Emmerskop Wêreldhoppers
Deur Anton en René van Zyl (50-plussers, maar steeds woelige studente in ons harte!)

Of jy het geld maar soek jy iemand om saam met jou te toer want jy is te:
-Bang / vreesbevange
-Deurmekaar / angstig
-Ringtingbedinges
-Oud en sien nie kans vir 'n rugsaktoer of om die vreemde self aan te pak nie
-Geremd / of sit met fobies
??????
Ek en my man, Anton, het al vriende met bogenoemde probleme vergesel en die hele toer vir hulle beplan, gereël, saam met hulle getoer, die motor bestuur, koffie saamgedra, as toergidse opgetree en goeie geselskap gewees. En hul steeds baie geld gespaar en die beste ervaring in elke land gegee waar ons was. (Hulle betaal en ons vergesel!) Soms nie.
Anton is n informele, gemaklike, oopkop predikant wat al alles onder die son aangehoor het en dit moes hanteer het, hy het 6 grade waaronder Ingenieurswese (+M-graad) en 4 Teologiegrade, waaronder M-grade in Teologie, Antieke Tale, Gesinsberading. Ek het 'n BA Kommunikasiekunde Honeursgraad, is 'n skrywer, kunstenaar, opvoeder en kan jou besig hou met my geselsies as jy daarna soek!
Ons doen dinge gewoonlik goedkoop en gemaklik.
Ek het 'n nuwe facebook blad begin vir mense wat wenke wil hê vir goedkoop toer. @emmerskoppers
Emmerskop Wêreldhoppers.
HIER IS N PAAR IDEES:
Laat ek verduidelik wat goedkoop beteken. Wat dit nie
beteken nie, is dit: dis nie ʼn georganiseerde toer in ʼn lugverkoelde bus nie.
Dis nie ʼn toer wat deur ʼn reisagent gereël word nie. Ek self bespreek alles oor
die internet, druk dit uit en maak ʼn lekker dik boek daarvan en ek stoor alles ook op my Dropbox op
die internet sodat ek enige plek in die wêreld met ʼn rekenaar, selfs op my
foon, daarop kan ingaan. (Sou alles uiteindelik gesteel word, kan ek steeds
afdrukke maak vanaf Dropbox by ʼn internetkafee.)
Ons neem ons eie twee warmwaterflesse en koffiesakkies saam.
Dis ʼn luukse want ek drink nie eens sakkies-koffie in Suid-Afrika nie. Ons is
sommer Ricoffee-mense (jy kan maar gril, maar onthou mens kry sakkies koffie
selfs van Jacobs as jy vol fiemies is). Die ding met oorsese koffie is dit. Dis
ʼn rip-off. As jy ʼn Americano bestel (met melk) is dit die naaste aan ons
koffie. Maar dis duur en klein. En lou. Selfs ʼn capuchino is te louwarm vir my.
Koffie of selfs Hot chocolate, veral in koue weer, moet WARM wees. Punt. Selfs
ek het my trots.
Ons vat beskuit saam, cup a soup en selfs soms pasta.
Enigiets om geld te spaar daar anderkant – ek weet dis bietjie dik vir ʼn daalder
vir party mense, maar as jy somme begin maak, spaar ons derduisende rande.
Byvoorbeeld. Vier mense vir 14 dae ʼn koppie koffie drie maal ʼn dag, want dis
lekker koel daar anderkant in die tyd wanneer ons gaan. Tussen seisoene. As jy
dit uitwerk teen 2 euro’s (en dis goedkoop vir koffie in Europa) dan spaar ons
oor die drieduisend rand. As jy by ʼn duurder restaurant gaan sit – tot 5 Euro’s
ʼn koppie koffie dan spaar jy nog meer. Eet beskuit vir ontbyt, dan spaar jy
sommer nog verder.
Ek het met ons eerste toer van die pakkies Oats wat jy
met kookwater aanmaak saamgevat, maar op dag drie, was die kinders naar
daarvan. Ek het dit nog ingewurg om ʼn punt te bewys, maar selfs ek kan daai gegeurde
pakkies Oats nie meer vandag inkry nie.
Middagetes is gewoonlik brood en kaas/koue vleis wat ons
by ʼn tipe Spar koop en iewers met ʼn pragtige uitsig oor ʼn meer of ʼn vallei sit
en eet, want piekniektafeltjies langs die pad is volop in Europa (en veilig).
Ek kies gewoonlik slaapplekke met ʼn kombuis soos die jeugherberge wat ʼn
gemeenskaplike kombuis het waar mens kos kan maak, of privaat B&B’s of
gastehuise. Pasta maak ons met ʼn ander sous elke aand, ook bestanddele wat ons
by die Spar koop. Ons koop daar ook koeldrank, sap of wyn en bier. Goedkoopste.
Ek beplan en bespreek die hele roete op google maps, met
behulp van toerprogramme, idees en roadtrips wat ek google en sien waar is die
beste plekke om te stop vir ons voorkeure. Ons gesin is lief vir ou kastele en
kerke, museums, begraafplase en die see en mere, nie soseer die stede nie, maar
die antieke gedeeltes van die stede en die kreatiewe klein winkeltjies is kos
vir ons siele.
Dit is ons in 'n neutedop!
Groete René van Zyl
Hartbeespoort, Noordwes RSA
Eposadres:
imaginemoonstones@gmail.com
renevanzyl101@yahoo.com
No comments:
Post a Comment