Sunday, January 30, 2011

HOOFSTUK 4: NUWE VISIE, NUWE VOETFOUTE


Op die foto: ek en Anton en Michelle en Chantal tydens 'n besoek aan Ierland in 2006 vir navorsing (en 'n ongelooflike lekker vakansie) vir my groot boek, Wee Monk's Tale!!

Soos ek maar altyd sê: die ouens wat die vorige hoofstukke gemis het, het nou 'n moviese agterstand. Hierdie is die vierde hoofstuk! Ek en my man is deur 'n klein hel met ons omstandighede maar God gee 'n nuwe visie om ons ons helderheid van verstand te laat behou!

Op Hartbeespoort en met drie klein kinders, begin ek en Anton toe een keer ‘n week die Bybelskool by Lynnwoodrif Kerk (Pretoria) bywoon en kry ‘n ongelooflike nuwe insig in die Bybel. Hier ontmoet ons 'n nederige godsman, Prof. Stephan Joubert wat op Tukkies klasgee en wat vir ons lyk en praat soos Jesus. Ons begeer om die Bybel soos hy te ken.
Ons ontwikkel 'n visie wat ons albei se vroeë dood kan beteken: Om mense oor die Bybel in te lig en op te voed (en ek glo: daarby te vermaak!)Min weet ons op hierdie stadium wat so 'n edele en onskuldige visie ons nog gaan kos in ons lewe. (Ek moet bysê, die makliker pad sou wees: Anton doen aansoek vir ingenieursposte, kry 'n goeie werk en salaris en ons hoogste godsdiensoomblik in die week is die erediens by ons T-Kerk (julle onthou nog – dit is die skuilnaam van die kerk waarby ons betrokke was. En waar ons geweeg en te lig bevind is. Die Engelse sê so mooi: You have been weighed and found wanting!!)


Anton is so opgewonde oor die Bybel dat hy sy klein hardewarebesigheid toemaak en in die jaar 2000 voltyds begin Teologie studeer by Tukkies. Sewe maer jare volg. Ek maak kinders groot en doen so tussendeur poppeteater saam met ‘n vriendin by skole en kerke. Dis lekker en ek kom agter ek kan ‘n fantastiese storie uit my duim suig en kinders is mal daaroor. (Dis seker al daardie Disney rolprente wat ek nagte lank saam met Sean moes deurwerk terwyl hy nie wou slaap nie – kort na hy sy breinskade opgedoen het!)



Ek moet nou sê ter wille van my eie verdediging dat ek as persoon op dié stadium nog ‘n mak lammetjie is. Die lewe het my bloots gery en my oemf was uit. Ek was nie meer die energieke jong student wat ‘n berg kan uitklim of deurnag sokkie nie. Elke dag was baba-treetjies na oorlewing. Ek was nog op die herstelpad met myself en in my hande het ek die brose handjievol lewe getroetel wat nog in my are gebruis het. Ek het eers later begin om ‘n m**rige mev. Doeminie te word. Ek skryf netnou meer van my oorlewing in die tyd met min geld en Anton wat swot, waar ek met meer humor daaroor kan praat! In dié tyd begin ek ook Bybelstories vir die jongspan Prof Stephan Joubert se webtuiste, www.ekerk.co.za skryf.



As deel van my finansiële- en sielsoorlewing skryf ek tussendeur artikels vir ‘n tydskrif, Vonk, so ‘n paar navorsingsartikels vir Finesse tydskrif en deurentyd vir ons plaaslike koerant ‘n storie of twee. My skryflus laat my ook later ‘n tienerboek skryf, wat ek so oor 5 jaar navors en skryf; so tussendeur die vrot doeke, kwylende bekkies, honger kinders en ‘n laatnag studerende man. Vandag is ons ‘n totaal abnormale gesin, met ‘n breingestremde 18jarige, Sean, wat lag-lag deur die lewe loop en val. Waar hy kom oorweldig hy mense met sy vreemde woordeskat en onvoorwaardelik liefde; ons het ‘n smeulende mooi 16jarige Michelle wat ‘n sagtheid en warmte uitstraal wat min meisies van haar ouderdom het en ‘n pragtige 13jarige Chantal, ‘n vuurvreter en drama queen wat volgens haar nog die Amerikaanse Idols gaan wen.

(OP die foto is Michelle en Chantal wat maar altyd gereed moet staan as ek hul in een van my onkonvensionele pogings wil gebruik as model, akteur, danser of sanger. Hier het hul as klein kinders posseer vir my eerste voorblad vir my boek, Wee Monk's Tale, the Secret of Immortality. Saam met hulle is Paul, hul neef en Dylan, vriend.)

Min het ek geweet dat my lewe as Mev. Doeminie meer trauma en avonture gaan meebring as wat ek tot dusver beleef het! As mev. Doeminie het ek dalk baie sinies gemaak oor mense en die lewe, en geloof en goeie vriende wat ons al verloor het in die oorlewingsproses. Ek is iemand wat nog altyd glo God is in beheer maar die laaste tyd sukkel ek om dit te sien, veral in die formele kerk waar dinge nie altyd gaan soos ek dink God wil hê nie en waar dit lyk of mense in beheer is. (Ja, ek weet, God werk stadig en op misterieuse maniere, en Hy dink nie soos ek dink nie, en ekmoet net dankbaar wees vir wat ek het. Ek is. Ek is bang om te wonder hoekom God nie meer doen nie, want ek kom die laaste tyd agter as ek deur diepe lyding gaan, dit gewoonlik is om ander mense te help met iets onverklaarbaar groot en wonderlik... Dit voel dan nie noodwendig vir my wonderlik nie... maar die uitkoms sekerlik is... )
My kinders bly darem in die tye vir my ‘n bron van hoop en vreugde. Ek het later uitgevind wat hul name beteken, name wat ons net gekies het vir die mooi daarvan: Sean (An english John, 'n Afrikaanse Johannes en 'n Franse Jean!): God is genadig; Michelle: kom van die aartsengel Michael wat beteken, soos God. En Chantal wat beteken: lied/sing. Anton beteken kosbaar. My naam René is afkomstig van die Griekse woord wat nogals vrede beteken en ook die Franse woord vir Wedergeboorte. Die wedergeboorte verstaan ek heeltemal en ek het die merke om te wys hoe pynlik dit was, maar die vrede kom net so met rukke en stote deur en gewoonlik tesame met antidepressante en so nou en dan ‘n angspil! Daarvoor is ek ‘n te regterbrein-mens. Ek het al in my lewe baie vir God gevra: gee my net vrede. Ek dink dis ‘n lewenslange proses. Die feit dat ons name hierdie betekenisse dra, gee mens die vertroosting dat God daar is vir jou al loop dinge kronies skeef.


(Op die foto is Sean-Jacques, nou 18, sy vriendelike self.)


As ek altyd in my blog ‘n bietjie lighartig spot met my lewe en wroegings oor die laaste jaar veral, dan is dit seker maar die humor wat my help werk deur die hel waardeur ons gesin is veral in 2010 - die ander stories is maar ter inligting en verduidelik van waar ons vandaan kom. Ek het maar humor nodig om my verlede te verwerk vandag. Dalk sit jy ook daar met jou eie hel, jou tronk, jou vergete drome, jou helse man, jou dekselse kind, jou vieslike werk, jou bose verslawing, en dalk kan ek jou bietjie laat ontvlug en kyk na my abnormale lewe. Ek gaan nog daarby uitkom van hoe die Here my en Anton geslyp het tot gereedskap vir sy koninkryk.

Kan ek nou vir alter-ego Griekie Galbraak 'n beurt gee asb?

Tans is ek maar op 'n vrot plek waar ek voel dat al die geslypery en regmakery was maar ter wille van die proses en nie ter wille van 'n uitkoms nie, veral nie 'n uitkoms wat ek sou visualiseer nie, soos bv. dat 'n uitgwewer my wonderlike skryftalent sou raaksien en my wonderlike Ierse boek sou publiseer. Die proses is blykbaar als, die proses is blykbaar die pret, die proses is blykbaar die seën op jou lewe, die proses is waarvoor jy dankbaar moet wees. En blykbaar gee 'geen bereiking van 'n doelwit jou vrede of plesier nie, moet jy weet vandag'. So, ek worstel voort met my daaglikse vervullende inspirerende prosesse, soos jy. Nevermind wat ou Maslow te sê gehad het in sy teorie van die menslike behoeftes wat insluit: fisiologiese-, veiligheids-, sekuriteits-, sosiale-, agtings- en self-verwesentlikings behoeftes. Dis net 'n teorie. Maar ek sou dink mens bereik mos 'n doel, en gaan aan na die volgende doelwit, gaan deur al die stappe en so bereik jy elke keer 'n hoër vlak van bevrediging met jou gawes: sosiaal, agting, self-verwesentliking ens. Die hele toetie. Maar eks duidelik verkeerd. Hou den bek, suster. Wees happy. Jy het als. Jy kan skryf. Die rekenaar geniet jou geselskap. Jy kan hom nie kwaadmaak nie. Hy is geduldig, gehoorsaam en goeie geselskap. Skryf maar as jy moet. Dit is die proses, nie die uitkoms nie wat saakmaak. Selfs Miley Cyrus weet dit. It’s the climb.
The Climb
Songwriters: Alexander, J; Mabe, J;

I can almost see it
That dream I am dreaming
But there's a voice inside my head saying
"You'll never reach it"
(My voice sê weer ek kan dit bereik… al is die droom hoe groot)

Every step I'm taking
Every move I make feels
Lost with no direction
My faith is shaking

But I gotta keep trying
Gotta keep my head held high

There's always gonna be another mountain
I'm always gonna wanna make it move
Always gonna be a uphill battle
Sometimes I'm gonna have to lose

Ain't about how fast I get there
Ain't about what's waiting on the other side
It's the climb

The struggles I'm facing
The chances I'm taking
Sometimes might knock me down
But no, I'm not breaking

I may not know it
But these are the moments that
I'm gonna remember most, yeah
Just gotta keep going


And I, I got to be strong
Just keep pushing on

'Cause there's always gonna be another mountain
I'm always gonna wanna make it move
Always gonna be a uphill battle
Sometimes I'm gonna have to lose

Ain't about how fast I get there
Ain't about what's waiting on the other side
It's the climb, yeah!

There's always gonna be another mountain
I'm always gonna wanna make it move
Always gonna be an uphill battle
Somebody's gonna have to lose

Ain't about how fast I get there
Ain't about what's waiting on the other side
It's the climb, yeah!

Keep on moving, keep climbing
Keep the faith, baby
It's all about, it's all about the climb
Keep the faith, keep your faith, whoa

{ From: http://www.elyrics.net/read/m/miley-cyrus-lyrics/the-climb-lyrics.html }
© HOPELESS ROSE MUSIC; VISTAVILLE MUSIC;

En ja, ek geniet my prosesse baie want ek is kreatief selfs daarmee. Dit sou gaaf wees na die proses dat iemand anders dit ook kon raaksien. Soos 'n uitgewer, maar ek vra te veel. Ek moet tevrede wees met my basiese behoeftes van huis, kos, klere en 'n wonderlike gesin. En ek is. Ek is gelukkig. Dis net die groot drome wat 'n gawe en 'n kruis is...

Wednesday, January 19, 2011

Hoofstuk 3: VAN VOëLVRY TOT TRONKVOëL

Dié van julle wat nie die ander MEVROU DOEMINIE blog-inskrywings gelees het nie, gaan nou in die middel van 'n dam inspring, sonder 'n reddingsbaadjie. Hierdie is die derde Hoofstuk van die blog oor Mev. Doeminie se Annus Horibilus. En ek’s jammer maar hierdie een is 'n taai een.
So bietjie oor my goeie tye... (wat nodig is om te verstaan hoekom is die slegte tye so sleg!)
(Die foto is net ter verduideliking vir almal oor hoe die kroeshare wat ek so mee spog, eintlik gelyk het. My pa het mos gesê ek lyk soos die kroeskop sanger Leo Sayer, en ja, ek sien dit nou! Hier is ek en my vriend Bernhard Glas wat ek in my jongdae geken het.)
My studentelewe aan die Potchefstroomse Universiteit was heerlik. Ek het myself gevind en was op vele staproetes, het gedien op die op die koshuisraad se joolkomitee en het vir die Universiteitskoerant, die Wapad koshuisartikels geskryf. Vakansies het ek vir die Potchefstroom Herald gewerk (vir bietjie geld). Ek’t vir Anton ontmoet, ‘n ingenieurstudent: ‘n vreemde wese wat met min swot, min geld en baie sit in die kafeteria die moeilikste wiskundige probleme kon oplos. Maar hy was so ‘n pragtige man met goue hare en het gelyk soos Tom Cruise (sê iemand nou die dag van ons troufoto! Die kroeshare langs Tom Cruise het blykbaar nou nie juis soos iemand gelyk nie!) Anton is ‘n gewilde outjie en meneer super-sosiaal. Maar ons kon dans! Hy het sy eie meisie in Vanderbijl en jol lekker op die Puk, maar ons kon sokkie. Jy weet nou ek praat van skelm dans want op die Puk was dans uit soos dagga rook.
Ek en Anton raak dik vriende. Ons het saam staptoere gestap en ons kon ure lank kuier en gesels oor als en nog wat. Natuurlik was ek vrekverlief, maar ek het my lyf vriendin gehou, want ek was maar goed bang ook vir verwerping – ek bedoel – die kroeshare, man! En ek was besig met belangrike dinge op die Puk, soos sokkie, koerantwerk, social, leer (ja ek het), ekt bietjie kamerawerk gedoen by die mediasentrum, en dore-lied geskryf en Huiskomitee vergaderings-parties. Daar was nie soseer tyd vir 'n ou nie en ek was maar vrekskaam. (Op die foto is Anton in sy gloriejare... ag, so cool! G'n wonder ek was verlief nie!)
Dik-goeie vriende was ons. Tot ek in Pietersburg gaan werk as joernalis en hy weermag toe is in Heidelberg. Sy meisie het hom finaal gelos oor 'n lys redes wat genoeg is vir nog 'n boek, wat dalk meer klink soos die flieks: Dude, where is my car? Of The Hangover. Ek, goeie vriendin, het gaan kuier op die eerste troepie-opedag, en het elke dag ‘n brief geskryf. 365 dae van die jaar. Jy sien, ek het joernalistiek geswot en ek kan koerante volmaak met als wat ek weet en selfs wat ek nie weet nie: ek het mos al gesê dat ek my joernalistieke eed ernstig opneem: inlig, opvoed en vermaak!
En terwyl ek, skaam vriendin, nou weet ek is maar die buiteperd wat moet hol vir 'n plek, besef ek ook: Die pen is magtiger as die swaard. Geen man het ‘n weerstand teen soveel besondere kreatiewe briewe nie. Anton vertel hoe die ander eensame troepe met afwagting saam met hom sit en wag vir die volgende dag se brief: dan lees hy dit voor vir almal wat self nie briewe gekry het nie. (Ek dink daar het ek die saad in hom geplant om voor te gaan in die gemeente en om hom te ontferm oor die eensame skape!) Nodeloos om te sê, ons is op die 365ste dag van daardie jaar getroud. 31 Desember 1988. Dis die beste besluit wat Anton kon neem, want in die jare wat volg, dink ek, was ek 'n hulp wat by hom gepas het... nevermind dit, die hulp wat by hom gebly het... deur dik en dun... Min het ek geweet wat volg.
Ons lewe is ‘n jol. Anton, jong ingenieur maak vinnig opgang in Eskom. Distrikingenieur Groblersdal. Ek kry werk as Natuurbewaringsopvoedkundige by KwaNdebele Natuurbewaring. (Ek wil net noem, ter inligting: dat my posbeskrywing in die staatsdiens, as gevolg van my 4-jaar honneursgraad is: 'n Natuurbewaringswetenskaplike! Great!) ‘n Wonderlike werk waar ek elke dag tussen kameelperde en blouwildebeeste en geelbekneushoringvoëls werk toe ry. (Ek is mos in my hart ‘n natuurbewaarder, maar my pa wou my nooit toelaat om ‘n volbloed natuurbewaarder te word wat met ‘n oorgehaalde jaggeweer op ‘n landrover sit en wilddiewe jag nie. Nie vir ‘n vroumense nie, het hy gedink. Ek sien myself daar op die landrover... Lara Croft... of Zena, Warrior Princess!)
Desnieteenstaande Groblersdal se hitte, raak ek toe swanger met ons eersteling. Anton begin sy eie kontrakteursbesigheid in Pietersburg en werk dag en nag. Ek ry in en uit na KwaNdebele met ons eersgeborene, Sean-Jacques, wie se eerste woord ‘bok’ is. Kyk, ons het geld, ons is suksesvol, koop ‘n groot plot met store en als vir Anton se besigheid. ‘n Kein Eskom was dit gewees, want hy plant hoogspanning lyne sodat elke gehuggie in ons land krag het. (Min het ons teo geweet dat hy in die toekoms mense se siele gaan voed met die krag van die Heilige Gees!)
EN TOE DIE SLEGTER TYE...
Ek hou naderhand op werk in KwaNdebele (ek’t 20 jaar later eers die uniforms weggegee, want ek’t altyd gehoop ek sal weer teruggaan veld toe...) Ek was vir so maand by die huis in Pietersburg met ons eenjarige slim seuntjie, toe gebeur dit wat enige ouer vrees, iets wat ek en Anton in ons lewe nooit voorsien het nie, of voor opgewasse was nie. Ons seun tel ‘n breinvirus op in Botswana tydens ‘n gesinsvakansie en van ons baba wat op 15 maande al praat en rondhol, bly ‘n klein skaduwee oor. ‘n Bitter klein skaduwee. Ons seun is eintlik dood. Die dingetjie wat ons 2 weke later uit die hospitaal uitdra is ‘n vreemde swak wesentjie wat nie eers sy bottel melk kan sluk nie. Ek dink ek en Anton is toe ook dood. Die twee mense wat uit die hospitaal met die dingetjie kom, is nie die mense wat hom daar ingedra het nie. Ek hoor ook ek is weer swanger in die hospitaal. Ons het dit so beplan, maar nou is ons lewe skielik deur 'n tragiese Tsunami omvergegooi.
Sonder om nou op daardie ellendige Annus Horibilusse wat volg te fokus en vir ou Griekie Galbraak weer op te tower, moet ek sê: ons lewe verval in ‘n bose roetine: Anton wat werk, dag en nag, en drink en onthaal, soos mens doen as jy in die sakewêreld opgang wil maak. En ek met my swanger lyf wat ons seun oefen dag en nag om sy brein te help om nuwe bane te vorm wat van die basiese lewensfunksies weer kan aanleer. Die dokter sê dat dit in die ma se hande is hoeveel van die ou neurobane weer gevorm word, of so iets. Sean is op soveel medikasie dat hy net lê en glimlag terwyl ek ure lank omspook om die kleinste spiertjie in sy lyf aan die beweeg te kry. Michelle is gebore, ‘n dierbare mooi kind en sy speel te lekker saam - elke dag op ons sitkamervloer (wat eintlik ‘n voltydse fisioterapiekamer is).
Nodeloos om te sê die arme huweliksbootjie buig dubbel in die stormwater. Nadat ons huwelik uitmekaarval, en saam met dit ook ons besigheid, kom ek en Anton uiteindelik by God uit en in 'n ware verhouding met Hom. Dit gebeur tydens ‘n huweliksseminaar, doerie tyd se Campus Crusade for Christ. Ons begin ‘n stadige pad van herstel stap, so tussen die uitdagings, die hartseer en plesiere van ‘n breingestremde kind en ons ‘normale’ kind deur. Ons probeer ons bes om te oorleef. Ons probeer ons bes om Christene te oorleef wat met goeie bedoelings vir jou dinge vertel soos:
1. 'Die Here weet vir wie om so iets te laat oor kom - ek sou dit nooit so goed soos jy hanteer het nie.' (Terwyl elke sel in jou liggaam uitskreeu na God hoekom jy so spesiaal is dat dit nou vir jou moet oorkom en jy baba-treetjies gee van dag tot dag want jy weet nie hoe om dit te hanteer nie en jy vrees vir wat God nog so ‘goedgunstiglik’ oor jou pad gaan bring.)
2. ‘Daar moet sonde in jou lewe wees wat jy nie mee gedeel het nie, daarom bring die Here dit oor jou. Soek en bely, suster.’ Jobtroosters. (Terwyl jy jouself elke dag kasty oor wat jy verkeerd gedoen het, watse slegte ma jy is, hoekom het jy in Botswana gaan vakansie hou, moes jy nie na 'n ander dokter toe gegaan het nie? 'n Ander hospitaal? Moes jy nie sy koorsstuipe en rukkende liggaampie anders hanteer het nie?)
3. ‘Wees dankbaar so iets gebeur, dis 'n wonderlike voorreg en ‘'n voordeel vir jou ander kinders om met so 'n kind in die huis groot te word.’ (Terwyl jy veg teen skuldgevoelens en veg om tussen al die kinders se behoeftes deur te worstel, sodat jy tog net nie een van hulle afskeep nie, want die gestremde enetjie vat meer as sy deel aandag.)
4. Die beste een: ‘As jy net glo, sal God jou kind genees. Jou geloof is seker nog nie sterk genoeg nie.’ (Terwyl jy voor die Here kruip vir genade, dat hy net nog ‘noefening kan baasraak, terwyl jy nagte om bid dat hy netmoet slaap vanaand, terwyl jy van geloofsbidder na bidder gaan, want jou geloof skiet duidelik te kort... aldus die Super Christen – ek het hul toe nog nie uitgeken vir wat hulle is nie. Ek het toe net sleg gevoel omdat ek so vrot christen is en nou moet my kind daaronder ly. Baie jare later sou ek besef dat my geloof nie God se arm gaan draai nie. Hy doen wat Hy goed dink.)
Maar later meer oor mooi Christen antwoorde in krisistye. Ek kan 'n boek skryf; o, ekskuus, ek is reeds besig daarmee!
Nog steeds is dit nie die einde nie. Ons groot besigheid wat vir tot 250 mense werk gegee het, speel bankrot. Natuurlik het ons God vertrou om alles te red. Natuurlik het ons dag en nag gebid vir n uitkoms vir die besigheid en die werkers. Maar hier leer ons ‘n pynlike waardevolle les: God spring nie altyd saam met jou oor daai muur nie; partykeer los hy jou om in die muur vas te duik, want Hy het ander planne. Ons verloor basies alles, nie net ons geld en besittings nie, maar ook ons goeie vriende wat deel was van ons besigheid en wat ons bygestaan deur ons bekering en geestelike groei. Wat verkeerd gegaan het met ons vriendskap, weet ek tot vandag toe nie. Hulle het seker maar gedink ons loop weg met miljoene rande se verskuilde geld of ... whatever?
Ons trek na Hartbeespoort waar ons genadiglik ‘n erf besit en begin die pynlike geboorte-proses van ‘n nuwe lewe. Nuwe vriende wat ons moet vertrou met ons emosies en ons gebreklike gesin (want kyk, dis nie baie mense wat die geduld het om vas te kyk in so klein stukkende mense nie terwyl hul net wil rustig braai nie, en dis nie almal wat wil meng met ‘'n ou wat als verloor het nie). Anton en ‘n ou skoolvriend begin ‘n klein hardewarebesigheid wat ook nie op dreef wil kom nie. ‘n Derde klein van Zyl word gebore, Chantal, ‘n klein vuurvreter wat van die begin af op alles klim en van alles afval met die waagmoed van ‘n beer. Sy het gesorg vir ‘n paar ongemaklike doktersbesoeke waar ergere verduidelikings gegee moes word!
Ons seun ontwikkel stadig en ek is moeg tot in my siel in vir elke dag se oefeninge wat jaar in en jaar uit dieselfde bly, want dis nou nie juis of hy skielik leer wat is die verskil tussen blou en groen nie, of watter blokkie pas in watter gat nie. Die die dokter sê mos: die hoeveelheid wat die kind se brein ontwikkel hang van die hoeveelheid moeite af wat sy ma met hom doen. Ek haat elke dag wat ek opstaan en dieselfde vervelige oefeninge moet herhaal. Dit lyk nie of dit enigsins help nie. Ek het aanvanklik Glenn Doman se program gevolg wat vereis dat jy 16 ure per dag jou kind oefen en mense kry om jou te help. Waar kry jy mense wat so iets wil doen? Ek ken hul nie. Ek moes die kind wat op sy boude rondseil, teen alle fisioterapie-reëls in en teen die dokter se diagnose in, kry om te loop. Elke dag bene oefen, optrek teen ‘n tafel, loop met ‘n raam – hy kan nie – ek moet alles laat gebeur. Dit het so erg geraak dat ek nie met my dogters wou speel nie, want elke speletjie herinner my aan ‘n terapiesessie wat tot vervelens toe herhaal moes word. Ek was in 'n tronk vasgevang van skuldgevoel en roetine. Ek het ‘n minuut, ‘n uur, ‘n dag begeer om net NIKS te doen nie. Of enigiets anders, net vir myself. Tot ek op ‘n dag besluit dat Sean-Jacques nou in God se hande is. Ek is opgebruik. Van my is net 'n leë dop oor wat ook nie te danig goed of versorgd lyk nie.
Anton het mos 'n teorie wat sê: 'n Mens doen wat jy kan en gee wat jy het. Dis moeilik verstaanbare woorde, maar as jy besef jy het nie meer nie, dan besef jy die waarde van daardie woorde. Ek begin rustiger raak en speel en stap met die kinders eerder as om te oefen. My tyd is steeds hulle s’n maar die las is van my skouers af. Maar die seisoen van ellende kom tot 'n einde.
Volgende keer meer oor ons nuwe visie.

Sunday, January 9, 2011

HOOFSTUK 2: Mevrou Doeminie se Annus Horibilus

Dankie aan my drie volgelinge... waarvan ek een is. Hier is vir julle nog 'n spannende aflewering in die wroegings van 'n Mevrou Doeminie.

(NS op die foto is ek en my Mnr. Doeminie wie se grootste sonde is - volgens die 'Super Christene' - dat hy dink ons is hier op aarde om 'n seën te wees vir ander - soos Jesus was.)
IEMAND WAT NIEMAND IS
Ek dink nie regtig ek is niemand nie, ek het darem ook ‘n lewe. Maar ek is beslis nie ‘n eks-sportstêr of paaldanser met lang bene wat ‘n boek skryf oor my vurige romanse met ‘n sanger of tv-nuusman nie. Ek is ook nie ‘n vrou van ‘n bekende wat ‘n vurige minnaar was van sulke vroue nie. My storie is ook nie normaal nie, alhoewel daar baie soos ek is wat in ellende voorsukkel met hul eie demone en abnormale lewens wat net nie soveel moed het om die flippen storie op papier te sit nie. Ek was al ryk en arm. Ek was nog nie so arm dat ek in ‘n koffieshop hierdie blog sit en skryf nie... soos die Harry Potter tannie nie, want sy was kwansuis so arm sy moes in ‘n koffieshop sit en skryf. Ek is tans nie so ryk nie. Ek suig maar tuis aan my een gebruikte Black-Forest teesakkie.

Ek is egter in so ‘n swartgallige plek in my lewe dat humor nou al is wat my uit my gat van vrot demone en hormone gaan kry, daarom kyk ek terug op my jaar. Ek wil eintlik nog ‘n kursus skryf om jong, onskuldige predikantsvroue te waarsku om eerder glad nie te trou nie, iets soos:
Predikantsvrou 101: Hoe om predikantskap te oorleef en vroom, dog skynheilige, mense te bly vertrou. En te glo God is in beheer al lyk dit of die kerkraad en ryk lidmate in beheer is. Of om te bly glimlag al praat jy met die grootste ou bitterbek-omie in die kerk wat net kritiek het op alles wat jou man sê en doen. Of om jou bek te hou as ‘n juffrou wat nie van jou man se moderne kerksiening hou nie, jou kind onregverdig afkraak by die skool.

Of om mense te vergewe wat ketels in die kerk vir jou toesluit omdat jy die ander dag ‘n vuil koppie in die kerk vergeet het tydens jou ellendige onwelkome bediening se bymekaarkoms. Of om aan te hou met daardie bediening al besluit die bestuurspan om almal teen jou op te steek en jou aksies te boikot. En natuurlik, die mees uitdagende tema: Hoe om ‘n skynheilige *Super-Christen uit te ken en te vermy. (Want hulle trek jou af tot op hul vlak dan wen hul jou met ervaring!)

*Net vir ingeval jy nie weet wat ‘n Super Christen is nie: Dis ‘n persoon met of sonder aansien (geld) wat volgens hom al die pad waaragtig gestap het: jy moet nog ‘arrive’, want kyk, meneer Super-Christen is al deur elke denkbare doop, elke denbare taal, elke denbare seminaar (of kamp of katkisasie), elke denkbare Geestelike ervaring en beproewing – en hy was al ten minste drie keer in Israel. Hoe weet jy dit? Hy vertel jou met vrome smaak hoe geestelik gevorderd hy is en hoe ver jy nog tekortskiet. Hy het geen sonde nie want hy het daarmee gedeel soos elke sondaar moet, anders gaan jy hel toe. (Christus se kruisdood is nie heeltemal so belangrik as die feit dat Superman/woman hier, self sy sonde oorwin het en met ‘n leliewit gewete die hemelpoorte gaan insweef nie). Sommige van hulle kan jou ook allerlei geestelike dvds in die hand stop omdat die goed wat jy lees of luister nie op die vlak is van Super Christenskap nie. (Hierdie dvd’s sluit alles in van hoe Oprah die anti-chris is en hoe die Illuminati alles van Aids tot melk gebruik om die mensdom se getalle in toom te hou – ja werklik.) En natuurlik: hy of sy hoor gewoonlik direk God se stem, wat dag en nag heeltyd met HOM alleen praat (omdat hy sulke gevorderde ore het), hy weet ook wat is reg en verkeerd – wie is reg en verkeerd. En o, ja: Hierdie meneer Super Christen het natuurlik ook alleen die Gees van onderskeiding. As jy nou wil minderwaardig voel en ‘n super-vrot Christen, meng graag met hierdie Superwese, want jou mening en belewenis met God sal nooit op die regte vlak kom nie. En behoede jou as jy 'n tatoo iewers op 'n ongekende plek op jou liggaam het of selfs 'n belly-button ringetjie. Ag nee, dan is jy slegter as koffiemoer.
Nota aan ‘vrot’ Christene: Vir hierdie Super-Christene wil ek net sê dat die moordenaar aan die kruis geen een van hierdie dvd’s gesien het nie, geen doop deurgemaak het nie, geen papiertjie met seëls op of van suksesvolle (volgens die dominee/pastoor) katkisasie voltooiing, of geen ander taal gepraat het, behalwe die taal van: ‘Jesus, onthou my, arme sondaar, as jy in die hemel kom.’
NS. Ek het niks teen dope, tale, papiere, tradisies en rituele nie – behalwe as jy dit gebruik om ander te dwing om soos jy te wees. Ek glo elke mens het die reg om God deur Jesus Christus te dien op sy EIE UNIEKE MANIER.
(Ek wou ook nog sê dat die super-Christen kom uit enige denominasie – al hoe jy weet jy het met een te doen, is as jy daardie gevoel kry dat jy nie goed genoeg is nie. My raad: hardloop weg en vinnig ook. Jy hoef nie met hierdie skepsel te praat nie – jy kan ook nie – gaan praat liewer met iemand nederig, soos Christus.)

Jammer, dis nou weer ou Griekie Galbraak wat aan die woord is (het ek al gesê ek is dalk bietjie skisofrenies want ek het ‘n ou Griekie Galbraak wat elke nou en dan uitspring en haar lippe dik pomp?) Eintlik is ek ‘n ou softie, die regte ek is ‘n dierbare, glimlaggende, hulpvaardige ou swakkeling wat nie vir haar regte kan opstaan nie. Daarom werk skryf nogal vir my.

WIE IS EK NOU JUIS DAT EK IETS KAN Sê?
Die regte ek is gebore in Pretoria in ‘n Sunnyside woonstel in 1965 toe dinge nog anders was. My pa, Josua, ‘n landbouvoorligter, was ‘n man van imbors en my ma, Alta, ‘n helpende hand soos min en het voor in die kerkkoor gesing en het nog gedink dominees is vroom, sondeloos en opreg. In haar oë was die dominee iemand met wysheid en ‘n godheid wat min mense besit. My pa was vies vir dominees omdat hy met een so godsman ‘n fight in die kerkraadsvergadering gehad het oor wie weet wat. Daarna het hy net met nagmaal kerk toe gegaan en het dit verpes as die dominee en ouderling kom huisbesoek doen terwyl hy televisie wil kyk. Huisbesoeke was onaangenaam en spanningsvol. Voor die koppies koud was en die ink op sy tjek teenbladjie droog was, was my pa al met een voet in die TV kamer, besig om Columbo te kyk (Columbo was ook meer aantreklik as ons dominee, moet ek bysê!)
My siening van ‘n dominee was as gevolg van my ouers dus so 50/50. Dit het versleg toe my finalejaar katkisasieklas in die tyd van Knight Rider geskeduleer was. Ek was ‘n rabedoe wat geleef het vir aksieflieks en TV (die bietjie televisie wat ons toe gehad het in doerie jare. Ek dink die Brady Bunch sou ook getel het onder ‘aksie’ in daardie dae!). En om vir Kitt en David Hasselhoff (oftewel: the Hoff) week na week op te offer vir ‘n vervelige les oor die wet en die belydenis, was SO nie reg nie! Ek het die onvoorbereide toets oor die tien gebooie en die belydenisskrif gepluk en die dominee was oortuig ek is ongered. Dit het my min gepla. Al waaraan ek kon dink was nog ‘n avontuur van Night Rider wat ek misloop.
Skool was boonop aaklig. Ek was nie cool nie en het ‘n bos kroes hare gehad in ‘n tyd toe Purdey van New Avengers met haar satynagtige bob-haarstyl die inding was (en GHD haar- straightners was daar nie). My pa het my altyd gespot en gesê ek lyk soos Leo Sayer (weereens ‘n naam en bos hare wat net die langtanne sal onthou). Dit het nie goed afgegaan by my nie.
My pa het egter altyd gesê ek is uniek want ek kon dinge nogal op ‘n vreemde manier doen en beskryf. Dit was vir my goed genoeg dat ek uniek is (al het ek kroeshare gehad). Ek was nooit dapper of het uitgestaan met sport of akademie nie. Ek het probeer perdry maar was meer afgegooi as wat ek bo gebly het. Oom Mof met die wit bakkie en turksvyplaas het ons op ‘n Saterdag opgelaai by die groot boom op die hoek en dan het ons daar gaan perdry. Dit was die eerste les in vertroue op God se genade wat ek werklik verstaan het. Ek moes maar altyd meer klou as ander om bo te bly. In my kop het ek egter gelyk soos Lara Croft of Zena, die warrior prinses. En een belangrike lewensles het ek daar geleer: om bo te bly – al kan ek vandag steeds nie ‘n perd beheer nie. ‘n Perd sal vir my nie afgooi nie; ek kan klou. Dis buitendien te flippen seer om af te val.
So worstel ek deur Duits en Wetenskap en Wiskunde op die Hoër Volkskool Potchefstroom. Ek gaan studeer Kommunikasiekunde met joernalistiek net omdat die Voorligting juffrou my met my kroeshare en skaamgeit suur uitgekyk het en gesê het ek sal nooit ‘n joernalis kan wees nie. Te stil en te flippen stupid, het sy seker gedink, om nie te praat van die hare nie!
(Ander keer meer oor my universiteit belewenis oppie PUK! (Potchefstrooms Universiteit vir Coke, Hamburgers en Ontug het ons dit genoem!) En jy mag nie gedans het nie, en ook nie gestaan en vry het nie want dan dink hulle jy dans. So, jy moes maar lê en vry... Ag ja, die goeie ou dae...

Sunday, January 2, 2011

MEVROU DOEMINIE SE ANNUS HORIBILUS: Hoofstuk 1

Die koningin van Engeland het so ‘n klompie jare gelede dit beleef toe haar seuns se huwelike opbreek en 'n stuk van haar kasteel nog boonop afbrand. Sjame. Elke mens beleef dit sonder uitsondering. Jy verwag dit nie, dit tref jou soos ‘n tsunami en nog een en nog een... en voor jy jou kom kry het jy dit:
'n 'Annus horibilus'.
(Dis ‘n Latynse term vir ‘n slegte jaar of soos die Engelse sal sê:
a Horrible year.)
(NS: op die foto is ek en my Sweedse vriendin by 'n Robert McKee 'Story' Seminaar in Londen in 2008. Ja, ek's dalk agter die brug, maar ek weet iets van skryf af. Ek skryf. Dis wie ek is.)

Waarskuwing: Redes waarom jy nie die Blog moet lees nie... (Dis in rooi geskryf, sien jy?)
Hierdie blog is die gevolg van die wroegings en ervarings van net myself en enige verwysing na enige mens of gebeurtenis is heel waarskynlik net uit my wroegende verbeelding gesuig. Aangesien ek al oor veertig is, is die geheue ook nie so goed nie, en kan sekere gebeure dalk baie weird en selfs pateties voorkom.


Hierdie blog is nie vir mense met swak harte of wat glo dat ‘n doeminee se vrou nie mag vloek nie. Ons kan en ons doen, wel, party van ons doen (die ander beleef nooit ‘n annus horribilus nie!). Ek gebruik wel eufemismes soos: flippen en twak (vir die wat anderkant die spoor grootgeword het en weet wat ek bedoel. Vir die ander klompie: ‘n Eufimisme is ‘n versagtende vorm van ‘n woord sodat mense nie beledig voel nie.)
Hierdie blog is nie ‘n wetenskaplike verhandeling nie en daarom gaan ek my taal mix sonder om aanhalingstekens te gebruik of skuinsskrif.


Nou ja, mag die nie-wetenskaplikes en nie-taalpuriste en die vloekendes met sterk harte wat nog oorbly dit geniet want jy vind dalk dat dit jou makliker help deur jou annus horibilus.

Hierdie blog is die gevolg van spesifiek vier krisisse in my lewe:
1. Sonder dat ek dit gevra het of verdien het, sit ek vir ‘n week in Oslo in Noorweë vas, een van die duurste stede in die wêreld, as gevolg van ‘n vulkaan in Ysland met ‘n onuitspreeklike naam wat vuur spoeg en die lugruim besoedel met as. En dit maak dat ek die belangrikste afspraak van my lewe in London mis. ‘n Afspraak wat ek al vir ‘n jaar voor beplan en voorberei en bid (en die hoogtepunt van jare se worstel, swoeg en sweet aan my storieboek.)
2. ‘n Paar leiers in ons kerkgemeenskap maak dit hul besigheid om my man te vernietig. My man, 'n opgeleide predikant (met M-grade en al in Teologie aan Tukkies verwerf) is iemand wat nie tradisioneel glo dat die Bestuur van die kerk die hoogste gesag in die Tradisionele kerk (Ons noem dit die T-Kerk) is nie, maar wel God. Onder hulle is ‘n paar mense wat hulself goeie vriende genoem het. En elke kerkvergadering wat gehou word, openlik en agteraf, word gehou asof God nie deel is van die beplanning nie – en mense se agterbakse en selfsugtige planne vier hoogty (soos ek sê – dis net my eie verwronge persepsie. Dalk is dit nie waar nie.) Die deel van die vriende verloor is wel waar. Goeie Christenmense... Ek stem saam met Ghandi... Your Christ I like, but your Christians I don't.
3.Ek vrees ‘n hospitaal en diegene wat daarin werk as gevolg van my ouers wat ek verloor het weens swak behandeling en my gesonde seun wat breinskade opgedoen het op 15 maande ouderdom as gevolg van dokters se swak diagnoses. Dus: My twaalfjarige dogter moes ‘n rugoperasie van agt ure lank kry. En ek weet nie meer as gevolg van punt 1 en 2 hierbo of ek God hiermee wil vertrou nie. (En ek sê dit met vrees en bewing, want ek is in ‘n gat van vertwyfeling en wroeging, en ek is net eerlik. Al weet ek diep, diep, baie diep, binne in my dat God wel in beheer is... My Annus Horibilus sê anders!) (Hierdie operasie is suksesvol voltooi in 2010, dankie Here, vir daardie genade!)
4. Ek sukkel met mense vertrou, met kritiek hanteer elke keer wat ek my kop uitsteek met my skryfwerk (en so bietjie buite die boksie dink) dit gebeur baie omdat ek gemeenskap musiekblyspele skryf - Bybelse verhale met moderne musiek, soos Abba, Celine Dion, Elvis en Queen. (Sies, mev. Doeminie, jy van alle mense kan mos nie so iets doen nie - ek bedoel - jy is tog MEV. DOEMINIE!). As jy dink Queen is nie uit die hel nie, wat van ons kinders? Sjame, man.)
Ek hoop my pad van twyfel, kommer, woede, vreugde, humor, pyn en angs kan jou dalk op een of ander manier help deur jou eie geloofspad. Soos ek hier skryf is al hierdie dinge aan die gebeur in my lewe en ek weet nie wat die uiteinde van my boek gaan wees nie. Maar ek worstel met God... dalk soos daai engel met Jakob gestoei het. (Ek het dalk 'n gewigsvoordeel wat Jakob nie gehad het nie...)

Mag God my deur my geloofs-geveg help en verras.

René van Zyl
*Predikantsvrou (nie uit vrye keuse nie, maar die Here vertrou my blykbaar hiermee.)
*Eks-joernalis
*Eks-PUK Kommunikasiekunde (Honeurs) student
*Kinderwerker, -poppemeester (Puppetmaster!) en stemkunstenaar.
*Sukkelende skrywer (wat niks kan skryf wat die suiwer Suid Afrikaanse mark kan bevredig nie. Verhale met historiese agtergrond wat in ander lande soos Ierland en Noorweë afspeel, is blykbaar nie op ons tieners se leeslysie nie, aldus 'n groot Afrikaanse uitgewer. )

NOG WAARSKUWINGS
(Of redes hoekom jy liewer nou moet ophou lees...)
As jy tot dusver nog nie van verveling ophou lees het nie, kan die volgende bekentenisse oor myself jou dalk verder afskrik en laat afsit na die naaste Drankwinkel om jouself aan Johnny Walker te gaan vergryp. (Moet net nie die hele blog sit en deurwroeg en aan die einde sê jy’t nie geweet ek is so ongekultifeerd en ongeskik nie!) So...
Ek lees (en geniet) die Huisgenoot.
Ek is mal oor fliek. Ek is mal oor fliek. Ek sien geestelike (Christelike) lesse in flieks - wel nie die ergste Tarrentino-bloedspat-moord-en-doodslag nie - die res.
Ek kyk televisie. Ek’s mal oor Survivor, Chuck en Desperate housewifes en Geraldina die Tweede.
Ek lees tans net Deon Meyer (Afrikaans) en Terry Pratchett.
Ek geniet TMAS (The most amazing show op SABC TWO!) onnatuurlik baie. Ek is verstom oor Twakkie en Corné se flymskerp, dog totaal natuurlike, toneelspel. (As jy nie weet wie hulle is, moet regtig nie worry nie. Regtig nie... dit het my ook vriende laat verloor.)
Ek het ‘n bruin beld in karate, JKA. Ek’t opgehou op universiteit want, ek bedoel, wie gaan twee keer ‘n week klas toe om dik getik te word deur ‘n ou met die naam Stoffel en met ‘n derde rooi strepie op sy swart beld? Have a heart! (Ek moet erken, en dis die moeilikste bekentenis: dat ek verlief was op Chuck Norris vir die grootste gedeelte van my skoolloopbaan. Ek is jammer.) Ek is nou verlief op die wolfman in die Twilight sage: Jacob. Sjoe, mevrou Doeminie!
Ek kan ‘n beter vloermoer gooi as ‘n tweejarige (dis nou as ou Griekie Galbraak diep uit my onderbewussynse galblaas horibilus uitspring). Dis nie verstandig nie, want jy verloor vriende. En ek't nogal baie verloor in 2010. Sies, mev. Doeminie!
Ek is mal oor Nataniël. Hy’t dan al selfs ons mevrou doeminies in Pretoria toegespreek!
Ek (wel, nie ek nie, dit was my alter-ego, Spike, ‘n blou seuntjiepop met kroeshare) het al op ‘n radioprogram vir onskuldige Christenkindertjies die woord Platipus genoem in ‘n storie oor die skepping. Ek (en Spike) is nie weer genooi nie. Ek moes dalk die woord: eendbekdier gebruik het. Maar, dis nie ek nie. Ek glo aan inlig, opvoed en vermaak - het dit in Joernalistiek geleer.
Ek het al tydens ‘n poppeteater vertoning by ‘n klein ordentlike teater die gediggie van: Dis die groen dis die blou, dis die brooklax wat ek kou... ens. ens... tot die ou toilet toe hol... en als, opgesê – al het ek dit nie tot op die besonder morsige einde geken nie. En al het ek nooit tot op die einde vertel nie, is ek ook nie weer teruggenooi nie. (Dit was ook nie ek nie, maar my alter-ego, Stoffel, ‘n wollerige grys hond met tennisballe vir oë). ‘n Bekommerde moeder het na die tyd gaan kla oor die gedig dalk haar kind kan ontstel. (Ek vra die vraag: Ek wil net weet hoe sy die gedig ken en hoe weet sy hoe dit eindig? Ek weet nie eers nie... wel, ek weet vandag van die ‘twak’ in die broek en so aan, maar ek het nie toe geweet nie!) Sies Mev. Doeminie.
Ons mag nie ‘n Leon Schuster fliek in ons huis kyk nie. Ek is mal oor Leon en dink Mama Jack en Mr. Bones is van die beste Suid-Afrikaanse flieks ooit, maar Sean, my breingestremde, het die woord ‘p**pol’ in al sy gebrekkige sinne begin gebruik. Dit sê so lekker en alhoewel ek nie dink dis so ‘n danige vloekwoord nie, het ‘n vorige juffrou van hom gedink die duiwel self val haar aan as Sean by die skool kom en haar links en regs P****l. Ek verstaan haar punt, want skielik sê al die gestremde kindertjies dit ook, selfs die wat nog nooit kon praat nie!
Ek het nooit gevloek nie, maar my amp as Mev. Doeminie het my genoodsaak om sekere woorde onder die knie te kry sodat ek die prentjie van ‘n heilige doeminee en sy vrou vir eens en vir altyd die nek in kan slaan. Ek bedoel, ek het met ‘n ingenieur getrou, die feit dat hy daarna dominee gaan swot het, het my nie moeder Theresa gemaak nie. En dit maak ook nie iets van my vriende nie. Ek het wierd vriende (die wat oor is). Ek sukkel om met skynheilige, sondelose mense vriende te wees. Hulle mix nie hul taal nie, laat nie 'n windjie nie en drink nie eers 'n wyntjie nie. Hulle waardeer nie my woordeskat nie. Ook nie my ellendige gebrek aan respek vir titels soos professor of dominee of doktor nie. Ek bedoel: ‘n mens is ‘n mens. Hy het ‘n naam. En buitendien as hy nie respek verdien nie, gaan sy grade dit nie doen nie.
En laastens: ‘You touch my husband, my kids, my friends... you touch me... Don’t go there.’
Ek kan nie nou nog aan spesifieke verswarende getuienis teen my dink nie, maar ek is seker dit sal stuk-stuk in die blog uitkom. Hierdie is nog ‘n kans om die blog toe te maak. Moenie deurworstel en later sê jy hou nie van my of my swak taal nie (Ek gaan beslis die woord: “doodbliksem” gebruik die een of ander tyd, jammer, en heel waarskynlik “an(n)us”.)

(Word vervolg...)

So, WHAT DOES A WRITER'S 'ANNUS HORRIBILUS'
LOOK LIKE? (2010)


Ever since the Norway Disaster*, that broke my "Wee Monk's Tale" dreams and my heart, I have been working on some screenplays to keep me busy.


*You need to know this about me: So I went on this mission to do some networking at the London Book Fair 2010. My suitcases were all packed, including self-published copies of my book, Wee Monk's Tale, The Secret of Immortality; my adapted screenplay, visitor's cards and whatever! My hubby, Anton joined me and so did our two daughters, Michelle and Chantal. We planned a week in Wales and a week in Norway before the BIG BOOKSHOW! I was going to hit London with a BANG! And I wasn't going to leave without a publisher or literary agent. No, way!But, with a BANG the volcanic ash hit us while in Bergen, Norway, and we had no way of getting to London. We were stuck in Oslo for another week. It was one of the biggest disappointments of my life.


So where am I now?

2010 was a terrible year for me and my family - not only did I miss the London Book Fair, but we went through some rough patches with Anton's work as a reverend and my kid, Chantal had a back operation, to name a few emotional setbacks! Wee Monk's Tale was my first born (book) and I worked long and hard on the screenplay adaptation, but later in the year a friend suggested I write a Christian screenplay (drama, ugh!) - I'm more an action-adventure type of girl. But I had the idea and then wrote the script in 3 weeks time. Wow. I was surprised! The name: King's men.


So, I started on another one, a musical, Heartsong, a Greek love story (also three weeks) and now I've started on another one, a more serious Christian-spy story - No name yet... I think something like: Silent weapon. Or whatever. I am doing research now - reading up on drug smuggling and secret societies. Oh, I love it! I already wrote the first 15 pages.I gave up on thinking I will sell any scripts - yeah, I used to think it will come easy and God himself will pave the way, but life is not that simple.


This year 2011, I'm thinking, I'll keep on writing and hopefully, maybe, whatever...I'm not finished with the follow-up book: Wee Monk's Tale, the secret of the mountain troll, either, but I will get there. My heart is still broken - you know, the London book fair, the ash, my faith in God and his plans with me and my own dreams. Maybe it is not meant to be, even though I got good feedback from the Fresh Voices Screenplay competition. Very good indeed. But not good enough to be the winner it seems. Will find out who the finalists are on 17 Jan.
I wrote another play (Musical) for our Church, Samson the Great, and it will be fun to once again entertain the locals! And let the critics loose, because, I mean, really! Why on earth will I use the music of Queen in the life of Samson. Well, come and see for yourself! And come throw your stones, I'm used to it by now. One of the great advantages of thinking out of the box!

May God be good to us writers in 2011 - the aspiring ones, especially. And yes, if Mel Gibson do contact me about my movie, if he gets over his problematic love life and personal problems, then of course, we can still make a lovely movie in Ireland! He is such a good director, actor and person, I know so. I still believe in him. We all had a really bad 2010!


Luv Rene' van ZYL - South Africa