DIE OMEGAKOMPLOT


Die Omegakomplot, 'n Samesweringsroman

Deur René van Zyl

Beskikbaar by: imaginemoonstones@gmail.com of 0823964100. Ook by Graffitibooks of Lapa online. En as e-boek op Amazon.com 

LokteksDie Omegakomplot.

Geloof, mag en leuens speel ʼn dodelike kat-en-muis speletjie in Die Omegakomplot. Kayla Young, hoofdirekteur van ʼn internasionale Christenorganisasie moet ʼn ou vyand opspoor voordat hy ʼn mensgemaakte apokalips oor die aarde kan loslaat en 'n groot gedeelte van die mensdom uitwis. Sy is bereid om haar lewe te offer om die nuwe wêreldorde se leuens te ontmasker en om haar seun uit hul kloue te red.

Opsomming: 

ʼn Persoon wat beweer hy is die reïnkarnasie van die oorlede Grant Felton, ʼn voormalige Christenleier, plaas ʼn wêreldwye koerantadvertensie en beweer dat hy vele reïnkarnasies van verskeie geloofsfigure en heersers van die antieke verlede is. Hy wil nou ʼn nuwe alomvattende geloof begin, die Babilon Orde, om alle gelowe en kulture in te sluit. Sy rede: om die aarde van homself te red en te keer dat God ʼn uiteindelike Armageddon as straf op die aarde gaan loslaat. Felton se mensgemaakte apokalipsplan word stelselmatig duidelik: hy wil met behulp van ʼn spesiaal ontwerpte virus en die ondersteuning van sekere hooggeplaastes in al die verskillende lande van tot nege tiendes van die wêreldbevolking ontslae raak. Wanneer slegs ʼn handvol uitverkorenes oorbly, gaan hulle die aarde dus bestuur met insig en respek vir die natuur en mekaar. Sy regterhand is die profetes, Ishtar. Saam is hulle edele motief om die wêreld te red van parasitiese mense wat dit tans misbruik. En natuurlik om te deel in die mag, aansien en geld wat daarop sal volg.

Kayla Young, die hoofdirekteur van ʼn bestaande internasionale Christenorganisasie, word deur Felton geteiken want haar seun, om verskeie redes, is blykbaar in die Babilon Orde se struktuur die tweede Messias wat die nuwe era gaan inlei.

Gesamentlik moet Kayla en haar man Josh, ʼn oudsoldaat, die bloedspoor van die Babilon Orde volg om nie net die mensdom nie, maar ook hulle seun te red van die opgestane Felton en sy psigopatiese drome van wêreldoorheersing. Die soektog neem hulle van Kaapstad, na Georgia en New York in die VSA, na Dubai en Kaïro. Hulle moet al hul beskikbare hulpbronne gebruik om hom op te spoor, maar hy bly hulle een voor, asof sy sogenaamde alsiende oog werklik presies weet wat hulle elke keer beplan. Beide van hulle is bereid om hul lewe te gee om vir Felton te stut en sy leuens aan die lig te bring. En om hul seun uit sy kloue te red.

 


Resensie 1 - Die Omega Komplot - deur 'n Teoloog / Bybelkenner /Antieke taalkenner / Leser

Die skrywer kry dit reg om die leser in te trek in ʼn parallelle doolhof tussen fiksie en historiese feite. Die verhaal maak uitstekend gebruik van die Antieke Kulture en die historiese feite van die primêre kulture in die Midde Ooste. Belangrike elemente van die vroegste beskawings word sentraal aangewend in die skepping van die fiktiewe organisasie. Die hede en die verlede word die speelbal van die leser in hierdie wedstryd van ontvlugting.

Hierdie boek is ʼn uitstekende aanbieding van ʼn samesweringsroman. René is ʼn skrywer wat jou intrek in elke karakter binne hulle emosionele veldslae tussen uitdrukking en interaksie. Verhoudings is die eb en die vloed in die see van bestaan. Tussen die ambisie van die karakters en die soeke na oplossings vir hul probleme word daar ook diep etiese kwessies openbaar.

Die geloofstema word met groot deernis baie effektief ingeweef in die handel en wandel van die karakters. Alhoewel godsdiens ʼn sterk tema in die boek is, word daar nie sektariese vergrype in mense se keelgatte afgedruk nie. Die intens menslike begeertes word eerder aangetoon met die kombers van geloofsoortuigings.

Die relevansie van die groter temas van virusse en geloofsordes is baie aktueel en deel van ons daaglikse lewenspatrone. Niks is so verregaande dat die boek bykans as nie-fiksie aangebied kan word. Dit maak die boek soveel meer interessant en boeiend.

René se skryfstyl trek jou in elke hoofstuk in. Dis is gemaklik en vol kleur. Met tye voel dit asof jy besig is om die fliek te kyk. Haar beskrywings skep maklik die pyne en vrese in jou eie lyf.

Ek identifiseer baie maklik met die logika en die realisme in die hele verhaal. Dit is naby aan die realiteit. Die leser wil sommer Kaap toe ry om te gaan ondersoek instel na die genoemde plekke. Fantasties!

Resensie 2: Deur 'n Leser / Joernalis / Vertaler

Die Omegakomplot is selfs beter as die skrywer se vorige samesweringsroman, Die Alfadokument. Ek dink dis baie goed geskryf, nie net die storielyn nie, maar ook die taal en sinskonstruksies. So mooi en kreatief beskryf.... Wat vir my oulik was is hoe die bose mense selfs heel menslik behandel word en gemaklike dinge doen soos tee drink en koek eet terwyl hulle die komende planne van die apokalips bespreek. Wat ʼn fantastiese storie en interessante, relevante tema. Ek het nog nie so iets in Afrikaans teëgekom nie en dit sê baie. ... Ek moes ook soms myself stop en gaan kyk of die instansies of monumente wat die skrywer noem wel bestaan en ek was hoogs beïndruk met al haar navorsing. En veral hoe kreatief sy die verskillende idees vir die storie bymekaargebring het. Baie geluk en well done, Rene'

Die Omegakomplot, deur René van Zyl - deur Erla Diedericks (skrywer, joernalis, teksversorger) se opsomming van die boek na sy die teksversorging gedoen het:

Die Omegakomplot is ‘n briljante, spanningsvolle religieuse riller met sy wortels in die geskiedenis, navorsing en ‘n toekomsvisie wat dalk meer werklik is as wat ons besef.
“Kwesbaar. Nutteloos. Swak. Hande afgekap. Dis wat liefde doen. Dit maak jou broos.”
In ‘n wêreld gelouter deur natuurrampe, oorloë en die onlangse Covid-pandemie, is die teelaarde vrugbaar vir ‘n redder wat ‘n nuwe begin op aarde kan bewerkstellig. Intussen is die Nikolaïete Orde, onder die beheer van Kayla Young, besig met liefdadigheidswerk om ‘n reeds geteisterde mensdom by te staan.
Kayla, gelukkig getroud met Josh Young en die ma van ‘n seun, Nikolai, se lewe was egter nie altyd so voortvarend nie. Haar kinderjare as die dogter van Nikolas Cohen, een van die direkteure van die Nikolaïete Orde, was versteurd en vreemd, haar huwelik met Vaughn Felton wreedaardig. Maar wanneer ‘n reeks vreemde insidente die direkteure se lewens kos, neem sy die orde oor en besweer die bose.
Of het sy?

‘n Nuwe geloof, die Babilon-orde, kondig wêreldwyd aan dat hulle die aarde gaan verlos, en al Kayla se nagmerries word waar. Nie net wil dit voorkom of haar grootste vyand nog lewe nie, maar hy wil die belangrikste ding in haar lewe vir homself opeis – haar seun, Nikolai. Wie is die sogenaamde redder en wie is die beeldskone Ishtar aan sy sy? En is hul motiewe so edel soos wat hul voorgee?
In hul stryd om uit te vind wie agter die Babilon-orde sit en wat die bose komplot is wat hulle voer, spat Kayla se lewe uitmekaar. Haar twyfel in haarself en haar God gee vir haar vyand uiteindelik die oorhand. Sal die bose seëvier?

#Uitdieperdsebek - Anschen Conradie se resensie:
In September 2022 was Omegakomplot nommer 9 BESTE VERKOPER FIKSIE BY Graffiti Books & Stationery! Die Omegakomplot, naelbyt-aksie samesweringsroman. Die briljante resensent Anschen Conradie het so uit die perd se bek gepraat en my boek 4 sterre gegee. Hier is haar woorde:
#DieΩmegakomplot – Renė van Zyl:
Kayla Cohen en haar man, Josh Young, het sedert die gebeure van vier jaar gelede (sien ‘Die Alfa-dokument’ 2019) die NikolaЇete tot ‘n internasionale Christen-organisasie omskep. Hulle het gemaklik geword in ‘n rustige voorstedelike lewenstyl saam met hulle seun, Nikolai, toe ‘n selfaangestelde hedendaagse redder dreig om ‘n universele wêreldorde deur middel van sy nuwe Babilon te skep. Stap een: om ‘n mensgemaakte apokalips van stapel te stuur wat minstens 90% van die wêreld se bevolking sal uitwis. Vir Kayla en Josh is dit uiters persoonlik, want hierdie sogenaamde redder is ‘n persoon wat vier jaar gelede voor hulle oë gesterf het.
Die gevolg is ‘n blitsige aksie-roman met wortels in samesweringsteorieë en religieuse fanatisme. As konsepte soos reïnkarnasie, ‘n nuwe wêreldorde, die geskiedenis van en profesieë aangaande Babilon, Armageddon en die eindtye jou interesseer, is hierdie die perfekte leesstof vir jou. Die roman is ‘n voortsetting van bovermelde Alfa-dokument, maar kan moeiteloos alleenstaande geniet word. Die skrywer se vermoë om menslike boosheid in woorde te omskryf, was ongetwyfeld die sterk punt van hierdie roman: die slegte ouens is regtig oortuigend sleg ! Grillerig, walglik, koelbloedig, gewetenloos, manipulerend. Hulle woorde en dade het my koue rillings gegee en ek het telkens aan verskeie maniere gedink waarop hulle stadig en pynlik behoort te sterf.
Die agtergrondnotas was fassinerend en ek beveel sterk aan dat dit ook gelees word; daar is ‘n beknopte geskiedenis-tydslyn van antieke Babilon, inligting oor die Georgia Gids-stene, Zoroastrisme en die beplanning van ‘n verenigde geloofsinisiatief. Die feitelike inligting daarin vervat maak die fiktiewe inhoud van hierdie roman ‘n skrikwekkend realistiese moontlikheid: geloof en waansin kan inderdaad ‘n dodelike tydbom ontlont.
⭐️⭐️⭐️⭐️ #Uitdieperdsebek

No comments:

Post a Comment