Wednesday, June 28, 2017

2017 EN MEVROU DOEMINIE STOEI VOORT MET HAAR HORMONE EN DEMONE!

MEVROU DOEMINIE SE STRYD

Die hemel weet, dis nie altyd maklik om goed en gaaf te wees nie.

Soms frustreer en irriteer mense jou so dat jy liewer op jou perd wil spring en met ’n ‘Hi-ho Silwer’ die sonsondergang in wil galop. En nooit weer terugkom nie.
Mense ken jou mos nie. Nie regtig nie. Nie eens jou liefste dierbaarste vriende nie. Nie eens jou eie eggenoot nie. Nie eens jou kinders nie. Ek sou so graag wou hê iemand moet my verstaan, my frustrasies, my hele lewe tot nou toe en wat dit aan my gedoen het, hoe dit my verander het en hoe ek soms veg om kop bo water te hou. Ek wil so graag ook my mond kan oopmaak en nie verkeerd opgeneem word nie. Ek wil so graag nie heeltyd vir almal moet verduidelik wat my intensies is en hoe my kop werk nie.
Soms wil ek ook net voel ek is waardig om onvoorwaardelik liefgehê te word. Ek wil net hê mense moet my verstaan. Nie misverstaan nie. Nie kwalik neem vir die manier hoe ek dinge sê of doen nie. En natuurlik: my nie beswadder agteraf nie.
DIT is die groot frustrasie van die lewe. Net die Here in die Hemel ken ek en my gevoelens en begeertes en wraggies is Hy ook maar stil meeste van die tyd.
Ons elkeen veg hierdie ‘battle’. Ons elkeen wens ander wil ons verstaan. Dalk moet ons begin om te besef: Elkeen voel so. Dus: gee almal wat jy ontmoet die voordeel van die twyfel. Besef hulle frustrasie, hulle vrese, hulle pad van swaarkry wat hulle stap en waarvan jy NIKS weet nie. En weet net: Elkeen verdien om liefgehê te word al lyk hulle op die oog af maar woes en ongeskik. Daaronder is pyn, verwerping en ’n behoefte om verstaan te word. Net soos jy. Deel dus maar liefde, geduld en verstaan uit aan ’n honger wêreld voor jy op jou perd spring en die pad vat.

********************************************************************************************

MEVROU DOEMINIE EN DIE AANHOUDENDE APIES

So dikwels kom mense op jou pad en soek hulp of raad of geld of iets wat jy nie altyd het nie en so maklik is dit om te sê: NIE MY APE NIE, NIE MY SIRKUS.

Hierdie is ’n Poolse gesegde en kortom beteken dit: dit is nie my probleem nie. Byvoorbeeld, as iemand iets sê wat nie vir jou saak maak nie, kan jy dit antwoord om te wys dat dit niks met jou te doen het nie. Dis bloot hulle probleem en hul is alleen. Dit werk goed as dit gaan oor ander se bekgevegte of interne politiek by skole of tussen vriende. Dan is ’n stil bek seker ’n heel bek soos die ander gesegde sê. Jy maak jouself net moeg deur die apies op jou te neem en betrokke te raak in ’n wilde speletjie wat net jou energie steel. Gee terug daardie apies.
Maar as mense met regte nood by jou kom, wanneer help jy om die apies te dra? Ek is iemand wat maklik ingesluk word deur ander se probleme. Ek soek maklik oplossings en probeer help; word dikwels misbruik en my goedheid word vertrap. Ek wil maklik sê: nie my sirkus nie, nie my apies nie. Ek moes dit aanleer vir emosionele oorlewing. Sjoe, maar daar is so baie nood daarbuite. Wanneer betree jy ’n ander ou se sirkus? Wanneer help jy sy apies dra? Ek weet nie. My man het ’n gesegde: Gee wat jy het en doen wat jy kan. Dit help my nogal baie. Die lyn is egter dun. Wanneer moet jy help? Dit kan seker net die Heilige Gees ons elkeen leer. AS jy kan help. Doen so. AS jy raad het, gee dit. As jy iemand of ’n instansie ken wat kan help, verwys hulle.
Maar, o wee, dis ’n fyn lyn want sommige sirkusse boer op jou stoep en tap die laaste druppel bloed uit jou uit. Jesus het ons egter kom wys, dit is My sirkus en My ape: Hel


**********************************************************************************************
MEVROU DOEMINIE SUIG AAN DIE AGTERSPEEN

Is dit net ek of is daar altyd iemand wat jy ken wat lyk of hulle met daardie silwer lepeltjie in die mond gebore is?

Die ouens wat die voorste vet speen in die hande kry waarin al die melk is. En ek sit met die agterspeen wat maar pap en droog is?
Van skool af het ek agtergekom dat die lewe nie regverdig is nie. Al die meisies op skool het gladde, blink hare gehad en ja, boonop ‘n ligte beenstruktuur. Ek, daarenteen het ’n growwe beenstruktuur gehad, soos my ma daarna verwys het. En ’n bos kroeshare. Regtig? Wat ek en my ma ook al probeer het, daardie kroese wou net nie glad en blink nie. Mens word effens soos ’n melaatse behandel, want jy is ‘anders’.
Ek moes ook altyd op skool my vrek-leer om net ’n redelike goeie punt te verdien, terwyl van my vriendinne skaars ’n boek oopgemaak het en selfs mondelings met ’n mooi glimlag (en hulle blink hare) met A+ punte deurgevlieg het.
Ek het al baie gewonder hieroor. Die Here sê mos is tevergeefs dat jy vroeg opstaan en laat werk. Vir sy geliefde gee Hy alles in sy slaap. Ek het geworstel hiermee – geliefde? Is ek nie ook ’n geliefde nie? Hoekom kry ek daardie kroeserige agterspeen? Dit voel soms of ek harder moet werk aan my loopbaan (dis ’n riller-storie op sy eie. Watter loopbaan, vra jy?) en my huwelik en alles wat ek so entoesiasties aanpak.
Dan sien mens hoe honderde mense se huise afbrand, sonder kos en klere sit, hoe mense oor die wêreld met niks sit nie, dan besef jy met skaamte dat jy gelukkig is om net ’n speen te kon kry, al is dit die agterspeen. Ander is nie eens só gelukkig nie. Alles, selfs kos, ’n dak oor jou kop en vriende en familie, is ’n seën. Net om elke dag asem te haal, gesond te wees en oë in jou kop hê om te sien, is alreeds die hele uier – en nie net die agterspeen nie. Dankie, daarvoor.

*************************************************************************************
MEVROU DOEMINIE VERANDER DIE WERELD

Ek het as klein kind gedink ek gaan nog eendag die wêreld verander. Ek gaan iets doen, ’n werk kry waarmee ek mense se lewens gaan verbeter en so onthou gaan word.

Nou ja, die lewe gebeur met ’n mens. Ek het joernalistiek gaan studeer en vir ’n koerant en tydskrif en sekerlik nie iemand se lewe woes verander nie. Ek het ’n Christelike bordspel ontwerp, Kruispad, waarmee ek gedink het ek en die Here gaan hierdie wêreld omkeer. Verby is die tyd van doellose gesinspeletjies. Ek gaan mense van Jesus se lewe en sy dade leer en so speel-speel die wêreld ’n beter plek maak. Toe nie. Ek moes dit uiteindelik self laat druk. Ek het seker so ’n duisend verkoop en my garage lê nog vol van die goed. Nie juis die wêreld verander nie.
Toe skryf ek ’n boek, Wee Monk’s Tale, wat die mense se gekerm oor Harry Potter totaal gaan stopsit. En wat die tieners op ’n lekker, prettige manier Bybelgeskiedenis gaan leer. Dit gaan oor tieners in die Middeleeue in Ierland wat ’n Altaarbybel moet red van vreeslike Vikings en allerlei bonatuurlike (Bybelse) ervarings beleef. Ek moes dit weereens self laat druk. Die honderd of so mense wat dit gelees het, is seker geraak, die wat nie oor die drie spelfoute gekla het nie.
Toe ontwerp ek lewensveranderende kinderkerkmateriaal om die kinders speel-speel met geheuesketse die Bybelboeke te leer. Ek spartel so op my eie om dit te bemark. Ja, ek het al ’n klompie aanlyn verkoop en ek is seker iewers raak ek een iemand se lewe.
Ek glo dat Jesus wel my pogings waardeer. (En dit hou my besig!) Hy raak wel daardeur aan wie Hy wil. Maar die manier hoe Hy sou verkies om lewens aan te raak, is deur my effek op mense om my, elke dag. My glimlag, my lig wat ek uitstraal, my aanvaarding, diensbaarheid en my opbouende woorde aan mense wat almal knak onder ’n swak selfbeeld, veroordeling, depressie, kritiek en hartseer. As ons elkeen net dit doen, is Hy gelukkig.
************************************************************************************

MEVROU DOEMINIE EN DIE DIKVELLIGE DANSERS

Ek verstaan soms hoekom diepsinnige mense al van toeka se tye af hulle staf optel en die pad vat na een of ander afgesonderde plek – ’n plek waar daar veral nie mense is nie.

Ander mense (net soos jyself) het ’n manier om ’n mens soms verkeerd op te vryf. Hulle verstaan nie jou intensie of jou goeie bedoelings nie en sê maklik die eerste ding wat in hul kop kom. En min van ons het die stamina om dit te verduur. Ons wil verstaan word en verdra word en veral waardeer word. En min van ons kan dit vir mekaar of ander doen.
Iemand vertel my van haar dogter wat ’n dansnommertjie by ’n kunstefees doen en toe sy daarmee wen, kom vertel ’n ander ma haar dat die musiek heeltemal onvanpas was vir die geleentheid en bla-bla-bla. Ek onthou toe met angs in my oë en rillings teen my ruggraat af van vele kere in my lewe waar iemand teen my of my man of kinders se besluite/klere/bedoelings te velde getrek het, sonder dat hulle enige reg het, glo ek.
Ek weet ons moet ons dik velle aantrek en daardie mense met liefde en jammerte bejeën. Hulle sit met hul eie verwerping en minderwaardigheid of wat ook al. Dit het eintlik NIKS met my uit te waai wat hulle dink nie. Glimlag maar net en beweeg aan anders word dit ’n skandaal wat die hele gemeenskap naderhand betrek!
Jy hoef nie jou mening terug te gee nie. Probeer dit net eenkeer. Dit laat mens wonderlik voel. En weet dat die ander persoon sy of haar eie innerlike demone veg. Partykeer wil ek hê ’n weerligstraal moet hulle op die plek verteer, maar dis wraggies nie wat Jesus sou wou hê nie. Trek maar jou dik velletjie aan. Draai daardie ander wang. Nie almal gaan van jou dans hou of saam met jou dans nie, hulle hoef nie. Maar ons moet mekaar se soort dans en musiek aanvaar. Daarin lê die geheim. Laat ons maar net probeer.

****************************************************************

MEVROU DOEMINIE VERLOOR BEHEER

Jip. Dit gebeur met ons almal. Jy staan kalm en vrolik op soos ’n goeie Christen moet, dan stap jy by die eerste besigheid in waar jy dinge moet doen.

Mense kruis jou pad. En KABOEM! Jy verloor jou humeur so erg dat jy sukkel om die ding weer op te spoor.
Jy is gelukkig as daar nie te veel mense is om dit te aanskou nie. Soms is die skare groter. En as jy ’n bekende figuur is, land jou klein dramatjie dalk boonop op Youtube. So stap ek doodkalm by die bank in. Ek moet ’n eenvoudige transaksie doen. Nie so maklik nie. Drie besoeke later, nog papiere wat ek moes saambring en steeds geen resultate. Ek verloor toe heeltemal kop. Stoom blaas by my ore uit en ek sê ek sal nooit weer my voete daar sit nie. Bestuurderes vra versigtig/benoud of sy kan help. Ek stoom voort want regtig, man, dit moes ’n maklike transaksie wees, nou klomp red tape. En onbeholpenheid.
Kwartier later, net voor die sekuriteitsman my met ’n skokmasjien tot bedaring wou bring, na ’n lesing oor bank-reëls en regulasies, ensovoorts, word ek aangesê om nog ’n vorm in te vul. Ek skryf my e-posadres – die een van my kerk waar ek betrokke is. O, merk die bestuurder op. Jy werk by ’n kerk?
“Ja. Ek’s nogal die Doeminie se vrou,” sê ek. “En kinderwerker.” Teen die tyd wil ek begin lag oor die ironie en die verleentheid. En dit oor ek my humeur verloor het. Dit was my reg, glo ek, maar die effek daarvan is nooit eintlik reg nie.
Ek sal seker nie weer my voete in daardie bank sit nie – oor ek nou soos ’n aap voel. Ja en boonop het ek nog vroeër die oggend vir iemand gesê dat ’n Christenvrou wat in die nuus was moet oppas oor watse belaglike uitsprake sy maak in die naam van Christenskap. Toe tref die blinde sambok my hard en duidelik! Les geleer. Sug. Probeer weer.

*****************************************

MEVROU DOEMINIE SIEN JESUS OP STRAAT

Die bekende liedjie wat ons Sondae sing, vra: Open die oë van my hart, Here, sodat ek U kan sien. Maar wraggies, wie van ons was nou al so gelukkig om God te sien?

Jesus het mos vir sy dissipels gesê as hulle hom sien, sien hulle vir God. Hy het hulle kom wys wie God is, kom doen wat God sou doen en kom praat wat God sou praat. Dit was alreeds vir hulle moeilik om God so te sien, deur ’n ‘mens’, al was dit nou ’n sondelose, wonderwerkende, liefdevolle en begeesterde mens soos Jesus. Hulle het dit nie lekker verstaan nie. Hoe kan ’n heilige God nou so lyk met vuil klere en woestynplakkies?
Veral het die Skrifgeleerdes dit nie verstaan nie. Dit was immers laster in hulle oë want jy kan God nie verklein tot ’n mens nie. En boonop kom Jesus nog met die storie dat hy die hele gebod opsom as: Jy moet GOD liefhê met jou hele hart, siel en verstand en jou NAASTE soos jouself? Huh?
Ek dink dat as ons regtig vra dat God ons hart se oë oopmaak, dan sal ons Jesus in ons naaste soek. Al is dit hoe moeilik en al is die naaste maar ’n vrot weergawe, ’n sondige, ellendige skepsel wat met liegstories of hoogmoed voor ons staan.
As ons regtig vra dat God ons oë oopmaak, sal ons ander mense sien soos hy hulle sien. Soos God hulle sien. Hy kyk deur die bril van Jesus (die offerlam) en sien Jesus in elkeen van die mense, nie die sondige skepsel nie.
So moeilik, maar as jy vra dat God die oë van jou hart oopmaak sodat jy hom kan sien, begin hom sien in die mense om jou, die goeies en slegtes. Elkeen is deur God geskep (met ’n rede) en het ’n stukkie van God in hom. Soek dit en kyk met liefdevolle oë na almal soos Jesus sou. Dan sien jy ’n stukkie van Jesus en die ander mense sien Jesus in jou.
****************************************************************************

MEVROU DOEMINIE SE VOELTJIE VLIEG


Met trane in my blou ogies en ’n angs-gat in my hart staan ek op die lughawe en sien hoe my jongste voëltjie die wêreld inskiet. Ek’t nie besef dit gaan so erg wees nie.

Ek het nog een van die land se statistieke geword wie se kinders oorsee gaan werk. En ek was net so opgewonde soos sy toe sy die aanbod kry. Om te werk in Disneyworld is tog ’n droom wat waar geword net. Maar hemel toe die dag aanbreek was dit eens te erg.
’n Jaar sonder my baba in die huis. Ja, wel, my baba is ’n negentienjarige volwasse vrou. In die goeie ou dae sou sy al getroud gewees het en drie kinders gehad het en elke resep van ouma geken het. Deesdae se kinders het dit anders. Hulle vlieg die wêreld vol en leef opwindende lewens en ons ouers is net te dankbaar daar is whatsup en Skype.
Maar die seer in my hart is daar. Die verlange na die reuk van haar parfuum en sjampoe. Haar opgewonde geselsies oor haar vriende en hulle kuiers. Haar entoesiasme oor die kleinste goetertjies. Dit voel asof my Alice na wonderland vertrek het en in daardie haas se gat afgegaan het. Tyd sal stilstaan vir my en sy gaan holderstebolder avonture beleef met haastige hase, laggende katte, kaboutermannetjies en Mad Hatter teepartytjies. Ek hoop sy sit die Rooi Koninginne en hulle Jabberwocky troeteldiere op hulle plek. Vir my sal dit altyd ’n minuut voor teetyd bly totdat sy terugkom en weer saam met my tee drink! 
Ek gun haar hierdie malle avontuur en is effens jaloers. As ek maar so iets kon doen toe ek jonk was! Ek bewonder haar waagmoed, dapperheid en avontuurlus. Ek is so trots op haar en sal elke dag bid vir haar veiligheid. Mag God ons kinders in die wye wêreld beskerm teen gevare en hulle veilig terug huis toe bring.
********************************************************************

MEVROU DOEMINIE KYK VANUIT DIE HOOGTES

Ons mense is so deksels klein. Party van ons dink dalk ons is groter as ander, beter en slimmer en sterker, maar ons is maar almal piepklein.

Dit het ek die afgelope naweek twee keer gesien asof die Here my ordentlik hieraan wou herinner. Die byeenkoms in Bloemfontein van sowat ’n miljoen mense was een van die gevalle. Mense van oor die land, van alle lewensvlakke, het soontoe gestroom om vir ons land te bid. Party het wel met hul Mercedes opgedaag en ander met busse, vragmotors of motorfietse of selfs geloop. Lugfoto’s wys derduisende mensies wat soos miertjies oor ’n massiewe stuk aarde staan, almal gelyk voor God, gelyk in hulle hartseer, nood en drome vir ons land. As almal op hulle knieë afsak en vir God smeek vir genade, is ons maar net een en dieselfde mens. Nietig en afhanklik van ’n groot God.
En Sondag bederf iemand my gesin met ’n helikopterrit oor die Hartbeespoortdam. Die huisies en paadjies lyk klein soos in die dae toe ek en my broer met ons karretjies in die agtertuin gespeel het. Ons het ’n dorpie gebou, plase, duur en minder duur huisies gemaak en kon tot laatnag speel. Hartbeespoort is ’n dorp met maksimale geboude ‘smart’ huise en direk langsaan is ’n plakkerskamp. Van bo af lyk dit of almal het wat hulle moet hê. Paaie, huise, vervoer en ’n lewe. Een wel groter as die ander, deur die genade. Maar al die mensies wat op die grond rond wriemel lyk van bo-af dieselfde.
En ek dink dis wat God sien. Hy sien nie jou paleis of jou pondok nie. Hy sien jou hartklop, jou omgee en jou nederigheid. Kan ons nie mekaar maar so sien nie? Ons mense sukkel bietjie met vaskyk in status en geld en hoogmoed (of armoede). Daaragter skuil ’n klein, hartseer mens wat God net so nodig het soos die ou wat langs die pad staan elke oggend en smeek vir werk. Soos iemand sê: Wees gaaf met almal, want jy weet nie watse hel hulle elkeen deurgaan nie.
***********************************************************

MEVROU DOEMINIE EN DIE MAN VOL BLOED

Met Paasfees agter die rug, sien ek onlangs weer die foto van Mel Gibson en die akteur wat Jesus gespeel het in die rolprent, The Passion of the Christ. Dit bly vir my ’n betekenisvolle foto.

Mel wat die regisseur van die rolprent was, het tussendeur tonele gepraat met die akteur. Hy het hom seker aanwysings gegee oor die volgende toneel en wat hy van hom as akteur verwag. Dit is ’n foto wat my laat dink daaraan dat Jesus enige tyd, elke dag vir jou luister. Jy moet hom net roep. Enige tyd is goed vir hom. Hy het selfs bebloed en aan die kruis aan jou gedink en aan die oorvloedige lewe wat hy vir jou in gedagte het.
Soos ons maar is, soos Mel in die foto, wil ons Hom seker so nou en dan aansê wat om te doen en hoe om ons sake te hanteer! Maar Hy is geduldig met ons, weet van beter en lei ons rustig op die pad wat hy ons wil hê.
En Jesus aanvaar ons met al ons foute en sondes. Ja, ons weet almal dat Mel Gibson, ’n diep gelowige, wat hierdie lewensveranderende rolprent gemaak het, self nie sonder foute is nie. Die media (of skindertonge) is gou om elke voetfout uit te basuin. So het ons elkeen ons op en af tye met Jesus of met ons sondes. Die goeie wat ons wil, doen ons nie altyd nie. Die Bybel sê mos dat die wat staan moet oppas dat hulle nie val nie. En ons almal val, behalwe Jesus wat ons staande hou.
As jy dus moedeloos, verward, skuldig, eensaam of hopeloos voel, weet net, dat jy net vir Jesus moet roep en hy sit by jou en luister geduldig. Al sien jy hom nie fisies nie, dink aan hierdie foto. Hy is by jou, soos wat hy hier by Mel sit. Praat met hom. Hy sal jou nie verwerp nie, al verwerp almal jou, selfs die wêreldmedia. Hy ken jou. Hy het die prys vir jou betaal.
***************************************************************************

MEVROU DOEMINIE EN DAARDIE SONDES


Iemand vertel my eenkeer dat enigeen van ons, selfs die vroomste persoon, in staat is om die ergste sonde te pleeg, selfs moord.

En dis net genade wat ons daarvan weerhou. Ek besef dit is so. As mens na die nuus kyk is daar talle stories van gewone gesinsmense wat knak en skielik hul hele gesin uitwis. Of ʼn ongeluk gebeur en jy skiet jou eie kind of ʼn inbreker of ry selfs iemand dood. Of jy is in soveel geldnood dat jy by jou werk steel of bedrog pleeg. Ons bly maar mens en die goeie wat ons wil doen, doen ons nie altyd nie. Jesus het gesê dat selfs al dink jy net sleg van iemand het jy hom in jou kop vermoor. Dis so goed soos moord.
Gelukkig is ons in ʼn tyd van die jaar wanneer ons met sekerheid weet dat ons ten spyte van ons sonde en slegte dade en woorde geregverdig is deur Jesus se bloed. Hy het ons daardie Paasfees met sy bloed gereinig van die ergste sonde wat ons kan doen. Hy het gesterf sodat ons kan lewe in oorvloed. En Hy het opgestaan om ons te wys sy krag leef in ons. Ons kan opstaan van ons swakhede en voor begin want hy het ons straf gedra. Ons hoef nie met skuldgevoel te leef nie. Ons is vergewe.  Tot ons die dag waarlik saam met hom in die ewige lewe opstaan. Prys Sy Naam.
**********************************************************************************************
MEVROU DOEMINIE TAKEL AL DIE KANTE

Mense bly maar mense en ons sal oordeel en veroordeel so lank as wat ons op hierdie aarde is, sonder om ooit al die feite te hê.

Of dit nou jou beste vriendin is wat jou ’n storie vertel of ’n vreemdeling in die straat of ’n nuusberig in die grootste Afrikaanse tydskrif in die wêreld. Ons aardse skepsels kan maar net nie daardie afstand behou en PROBEER om die hele prentjie te sien nie. Ons hoor daardie storie en hoe sappiger dit vertel word en hoe meer dit oordryf word en hoe minder feite jy het, hoe groter maak jou verbeelding die hele ding en naderhand, wanneer jy dit oorvertel het en die volgende ou dit oorvertel het, het die storie ’n nuwe lewe gekry en die arme een aan die kort ent is die een wat bonatuurlik erg veroordeel word.
Ons almal was al so onskuldig beswadder en verneder en selfs met messe in die rug gesteek omdat niemand die hele storie geken het nie. En geoordeel het. Hoekom leer ons nie, maar daaruit nie? Dis seer. Die vrek seer as mense jou oordeel volgens ’n gerug. Veral as die mense jou vriende is/was. Jy verwag darem van hulle om self met jou te kom praat om jou kant van die storie te hoor?
Kom ons elkeen maak die wêreld ’n beter plek en besluit om nie net voor die voet te glo nie (en oor te vertel nie). Gee die ou die voordeel van die twyfel dat hy ook ’n storie het, ook ’n verlede en ’n rede (hoe vrot ook al) vir sy dade. En die ander een wat kwansuis ingeloop word, ook.
Soos een ou tannie vir die ander vra: Vertel my nog, wat het hy toe gedoen? Die ander ou tannie antwoord: nee ek weet nie meer nie, ek het jou reeds meer vertel as wat ek self weet! Dis gewoonlik so. 
****************************************************************************************************

MEVROU DOEMINIE SE MALLEMEULE RIT

’n Pragtige meisie in ’n realiteitsprogram waarin die nuutste Amerikaanse topmodel gesoek word, sê vir die kamera dat sy nie bereid is om tweede te kom nie, want tweede is net sowel die eerste verloorder.

Dit laat dink my toe. Dis eintlik ’n slegte aanname om te maak. Hierdie meisie het na weke se blootstelling aan die beste Amerikaanse fotograwe, lewensafrigters, modetydskrifredakteurs en ander topmodelle se advies so baie geleer. Sy is deur die beste mense in die industrie touwys gemaak oor hoe om vir foto’s te poseer en hoe om op ’n loopplank te loop en hoe jou houding moet wees, maar sy kon net dink aan die feit dat sy nie wen as sy eerste is nie.
Dalk maak ons ons kinders so groot? Ek ken sportmal mense wat hulle kinders die einste ding vertel: Daar is net een wenner. As jy nie wen nie verloor jy. Dink soos ’n wenner en jy sal wen. Al die woorde maak seker dat ons kinders (en ons) dink dat wen die enigste opsie is. Dis so jammer want wen is net ’n opsie. Elkeen wat aan die ondervinding blootgestel was, het gewen. Hulle het probeer. En hulle het so baie geleer.
Ek lees die stukkie op facebook: Trust me, I never lose, I either win or I learn.
Ek verloor nie: of ek wen of ek leer. En albei is ’n wen situasie. As jy so gaan fokus op die feit dat jy verloor het, gaan jy nie kan onthou wat jy geleer het nie. En die lewe is ’n lang leerproses. Geniet die mallemeule-rit van wen en leer
*********************************************************************************************************************************

MEVROU DEOMINIE IS NIE REG NIE

Dis die moeilikste les om in hierdie lewe te leer: Jy is nie altyd reg nie. En jy hoef nie te wees nie.

As jongmens sou ek nie worry oor of ek reg is nie. Wat weet ek tog? Ek sou makliker eerder die vrede bewaar as om my bek oop te maak. Daar is buitendien genoeg mense daarbuite wat weet wat hulle doen en wat jy moet doen. 
Toe ek gaan swot, wou ek ’n argeoloog word wat tussen ou beendere rondkrap. Pa weet beter en stuur my om Kommunikasiekunde te swot. Meer werksgeleenthede. Ek werk as joernalis en selfs omgewingsopvoedkundige. En vandag skryf ek nog. Toe ek trou, was dit so maklik om almal wat weet wat te vra om te dit en te dat. Regtigwaar, dit was alles pragtig sonder dat ek veel getorring het aan ruikers en kos en versierings. Ek het darem my rok gekies.
Toe ek kinders kry, het ek ewe min geweet. Almal het vertel hoe en wat en toe die eerste kleintjie sy kop uitsteek, is ek gelei deur my ma, die suster by die kliniek en Murray Jansen boeke oor Waar kom ek vandaan en kindersorg. Want wat weet ek tog? Maar toe daardie kind breinskade opdoen as gevolg van ’n vreemde virus en suurstofnood, was ek in sak en as. Ek het stadig opgestaan, pynlik, depressief en hopeloos. Maar toe ek weer rigting kry was ek in beheer. Van oefeninge soek en doen om hom weer te help menswees, tot my volgende kinders kry. Ek was in beheer. Ek het my huishouding laat loop, reg of verkeerd, niemand kon my iets sê nie. Alles was vir oorlewing, maar die altyd reg en in beheer wees het sy tol geëis – op ek en my huwelik.
Dit het my jare geneem om net weer nie om te gee om reg te wees nie. Dit maak nie saak wie is reg nie. Bewaar daardie vrede, kosbare verhoudings, luister na ander sonder raad of opmerkings. Dis soveel makliker. Probeer dit gerus as jy ’n beheervraat is. Die gevolg is vrede. 
*****************************************************************************************************************
MEVROU DOEMINIE EN DIE AGNOSTIKUS

Ek is nou wraggies nie juis skaam om op facebook ’n gebedsversoek te deel nie.

Soos toe ek vir die Here met ’n reeks gebede vra vir ’n wonderwerk sodat ons ouers die sentrum vir ons breingestremde kinders op Harties - die tehuis waarin ons tans is - te kan koop.
Die Bybel is duidelik daaroor dat jy maar vir die Here kan vra. Ek vra niemand se amen of ‘share’ nie. Dis maar my eie ding want ek weet uit my geskiedenis dat God gebede antwoord op die mees vreemde maniere. So plaas ek elke week ’n foto’tjie van een van ons breingestremde kids daarby. Nou, as jy ’n erg breingestremde kind het, stap die Here ’n besondere pad met jou gesin. Daar is baie dae van lag en hartseer. Maar jy het hierdie kindjie en jy is nie skaam vir hom nie, want God rus jou elke dag toe om by die situasie aan te pas. Jou geloof groei soos jou aanvaarding en liefde groei.
So vra ek vandag weer vir God om ons genadig te wees vir ’n wonderwerk vir ons kinders. My een vriendin antwoord: God is goed, want sy weet persoonlik wat God kan doen. En ’n persoon, ’n agnostikus/ateïs/wat ook al, wat nie eens my facebook vriend is nie, antwoord daarop: Sjoe, is dit nie eers duidelik hoe hierdie "god is goed", en "roep en god antwoord " glad nie sin maak gesien in die lig van die lyding en gebrek aan lewenskwaliteit van hierdie kinders nie!? Die gebrek aan intellektuele eerlikheid is skreiend! (Ek het al sy spelfoute reggemaak.)
Ek gaan hom nie antwoord of blok nie. Al wat ek weet is dat hy tans nie God se liefde in hierdie situasie raaksien nie. Ek dank God dat hy my oë darem so bietjie op ’n skrefie oopgemaak het, sodat ek ietsie kan verstaan van ’n genadige God. Selfs in my en my breingestremde seun se lewe. Veral as ek sien hoe geniet hy elke dag en die gawes wat God hom skenk. My seun het blykbaar meer intellektuele/geestelike/emosionele insig as bogenoemde man. 
*****************************************************************************************************

MEVROU DOEMINIE EN DIE RESCUE REMEDY

Ag, hoe moedeloos word ek as ek net daardie woord sien: deugsaamheid. Ek dink ek het eerder gawes geërf soos stoei om te oorleef en moegheid.

Ek vermy gewoonlik Spreuke 31 in die Bybel. Dit laat my vrot voel. Byvoorbeeld: Hierdie wyse vrou werk haar byna dood aan al haar dagtake (en dit met ’n vlytige glimlag), werk mooi met geld, hande staan vir niks verkeerd nie, maak ’n sukses van als, sorg vir armes, maak klere-en-wat-als vir die huis SELF, geestelik sterk, tree waardig op en met wysheid, is in volle beheer van haar huishouding en kinders. Haar man bewonder haar. En-so-flippen-voorts.
Ek moet nou eers ’n botteltjie Rescue Remedy drink. Voor ’n angsaanval my beetpak. Ek ken sulke fantastiese-vlinder-vroue. Langs hulle voel ek maar beteuterd en onvolmaak. Ek pluk die Spreuke toets. Ek’s gemeet en te lig bevind. Boonop veg ek met my bonsende gewig en malkoppie-hormone en sweet soos ’n os as ek my vlytige dagtake verrig. Dan moet ek nog my daaglikse loop inkry op die loopmasjien sodat ek darem my hart van diksaligheid kan red en langer leef sodat ek nog meer stoei om die perfekte vrou te wees. En dan moet my huismense nog hulle daaglikse brood inkry en kroniese pille en liefdevolle, opbouende aandag! En dan moet ek Sondae by die kerk gelukkig en vol energie lyk, want mevrou Doeminie kan nie vuisvoos en futloos daar aankom nie, nee, dan dink mense sy is sommer net ongeskik en onvriendelik en boonop dik ook!
Ag wat, ek glo dat God my liefhet vir die poging wat ek insit, vir opstaan elke oggend en elke dag voortveg. Baba-treetjies elke dag sodat ek die beste ma en vrou kan wees watEK kan. Ek bly glo: Daar is baie goeie vroue, maar EK met my unieke omstandighede oortref almal! Net so. Spreuke 31 sê mos: ’n vrou wat die Here liefhet, moet jy vir altyd koester. En vers 31 lees: “Eer haar vir wat sy doen.” Jip. Dis ek daardie – al besing almal nou nie noodwendig my lof nie: ek probeer!

****************************************************************************************************

MEVROU DOEMINIE EN DIE GROOTPRATERS

Ja, ek wys nie vingers nie. Ons het mos almal ons oomblikke, wanneer ons iets beloof en vergeet daarvan.

Maar wraggies jy kry ouens wat ’n lewe hiervan maak en boonop hulle Christenskap aan die groot klok hang – dit maak dat ek wil slange vang.
Ek is ’n vrot besigheidsvrou, maar my gawe is ’n groot verbeelding. Ek stel al oor baie jare kinderkerkmateriaal op vir kinders om die Bybelboeke met speletjies te leer ken (en sommer hulle ouers ook!). Die meeste mense wat by my bestel betaal die geld in en ek pos vir hulle die CD’s. Ek gee ook maklik hiervan weg vir arm gemeentes of sendelinge.
Maar so wraggies dan kry jy die uitsonderings. Die groot Christenmens wat by my kom en my met sy roerende getuienis en diepliggende visie tot trane dryf. En ek sluk alles: aas-hoek-sinker-visstok. Hy koop sommer my hele reeks en alles en nog wat, want hy glo dis mos wonderlik. En smeer my soveel heuning om die mond dat ek hom toelaat om LATER die sowat R1000, plus, in my bankrekening te betaal.
Ek is nie ’n finansiële reus nie. En die kind in die Kaap kos ons geld, man. Baie geld. Ek is net verbaas dat ek so dikwels hiervoor val. Ek kan dié les nie leer nie, want ek vertrou so maklik al weet ek mos ons Christene is nie een sondeloos nie. Dan onthou ek weer wat Johannes van Jesus gesê het en Hy het soveel meer rede om teleurgesteld te wees in ons as mense:
Johannes 2: 23: “Jesus was vir die Paasfees in Jerusalem. Baie mense het daar die wonderlike dinge gesien wat Hy gedoen het. Hulle het besef dat hierdie dinge tekens is van iets baie groters. Daarom het hulle in Jesus begin glo. Jesus het egter geweet hoe onbetroubaar mense is. Niemand hoef dit vir Hom te vertel het nie. Daarom het Hy hulle nie sommer vertrou nie.”
MAAR Hy het aangehou om hulle te seën met genesing, lering, wonderwerke en mooi woorde.
*******************************************************************
MEVROU DOEMINIE EN DIE DEURKLOKKIE

Voordat daar hemelhoë mure en omheinings om ons huise was en diefwering voor die vensters en deure, was dit ’n heerlike verrassing as jou deurklokkie gelui het. Iemand het kom kuier! Maar vandag is dit anders.

Vroeër jare sou almal voor die televisie opgespring het en deur toe gehardloop het, sonder om eers deur die loergaatjie te kyk. En as jy daardie deur oopmaak: Viola! Groot verrassing: kuiermense of familie! En dan het ons koffie gedrink en vir ure lank gekuier. Dit is waarvoor ons sitkamers gebruik het.
Vandag is dit ’n ander storie. As jou deurklokkie lui, dan skrik jy. Jy wonder hoe het die persoon tot daar gevorder; verby hoë mure, geslote hekke, alarmstelsels en blaffende honde. Jy wil dadelik die pistool onder die kopkussing gaan haal. Almal gluur angsbevange na die deur, loer deur skrefies in die gordyne en gryp na hulle selfone om die buurtwag te skakel. Gewoonlik is dit dan net iemand wat ’n verkeerde huis beet het of iets aflewer. Dan slaak ons ’n sug van verligting en jaag hulle effens onbeskof weg. Hoe durf hulle?
Dit laat my ook dink aan Jesus wat aan ons harte klop en sê, laat My in. En ons het in die onbetroubare wêreld al hoe meer hoë mure om ons harte gebou. Ons wil nie regtig het Hy moet in nie. Ons loer eers en kyk of hy betroubaar is. Oppas, hy loop dalk.
Of Hy klop aan jou hart en sê net: Help iemand of wees vriendelik. Ons is dan so verskrik en agterdogtig. Ons wonder: is dit die duiwel of ’n gees van dwaling wat ons beet het? Hoekom sal die Here by mý deur klop? Maar dis dikwels net dit: luister na Sy stem en tree ’n slag in liefde op, onselfsugtig, diensbaar en wees ’n seën vir ander mense sonder om agterdogtig en bang te wees vir die gevolge. Dan voel jy dalk weer daardie verrassing in jou opbruis: MENSE!
***********************************************
MEVROU DOEMINIE HYG OOR DIE LIEFDE

Ai, niks is darem so opwindend soos die mal-verliefde jong liefdes-ervaring nie. G’n wonder ons smag na daardie gevoel tot ons oud en verrimpeld is nie.

So woon ek toe ’n skryfkursus by en begin my hand waag aan Romantiese stories. Oftewel: hyg-romanse, soos dit bekend staan. Ek trek weg met ’n onverskrokke held en ’n aantreklike heldin, met verlangende kyke oor ’n besige vertrek; die vat van ’n hand en alles roer en bewe binne-in jou; die raak van lippe teenmekaar en iets aardskuddend gebeur.
Man, maar dis lekker om hierdie ou gevoelens weer te beleef wat ek as student beleef het met my eerste liefde, toevallig ook my laaste, want ons is toe getroud, happily ever after en alles. As ek my liefdestories skryf, dink ek terug aan die dae toe ons twee jonk was en die liefde opwindend en aardskuddend. Daardie was tye toe ons geen verantwoordelikhede gehad het nie en ons geleef het op die adrenalienpomp van die liefde.
Toe gebeur die lewe en ons staan en val en slaan weer neer en sukkel om op te staan en ons vergeet hoe dit gevoel het, daardie eerste soene, daardie jong liefde. Ek verstaan tog vandag dat dit nodig is om te groei in jou verhouding, dat die liefde ryp moet word en dat dit alles later kan oorwin, want die lewe is toe nie net maanskyn en rose nie. Die lewe is rof; hartseer gebeur en foute word gemaak. Maar as daardie romantiese liefde ontwikkel in ’n liefde wat onvoorwaardelik vasbyt en aanhou, dan het ons iets gesmaak van God se liefde. Nie net ’n snak na asem nie, maar ’n snak na die Heilige Gees se onverskrokke diep liefde wat ons vrede en berusting gee.
Maar ai, dis lekker om weer daardie jong liefde te onthou. Gesels gerus met jou man of vrou oor julle vroeëre liefde en jy sal sien, die band is nog daar, wel bietjie geroes, maar dis nog julle twee, net ouer, seerder en wyser. En doen gerus weer daardie holderstebolder, verliefde goed. Dis steeds lekker.  
______________________________
MEVROU DOEMINIE EN JY MAG NIE...

“Thou shalt not...” het my verlede Sondag diep teruggeruk na die werklikheid – om al die verkeerde redes.

Ek vra vir die kinders by die kinderkerk sommer ’n maklike vraag (dit gaan oor geestelike groei en ken jou Bybel): Sê vir my net een ding wat die Bybel sê? Regtig, enigeen kan dit antwoord, al ken jy die Bybel hoe sleg – so maklik. Daar sit so vyftien kinders voor my (gr. 3-7). En een vir een begin hulle sê: jy mag nie... – jy mag nie steel nie, jy mag nie vloek nie, jy mag nie doodmaak nie, jy mag nie begeer nie, jy mag nie... Ek vra, nee man, asseblief, sê my ’n bietjie iets wat ek as ’n Christen mag doen?
Stilte. Jy kan ’n kriek hoor krr-krrr. Een outjie steek sy hand op – jy mag nie... daardie eg-ding pleeg nie – egbreek?
Is dit ons ouers wat hierin gefaal het om ons kinders te leer wat Jesus sê ons MAG/MOET doen? Of glo ons ook al wat ons mag doen, is wat ons nie mag doen nie? Onthou: Lukas 10: 25-28, ‘Daar was 'n wetgeleerde wat aan Jesus 'n strikvraag wou stel. Hy vra: “Meneer, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?” Jesus sê vir hom: “Wat staan in die wet van Moses geskrywe? Wat lees jy daar?” Hy antwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.” Jy het reg geantwoord,” sê Jesus vir hom. “Doen dit en jy sal die lewe verkry.”
Maar wie glo dit? Vra enige Christen wat moet hy doen, dan sê hy wat moet jy nie doen nie en wie mag wat nie doen nie. Die HELE WET word immers in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” (Gal. 5:14) Die Bybel Vir Almal sê hoeka daarna: Maar julle doen dit nie. Julle is soos honde wat mekaar byt en hap. Julle moet oppas dat julle nie mekaar op-eet nie!
Ja, jy mag dít doen: Dien mekaar in liefde.
*****************************************************************************************