Thursday, March 3, 2011

TAKTIESE PLAN: ZERO-TO-HERO: MEL GIBSON EN GERARD BUTLER.

Deel 8 van moerige mev. Doeminie se storm-en-drang soeke na uitgewers en agente en my supersoniese planne om dit alles te laat gebeur... of nie... hierdie keer sluit dit groot name in... soos Mel en Gerard... en groter planne...

Nooit, het ek gesê sal ek weer die drukkershel aandurf nie - nie na my horribale ervaring met my Kruispad bordspel jare gelede nie. Nooit. Dis 'n lang tyd. So bevind ek my in dieselfde situasie as ‘n paar jaar terug met die druk van die bordspeletjie. Ek wil nie ek wil nie ek wil nie self drukkers toe nie. Weet jy wat dit behels? Proeflesers en nog proeflesrs om elke moontlike fout te ontdek. Self die regte drukker kry wat eerlik is en goeie werk lewer. Self die boek drukgereed kry. Kry die ISBN nommer by die Staatsbiblioteek. Self die geld gee. Self die bemarking doen en verkope behartig. Ek HAAT dit! Dit slurp elke minuut se skryftyd op wat ek voor my rekenaar kon sit of navorsing kon doen vir my volgende boek. En intussen is die Kuierkerk wat my doeminie-man begin het groot, mense soek aandag. My man soek aandag want dis ‘n groot bedryf met groot uitdagings en groot dinge wat moet gebeur. Die kinders soek aandag, word groter, huiswerk moeiliker, buitemuurse bedrywighede meer intens. Ons het saam met vriende 'n sentrum begin vir breingestremde kinders op Hartbeespoort, Kuierkidz leersentrum en daar is uitdagings (dis so mooi woord wat nie juis iets sê nie maar tog baie sê.)
Na nagte se wakkerlê (en basies peins oor die vorige laaste 7 hoofstukke se ellende en natuurrampe wat ek reeds op die blog verduidelik het!) besluit ek om net 100 boeke te druk van my middeleeuse boek, Wee Monk's Tale, the Secret of Immortality. Hoe? Met die kosbare oorblyfsels van erfgeldjies van my tannie Anita en Oom Faan.
(Ek en Anton is op die foto tydens 'n middeleeuse partytjie by my huis. Ek is MAL oor die middeleeue!! Ek het dit al gesê... Hoekom? Ek weet nie... Het dit ook al gesê...)
Ontwerp my eie voorblad en begin kwotasies soek. Ek kry ‘n oulike drukker deur ‘n vriend. Ek hou my kop vas en besef hier kom weer ‘n natuurramp. Ek weet dit. Ek vra die Here vir hulp en bekruip die drukkersmuur versigtig. My neus het al te veel gebloei van al die storm en probeer oorspring. (Het julle al Takishi Castle gekyk op Televisie – die klomp Chinese wat deelneem aan sulke hindernisbane en net voortstorm en oor als val. Daar is so ‘n muur met deure in en dan storm hulle die deure om te kyk wie se deur is oop. Baie van hulle hol hulself kadiks teen die deure vas wat gesluit is. Ander kom weer deur met die geluk. Ek wens dat ek net eenkeer die regte deur storm en dat die geluk aan my kant is en ek kry die oop deur. Dis hoe ek voel. Ek tref met ‘n helse slag net altyd die toe deur en dit met volle geloof dat God my die regte een gaan aandui...)
Intussen (deel van my ander annus horibilus-storie) word Anton einde 2008 dink ek, aangestel by die tradisionele kerk, met sy uitreik, die Kuierkerk wat steeds aan die gang is, want selfs van die kerkmanne in die Sinode besef dat hierdie model van kerkwees (geskoei op die Emerging Church waar informele kerke wêreldwyd onstaan in kleiner plekke soos koffiewinkels, teaters, kantore, ens.) kan dalk in die toekoms in ons land ‘n belangrike rol speel. So, ek verkoop vinnig my 100 boeke tussen die twee kerke want ek is darem nou amptelik mevrou Doeminie en party mense is nogal beïndruk dat ek wel ‘n boek kon skryf! (Ek is natuurlik ook in my noppies!)
Ek is nie beïndruk met die feit dat my een vriendin dadelik nog ‘n klomp spelfoute kry nie! Stupid. Stupid. Ek maak dit vervaard reg en my selfbeeld sak dieper in die modder in. Op ‘n goeie sonskyn Vrydag bestel ek nog 100 boeke by my drukker. Ek epos die bestelling met die nuwe weergawe wat gedruk moet word en omdat ek nou bietjie geld gekry het vir my boeke, betaal ek solank die paar duisend rand van die deposito in oor die internet. Maandag kry ek ‘n epos van hulle af: ‘Moet asb nie geld in ons gewone rekening inbetaal nie...daar is probleme met die rekening.’ Nou ja toe. Natuurramp. Die besigheid is bankrot en ek het die geld in die bankrekening inbetaal. Ek moes seker vooraf die arme drukkers laat weet het dat dit gevaarlik is om met my besigheid te doen, want waar ek gaan volg groot rampe.
Nuwe drukker soek en vertrou. Kry een. ‘n Jong grafiese ontwerper wat ek ken, meen my boek se voorblad lyk nie indrukwekkend genoeg nie en ontwerp ‘n nuwe een. Indrukwekkend.
(Op die foto is ek met my nuwer weergawe van my boek: Wee Monk's Tale, the Secret of Immortality!)
Ek druk weer 100. Ek sukkel bietjie meer om die te verkoop omdat die honderd mense in ons dorp wat lees, reeds boeke het (met spelfoute...). Iemand wat ek ken bied aan om my boek by hul besigheid te verkoop. ‘n Maand of drie later word ek vertel dat hulle as Christene ‘ongemaklik’ voel oor my boek omdat lyk of ek oor trolle (Feëtjies? Hekse? Druïdes?) praat in die boek en hulle wil nie meer iets daarmee te doen hê nie. Hallo? Het hul dit gelees en gesien hoe ek God se waarheid en sy hand in ons lewe afspeel teenoor die bygelowe en legendes van die middeleeue? Nee. Het hul gesien hoe my drie kinderhelde oorleef op kinderlike geloof in God in ‘n bose wêreld en hoe hulle mense se lewens verander in die boek en hoe mense tot bekering kom en vir God leer ken? Nee, maar ek vat my boeke en loop. Ek verstaan hoekom Ghandi gesê het: “Your Christ I like, it is the Christians I don’t like.” Of so iets.
Intussen is my draaiboek (wat ek oor my boek geskryf het) mos klaar en glo ek en vertel ek vir almal wat wil hoor en nie hoor nie dat ek nog ‘n fliek gaan maak van my boek. Ek skryf briewe vir Mel Gibson, wat The Passion of Christ gemaak het en wat nie bang is om ‘n fliek met ‘n sterk Christentema te maak nie. En hy het genoeg geld gemaak met the Passion. Nog ‘n rede hoekom Mel Gibson maar die fliek kan maak, volgens my bisarre redenasie, is omdat hy die Skotse epiese fliek, Braveheart, wat hy geregisseur het en waarin hy gespeel het in die dorpie Kells in Ierland gemaak het. Kells is waar my drie kinders met die Altaarbybel opeindig en waar dit in die regt lewe van 800 na Christus tot ongebeer 1600 geberg is voordat dit na die Trinity College Museum in Dublin gestuur is. Daarom is die boek toe genoem: The Book of Kells.
En, die vreemdste van als: My boek, Wee Monk’s Tale gaan mos oor die werklike Altaarbybel, the Book of Kells wat deur my denkbeeldige drie kinders gered word as Vikings die Skotse eiland Iona aanval. Die eiland wat as die middelpunt en begin van die Christengeloof in Wes-Europa beskou word, is deur die Monnik, Saint Columba begin. In die Keltiese taal word hy genoem: Colmcille. Die Altaarbybel is aanvanklik genoem: The Gospel of Colmcille (dit is die handgeskrewe 4 evangelies in Latyn met pragtige illustrasies). Mel Gibson se volle name is: Mel Colmcille Gerard Gibson. Met my kreatiewe brein lyk al hierdie dinge na tekens hoekom ek by Mel Gibson moet uitkom vir die maak van die rolprent. Ou Druscilla die dromer in my sien net alles raak as raakpunte en tekens!

Nou ja, Mel Gibson, het nou die laaste tyd nie juis vriende gemaak in Hollywood nie omdat hy, as Christen, teruggeval het en ‘n insinking beleef, al is hy ‘n getroue Rooms Katolieke Christen, en al het hy sy eie kerkie op sy plaas, is mense nie meer baie lus vir hom nie, omdat hy anti-semitiese uitsprake gemaak het terwyl hy een aand dronk was. Ook het hy sy vrou gelos vir ‘n Russiese model, wat hom op haar selfoon afgeneem het terwyl hy haar verbaal absoluut slegsê en dreig dat die see haar nie kan skoonwas nie. (Klink vir my maar na net nog ‘n natuurramp! Mel moes geweet het toe hy my briewe so ignoreer dat iets gaan kom! Of dalk het hy iets vermoed...). Hollywood is nou half klaar met hom. Ek het hom natuurlik ‘n persoonlike brief na sy eie persoonlike huisadres gestuur met my script en als in. Dis die een brief wat nog nie teruggekom het nie. Maar nouja – nou sien ek hy maak self ‘n fliek van die Vikings... Ja, wel, wat kan ek sê. Ek weet nie meer nie. (Waar kry ek sy persoonlike adres, vra jy my? Ek vra elke mens wat ek leer ken wat ‘n Amerikaanse aksent het of wat in Amerika gewerk het, ek soek Mel Gibson se persoonlike eposadres. Kan jy glo, eendag by ‘n smart Sondagmiddagete by ‘n pragtige Dame van ons dorp, ontmoet ek so ou. Hy sê vir my hy het nog kontakte in LA waar hy gewerk het ‘n paar jaar – hy sal vir Sêndra (Bullock) of vir Sjaarlize vra of hulle ‘n adres het... Nou ja toe! Volgende dag kry ek wowaar die epos met Mel se straatadres. Ek het dadelik ‘n briefie geskryf en my CD met my draaiboek op ingesit en daar trek my briefie Los Angeles toe. Nog niks gehoor nie. Natuurlik...)
(Op die foto is ek en my pel, Mel, by Madame Tussaude in London... I can dream can't I?)

Glo my, ek wag ook nie in stille stupidgeit vir Mel Gibson om my te kontak nie. Ek het nog planne. So hoor ek by ‘n vriend, Jonothan, dat hy net hier agter die berg deel is van 'n filmproduksie – die fliek, Machine Gun Preacher of iets, waarin Gerard Butler speel. Jonothan is sy stand-in wat beteken Jonothan moet, nog voor die kameras en Gerard hul ding doen, gou al Gerard se bewegings doen, sodat hul kan sien of die lig en komposisie en als reg is, en dit terwyl Gerard onder die sambreel in die Afrika son sit en sluk aan sy Perrier watertjie.

Jy moet nou weet, as jy nie weet wie is Gerard Butler nie, kan ek jou nie help nie, dan is jy ook maar bietjie agter. Hy is 'n Ierse akteur wat onder andere die spiertier, Koning Leonides was in die fliek, 300 en het so simpel rolletjie in Bounty Hunter gehad met Jennifer Aniston. En nog baie flieks. En hy is Iers! Ek sien mos dadelik hoe die kosmiese magte hierdie connection van ons gaan gebruik om my fliek gemaak te kry.

Nou ja, Drucilla die dromer binne-in my, skiet in aksie. Eers doen ek my bes om op die filmstel te kom, maar my groote en die feit dat ek weereens niemand is nie, maak dat ek my nie daar ingewurm kry nie. Ek hoor toe Gerard huur in Peacanwood Golf Estate ‘n huis! En net een mens doen die verhurings daar, my goeie vriendin, Rina, wat tot op hierdie punt wat sy van my dilemma hoor, nog nie self die man herken het nie!! Nie eers aan sy kaal (300-movie) bolyf waarmee hy eendag die deur vir haar en die bediende oopgemaak het nie, nie aan sy husky-Amerikaans-Ierse aksent nie, en nie aan sy pragtige bakkies wat toegegroei is met ‘n baard nie! Ai, Rina. (God bless her lovely soul!). Maar ek besluit toe om 'n biltongruikertjie aanmekaar te slaan vir Gerard. Eg Suid-Afrikaans met biltong, droë wors, Safari droë vrugte, Amarula likeurtjie en so aan, en natuurlik midde in al die pragtige kosse, lê en wag ‘n cd met my draaiboek, info, briefie en wat alles in. Ek jaag in by Rina, wat onmiddellik die waarde van die ruiker insien, en ons jaag met haar golfkarretjie regoor die golf estate, reguit op Gerard se huurhuis af. Dit was so drie-uur die middag. Soos wafferse spioene penetreer ons die gebou, plant die biltongruiker op die kombuistafel (was maar deurmekaar daar – dalk het sy bodyguard nie juis goed opgeruim die oggend nie!) en verlaat die toneel van die misdaad ongesiens. So wat dink jy het gebeur? Watter kosmiese magte en kragte het losgebars en die wiel aan die rol gesit as gevolg van my weldeurdagte, slinkse dog geniale plan? Flippen-hel-niks. Nie eers 'n dankie-sms nie. Drucilla huil nou nog. Maar ek en Rina lag lekker hieroor oor ‘n glas rooiwyn. Lag, so met ‘n traan, ekke. My muur is te hoog om oor te spring. Ek kan nie eers 'n gat onderdeur die muur grawe nie. My vraag is net: wanneer hou 'n mens op hoop en glo in jouself? Nooit? Dis 'n lang tyd. Dis baie energie. Dis harde harde werk.

3 comments:

  1. Die ou afgesaagde: Aanhouer wen, is regtig al wat werk. Kleur dit net in, sit iets by en HOU NET AAN GLO in jouself.... neem 'n bruistablet van tyd tot tyd, spring in 'n oranje bad, ry fiets met shocking pienk sokkies en woel jouself toe in 'n groen 'bersie (as mp jou toelaat) van tyd tot tyd en net eenvoudig EENDAG "it really happens" Onthou FAITH is the ability NOT to panic. Dankie vir jou inspirasie... YOU ROCK Mev Doeminie xx

    ReplyDelete
  2. Ja ek stem saam. Hou so aan. Dit is harde werk om aan te hou probeer maar ek dink dat die belangrikste ding is terwyl jy dit doen dat jy die humor raaksien. Soos jy se^ julle sit en lag dat julle die weldeurdagte plan kon uitvoer! Aanhouer wen. Ek het weereens jou storietjie geniet. Baie dankie.

    ReplyDelete
  3. Did you heard what Rob Matts said about that?

    cheap clomid

    ReplyDelete