Saturday, November 5, 2011

DIE KROON VAN DIE SKEPPING...

Age restriction: 45. (Moenie lees as jy maklik ontsteld raak nie. Of gaan drink jou angspil en kom lees verder. Jy is gewaarsku.)

Mev Doeminie het mos nie baie te sê deesdae nie – net as ou Griekie Galbraak haar kop uitsteek – en hier steek sy nou haar kop uit en sy steek haar neus in ‘n ding waaroor niemand mag praat nie, want ons vroue is onderdanige wesens wat genadiglik deur ons mans ‘n skaflike lewe gegun word, solank ons nie te emosioneel of paranoïes voorkom nie en solank ons nie hulle wonderlike besluite en menings bevraagteken nie. In kort, ons vroue sal ‘n skaflike lewe en behandeling gegun word, solank ons nie ons eie mening of emosies wys nie, want sien, mans kan dit glad nie hanteer nie. As jou man anders is, is een van die volgende waar: 1. Hy is gay. 2. Hy is ‘n zombie. 3) Hy is 'n wonderwerk (en daarvan is min, vrek-bitter-min op aarde.) 4. Jou anti-depressante is te sterk en jy is dus ‘n zombie.

Ja, ek wil oor die kroon van die skepping praat: MANS. Kom ons besluit ek praat nie oor my eie man nie, maar oor die honderde mans wie se vrouens op anti-depressante is en wat die huweliksberaders se hoë rekenings maar so brom-brom betaal net om die ou “ball-and-chain” se

bek stil te hou. Ek is nie verniet mevrou doeminie nie: ek praat met vrouens en ek help partykeer stukke van hul waardigheid en frustrasies optel as hulle weereens in die grond in getrap is deur mnr. Eggenoot die GROTE wat die beuel blaas in die huis. Soms huil ons net saam, want daar is nie raad nie. Dis seker maar die straf van die vrou waarvan die Bybel praat daar in Genesis toe Eva mos vir die slang geluister het en toe verlei sy die arme Adam en so aan. Sien die Bybel praat heeltemal te min van die vrou wat met respek behandel moet word... o, ja, dit staan in Efesiers. In een hoofstuk. En o, ja, daar in 1 Korintiers 13 waar van die liefde gepraat word: maar ek dink die kleinskrif in Grieks sê dat hierdie hoofstuk spesifiek vir vroue geskryf is om aan hul mans onderdanig te wees. Want solank jou man gelukkig is, sal jy ‘n waardige lewe lei. Anders...

My eie dierbare pa was ‘n goeie staatsamptenaar wat in swart en wit konsepte geglo het. Hy was ‘n wonderlike pa en ons het nooit iets gekort nie, en hy was die baas in die huis. Sy woord was wet. My ma was ‘n wonderlike sagte huishoudster wat gedroom het van eksotiese vakansies en selfs net om meer by haar familie te kuier. Ons het hoofsaaklik by my pa se familie gekuier. My pa het ook die weeklikse inkopies gedoen want my ma was te spandabelrig volgens hom. Sy was. Geld het min vir haar beteken. Sy sou alles wat sy besit vir die bediende weggee of vir iemand wat sukkel. Haar hart was net te goed. Dit was ‘n groot rede vir geveg tussen hulle. Ek dink sy het groot drome gehad om dalk oorsee te gaan of meer met lekker vakansies. Hy was ‘n huishen en het sy sente omgedraai. Ons het een keer ‘n jaar heerlik vakansie gehou – maar dit was waar hy wou, onthou ek nou. Dit was maar die stoere Afrikaner ding. Vrouens moet in die kombuis besig wees, verkieslik swanger en verder kinders grootmaak. En veral moet hul nie spandabelrig wees nie. En ons kinders was heel gelukkig. Ons het lekker vakansie gehou en is goed versorg en min het ons geweet van drome of gevoelens wat nooit uitgeleef is nie. Ek het altyd geglo uit my hart dat ons nuwe generasie mense die huwelik anders benader. Die twee is spanmaats met gelyke regte en menings. Maar, vandag moet ek erken – met die hulp van Griekie Galbraak hierbinne my: dit is nie so nie.

Ek woon baie troues by. My man preek wonderlik motiverend vir die nuutgetroudes en vertel hulle onder andere: Die man en vrou is gelyke wesens, gelyk voor God. Ja, die man verlaat mos sy ouers daar in Genesis en hy en sy vrou is dan een. (Gelukkig is hierdie ‘n blog vir grootmense, daarom kan ek sê waar die ‘een’-storie inpas vir mans – en dit is uit en uit net my eie mening vandag, terwyl ek nou lekker benodderd is: dit is net ‘n seksding. Daar word mense glorieryk EEN en dis wonderlik, ja ek moet erken, maar nou is die moderne mens meer as net ‘n seksmasjien. Kan jy glo daar is emosies en gees by betrokke?)

Maar terug by die huweliksplegtigheid: In hierdie preke word gepraat van dinge wat man en vrou mekaar moet gun: 1. Wederkerigheid – doen aan die ander een wat jy aan jouself gedoen wil hê. 2. Gun mekaar ruimte om hulself te wees en hul droom uit te leef (en ou Griekie Galbraak wil byvoeg: probeer mekaar se droom verstaan en toon belangstelling daarin, al is die droom so belaglik en so groot dat niemand anders dit kan verstaan nie.) 3. Die huwelik is ‘n plek van veiligheid, waar albei partye moet voel dit is hul veilige plek teen die wêreld daarbuite en dat hul emosies veilig is daarbinne. (En ek wil byvoeg: hier moet jou mening ook veilig wees en aangehoor word sonder dat jy verskree word, omdat die ander party dink jy gaan nou direk teen sy wil en mening in. Waarom moet die man se wil altyd geskied? Gelyke partye? Bog. Wie is die beoordelaar van wie se mening reg is? Die man? Want natuurlik sal gedoen word wat die man goed dink, al verskil die vrou reëlreg van hom. Want sien, deur al die eeue heen, is die vrou as die onderdaan beskou en die man se besluite sal eerbiedig word. Ja, voorwaar gelyke partye. Een. Wonderlik. Al wat dit beteken is dat die vrou die dom enetjie is, die een wat geen behoorlike mening het nie, en veral moenie dink hulle het ‘n aanvoeling of intuisie vir dinge - wat mans nie het nie – nee dis ouvroustories. Terug kombuis toe met jou!)

Waar was ek laas. Kom ons kom terug by die huwelikspreek. Mans word in Efesiers genoem in die Griekse taal: die kop - die Kefale. Of so iets. Dit beteken hy is soos Jesus die inisieerder van die verhouding. Dit beteken blykbaar dat hy bepaal die rigting van die verhouding. Hy het dit begin soos Jesus sy gemeente (kerk) begin het, met woorde en dade wat vir die vrou aanneemlik was en wonderlik en so romanties, dat sy geval het vir hom. Hy kon van die begin af al sy emosies ‘overide’ en sy beste kant wys sodat jy dink hy is die wonderlikste ding op Gods aarde. En jy is soos klei in sy hande. Wat die preek verder vertel is dat die man die verhouding aan die gang hou met sy woorde en dade – so as daar ‘n probleem/onmin is, dan sal die man maklik sy gevoel kan overide en met sy mooi woorde en oulike dade die vrou se hart weer vermurwe en siedaar: sy is weer soos klei in sy hande. En ja, dit werk so. Want dis soos Christus en die kerk. Hy het dit lief – so baie – dat hy sy lewe daarvoor sal aflê. Mans kan dit blykbaar doen, want dis hul opdrag. Te goed om waar te wees. Te goed om waar te wees.

Dan kry ons vrou ook hul beurt: Die vrou word genoem in Grieks: die lyf - die Hipotaso. Sy is die hulp wat die man ondersteun. Die woord beteken sy is die paaltjies onder die jetty by die dam. Dit ondersteun as druk daarop toegepas word. Mans druk op ons en ons kan hul bystaan en ondersteun want ons is sterk, standvastig, betroubaar, diep geplant en ons kan storms hanteer. En die manier waarop hul ons behandel – soos Christus die kerk behandel – maak dat ons met al die liefde in ons hart hulle respekteer soos die gemeente vir Jesus respekteer. En die gevolg: die vrou gaan deur die dorp trippel van House of Coffees tot by Chameleon village en vir die ander vroue vertel hoe wonderlik is haar man want sy woorde en dade vermurwe ons harte. Sy dade gaan op haar lippe wees. Net soos die kerk Jesus se dade op hul lippe het.

Iets hier is nie haalbaar nie. Selfs my man sal in die preek vir die jong verliefdes sê dis moeilik haalbaar maar al hoe jy dit kan doen is om in Christus te bly en sy woorde en dade na te volg.... Wys my een huwelik waar dit so werk, asseblief. Die vrou kan in haar kannon in vir almal vertel hoe oulik haar man is en hoe wonderlik hy haar behandel, en sy kan vir haarself jok en dink dit gaan vanself regkom. Sy kan dalk vir hoeveel jare lank haarself bedrieg en dink hy gaan verander en haar begin in ag neem en haar mening begin respekteer, en haar drome respekteer en haar harde werk in en om die huis en die gesin respekteer, maar eendag gaan sy die waarheid moet erken. Dan kan sy of besluit die huwelik is dit werd want daar is meer goed as sleg in hierdie verhouding of sy kan landuit vlug. Dis die moeilikste besluit op aarde. Vra enige vrou wat al by daardie punt gekom het. Dié wat ly is die kinders. Manlief het vinnig ‘n ander pop wat hom verstaan en sy vloerlap sal wees. Party kry selfs ‘n Russiese vrou wat die vloere kan was en skoongeskrop in die bed wag.

Die vrouens wat ek mee praat, dié wat deur hul mans vertrap, verneuk en verskree word, het nog nooit hierdie euforie van ‘n verhouding beleef waar albei partye gelyk is nie. Ek is jammer maar ou Griekie Galbraak hierbinne in my is dik in die wange vandag. Sy braak erg gal. Die meeste vroue staan by hul mans deur dik en dun: Deur mans se besluite wat hul lewe opmors en met tye wel ook opbou. Hoeveel vroue wat ek ken se mans het hul erfporsies, hul opgeboude sakeryke of hul goeie lewe opgemors as gevolg van drank- of ander misbruike. Ek kan hoeveel name opnoem. Oud en jonk. En hoeveel vroue staan maar by die man, want ja, ons is mos die hulp wat by hul pas.

Ja, sal party mans redeneer. Hulle werk hul gatte af vir die wonderlike gesin en wat kry hulle: net ‘n gemoan. Nee, ek ken nie ‘n man wat sy gat af werk vir sy gesin nie. Hy doen dit vir homself, sy speelgoed en sy eie selfbeeld. As ek verkeerd is, los maar ’n vieslike boodskap. Ek praat van huwelike wat ek ken. Ek moet darem hier vir my man intree. Hy gee nie om vir geld nie. Hy sal dit weggee of afskryf ter wille van vrede. Hy doen hoeveel goed gratis vir mense. Hy sal dit ook doen ten koste van sy gesin; so min voel hy vir geld. Ons het deur al ons ellende en besighede verloor en sy voltydse studies, nog nooit honger gaan slaap nie. Ek dank die Here daarvoor.

Dan kry jy mans wat hul vrouens afpers met geld en die geld hanteer asof dit hul eie is. Jou vrou gee haar alles vir jou en die gesin. Sy offer haar drome, haar liggaam en haar emosies op om die groot geldheer te dien, en hy dink dit is SY GELD? Mag God hierdie mans genadig wees. Ek het die grootste afsku in hierdie mans. Dis net nog ‘n teken dat hul niks verstaan van die huwelik nie. Ek kry hierdie vroue jammer uit my hart. Een van hulle vertel my dat haar man haar nie ‘n sent meer as ‘n klein toelaag gee nie om die hele huishouding te beheer, en as sy nie uitkom met die geld nie, is die hel los. Sy word selfs gestraf as sy hom teëgaan, dan gee hy nie geld nie en sy moet

sien kom klaar. Maar hy, hy sit voor in die kerk en die vergaderings en sal haar selfs doktershulp weerhou as sy iets makeer om haar te straf. Dit walg my. En die groot grap is dit – die kinders glo dat hy reg is want oor die jare is hul so ge-brainwash dat van die ma niks oorgebly het as ‘n hopie hopeloosheid nie. Geen selfbeeld, geen droom en geen selfrespek nie. Sjoe, dit vat nou 'n MAN om dit reg te kry.

En die groot grap is dit. Hierdie situasie gaan nie verander nie. Nie al die preke in die wêreld of al die jare wat ons verwyderd is van die Ou Testament se tyd nie – toe is vroue mos gesien as op dieselfde vlak as ‘n hond. ‘n Hond het nie ‘n mening nie, wys nie emosie nie, behalwe as die baas op die werf kom en hy sy stert moet swaai en huppel van plesier. Die man was mos alles in daardie tyd. Wel, ek neem aan mans moes toe die gesin beskerm teen die vyand en het bietjie respek verdien. Hoe verdien hul vandag respek? Suip in die kroeg? Slaan hul vrouens, verneuk hul vrouens, verskree hul vrouens, neem niemand anders in ag behalwe hul eie begeertes en mening nie? Ek ken nie baie mans vir wie ek respek het nie. Dalk kan ek hul op een hand tel. Sean, my breingestremde seun, is een van hulle. Hy verstaan iets van 1 Korintiërs 13. Hier haal ek so stuk stuk aan uit die Bybel@kinders van Hennie Stander:

“Die heel belangrikste ding wat ons moet doen, is om mekaar leif te hê. Dalk dink ek dat ek darem maar oulik is omdat ek ‘n klomp verskillende tale kan praat, maar as ek nie vir ander mense liefhet nie, beteken al hierdie dinge absoluut niks nie. Dalk preek ek baie mooi, of dalk verstaan ek God se geheime beter as enigiemand anders in die hele wereld, dalk ken ek die bybel van voor tot agter uit my kop uit, dalk kan ek met behulp van God dinge doen wat geen gewone mens kan doen nie. dit maak nie saak of ek al die wonderlike dinge kan doen nie. As ek nie vir mense liefhet nie, dan beteken al hierdie dinge niks nie.... Sê nou ek gee al my geld en al my klere weg vir mense wat dit nodig het, en sê nou mense maak my dood omdat ek Jesus se kind is, maar dit gaan nog steeds niks beteken as ek nie vir ander mense lief is nie. As ‘n mens regtig lief is vir Jesus en vir mense dan:

Sal jy nie lelik wees met iemand wat vir almal ‘n pyn gee nie; sal jy altyd gaaf wees met mense; sal dit nie vir jou sleg wees as ander mense dinge het wat jy nie het nie; sal jy nie oor jouself loop en praat nie; sal jy nie dink dat jy darem baie belangrik is nie; sal jy nie met ander mense lelik maak nie; sal jy nie altyd net aan jouself dink nie; sal jy nie oor elke ding kwaad raak en dan net wil stry of baklei nie; sal jy nie altyd terugdink aan wat ander verkeerd teen jou gedoen het nie.... Mens wat ander liefhet sal altyd probeer om hulle te beskerm, hulle sal ook altyd net die mooiste dinge van ander mense glo. Hulle is altyd seker dat ander mense net mooi dinge sal doen. ... ens.

....En natuurlik is die belangrikste dinge dat ons aan God bly vashou (geloof);... dan moet ons glo dat God alles vir ons gaan gee wat hy belowe het (hoop)... en ons moet natuurlik vir God en alle mense lief wees – dis die belangrikste.... (liefde)”

Ek neem aan ons gaan tot ons dood maar kyk in daardie spiëel wat ‘n raaisel is, want antwoorde en oplossings gaan ons nie kry nie. Ons moet maar net aanvaar dat die liefde bedek alles, glo alles en verdra alles. Dit is iets wat meeste van ons vrouens seker in ons leeftyd leer verstaan. Want dis moeilik om mans aldag te verstaan of lief te hê. Dis seker hoekom God ons gemaak het: om ‘n hulp te wees wat by hul pas. En dis hoekom Hy net gevra het om hul te respekteer en nie om hul lief te hê nie!!! (Grappie...) Hulle word wel gevra om ons lief te hê - soos hul eie liggaam!

Ek neem aan dat as enige man hier lees, sy eerste reaksie nie sal wees: “Dankie, Here, hier is waarheid in hierdie onsamehangende gekyf hierbo: ek gaan nou na my vrou toe en ek gaan haar vasdruk en soen en vir haar vertel sy is die beste ding wat nog ooit met my gebeur het en ek sal van nou af haar mening en gevoelens in ag neem.” Nee, die gewone man se woorde sal eerder wees: “Ja, maar Here... hierdie vrou wat U my gegee het... dis mos haar skuld dat ek...” net soos wat Adam se woorde was toe hy en Eva oortree het. Watter man sal hier opstaan en sy vrou nou gaan soen en vashou en sê: “Ek waardeer jou. Ek neem jou gevoel in ag. Ek kan nie hierdie lewe leef sonder jou nie.” En ja, vra gerus om verskoning as jy haar tenagekom het. Sy moes al genoeg kere agter jou deur skoonmaak en jou gevoel in ag neem. Toe, wees ‘n man soos God jou opdrag gegee het! Dan sal jy dalk hierdie wonderlike vrou ontdek... in jou eie huis.

Ek dink: ons vrouens is nou eenmaal so geskep dat ons uitdagings kan hanteer, dat ons druk kan hanteer en dat ons vir iets wil sorg... selfs al is daardie iets dikwels ondankbaar en selfsugtig. Ons sal steeds daarvoor wil sorg. Het ek al dit voorheen genoem dat ek gehoor het dat die enigste ander persoon wat dieselfde naam gegee word as die Heilige Gees in Hebreeus, is die woord vrou: Hulp en Trooster. Dis wie ons is, of ons mans ons nou waardeer of nie.

Sunday, October 16, 2011

Tree aan!

Mev. Doeminie het blykbaar nie veel om oor te kla nie, behalwe dat ek hierdie fenominale, fantastiese, oulike fiktiewe storietjie van my so 'n paar maande gelede vir 'n kompetisie ingeskryf het en nie eers die finale gehaal het nie: dis Afrikaans, my taal, my asemhaal en ek doen dit so maklik... maar dis weereens geweeg en te lig gevind. Ou Drucilla die Dromer hierbinne in my wat altyd so optimisties en vol onwerklike drome is, het gedink dit moes wen, natuurlik! Ek het aan dié storie gedink toe ons gister die teaterstuk, Tree Aan, van Deon Opperman gaan kyk het in die Staatsteater. Dit gaan oor die grensoorlog en ek dink dit het tog vir 'n hele paar ou army-manne 'n pynlike era opgeroep en afgesluit wat dalk nog iewers diep binne gebroei het en gebloei het. Ekself het die dae herroep toe my man Anton sy diensplig gedoen het. (Op die foto is Anton in sy dienspligjare toe ons op vakansie in Botswana was en hy so week of wat af gehad het) Tydens sy eerste dienspligjaar het ek vir hom 'n brief 'n dag geskryf - ek kan mos darem skryf, man, en ek moet sê na 'n jaar van briewe skryf is ons twee toe getroud! Dit wou gedoen wees vir twee mense wat net baie goeie universiteitsvriende was om te vorder tot by 'n huwelik! (Okay, ek het hom dalk meer gelaaik as net 'n vriend, maar ek was ook maar dom, geen vroulike lus of lis nie, maar helaas: Geen man is bestand teen soveel aandag en soveel briewe nie. Ek het na die Tree Aan vertoning bietjie daardie briewe gaan opdiep, maar o, weë, wat 'n soetsappige spul liefdesbriefies - ek het dit na die vyfde brief neergegooi. Dit was soos om dieselfde 'n Mills and Boon liefdesverhaal oor en oor te lees!! Ek het my doodgelag.


Saturday, September 24, 2011

AG TRANE UIT DIE HEMEL, MOEDERLIEFDE TOG!

Mev Doeminie se Annus Horibilis 2011 se pyne wys mos net as sy werklik in ellende verkeer. Daarom is die inskrywings maar min die afgelope tyd. Die pyne is wonderbaarlike minder en verder uit mekaar! Hier trek ons nou by hoofstuk 24 van die pyne. Maar nou net gesels ek met my vriendin en ek wil huil saam saam met haar oor die grootste pyn in haar lewe tans: Moederskap! Ja, ek weet ons moeders het soveel om voor dankbaar te wees en ons mag nie kla nie, maar wragtig! Kinders! Ja, die dierbare bloedjies wat ons gebaar het met pyn en lyding en vir wie ons enige dag ons lewe voor sal aflê, kan naas mans seker die meeste pyn vir ons moeders veroorsaak. En ja, ons bring dit oor onsself... ons en ons skuldgevoel, en ons oordadige liefde, en die feit dat ons so graag superma’s wil wees wat ons kinders die waarhede van die bose lewe wil leer, voor hulle dit self aan hul bas voel, of voor hulle hul eie lewens en dus ook ons lewens vernietig. (Ek praat nou baie lighartig want ek weet soos ek hier sit van my vriendinne met soveel pyn oor moederskap omdat hulle kinders verloor het. Ek weet dis erger as enigiets wat ek hier oor skryf en ek is jammer as ek lighartig oorkom.)

Vir voornemende of jong onskuldige ouers wil ek graag bietjie raad gee, so uit die woonkamer van Mev. Doeminie. Myself het nou net drie kinders: die (special needs) breingestremde agtienjarige wat sy lewe lank 2 gaan bly en hopelik binnekort sal leer om te poef in die toilet! En dan twee pragtige (special needs!) werklik oulike, volwasse tiener dogters (14 en 16).

(Op die foto is my ma, Alta, wat ons met liefde oorlaai het, sonder 'n dag se klagte of sonder om

ooit haar eie drome te verwesenlik. Sy was altyd daar vir ons, geen offer was te groot nie. Ek verstaan dit vandag eers met my eie kinders. Ek kla natuurlik soms maar is so lief vir die goeters dat ek maar kla met so bietjie trots!)

Ma’s is van geboorte af geprogrammeer om hul kinders te versmoor met aandag, liefde en simpatie. Jy sal 'n leeu aanvat, jou man aanvat, die onderwysers aanvat – enigiets wat hul rustige bestaan bedreig, want jy kan nie help nie, dit is in jou. En terwyl jy nog jou huilende bloedjie kan optel en wegdra, is alles oraait. En terwyl jy nog die klere kies en kos en beddegoed, is alles oraait, maar as daai klein mensie hul eie wil en stem ontdek is jy in jou m@$r in. Van daardie dag af, het jy geen mening meer nie, want dit is nie welkom nie. Al wanneer dit welkom is, is wanneer jy moet sê hulle lyk mooi, fantasties, ongelooflik maer en werklik sexy! Ook dan dink hulle jy oordryf, al dink jy sowaar hulle is die mooiste goed wat leef. Jy i smos net die ma - dis jou werk om vir hulle mooi goed te sê sal hul jou toesnou - en ander klere gaan aantrek...

Kyk, so lief as wat 'n mens 'n kind het, so wil jy hul verdomp wurg as hulle hul tienerjare bereik en alle grense van beskaafdheid en ordentlikheid oorboord gooi om hulself te vind in die uitdagende wêreld van die volwassene. Dis omtrent in hierdie tyd wat jy besef al die tyd energie en geld en liefde wat jy op hul gestort het, is jou eie skuld en jy het dit mos uit liefde gedoen, so moet nie iets terugverwag nie.

Want sien, 'n ma mag nie 'n persoonlike mening hê nie, want dit suck, 'n ma mag nie persoonlike uitlatings maak nie, veral nie as dit die waarheid behels nie, 'n ma mag nie OOIT nie, vir jou vertel van 'n puisie wat ryp is op jou gesig of 'n rok wat te kort is of BEHOEDE my, van 'n rolletjie om die heup of die boud of waar dit ook al uitpeul onder 'n te stywe broek nie. Jeans kan nie te styf wees nie of te laag sit nie... of te nou wees nie... - aldus die tieners.

'n Ma mag net komplimente gee want selfs al sou jy met stotterende eerlikheid en sweet wat jou aftap en met sagte woorde jou kind probeer keer om uit te gaan met daardie stywe dingetjie wat alle rolle beklemtoon, dan is jy verkeerd. “So, jy sê ek is te vet?” Nooit nooit nooit mag jou kind 'n slegte selfbeeld kry oor jy raad gee nie.

Jou werk is net om selfbeeld te bou! En sou jy in 'n oomblik van waansin en moedeloosheid en woede die kind iets toesnou soos: “Hoe kan jy dit vir jou broer/suster sê? Dis vieslik!” Dan word die woorde geinterpreteer: “Jy is vieslik. Alles aan jou is vieslik. Ek wens ek het jou nooit gehad nie!” Al antwoord wat jy dan kry is 'n deur wat toeslaan.

Ek wil vir jou sê, onskuldige ma van klein kinders, dat moederskap die ondankbaarste ding is wat jy ooit sal doen. En nee, jy is nie opgewasse nie. En ja, jou hele lewe draai om hierdie kinders wat jy so lief het, wat jy so wil help met elke seerkry, met elke teleurstelling. En al is dit hoe seer, jy sal dit weer en weer doen as jy jou lewe oor kan hê, want as jy eers 'n ma was, dan weet jy wat is liefde, opoffering en trane. En moenie dink jou man gaan dit insien nie... mans oor die algemeen saljou vinnig vertel dat dit jou opvoeding en versmoring en oorbeskerming is wat die kinders so maak... dit het niks met hormone, televisie, groepddruk of Lady Gaga te doen nie.

(Op die foto is ek en my vriendinne 'n paar jaar gelede, almal ma's wat al so baie sakke sout so saam met die Bybel onder die arm moes opeet, om te kan oorleef, met ons kinders se siektes, groeipyne, mislukkings, oorwinnings, vrese, drome, en ongelukkig selfs die dood van kinders. 'n

Ma se enigste troos, hulp en verstaan op aarde is haar vriendinne. Ek dank God vir my ma-vriendinne wat my huil en my lag verstaan.)

'n Ma vertel my nou die dag dat haar kind in die tronk sit, as gevolg van haar. Hy het haar rot en kaal gesteel vir sy dwelmgewoonte, totdat sy als probeer het en later teen hom in die hof moes getuig. Wie kan verstaan dat sy dit uit liefde gedoen het, behalwe 'n ander ma?

'n Paar ander ma’s vertel my hoe hul kinders hul lewe op drank en los seksuele verhoudings weggooi. Ek praat van oulike kinders van in die twintig en dertig. Die ma’s huil soos hul my vertel van hul bekommernis en van hul pyn vir hul kinders wat op hul oudag gaan agterkom hulle het hul lewe weggegooi. Sy mag nooit inmeng nie, en as dit gebeur is sy die alewig negatiewe een wat nooit iets goed kan glo van haar kind of dié se drankverslaafde vriendin/vriend nie. Hoe kan 'n ma wat 'n leeu sal aanvat om haar kind te beskerm, net sit en toekyk hoe bietjie poeier (dwelms) of onskuldige bottel brandewyn haar kind se lewe vernietig? Ja, ons bid natuurlik. Maar die Here hou ook nie 'n towerstaf vas wat hy swaai net as jy bid nie. Die kind moet self 'n wil hê om sy/haar lewe reg te ruk. Wie moet die kind vertel hy’t ‘n probleem? Die tronkbewaarder? Nee, die ma, wat dan outomaties die vark is, en ja, negatief oor alles in die lewe is.

(Op die foto is my pa Josua en sy tweelingbroer Stefaans. Ek het veral respek vir ma's met tweelinge!!)

Behalwe vir die kinders, moet die ma ook altyd die verhoudings in die huis probeer kalm hou, niemand weet van haar ure se gebed, wakkersit, skuldgevoelens, kommer, trane en kop-redenasies wat haar mal maak, want sy sien wat gebeur, meer as die pa, en sy weet wat gaan kom. Want, ons vrouens het 'n sesde sintuig en ons ken ons kinders se harte, ons weet hoe seer die lewe kan maak, maar ons mag nie inmeng nie.

Ek wil net vandag vir alle ma’s sê: God het ons so gemaak, dat ons moet inmeng, met liefde natuurlik, want ons het die Heilige Gees se rol in die kleine gekry: vertrooster, bemoediger,

raadgewer en die een wat sagkens leiding gee. Iemand het eenkeer gesê dat die woord vir helper wat God vir Eva gegee het in die begin, is dieselfde as die woord waarmee die Heilige Gees ook beskryf word.

Die Heilige Gees tree vir ons in by God met woorde as onsself nie woorde het om ons pyn of behoefte mee te beskryf nie. Dis wat 'n ma doen: ons tree in by God as ons kinders/mans met krom en skewe woorde (of skelwoorde) na ons toe kom en ons liefde in ons gesig teruggooi. Feit is, hul verstaan nie hul eie onvermoeë of behoeftes of verdriet nie, en nou reflekteer hulle dit op ons – so ons kan of kies om dit persoonlik te vat en ons oë uit te huil, of ons kan kies om dit net so aan die Heilige Gees oor te dra, sodat Hy dit in die regte woorde/intensie kan oordra aan God. Want, raad het ons nie.

Toe jou eerste ellendige klein bondeltjie-mens sy/haar koppie op 'n ongemaklike plek uitgedruk het, en ons oombliklik ewige liefde en beskerming gesweer het, het ons nie tussen die nageboorte 'n klein handleiding gekry met al die antwoorde oor hoe om kinders groot te maak in 'n onvolmaakte wêreld nie. Ons het nie 'n direkte twitter-lyn hemel toe om ons te help met ons probleme, skuldgevoelens en vrese nie. Ons het net 'n wêreld vol probleme wat ons (met die

beste van ons vermoë en met baie kritiek van ons mans en raad van Oprah en dr. Phil) kan probeer hanteer soos dit kom. Paty lyk dalk of hul dit makliker regkry, maar glo my, as jy 'n ma is dan wroeg jy in jou eie ellende voort en bid dat jy krag kry om elke dag te oorleef of dat jou kinders jou oorleef.

Maar ek glo hierdie ding WERKLIK: Jy is die beste ma wat daardie gebroedseltjie kon kry: al is jy vol twak, oormatige liefde, onbeholpe beskerming en vrot raad. Al is jy vol stupid skuldgevoelens en hartseer trane en oordadige simpatie, en al trek jy oudmodies aan en maak geluide as jy gaap, en trek een kind kwansuis voor, en jok blykbaar as jy sê jou dogter is mooi en al sê jy in 'n bloedige geveg dat jy party dae lus het en vlug die berge uit. NIEMAND op hierdie aarde sal jou kinders ooit so liefhê soos jy nie. Niemand op hierdie aarde sal hul nonsens so lekker kan opvreet soos jy nie. Niemand sal ooit vir hulle so kan bid soos jy nie. Niemand sal hul ooit so kan verstaan soos jy nie. En ja, die tragiese is, eers as hul self groot kinders het sal hul hierdie dinge verstaan.

Die oumense sou maklik vir iets ouliks en dierbaar soos 'n klein baba of diertjie sê: Moederliefde tog! Dis egter nie 'n woordjie wat ek so ydelik sal gebruik nie: dis 'n swaar woord, gelaai met baie liters intense trane van pyn maar beslis ook van vreugde; liters trane wat ons weer en weer sal drink as ons 'n keuse het, want wonderbaarlik, het die Here vir ons vrouens die hart van 'n leeu gegee, die vel van 'n renoster, die grasie van 'n swaan en die broosheid van 'n konyn. (Party het wel die boude van 'n olifant ook gekry, maar dit is 'n heel ander hoofstuk daardie!)

(Op die foto is my pa, Josua, sy tweelingbroer Stefanus, hul sus Mariska, hul ouer broer Chris en hul pa se suster Peggy wat hul moes grootmaak want my ouma is dood met die tweeling se geboorte. My hart breek vir die kinders wat so sonder ma moes groot word. en vir die pa wat al die lief en leed alleen moes hanteer. 'n Ma is net 'n liewe ding wat onmisbaar is vir 'n kind.)

Hierdie liefdesliedjie van Ronan Keating is waar van 'n ma (en van God) se liefde. Lees dit bietjie uit 'n kind se oogpunt wat vir sy ma dit sê en vat dit vir jou asof jou kind dit vir jou sê (al sê hul "nothing at all"):

You say it best, when you say nothing at all

It's amazing how you can speak right to my heart
Without saying a word you can light up the dark
Try as I may I can never explain
What I hear when you don't say a thing

The smile on your face let's me know that you need me
There's a truth in your eyes saying you'll never leave me
The touch of your hand says you'll catch me wherever I fall
You say it best, when you say nothing at all

All day long I can hear people talking out loud (oh…)
But when you hold me near (oh, hold me near)
You drown out the crowd (drown out crowd)
Try as they may, they can never defy
What's been said between your heart and mine

The smile on your face let me know that you need me
There's a truth in your eyes saying you'll never leave me
The touch of your hand says you'll catch me wherever I fall
You say it best, when you say nothing at all…oh


Nou, as jou ma nie so is nie…

As jy tot hiertoe gelees het en jou ma is nie so nie – jou ma kan niks goed van jou sê nie en sy verkleineer jou en vind fout met elke ding wat jy of jou man doen, of sy trek een kind van jou voor en verkleineer die ander, of sy wil jou lewe vir jou lei, dan kan ek die storie vertel. (Ek wil net sê dat dit soms so is, dat jou arme ma weens omstandighede en dinge wat kleintyd met haar gebeur het, nie kan liefde wys nie, maar net kritiek, hoe weet mens hoekom sy so is…?!?) My ander vriendin wat dalk nie genoem wil word nie, vertel op haar 50ste verjaardag nou die dag dat sy as baba aangeneem is. Sy wonder haar lewe lank waar is haar regte ma, hoe lyk sy, hoekom het sy haar weggegee, hoekom soek sy nie na haar nie, hoekom probeer sy na al die jare – as sy nog leef, nie kontak maak met haar nie? So baie vrae… Sy sê sy kon die nag voor haar verjaardag nie slaap nie want hierdie vrae spook by haar, veral noudat sy al 50 word. Sy gaan lees toe maar Bybel en slaan die Bybel oop op ‘n plek en haar oog val op hierdie teks: En dit, my liewe vriendin of vriend, is vir jou, as jou ma jou emosioneel of fisies weggegee het en nie omgee nie… Vir God is jy sy kosbare kind.

Jes 49:15: Kan ‘n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie. Ek het jou naam in my handpalms gegraveer…

My pa se ouer suster, tannie Mariska (85), skryf vir my 'n briefie vandag, so hartseer, oor my pa en sy tweelingbroer se geboorte - baie baie jare gelede. Dit het my aan die hart geruk. Sy was drie en haar ouer broer Chris was 6 toe die tweeling gebore is. Hul ma is toe weens nierversaking oorlede met die geboorte en hul pa was tot op die ouderdom van 75 sonder die vrou aan sy sy wat al die kinders se pyne en emosies en behoeftes en plesiere saam met hom moes deel. Die een mens sonder wie 'n kind nie kan leef nie. Hul tannie Peggy het ingestaan vir die versorging, maar die verlies aan jou eie ma, kan geen kind seker oorvertel nie. Ek wil dus maar weer sê: Wees so dankbaar as jou ma nog lewe. My ma sou nou in September verjaar het, maar
sy is 14 jaar gelede oorlede. Ek mis haar liefde, haar raad en haar omgee, so baie.

(Op die foto is my oupa wie se vrou dood is die dag toe die tweeling gebore is - Josua en Stefaans. Hy moes ook ma speel, 'n rol wat vir enige pa so moeilik is, maar tot op 75 het hy sy taak volgehou, met die hulp van sy sus wat haar lewe opgeoffer het om die ma se rol te speel vir die kinders.)

Monday, September 5, 2011

DIE PYNLIKE DOG BLOEDIGE GEBOORTE VAN SUPERWOMAN

Mevrou Doeminie se Annus Horribilis woeker voort in 2011 en moet nou weer 'n intense selfondersoek deurgaan in hierdie 23ste hoofstuk van my blog. Nadat ek en my liewe man, Anton, 'n helse geveg deur is die week (Ek skat dit was 'n 9.5 op die rigterskaal!) ontdek ek weer 'n dieper en donkerder kant van my lewe. Dit is iets wat my met oorlewing gehelp het tot op hede, maar wat my ook gaan vernietig as ek nie briek aandraai nie. Ek het agtergekom dat ek aan die Superwoman-sindroom ly. Nou ja, vir die oningeligtes wat nie weet wat my gekloonde woord beteken nie, gaan ek nou die derms uitryg.

My ma was die ewige dienaar. Sy het almal en alles gered en gehelp en versorg ten koste van haarself, so, my sindroom is dalk bietjie oorerflik en nie alles my eie skuld nie! Ek ontmoet vir Anton op Universiteit en besef dalk onbewustelik dat ek hom moet red: sy kar het nooit petrol in nie, en ek moet hom met my Mini lifts gee van bakboord na stuurboord. Ek sorg selfs soms dat hy veilig tuiskom na 'n woeste party (wat self 'n tien op die rigterskaal kon stoot!). Maar my verliefdgeit het dalk gesorg dat ek dit as heel normaal en deel van my lewe gesien het. Later (toe ons nog jonk getroud was en onbesonne) sou ek ook sy aan en af drinkery wegpraat of verdedig of goedpraat of wegsteek want ek moet hom red van 'n slegte naam dalk? Hy was immers 'n jong en dinamiese ingenieur oppad boontoe. Later is ons seun, Sean-Jacques, gebore en voor ek my kon kry is hy 15 maande en platgetrek met 'n virus wat hom los met ergere breinskade. (Op die foto is ons gesin so paar jaar gelede, 'n goeie 15 jaar na Sean se breinskade.)


In die hospitaal sê die fisioterapeute: Dit hang van die ma van 'n breingestremde kind af in hoe 'n mate die kind se brein weer gaan herstel of nuwe bane vorm. Ek dink hier is die Superwoman werklik gebore. Ek gooi my alles in om die kindjie te oefen en reg te kry. Ek is swanger met Michelle, maar ek werk my dood in die dag (van 8uur tot 8 uur) om elke spier van sy pap lyfie te probeer oefen en te herstel. Saans is ek hondmoeg en sit wakker omdat ek bang is Sean gaan dood in sy slaap – nie dat hy ooit eintlik geslaap het nie. So gaan dit aan vir jare en jare. Ek is naderhand byna mal van bekommernis oor hy weer 'n stuipe aanval kan kry en doodgaan of oor hy dalk nie gaan regkom nie. Ek het daardie tyd net vir die Here gevra: Ek kan nie meer nie, ek soek vrede! Ek het elke dag gehaat wat ek dieselfde oefeninge oor en oor moes doen want van vordering was daar baie min sprake. Dit het bietjie vir bietjie gebeur en soms nie. En intussen probeer ek Michelle beskerm (en later Chantal) van mense se aanmerkings oor Sean of hul ophef oor Sean wat so oulik en dierbaar is en so mooi vorder. Hulle twee het nooit so baie aandag gekry nie, want die gestremde enetjie wat nooit grootword nie, kry alles. Amper soos 'n nuwe baba in die huis, maar hy bly altyd nuut. Hy bly altyd 'n baba. En as familie of vriende kom kuier, dan oooe en aaaa hulle oor hy so oulik is. Ek moes omtrent my meisies voorstoot en met hul spog om hul te red van verwerping. Want sien, ek moes mos sorg dat hul selfbeeld ongeskonde bly en dat hulle 'n relatiewe normale grootword gaan hê en nie met verwerping sukkel nie. Of nie sukkel met die

tipiese ding van 'n breingestremde in die huis: jou huismense raak skaam vir die lewe en vir die gestremde se snaakse gedrag in die publiek en raak al hoe meer kluisenaars. Of hulle raak al hoe meer afgeskeep want ma en pa gee heeltyd aandag aan die gestremde omdat hy soveel verg en die ander in die huis voel afgeskeep of onbelangrik. Ek kan vandag sê dat ek pragtige dogters het wat goed aangepas is en eintlik as gevolg van die gestremde in die huis heeltemal te volwasse is vir hul ouderdom. Dit is 'n goeie ding.

(Op die foto is ek en Anton toe hy nog in die weermag was en ek hom nog van homself wou red het! Ek dink ek het op die ou einde!) Toe ek eenkeer 'n vrouekamp bygewoon het van ons kerk, het ek vrede gevind wat die daaglikse 8 tot 8 oefening-ritueel aanbetref. My man het mos 'n motto: 'n Mens doen wat jy kan en mens gee wat jy het. Ek het besef dat my gestremde kind se redding en herstel nie van my afhang nie maar van God alleen. Vir Sy geliefde gee Hy dit in sy slaap het ek besluit en begin om my meisies (en Sean) meer te geniet en lekker goed te doen, soos buite stap, by die dam te gaan sit of dieretuin toe te gaan: eenvoudige goed wat natuurlik baie energie verg met die gestremde enetjie saam maar wat ek stadig en met so min moeite probeer aanpak as moontlik. Selfs winkels toe gaan was 'n missie. Ek het met Sean op die rug in 'n rugsakkie gestap, met een kind in die winkeltrollie se sitplek en een in die trollie se laaiplek. 'n Vrolike groepie.

Omdat ons verhouding met Christus meer intens geraak het met ons gestremde kind saam, begin ek toe wonder hoekom mense nie meer in hul gesinne oor Jesus praat nie. Dis mos net 'n kerkding meen almal. Ook in my grootwordhuis is daar min oor ‘diep’ sake gesels. Toe begin ek werk aan 'n Christen bordspel, Kruispad, wat die gesin rondom Jesus se woorde en dade gaan saambring. Ek het gedink: Ek en die Here gaan hierdie ding doen. Ons gaan uiteindelik gesinne rondom die Woord bymekaarbring en hierdie speletjie gaan nog wêreldwyd opslae maak omdat dit so lekker en eenvoudig die Bybelse waarhede by die gesin tuisbring. Ek gaan die wêreld mos nou red. Na 'n paar jaar se navorsing, harde werk (so tussen die kinders se kleuterjare deur) en baie bloutjies wat ek met uitgewers en drukkers geloop het, het ek die spel self finansier, laat druk en begin bemark – met die kosbare tyd wat ek gehad het tussen die kinders se versorging en voorskooljare deur. Groot gesukkel en groot teleurstelling in die wêreld wat ek nie kon red nie. Ek sit nou nog met speletjies in 'n stoortjie al het ek regtig probeer woeker, hoor. Ouers stel blykbaar min belang om met kinders oor Jesus goed te praat of te speel.

So gaan my lewe voort. Op skool probeer ek my kinders red van aaklige onderwysers of situasies waar ek dink hul word onregverdig behandel. Anton gaan studeer voltyds Teologie en ek moet die huishouding red van ondergang, besluit ek. Ek moet sorg dat ons kos in die huis het. Ek doen poppeteater wat bietjie geld inbring, en hou Survivor partytjies op die plot wat bietjie geld inbring. Ek verf muurskilderye vir mense wat bietjie geld inbring. Ek laat ons wonderbaarlik oorleef met die minimum, want ek moet die redder wees. Een ding moet ek van myself sê: ek het besluit om nie 'n werk te doen wat my energie steel nie. Energie was een ding waarvan ek min gehad het en as ek in 'n 9-5 job moes sit en 'n baas se nonsens opvreet, sou ek lankal Groendakkies se hoofdogter gewees het! My redding was (en is waarskynlik steeds) dat ek doen wat my gawes is en daarmee werk en weet dat die Here op een of ander manier die geld inbring vir kos en klere en meer.

So gaan my lewe aan. Ek skryf vir 'n tydskrif, Vonk, artikels oor meestal sukkelende kunstenaars, want ek moet mos hul loopbane en selfbeeld red. En ek is goed hiermee wat ek skryf 'n prentjiemooi storie van elkeen soos ek hulle sien. Ek skryf my boek Wee Monk’s Tale, the Secret of Immortality want ek en die Here moet die mensdom red van onkunde oor die Bybelgeskiedenis en van die demoniese rolprente wat vir ons kinders opgedis word. Die boek hou my besig vir 'n paar jaar, want dis navorsing, skryf, oorskryf, foute regmaak, laat proeflees, uitgewers soek, drukkers kry, naderhand maar self uitgee, want ek moet die wêreld se kinders red al glo min ander in my boek of gawe. Ek en die Here gaan dit doen.

Ek gryp in as ek dink my man word mishandel deur die Tradisionele kerk se Mafia-bestuuspan, want ek moet red. Nou nog sal ek my man wil reghelp as ek dink hy hanteer iemand of 'n situasie verkeerd, want ek moet hom en daardie ouens beskerm. Ek moet die kinders beskerm as ek dink hul kry nie genoeg aandag van Anton nie, ek moet worry oor ons finansies wat wie gaan dit red as ek dit nie doen nie? Tot nou toe het my reddingswerk dalk goeie vrugte afgewerp, maar ek moet nou besef ek kan nie meer red nie en my pos as redder bedank, want dit maak my mal, vreesbevange en neuroties.

So, ek het nou besef ek kan nie meer red nie. Ek kan nie eers my kinders of my man of die wêreld red nie. Ook nie vriende wat hulself vernietig met wat ook al nie, ook nie die hele arm bevoling wat nie kos het nie, want ek kan nie. Die Here kan uit klippe mense voortbring wat sy werk kan doen as my energie op is. Die Here gebruik ander om te help as ek nie meer kan nie. Want Hy is in beheer, nie ek nie. Dankie tog.

Ek probeer nou ontspan oor dinge waaroor ek nie beheer het nie. Laat God’s water oor God’s akker loop. Dit is nie elke dag so maklik nie. Dis net 'n verligting, dink ek. Ek moet minder doen en God meer toelaat om sy eie ding te doen. Of dit is wat ek wil hê of nie. Of my vriende daarvan hou of nie. Ek moet hierdie jaar na myself kyk en dit rustig vat. As ek dus minder energie het vir ander se probleme, is dit goed so. Ek beteken vir niemand iets as ek uitbrand nie. Ek het byna uitgebrand. Nou red ek maar weer: ek werk aan ons Kuierkerk se kinderkerkstelsel. Ek werk 85 lesse uit oor drie jaar. Dit gaan oor die boeke van die Bybel. Ek kan dit maklik doen, want dis my gawe en my ervaringsveld. Ek skryf nog my storietjies vir e-jongspan (www.ekerk.co.za) en as ek agter raak, so be it! Die wêreld gaan nie vergaan nie. My 200 boeke wat ek self laat druk het, is goed genoeg vir die 200 mense wat ek dit al voor gegee of verkoop het. Die feit dat ek nie 'n sent geld maak met enige skryfwerk wat ek doen of ooit gedoen het nie, is nie my probleem nie, want dis koninkrykswerk. Dis die Here se probleem of ons oorleef met Anton se salaris. Ek is nie 'n normale 8-5 werker nie, ek is 'n sendeling in my wese, neem ek aan: iemand wat met die Here se goed besig is, en Hy sal vir my sorg. Ek doen dit nie oor ek so heilig is of oor ek iets wil bewys nie, ek doen dit want ek wil. My leuse in die lewe is inlig, opvoed en vermaak. Dis hoekom ek ook die Bybelse plays skryf vir ons gemeenskap. Laat die wat dit wil kyk, kom kyk, die ander kan maar deur die 'opgewekte klippe' gered of ingelig word. Net verlede naweek vertel 'n ouerige en nog effens tradisionele egpaar vir my dat hul elke show van my gesien het en elke keer verwonderd is oor hoe ek die hedendaagse musiek inspan om God se woord te verkondig. Ek waardeer sulke mense intens.

Ek moet net nie begin wonder hoekom sien ek nie die ‘sukses’ van enigiets nie: God doen wat Hy moet doen om mense te red. En ek glo hy gebruik my klein pogings. Ek moet net nie oor die sin van alles te begin wonder nie. Dan word ek mal. Ek hoef nie die perfekte man te hê of perfekte kinders groot te maak nie of die perfekte gelukkige (volgens my) gesin te hê wat in 'n perfekte wêreld gaan instap nie. Geniet wat jy het en wat jy doen. Wees minder krities op jouself. Hou op redder wees. Dis Jesus se werk. Dankie tog.

So nou en dan gebeur iets om my te herinner die Here is besig: soos toe ek in die Pick and Pay loop eergister en 'n nie-blanke werker van die winkel kom na my toe. Hy sê: “Good morning, mrs. Van Zyl.” Ek is dadelik verdag en wonder wat soek hy van my en sê nie te vriendelik nie: “Goeiemore...” (want hoe op aarde ken hy my van?) Hy sê: “I want to tell you that I have read your book. I work with the kids in my township. We play soccer and I have meetings with them and we talk. And your book has inspired me very much. Have you finished the next one?” Ek is verstom en vra waar hy dit gekry het. Toe sê hy by sy baas se vrou.

Nou ja toe. Die Here doen wat Hy wil met wat jy vir Hom doen. Moenie verder worry nie. Ek sal probeer vir die volgende 50 jaar van my lewe. Gaan ek dit regkry? Who knows? Die ander opsie is om jou dood te bekommer oor alles: die kinders, hul toekoms, jou opvoeding van jou kinders, jou huwelik, jou man, jou vriende, jou geldsake. My vrese sal my mal maak, want ek dink in prentjies en dis nie mooi as dit met vrees gevul is nie. Ek is nie superwoman nie, ek het vroeër so gedink maar dit was in 'n ander lewe. Onthou jy nog die liedjie met die wyse woorde: Que Sera, Sera (Whatever Will Be, Will Be)

Que Sera, Sera

When I was just a little girl
I asked my mother, what will I be
Will I be pretty, will I be rich
Here's what she said to me.
Que Sera, Sera,
Whatever will be, will be
The future's not ours, to see
Que Sera, Sera
What will be, will be.
When I was young, I fell in love
I asked my sweetheart what lies ahead
Will we have rainbows, day after day
Here's what my sweetheart said.
Que Sera, Sera,
Whatever will be, will be
The future's not ours, to see
Que Sera, Sera
What will be, will be.
Now I have children of my own
They ask their mother, what will I be
Will I be handsome, will I be rich
I tell them tenderly.
Que Sera, Sera,
Whatever will be, will be
The future's not ours, to see
Que Sera, Sera
What will be, will be.

Thursday, August 11, 2011

DIE VETGEMAAKTE KALF WORD GESLAG!

Hierdie lyk soos die 22ste hoostuk van die spannende lewe van mev. Doeminie en haar Annus Horibilis. Geen blog in my lewe is volledig sonder hierdie hoofstuk nie. Dit is op sy eie 'n tema wat elke jaar horribaal maak, vir mev. Doeminie en ek is seker vir miljoene vroue wêreldwyd. Die kwessie van flippen vet! Die mans wat DALK hier lees, kan maar ophou: hierdie is 'n vroue-ding en is nie sodanig geestelik nie. Julle mans sien mos 'n sexy ou in die spieël al lyk julle hoe oorgewig of sleg. Ons vrouens sien net 'n dik trol voor ons in die spieël met dik boude en 'n dik pens en 'n krom neus. Ek glo dat net tydens die romantiese Middeleeue toe vet vrouens nakend geskilder is en dit seker toe hoogmode was, was hierdie ding aanvaarbaar vir vroue in die samelewing. Maar met Hollywood, Bollywood, Hellcats en ander cheerleading movies, en Desperate Housewifes en Melrose Place, en elke soapie wat jy aan kan dink, selfs 7de laan, is die dik enetjie die lelike enetjie, al is sy hoe mooi, slim en bekwaam, want ons dink al nes Hollywood.
(Op die foto is my sus Esmé en sy stoot my klein dik baba-lyfie in 'n pram rond.)
Van ek maar kan onthou, as derde dogter in die gesin, voor die vierde kind, 'n seun (die kroonprins) nog gekom het, was ek die groot baba! Ja, ek was drillend vet en so oulik. (Op hierdie foto is ek mooi aangetrek vir 'n fotosessie as baba.) Ek was later die lang lomp ene, die tomboy (want sien, meisieklere het nie lekker gesit nie – net seunsklere kon om my heupe kom en het seker genoeg verberg van wat ek gedink het vet was!) En nee, ek was as kind nie vet nie, kan ek vandag met eerlikheid sê! Maar ek was langer as my twee ouer susters en my ma het in haar wysheid en liefde my probeer troos deur te sê ek is net groot gebou en ek het 'n growwe beenstruktuur! My ma het nie geweet my verbeelding was net so groot nie en dat hierdie woorde my in 'n reus verander het nie, een wat my die res van my lewe soos 'n groteske skaduwee sou volg nie. Om sake te vererger was my een suster, Elsa, nog boonop ’n kranige balletdanser en het selfs aan 'n modelkompetisie of twee deelgeneem. My ander sus, Esme’ was lekker kort en het te pragtig in 'n skinny jean of bikini gepas. In daardie dae was daar nie vreeslik baie televisie nie, so ek kan nie my dik selfbeeld aan iets anders koppel nie. Ja ek was besotterd op The New Avengers en Purdey met haar wilgerlatlyf wat kon fight soos geen vrou in die geskiedenis nog nie! Ons almal wou mos toe Purdey haarstyl gehad het. Dit was so bob-bakkie om die kop tipe styl. Ek het dit ook probeer met my kroeshare en dis my ander rede tot swak selfbeeld tot vandag toe nog! (Ek moet dalk maar gaan vir berading, noudat ek daaraan dink, voordat ou Griekie Galbraak hier binne in my weer begin brom.) En boonop was byna alle meisies op skool heel paslik skraal en kort en hul hare het nie gekroes nie!
En die feit dat my kleiner broer Josua met wie ek 'n Dawid en Jonathan verhouding gehad het, my elke keer ‘ou vetgat’ of ‘dikkes’ noem as ons baklei, het ook nie gehelp vir 'n goeie selfbeeld nie. Op Universiteit was ek baie aktief met muurbal, onderwater hokkie en kaskar ry vir my koshuis en sokkie. Ek was super-sokkie-fiks. (Op die foto's links en regs is ek op universiteit tydens 'n staptoer en 'n dinee - met my man Anton. Ek het toe gedink ek is dik en sou altyd iets voor my vet maag probeer voorhou op 'n foto!) Ek was in 'n dames dorpskoshuis (jy studeer uit jou huis maar is deel van 'n ‘koshuis’ in naam) en daarom was ons trapkar spanne klein (mense onbetrokke) en moes jy meer rondtes ry as die ander koshuise waarvan daar tientalle ryers opdaag! Ek het byna elke vakansie op staptoere gegaan. Ek was in goeie kondisie maar het gedink en is oorgewig. Na my troue en drie kinders wat gevolg het moes ek maar veg teen die skaal om die swanger gewig telkens af te bring... en nooit regtig geslaag om weer te kom by my universiteitlyf nie. So word liggaamsbeeld nog vrotter. Elke keer probeer mens maar ’n nuwe dieet, oefen bietjie (ek hou nie juis van oefen nie!); jy verloor bietjie maar die vetjies om die middel bly maar dik sit. Ek het al dinge probeer soos daardie elektriese kontrapsies wat hulle op jou sit dan trek dit jou spiere so styf dan word dit so geoefen (ja, het gewerk toe dit moes maar was soveel moeite!) en ek was al gewrap – selfs deur my eie vriendin wie se naam ek nie mag noem nie... sy het so tuisgemaakte chilli-pepper mengsel op my vel gesmeer en my naakte liggaam met plastiek toegedraai, maar minute later is ek so aan die brand dat ek net so in die kar spring en huistoe jaag om te stort – en dit toe net vererger. Die vriendin, kom ons noem haar mev. Chilli, is verbied om ooit weer aan my liggaam te vat in hierdie lewe en die volgende! Ter verdediging wil ek net sê dat ek nooit tot dade oorgegaan het soos verslankingsmiddels gebruik, of vinger in keel gedruk of gevas nie en veral nie ge-weighless nie, want soveel kos kan geen mens laat gewig verloor nie (so dink ek mos)! Die ergste wat ek gedoen het, was asynpille drink toe dit mode word, maar ek was so hardlywig dat ek dit na 'n week moes staak. (Op die foto is ek -na universiteit - op 'n besoek aan Anton wat met sy eerste weermagjaar besig was.)
En hier sit ek plomp in die veertig met 'n skildklier wat nie saamwerk nie en 'n metabolisme so stadig soos 'n kreupel skilpad. Op my oudag probeer ek dikwels weer diëet of reg eet, maar gewig verloor ek nie. En met my 2010 Annus Horribilis en die groot spanning en pyne van die Tradisionele kerk-rugsteek-komplot en my droom-vernietigingstoer na die London boekskou (hiervan kan jy lees op 'n ander bloginskrywing as jy nou so agter is en nie weet waarvan ek praat nie!) – toe sit ek in een jaar tien kilogram aan. Ag dis maklik. Jy steur jou net nie aan wat is gesond en wat nie, jy gee vrye teuels aan eet en jy het geen krag vir oefen of bene in die lug sit in die gim waar al die goeie kerkmense heen gaan nie. En jy drink liewer rooiwyn as water as daar gebraai word! En daarby moet ek sê – ter verdediging - dat depressie self ook swaar weeg. Mens dra swaar daaraan en dit vat al jou energie. Ek is seker dit weeg ook ten minste 10 kg op sy eie!
En wat help dieet, wonder ek tog? Jy eet minder en mooier, lyk goed vir 'n rukkie en blaas op soos 'n blaasoppie sodra jy stysel en suiker terugbring in jou dieet. Of in my geval as jy net dink daaraan! Dit was my lewenspatroon en daar sit ek toe met my plompe self, en die laaste paar pogings tot minder eet het niks gehelp nie. Wat ook teen my tel is my O-bloedgroep, besluit ek want net hierdie groep moet “Excersize vigorously”. Kan jy glo, die ander bloedgroepe moet ligte oefening doen en joga! En ek hou Niks van oefening nie. Ek dwing myself om op die plot te loop. Ek is amptelik te oud vir gewig verloor besluit ek. Ek beplan om al hoe dikker te word, tot ek so dik is dat hul my nie meer uit my bed of by die deur uit kan kry nie, soos daai vrou in die fliek: What’s eating Gilbert Grape. En as ek sterf moet hul die huis om my afbrand want dit lyk na die goedkoopste opsie! (Op die foto is ek en my vriendin Atha in Rome, toe ons en ons manne daar getoer het in 1988 ek dink? Al het ek shorts gedra het ek altyd gevoel ek is dikker as almal om my. En ek moes koel goed dra want ek kry mos maar altyd warmer ook as almal om my!)
So gaan ek toe vir my jaarlikse check-up dokter toe. My cholestrol en insulien en wat als toets bietjie hoog (geen verrassing vir my nie!) en die dokter kyk my plompe self so en besluit ek moet maar dieetkundige toe. Bla bla bla! Dink ek. Ek kan die dieetkundige iets vertel van eet en dieet. Wat de hel kan sy my leer wat ek nie in 45 jaar geleer het nie? Maar daar gaan so baie mense om my dood aan hartaanvalle, beroertes en wat als, dat ek besef ek moet nou iets aan my eie gesondheid doen, ek is nie meer jonk nie. So kom ek toe uit by die maer jong vroutjie in 'n onindrukwekkende kantoortjie in Brits. Sy gee my so 'n stabiliserings dieet vir die eerste week: iets soos 'n eier, koppie outs pap en vrug in die oggend en vir middag en aandetes hoender of vis met groentes/slaaie. En so ewe 'n vrug tussen etes en laataand. En geen koffie of tee want kafeïen is gif. Bla bla bla. Net 8 glase water per dag plus nog twee. Ek sê vir haar dis te veel kos. Ek gaan gewig optel. Ek weet. Ek ken my lyf. 4 Vrugte per dag? You must be joking! Al hoe ek in die verlede ooit gewig verloor in my lewe is as ek geen vrugte eet nie vir ten minste drie weke. En die koffie? Geen probleem. Ek drink 5 of so koppies per dag en om 'n week uit te hou sal my niks doen nie. My lyf hou van sy koffie en kan dit hanteer. Ek sal haar wys my lyf gaan nie hou van hierdie sogenaamde stabilisering nie. So eet ek mooi daai week, maar teen Woensdag en Donderdag is ek so siek soos 'n hond van onttrekkingsimtome van die kafeïen! Ek is naar, gooi op en voel vrot. Ek is bedlêend!
En dis nie al nie. Toe ek die volgende week by haar kom is ek 3.3 kg af! Ek is verras maar skepties. Sy gee my die opvolg plan: wat toe baie klink soos die weighless tipe eetplan. Sy druk goetertjies aan my voete en hande en meet iets op ’n masjientjie – soos my vet of waterinhoud en wat als en die rekenaar spoeg ’n eetplan uit wat insluit: 5 stysels per dag, 6 proteïene. 3 vrugte, 3 vette, 3 groente en ’n halwe glas laevet melk. En 8 glase water plus 2. Nog steeds geen koffie en tee. Gif. Ek, meer nederig as die vorige keer, smeek vir een in die oggend. Ja goed. En verder net rooibostee en water! Jekkie! Ek sê vir haar ek kan nie op hierdie plan gewig verloor of enigiets regruk soos insulien en suikers en cholestrol nie, want die KOS IS TE VEEL! Sy sê ek moet so eet want ek gaan die res van my lewe so eet. Sy gee my 'n lys kosse en hoeveelhede; daar is selfs koek en drank op, wat ek kan uitruil onder my stysels en vette. Ek besluit ek sal elke krummel eet en haar wys my liggaam kan en kon nog nooit gewig verloor met so baie kos nie. Al is die porsies klein, daar gaan soveel skuldgevoel by my mond in saam met die kos wat oor jare gevorm het uit onkunde en van al die ‘gesonde’ diëte volg. En elke hap skuldgevoel alleen weeg seker 10 kg!
Ek is al 'n maand besig met die eetplan. Ek koes elke week vir die skaal want my lyf kan mos nie met al die kosse tevrede wees en nog gewig verloor nie??? Dit is toe al wat my lyf nodig het. Ek is elke week nog 300g of 500g af. Al gaan ek uiteet en al eet ek ’n sny koek (die koek is nie goed vir die cholestrol en insulien nie, maar as ek dit uitruil met my stysels en vette, dan kan ek soms wegkom daarmee! Selfs soms 'n glas rooiwyn!). Na 'n maand se vasbyt weet ek nou watter porsies is toelaatbaar, watter kosse is beter wat lae GI aanbetref en watter is nie goeie keuses nie. En wat nog? Ek slaap soos 'n engel, waar ek vroeër gedink het my gedagtes hou my wakker of my depressie of wat ook al. Dit was seker maar die kafeïen, ja verseker. Elke koppie koffie steel twee glase water uit jou lyf. Water wat goed is vir suurstof in jou brein, vir skoonmaak van jou liggaam en wat als. Ek glo dit nou. En ek het sowaar 'n plaasvervanger gekry vir koffie: Chikree. Meeste koffiedrinkers gaan hul neuse optrek vir suiwer sigorei, maar dit proe vir my soos manna, want dit is wat ek die res van my lewe kan drink, saam met rooibostee (Jêkkie!).
Op my oudag het ek nou besef, ek kan my kos geniet, weet net wat jy in jou mond prop en hoeveel daarvan. Ek kan enige plek gaan uiteet maar met kennis en slim keuses kan ek dit net so geniet soos ander. Die baie water kry my onder maar ek vat 'n Pump (750ml) saam in die kar as ek kids op en aflaai vir skool en voor ek tuis is, is dit op: 3 glase! As ek dit kon leer en dit kan doen, kan enigiemand. Maar moenie dink die kinders wil so eet soos ek nie. Hulle glo wat ek geglo het: dis die kos wat evil is en jou wil vet maak. Dit gaan my lank vat om hulle die waarheid hiervan te laat insien, of ek gaan dit dalk nooit regkry nie. Al vertel ek hul elke dag van hul lewe hoe mooi en oulik hulle is, is dit nie goed genoeg nie want die wêreld daarbuite vertel iets anders. Hulle moet hul eie pad stap met hul selfbeeld en liggame. Hulle het 'n groter geveg om te wen, want die duisende rolprente en tv waaraan hul blootgestel is, wys nie hoe die filmsterre dag en nag hulself uithonger en heeldag gim nie.

(Op die foto is ek in 2006 in Ierland en het maar lekker dieet om te gaan lekker vakansie hou. Ek het toe ook gedink, sjoe, kyk net hoeveel kilo's het ek opgetel van ons troue af. En was ook maar nie tevrede nie. En as ek nou terugkyk, lyk ek heel skaflik!)
Met dié dat ek hierdie jaar nog rus van my stresvolle 2010 Annus Horibilis, is ek rustiger, koester nie groot verwagtings nie, kom nie baie uit die huis nie, werk rustig aan die kinderkerklesse vir die Kuierkerk, en ek het besluit om meer gesonde tyd met die dogters te spandeer: ons speel nou in die middae muurbal. Ek leer hulle, kry dalk nie soveel oefening in nie, maar hul word elke dag beter en gaan my binnekort ore aansit. Ek voel op 'n goeie plek met my lyf en my lewe...(ja, sê Griekie Galbraak, tot ek my kop by die deur uitsit en party mense my energie steel met hul onopgeloste issues en haat vir hulself en die lewe.) Maar ook hiermee moet mens seker kalm deel. En ook hiermee moet hulle eendag deel. Vir nou, op hierdie oomblik, is ek oraait. Die Here lei mens mos maar so met die berge op en weer af. Hy stap saam; na waters waar rus is, lei Hy my heen. En ja, al gaan ek ook deur 'n dal van doodskaduwee, is Hy met my en vertroos my. As mens dit net so kalm kan insien as jy wel in daardie dal van doodskaduwee vasgekoek raak. Maar dit is weer 'n heel ander storie! Ek sien God nogal in 'n arend. Hier op ons plot is so 'n witbors slangvanger arend met so hoekige kop soos 'n Bataleur en elke nou en dan sit hy in 'n boom so in die middel van 'n oopte en dan weet ek, God is met my. En so nou en dan vlieg hier 'n visarend oor die plot en roep sy mooi roep, dan weet ek ook God is met my. Dit help nogal vir 'n mens in donker tye om so herinner te word. Kry gerus vir jou ook so 'n teken wat jou kan verras as jy dit nodig het. Mag jy elke dag God se nabyheid beleef, in die slegte en goeie tye! En as jy dit nie voel nie, WEET net dit is daar.

Tuesday, August 2, 2011

AS HEILIGE KOEIE JOU HEILIGMAKING OPVREET

Dit klink nou amper soos een van die Farao in Genesis se drome... Mev Doeminie sukkel steeds om die ou koeie uit die slote te sleep... of dalk permanent toe te gooi... maar hier het nou 'n nuwe soort koei sy kop uitgesteek dié week. Ek handhaaf hierdie laaste paar maande 'n lae profiel met ou Griekie Galbraak en Drucilla die dromer en my ander wanaangepaste alter-egos. Na ek heelwat mense hierdie jaar aan die dood afgestaan het wat vir my baie na aan die hart was, het my lewensuitkyk ook maar heelwat verander. Ek het skielik besef dat mens se tyd min is om impak te maak in die wêreld.
Ek het besef hoe min mense leef hul droom en karring dag na dag aan met of 'n saai bestaan wat hulle haat (soos sekere onderwysers/predikante/besigheidsmanne/ens wat geen passie het vir wat hul doen nie maar voortneuk en almal se lewens versuur.) Vanoggend is 'n vriendin dood wat saam met ons ge-Kuierkerk het al vir jare... 'n pragtige sagte vrou met 'n wonderlike man. Skielik. En skielik is hul drome saam dood. Planne wat gemaak is, is nou tot niet. Ek gaan maak 'n draai by haar man en toe ek so met nat oë uit die huis uitstap terug kar toe, besef ek dit... as iemand na aan jou doodgaan en die nuus is nog so vars in jou kop, so skokkend vars, dan skielik is al jou sintuie hiper-sensitief. Die son is skerper, die voëls kwetter harder, die karre ry meer lawaaierig... dis of 'n mens skeilik die wêreld so vars en duidelik sien en hoor soos nog nooit nie. Jy kyk vars en nuut na jou eie lewe of mortaliteit. Ek wil Drucilla die Dromer hier binne my gou kans gee om haar sê te sê:
Ek dink in hierdie vars doodsuur, is daar 'n oop portaal hemel toe waarin sekere energieë op mens inwerk: die wonderwerk van 'n mens wat 'n pad oopvlieg hemel toe (dalk saam met 'n skare engele of saam met Jesus self wat jou aan die hand vat), die genade wat inwerk op ons almal wat agterbly, die krag van God wat afkom aarde toe om ons by te staan saam met die Gees. Daarom dink ek is ons sintuie opgehelder en sien mens dinge nuut. In so oomblik wil jy die wêreld, jou wêreld, verander en mense wakker skud en sê: Leef, terwyl jy op aarde is. Leef jou droom. Leef God se droom vir jou, moenie tyd mors nie.
Ek wys so nou en dan vir my kinders die goeie rolprente (vir my!) wat hul te klein was om te kyk toe dit uitgereik is, soos Pretty Woman, Pride and Prejudice, Wuthering heights, Lady Hawke, en nou die dag kyk ons Forrest Gump. Ek het al vergeet hoe 'n juweel dit was. Kyk dit maar weer as jy opbeuring nodig het. My dogter Chantal vra hoekom maak hulle 'n fliek van so dom outjie - spot hulle met hom of wat? Forrest het 'n IK van 75 gehad en sy ma het hom altyd vertel: Remember what I told you, Forrest. You're no different than anybody else is. Did you hear what I said, Forrest? You're the same as everybody else. You are no different. Forrest was eenvoudig maar het elke kans wat hy kon kry aangegryp want hy het nie gedink hy is so danig anders nie. En in die proses het hy uitgedraf vir sy College se rugbyspan, drie presidente van Amerika persoonlik ontmoet, vir 'n jong Elvis sy danspassies geleer, 'n medalje vir dapperheid gekry in Vietnam omdat hy uit sy pure onnoselheid sy manne gered het; hy het 'n shrimp bootjie gekoop en sakke vol geld gemaak en het selfs sy luitenant (wat sy bene in die weermag verloor het) met die bootbesigheid uit sy depressie gekry. Toe word hulle miljoeners; die einste luitenant het toe hul geld in 'n 'fruit company' belê (Apple computers) en toe is hulle gizilionêrs! En Forrest het vir die Amerikaanse pieng-pong span regoor die wêreld gespeel want hy kon. En Forrest het vir Jenny liefgehad tot sy eendag na hom toe teruggkom het - nadat sy haar hele lewe met dwelms en seks en mans weggegooi het. Hy het haar versorg toe sy aan 'n ongeneeslike siekte sterf maar darem het sy hom 'n seun gegee, 'n slim seun aan wie hy sy wysheid kon oordra. As iemand hom vra of hy stupid is dan antwoord hy: My mama always said: Stupid is as stupid does. In sy eenvoud het hy ook soos 'n kind geglo, dat God sy Pa is en vir hom sal sorg. Sy luitenant is eenkeer erg depressief oor hy sy bene in Vietnam verloor het en omdat Forrest hom toe nog boonop gered het en nie maar laat sterf het nie. Hul gesprek gaan so: Lieutenant Daniel Taylor: Have you found Jesus yet, Gump? Forrest Gump: I didn't know I was supposed to be looking for him, sir. (Want hy het net geweet Jesus is daar by hom.) Die beste wysheid wat sy ma hom kon gee was: Mrs. Gump: Life's a box of chocolates, Forrest. You never know what you're gonna get. En selfs so dom outjie soos Forrest het die lewe maar gevat soos dit kom, soos 'n boks sjokolade, want nie een van ons weet wat ons gaan kry nie. Maar soos Forrest weet mens mos dat God in beheer is. Ek wil vandag praat oor ons 'slimmetjies' wat nog niks van die lesse van Forrest geleer het nie, wat nie besef die sjokolade wat jy kies is dalk nie die lekker een nie, maar weet jy wat, dan kies jy 'n ander een - en dis dalk daardie een wat super-lekker gaan wees vir jou. So, hoekom maak hulle so 'n fliek van 'n dom outjie? Sodat ons slimmes kan leer: Stupid is as stupid does! Kom ons maak minder stupid keuses en gryp die lewe aan!



Ons is almal so vasgevang in ons eie verslawings en vrese en groewe. Dis so moeilik om 'n verandering te maak want dis onbekend en onveilig. Ek kan legio name opnoem van hier en in die Bybel van mense wat verandering aangegryp het om hul doel op aarde te verwesenlik. Petrus, Paulus, Abram, Moses, Josef, ens ens. Ek dink aan my man Anton, wat op 38 'n nuwe beroep begin het. Hy het begin predikant swot, voltyds. Dit was nie maklik nie maar God het ons versorg. En vandag leef Anton sy droom, en met sy foute het mense respek vir hom want hul sien die Goddelike fokus en passie wat hy in die Teologie ontdek het. Niemand is volmaak nie, maar as jy fokus op jou roeping en jou meer en meer verbeter en toespits op jou spesifieke taak/passie, dan sien mense God se werk raak – hul kry respek vir jou wat gefokus jou taak verrig en dan vir ander 'n seën is. Dis mos nou heiligmaking, man! Dit hou jou sommer uit die kwaad uit!
Ons het 'n gegradueerde vriend wat deur sy lewe al heelwat projekkies aangepak het, deur 'n paar huwelike is en nou 'n verkoopswerkie het waar hy nie veel doen nie maar heelwat tyd het om met mense wat in en uit die winkel kom te gesels. Ek het aanvanklik gedink hy is nou op 'n rustige plek waar hy 'n seën is vir ander... hy is baie inteligent, uitgesorteer, gee raad en maak geselsies met almal van die staatspresident tot die boemelaar wat daar aankom. Maar weet jy, nee, toe nie. Hy het al so baie rondgeval en nie uitgekom by daardie fokus en passie wat jou so vervul en wat jy met mense wil deel om hul lewe te verryk nie. Hy glo hy is eksentriek en kan sê en doen wat hy wil jy moet hom net so vat. En o ja, hy het op sy ou dag ook dagga ontdek wat hom gelukkig laat voel as dinge druk. Sodra iemand naby hom kom, stoot sy selfsug mense weg. Hoekom het hy nie vervulling nie? Hy is onbetroubaar, hy hanteer mense takloos, sonder empatie en is totaal op homself ingestel.
Hierteenoor kan ek van iemand vertel wat soos hy is, eksentriek, intelligent, grootpraterig – wel 'n televisie-karakter. Die program Lie to Me, op Mnet , het ek ontdek. Dit gaan oor 'n geleerde sielkundige, Dr. Cal Lightman, wat spesialiseer in mikro-gesigsuitdrukkings en kan sien as iemand jok of watter emosie ook al het. Hierdie ou is so 'n mislike Britse mannetjie met sy eie demone wat hy maar moet veg uit sy verlede en in sy persoonlike lewe. Hy is enige tyd net so takloos soos hierdie genoemde vriend hierbo. Maar 'n mens is mal oor hom, want hy is gefokus op sy gawe en sy werk. Hy het 'n passie om mense te help met sy gawe, want wat anders kan 'n mens met jou gawe doen? Om te probeer om die beste te wees in jou werk, maak jou gefokus en passievol en as jy dan boonop ander kan help met jou gawe, dink ek, het jy jou roeping bereik. Dit is heiligmaking. Dan is jy 'n spies wat God gebruik om te tref.
As ons ons jongmense kan kry om so oor hul passie, hul beroep en gawes te dink, kan ons wonderlike gelukkige kinders hê. Maar nee, wat dink die meeste jonges (en baie baie oueres wat ek ken) – hul is so opgeslurp in 'n kultuur van partytjie hou elke aand selfs, verdien baie geld, suip tot daglig toe, snuif dwelms, slaap met elke rok of broek wat voorkom, en is lewensmoeg voor hul dertig slaan. Party hou hiermee aan tot 80 en haat hul lewe en hul eggenote en kinders haat hul lewe ook. En moenie dink jy kan die mens se heilige koeie aanspreek nie en hom vertel hy smyt sy lewe weg nie, dan is jy die dweper. Die ding van vasgevang wees in die groef, is dat jy nie die moed het om uit te klim nie. Anton beraad baie jongmense wat in voorhuwelikse verhoudings vasgevang is wat hulle wurg. Trou is nie op die agenda nie, want dis darem te veel gevra, maar die twee mense in die (seksuele) verhouding vernietig mekaar omdat nie een die moed het om in of uit te klim nie. As jul mekaar vernietig, klim uit. Trek weg van jou probleem as dit moet. Trek flippen oorsee as dit moet, maar moenie aankarring met iets wat duidelik nie werk nie en wat jou energie steel nie. Fokus op jou gawes en jou droom en jy sal jouself uitsorteer dink ek. Dr Cal Lightman irriteer mens met sy maniertjies, sy takloosheid en sy slegte gewoontes, maar van al die karakters op televisie het ek vir hom die meeste respek en waardering. Want ek sien sy passie, sy gawe en sy diensbaarheid. En wat blus hierdie drie goed in 'n mens: drank, dwelms en verslawings... wat ook al jou verslawing is – jou werk, jou stokperdjie, jou wat ook al. Dis daai ding wat jou gemaklik in die groef intrek en jou vertel dis die lewe! Sodra jy die visie het van wat jy wil bereik, dan is dit ook makliker om uit die groef te kom.
Nou klink ek soos 'n moerige Mev. Doeminie wat preek. Ek is net SO gatvol vir die jonges wat van hoërskool af al dink dat drink, rook en dagga is die ding. Sjoe, nou is ek groot. Nee, sjoe, nou is jy in jou moer in, want universiteit gaan net so 'n lekker jol wees. Ek wil nou nie eers praat van grootmense nie... derduisende sit in werke, in skuld en haat hul lewe want hulle lewe nie. Maak daardie skuif... en LEEF in oorvloed! Hul sê mos die enigste verskil tussen 'n groef en 'n graf is die diepte... Klim uit daai groef want jy lewe, jy haal asem, jy kan. En wees 'n seën vir jouself en ander. Ek ken 'n vrou wat wie se man haar gelos het hier net voor 50. Na die ergste skok het sy oorsee gegaan en op rykes se Yachts (bote) gaan werk. Maak soos Forrest se ma gesê het: Mrs. Gump: You have to do the best with what God gave you.
Ek sluit af met nog 'n sêding of twee uit Forrest Gump. Nadat hul 'n Shrimp boot gekoop het en geen shrimps vang vir weke nie, selfs kerk toe gegaan het en gebid het, vra die ongelowige Luitenant vir Forrest nou waar is al die shrimp: Forrest Gump: [dejected] No shrimp. Lieutenant Daniel Taylor: Where the Hell is this God of yours? Forrest Gump: [narrating] It's funny Lieutenant Dan said that, 'cause right then, God showed up. En toe was daar 'n woeste storm waarin hul byna hul lewe verloor maar hulle en hul boot oorleef. Al die ander bote het onder gegaan. Hulle was die enigste shrimp vangers oor en word toe miljoenêrs! Ek bedoel nie God gaan jou ryk maak nie. Ek bedoel: kyk bietjie rond, God is by jou en wag net dat jy hom raaksien maar voor dit gebeur moet jy soos Forrest sê: My Mama always said you've got to put the past behind you before you can move on. En om aan te beweeg moet jy breek van jou verslawende en vernietigende gewoontes en verhoudings. Soos Forrest se ma en meisie altyd vir hom gesê het: Run, Forrest! Run! Ek wil sê hardloop weg hiervan en vat die sprong saam met God na 'n nuwe lewe met beter keuses en volg jou droom, volg die gawes wat jyhet voluit!





Aan die paar mense wat ek ken wat wel hul verlede agtergelaat het en die keuse gemaak het om die beste te maak van wat God hul gegee het - en hul passie en droom uitleef: Mag God jou nog meer seën sodat jy 'n seën vir ander kan wees.