Monday, March 27, 2023

TWEE JEUGROMANS VIR 2023: DEUR RENé VAN ZYL

2023 IS 'N LEKKER JAAR!

MY NUUTSTE BOEKE IS OP DIE RAK EN BESKIKBAAR BY LAPA, OF NB OF GRAFFITIBOEKE IN PRETORIA. OOK BY BOEKWINKELS EN OP AMAZON.COM AS E-BOEKE! GENIET! 

Daar is nog 'n romanza op pad teen September - Belle, met die hart vol Blomme. Kyk uit!



DIE MONSTER IN MY MELKSKOMMEL - FEB 2023 - LAPA.CO.ZA

 

Lexi word deur ’n monster gejag. ’n Zombie … nee, ’n zombie gekruis met ’n tokkelossie. ’n Zombeloshé. Niemand glo haar nie, behalwe haar nuwe vriende by die traumasensitiewe skool waarnatoe sy nou moet gaan nadat hulle gesin aangeval is tydens ’n inbraak. Saam met Zinzi, Taliep en Michael besluit Lexi: sy gaan die monster vang en uitvind wie daaragter steek. Sy is paraat en het ’n rugsak vol wapens en planne. Maar onverwagte vriendskappe, onverwagte ontdekkings en onverwagte gevoelens laat haar als bevraagteken wat sy gedink het sy weet. Wat is waar, en wat is net in haar kop? ’n Unieke en spanningsvolle verhaal wat op ’n empatieke en humoristiese wyse sensitiewe kwessies rondom trauma behandel. René van Zyl se toetrede tot jeugfiksie is vars en vol impak.

 KORMORANT KOERANT HARTBEESPOORT

René se Monster is op die rak

16/02/2023


 

René van Zyl

Die bekende Hartbeespoort-skrywer, René van Zyl, se nuutste jeugboek is pas op die rakke, maar Die Monster in my Melkskommel is nie net vir die jeug nie – dit is een van daardie treffers wat deur oud en jonk geniet sal word.

 

“Ek is baie opgewonde oor hierdie boek omdat dit ‘n ander tema het as vorige Afrikaanse jeugverhale. Dit spreek trauma by tieners aan op ‘n humoristiese wyse. Daarom sal jongmense juis met die karakters kan identifiseer,” sê sy.

Die boek word deur uitgewers bemark as “’n unieke en spanningsvolle verhaal wat op ’n empatiese en humoristiese wyse sensitiewe kwessies rondom trauma behandel. René van Zyl se toetrede tot jeugfiksie is vars en vol impak.”

Waaroor gaan die boek? Lexi word deur ’n monster gejag. ’n Zombie … nee, ’n zombie gekruis met ’n tokkelossie. ’n Zombeloshé. Niemand glo haar nie, behalwe haar nuwe vriende by die trauma-sensitiewe skool waarnatoe sy nou moet gaan nadat hulle gesin aangeval is tydens ’n inbraak. Saam met Zinzi, Taliep en Michael besluit Lexi sy gaan die monster vang en uitvind wie en wat daaragter steek. Nie net is sy ‘n selfopgeleide Zombie-jagter nie, maar boonop is sy hoogs paraat en het ’n rugsak vol wapens en planne. Onverwagte vriendskappe, onverwagte ontdekkings en onverwagte gevoelens laat haar egter als bevraagteken wat sy gedink het sy weet. Wat is waar, en wat is net in haar kop?

Die Monster in my Melkskommel is René se tweede jeugverhaal. In 2012 is Wee Monk’s Tale, wat oor drie tieners handel wat in die Middeleeue in Ierland en Skotland met ‘n Altaar Bybel vir Vikings moet vlug, gepubliseer. Die boek is steeds as ‘n e-boek beskikbaar.

En sy het verdere goeie nuus. Haar volgende jeugboek verskyn in Julie 2023 en word deur Human & Rossouw uitgewers gepubliseer. Die boek se naam is Tuimeltrein en sy het omtrent die drie tieners in die boek laat rondhardloop vir hul lewe. Die polisie is op hul spoor omdat hulle kwansuis ‘n roomysman vermoor het, maar dit is glad nie wat gebeur het nie. Niemand glo hulle nie. Sonder hul selfone en met ouers wat net die slegste van hul dink, moet hulle bontstaan om uit die moeilikheid te bly.

Die Monster in my Melkskommel word deur Lapa/Penguin Random House uitgegee en is by toonaangewende boekwinkels beskikbaar of kan bestel word by lapa.co.za. Dit is oo as ‘n e-boek beskikbaar by Lapa en Amazon.

TUIMELTREIN (JUNIE 2023) Human & Rossouw

Drie graad elf leerders met totaal uiteenlopende persoonlikhede en sosiale status moet skielik voor die gereg vlug toe ʼn groeptaak ʼn horribale verkeerde rigting inslaan. Sonder selfone en met niemand wat in hul onskuld glo nie, moet Abby (langafstandatleet slash cool girl), Jasper ( gamer slash bad boy) en Henri (drama queen slash reënboogkind) voor die gereg vlug en slegs op mekaar staatmaak om hierdie tuimeltreinrit te oorleef.

Die vraag is: gaan die polisie of die eintlike moordenaar hulle eerste opspoor en watter scenario is die ergste?

Drie graad elf leerders met uiteenlopende persoonlikhede en sosiale status word gedwing om saam aan ʼn klasprojek te werk toe hulle ʼn koelbloedige moord aanskou. Skielik verander hul lewens in ʼn tuimeltreinrit en moet hulle vir hul lewe vlug. En hul moet te midde van groot persoonlikheidsverskille saamwerk om die skelm speurder, wat hulle vir die moord blameer, te uitoorlê. Skielik is hul op hul eie, sonder selfone en hul normale ondersteuningsstelsels om hul raad of hulp te gee.  




Tuesday, March 21, 2023

NUWE FANTASIE GROEPROMAN: OP PAD NA GRYSBERG

NUWE FANTASIE GROEPROMAN: OP PAD NA GRYSBERG! 

Harties skrywer deel van baanbrekerroman.


René van Zyl, bekende skrywer van Harties, was gekies om deel te wees van dié unieke projek waarby 22 van die land se grootste skrywers betrokke was: Op Pad na Grysberg.

Op Pad na Grysberg is ʼn baanbrekerroman waaraan 22 van die van die land se grootste Afrikaanse skywers deelgeneem – onder andere: Kerneels Breytenbach, Madelein Rust, Irna van Zyl, Annerle Barnard, Elsa Winckler, Sidney Gilroy en Jan Vermeulen. Die projek is deur die bekende skrywer, Stefaans Coetzee, geïnisieer en gelei.

Op pad na Grysberg vertel die storie van M, ʼn vrou wie se menswees deur die ongenaakbare elemente van ʼn post apokaliptiese wêreld afgetakel word. Sy rou ook, want haar seun het weggeloop om hom naby Grysberg, die mistieke baken wat bo die landskap uittroon, te gaan vestig. Een aand besluit sy om hom daar te gaan soek, maar die tog soontoe is gevaarlik en die chaotiese stofstrate van Henza, die gevreesde ravyn en die Vloek van Kirikuk wag op haar. Sal sy die moed hê om die reis te voltooi? En sal sy haar seun weer sien?

Dit is ʼn unieke fantasie groeproman deur Suid Afrika se knapste skrywers wat temas van identiteit, verbondenheid en die aard van komplekse, gedeelde menslikheid ondersoek. Elke skrywer het ʼn hoofstuk geskryf sonder om werklik te weet hoe dit gaan eindig en die uiteinde is briljant.


René is bekend vir haar samesweringsrillers, Die Alfadokument en Die Omegakomplot, asook verskeie Romanse en spog hierdie jaar met twee jeugromans: Die Monster in my Melkskommel en Tuimeltrein. Sy sê sy voel gevlei om deel te wees van hierdie grootse Grysberg-projek veral omdat sy in geselskap is van soveel befaamde skrywers. Hierdie storie gaan jou nie los nie. Dis boeiend, vol verrassings en selfs die skrywers kan nie wag om te lees hoe dit eindig nie. tertia@naledi.co.za (078 6488 616) of www.naledi.co.za – Bestellings word na u adres gekoerier R240,00 prys sluit posgeld in.