Thursday, December 22, 2016

Mevrou Doeminie Voelgoed blogs

2018 - NUWE JAAR EN NUWE HOOP!

Nog n blog of twee - 

MEVROU DOEMINIE EN DIE ROOMYSMONSTER

Was jy al ooit so lus vir iets lekker – sê nou maar ʼn roomys, maar die manier hoe die onentoesiastiese verkoopsdame haar werk doen, maak sommer dat jou lus in pure frustrasie oorslaan?

Dit gebeur met my en ʼn vriendin toe ons opgewonde soos kinders in Italië van die lekkerste roomys in die wêreld – en vrek duur – bestel in ʼn klein dorpie wat jou aan ʼn Middeleeuse verhaal laat dink. Ons moet uit tientalle geure kies. Elkeen lyk mooier en romeriger as die ander een en toe ons uiteindelik op ons drie geure besluit, staan ons met kwylende bekkies en wag vir ons duur bederfie.
Die dametjie agter die toonbank beleef egter nie ʼn goeie dag nie of sy is permanent ongeskik. Sy praat skaars en met daardie ronde opskeplepeltjie wat die mooiste roomballetjies behoort te vorm, kap sy soos ʼn reeksmoordenaar in die roomysbak en skuur dit met onaansienlike hale teen die plastiekkoppie af. Niks aan die proses is mooi nie. Nie die houding nie en nie die platgesmeerde hompe in die bakkie nie. My kwyl droog sommer op en ek wil amper snik.
Ons betaal en eet in stille tevredenheid, dog met ʼn mate van teleurstelling, aan die romerige lekkerte. ʼn Dag of twee later is ons weer lus. ʼn Ander dorp, ander geure en ons vra nederig hoopvol vir die verkoopsdame vir roomys. En wat ʼn plesier! Sy rol daardie lepeltjie met vrolike hale deur die roomys, plaas dit met oorgawe in die bakkies en versier dit verder met koekies en smarties sodat dit soos muise met ore lyk. Haar glimlag is so breed soos ons s’n. Dis mos hoe mens maak. Geniet jou werk, al is dit roomys skep. En jy kikker dalk net ʼn ongelukkige siel se hele ou ellendige dag op. Probeer dit. Jy sal jou eie dag ook opkikker met jou entoesiasme.


MEVROUE DOEMINIE OORLEEF NET-NET
Ek sien nou maar om my hoe mense elke dag veg net om te oorleef.
Die goeie dae is soos goue appels wat ons dra deur die slegte dae wanneer dit voel asof jy met vrot piesangs en papajas gebombardeer word. Ek sien daagliks ouers en kinders by die breingestremde skool waar my seun skoolgaan wat dalk bietjie erger moet oorleef as ander met ‘normale’ krisisse en kinders.  Eenvoudige goed soos dokters- of tandartsafsprake is ʼn nagmerrie en eindig gewoonlik in ʼn hospitaal met baie duurder kostes as normaalweg. En dit terwyl die kinders boonop duisende rande se medikasie moet gebruik om net ʼn dag te oorleef. Die ouers veg soms daagliks om positief te bly, selfs al is daar soveel seën saam met die uitdagings. Jy moet dikwels soek om dit raak te sien.
Ander mense verstaan nie jou daaglikse stryd om oorlewing en soeke na optimisme nie. Ander besef nie die diepe depressie wat jou aftrek en maak dat jy geen hoop in dieselfde scenario dag na dag sien nie. Jou eie vriende skryf jou af, want jy is nou te negatief en jy reik dan nie na hulle toe uit nie. En hulle wil só graag help, maar jy, jý hou jou mos upstairs en eenkant!
Al wat ek vra is dit jy probeer om jouself in hulle skoene in te dink. Elke mens om jou veg sy eie oorlog met wat dit ook al mag wees. Jy weet nie daarvan nie. Moenie iemand net afskryf omdat jy nie lus is vir hulle nukke nie. Hulle hang dalk aan ʼn draadjie en as jy daardie draad knip, is dit die laaste strooi wat die kameel se rug breek. Hanteer mense saggies, met watte, al verstaan jy nie. Elkeen baklei ʼn onsienbare vyand. Almal is nie so strek en geseënd soos JY wat al die 
antwoorde het nie. 

 MEVROU DOEMINIE KERM OOR LYDING

Dis darem maar erg hoe baie dinge in die lewe nie altyd reg loop nie – daardie ou storie van slegte goed gebeur met goeie mense. HOEKOM!! Dis die ewige onbeantwoorde vraag.

Met my eie lewe het ek al hierdie vragie vrot geloop. Ons seuntjie van 15 maande kry ʼn breinvirus en die ou slap dingetjie wat ek uit die hospitaal uit huis toe bring, is maar ʼn skadu van my seuntjie. Ek huil, baklei, lag, veg voort om net te oorleef. En nou is dit al 24 jaar later en ek skop nog. En hy.

Ander mense gaan intussen deur hulle eie soort hel. Verloor ʼn kind. Moet veg teen kanker. Verloor alles en soek werk op hul oudag, veg depressie. Daar is soveel onregverdighede. Hoekom ek, vra mens? Net soos Job gedoen het. Vandag sien ek dat die pad wat ek geloop het my sterker gemaak het. Ek het God leer ken vir sy grootheid, sy Vaderlikheid, sy genade, sy liefde en sy almag. Ek het nog baie om te leer oor God. Hierdie pad van my is maar babatreetjies om ʼn onverstaanbare, onsienbare God te probeer verstaan.

As ʼn mens deur ou lande soos Europa toer en jy stap deur honderde mosbegroeide begraafplase met graffies van babas tot tieners en ou mense, dan weet jy dat verlies en hartseer deel van die lewe is. God het nêrens gesê dat ons dit gespaar gaan bly nie. Ons gaan nie hemel op aarde hê nie. Daardie mense van die ou dae het met plae, oorloë en hongersnood en slegte higiëne en gesondheidsorg gesukkel. Ons het soveel meer gerief in vandag se tyd om ons hoop te gee. O ja, nie eens die apostels wat Jesus se beste vriende was, is lyding gespaar nie. Almal het wreed gesterf, het ook nie altyd alles verstaan nie, maar is graf toe met ʼn loflied.  Hou vas aan die hoop, aan die geloof dat God vir ons almal alles ten goede laat meewerk. Dis al wat ons kan doen.



 

 

 

MEV. DOEMINIE VERKEER VREETSAAM

Kersfees van my kleintyd was altyd ’n heerlike tyd van kuier met familie en lekker eet en, natuurlik, geskenke oopmaak. Daardie gebakte hoender en aartappels, jellie-vorm wortelslaai en trifle poeding proe ek nog tot vandag toe as ek aan daardie familie-kuiers dink.

As ek terugdink aan my kinderdae onthou ek nie een present wat ek gekry het nie, net die lekker gevoel van saamwees en gelukkig wees. ’n Tyd van vrede en liefde. Nou is ek oor vyftig en ek begeer geen geskenke nie, net om tyd met my geliefdes te spandeer – al is dit nou net ’n braai en knoffelbrood (want ek het nie my ma se gawe van kosmaak geërf nie, en die Spar se trifle-poeding is net so lekker!). Maar met die dat gesinne oor die wêreld versprei is en met almal wat besige programme en werke het, is dit al hoe moeiliker vir gesinne om Kersfees saam te kuier.
Veral die ouers of grootouers spandeer dikwels alleen Kersfees. Ek sou wat wou gee om ’n Kersfees met my oorlede ouers te kon spandeer. As jy die voorreg het om ouers te hê, moenie hulle afskeep nie. Gun jou kinders die geleentheid om daardie lekker samesyn en opwinding van Kersfees te beleef – saam met geliefdes – soos ons in die ou dae gedoen het. Al is die geskenke klein, dis die TYD wat jy gee wat die eintlike geskenk is. Hoe ouer mens word, hoe minder beteken geskenke en hoe meer beteken tyd saam.
Kyk asseblief die video wat hieraan aangeheg is – dit is ongelooflik pragtig en bewys net hoe kosbaar tyd met geliefdes is terwyl hulle nog daar is. Luister maar weer geduldig na die ou stories wat die oumense oor en oor vertel en kyk deur foto-albums, onthou kosbare tye saam, want as dit verby is, is net die herinnering oor. Jesus se groot geskenk aan ons van liefde en vrede kom tot sy volle uiting as ons as geliefdes saam is.    
MEVROU DOEMINIE EN DIE MOEILIKE MOEDERS 

Liefde tussen ma en kind. So maklik, so moeilik? Twee van die belangrikste mense in jou lewe, twee wat jy die liefste moet hê, is dit nie?

Ek sien soveel moeilike ouer-kind-situasies. My ma, Alta, het my onvoorwaardelik liefgehad deur my storm-en-drang-tienerjare. Sy’t NOOIT kritiek gegee nie. Net raad AS ek gevra het. Sy het my kreatiewe, vreemde persoonlikheid vertrou. Of eerder: vir God met my vertrou. En gebid.
Ek ken twee ongelooflike vrouens. Een (Lina) se ma is so vol kritiek dat sy in elke woord, komma en hoofletter van haar foutvind. Lina is volgens my ’n Spreuke 31 vrou: onder uitsonderlike omstandighede het sy haar kinders grootgemaak, soos geen ma kan nie. Sy het alles gegee, elke druppel liefde. En haar man en huwelik met grasie en liefde geseën. Haar plek in die hemel is met rose besaai, maar haar ma se aanvaarding en liefde is wat sy begeer. En totale vertroue. Dis wat ’n ma mos is?
Die ander vrou, Lena, loop net soveel oor van onvoorwaardelike liefde vir haar kinders. Een kind het haar (en haar man) verwerp a.g.v. ’n paar belaglike misverstande. Die ander kind het ’n breindisfunksie. Dis hier waar ’n ma se liefde werklik getoets word. Sy kan hóéveel liefde gee, maar wat sy terugkry is gereelde ‘melt-down’, huis afbreek, verwerping en onverstaanbare tantrums. Maar sy beur voort, gee liefde, vat die pak slae, want dis hoe ’n ma mos is. Ook sy moet God vertrou met hierdie kinders (al kos dit baie trane). Kritiek gaan hier nie werk nie.




Hoe onvoorwaardelik is jóú liefde vir jou kind? Jy wat dalk ’n gewone (soms onverstaanbaar vir JOU) kind het wat sy/haar plek in ’n uitdagende wêreld probeer oopveg? Is jy heeldag soos ’n verwoestende tsunami oor jou kind oor sy/haar besluite/vriende/keuses? Jy MOET net liefde gee, al is dit moeilik. Vader-God se onvoorwaardelike liefde moet die norm wees. Vertrou God met jou kind. Bid vir hom/haar. Hou jou mond. Al praat jy die tale van mense en engele en jy het nie liefde nie, is jy NIKS.

MEVROU DOEMINIE EN DAAI HOLLYWOODERS

Niks goed kan mos uit Hollywood kom nie, of so het ons oumas en oupas gedink toe hulle woes gekeer het dat ons as kinders enigiets erger as Brady Bunch, Wielie-Walie of Heidi kyk, uit vrees dat ons siele verwoes gaan word.

Ons almal het steeds baie kritiek oor die Hollywood-monsters wat ons huishoudings so hijack. Maar tog, jy kry deesdae soveel goedhartige ‘Hollywooders’, en ja, hulle kry ook net soveel kritiek te midde van die feit dat hulle derduisende rande gee vir rampslagoffers of vir opvoeding, soos die legendariese Oprah (wat ook al haar motiewe, wonder jy natuurlik). Wie my regtig beïndruk, is die beskeie 57-jarige Ellen DeGeneres, aanbieder van haar eie geselsprogram, wenner van 29 Emmys, 17 People's Choice Awards, en nog ’n spul toekennings vir haar liefdadigheidswerk. Hierdie jaar het sy ook die Presidential Medal of Freedom van President Barack Obama ontvang, ’n groot eer.
Ja, ja baie mense kan haar nie vergewe vir haar ‘alternatiewe’ leefstyl nie, maar regtig, die vrou is ’n sagmoedige reus met ’n hart vol liefde. Kyk maar net na enige van haar programme. Haar woorde toe sy die 2016 toekenning vir Gunsteling Humanitêre persoonlikheid ontvang is: “Ek het my beroep as ’n komediant begin want ek wou mense laat lag en lekker voel ... Dit is vreemd om ’n toekenning te kry omdat ’n mens gaaf, goedhartig en vrygewig is. Dis mos wat alle mense veronderstel is om te wees teenoor mekaar? Ek wil graag hê dat almal mekaar liefde bewys, is dit nie wat ons elkeen wil hê nie: liefde?
Is dit nie woorde so reg uit Jesus se mond nie? Hy sou dieselfde vra as iemand hom die toekenning gegee het. Hy sou graag vir ons elkeen so ’n toekenning wou gee, ’n liefdestoekenning. Al het jy nie geld om aan liefdadigheid te gee nie, gee liefde en respek aan alle mense, of jy hou van hulle of hul lewenstyl of kultuur of nie, dis mos wat menswees beteken. Liefde is gratis.  

MEV. DOEMINIE EN GOD SE VERSKRIKLIKE SKEPPINGS

Dalk is jy soos ek: weet net genoeg van kuns om gevaarlik te wees. Ekself het al my hand aan ʼn skilderkwas gewaag, maar dis vrek moeilik om mense te beïndruk met kuns. Elkeen is mos ’n absolute kenner!

Maar wat my troos is dit, selfs skoolkinders leer dít oor kunskritiek: Jy mag nooit oombliklik sê wat jy dink as jy na ’n kunsskepping kyk nie, veral nie negatiewe kritiek nie. Jy MOET: 1. Probeer jou indink wat die kunstenaar met die werk wou oordra/kommunikeer; 2. Vind iets daarbinne wat vir jou mooi is. DIS AL. Verder beteken jou opgesmukte-selfgesentreerde-misplaaste-oningeligte mening niks. Ons spog mos maklik oor ONS ‘beskeie’ opinie, maar kunstenaars is immers diep filosowe, wroeg deur fases/seisoene in hulle lewens en bedink allerhande sosiale of emosionele kwessies. Soms kom uit dieselfde hand die mooiste, realistiese prent en soms donker, vreesagtige kwashale. Om iets meer van die kunstenaar te verstaan, leer hom dalk eers goed ken?
Ons leke kritiseer dikwels God se kunswerke, Sy skepsels, wat Hy in die moederskoot met ’n plan gevorm het. Wie is ek om met beperkte insig kritiek/oordeel te fel? Die kunswerk is dalk in ’n spesifieke fase of seisoen geskep, of die Skepper het hom met ’n spesifieke funksie geskep wat ons nie verstaan nie. Ek kan nie met een kyk net besluit dis gemors, duiwels of vieslik nie. Kyk dieper: wat het die Skepper hiermee bedoel? Dink wyd, klim uit jou konserwatiewe boksie, want kunstenaars dink veel verder as wat jy kan verstaan. Soveel te meer die Almagtige Skepper.
Kyk wat in daardie skepping vir jou mooi is. As jy niks kry nie, spandeer tyd met die skepping en KYK dieper as ander se wrede, veroordelende kritiek. As ons hou by hierdie twee kriteria, kan ons nie ’n fout maak nie. Dan sal ons nie in die strik trap van vooroordeel en beswaddering nie. Dikwels is die kunswerk onvoltooid, ’n werk in wording en ons sien nie die hele prentjie nie. Net God, die geduldige, liefdevolle skepper, sien die eindresultaat. Vir Hom is elke skepping kosbaar, uniek en werd om voor te sterf.

MEVROU DOEMINIE WROEG OOR HAAR SONDES

Terwyl ek nou in 'n lekker vrot bui is, laat ek praat ‘or forever hold my peace’! Ek wil net vir die oningeligtes noem: Predikante en mevrou Doeminies het sondes. Wragtig!

Net soos jý ook (wraggies!) in sonde gebore en ontvang is, so is predikante en hulle gesinne. Ons kan ook kwaad word, vloek en skree, ongeduldig wees, selfs iets drink, soms skinder, geloofskrisisse beleef, depressie hê, sukkel met verhoudings, versoek word op die vreeslikste maniere en WAT ALS. Dikwels val ons, nes elkeen in die Bybel!
My probleempie: Ek’s iemand wat (tot my skaamte) passievol ’n gebeurtenis/krisis onmiddellik OORDADIG beleef, oorvertel en prosesseer, dan is ek weer okay. My paar goeie vriendinne loop dikwels deur onder my emosionele vertellings en gebare. Ek glo hulle verstaan my; ek hoop. Maar nie altyd nie. Soveel makliker sal ander my verkeerd verstaan.
Vandag besef ek weereens met diepe hartseer: As jy in die bediening is, mag jy nie sonde hê of wys nie. Jy en/of jou man word onmiddellik veroordeel/gekruisig, terwyl ander vergewe word, want, flip man, die lewe is rof. Maar wraggies, die predikantspaar moet darem moeilike dinge/mense beter hanteer; hulle verhoudings moet perfek wees en hulle moet ALTYD in ’n goeie bui wees; ons wil asseblief NIKS van hul persoonlike, opgeneukte lewens/persoonlikhede/krisisse weet nie. Want die troontjie waarop ons hulle geplaas het, is doerbo, naby aan volmaak; hul ken mos vir God beter as ander, hul leer-en-lewe moet SUIWER wees!
Hoe kan predikante goeie boodskappe bring as hulle nie self krisisse en versoekings moet beveg nie? Prediker 7:20: Daar is geen regverdige mens op die aarde wat goed doen sonder om te sondig nie.
Gelukkig is daar EEN wat selfs predikantsgesinne nie veroordeel nie, wat by ons staan, al val ons daagliks. Hy’t Sy Seun gestuur: NIE om my te veroordeel nie, maar om my (en jou) te midde van ons sondes te red/help. Hou asseblief op om enigiemand te oordeel sodat jy nie geoordeel word nie (Mt. 7). Ek vergewe jou dus mede-Christen, al veroordeel jy vir my en my man, want Jesus verwag dit immers.

MEVROU DOEMINIE EN DIE KERSFEES HEILIGES

Min dinge laat my so na my kinderdae verlang soos die opgewondenheid van Kersfees en die kuiers en lekker kos. Veral die geheime Kersgeskenkie wat onder die boom gelos is.

Dis vir my dus hartseer om te dink daar is ouers wat hulle kinders hierdie stukkie misterie misgun omdat hulle probleme met Kersfeesvieringe het. Regtig, man. Die gedagte self is tog mooi: ons vier Jesus se liefde en sy groot geskenk aan ons en terselfdertyd is dit ʼn gewoonte wat uit die vierde eeu van die Christendom dateer. Al is dit nie die REGTE historiese datum van Jesus se geboorte nie. Hier is niks duiwels aan die arme ou Sinterklaas nie. Dit is nie iets wat die ‘geldgod’ uitgedink het om ons Christene te verlei nie.
Die verhaal van Saint Nicolas is bekend onder Rooms Katolieke Christene. Hy was die Biskop van Myra in Klein-Asië. Hierdie heilige het vroeg in die derde eeu geleef en is bekend vir sy goeie werke, sy wonderwerke en sy vrygewige hart. Hy is bekend daarvoor dat hy (in Desember) in die geheim geskenke en geld uitgedeel het aan kinders wat dit nodig gehad het. Ja en sowaar: hy het dit selfs al deur ’n skoorsteen gegooi sodat die mense nie weet dit was hy nie, anders sou hy dit in skoene gelos het wat voor die voordeure van huise gestaan het.
Die hele legende van Kersvader/Sinterklaas/Saint Nicolas kom hiervandaan. Dis nie deur Checkers en WallMart uitgedink om geld uit ons te maak nie. Dis ’n mooi Christen tradisie wat ons met liefde kan toepas want dis wat Christus van ons verwag: om vrygewig te wees en ander te bevoordeel – ja, jy kan dit anoniem doen maar ek glo nie daar is iets mee verkeerd om vir mekaar geskenke te gee oor Kersfees nie. Ons vier mos die grootste geskenk aan ons: Christus.
Ek dink tog ons kan hierdie jaar bietjie meer aan ander dink en miskien aan armes in ons omgewing waarvan ons weet in die geheim ’n geskenkie gee? Selfs die boemelaar of bedelaar langs die pad. Draai pakkies toe en hou in jou kar en deel uit soos jy werk toe ry? Hoekom nie? Deel Jesus se liefde uit aan ’n honger wêreld. 

Thursday, November 17, 2016

MEVROU DOEMINIE WROEG OOR HAAR SONDES


Terwyl ek nou in 'n lekker vrot bui is, laat ek praat ‘or forever hold my peace’! Ek wil net vir die oningeligtes noem: Predikante en mevrou Doeminies het sondes. Wragtig!

Net soos jý ook (wraggies!) in sonde gebore en ontvang is, so is predikante en hulle gesinne. Ons kan ook kwaad word, vloek en skree, ongeduldig wees, selfs iets drink, soms skinder, geloofskrisisse beleef, depressie hê, sukkel met verhoudings, versoek word op die vreeslikste maniere en WAT ALS. Dikwels val ons, nes elkeen in die Bybel!


My probleempie: Ek’s iemand wat (tot my skaamte) passievol ’n gebeurtenis/krisis onmiddellik OORDADIG beleef, oorvertel en prosesseer, dan is ek weer okay. My paar goeie vriendinne loop dikwels deur onder my emosionele vertellings en gebare. Ek glo hulle verstaan my; ek hoop. Maar nie altyd nie. Soveel makliker sal ander my verkeerd verstaan.
Vandag besef ek weereens met diepe hartseer: As jy in die bediening is, mag jy nie sonde hê of wys nie. Jy en/of jou man word onmiddellik veroordeel/gekruisig, terwyl ander vergewe word, want, flip man, die lewe is rof. Maar wraggies, die predikantspaar moet darem moeilike dinge/mense beter hanteer; hulle verhoudings moet perfek wees en hulle moet ALTYD in ’n goeie bui wees; ons wil asseblief NIKS van hul persoonlike, opgeneukte lewens/persoonlikhede/krisisse weet nie. Want die troontjie waarop ons hulle geplaas het, is doerbo, naby aan volmaak; hul ken mos vir God beter as ander, hul leer-en-lewe moet SUIWER wees!
Hoe kan predikante goeie boodskappe bring as hulle nie self krisisse en versoekings moet beveg nie? Prediker 7:20: Daar is geen regverdige mens op die aarde wat goed doen sonder om te sondig nie.
Gelukkig is daar EEN wat selfs predikantsgesinne nie veroordeel nie, wat by ons staan, al val ons daagliks. Hy’t Sy Seun gestuur: NIE om my te veroordeel nie, maar om my (en jou) te midde van ons sondes te red/help. Hou asseblief op om enigiemand te oordeel sodat jy nie geoordeel word nie (Mt. 7). Ek vergewe jou dus mede-Christen, al veroordeel jy vir my en my man, want Jesus verwag dit immers.

Thursday, November 3, 2016

MEVROU DOEMINIE JAAG SPOKE ROND!

GROTE PAMPOENSPOOK! As joernalis wil ek mos INLIG, OPVOED EN VERMAAK. Dit tesame met kinderwerk maak dat ek alles EENVOUDIG wil bewoord.

En ek haat dit dat mense allewig als aan die duiwel toeskryf, soos HALLOWEEN. (Nie bloot 'n BOSE tradisie nie.) Wraggies? Sedert die 600’s in Ierland/Brittanje, sou Christene saamkom op 31 Oktober op Al-Hallow-Eve (‘Halloween’ in ou Engels of: the eve of All Saints’ Day/Fees van die heiliges) en vra vir God se seën en beskerming teen die bose magte in die wêreld. Moderne vieringe kom van tradisie om soos heiliges (Saints) en bose geeste aan te trek om die stryd tussen goed en kwaad uit te beeld en die lig te bring (lanterns). Die fees is gehou nadat die oeste ingevorder is en net voor Winter (die dooie seisoen) begin.   
In die Rooms Katolieke tradisie is dit 'n viering van die gemeenskap van die heiliges, die mense wat ons glo in die hemel is deur God se genade. All Saints’ Day is op 1 November gevier en daar is 'n oproep gedoen om te lewe soos gelowiges moet, soos die heiliges (Saints) voor ons. Op All Souls day, 2 November, gaan dit oor alle siele en God se genade oor hulle word gevra. Menige kulture het ‘n fees ter nagedagtenis aan die afgestorwe geliefdes, soos bv. die  Mexikaanse Dag van die Dood (dia de los Muertos) of die Chinese Ghost Festival. Op hierdie dae word die afgestorwenes  herdenk en onthou d.m.v feeste. Baie kulture berei gunsteling eetgoed voor vir die siele van die afgestorwenes, brand kerse of bou vreugdevure, of los blomme op familiegrafte of salf selfs grafstene.
Soos Kersfees is ‘n vorige heidense fees (einde van Somer vieringe vir die Kelte) deur die Christendom ‘geheilig’ en nuwe betekenis gegee sodat God vereer word wat die bose finaal oorwin. Martin Luther het dalk juis die Hervorming begin op 31 Oktober 1517 met die vaskap van sy 95 stellings teen die Wittenberg kerk om enige bygelowe die nek in te slaan. En om God se genade en oorwinning oor die dood finaal te bevestig. Ons Christene hoef niks te vrees nie. In Christus is alles en almal nuut.

Thursday, October 13, 2016

MEVROU DOEMINIE SE NUUTSTE WROEGINGS!

MEVROU DOEMINIE EN DAAI WEDUWEE

Daar is ’n weduwee in die Bybel wat vir my al jare se slapelose nagte besorg het.

Sy het mos aanhou karring aan ’n onregverdige regter om aan haar saak aandag te gee en dan word hy so moeg vir haar dat hy haar gee wat sy wil hê. Dis magic.
Jesus het mos doerie tyd vir ons die gelykenis vertel om duidelik te maak dat 'n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word. Jare gelede het ek hierdie storie vir myself gegryp en myne gemaak. Kyk, ek kan aan die Here karring soos daardie weduwee, want ek glo wat Hy sê: Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie? Sal Hy hulle lank laat wag? Hy sal hulle help, en gou ook! “Maar sal die Seun van die mens by sy koms nog geloof op die aarde vind?” (Luk. 18)
Ja, dis ek daardie, ek glo mos maklik die Here sal na my gebede en smekinge luister. As Hy nie luister nie, maak my eie verwagtinge my skoon depressief. Ek het al hierdie ding oor en oor beleef: gehuil, in ’n hopie van hartseer en depressie gaan sit en God bevraagteken as hy nie doen wat ek so mooi en aanhoudend vir hom vra nie. Edele gebede: vir my man, my kinders, vir die beswil van die mensdom, man, ek is nie net selfsugtig nie!
Ek glo as ek genoeg aan God karring, Hy die aarde sal beweeg om my gebed te verhoor. Hy kan mos. Ek wil so graag soms voel, die groot Regter het net my kant gekies. En as Hy sy eie plan het, voel dit of ek aan die agterspeen suig, nie belangrik genoeg is in God se oë nie, nie waardig genoeg nie. EK WEET dis nie so nie. EK WEET Hy wil alles vir my ten goede laat meewerk (Rom 8:28). EK WEET dit na jare se lewenservaring. Dit maak egter nie dat ek ophou karring en glo en bid nie. Soms is ek in die kol en Hy gee my daardie ekstra magic. 

                                            ----------------------------------

MEVROU DOEMINIE EN DIE VREDE-STELERS

So hier en daar, so nou en dan, dan kry jy dit: ’n mens wat positief en sonder kritiek of vooroordeel jou pad kruis.

Hoe lekker is dit nie? Soos warm sjokolade op ʼn koue reëndag of soos ʼn koffie melkskommel op ʼn kraai-gaap somerdag. As jy so een kry, troetel haar.
Dis mos deesdae met die facebookies, tweeties en wat’s-aap groepies maklik om kritiek te gee – sonder om jou brein in te span. JY is mos die alwetende, die enigste een met raad en insig. Dink asseblief voor jy jou vingers vryheid gee op daardie ‘reply’ knoppie. Jy ken NIE die hele situasie nie. Jy kán verkeerd wees. Jy ís nie noodwendig reg nie of jy hét nie die reg nie. Fokus daarop om positief en sonder vooroordeel te antwoord of LOS DIT. Moenie iemand skop wat reeds lê nie: Onthou, jou tong het mag oor lewe en dood. Moet om hemelsnaam nie ’n dweperige Jobstrooster wees nie! Ons aardlinge sukkel genoeg om deur ’n dag te kom, net om te oorleef tussen al die pyn, kritiek en negatiwiteit in die wêreld. Wees jy die een wat liefde spreek in ’n donker wêreld, die een wat vriende se besluite en menings respekteer. Hulle is al deur genoeg. Jy behoort te weet. Jý is al deur genoeg. DINK. Moenie iemand se kosbare vrede steel omdat jy ʼn ongevraagde, oningeligte mening het nie.
Lidi de Waal plaas op facebook opbouende, mensvriendelike gedigte met pragtige prente. Sien jou mede-aardlinge só, want dis hoe jy gesien wil word:   
na baie jare van leef
het ʼn mooigeit in jou kom lê
waarmee jy nie gebore is nie
die plooie om jou mond
is geskrifte van omgee en deernis
van opstaan en aangaan
jy ken verlies op sy naam
verraai en verlang ook
en struggle en suffer 
was vir lank jou companion
en nou het ʼn mooi in jou kom nesmaak
in jou oë in jou hande
in jou hele wese
want by alles ken jy ook nou 
uiteindelik vrede
(Ek vra mooi: Moenie hierdie brose vrede steel nie.)


                                                     -----------------------------------

Mevrou doeminie en die daggarokers.

Daggarokers, tronkvoëls, uit-die-kas-mense, depressielyers, opgeneukte predikantskinders en smartdeurdrenkte, misverstaande siele wat moeilike vrae vra, dis wie ek en my man as vriende reken.
Hierbo teen die Witteberg op Hartbeespoort waar ons bly, kom min gewone mense kuier – dit kan wees omdat ons as predikantspaar dalk gesien word as die tipiese ‘sondelose herders van God se kudde’ – regtig, ek sê sommer bl@ksem-tog as ek dit hoor. Ons het immers net soveel en meer sondes as enige ou. Die vriende wat ons aantrek, is vreemde mense. God stuur vir ons die interessante mense, die randfigure waarvoor die tradisionele kerk soms wegskram. Dis ook die rede waarom ons ʼn klompie jare gelede ʼn onafhanklike kerk begin het, Kuierkerk, juis vir die ‘uitgeworpenes’, die kerklos en kerkseer mense wat nie maklik in die gewone kerk aanvaar word nie, daar waar almal Sondae ekstra breed glimlag, hulle duurste klere aanhet en vroom voorkom voor die aangesig van die gemeenskap.
Ons vriende is mense wat deur die stelsel verniel is, soos predikantskinders wat in boksies gedruk is, van wie verwag is om sosiaal aanvaarbaar te wees, soos die kerk se norm dikwels voorskryf. Hulle is buite-die-boks denkers, sensitiewe kunstenaars, slim wetenskaplikes, kreatiewe denkers, rebelle wat die grense met mag verskuif, verveelde mense wat nie in die kerk kan stilsit nie, wat vir die predikant moeilike vrae vra, wat verskil van die amptelike siening van ’n kerk en wat ander lewenstyle het: vreemde, onnodig ‘moeilike’ mense: ‘Alien life forms’. ʼn Tradisionele predikant sê eenkeer vir my man (wat ʼn vernuwende, oopkop predikant is wat Jesus se genade en verlossingsdaad probeer verstaan):  ‘Die kerk is ʼn plek waar skape ʼn veilige tuiste het, dis nie ’n plek vir die wilde bokke wat kies om op die bergpieke rond te kerjakker nie.’ Ek en my man het toe besluit: ons sal die veilige, hawe wees vir die wilde bokke. Geen vooroordeel, net liefdevolle aanvaarding.  En wát ʼn interessante mallemeule-rit is dit nie om saam met die tollenaars, sondaars, post-moderne denkers/kunstenaars en suiplappe te kuier nie. God se genadige liefde sluit juis die wildsbokke in. 
______________________________________________________

MEVROU DOEMINIE OOR SEëN, SOEN EN SIEKTES.


’n Kinderpastoor vra eenkeer: hoe seën mens kinders, wie weet? En hy gryp ’n vierjarige kind voor in die kerk en druk hom vas en soen hom sommer orals - op die kop, wange en hande.

Dit was vir my so eenvoudig en mooi en ek het besluit om meer my eie kinders so te seën.
Dis mos die mooiste uiting van liefde en aanvaarding, is dit nie? Nou is my breingestremde seun, Sean, van 23 (met die verstand van ’n 3-jarige) se een missie in die lewe, om mense te seën: hy druk alle mense en soen hulle – op die wang, of nek, net waar hy bykom. By die kerk is hy die voorste groeter en die mense ken hom al goed – meeste gee nie om nie en aanvaar die oorvloedige seën uit sy eenvoudige siel.
Maar dan is daar mense, nogal ’n man wat ons goed ken, wat hom hardhandig wegstoot en sê: Nee, mans druk en soen nie, ons skud hand. (Die ou het nogal die meeste van almal liefde nodig as gevolg van ’n seer verlede.) Sean gee nie om nie. Hy skud hand en takel die volgende mens met sy liefde. Hy gee nie om of die ou wit, groen of swart is nie. Hy gee nie om of die ou Vigs, Ebola-virus of melaatsheid het nie. Hy seën met oorvloed, onvoorwaardelik, sonder voorbehoud. Dis al gawe wat hy het – hy kan nie juis praat of iets anders doen nie.
Vroeër jare sou ek nog probeer keer as iemand nou wragtig siek is, maar Sean beur voort. Nou los ek hom want God sal hom beskerm. Wie is ek om soveel seën van mense af weg te hou? Mense kreun onder die las van pyn, verdriet en eensaamheid. As daar iemand is wat onvoorwaardelik liefde wil uitdeel, hoe kan ek hom keer, of die ou wat vrees dat ’n man hom druk of soen? Aanvaar dit asseblief met oop arms. Jy het dit nodig. Ek het dit nodig. Sean deel net Jesus se volmaakte liefde uit aan ’n seer wêreld. 
______________________________________________________-

MEVROU DOEMINIE EN DIE AGTERGEBLEWENES

Ons maak lekker grappies oor vergeet en Alzheimer’s-light, net omdat ons breine lui en oorlaai is met nonsens van die televisie.

Ek het vandag gesien hoe erg dit is: Hoe mense wat wel met dementia-verwante kondisies sukkel, weggesluit word in ’n plek van sorg, want dis te moeilik om hiermee te deel. Ek en my man kuier by ’n voormalige dokter, ’n intelligente, gerespekteerde Christen sakeman, wat mense gedokter en ge-evangeliseer het. Hy bly in ’n klein studio-kamertjie by ’n sorgoord waar sy vrou met dementia in ’n ander hospitaalkamer versorg word.
Na ’n klein beroerte onthou hy ook nie meer lekker nie. Veral, onthou hy nie meer sy Bybelverse en -feite nie. Dit pla hom vreeslik. Hy wonder oor verdienste en Jesus se onvoorwaardelike liefde en redding want hy kan nie onthou wat die Bybel sê nie. Hy luister televisiepreke en verskillende denominasies verwar hom. Dis vir my angswekkend, iets wat ons as vanselfsprekend aanvaar, is vir hom van vooraf ’n krisis, want hy onthou nie wat Jesus gesê het nie. As ons na twee ure loop, huil hy van dankbaarheid oor die besoek.
Sy pragtige gryskopvroutjie is net ’n skaduweetjie, dementia het sy tol geëis. Sy sit in haar sorgoord-kamertjie met haar deurmekaar en onuitgesproke gedagtes, televisie is aan maar sy kyk nie. Die oom gaan kuier ’n paar keer ’n dag, maar die gesprek is eensydig. Middagetes sit twintig vroutjies om die etenstafel, nie honger nie, maar hulle moet eet. Hulle drink aan bekertjies met strooitjies wat ons vir ons eenjariges gee, want dis te moeilik om te drink. Weggooidoeke staan opgestapel op die trollie, met elkeen se naam opgeskryf. Iemand kom sing vir hulle, al die volksliedjies en party probeer saamsing of hande klap. Ander staar net. Soms kom doen iemand hulle tone en naels of versorg hul hare en dan lyk hulle soos hul ou self van buite. Hulle kort soveel liefde en menswaardigheid. Doen jou deel, gaan kuier, versorg of bederf iemand met Dementia. Wie weet, jy kan oor ’n paar jaar een van hierdie agtergeblewenes wees...
________________________________________________

MEVROU DOEMINIE EN DIE BLOEDSUIERS.

Ek is opgeskeep met 'n besondere beneukte, beduiwelde buurman wat as hy verby jou ry altyd soos 'n afgeleefde suurpruim lyk: fronsend, grommend en brommend.

Gister ry hy weer verby my. Ek glimlag van oor tot oor en waai, maar nee, meneer Pruim se lippe is teen die klippe. En ek wonder hoekom party mense so nors is.
Ekself het nou nie juis ʼn sprokieslewe nie, niks van happily-ever-after nie want gemors gebeur mos maar heeltyd en soms kom dit in donderbuie. Sommige ellendes gaan nooit weg nie en sit aan jou soos ʼn bloedsuier. (Selfs dit is blykbaar goed vir jou: dan maak jou liggaam vars, nuwe bloed).
Maar as ek nie bly glimlag nie, gaan ek ook heeldag lê en klippe kou. Ek het gaan google wat ’n glimlag nou juis vir jou doen: dit voorkom hartsiektes, maak dat jy beter slaap, dis ’n natuurlike pynverdower, help jou selfs gewig verloor, verminder stres en laat jou jonk lyk. Elke 15 sekondes wat jy lag, sit jy 2 dae by jou lewe! Boonop maak dit dat mense meer van jou hou en verbeter dit verhoudings.
Blykbaar, selfs as jy net maak of jy glimlag, trek daardie spiere saam en jou liggaam skei ‘happy hormone’ af. Gou-gou voel jy sommer beter. ’n Glimlag het dieselfde effek op jou liggaam as om sjokolade te eet (maar dis net gesonder!) – is dit nie al genoeg rede om te glimlag nie?
Die grootste waarheid is: ’n glimlag is aansteeklik. Jy kan iemand se dag opvrolik deur te glimlag – al voel jy nie self na glimlag nie – en op die ou einde is almal gelukkiger. Ek weet net nie hoe om dit vir die buurman te leer nie. Ek sal bly probeer.
Die Here het ons met so baie goed geseën, elkeen ’n rede om te glimlag. Kyk net om jou rond. Kom ons maak elke dag ’n ‘wêreld-glimlag-dag’ en ek is seker ons gaan ’n wêreldse verskil maak in mense se lewens en ons eie.
____________________________________________________

MEVROU DOEMINIE BESIN OOR MARTHA EN SUPERMAN!

’n Goeie vrou wag mooi aangetrek, sonder klagtes en ekstra vrolik vir haar manlief, met alle huiswerk afgehandel, kinders gebad/gevoer/tjoepstil en boonop met ’n koue drankie AS hy tuiskom, want hy mag mos sonder jou by sy vriende kuier so laat hy wil.
Hy werk hard en jy as onderdanige vrou, mag NOOIT sy integriteit of besluite bevraagteken nie. As hoof van die huis, moet sy wil geskied: hy is immers altyd regverdig en betroubaar. (Aldus: Housekeeping Monthly, 13 May 1955.)

1955. Ai, in ’n perfekte wêreld? Vandag se vrou moet dikwels werk (weg of tuis). Menige man verwag van haar om soos Supervrou hierbo op te tree. Oor niks te kla nie. Hom totaal te vertrou al bly hy saans hoe laat uit en kom hoe gesuip huis toe. Dis so van voor-Bybelse tye af. En dit terwyl niks van die onberispelike man verwag word nie. O ja, hy bring geld huis toe en hou dit soos ’n swaard oor haar kop.
Ek ken sulke mans wat dink hulle is die über-kroon van die skepping: Superman met bonatuurlike insig. Sy moet spring as hy praat, hom nooit bevraagteken nie en kos reg hê as hy honger is. Never mind die Bybel wat die man beveel om sy vrou lief te hê en te versorg soos sy eie liggaam (soos Jesus!) Dié man sal eerder meen die vrou moet hom respekteer al doen hy WAT. Hy hoef haar nooit te komplimenteer nie, of bederf of met huistake of kinders se skoolprogram by te staan nie. MAAR sy moet respek toon, spog met sy goeie kwaliteite en hom ophemel.
Indien nie, is sy ’n vrot vrou en poplap by die werk is anyway meer onderdanig en lieftallig. En bewonder vir Superman. Sy verdien dus meer aandag en geskenke. Ek wens party mans wil oor hulself kom. As jy respek wil hê, gee liefde, sê en doen mooi goed, waardeer die vrou wat alles vir jou en jou kinders gee: sy SAL jou outomaties respekteer (en jou diensbare Martha wees). Dankie, as jy só Jesus-man is.  
_________________________________________

Monday, September 12, 2016

EEN VOëL IN DIE HAND...

KORMORANT BLOG: 8 SEPTEMBER 2016
Een voël in die hand.

Ons mense ry so maklik deur ons dorp, elke dag dieselfde pad, dieselfde spitsverkeer, gooi petrol dieselfde plek in, koop takeaways by dieselfde plek. Dit voel later vir jou of die wêreld jou deur ’n drukgang druk waaruit jy net wil spring om te oorleef. Ek staan soos gewoonlik by die vulstasie, oop venster, wag, soos ’n voël op ’n tak dat die petroljoggie my motor volmaak. Hy lyk heel vrolik al het hy seker ’n laagbesoldigde beroep, werk lang ure en loop vêr om by die huis te kom, dink ek. Oorleef net.


’n Arend vlieg redelik laag in die lug rond, naby ons. Ek wys vir die petroljoggie die mooi voël. Hy is skielik nog vroliker. “Black-chested Snake eagle,”  sê hy.
“En hoe weet jy dit,” vra ek. “Is jy ’n voëlkyker?”
“Ja, ek het ’n voëlboek en werk aan ’n die lys voëls wat ek al gesien het.”
Ek is verbaas en beïndruk. Ek ken ryker voëlkykers wat vêr ry om sekere skaars voëls op te soek. Hierdie ou, in sy eenvoud loop werk toe en terug, deur die veld en sien dalk meer voëls as my vriend. Hy sal dalk nooit die skaarste voëlsoorte kan volg en bekyk nie, maar hy kyk. Hy het ’n stokperdjie en ’n boek. Dis meer as genoeg om jouself uit die drukgang te lig, dis meer as net oorlewing. Een voël in die hand is vir hom beslis meer as tien in die lug. Hy is tevrede; hy het ’n lysie.
Ek kyk met nuwe oë na die petroljoggie. Elkeen wat ’n mens se pad kruis het ’n storie wat jou sal verbaas. Vra mense rondom jou bietjie uit: in die ry by Spar, by die kitsbank, by die werk, gesels met almal om jou en elke dag gaan beslis interessanter uitdraai as gister. Of kry ’n stokperdjie. Dis klaar meer as net oorlewing. 

Sunday, September 11, 2016

MEV DOEMINIE EN MUISE EN SUPERMANNE

MEV. DOEMINIE BESIN OOR MARTHA EN SUPERMAN

’n Goeie vrou wag mooi aangetrek, sonder klagtes en ekstra vrolik vir haar manlief, met alle huiswerk afgehandel, kinders gebad/gevoer/tjoepstil en boonop met ’n koue drankie AS hy tuiskom, want hy mag mos sonder jou by sy vriende kuier so laat hy wil.

Hy werk hard en jy as onderdanige vrou, mag NOOIT sy integriteit of besluite bevraagteken nie. As hoof van die huis, moet sy wil geskied: hy is immers altyd regverdig en betroubaar. (Aldus: Housekeeping Monthly, 13 May 1955.)
1955. Ai, in ’n perfekte wêreld? Vandag se vrou moet dikwels werk (weg of tuis). Menige man verwag van haar om soos Supervrou hierbo op te tree. Oor niks te kla nie. Hom totaal te vertrou al bly hy saans hoe laat uit en kom hoe gesuip huis toe. Dis so van voor-Bybelse tye af. En dit terwyl niks van die onberispelike man verwag word nie. O ja, hy bring geld huis toe en hou dit soos ’n swaard oor haar kop.
Ek ken sulke mans wat dink hulle is die über-kroon van die skepping: Superman met bonatuurlike insig. Sy moet spring as hy praat, hom nooit bevraagteken nie en kos reg hê as hy honger is. Never mind die Bybel wat die man beveel om sy vrou lief te hê en te versorg soos sy eie liggaam (soos Jesus!) Dié man sal eerder meen die vrou moet hom respekteer al doen hy WAT. Hy hoef haar nooit te komplimenteer nie, of bederf of met huistake of kinders se skoolprogram by te staan nie. MAAR sy moet respek toon, spog met sy goeie kwaliteite en hom ophemel.
Indien nie, is sy ’n vrot vrou en poplap by die werk is anyway meer onderdanig en lieftallig. En bewonder vir Superman. Sy verdien dus meer aandag en geskenke. Ek wens party mans wil oor hulself kom. As jy respek wil hê, gee liefde, sê en doen mooi goed, waardeer die vrou wat alles vir jou en jou kinders gee: sy SAL jou outomaties respekteer (en jou diensbare Martha wees). Dankie, as jy só Jesus-man is.
                                                         
                                              ************************************


MEV. DOEMINIE WURG DAAI MUIS!


Watter muis? Die tandemuis? Mickey Muis? Die rekenaarmuis? Nee, man daardie verdekselse kerkmuis. Ek lees iets oor wat ’n mens genoegdoening en tevredenheid gee. En ek, as kerkmuis, ken die antwoord, maar as jy gewonder het, hier is ’n opsomming.

Mense hardloop blykbaar winkels toe as hulle beursies vol is. Elke aankoop maak jou gelukkiger, maar o, wee, na ’n paar dae is daardie plesierigheid wat jy gevoel het skoon weg. Wat gee mens dan aanhoudende gelukkige gevoelens? (Ek praat nou nie heeltemal net godsdiens nie.) Blykbaar is aanpassing die grootste probleem vir geluk. Sodra ons gewoond raak aan iets is ons nie meer gelukkig nie. Die vlak van plesier verdwyn na ’n ruk en ons word basies gedwing om verdere aankope te doen om net weer daardie plesier te smaak. ’n Bose kringloop dus. (Selfs in jou huwelik, as jy te gewoond raak aan mekaar of ‘die nuwigheid’?)
’n Slim professor het nou bewys dat ons dieselfde geluk ervaar wanneer ons op REIS gaan as wanneer ons iets nuuts koop. Waar die plesierige ervaring verdwyn nadat ons iets gekoop het, is dit nie so met reis nie. Die herinnering van die reis-ervaring voorsien ons permanent met ‘happy hormones”. ’n Nuwe motor, rok of gholfstel word baie gou net ’n gewone item, maar as ons unieke reise, geleenthede, selfs ekstreem sport aanpak of selfs nuwe vaardighede aanleer, is dit vir ons die ideale manier om gelukkig te wees. Elke nuwe herinnering word ’n bron van geluk wat jou bybly die res van jou lewe.
God het ons ’n wonderlike wêreld gegee om te ontdek. Hy gee ons boonop ’n huweliksmaat, gesin en vriende om saam met ons dit te ervaar. Ek as selferkende kerkmuis wil ’n permanente wêreldreisiger wees, maar het nie altyd geld nie. Hoe nou gemaak? Doen net iets. Moenie by die huis sit nie. Gaan kuier by vriende en familie op ver plekke. Hou piekniek. Besoek ander dorpe naby jou, stap ’n staproete, doen iets! Jy en jou huweliksmaat gaan soveel gelukkiger wees. Klim uit jou groef. Los die televisie en die winkels. Trek daardie tekkies aan. JUST DO IT!

   

Thursday, August 25, 2016

MEVROU DOEMINIE KIELIE DIE BONT HOND

Die swart hond het my eens gevolg, orals rond.Toe jaag ek hom weg met Nuzac en positiewe ontlont.
Toe ek my weer kom kry, sien ek al-die-kleure-bont, Want ’n Bont Hond het my gekry, net daar oppie grond.
Dis my poging tot ’n gedig. Ek hét daardie swart hond weggejaag, lank na hy vir my begin loer het: na my seun se breinskade 22 jaar gelede.
Soms was daar troppe swart honde, veral as die lewe rof is en dit mens boonop bankrot laat, mense jou in die rug steek en jou huweliksboot ’n paar stroomversnellings en Tsunamis vang.
Toe hel ek oor anderkant toe. Ek’s gelukkig regterbrein-kreatief gebore, wat ek ontdek toe die swart hond die pad vat. Ek begin kleurvol dink, my kinders kleurvol grootmaak, ek sien die lewe deur ’n reënboogbril. Skielik is niks onmoontlik nie. Ek veg die swart met ’n kleurkwas. Ek stel ’n Christen bordspel op, skryf kinderstories, skryf sommer novelles en draaiboeke, stuur dit na enige oorsese uitgewer of regisseur en wag in spanning dat mypositive thinking die ‘heelal’ gaan oortuig dat ek nou woes in blom is. Ek glo God in ’n hoek in, soos ’n prediker eendag sê, maar ai tóg.
So gebeur alles nie net in rose-kleure en geure nie. My bonte-mengelmoes-verwagtings en drome word nie met ’n gekleurde towerstaf geseën nie. Alles is vrek harde en ondankbare werk. God se tyd is nie myne nie. Ek sukkel met bemarking/verwerping/verlepping/selfbeeld-herlewing en swart-hond-aanvalle. Ek sukkel nog daagliks want my verbeelding (soos ’n hondsdolhond) ken geen perke nie.
Ek ken nou al my bont hond beter: my beperkings en swakpunte. Ek bid dat my kleurvolle kinders se nóg groter neon-drome vir hulle waar gaan word. Ek glo steeds maklik in my mengelmoes-brein se prentjies, vertrou maklik, hoop maklik, maar ek het vrede met my bont hond gemaak. Ek kielie hom so nou en dan en dink iets wonderliks kreatief uit, net omdat ek kan, dan skryf ek dit neer en hoop ... ai, die ewige volkleur hoop. Maar dit hou darem die swart hond weg.

Friday, August 19, 2016

NOG BLOGS VAN DIE WROEGENDE MEVROU DOEMINIE

MEVROUE DOEMINIE SPOEG LAWA!

Hemele behoed my, ek is so moedeloos met Christene wat die duiwel agter elke bos uitskop (nee, twee duiwels agter een bos).

Ek sien op facebook ’n video-uittreksel van ’n vulkaan op Hawai wat uitbars en die byskrif is “Smiling volcano”. As die helikopter oor die rokende gat van die vulkaan vlieg, lyk die gebrande area aan die binnekant soos ’n glimlaggende gesiggie. Ek glimlag want dis so oulik; die Here het die aarde darem wonderlik geskep en dan gee Hy ons nog ’n glimlag by iets wat so verwoestend kan wees.
Die kommentaar onderaan lees: “SJOE!” Of: “Wonderlik!” Of: “Mother Earth smiling!” En een antwoord daarop: “Of course! She finds herself able to dump her hot flash in the ocean!” En dan is daar die ewige doemprofete wat opmerk: “Of is dit die duiwel wat vir ons wink?” ’n Ander een sê: “Hell is calling!”
Kan ons Christene nie ten minste probeer om in ALLES God se grootheid te sien nie? Hoekom moet die duiwel soveel aansien en aandag kry? As ek byvoorbeeld ’n mooi Oosterse dans sien, dan sien ek die talent wat God die mens gegee het om ander mee te seën. Ek sien nie dat die dans vir ’n Oosterse God uitgewerk is nie. Is ek heeltemal stupiden naïef? As ek sien die skatryk Oprah (of ander bekendes) skenk ’n spul geld vir liefdadigheid, dan sien ek God se grootheid – dat hy enigeen se hart kan versag om ’n seën te wees. Die doemprofeet Christene sien haar as die anti-Chris wat ons oë wil verblind. Of die Illuminati wat probeer beheer kry.  
Regtig man, begin die wêreld, selfs die minder mooi of suspisieuse dade van ander deur die kleurvolle bril van God bekyk. Hy is in beheer. Hy is immers die almagtige, die skepper van als, die een wat die mooi en die goeie geskep het. Sien Sy skepsels en Sy wêreld ’n slag vir die mooi wat dit is. AS jy dit nie dadelik sien nie, soek die mooie daarbinne. En vinnig-vinnig gaan jy God in alles sien.
Video link van die Smiling Volcano: https://www.youtube.com/watch?v=e8PuMOsdwm0

MEVROU DOEMINIE EN DIE BUMPER STICKER CHRISTENE

Ou Gielie Galbraak hier binne my is weer op die oorlogspad: As jy nou 'n sticker op jou motor plak wat byvoorbeeld sê: ‘Die Here is my herder.’ Wat sê dit presies van JOU? O, beslis is jy 'n Christen.

Jy maak immers staat daarop dat God jou deur ’n bekende Bybelversie gaan beskerm en jy is nie skaam om te wys dat jy Jesus ken nie. Maar as jy so ’n statement maak, moet jy woord by daad voeg, of nie? Put your money where your mouth is?
’n Meneer-bumper-sticker-Christen jaag vanoggend woes met sy selfoon teen sy oor verby ’n spul motors wat in lyn wag by ’n stopstraat reg op my af wat van vooraf aankom, want hy is mos haastig, man. Hy gooi amper sy kar om en myne. Vyf minute later staan ek en wag dat ’n mevrou-bumper-sticker-Christen uit haar parkeerplek trek sodat ek kan inry. Geduldige karwag beduie vir haar om mooi uit te ry en keer my om verby te ry, want dis immers sy daaglikse werk. Sy ignoreer hom en jaag weg. Regtig, jy besit ’n duur motor en jy kan nie eens vir die karwag ’n rand of vyf gee nie? Hy probeer op ’n eerlike (EN ondankbare) manier geld verdien en sy gesin versorg. En glo my, ek weet, soos almal, uit ondervinding wat gebeur as daar nie ’n karwag is nie: Skelms vat jou motor of steel jou selfone, laptops, radio’s en wat als. Jesus gebruik immers ook die karwag om JOU te beskerm.
Ons moet mos Jesus se werk op aarde doen. As jy staatmaak op ‘Die Here is my Herder’se beskerming en versorging dan MOET jy dieselfde vir jou naaste doen. Dis al wat Jesus van jou verwag. God het immers lankal vir Abram die opdrag gegee: ‘Ek seën jou sodat jy ’n seën vir ander kan wees.’ Ek het niks teen bumper stickers nie. Maar as jy jou Christenskap adverteer, doen ’n slag die liefdeswerk wat ’n Christen moet doen. Dit geld vir ons almal – sticker of te not.


MEVROU DOMINIE DOEN MOOCHAS GRASSIAS! 

Lippe teen die klippe! Dis hoe baie Suid-Afrikaners voel oor hierdie verkiesing – party wil nie stem nie, party wil die land verander of verlaat, maar mens hoor so baie kla-stories.

Dit werk nie, dat is stukkend, dit is fataal, dat is onmoontlik, die is hopeloos. Daai is flippen nog erger!
Mense trek mekaar in hierdie gat van hopeloosheid in. As jy jouself toelaat om te begin praat oor alles wat in ons land verkeerd is en wat die regering verkeerd doen en watter Minister weer bedrog gepleeg het, dan het jy binnekort die hele dorp negatief. En ek hoor slegte goed, hoor. Ek ken mos baie mense in staatsdienskantore wat suffer om te oorleef tussen al die korrupsie, so ek weet dit is alles waar en gebeur meer as wat ons dink.
Dan lees ek die stukkie van Nataniël wat iemand op Facebook geplaas het. En ek WEET dat ek WEET dat mens positief moet praat. Dankie sê, heeldag vir alles wat jy sien en nie sien nie.
“Kry elke dag iets om voor dankie te sê, al is dit die gang – wat jou yskas toe vat. Of jou nek wat keer dat jou kop op jou bors hang. En as jy nou wraggies niks het om voor dankie te sê nie, koop vir jou ’n hond en doop hom DANKIE sodat jy ’n paar keer per dag dankie sê.” (aldus Nataniël)
Dwing jouself, breinspoel jouself. Jy moet iets kry om voor dankie te sê, elke dag. En jy gaan begin om ’n positiewe mens te word wat ’n positiewe verskil in ander se lewens kan maak. Besluit om elke dag thanksgiving te hou. En vinnig-vinnig is dit ’n gewoonte en steek jy ander mense aan. God is ons hoop in hopelose omstandighede. Hy kan meer doen as wat ons kan bid of dink. Gee jy net liefde en ’n positiewe gees – God sal dinge verander. 

MEVROU DOEMINIE EN DIE SUCKER PUNCH

Sucker Punch is wanneer ’n woeste hou jou uit die bloute tref. Dit gebeur orals met almal – en dis vrek seer.

’n Ou vriendin, ‘Santie’, vertel my hoe dit haar getref het, tussen die oë. Die een oomblik geniet sy nog (wat sy dink) ’n heerlike huwelik van 20-plus jare met haar beste vriend en sielsgenoot. Jare se sakke sout en suiker opgevreet, met die genade oorleef en gegroei.Superwoman gewees en kinders en man bygestaan.
Toe verskyn ’n Poplap uit die dorre verlede en teiken haar man, gee hom skielik onvoorwaardelike liefde en aandag en ALS. Man kan dit nie weerstaan nie. Neem sy eie middeljarige lewe in oënskou en besef skielik: Ek het nooit reg gekies nie, nooit my vrou liefgehad nie, nooit besef wat’s liefde nie. Tot hiertoe, vertel hy sy vrou. Trane, berading, baklei, angs, vrees, woede, praat, praat, praat, smeek die Here vir hulp.
Die Here gryp in. Hierdie huwelik oorleef gelukkig. Poplap teiken ander mans. Ja, vertel Santie, die huwelik het seker so ’n regskud nodig gehad. Mens waardeer mekaar se gevoelens meer, doen weer moeite, spandeer tyd en wys meer liefde vir mekaar.
Maar te midde van positiewe gedagtes, sit Santie onbewustelik/bewustelik met daardie ewig knaende monster diep in haar siel: ONSEKERHEID. Gaan dit weer gebeur? Wanneer? Wanneer is sy WEER nie meer goed genoeg nie? Was haar man nie reg nie? Is hierdie huwelik die moeite werd om te red? Is dit, is dit nie? Sy pluk elke dag daai blommetjie se kleurvolle blaartjies stukkend om antwoorde te kry: He loves me, he loves me not?