Monday, April 18, 2016

5 MEV DOEMINIE EN DIE BOS-ENGEL

Ek het nooit gevra vir een nie of ooit gedink aan die voordeel van ’n engel in mens se lewe nie. Maar eendag het sy voor my deur gestaan. Sy het in ’n vreemde engeltaal gepraat wat ek nie verstaan het nie.

Ek het toe nie geweet dis ’n engel nie. Hoe kon ek? Sy het nie vlerke gehad nie. Ook nie besonder geskitter nie. Sy was ’n Afrika bos-engel. Haar vel was donker. Sy kom van KwaNdebele af, het sy in haar taal gesê. En ek het vreemd genoeg verstaan.
Ek was ver swanger met my eersteling en ’n voltydse hulp was woes nodig. Sy het ingespring en alles gedoen wat ek nie kon nie; vloere, klere, skottelgoed gewas. Ek het nog steeds nie geweet sy’s ’n engel nie. Sy was maar maar net sy, Afrikamens sonder finesse en fieterjasies. ’n Jaar en ’n half later het my pragtige seuntjie ’n breinvirus opgedoen. My engel het saggies in die kombuis gehuil en Bybel gelees en gebid vir my, terwyl ek histeries in die hospitaal gehuil het en met ‘n ‘wrede’ God baklei het.
By die huis het my engel stil-stil my baba se poefdoeke gewas, en steeds die huiswerk bygehou; my stukkende baba vasgehou as ek doodmoeg en vrot van depressie was; die stil, sterk krag wat my staande gehou het as selfs my man inmekaar gestort het. Sy het my twee dogters, wat later gebore is, met liefde ge-abba en versorg as ek nie krag gehad het nie. (Sy kan bly wees ek het nooit daardie vlerke van haar opgespoor nie, dalk het ek dan lankal in ’n donker depressie-aanval daarmee weggevlieg!)
22 jaar later, is my engel steeds hier, waai sy my met steeds onsigbare vlerke koel en maak my breingestremde ‘baba’ van 23 se beddegoed skoon as hy ’n glips gehad het. Onvoorwaardelike Jesusliefde in die vorm van ’n swart engel: Rosina. Ek hoef nie vlerke te sien om te weet sy is pure engel nie, gestuur deur God om my, nietige mens, te bedien. Genade onbeskryflik groot.

Monday, April 11, 2016

MEV. DOEMINIE VOEL GOED!

Mevrou Doeminie was weer erg besig die jaar om te jubel, te wroeg en diep dinge te bedink. En daar vra Finesse se internetspannetjie my om weekliks vir hulle te blog op hul voelgoed website - kort stukkies - so ek gaan dit so stuk stuk hier plaas! Hier kom die eerste paar:  
blog: http://www.voelgoed.co.za/blogger-ren-van-zyl


1 Mevrou Doeminie se Annus Horibillis

Ek is ‘n Mevrou Doeminie want my man is ‘n doeminie. Ek het dit nie gekies nie. Hy was eers ‘n ingenieur toe ons getrou het. Toe gaan swot hy vir predikant. Nou is ek in ‘n vroom boksie ingedwing.

Ek voel soms beproef, bedruk en baiekeer spring ek uit my vervelige boks. Dus eien ek myself die reg toe om ook soms ‘n "horrible year" (Annus Horribilis) elke nou en dan te hê. Net soos die Queen van Engeland. Wie is sy nou om alleen sulke vreeslike jare te beleef? Sy sit op ‘n goue toilet en het ‘n duisend butlers en kroonjuwele. Sy het beslis nog nie in my stowwerige Afrika-boks geleef nie. Ek sweet in liters, gloed in gallonne en woed in kilometers en dit nogal op ‘n doodnormale dag. Ek voel dikwels ongewaardeer, doelloos en nietig. Ek voel die meeste van die tyd ek sleep net agter Jesus se jas aan en ek moet klou om by te bly. Ek glo God het ‘n plan met elke fase van my holderstebolder lewe, maar ek sien dit gewoonlik te laat raak - of nooit raak nie. Hy is die enigste Een wat geduld het met my geite en my grille. Dankie tog.
My naam beteken VREDE. René. My nooiensvan beteken VREDE. Joubert. Ek behoort dus vrekken vrede te hê? Toe nie. Ek is alewig aan die veg met iets of iemand. Dit gebeur gewoonlik net in my kop, want ek is nie ‘n fighter nie. Ek veg ook nie met klein vissies nie – ek takel die Grootste: my grootste opponent is God. As dit vir jou soos laster klink, is jy ‘n baie beter Christen as ek; ‘n super-Christen wat vroom en doelgerig op pad hemel toe is en soos die Queen geen probleme het nie. Jy het dan volmaakte vrede. Ek, daarenteen, moet eers soos Jakob deurnag stoei voor ek vrede kry.
As jy ‘n gewone, wriemelende Christen soos ek is, het jy verseker ook jou uitdagings wat vir jou erg is. Myne sluit in: my groot, oor-kreatiewe verbeelding wat van elke molshoop ‘n berg maak. My geleerde predikantsman met ‘n hand vol grade wat stoei met sy eie krisisse en demone te midde van ‘n wêreld wat predikante in ‘n heilige dosie plaas. ‘n 23-Jarige seun wat tot onlangs nog doeke gedra het vandat hy op 15 maande ‘n breinvirus opgedoen het. My twee dogters van 18 en 21 jaar veg ook met hulle mengelmoes demone: alles van yuppiegriep, skoliose, nervous ticks en nog vele krisisse wat nie op hierdie bladsy gaan inpas nie!
Gelukkig weet ek dat ek ‘n geduldige God dien, wat elke berg ‘n molshoop kan maak en wat selfs my sweterige self kan vrede en hoop gee. Hoe weet ek dit? Ek sien dit in my breingestremde seun se lag en die passie waarmee hy sy eenvoudige dae slyt. Ek sien dit in my dogters se glimlagte as die lewe en mense nie so wreed is nie en ek sien dit in my man se toewyding en geesdrif selfs al word hy in die rug gesteek deur mede-Christene wat ander sienings het. En ja, ek sien dit in die sonsondergang na elke stormagtige dag. Ek dink tog dit is vrede.

Mev Doeminie, Renoir… Picasso… Matisse! Los uit!


Nota aan self: As jy soos vreedsame Mona Lisa met elite Johannesburgdames ‘n Franse Meesters Kunsuitstalling wil bywoon, moenie jou 19-jarige breingestremde seun, met die brein en energie van ‘n driejarige, saamneem nie; al weet jy hy gaan dit gate uit geniet. Hy is so lief vir mense en plekke!

As maplotter wou ek my twee tienerdogters bederf met bietjie kuns en kultuur. Geen babysitter. Boeta moet saam. Hoe erg kan dit wees?
Johannesburg verkeer. Reën. Styl trappe. Eerste vloer. Sean met sy lang, lomp lyf doen nie die trap-ding nie; hy kan net lang tree loop (soos mr Bean). Ek’s dikker as hy, so, ons kom sukkel-sukkel bo. Hy groet oordadig gulhartig die gesofistikeerde tannies.
Sjoes, man, Sean!
Ag, hoe verruklik: 20ste eeuse meesters, Matisse, Monet, Renoir, Picasso, Grüber... Ek en die meisies oeee-aaa oor balans, kleur, tegniek, styl...
BLIIIIEEEEEP! ‘n Alarm. Sean het oor ‘n masking tape streep te naby aan ‘n skildery getrap. Sekuriteitswagte volg hom nou want hy wil met sy 21ste eeuse besmette vingers aan die tydlose kunswonders vat!  
Res van die oggend:
Renoir...
Sean! Die streep!
BLIEEEEP! (Almal kyk.)
Jammer, sorry... he doesn’t understand.
Matisse...
Ma! Flippen hel! Kyk, vir Sean! (my dogters)
BLIIEEEP! (Almal kyk.)
Sean, moenie die Security-man soen nie!
Roger dela Fresnaye...
Ma! Nou druk hy daai ryk tannie! (my dogters)
Sean! Wil jy kar toe?
NEEE! (Sean)
BLIEEEP! (Almal kyk) 
Sean! Sit nou hier!
NEEEEEE! (Sean)
Ma, hy gaan by die trappe afrol! (My dogters)
Magtig! Kom ons ry!
Teen dié tyd wil ek my kind teen die mure vasspyker sodat hy lyk soos Munch se THE SCREAM!
Die trappe is te styl vir veilig afklim. Ek moet Sean op die grond platdruk sodat hy sit-sit afskuif. Hy wil nie. Ek stoei hom plat. Almal kyk. Ons is onder. Die dames daarbo sug verlig. In die kar begin ons giggel. Ek besef net: al die über-geniale meesters met hulle multimiljoendollar gawes was gekwelde siele vol wroegings. Sean daarenteen, met sy eenvoudige brein, se enigste gawe is liefde. Dís ‘n über-gawe. Dit kan nie in dollars gemeet word nie.

3 MEV DOEMINIE SE PAASTAMELETJIE!

“Gô-ô-ôd....” sing my drie en twintigjarige seun die woord, God, saam met die lied in die kerk. Sy hande is gelig na bowe en hy ‘sing’ harder as almal.

Dis boonop skrikwekkend vals maar dit pla hom min, al kyk party mense hom skeef uit. As die lied eindig cheer hy uit sy hart, “Hieeeehaaaa!” en klap hande. Ek ‘sjoes’ hom nog effens verleë want mense dink mos: “Dis mos darem ‘n kerk, man!”  
My breingestremde seun, Sean-Jacques, met die verstand van ‘n driejarige maar die lyf van ‘n drie-en-twintigjarige, voel vere vir inhibisies en tradisies. Hy verstaan in sy eenvoud iets van Paastyd en Jesus se bevryding. My man, die arme Doeminie, takel vandag: VRYSPRAAK! Eenvoudig man. Nuwe bedeling: Christus het in my plek gesterf en die straf gedra. Ek’s vrygespreek; vry van veroordeling; nie meer onder die wet nie! Te maklik?
Na kerk staan ‘n ry mense gereed om die Doeminie reg te help want jy sien dis nie so eenvoudig nie: wat van as ‘n ou aanhou om... of as ‘n ou en ‘n ander ou, en sê nou net daardie ou... Ja, regtig, wat ván hom? Sy vryspraak is tussen hom en God. As dit van mense se oordeel of wette afhang, gaan my seun ook reguit warmplek toe. Ja, regtig? Hy slaag nie mense se ‘toetse’ van redding nie. Dan sal hy moet: óf in sy hart glo en met sy mond bely... hy praat skaars; óf sy sondes los, bekeer en besluit op wederdoop, óf in tale praat; óf watter kerkwet ook al geld. Hy verstaan Jesus in sy eenvoud beter as al die slim kerkmense. Hy veroordeel nie, haat nie; hy leef Jesus se liefde vir homself en ander uit. Ons moet dalk minder wonder oor ánder se vryspraak; soos toe Petrus vir Jesus vra wat gaan nou van Johannes word? Jesus het basies geantwoord, moenie jy oor hom wonder nie, “Volg jy my!” (Joh. 21: 21/22). Vrek eenvoudig.

4 MEVROU DOEMINIE SLAG VARKE

 

Mev Doeminie wroeg met haar alterego, bitterbek Gielie Galbraak, wat wil preek, nadat sy ‘n program gekyk het:The Island, with Bear Grills.

‘n Klompie doodgewone Britse vrouens word op ‘n afgeleë eiland gelos om ses weke te oorleef en kos te soek: visvang of peule eet, waarmee hul min sukses het. Na ‘n paar dae van kokosneute eet, is hulle vrekhonger. Twee swart babavarkies kom daar aangestap, te dierbaar. Hulle kloek om die varke en gee hulle name en slaap saam met hulle. Te lekker. Party fluister die onnoembare, die ‘olifant’ in die vertrek: kom ons vreet hulle!
Maar nee, hulle het nou name en almal is lief vir hulle. Die kokosneute is op. Woeste katgevegte volg. Uiteindelik wen die oorlewingsdrang. Met trane, bloed en trauma word die varkies neergelê, nek afgesny en gebraai. So maklik, maar so moeilik; almal se honger is bevredig. Vrede.
Elkeen van ons het so varkie: gewoontes/begeertes/verslawings/verwagtings/troetelsondes of ‘n ontvlugting waarvoor ek so lief is, maar wat soveel onmin veroorsaak onder my geliefdes. Daardie ‘olifant’ in die vertrek waaroor niemand mag praat nie:
“Want ek is vrekken lief vir die dingetjie en sal hom nie offer vir die groter goed nie.” (‘n Verkleiningsnaampie want hy’s nie sleg nie – so cute!)
Al bly ek honger en smag na iets beter vir myself en my gesin, sal ek my varkie troetel, met hom slaap en hom aanhou voer. Ek moes al my troetelvarkie slag: my geloof in myself en dat ek die wêreld gaan verander met my Middeleeuse Christen tienerverhaal/draaiboek (nogal in die Queen se taal, behoede my) en die rolprent wat ek in die UK wil maak! Belaglik?
“Ja, vrek, ja, ek kan. Met my Here spring ek oor mure!” Na ek vir jare myself en my gesin moeg gemaak het met al die energie, hoop en trane wat daarop gemors is, het ek besef my gesin se welstand is belangriker as my oorgroot drome. Moeilik? Maklik? God se planne is dalk anders as wat ek dink? En daar is ‘n groot las van my af. Vrede.