n tipiese warmbloedige vrou in ’n liefdesverhaal) – sy is tog uiteindelik ’n vrou wat liefde soek, al sal sy dit nooit aan jou erken nie.    
Waar het jou inspirasie vandaan gekom?Storie-idees kom en gaan heeltyd in my kop. Die wat ek begin voer, kry lewe. Ek het met Die Alfadokument ’n paar idees gekry (televisie, tydskrifte, koerante) wat nie een wou wyk nie. Dit het in my gedagtes rondgerol, ’n lewe van hul eie gekry en toe in die storie verander. Dit was aanvanklik totale uiteenlopende gedagtes wat mettertyd soos drie riviere bymekaar gekom het en in een dik stroom teen die waterval afgetuimel het. Toe ek begin skryf, wou die karakters my nie los nie. En ek moes kophou soos ’n dronk weeluis. 
Hoeveel navorsing het die boek geverg?Ek moes regtig baie oplees oor geheime organisasies wêreldwyd en veral Christen-sektes. Ek het die internet gebruik en dokumentêre programme en rolprente gekyk wat hieroor gaan. Gelukkig hou ek by met baie van hierdie soort flieks wat oor sameswerings handel. Sekere dele was makliker, die wat ek self geskep het, soos die hele konsep van die Nikolaïete Orde. Dit is vir my altyd verstommend hoe sekere mense ander kan oortuig van ’n totaal belaglike konsep en hoe mense – slim en dom – daarvoor val. Dit is so deel van die wêreldgeskiedenis (van antieke tye af) en dit interesseer my geweldig. Die navorsing was baie lekker.
Dink jy organisasies soos die Nikolaïete is plaaslik ook ’n bedreiging? Of dink jy dit bestaan plaaslik?Absoluut. Dit bestaan in een of ander vorm orals op aarde en van alle tye af. Daar is soveel organisasies, nie net godsdienstig nie, wat mense se goedgelowigheid en onskuld uitbuit en mense val so maklik daarvoor. Van die slimstes tot die domstes onder ons.
Beplan jy ’n opvolg?Ja. Daar ’n klein los draadjie in Die Alfadokument waaraan getorring moet word. As jy die boek lees, sal jy dalk agterkom wat dit is, maar ek sê niks. Ek is reeds besig met die opvolg en veral met die navorsing. Die konsep is al neergepen en die samesweerdery gaan dalk hierdie keer erger wees en moeiliker wees om oop te vlek. Ek kry my hoofkarakters byvoorbaat jammer want hulle het nog geen idee wat vir hulle voorlê nie! Net toe hulle dink aan: Happily ever after...
Hoe werk jou proses as jy skryf? Beplan jy die stories en karakters vooraf?Ek probeer ’n basiese storie en karakters neerpen. My kop is soms erg deurmekaar (regterbreinmalligheid) en ek is nogal aandagafleibaar veral as ek google en die een feit is interessanter en ouliker en vreemder, dan raak ek mal. Wanneer ek eers begin met idees neerskryf, hardloop my gedagtes in wilde rigtings en ek moet dit heeltyd op hok probeer hou. Dus: ja, ek moet die karakters beplan, beskryf en ’n foto hê. Die storie probeer ek beplan; ek het gewoonlik ’n begin en ’n einde en ’n warboel van goed in die middel, maar soos ek skryf, val dit gewoonlik mooi in plek. En omdat die storielyn so ingewikkeld is en al die karakters nie weet wat aangaan nie, moet ek kophou. 
Vir wie sal jy wil sien in die hoofrolle (plaaslik), indien die boek ’n rolprent sal word?Wel, ek het iemand in gedagte vandat ek die boek begin geskryf het, Doreen Coetzee. Sy is ’n briljante aktrise, maar werk tans meer agter die skerms. Sy is nie net sexy nie, maar is ’n opgeleide persoonlike lyfwag. Jy karring nie sommer aan haar nie. Jip, sy sal die rol van  ’n tawwe koekie, soos Michaela, kan vertolk. (Vra maar vir Antoinette Kellerman. Doreen was haar beste student op Stellenbosch) As jy oor bekender aktrises praat wat bereid sal wees om lyf te wys en ’n 25-jarige kan speel, is ek seker Charlene Bouwer sal ook  fantasties werk.
Ek het sopas elke manlike Suid-Afrikaanse akteur ge-google. Seker vir twee uur lank. Ek sou sê Brendan Pollecutt. Ek weet nie hoe oud hy is nie, maar ek hou van sy algemene houding en gesig. Josh in my boek moet in sy vroeë dertigs wees. Ek het natuurlik my oog op Clint Eastwood se seun, Scott Eastwood, gehad.   
Is jy as predikantsvrou skrikkerig oor hoe jou gemeentelede gaan reageer op van die tonele in die boek?Nee, glad nie. Ek en my man, Anton, is redelike verligte Christene. Ons glo ook die feit dat ons ’n predikantspaar is, ons nie anders maak as enige ander mens op aarde nie. Daar is niks hoogheilig aan ons nie en ons gebruik ons kennis en talente vreesloos. Ons gemeentelede ken my hopelik en het al vele van my musiekblyspele gesien wat ek oor die jare opgevoer het. Dit was alreeds kontroversieel en kyk na Bybelse verhale met ’n intense moderne bril. Van die Romanzas was ook lekker romanties met ’n paar warm tonele in. Hulle behoort dus met Die Alfadokument die ergste van my te verwag. Ek glo steeds in my joernalistieke opdrag van jare gelede: inlig, opvoed en vermaak.

Die Alfadokument is by toonaangewende handelaars asook direk by LAPA Uitgewers beskikbaar. Kontak LAPA by 012 401 0700 of besoek ons webblad: www.lapa.co.za.


No comments:

Post a Comment