Tuesday, April 19, 2011

LEWENDE LYKE, BEWENDE GERAAMTES EN BLOEDERIGE OUTOPSIES!

Iets positiefs hierdie keer uit die rillerverhaal van Mev. Doeminie en haar Annus Horibilus. Ek is nou moeg gewroeg saam met myself oor die ellendige 2010. Ek trek nou by hoofstuk 12 van die blog. My blog het ek mos oorspronklik begin skryf as gevolg van drie groot krisisse van 2010.
1. Die groot droom van my om ‘n uitgewer of agent in London te kry vir my boek in April tydens die Groot London Book Fair, wat toe as gevolg van die vuurspuwende berg en aswolk in Ysland nie realiseer nie. Ons sit toe mos vir 'n ekstra week in Oslo vas tussen die trolle. Dalk is ons die trolle...
2. Die vrome Christene van ‘n kerk op ons dorp wat ons so agterbaks en on-Christelik belieg en bedrieg het en ons uiteindelik uit hul stelsel uitgewerk het met mooi glimlagte en edele leuens. Dieselfde ouens hou steeds so vroom hul agteraf vergaderings en konkel voort om die arme gemeente ‘n rat voor die oë te draai; baie suksesvol.
3. My dogter van 12 se groot rug-operasie in Junie 2010 waarmee ek die Here moes vertrou want die flip weet, dokters kan mens nie vertrou nie. Ons geskiedenis met hospitale en dokters is duister en ‘n rillerverhaal op sy eie. Ons seun is mos deur die mediese stelsel verkrag en breingestremd anderkant uitgespoeg. En ja, die vraag is mos altyd daar in my kop, ons gebede is nie verhoor daardie tyd nie, nou moet my dogter in hospitaal toe... ‘n 8 ure lange operasie... So, daardie dilemma moet ek nog oor skryf. (Nie vandag nie.) (Op die foto is ek en Anton laas naweek in die Franshoek by goeie vriende se dogter wat Anton moes trou.)
Maar ek gaan nou eers my bloederige outopsie doen op punt 1 en 2 hierbo.
Insake punt 2: Dis ‘n makliker na-doodse ondersoek, want daar is ‘n paar positiewe punte om uit die bloederige borskas van hierdie lyk te diep. Sherlock Homes sou dalk ‘n beter outopsie kon doen as ek, maar hier is ek nou, met my ‘hindsight’ besig om tussen die beendere rond te krap:
1. My dominee-man Anton se droom was om die kerk van die dag te hervorm, om mense te help om die Evangelie te verstaan soos Christus dit bedoel het: dat ons ‘n seën vir die wêreld moet wees met ons woorde en dade, soos Christus, en minder/geen klem lê op dogma, verskille, sonde, veroordeling, en tradisionele gebruike wat deur mense in die geskiedenis uitgedink was om sekere praktiese redes vir daardie tyd. Ons het op die pynlike manier geleer, deur dolksteke in die hart, verloëning deur vriende en kruisiging in die openbaar, soos baie hervormers voor ons, ook Martin Luther, dat hervorming NOOIT binne die tradisionele kerk kan gebeur nie. Dit is iets nuuts en moois wat wegvloei van geykte godsdiens na ‘n lewende verhouding met Jesus. Hierdie verhouding is dinamies en dit is vol lewe en groei. Dit aanvaar ander se siening en belewenis van God op elkeen se persoonlike vlak en met elkeen se besondere talente/beroepe en verwysingsraamwerk. En ja, dit kry ook seer en word ook gewond, maar die aanvaarding en liefde in die groter groep help mens om te herstel want jy mag jouself wees. Jy is vir Christus en die gemeente aanvaarbaar of jy nou weird of anders is, of sukkel met sekere uitdagings.
2. Dit is lekker by die informele kerk wat ons gestig het, Kuierkerk. Die mense wat Anton se hande hoog hou is emosioneel volwasse mense (ryk of arm) wat nuwe uitdagings omarm en dit nie sien as van die duiwel nie. Ek verstaan nou wat familie in Christus beteken. Hierdie mense klou nie aan suiwer taal, perfekte kleredrag en die lees van die wet vas nie. Hulle sien die groter prentjie wat Jesus vir ons bedoel het en sien met afwagting uit om ‘n nog groter prentjie te verstaan. Saam leer ons meer van ‘n Groot God wat ons nie kan verstaan of in ‘n boks druk of in ‘n kerk gevange hou nie.
3. Besluite hang nie af van ryk afgetrede sakemanne nie (wat tien teen een almal behoort aan die vryemesselaars... of een of ander secret society sonder naam??!!), maar besluite hang af van alle gemeentelede wat insette lewer.
4. Ek weet vandag ons moes deur die verloëning van die bestuurspan en ander lede van die Tkerk gaan sodat baie Tkerk mense se oë kon oopgaan vir ‘n nuwe verstaan en dieper verhouding met Christus. Hierdie proses moet gereeld gebeur in die kerk sodat iets nuuts daaruit gebore kan word. Baie predikante, kerkhervormers en kerkmanne is deur duisende jare hierdeur en ook nog erger gemartel as ons. Kyk maar net na die rolprent: Luther of die reeks op TV, The Tudors.
5. Ek kan maar soos Jesus vra dat hierdie mense wat ons wou vernietig vergewe word, want hulle weet nie wat hulle doen nie. Hulle weet nog minder wat hulle aan ander doen. Die prentjie kon soveel anders wees vir ons dorp se Christene as 5 of 6 bestuurspanmanne eerder by God gaan hoor het wat om te doen as by die ‘Mafia’ baas (soos ek hom noem) wat met sy baie geld homself bevoeg verklaar het om oor al die besluite in die kerk te waak. Ja, ek kan hul vergewe omdat hulle stiksienig is, maar moenie dink ek vertrou een van hulle weer nie. Jy bly mos weg van die hond wat jou arm afgebyt het, of wil jy nou oor en oor gebyt word? Die hond kan maar daar in sy erf speel. Ek gaan nie inspring en weer aangeval word nie. (Of as ek inspring, sal ek ten minste sorg dat ek 'n baseball bat in my een heel arm vasklou!)
Een van die vrome manne, wat al oor en weer gekuier het by ons vroeër jare, wat tydens die heksejag op Anton al in sy gesig geskel het en hom vertel het hoe sleg hy (Anton) is (vele kere), staan laasweek in die Spar agter my en sê so vriendelik dat hy hoor dit gaan so goed met ons. Ek kyk hom aan en sê redelik emosieloos: Ja dankie. Hy hou aan vrome praatjies maak en ek kan die soort vroomheid nie verstaan nie. Hy sê iets soos: ‘Seën vir julle’ met ‘n diep vrome gesigsuitdrukking en ek staar hom oorbluf aan soos vir iemand wat jou ‘n koekie met arseen gee en sê: seën vir jou (en eintlik bedoel: mag jy vrek!). Ek ken hierdie man. Ek weet wat hy aan ons gedoen het en hy kom ‘seën vir julle’ met dieselfde vroomheid waarmee hy die mes in ons rug gesteek het. Eks jammer. Dit is skynheiligheid en ek het geleer om dit op ‘n myl te ruik. Jy wat hom nie ken nie, kan dink, ag sjame, hy bedoel dit opreg. Of ag sjame, hy is dalk jammer. Nee, ag sjame. Hy is die toppunt van daardie bestuurspan se skynheiligheid. Hy is die hoofseun. Griekie galbraak hier binne-in my is nou erg opgewarm, so ek stop eerder nou met haar. Ek sluit af hiermee deur te sê: woorde beteken niks. Sy dade kan maar eerder wys as hy verander het. En mooi vir hom en sy kerk as dit gebeur het. Ek glo die Here stap nou maar sy pad met daarie kerk ook en sy leiers. Ek en Anton het ons deel gedoen, en ons bloed het gevloei om die mense te oortuig van ons goeie bedoelings en edele visie. Net die Here kan hulle help. Hy gebruik gewoonlik nie 'n baseball bat nie...
6. Ons is 100% beter af by kuierkerk as by die Tkerk. Ek is dankbaar.
7. Anton gaan sy Doktorsgraad juis oor die ontwikkelende kerk doen, volgende jaar, want niemand in ons land het soveel kennis hieroor, insig en visie soos Anton nie. En hy het ‘n wonderlike mentor, Doktor Cas Olivier wat hom gaan laat buig onder die studies. Dankie, Cas (en dankie dat jy jou nou seker doodskaam oor die doktor deel want min mense weet). Die twee van hulle gaan juis in Augustus saam met prof Stephan Joubert en ‘n groep leiers na Amerika om ‘n ding of twee te leer oor die ontwikkelende kerk (emerging church). Anton kan die Amerikaners ‘n ding of twee leer, na dese.






(Op die foto is ons dogters Chantal en Michelle, twee pragtige jong meisies op wie ons so trots is. Hulle pak alles wat hul doen met oorgawe aan en vaar goed op skool en met als wat hul doen. Ek kon nie vir ouliker kinders gevra het nie.)



8. Met my kinders gaan dit goed. Hulle is saam met ons emosioneel opgesweep en op die grond neergesmyt deur al die kerkdinge van 2010 deur, maar ek sien hulle gaan aan. Hul doen goed op skool - albei dogters is in die hoërskool en is pragtige jong meisies. Mens probeer mos om hulle in te lig, need to know dinge, maar die spanning dring mos maar deur murg en been. Maar ek dank die Here dat hulle lewens positief aangaan. Een se maatjie sê nou die dag sy moenie dat haar pa sien dat sy (my kind) 'n naeltjiering het nie (iets wat my min pla), want hy glo die duiwel bind jou vrouedele daarmee vas... ek bedoel... ag hemel tog. Sjame. Waar hoor mense sulke goed? Gelukkig het my kind daaroor gelag en gesê, o, haar pa gee nie om nie, en hy is 'n dominee! Dank die Here, my kinders word deur alles wat ons deurgaan emosioneel volwasse en kan vir hulself dink. En ons agtienjarige breingestremde seun, Sean, hy is net happy. Hy is lief vir almal en glo almal is lief vir hom. Dit is seker hoe ons almal op aarde moet wees. Vol vrede.
(Op die foto is Anton en Sean-Jacques, ons breingestremde 18jarige. Hy het al die vrede en liefde wat Jesus vir ons almal bedoel het op aarde, maar wat so min van ons ooit ervaar.)

9. Die kerk-outopsie is klaar. Die lyk is begrawe. Mag die Tkerk-geraamte 6 voet onder die grond sy laaste ritteldans doen want ek is nou klaar met hom. Hy kan nou maar daar vrot in vrede.
Punt 1: Outopsie op die reeds-verinneweerde geraamte van die Londonse boekskou 2010...
1. Ek weet sowaar nog steeds nie wat om te dink nie. Dis ‘n jaar later. Hoekom moes ek die boekskou mis en ‘n klein kans wat ek dalk kon hê om ‘n uitgewer of agent te kry?
2. Al wat ek kan dink is dat ek stupid genoeg is om te dink my Engelse boek is goed genoeg vir wêreldstandaarde. Ek weet ek kan skryf. Ek dink ek kan skryf. Dan moet ek vrede maak: nie goed genoeg nie, my ding. Dis my passie, so what? Nie almal met ‘n passie vir iets kry iets uitgerig nie. Baie kunstenaars kan getuig. En glo my, ek het oor die laaste paar jaar elke deur probeer afbreek om my ou boekie gepubliseer te kry. (Jy ken my ou sinnetjie, ek glo mos met my God spring ek oor 'n muur, nevermind loop deure plat... toe nou nie...) My lot is dalk maar om aan te hou met my plays. Skryf ‘n Bybelse musiekblyspel vir die dorp elke jaar. Sowat 1000 mense kom kyk darem, alhoewel, ek gebruik die jaar Queen se musiek by die verhaal van Simson... hmmm ja, sies, mev. Doeminie... daaie ouens... jy weet mos as jy hul plate agterstevoor speel dan brom hulle pure duiwelse goed... So, kom ons halveer die aanwesiges die jaar, en kom ons sê ons kry dalk 500 kaartjies verkoop vanjaar. Goed genoeg. Die oefen, die pret en die lekker adrenalien-gevoel as ons dit opvoer, is mos genoeg. My boek hoef nie ‘n sukses te wees nie. Ek hoef nie ‘n fliek te maak wat in Ierland in die Middeleeue afspeel en ou Harry Potter skeef deur sy brilletjie laat kyk nie. ...Ek sê dit maar ek glo dit steeds nie... AS ek dit genoeg sê glo ek dit dalk... Ek's moeg om te dink wat ek aan Oprah gaan sê as sy my uitvra oor my wonderlike boek, of wat gaan ek doen as Mel Gibson homself nugter skrik of 'n ander groot producer my bel en uitvra oor die fliek. Ek het dit immers al aan genoeg ouens in Hollywood en Engeland gemail.
3. Oplossing: Los die drome. Ek moet my maar besig hou met my werk as kinderwerker en die drie-jaar opleidingsmateriaal vir ons kinderkerk uitwerk. 85 lesse oor al die Bybelboeke. Dit kan ek doen. Niemand anders kan dit ordentlik doen nie. Ek kan immers poppekas stories vertel en kinders entertain. Dan kan ons Kuierkerk se kinders ten minste ‘n goeie Bybelkennis kry. En ja, ek wonder in my hart of die opleidingsmateriaal nie dalk ‘n sukses kan wees nie? Dalk kan ek dit uitgee en kerke oor die land kan met opgehoude asems my ou lessies aanskaf... Ja dalk. Dalk nie. Ek is nie ‘n prof of ‘n doktor of ‘n woelige evangelis wat ‘n naam het wat boeke kan verkoop nie. Ek is steeds net ek. En ek is deesdae net halfpad ek. My entoesiasme is flouer as ‘n gebruikte teesakkie. My geloof in dat ek iets kan doen wat aanvaarbaar is vir die wêreld, is soos ‘n oop graf wat net insluk.
4. Hierdie boekskou geraamte gaan nie lê nie. Ek weet nie wat God se plan is nie. Ek het so my bes probeer om hierdie droom waar te maak. Ek het so my bes geglo dat dit is wat God wil hê.
Na hierdie ‘hindsight’ voel ek bietjie beter en bietjie vrotter. Ek verstaan nie meer myself, my visie, my drome en mense om my nie. Hulle tree snaaks op. Hulle vat alles wat ek in goeder trou sê persoonlik op en ek staan verstom. Hulle word kwaad vir goed wat ek op facebook skryf. Ek voel in ’n geselskap of ek buite my liggaam afkyk op ‘n dop van iemand wat ek eens was. Ek lag nie meer vir veel goed nie. Ek was my droom gewees, wie is ek nou? Ek weet nie. Ek weet wragtig nie. Jammer, en ek wou by iets positiefs uitkom. Dit kom dalk nog. Is daar nog mense wat so voel? Wat al so gevoel het? Wat weer en weer so voel? Is dit nou hoe 'n middeljaar krisis voel? What the... ffffrikadel...!?

Monday, April 4, 2011

MEV DOEMINIE EN DIE KERKMONSTER, 'N TRAGIESE FEëVERHAAL (DEEL 2)

Hierdie is die 2de deel van die Kerkmonster, hoofstuk 11, van Mev Doeminie se wroegende Annus Horibilus 2010. Voor ek die blou hond verder uit jou verveel, plaas ek die berig in ons plaaslike koerantjie wat redelik beskrywend is. En ‘n fraksie van al die gebeure en die hel wat ek en Anton in die TKerk deur is, beskryf. (Op die foto: Selfs terwyl al die wroeging met die TKerk gedreig het om alles om ons lam te lê, het dinge by ons informele uitreik, die Kuierkerk, aangegaan soos gewoonlik. Hier is ons met 'n tienerkamp besig.) (Onderstaande berig het in ons plaaslike koerant, die Kormorant, verskyn kort nadat Anton in 2010 noodgedwonge uit die ‘groot’ Kerk is en die Kueirkerk amptelik geproklameer het – ek noem maar die groot kerk: Tkerk (vir tradisionele kerk, om blykbaar verdere vervolging te voorkom!) Kerkskeuring, Ds. Van Zyl stel sy kant “Deur God se verlossingsplan in die Bybel in gewone taal oor te dra, probeer ek mense se denke bevry sodat hulle Jesus se vergifnis en aanvaarding kan verstaan.” So praat ds. Anton van Zyl wat onlangs sy bedanking by die TKerk Hartbeespoort ingedien het. Sy bedanking het as 'n skok vir baie mense gekom maar soos gewoonlik is daar meer daaragter as wat die gewone lidmaat veronderstel. Kormorant wou by ds. Van Zyl uitvind hoekom hy bedank het. Hy sê dit kom in eenvoudige terme daarop neer dat sy visie en dié van die TKerk se Bestuurspan te drasties verskil. Hy sê hy was in 2008 aangestel om vernuwing in die Tkerk te bewerkstellig en daarmee saam om die uitreikdienste van die Kuierkerk by Oppidam met die T-kerk te probeer versoen. Die Kuierkerk is 'n uitreikaksie wat ds. Van Zyl in 2007 as 'n informele gespreksgroep begin het in die Birdwood klubhuis. Hier kon kerkseer en kerklos mense 'n plek hê waar hulle sonder spesifieke reëls of lidmaatskap oor die Bybel kon praat. Dit het gou gewild geraak en dit was duidelik dat baie mense gesmag het na so 'n gemaklike geloofstuiste waar hulle om 'n koppie koffie ook hul mening kon gee oor hul geloofservaring. Die Kuierkerk het so gegroei dat hul later na die Meerhofskoolsaal en weer later na Oppidam se saal moes skuif. Die leiers van die Tkerk was in daardie tyd skepties oor die uitreik, maar na gesprekke met Sinode afgevaardigdes is ds. Van Zyl aangestel om dieselfde tipe informele styl ook na die TKerk te probeer oordra, aangesien lidmaatskapgetalle vanoor die hele land afneem in die formele kerkopset. Volgens 'n destydse behoeftebepaling in die TKerk in 2008 het die gemeente 'n behoefte gehad aan 'n sekere tipe predikant. Daar was 'n advertensie in Kormorant van 28 Mei 2008 waartydens voorbidding gevra is vir die aanstel van 'n leraar wat o.a. die volgende eienskappe besit: kreatiewe denke, leierskap, toekomsgerigte en missionêr visie, voortreflike prediker en leermeester, groot ore om God se stem en die nood in die wêreld te hoor, 'n groot hart gevul met die Gees, goeie verhouding met God en mense, die Woord van God moet sentraal wees en hy moet dinge kan doen. Die kerkraad het saamgestem dat ds. Van Zyl die ideale kandidaat is om die pad van vernuwing te lei. Ds. Van Zyl, wat twee meestersgrade het, in gemeente-ontwikkeling en in gesinsberading, sê hy het met alle ywer en met deernis vir die tradisievastes begin om stelselmatig vernuwing in te bring. Die oorgrote meerderheid van die mense in die Tkerk het sy lering geniet en bywonergetalle het drasties gestyg. Twee dienste is ingestel. Hy het by Kuierkerk die mense begin gewoond maak aan die idee van versoening. Hy meen hy het in Januarie 2010 die samesmelting na 'n punt gedryf en wou dit op 'n tydelike basis implimenteer maar 'n paar Bestuurspanlede van die TKerk het gevoel hul is nie heeltemal in beheer van die proses nie en het die onderhandelings skielik gestop. Ds. Van Zyl se besluitnemingsbevoegtheid en visie is ook gestop. Sedertdien het baie seer woorde en moeilike vergaderings afgespeel wat baie energie tap. Die spanning was met tye so erg dat sy gesondheid en die van sy vrou, René, daaronder begin ly het. Ds. Van Zyl meen dat hy sy bes probeer het om in die TKerk 'n verskil te maak, maar dat 'n paar mensgemaakte reëls en vrese die versoeningsproses die nek ingeslaan het. Die TKerk Hartbeespoort het oor die sowat 35 jaar van sy bestaan al baie interne konflik beleef wat lidmate verloor het na die ander kerke op die dorp. Ds. Van Zyl meen dat mense vry moet wees om hul geloofspad met God te stap in 'n plek waar hulle veilig en gemaklik voel, of dit nou is binne die opset van 'n kerk wat formeel, informeel, of charismaties is; die belangrikste is dat ons nie mekaar moet afkraak of veroordeel nie. Ons elkeen se geloof is 'n persoonlike verhouding met God – nie met 'n kerkgebou nie. Kerkpolitiek vertroebel ons verhouding met mekaar en ons moet mekaar in liefde ruimte gee vir ons eie geloofsbesluite. Ds. Van Zyl bly op Hartbeespoort en gaan voort om sy energie en tyd te wy aan die hele gemeenskap. Hy sal Sondae dienste hou by die Kuierkerk en mense steeds binne en buite die kerkopset bedien. Kuierkerk sal as 'n onafhanklike kerk geproklameer word en Van Zyl sal steeds mense kan begrawe, doop en trou. En ja, hy is hartseer dat sy pad met die TKerk Hartbeespoort skei, want hy het 'n groot droom vir die TKerk gehad. Hy sou graag steeds wou hê dat Kuierkerk, die TKerk en al die kerke op die dorp steeds saamwerk. Die feit dat hy 'n sesjaar Teologie graad het met vakke soos Hebreeus 3 en Grieks 3 gee hom wel Bybelkennis, meen Van Zyl, maar sy leraarskap en bevoegdheid kom van God self wat hom as leraar in die gemeenskap gebruik: 'n titel is nie nodig om iemand bevoeg te maak om mense te bedien nie. Hy sê dat hy net Anton is, 'n gewone mens wat in sy vorige beroep as ingenieur die versoekings en vrese van die gewone mens self ervaar het, daarom kan hy mense met hul probleme help. Maar wat hy nie kan doen nie, sê hy, is om kerkpolitiek te speel: daar is te veel Koninkrykswerk wat gedoen moet word. ******************************************************* Die tydperk vandat ons teruggekom het van ons Wallis/Noorweë-vakansie (en die ekstra week waarin ons vasgekeer was in Oslo en die Asreën wat Europa lamgelê het!), totdat Anton uiteindelik nie meer die antagonistiese Bestuurspan wou veg nie, was ‘n aaklige tyd van hel vir ons gesin, ons gesondheid en ons verhoudings. Ons het die woord: SKYNHEILIG skielik aan ons bas gevoel want sekere vroom mense sal jou in die kerk vriendelik groet maar agteraf beswadder en in die rug steek. Ander, veral bestuurspanlede is skielik yskoud. Nie een vra eers vir Anton of hy en sy gesin oraait is na die rampspoedige vakansie nie. Geen woord is daaroor gerep nie. Anton sien in eposte dat daar agteraf vergaderings met die Sinode-manne gereël is en dat hy skielik ‘ondersoek’ moet word. Baie leuens is agteraf oor Anton vertel, kom ons agter. Ons hoor by mense dat daar van Anton ontslae geraak moet word omdat hy nie ‘n spanspeler is nie. ‘n Vriend in personeelbestuur vertel ons die manier hoe Anton hanteer word is presies soos hulle in groot organisasies van iemand ongewens ontslae raak: Constructive dismissal, noem hulle dit. ‘n Groot woord wat blykbaar beteken dat jou werkgewer jou werkplek en omstandighede so onaangenaam maak dat jy maar naderhand self loop uit radeloosheid. Het hierdie ‘vroom’ Christene werklik hierdie goed beplan? Dink hulle God sit en slaap? Ek het verlate van God gevoel, omdat dit lyk of Hy ons vir die leeus gooi en net toekyk hoe hulle ons verskeur en hulself geniet. Dit was immers die hele gemeente wat hieronder lei, die hele gemeenskap... die hele koninkryk. (Maar is dit nie die verhaal van die kerk oor al die eeue heen nie? Ek dink maar aan Engeland en die hele Europa se geskiedenis wat besaai is met Katolieke en Protestante wat mekaar gemartel en vermoor het in die naam van wat hulle dink “Christus” verteenwoordig. So, ons storie is niks nuuts nie.) Deurentyd is alles vir die gemeente geheim gehou. Die vriendelike kant is gewys in die gemeente en openlik is die Kuierkerk weer as die sondebok afgemaak. Min mense in die gemeente het geweet (Griekie Galbraak in my wil byvoeg: of belang gestel) in die hel waardeer ons gaan. (Ek plaas aan die einde van die blog 'n brief wat iemand vir die plaaslike koerant geskryf het, wat wel iets gesien het van waardeer ons gaan en ek stem honderd persent saam met elke woord wat hy sê. Ek’t gedink niemand sien die waarheid nie. Een ou het darem!) By die Kuierkerk het ons probeer verduidelik waarom die samesmelting nie meer gaan plaasvind nie, nadat Anton so mooi probeer het om ‘n versoening te bewerkstellig. Party oud-Tkerk lidmate het bekaf gesê hul sou graag weer op die lekker sagte stoele van die Tkerk wou sit! Ons saal waar Kuierkerk bymekaar gekom het was immers nie so luuks soos die TKerk nie. Party Kuierkerk mense was vies omdat Anton in die eerste plek weer aangestel was by die NG kerk. Anton het weer gevoel dat hy in die NG kerk landswyd ‘n verskil kon maak met die nuwe informele konsep. Maar nou neem hierdie geveg met die bestuurspan soveel energie en tyd in beslag dat hy nie meer by sy werk uitkom nie. En tuis vreet die spanning en onregverdigheid van die situasie ons op. Ek het begin spanningspyne in my bors kry as ek aan die hele bose affêre dink of selfs met iemand daaroor praat. Ek moes begin medikasie gebruik en slaappille, want saans maal hierdie mense se gesigte voor my. Ek dink die feit dat hulle Christene is, het my so siek gemaak. En die feit dat hulle dink hulle is reg en hulle het die mag om te besluit oor die gemeente sonder om enigiets aan die lig te bring. Ek is die laaste ou wat glo in konspirasie teorieë maar ek moet sê die kerkmanne se optrede het my aan dinge soos die Vrymesselaars en Broederkringe en Secret societies laat dink. Dis onverklaarbaar en onmenslik. Anton se bedanking was as gevolg van die feit dat hy nie kans sien om kerkpolitiek te speel met ‘n paar ryk afgetrede sakemanne nie. Ek sê steeds dat nie een van hierdie bestuurspanlede het enige Teologiese of Bybelskool onderrig nie en is daarom nie bevoeg, volgens my, om besluite namens die gemeente te neem nie. Die mense het Anton geniet en baie by hom geleer. Met hom by die Tkerk het die kerk skielik oorgeloop en Anton moes twee dienste instel in die tyd wat hy daar predikant was. Toe hy loop het baie hom gevolg. Nie oor hy danig iets is nie, maar omdat hulle die waarheid in eenvoud by hom gekry het.

(Op die foto: Kuierkerk glo om 'n seën te wees vir die gemeenskap. Ons het 'n Sentrum vir Breingestremde kinders begin, Kuierkidz, op Harties, omdat daar 'n groot behoefte was. Hier is Dozi saam met twee van ons kidz tydens 'n geleentheid op sy plaas.)


Daar is BAIE gemeentes in die land waar besluite deur sulke onbevoegte mense geneem word, omdat hulle eenvoudig hulself inwurm in bestuursposte en verder belangrik lyk. As ek die ouens se name noem by ander Tkerklede, weet niemand eers wie hulle is nie. Hulle is die onsigbare mag agter alle besluite en sluip soos diewe in die nag rond. Ek dink baie predikante is ook in die magsposisie waar hulle hul eie wil laat geskied en gemeentelede nie deel maak van besluitneming nie, veral as hulle al 30 jaar in beheer van 'n kerk is. Die leiers van ‘n kerk moet weet gevaarligte flikker as geheime vergaderings gehou word, waar gewone lidmate weggewys word (soos met ons en vriende van ons wat wou insae hê, die geval was); as daar geheime is en dinge wat van gemeentelede weerhou word. Dis tyd dat mense terugdraai na wat God wil hê vir sy volgelinge. Dis tyd dat gemeentelede vir hulself begin dink en agterkom wat die redes vir besluite is in hul kerke. Dis tyd dat gemeentelede vrae begin vra en nie net op ‘n Sondag agteroor sit en wag vir die preek om verby te gaan nie. As daar een ding is wat Anton reggekry het, is dit om mense vir hulself te laat besluit en oor hul eie geloofslewe te laat dink. Te maklik laat jy die dominee vir jou dink of nog erger: die Bestuurspan. (Op die foto: By Kuierkerk glo ons nie die gebou is heilig nie. Hier is ons besig met 'n mini-sokker aksie, wat groot pret is)


Griekie Galbraak se lysie van verdere ongerymdhede wat jou as lidmaat moet laat wonder oor jou besluitnemers se bevoegdheid:


1. As jy ‘n kerklike probleem met een van jou leiers wil bespreek en hy nooi jou na sy imposante woning toe, sodat jy klein, arm en minderwaardig kan voel. En hy los sy motorhuisdeure oop sodat jy sy impossante motors kan sien en hy bied jou sy vakansiehuis aan om in vakansie te hou. Man, jy het nie ‘n kans nie! Enige klagte wat jy gehad het lyk skielik sommer kleinlik teen die man se geld.


2. Tydens vergaderings spog diesulkes nederig oor hul oorsese kwalifikasies (al was dit net ‘n drie-weke werksessie in Engeland!). Hul spog ook maklik oor hul groot ervaring in die sakewêreld… al is dit nou dekades gelede, maar nietemin is meeste kerkraadslede woes beïndruk en durf nie teen sulke ervaring teëpraat nie.


3. Kerkraadsbesluite word vooraf reeds vasgemaak en sekere lede word gebel en word ingelig dat daar so of so besluit sal word. In die vergaderng word ander net in kennis gestel van die besluite.


4. Een van die besluitnemers staan voor in die kerk en kondig aan dat die Gemeenteraad die Hoogste gesag in hierdie kerk is. (Ekskuus my, is dit nie Jesus se pos nie?)


5. As jou bedieningsgroep die aand bymekaarkom in die kerk vir oefening en die ketel in die kombuis word in opdrag van een of ander raad toegesluit sodat julle nie kan koffie maak nie. Want julle het die vorige keer ‘n vuil koppie in die kerk gelos. Een van die Seven Deadly Sins!


6. EEN gemeentelid kla oor iets nietigs en die bestuurspan laat die hele gemeente by hom aanpas. Ek is jammer. Al is jy die oudste lidmaat in die kerk, het jy geen reg om jou verkrampte mening op almal af te dwing nie en jou kerkraad het geen reg om sy verkrampte mening op die hele gemeente af te dwing nie en dit terwyl die gemeente GEEN insae of insig in jou planne het nie.


7. As jou geskrewe klagtes net verdwyn en nooit op die kerkraad dien nie. Vra maar vir van ons vriende wat leuens so probeer ontbloot het. Man, jy het nie ‘n kans teen die ‘oppermag’ nie. My eie emosies tydens hierdie kerklike heksejag: (Nou moet die met swak harte maar ophou lees en gaan Days of our Lives kyk.)


Hier volg my eerlike gevoel. Dis geensins Christelik nie en ek sal nie aanbeveel dat julle dit tuis probeer nie. Mag die Here my vergewe. 1. Ek het gewens God stuur ‘n weerligstraal in daardie geheime vergaderings in en tref hulle almal gelyk. (Ek is bly God het my nie die mag van die weerligstraal gegee nie, want ek sou ‘n paar ouens doodgebliksem het!) Jammer, weer daardie woord. 2. Ek het gewens daardie ryk sakemanne se geld verdwyn en hul raak bankrot sodat hulle kan voel hoe dit voel om sonder mag te sit – en besluitnemingsgesag (wat hulle dink hulle geld bied hulle). 3. Ek het geweet wie en wie se dwelmverslaafde kinders en/of mishandelde vroue is deur Anton beraad en ek het gewens dat daardie kinders en vrouens hulle sommer nog meer emosionele skade berokken deur nog erger aan te gaan sodat als aan die lig kan kom. (Wat ek regtig gehoop het, sal ek jou spaar, want dit is baie verbeeldingryk en bloederig...) 4. Ek het gewens elkeen se ou sondetjie kom uit – jy weet daardie gesuip in die kroeg na werk tot laataand, daardie buite-egtelike verhouding, daardie bietjie bedrog of belasting-ontduiking, daardie vrou wat so mishandel word. Net so ietsie, want glo vir my: daardie ouens het elkeen ‘n geraamte of 2 in die kas wat woes bewe. Ek was al lus en sit ‘n private speurder op hulle! (Een wat lekker foto’s kan neem ook! Man, sou die koerante darem so ietsie geniet het! En ek!) 5. Ja, ja, die mooi Christene het my gesê om te vergewe en te vergeet, maar dis moeilik, veral omdat die ou selfde spul die hele dorp vol is en hulle dink hulle het ‘gewen’. (Iemand het my selfs vertel dat sy gevra is om te spioneer by Kuierkerk se dienste en verslag te gee.) Siek. En dieselfde spul is sulke vroom Christene dat ek tien teen een nog saam met hulle in die hemel ook gaan sit! Dit gee my ‘n kramp! 6. Selfs nou, 'n jaar later word Anton deur die leiers beswadder: 'n arme onskuldige ou tannetjie kom vra nou die dag vir Anton: Nou hoe is dit dat sy hoor dat Anton nie in die maagdelike geboorte glo nie? Duidelik het die ou tannie nog nooit in 'n preek van Anton gesit nie want die leuenaar wat haar in die eerste plek vertel het se ‘prekie’ word makliker geglo. Leuens word net heeltyd versprei, pleks daarvan dat daardie mense besig is met mense van God vertel, is hul besig om mense van Anton se skynbare ‘foute’ te vertel.


(Op die foto is Anton besig om te preek by Kuierkerk wat ons hou by Xanadu Winkelsentrum, Hartbeespoort, in een van die winkelareas. Dis informeel. Lekker. Kerk, koffie en kuier. Daar was 750 mense teenwoordig tydens ons eerste diens na die afstigting van die TKerk.)




My huidige mening: Ons is 100% beter af by Kuierkerk as in die TKerk. Die mense wat uiteindelik deur die vroom en skynheilige mense gesien het wat die Tkerk in die afgrond in ry, het hul eie besluite geneem vir hul eie geloofspad. Hulle het by Kuierkerk kom aansluit, omdat dit informeel en sonder aansit is. Anton verstaan Jesus se hart van diensbaarheid en omgee vir jou naaste. Hy weet dat jy die minste moet wees om by God die meeste te wees. Een van die redes hoekom Anton nie welkom was by die formele kerk nie, is omdat hy Engelse woorde in sy preke gebruik: gewone spreektaal engelse woorde. Hier by Kuierkerk luister die mense na die boodskap en nie die vrot taalgebruik nie.


Na dese sukkel ek veral om mense te vertrou. Ons lewe sover is ‘n woeste op en af rit van vriende maak en verloor. Van aanvanklike aanvaarding, dan verwerping en oordeel, want sien, ek en Anton is beslis nie foutloos nie. Die Tradisionele Christen wil steeds hê dat mnr en mev. Doeminie foutloos moet wees en nooit omgekrap of moedeloos raak nie. Ek geniet die minder as 'n handvol vriende wat ek oor jare gemaak het en ek besef ek kan nie aanhou om my persoonlike stoei met God met hulle te deel nie. My pad is ‘n unieke pad wat ek en God moet uitsorteer. Ek voel of my illusies van geloof in 2010 uit my uit gewurg is. My vertroue in God wat ek nie verstaan nie moet ek weer van voor af opbou. Die geloof wat ek gehad het, is een waar Jesus met sy wit perd my kom red van my vyande en dat hy hul leuens oopvlek en waar enige wonderwerke moontlik is, as jy glo. God doen wat Hy goed dink, en nie wat ek begeer nie. Ja, daar gebeur wonderwerke – die wat God oor besluit en nie die wat ek oor bid noodwendig nie. En ja, sal die goeie Christene sê: God se tyd is sy tyd. Om die lang blog af te sluit: Iemand wat die lig gesien het, het die brief na aanleiding van die vorige koerantartikel oor Anton geskryf vir die plaaslike koerant. ( Ek vervang weer die naam van die kerk met T-kerk.)


Kerk faal sy mense Kormorant 15 Julie 2010: Bevryde 'T'-lidmaat van Hartbeespoort skryf: Ek is ‘n woedende T-lidmaat en wil my mening graag lig. Die kerkraad en sogenaamde Bestuurspan van die T-kerk kondig nou die dag af hulle is die ‘hoogste gesag’ in die kerk. Ekskuus: Is dit nie Jesus se pos nie? Hierdie onaantasbare groepie afgetrede ‘has-been’ sakemanne het dit reggekry om ‘n Godgestuurde dominee, ds Anton van Zyl, uit te werk uit die kerk uit.Ek is net nog ‘n oningeligte lidmaat wat soos al die ander in die duister gehou word oor wat agteraf aangaan. Sover ek weet is DS Van Zyl aangestel om met vernuwing te help en nou doen hy dit. Nou is hy onwelkom by die Manne wat hulself as God aangestel het. Daar word vroom in die kerk afgekondig as daar spesiale kerkraadvergaderings gehou word vir voorbidding. Maar daar word agteraf gekoukus, konkelvergaderings gehou en slegsê-eposse rondgestuur.Daar word duistere vergaderings ‘in Camera’ gehou waar bekommerde gemeentelede uit weggejaag word omdat dit te geheimsinnig is. Ek is seker Jesus self word daar uitgehou. Die duister motiewe wat daar gebeur, sal selfs die duiwel laat wegvlug.Die vrome manne met hulle vals glimlagte, duur pakke, goue juweliersware en blink karre, kan maar met hulle agteraf plannetjies en selfwaan die TKerk hou. Ek volg dominee Van Zyl na die Kuierkerk toe, waar almal welkom is, ongeag status. Hier het die gemeentelede ‘n sê sonder dat toestemming van onbevoegde kerkraadslede nodig is om ‘n besluit te neem. Ek vra myself dié vraag: het enige van die vroom Tkerk bestuurslede enige Bybelkennis of enige kursus in die Woord van God gedoen om hulle bevoeg te maak om te stem of ‘n dominee bevoeg is vir ons gemeente of nie? Hoe kan hulle geestelike besluite namens ons neem? As hulle sulke groot Christene is, hoekom is hulle vrug so vrot en stink? Ja, Broer, ek ruik jou vrot bo-oor jou duur ‘aftershave’!Ds Van Zyl het vir my en my gesin deur diep water gehelp. Hy is ‘n nederige, mens-mens en het foute soos almal. Die verkramptes wat kla oor die kleur van sy das of onderbroek, en of hy engelse woorde in die erediens gebruik, kan na die warm plek toe gaan. Ds Van Zyl daal soos Jesus na gewone mens se vlak met woord en daad. Hy en sy gesin is self in hul lewe deur baie diep waters. Ek bewonder die man daarvoor dat hy nie skynheilig en agterbaks is soos die hoogheilige dominees of die bestuurslede nie. Anton, ek volg jou (met my tiendes) uit die TKerk uit omdat ek vir Jesus self in jou sien. Mag God jou bediening in ons dorp seën. Daar is baie nood buite die TKerk en baie mense wat jou gawe van lering met oop arms ontvang. En daarmee sluit ek die vrot hoofstuk in my lewe af. Mag God daardie Tkerk leiers vergewe want hulle weet nie wat hulle gedoen het, doen en nog gaan doen aan ‘onskuldige’ onkundige gelowiges nie. Een waarheid het eendag soos 'n ligte briesie deur my gewaai, wat ek glo die Heilige Gees was, en dit is: Hervorming het nog nooit binne die formele kerk plaasgevind nie, dit het nog altyd buite die kerk gebeur. Ek dink die dik tou van politiek, tradisie, wettiesisme, mag, geld, beheer en leuens wat oor eeue heen gevleg is deur magsbehepte beheervraat kerkleiers, is te dik om ooit uit te rafel. Die prys is hoog: dit word betaal deur die siele van derduisende Christene wat mislei word deur sulke leiers. Ek sê nie alle tradisionele of super-Charismatiese kerke is gedoem nie, maar die wette en reëls wat sommiges op hul mense lê, is verlammend. Daar sit baie goeie Christene in alle kerke. Ek glo dat die grootste wonderwerk is dit: Dat mense se oë oopgaan vir vals lering en onnodige mensgemaakte wette, dat hul vir hulself begin dink en die vryheid van Jesus se Kruisdood snap en begin leef daarvolgens. Ek dank die Here dat my oë oopgegaan het.