Wednesday, March 6, 2019

NOG BOEKE VIR 2019



Die Alfadokument 
deur René van Zyl
My samesweringsroman wat November uitkom danksy Lapa en Wenkbrou! Waaroor gaan dit? Geloof en mag sorg vir 'n dodelike kat-en-muis speletjie... Nadat die biljoenêr, Nico Cohen, die stigter van die Nikolaïete ʼn berugte internasionale geloofsorde, sterf, erf sy twintigjarige dogter, Michaela ('n loskop sosiale vlinder), sy posisie. Die oorblywende direkteure van die Orde, waarvan die hoofkantoor in Kaapstad gesetel is, die Groot Ses, stuit vir niks om te sorg dat hulle in beheer bly nie. Dit gaan 'n eks-taakmaglid kos om die rykmansdogter te help om die orde se geheime oop te vlek. Hy het sy eie redes om die massiewe maatskappy te ontmasker. Saam moet hulle die Orde se geheime Alfadokument opspoor. Dis hul enigste kans om te wys watse onheilighede werklik agter die sukses van die Groot Ses skuil. Die soektog neem hulle op 'n gevaarlike ekspedisie regoor Europa met n moordenaar kort op hul hakke. Publikasiedatum: 2019-11-15 Dankie #wenkbrou #lapa vir julle geloof in my! #renevanzyl #ekleeslapa #graffiti Dankie Jesus vir die uiteindelike deurbraak na baie jare - en julle dit was harde werk om dit perfek en drukgereed te kry!!!
Wenkbrou het hierdie lokfilm gemaak vir Die Alfadokument - dis hoendervleis lekker om te sien - (vir my altans): Geniet: 


Johan Jack Smith gesels met René van Zyl oor Die Alfadokument

Die predikantsvrou René van Zyl se samesweringsriller gaan vir seker wenkbroue laat lig. Johan Jack Smith het met haar gesels oor Die Alfadokument.
Die Alfadokument is ’n teks wat heeltemal buite die genre val waarin jy gewoonlik skryf? Wat het jou laat besluit om jou horisonne te verbreed?Ek het eintlik Die Alfadokument al in 2013 begin skryf, nagevors en sonder veel kennis van die publikasiebedryf en die mark dit aangepak. Ek is lief vir spioenasie, misdaad en samesweringsflieks, dus is dit seker my eerste liefde. Ek het die manuskrip aan uitgewers begin stuur, maar die genre was nie in Afrikaans bekend nie en daarom moes ek heelwat herskryf en aanpas, maar steeds was dit anders as die normale misdaadgenres in Afrikaans. Eers toe ek dit aan Wenkbrou stuur, wat nuwe genres aanpak, was dit suksesvol en is dit aanvaar. Ek het aanvanklik in die Romanza-genre begin skryf nadat ek ’n skryfkursus van LAPA Uitgewers en die ATKV in Potchefstroom bygewoon het. Dit was toe vir my ’n lekker uitdaging, want dit het nie die vreeslike navorsing geverg wat met Die Alfadokument gepaard gegaan het nie. Ek het heerlik aan die stories geskryf en toe het LAPA daarvan gehou en dit begin publiseer. Ek het nou al vyf Romanzas en een Super Romanza in twee jaar uitgebring.
Hoe moeilik is dit om genres te verander? Moet jy jouself kort-kort herinner dat jy nie met ’n liefdesverhaal besig is nie?Ek is nogal boots and all in die storie as ek eers begin skryf. Die karakters in Die Alfadokument het meer wroegings en uitdagings as die Romanza-karakters en is dus uit die staanspoor uit meer intense mense om mee te werk. Ek wou Kayla ook baie meer emosioneel afgestomp laat voorkom as gevolg van al die trauma wat sy beleef het, maar ek het ook besef dat ek haar meer menslik moet laat wees (soos ’n tipiese warmbloedige vrou in ’n liefdesverhaal) – sy is tog uiteindelik ’n vrou wat liefde soek, al sal sy dit nooit aan jou erken nie.    
Waar het jou inspirasie vandaan gekom?Storie-idees kom en gaan heeltyd in my kop. Die wat ek begin voer, kry lewe. Ek het met Die Alfadokument ’n paar idees gekry (televisie, tydskrifte, koerante) wat nie een wou wyk nie. Dit het in my gedagtes rondgerol, ’n lewe van hul eie gekry en toe in die storie verander. Dit was aanvanklik totale uiteenlopende gedagtes wat mettertyd soos drie riviere bymekaar gekom het en in een dik stroom teen die waterval afgetuimel het. Toe ek begin skryf, wou die karakters my nie los nie. En ek moes kophou soos ’n dronk weeluis. 
Hoeveel navorsing het die boek geverg?Ek moes regtig baie oplees oor geheime organisasies wêreldwyd en veral Christen-sektes. Ek het die internet gebruik en dokumentêre programme en rolprente gekyk wat hieroor gaan. Gelukkig hou ek by met baie van hierdie soort flieks wat oor sameswerings handel. Sekere dele was makliker, die wat ek self geskep het, soos die hele konsep van die Nikolaïete Orde. Dit is vir my altyd verstommend hoe sekere mense ander kan oortuig van ’n totaal belaglike konsep en hoe mense – slim en dom – daarvoor val. Dit is so deel van die wêreldgeskiedenis (van antieke tye af) en dit interesseer my geweldig. Die navorsing was baie lekker.
Dink jy organisasies soos die Nikolaïete is plaaslik ook ’n bedreiging? Of dink jy dit bestaan plaaslik?Absoluut. Dit bestaan in een of ander vorm orals op aarde en van alle tye af. Daar is soveel organisasies, nie net godsdienstig nie, wat mense se goedgelowigheid en onskuld uitbuit en mense val so maklik daarvoor. Van die slimstes tot die domstes onder ons.
Beplan jy ’n opvolg?Ja. Daar ’n klein los draadjie in Die Alfadokument waaraan getorring moet word. As jy die boek lees, sal jy dalk agterkom wat dit is, maar ek sê niks. Ek is reeds besig met die opvolg en veral met die navorsing. Die konsep is al neergepen en die samesweerdery gaan dalk hierdie keer erger wees en moeiliker wees om oop te vlek. Ek kry my hoofkarakters byvoorbaat jammer want hulle het nog geen idee wat vir hulle voorlê nie! Net toe hulle dink aan: Happily ever after...
Hoe werk jou proses as jy skryf? Beplan jy die stories en karakters vooraf?Ek probeer ’n basiese storie en karakters neerpen. My kop is soms erg deurmekaar (regterbreinmalligheid) en ek is nogal aandagafleibaar veral as ek google en die een feit is interessanter en ouliker en vreemder, dan raak ek mal. Wanneer ek eers begin met idees neerskryf, hardloop my gedagtes in wilde rigtings en ek moet dit heeltyd op hok probeer hou. Dus: ja, ek moet die karakters beplan, beskryf en ’n foto hê. Die storie probeer ek beplan; ek het gewoonlik ’n begin en ’n einde en ’n warboel van goed in die middel, maar soos ek skryf, val dit gewoonlik mooi in plek. En omdat die storielyn so ingewikkeld is en al die karakters nie weet wat aangaan nie, moet ek kophou. 
Vir wie sal jy wil sien in die hoofrolle (plaaslik), indien die boek ’n rolprent sal word?Wel, ek het iemand in gedagte vandat ek die boek begin geskryf het, Doreen Coetzee. Sy is ’n briljante aktrise, maar werk tans meer agter die skerms. Sy is nie net sexy nie, maar is ’n opgeleide persoonlike lyfwag. Jy karring nie sommer aan haar nie. Jip, sy sal die rol van  ’n tawwe koekie, soos Michaela, kan vertolk. (Vra maar vir Antoinette Kellerman. Doreen was haar beste student op Stellenbosch) As jy oor bekender aktrises praat wat bereid sal wees om lyf te wys en ’n 25-jarige kan speel, is ek seker Charlene Bouwer sal ook  fantasties werk.
Ek het sopas elke manlike Suid-Afrikaanse akteur ge-google. Seker vir twee uur lank. Ek sou sê Brendan Pollecutt. Ek weet nie hoe oud hy is nie, maar ek hou van sy algemene houding en gesig. Josh in my boek moet in sy vroeë dertigs wees. Ek het natuurlik my oog op Clint Eastwood se seun, Scott Eastwood, gehad.   
Is jy as predikantsvrou skrikkerig oor hoe jou gemeentelede gaan reageer op van die tonele in die boek?Nee, glad nie. Ek en my man, Anton, is redelike verligte Christene. Ons glo ook die feit dat ons ’n predikantspaar is, ons nie anders maak as enige ander mens op aarde nie. Daar is niks hoogheilig aan ons nie en ons gebruik ons kennis en talente vreesloos. Ons gemeentelede ken my hopelik en het al vele van my musiekblyspele gesien wat ek oor die jare opgevoer het. Dit was alreeds kontroversieel en kyk na Bybelse verhale met ’n intense moderne bril. Van die Romanzas was ook lekker romanties met ’n paar warm tonele in. Hulle behoort dus met Die Alfadokument die ergste van my te verwag. Ek glo steeds in my joernalistieke opdrag van jare gelede: inlig, opvoed en vermaak.
Die Alfadokument is by toonaangewende handelaars asook direk by LAPA Uitgewers beskikbaar. Kontak LAPA by 012 401 0700 of besoek ons webblad: www.lapa.co.za.
Taalgenoot
XXXXXXXXXXXXXXX
STORM VOL LIEFDE  
SUPER ROMANZA 
SEPTEMBER 2019
My Super Romanza wat September uitkom: Storm vol Liefde. ’n Werksaanbod in Zambië wat vir Lienke Nielsen moes help om te herstel van die nagmerries ná ’n doodservaring tydens ’n sikloon, ontaard in ’n erger storm wat haar van binne af verteer. Sy was nie voorbereid op die verwoestende effek wat die televisieaanbieder, Armand Martinez, op haar hart sou hê nie. 
Nie net moet sy voorgee dat sy haar ekstroverte tweelingsuster, Lika, is nie, maar sy moet haarself boonop beskerm teen die kragtige en sjarmante Orkaan Armand. Haar suster het immers die eerste opsie op hom. Lienke besef baie gou dat sy die een is wat met meer stormskade as vroeër gaan wegstap.
Jy gaan die een geniet - ek het dit so geniet om te skryf.




LIEFDE IS WYNROOI 
Augustus 2019

My nuwe Romanza - die vyfde een - kom Augustus 2019 uit - hier is solank n voorsmakie! OP Graffiti se blad: LIEFDE IS WYNROOI - Hy les haar dors na liefde… Toegewyde sangeres, Karista Leclus, haat rugbyspelers - Hulle speel beter met haar gevoelens as rugby! Marcel hét haar immers vir 'n trompoppie gelos … Wanneer Gareth O'Neill - die onmoontlik-aantreklike rugbyspeler - haar amper vertrap is sy woedend. Goed, hy hét verskoning gevra … en hy hét die blouste oë wat sy nóg gesien het … Maar sy kan nie Marcel se verraad vergeet nie.
Hulle moet nou saamwerk vir 'n gesamentlike hen- én haanpartytjie op n wildsplaas, en wanneer hy sy flikkers gooi kan sy sweer hy speel vuil, maar sy kan nie vergeet dat Gareth net nóg 'n rugbyspeler is nie. Sy kan dit nie bekostig nie, want daar is hierdie keer té veel op die spel … Liefde is wynrooi is deel van LAPA Uitgewers se liefdesverhaalreeks, Romanza. Romanza kan vergelyk word met Mills & Boon en Harlequin. Dit is René van Zyl se vyfde Romanza. Ook beskikbaar by Graffiti boeke - bestel online: 

//www.graffitibooks.co.za/en/a/Soek/0/language+DESC/Ren%c3%a9%20van%20Zyl
 #EKLEESLAPA; #RENEVANZYL

MY VERSAMELING BOEKE GROEI: 
KYK GERUS OF JY EEN GEMIS HET! 
Beskikbaar by Lapa (ook op hul webwerf) en vooraanstaande boekwinkels, ook Grafitti books (ook online) 
en UPPERCASE in Menlyn.





WEER EENS LILLY:
Daarsy, hier kom nog n Romanza en ek het so lekker aan die een geskryf - ek kan dit nie glo nie, maar dit het my 'n week geneem om die hele storie klaar te skryf. Dit het 'n maand of drie in my kop gedraai en toe ek die dag vastrap, toe skryf ek so lekker dat ek dit self nie kon glo nie. 
(Beskikbar by Lapa, Amazon e-boekeGRAFFITI BOEKE en ander lekker boekwinkels - vanaf April). 
LEKKER LEES!

https://www.graffitiboeke.co.za/af/362911/Boeke

Weer eens Lily - BY GRAFFITI
Fiksie  -  Romanses   R 95     76

Lilly maak sedert graad elf besluite met haar kop en ignoreer haar hart heeltemal. Maar blykbaar het haar hart voete van sy eie en loop waar hy wil. Veral agter haar eerste liefde, Migael, en ou herinneringe aan. Hoeveel offer jy in 'n verhouding op? En wanneer word opoffering té groot? Dis die onderliggende tema van Weer eens Lilly. René is 'n skrywer wat ernstige kwessie met humor aanspreek. Soos met Opa vir die liefde maak sy nie lig van 'n ernstige saak nie, maar sy word ook nooit swartgallig nie.




'n Ontydige soen: Novelle deur Rene' van ZylLekker vinnige novelle om te lees van Lapa - n Ontydige soen - deur Rene' van Zyl - as jy lus het. R35.https://lapa.co.za/romanza-boeke/romanzaliefde/n-ontydige-soen-op-die-nippertjie-romanzaliefde-e-boek




NOG N BONUS: NOVELLE/KORTVERHAAL ONDER ROMANZALIEFDE SE VAANDEL: 
LIEFDE IS 'N SPANSPORT



Ek is ook trots om te vertel dat my boek: Alice se Ierse Sprokie op die Neilsin 
topverkope in AFrikaans lys is van 2018 - 23ste op die lys. 
Dankie vir almal wat Alice soveel geniet het soos ek!