Thursday, March 31, 2011

MEV. DOEMINIE EN DIE KERKMONSTER, 'N TRAGIESE FEëVERHAAL...

Hierdie is die elfde deel van mev. Doeminie se gewroeg met haar Annus Horibilus 2010! En hierdie is die hoogtepunt van die wroeging. Dis 'n pyn, dis bloedig en nie vir sensitiewe vrome sagte vlindervroue of manne wat glo in die feëverhaal van die tradisionele kerk nie. VLSN! (My kerk-ontnugterde dog mensliewende vriend Christian, die Deli-Dude van Harties, wat vetkoeke langs die R511 verkoop en so toevallig ook 'n regsgraad het, vertel my dis beter om in die geval maar nie die kerk se naam te noem nie, maar eerder: die TKerk! Aldus Christian. Hy is 'n hoofstuk op sy eie in my boek!) Kyk nou bietjie na hierdie drie losstaande versies. Die Bybel (Nuwe Vertaling): Johannes 2:23-25: “Terwyl Jesus vir die viering van die Paasfees in Jerusalem was, het daar baie mense tot geloof in Hom gekom toe hulle die wondertekens sien wat Hy doen. Maar Hy het Hom nie op hulle verlaat nie want Hy het geweet hoe hulle almal is. Hy het nie nodig gehad dat iemand Hom iets van ‘n mens vertel nie, want Hy het self geweet hoe mense is.” Die Boodskap vertaal die laaste deel so: “... Jesus het egter geweet hoe onbetroubaar mense is. Niemand hoef dit vir Hom te vertel het nie. Daarom het Hy hulle nie sommer vertrou nie.” Hierdie verse kom voor aan die begin van die Johannesboek net na die Bruilofgedeelte waar Hy Sy bediening begin het toe Hy die water in wyn verander het. En soos so baie ander skokkende uitlatings en verhale, kom dit net in die Johannes Evangelie voor. Johannes was mos ‘n regterbrein-ou wat die groter prentjie gesien het, die ou wat buite die boksie gedink het, die enigste Evangelie-skrywer wat Jesus in die begin by God self gesien het: “In die begin was die Woord daar en die Woord was by God, en die Woord was self God.” Johannes was die ou wat geskryf het van Jesus wat met die laakbare Samiritaanse vrou gepraat het en wat geskryf het dat Jesus vir Lasarus uit die dood opgewek het na vier dae. Ek dink nie die ander ouens het die moed gehad om dit te skryf nie, en om dan al die vrae daaroor te beantwoord nie. My vraag: Beteken dit dat elke mens wat in ‘n bediening staan en reg is om die wêreld in te gaan en mense te dien, hierdie woorde ter harte moet neem? Moenie mense vertrou nie, maar ... moenie ophou om hulle te dien nie? ... Moenie dat hulle swakhede en min insig en gebrek aan lojaliteit jou bediening stop nie. ‘n Harde les. Maar dis een wat ek hierdie jaar moes leer. Dr. Phil op televisie sê: Never take it personally. (M.a.w. Moenie dit persoonlik opneem as ander jou sleg maak of verneder of aanval nie. Dit is iets wat heeltemal uit sy eie swakhede en onsekerhede en gebrek en insig kom.) DIT HET NIKS MET JOU TE DOEN NIE! DIT HET NIKS MET JOU TE DOEN NIE! DIT HET NIKS MET JOU TE DOEN NIE! Hoekom is dit dan seer? Jammer. Ek het nie heeltemal krag vir hierdie hoofstuk nie. Dalk moet ek later hieroor skryf. Dis pynlik om die herinneringe oop te grawe en ‘n outopsie te doen. Al is die lyk al besig om te ontbind, dit neem nie die stank weg nie. Dit keer nie dat die maaiers mekaar wil opvreet van gulsigheid nie. Dit maak nie dat ek nie van walging wil opgooi nie. (Of ‘n paar mense wil doodbliksem nie – daar’s dit. Ek het jou gewaarsku in die heel eerste hoofstuk ek gaan die woord gebruik.) WWJD? Ek dink nie Jesus sou dieselfde gedoen of gedink het nie. Jammer, Jesus. Anton, my man, 'n eks-ingenieur wat in die jaar 2000 voltyds predikant gaan swot het op die ouderdom van amper 40, se roeping van God af, kry hy uit twee gedeeltes: Jes. 49:5,6: “...Die Here het my ‘n belangrike opdrag gegee en my God gee my die krag om dit te doen. Hy het gesê: Dit is nie genoeg dat jy my dienaar is om die stamme van Jakob te herstel en om die Israeliete wat gered is, terug te bring nie, Ek maak jou ‘n lig vir die nasies sodat die redding wat Ek bewerk die uithoeke van die aarde sal bereik.” Esegiël:2. “Die stem het vir my gesê: ‘Mens staan regop, Ek wil met jou praat.’ Terwyl Hy met my praat kom die Gees in my en laat my regop staan. Ek het die stem met my hoor praat: Hy het vir my gesê: ‘Mens ek stuur jou na die Israeliete toe, ‘n opstandige nasie wat teen My in opstand gekom het. Hulle en hulle voorvaders het hulle teen My verset tot op hierdie dag toe. Dit is moedswillige en hardkoppige mense na wie toe Ek jou stuur. Jy moet vir hulle sê wat Ek, die Here God sê, of hulle luister of nie, want hulle is ‘n weerbarsitge volk, maar hulle sal agterkom dat daar ‘n profeet tussen hulle is. En jy, mens, moenie vir hulle bang wees nie, ook nie vir wat hulle sê nie, al stuit jy op weerstand, op dorings, al sit jy op skerpioene. Moenie bang wees vir hulle of wat hulle sê nie, moenie vir hulle skrik nie. Hulle is ‘n weerbarstige volk. Jy moet vir hulle sê wat Ek sê, of hulle luister of nie, want hulle is weerbarsitg. En jy, mens, luister na wat Ek vir jou sê: Moenie weerbarstig wees soos hierdie weerbarstige volk nie, maak oop jou mond en eet wat Ek vir jou gee.’ Toe sien ek daar is ‘n hand na my toe uitgesteek, en in die hand was ‘n boekrol. Die hand het die boekrol voor my oopgerol. Dit was aan albei kante volgeskryf en wat daarop geskryf was, was klaagliedere treurliedere en smartroepe.” Met Jesus se woorde daarbo en met so ‘n roeping, kan daar net groot moeilikheid kom. Hier kom dit. Na ons seun se breinskade so 17 jaar gelede, en ek en Anton (toe ‘n elektriese ingenieur) by ‘n huwelikseminaar tot bekering gekom het, het Anton die begeerte gehad om verder oor die Bybel te leer. Hy het Bybelstudie gedoen saam met ‘n dierbare ouderling by die kerk en wou net meer en meer weet. Tot op daardie stadium was ons lekker yuppies met ons groot besigheid en groot plot en smart kar. Anton se kontrakteursbesigheid het in daardie stadium ondergegaan. Te veel goed het gelyk verkeerd begin loop en as jong gelowiges het ons daardie besigheid met geloof, dapperheid en alle mag probeer aan die gang hou. Ons vertrou mos op die Here om Sy kinders by te staan in hul gebede en noodroepe. Maar die Here het ‘n ander plan met Anton en ons gesin gehad. Ek onthou goed hoe ons die dag na die Likwidateur se kantoor moes gaan, iets wat baie mense al moes doen. Dis vernederend, angswekkend en aaklig. Terwyl Anton met die man sit en gesels, gooi Sean, wat toe reeds breingestremd was, ‘n speelding agter ‘n staalkas in. Ons moes die kas wegtrek van die muur af om die ding op te tel, toe sien ons dit: ‘n papiertjie met ‘n versie opgeplak agter die kas: Ek weet wat ek vir jou beplan, sê die Here, voorspoed en nie teespoed nie, Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting. Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid en Ek sal julle gebede verhoor. (Jer.29:11) Met daardie bietjie hoop is ons in die donker nag van bankrotskap in. Al heenkome was ‘n erf in Hartbeespoort en Anton het self die huis gebou met 'n vriend se bouspan. Anton het hier uiteindelik kans gekry om voltyds Teologie by Tukkies te gaan studeer. Deur ergere arm tye en vertrou op die Here het hy deurgedruk en die ses jaar voltooi. Intussen is ek en hy witwarm besig by die TKerk met kampe: Vir manne, vroue en huwelike. Aangesien ons so ‘n bietjie te witwarm is en bietjie te vernuwend is, verdra die leiers in die gemeente ons maar so, maar in die kerk ken ons almal en geniet die samesyn en kerkaksies. In sy sesdejaar doen Anton sy praktiese jaar hier by ons kerk en sy preke gaan besonder goed af. Hy kom agter dat hy ‘n gawe het om die Bybel eenvoudig en verstaanbaar uit te lê, sonder fieterjasies en dogmatiese ge-hoe-ha. Anton help selfs uit met die finale jaar katkisante en besef hy kan nogal met die jeugdiges ‘connect’ want hy beantwoord hulle vrae eerlik, eenvoudig en verstaanbaar. (Op die foto is Anton by 'n jeugkamp van die TKerk nadat die kinders hom beetgehad het met modderstoei.)






Toe Anton sy graad voltooi, doen hy aansoek vir ‘n jeugpos wat presies op daardie tyd goedgekeur is deur die kerkraad. Ons het dit gesien as ‘n geleentheid uit God se Hand. Toe nie. Die dominees en die spannetjie wat die persoon moes aanstel, wat uit heelwat van ons vriende bestaan het, besluit om ‘n jong, onervare predikant aan te stel wat kitaar kan speel, sonder om die arme outjie een keer te hoor preek. Ons teleurstelling in daardie span was fenominaal. Ons het dit uit en uit ervaar as ‘n manier van die leiers om van Anton en sy nuwe onortodokse idees ontslae te raak. Die gemeente was net so verbaas, maar omdat niemand ooit werklik weet wat aangaan nie, word daar nie vrae gevra nie. ‘Die leiers weet mos wat goed is vir die gemeente’ is die eeu-oue siening wat baie mense al mislei het. In die kerkraadvergaderings, waar Anton steeds Diaken is, word gebid dat die Here hom tog gou ’n ander pos op ‘n ander dorp sal gee. Ja, asseblief tog vinnig, Here. Want sien, hy is vol vrae oor intensies en prosedures. So sit ons eendag en besin oor die lewe en die gedagte onstaan om ‘n uitreik te hou wat ons noem Denimdienste/damdienste omdat ons by ‘n dam bly en daar op Sondae baie mense is wat buitendien nie wil kerk toe gaan nie, wat kerklos en kerkseer is (seergekry het oor baie jare in verskillende kerke). Ons het persoonlik heelwat sulke vriende, meeste wat nogals in pastoriëe grootgeword het! So ontstaan die Kuierkerk. Dit begin as ‘n informele bymekaarkoms en koffie drink en mense wat praktiese vrae vra rondom die Woord. Anton begin naderhand die Bybel stelsematig deurwerk en vertel van God se plan met die mens. Sien, Anton ken die lewe en al die moeilike vrae, want ons was daar. Ons huwelik was ‘n gemors voor ons bekering. Ons het al baie geld gehad en baie geld verloor. Ons het al honger gaan slaap. Ons kind is van ons weggevat. Anton is deur drankmisbruik en al die verleidings van die koorporatiewe opset. Hy het al die pad gestap. Hy het al vir God al die vrae gevra wat moedelose mense doen.

(Op die foto is van die mense: Boet, Lize en Amie, wat betrokke is by die uitreik: Private Initiative, wat Anton begin het so saam met die kuierkerk, om mense bewus te maak daarvan om na die skepping om te sien en om sommer papiere op te tel een keer 'n maand om die omgewing skoon te hou. Dit is maar een van die uitreike waarmee Kuierkerk gemoeid is om 'n seën te wees vir die gemeenskap.)

Die Kuierkerk groei te erg en die manne by die Groot kerk brom. Hul probeer alles in die kerkwette om ons te stop. Anton ken gelukkig die ordes en wette goed. Die kerkraad is oortuig Anton is verkeerd want die leiers hou aan om dit te vertel. Honderde vergaderings van uittrap en slegsê volg. Anton is VERKEERD! Ons glo nie so nie. Honderde mense kry geestelike kos by die uitreik. Intussen krepeer ons ook maar van honger en as die skole nie help betaal het aan ons kinders se koolgelde nie, sou ons nie eers dit kon betaal nie. Ons leef van donasies by die teetafel want Anton sê mense is genoeg in die kerk vir geld gevra. By kuierkerk sal ons dinge anders doen. Die Gees doen mos self Sy werk waar die Woord verkondig word. Ek hou partytjies, skilder muurskilderye, doen Linker-regterbrein evaluasies vir ekstra inkomste, en dit was nie genoeg om enige pot eers te laat opwarm nie, nevermind aan die kook te hou! Intussen loop die groot kerk en sy geldkaste drasties leeg want sien, die tradisionele manier van mense Sondag na Sondag 'n sedeprekie bring op outydse maniere, is nie meer genoeg vir die denkende mens nie. Die moderne mens wil weet wat God bedoel het met die Bybel, Sy pad met die mens en wat beteken hierdie “Wees 'n Seën vir die wêreld wat God al vir Abram gegee het as opdrag.

(Op die foto: Anton is in 2007 saam met 'n groep leraars en Prof. Stephan Joubert, 'n voorloper op die gebied van kerkvernuwing, en verligte sinode-manne op 'n toer na Amerika waar hulle die ontwikkelende kerk (emerging church) gaan ondersoek het. Wêreldwyd ontstaan kleiner groepe informele kerke in winkelsentrums, teaters, koffiewinkels waar mense los van die formele kerk en sy wette begin kerk hou op 'n meer informele basis wat kuier insluit! Anton besef dat hy wel NIE op die verkeerde pad is nie maar eintlik voorloop. Hy kon die lesings wat daai ouens aangebied het, self aanbied. Kuierkerk is deel van 'n wêreldwye spontane kerkontwikkeling wat deur God self bestuur word. Hy besef dat ons op die regte pad is al sê die ou kerk hy is verkeerd. God lei hom op die regte pad. Dankie tog! By hom op die foto is ds. Ettiene Schoeman van Kemptonpark en nog 'n dominee.)

Maar op die tuisfront: Na baie pynlike vergaderings waarin Anton hoofsaaklik sleg gesê is oor sy uitreik na kerklos mense en waar hy deur die leiers van die gemeente omtrent soos 'n vloerlap vertrap is, word die Sinode ingeroep om te help en ondersoek in te stel. Ek bedoel, in een van die vergaderings sê ‘n ‘vriendin’ van ons: "Anton, ons is baie lief vir jou, maar jy moet weet jy doen verkeerd! Die dominees is mos reg." Die manne van die Sinode wat die ondersoek doen, vind nie fout met wat Anton doen nie, inteendeel, is dit nie ons hoofopdrag in die Bybel nie? Uiteindelik word Anton vanuit die Sinode aangestel, omdat hierdie informele uitreik (Kuierkerk) dalk ‘n kerkmodel is wat in die toekoms mense kan teruglok na die formele kerk. Die lig gaan een vir een op vir die kerkraad en hulle besef toe dat daar wel ander maniere van kerkhou is, veral omdat die Sinode-manne so dink. Die lig het wel nie opgegaan vir die ou manne en leiers nie, 'n handjievol tradisionele Christene wat geen ander manier sien as die ou manier nie en alles as uit die hel beskou: van Moreletapark NG gemeente tot Doxa Deo, wat almal vreemde dinge doen! Ons is net bly iemand sien die lig en die heksejag teenoor Anton en die Kuierkerk kan nou ophou. Min weet ons dit is maar die begin van die bloedige oorlog. Min weet ons dat in die binnekring van die kerk word Anton steeds agteraf as uitvaagsel afgemaak en die ‘onskuldige’ gemeentelede word agteraf mooi ingelig hoe onChristelik Anton optree. Ons begin lekker stupid dink dat Anton se woorde in sy eerstejaar, van dat hy nog eendag die groot kerk gaan hervorm, nou bewaarheid kan word.

(Op die foto: Anton en sy Griekse proffie, Hennie Stander, wat by die Bybelskool op Hartbeespoort kom praat het. Anton het die Bybelskool so paar jaar terug begin saam met oud-studente van die Lynwoodrif Bybelskool, as deel van 'n uitreik om mense meer van die Bybel te leer.

Nota: Wat is die Kuierkerk:

‘n Informele manier van kerkhou, waar enige mens welkom is, en waar enige mens se geloofservaring met die drie-enige God kosbaar en uniek is. Ons glo in saamkuier want slegs deur mekaar behoorlik te ken, kan ons mekaar bystaan en saamwerk om God se koninkryk uit te brei. Ons glo daarin om die Woord eenvoudig te verkondig en om aan mense die geleentheid te gee om vrae te vra of hul mening te lig. Ons glo dat ons moet saamwerk om die natuur en omgewing te versorg, want dit was deel van God se skeppingsopdrag. Ons glo daarin om, soos Jesus, mense te bevoordeel in God se koninkryk sonder dat mensgemaakte, tradisionele gebruike wat uitgeleef is, sekere mense van God af weghou. Ons glo: gee liefde en God sal die mens self verander en gebruik op Sy manier.

(Op die prentjie is 'n advertensie wat die TKerk in die plaaslike koerant geplaas het om die publiek se voorbidding te vra om die regte predikant aan te stel wat die volgende eienskappe het. Ek het die Tkerk se naam bo-aan die ad verwyder. Maar Anton lyk toe presies soos die prentjie en hulle kom dit toe ook agter, dink ons... en hul vertel hom toe: jy is ons man...)

En as ek persoonlik terugkyk op ons pad met die kerk, dan verklaar ek dinge vandag so: Die Bestuurspan by die kerk wat maar in 'n hoek gedruk is, met die sinode aan die een kant en die geldkaste wat leeg is aan die ander kant, begin met skynbaar ‘goeie’ voornemens met Anton in gesprek gaan oor wat van hom verwag word. ‘VERNUWING’, asseblief. Dit lyk of die resep by die Kuierkerk werk. Stuur ons groot kerk in die rigting en dan: VERSOEN asseblief weer die Kuierkerk met die TKerk. (Sien baie mense is intussen uit die TKerk na Kuierkerk toe omdat hulle moeg is vir onverklaarbare reëls en die formele wettiese opset.)

(Op die foto is Anton, my goeie vriendin Heloise en my sus Esmé tydens 'n kuierkerk byeenkoms. Lekker. Koninkryksdinge. Koffie. Kuier. Kerk.)

So begin Anton met alle mag sy roeping uitleef. Ons is dankbaar dat die Here die kerkraad en bestuurspan se oë oopgemaak het, want dit beteken mos vordering en vernuwing. Die ander twee leraars word so een vir een op vroeë pensioen geplaas want dit alles is deel van die ‘vernuwende’ pad wat die Bestuurspan mee besig is. Die ou wat ons vandag besef is die hoofindoena of die "Godfather" soos ek na hom verwys, spog nogal by die kerk se braaivleisfunksies, so met 'n whisky of ses agter die rug, dat hyself alleen verantwoordelik is vir elke dominee wat waai (dit dwing blykbaar respek af by sy 'volgelinge' omdat hy dan kwansuis so magtig is!). Ag man, ons word genooi na hierdie ouens se huise wat vroeër nog gedink het ons is uit die hel uit met ons vernuwende idees. Ons word op die hande gedra en daar word selfs ‘n versoeningsdiens gehou waar daar jammer gesê word vir al die slegte bloed wat in die verlede geloop het. Trane loop. Te mooi. Te mooi. TE mooi om waar te wees. En skielik eendag (handomkeer) besluit hierdie Godfather - wat mos een van ons GROOT nuwe ‘vriende’ - dié invloedryke, vername, afgetrede besigheidsman wat in beheer van dinge wil wees - dat dinge te vinnig gebeur en nie sy goedkeuring wegdra nie. Hy begin rumors versprei dat: Dit lyk dan nou of Anton en die Kuierkerk sy kerk wil oorneem en skaak.


Begin 2010: Soos een man staan die Godfather en die Bestuurspan toe teen ons op en begin Anton stelselmatig inperk, hokslaan, sielkundig en emosioneel afbreek (maak hom verdag in vergaderings en oor eposse, - waarop Anton ingesluit is, betwyfel sy 'goeie' bedoelings, bevraagteken en besoedel elke besluit) en die kersie op die koek: hulle stop al sy bevoegdheid om besluite te neem of om met die gemeente te praat oor enige nuwe voorstelle. Die een oomblik werk Anton nog heel gelukkig aan die Kuierkerk mense om hulle soos ‘n troppie onskuldige skape terug te lei na die 'nuwe' Tkerk toe, en die volgende oomblik word daardie hek in Anton se gesig toegeklap. Ons verbasing en ontnugtering in ‘goeie’ Christene se intensies was weereens fenominaal. Ons word weereens die swartskape. Geheime vergaderings word agter Anton se rug gehou. Sinode manne moet weer insit en raad gee en agteraf word hul so mooi die ‘waarheid’ vertel. Die Sinodemanne het nie raad nie want hierdie opset is redelik uniek in die land. Anton vra moedeloos om verskoning in die vergadering want hy is jammer hy het blykbaar te vinnig aangegaan met dit waarvoor hy aangestel was. Was dit nie die opdrag nie? Die manne bly aggresief en aanvallend.

Ook mev. Doeminie word 'n besprekingspunt by die agteraf vergaderings. Want sien die ou ding, wat geen sê het nie, het 'n brief vir die Bestuurspan geskryf waarin sy die Voorsitter van die span bevraagteken oor sy objektiwiteit, sy afbrekende kommentaar en outoritêre houding. Ek het net elke sin in elke epos aangehaal waarin hy Anton sleggesê het en afgekraak het wat aan al die spanlede gemail is, ook aan Anton. Ek het hierin die voorsitter se bevoegdheid bevraagteken, want waar op aarde sien jy so iets, en dit in die kerk waar daar met liefde met mense gewerk word? Of nie? En ek herinner die span aan hul aanstellingsopdrag aan Anton. Hierdie brief word teen my gebruik en ek word vanaf BO boodskappe gestuur dat ek as mev. Doeminie nie my (stink) neus hierin mag druk nie. Ek het geen bevoegdheid nie. En ek het ‘n vrot mening. Ek as Mev. Doeminie mag nie sulke briewe skryf nie. ‘n Paar vieslike vergaderings en uittrapsessies met Anton volg en dit wil AMPER lyk of dinge kan uitwerk so saam met die Sinode manne, wat ek teen die tyd ook nie meer vertrou nie. Hulle moet ook maar hul poste en posisies beskerm en dans na die maat van die bestuurspanne. En op hierdie lieflike noot, vertrek ons gesin April 2010 na Brittanje en Noorweë vir daardie epiese vakansie en die Londen Boekskou waar ek my boek met gebed en bewing aan Internasionale uitgewers wil voorlê. Dankie tog, dink ons, nou kan ons bietjie rus, dinge in perspektief begin sien en ook die negatiewe ouens hier kry kans om asem te haal. Min weet ons wat hulle beplan agter ons rug. Ons kom terug na ons twee weke vakansie en nadat ons 'n ekstra week lank vasgesit het as gevolg van die asreën in Noorweë. Die week wat ek my Boekskou toe mis. 'n Week wat alles in my vernietig het: my drome en ideale en onskuldige geloof in my bediening en my geloof-filosofie van Glo-en–dit-sal-gebeur. Die storie raak te lank. Ek sal volgende week verder wroeg. En buitendien ontstel die gebeure my tog as ek weer daaroor praat. Ek kort nou sterk koffie... al het niks hiervan met my ‘persoonlik’ te doen nie... Never take it personally.... Never... Never.... Never.... (aldus Dr. Phil.)

No comments:

Post a Comment