Tuesday, November 29, 2022

SAMESWERINGSROMANS: DIE OMEGAKOMPLOT & DIE ALFADOKUMENT

 

Die Alfadokument en Die Omegakomplot

deur René van Zyl

(Wenner van Rosa Imbali toekenning vir uitmuntende skryfwerk 2020)

2 SAMESWERINGSROMANS WAAR GELOOF, MAG EN WAANSIN 'N DODELIKE TYDBOM ONTLONT ...

 

Kan twee gewone Christene, wat veg met hul eie emosionele trauma, die mensdom red van magtige sg. ‘Christen’ organisasies en hul vernietigende dwaalleer?

Beide samesweringsrillers is spannende verhale, belaai met flink aksietonele, intense intriges en onverwagte verrassings. Die leser word ingetrek in ʼn parallelle doolhof tussen fiksie en historiese feite terwyl fiktiewe, hedendaagse organisasies oortuigend weergegee word. Die leser word met deernis ingetrek by elke karakter se geloofsoortuigings en ambisie terwyl etiese kwessies realisties belig word.

BESKIKBAAR BY:

imaginemoonstones@gmail.com  of  0823964100

 www.Graffitibooks.co.za  / From Ssack to Sanctuary (Klerksdorp)

of La Vie En Rose (Parys)

Amazon.com - e-boek

Berig: Kormorant, Hartbeespoort. 

Hartbeespoort-skrywer se nuwe boek is hier. 14/07/2022

Na die sukses van haar eerste sameswering-roman, Die Alfadokument in 2020, het die bekende Hartbeespoort-skrywer René van Zyl, in volle vaart weggetrek met die aksiebelaaide opvolg, die Omegakomplot wat nou uitgereik is.

“Die boek kan losstaande van sy voorganger gelees word, maar jy gaan baie nuuskierig raak en die vorige een wil koop, wees gewaarsku,” sê René.

” Dit is ʼn  spannende verhaal waarin geloof en waansin ontmoet en ʼn  dodelike tydbom ontlont,” sê sy.

Volgens die bekende skrywer en joernalis, Erla Diedericks, is die Omegakomplot is ʼn “briljante, spanningsvolle riller met sy wortels in die geskiedenis, navorsing en ʼn  toekomsvisie wat dalk meer werklik is as wat ons besef.”

René, is ʼn oud-joernalis, wat ook bekend is vir haar gemeenskapsmusiekblyspele. Sy het reeds 15 romanse geskryf wat deur Lapa uitgegee is, asook Die Alfadokument, ʼn  samesweringsriller. Haar eerste aksie-avontuurverhaal, Wee Monk’s Tale, the Secret of Immortality, het in 2012 ook groot sukses behaal.

ʼn  Boekbekendstelling vir Die Omegakomplot het plaasgevind op 3 Augustus om 17:00 by Kuierkidz Kuiertuin Skemerberg Hartbeespoort plaas. Kontak René by
082 396 4100.


Romanzas van 2023

TWEE NUWE ROMANZAS DEUR RENé VAN ZYL VIR 2023

 

Lesers kan uitsien na nog twee Romanzas vir 2023 en dit is binnekort op die rakke:

 Roekeloos Verlief

 

Waaroor gaan dit:

 

Steffie Fritze, eienaar van ʼn mobiele troeteldierspa wil beslis nie op die rak bly sit nie, maar haar pogings om die regte lewensmaat te kry, loop telkens op ʼn ramp uit. Toe haar pad met die van speurkaptein Ivan von Beneke kruis, is sy in groot moeilikheid, nie net met die gereg nie, maar ook omdat sy blote aanraking haar hartritme roekeloos aantas. Probleem is: hy dra steeds sy oorlede vrou se trouring en klou vas aan haar vlekkelose nagedagtenis. Steffie is basies haar teenoorgestelde en bots heeltyd met die gereg. Sy bly hoopvol, want Ivan se Duitse herdershond, Max, dink darem die son skyn uit haar uit.

 

Lekker om sulke terugvoer van die teksversorger te kry:

 

Ek is klaar met die versorging van hierdie teks en het dit enorm geniet. Ek het al verskeie tekste van René van Zyl versorg en iedereen was ʼn absolute voorreg. Wat my telkens verstom, is hoe deeglik haar stories deurdink is en hoe goed die navorsing; wat sy byvoorbeeld nie alles met die gegewe van ʼn troeteldierspa vermag in hierdie nuwe Romanza nie, is merkwaardig. Werklik knap gedoen.

 

Graag wil ek veral die erotiese passasies in hierdie teks uitsonder as ʼn besonderse hoogtepunt. Dit is selde dat die leser in ʼn Romanza erotiek van hierdie gehalte teëkom; nie net is die kontekstualisering van die betrokke tonele nommerpas nie, maar die beskrywings is eweneens sensitief en met groot diskresie hanteer. Volpunte aan die skrywer!

 

 

Meer inligting later oor:

 Belle, met die hart vol blomme ...

 

Izabel Blomerus, oftewel Belle, eienares van ʼn blommewinkel in Potchefstroom, stoei met die trauma van ʼn dronk pa wat haar as kind verwerp het en ʼn prins van ʼn eggenoot wat haar vir haar beste vriendin verlaat het, maar haar romantiese hart glo steeds dat die liefde wel bestaan. Haar blommewinkel en drome van ʼn eie blommeplaas, eendag, hou haar gefokus en keer dat sy uitmekaar val. Toe sy tydens haar eks se verlowingspartytjie ʼn semi-ineenstorting beleef, kom ʼn wildvreemdeling tot haar redding, een met smeulende oë en ʼn diep lag wat haar wys ʼn mens kan weer opstaan. Killian Potgieter stoei egter innerlik met sy eie seer wat baie ooreenkom met dié van Belle. Hy is ongelukkig ook die een wat al die snellers van haar traumatiese verlede een vir een laat afgaan en haar hartseer laat toeneem. Moet sy nie liewer wegbly van so ʼn tipe mens wat die slegte emosies uit haar bring nie? Die liefde vind egter altyd ʼn weg, soms moet ʼn mens dalk die ondier kies en nie die prins nie vir ʼn gelukkige einde.

 

Twee nuwe Romanzas vir 2022:

Beskikbaar: www.lapa.co.za of as e-boeke by Amazon.com

SPROKIE VIR 'N PLAASKIND - René van Zyl

 (Lapa Uitgewers/ Penguin Random House 2022)  

Geneviève van Vuuren, oftewel Jenny, se sprokieshuwelik word onverwags deur haar verloofde afgestel. Kwaad, hartseer en teleurgesteld besluit sy impulsief om saam met haar suster en swaer met ʼn kampeerwa deur Italië te gaan reis. Alles verloop goed, totdat die losbol wêreldreisiger, Reinhard Prinz, hulle op die laaste nippertjie vergesel. Al wat Geneviève met Reinhard in gemeen het, is die feit dat hulle albei as kinders deur ʼn ouer verlaat is. Nie een van hulle vertrou die teenoorgestelde geslag nie en is ook nie van plan om van mening te verander nie. Al probleem is die aantrekkingskrag wat vinnig duidelik raak. Geneviève en Reinard is nie blind vir hul gevoelens nie, maar ook nie gereed om dit met mekaar te deel nie. Is die vrees vir verwerping sterk genoeg om in die pad van hul geluk te staan?




DIE HART SOEK WAT HY SOEK - René van Zyl

(Lapa Uitgewers, 2022/ Penguin Random House)

Deur René van Zyl

Elizma Victor werk baie hard om vir haar jong seun, Luka, ʼn goeie ma te wees en om hom te beskerm. Hulle huisie by die see behoort hom veilig te hou van die lelik in die wêreld wat haar al vir jare teister. Sy sal seker maak hy word nie blootgestel aan hartseer of swaarkry nie. En Luka gaan nooit, ooit sy pa ontmoet nie. ʼn Werksgeleentheid lok Elizma Hermanus toe. Die misterieuse skrywer, Zander Adlam, wil hê sy moet drie van sy boeke vertaal, maar sy weet niks van die man af nie. Hy is ʼn hermiet en lyk haweloos, maar sy kon haar nie voorberei op hoe bekend sy oë is nie. Alexander Adendorff, Luka se pa en haar jeugliefde, het haar weer gevind en dis asof die jare se seer verdwyn soos seeskuim. Hierdie keer sal sy egter nie vir sy sjarme val nie. Sy moet haar hart verhard, hom op ʼn afstand hou en fokus op haar werk. Sy moet ook haar kind van hom weghou. Maar die hart soek wat hy soek ..