Sunday, October 16, 2011

Tree aan!

Mev. Doeminie het blykbaar nie veel om oor te kla nie, behalwe dat ek hierdie fenominale, fantastiese, oulike fiktiewe storietjie van my so 'n paar maande gelede vir 'n kompetisie ingeskryf het en nie eers die finale gehaal het nie: dis Afrikaans, my taal, my asemhaal en ek doen dit so maklik... maar dis weereens geweeg en te lig gevind. Ou Drucilla die Dromer hierbinne in my wat altyd so optimisties en vol onwerklike drome is, het gedink dit moes wen, natuurlik! Ek het aan dié storie gedink toe ons gister die teaterstuk, Tree Aan, van Deon Opperman gaan kyk het in die Staatsteater. Dit gaan oor die grensoorlog en ek dink dit het tog vir 'n hele paar ou army-manne 'n pynlike era opgeroep en afgesluit wat dalk nog iewers diep binne gebroei het en gebloei het. Ekself het die dae herroep toe my man Anton sy diensplig gedoen het. (Op die foto is Anton in sy dienspligjare toe ons op vakansie in Botswana was en hy so week of wat af gehad het) Tydens sy eerste dienspligjaar het ek vir hom 'n brief 'n dag geskryf - ek kan mos darem skryf, man, en ek moet sê na 'n jaar van briewe skryf is ons twee toe getroud! Dit wou gedoen wees vir twee mense wat net baie goeie universiteitsvriende was om te vorder tot by 'n huwelik! (Okay, ek het hom dalk meer gelaaik as net 'n vriend, maar ek was ook maar dom, geen vroulike lus of lis nie, maar helaas: Geen man is bestand teen soveel aandag en soveel briewe nie. Ek het na die Tree Aan vertoning bietjie daardie briewe gaan opdiep, maar o, weë, wat 'n soetsappige spul liefdesbriefies - ek het dit na die vyfde brief neergegooi. Dit was soos om dieselfde 'n Mills and Boon liefdesverhaal oor en oor te lees!! Ek het my doodgelag.