Thursday, December 22, 2016

Mevrou Doeminie Voelgoed blogs

2018 - NUWE JAAR EN NUWE HOOP!

Nog n blog of twee - 

MEVROU DOEMINIE EN DIE ROOMYSMONSTER

Was jy al ooit so lus vir iets lekker – sê nou maar ʼn roomys, maar die manier hoe die onentoesiastiese verkoopsdame haar werk doen, maak sommer dat jou lus in pure frustrasie oorslaan?

Dit gebeur met my en ʼn vriendin toe ons opgewonde soos kinders in Italië van die lekkerste roomys in die wêreld – en vrek duur – bestel in ʼn klein dorpie wat jou aan ʼn Middeleeuse verhaal laat dink. Ons moet uit tientalle geure kies. Elkeen lyk mooier en romeriger as die ander een en toe ons uiteindelik op ons drie geure besluit, staan ons met kwylende bekkies en wag vir ons duur bederfie.
Die dametjie agter die toonbank beleef egter nie ʼn goeie dag nie of sy is permanent ongeskik. Sy praat skaars en met daardie ronde opskeplepeltjie wat die mooiste roomballetjies behoort te vorm, kap sy soos ʼn reeksmoordenaar in die roomysbak en skuur dit met onaansienlike hale teen die plastiekkoppie af. Niks aan die proses is mooi nie. Nie die houding nie en nie die platgesmeerde hompe in die bakkie nie. My kwyl droog sommer op en ek wil amper snik.
Ons betaal en eet in stille tevredenheid, dog met ʼn mate van teleurstelling, aan die romerige lekkerte. ʼn Dag of twee later is ons weer lus. ʼn Ander dorp, ander geure en ons vra nederig hoopvol vir die verkoopsdame vir roomys. En wat ʼn plesier! Sy rol daardie lepeltjie met vrolike hale deur die roomys, plaas dit met oorgawe in die bakkies en versier dit verder met koekies en smarties sodat dit soos muise met ore lyk. Haar glimlag is so breed soos ons s’n. Dis mos hoe mens maak. Geniet jou werk, al is dit roomys skep. En jy kikker dalk net ʼn ongelukkige siel se hele ou ellendige dag op. Probeer dit. Jy sal jou eie dag ook opkikker met jou entoesiasme.


MEVROUE DOEMINIE OORLEEF NET-NET
Ek sien nou maar om my hoe mense elke dag veg net om te oorleef.
Die goeie dae is soos goue appels wat ons dra deur die slegte dae wanneer dit voel asof jy met vrot piesangs en papajas gebombardeer word. Ek sien daagliks ouers en kinders by die breingestremde skool waar my seun skoolgaan wat dalk bietjie erger moet oorleef as ander met ‘normale’ krisisse en kinders.  Eenvoudige goed soos dokters- of tandartsafsprake is ʼn nagmerrie en eindig gewoonlik in ʼn hospitaal met baie duurder kostes as normaalweg. En dit terwyl die kinders boonop duisende rande se medikasie moet gebruik om net ʼn dag te oorleef. Die ouers veg soms daagliks om positief te bly, selfs al is daar soveel seën saam met die uitdagings. Jy moet dikwels soek om dit raak te sien.
Ander mense verstaan nie jou daaglikse stryd om oorlewing en soeke na optimisme nie. Ander besef nie die diepe depressie wat jou aftrek en maak dat jy geen hoop in dieselfde scenario dag na dag sien nie. Jou eie vriende skryf jou af, want jy is nou te negatief en jy reik dan nie na hulle toe uit nie. En hulle wil só graag help, maar jy, jý hou jou mos upstairs en eenkant!
Al wat ek vra is dit jy probeer om jouself in hulle skoene in te dink. Elke mens om jou veg sy eie oorlog met wat dit ook al mag wees. Jy weet nie daarvan nie. Moenie iemand net afskryf omdat jy nie lus is vir hulle nukke nie. Hulle hang dalk aan ʼn draadjie en as jy daardie draad knip, is dit die laaste strooi wat die kameel se rug breek. Hanteer mense saggies, met watte, al verstaan jy nie. Elkeen baklei ʼn onsienbare vyand. Almal is nie so strek en geseënd soos JY wat al die 
antwoorde het nie. 

 MEVROU DOEMINIE KERM OOR LYDING

Dis darem maar erg hoe baie dinge in die lewe nie altyd reg loop nie – daardie ou storie van slegte goed gebeur met goeie mense. HOEKOM!! Dis die ewige onbeantwoorde vraag.

Met my eie lewe het ek al hierdie vragie vrot geloop. Ons seuntjie van 15 maande kry ʼn breinvirus en die ou slap dingetjie wat ek uit die hospitaal uit huis toe bring, is maar ʼn skadu van my seuntjie. Ek huil, baklei, lag, veg voort om net te oorleef. En nou is dit al 24 jaar later en ek skop nog. En hy.

Ander mense gaan intussen deur hulle eie soort hel. Verloor ʼn kind. Moet veg teen kanker. Verloor alles en soek werk op hul oudag, veg depressie. Daar is soveel onregverdighede. Hoekom ek, vra mens? Net soos Job gedoen het. Vandag sien ek dat die pad wat ek geloop het my sterker gemaak het. Ek het God leer ken vir sy grootheid, sy Vaderlikheid, sy genade, sy liefde en sy almag. Ek het nog baie om te leer oor God. Hierdie pad van my is maar babatreetjies om ʼn onverstaanbare, onsienbare God te probeer verstaan.

As ʼn mens deur ou lande soos Europa toer en jy stap deur honderde mosbegroeide begraafplase met graffies van babas tot tieners en ou mense, dan weet jy dat verlies en hartseer deel van die lewe is. God het nêrens gesê dat ons dit gespaar gaan bly nie. Ons gaan nie hemel op aarde hê nie. Daardie mense van die ou dae het met plae, oorloë en hongersnood en slegte higiëne en gesondheidsorg gesukkel. Ons het soveel meer gerief in vandag se tyd om ons hoop te gee. O ja, nie eens die apostels wat Jesus se beste vriende was, is lyding gespaar nie. Almal het wreed gesterf, het ook nie altyd alles verstaan nie, maar is graf toe met ʼn loflied.  Hou vas aan die hoop, aan die geloof dat God vir ons almal alles ten goede laat meewerk. Dis al wat ons kan doen.



 

 

 

MEV. DOEMINIE VERKEER VREETSAAM

Kersfees van my kleintyd was altyd ’n heerlike tyd van kuier met familie en lekker eet en, natuurlik, geskenke oopmaak. Daardie gebakte hoender en aartappels, jellie-vorm wortelslaai en trifle poeding proe ek nog tot vandag toe as ek aan daardie familie-kuiers dink.

As ek terugdink aan my kinderdae onthou ek nie een present wat ek gekry het nie, net die lekker gevoel van saamwees en gelukkig wees. ’n Tyd van vrede en liefde. Nou is ek oor vyftig en ek begeer geen geskenke nie, net om tyd met my geliefdes te spandeer – al is dit nou net ’n braai en knoffelbrood (want ek het nie my ma se gawe van kosmaak geërf nie, en die Spar se trifle-poeding is net so lekker!). Maar met die dat gesinne oor die wêreld versprei is en met almal wat besige programme en werke het, is dit al hoe moeiliker vir gesinne om Kersfees saam te kuier.
Veral die ouers of grootouers spandeer dikwels alleen Kersfees. Ek sou wat wou gee om ’n Kersfees met my oorlede ouers te kon spandeer. As jy die voorreg het om ouers te hê, moenie hulle afskeep nie. Gun jou kinders die geleentheid om daardie lekker samesyn en opwinding van Kersfees te beleef – saam met geliefdes – soos ons in die ou dae gedoen het. Al is die geskenke klein, dis die TYD wat jy gee wat die eintlike geskenk is. Hoe ouer mens word, hoe minder beteken geskenke en hoe meer beteken tyd saam.
Kyk asseblief die video wat hieraan aangeheg is – dit is ongelooflik pragtig en bewys net hoe kosbaar tyd met geliefdes is terwyl hulle nog daar is. Luister maar weer geduldig na die ou stories wat die oumense oor en oor vertel en kyk deur foto-albums, onthou kosbare tye saam, want as dit verby is, is net die herinnering oor. Jesus se groot geskenk aan ons van liefde en vrede kom tot sy volle uiting as ons as geliefdes saam is.    
MEVROU DOEMINIE EN DIE MOEILIKE MOEDERS 

Liefde tussen ma en kind. So maklik, so moeilik? Twee van die belangrikste mense in jou lewe, twee wat jy die liefste moet hê, is dit nie?

Ek sien soveel moeilike ouer-kind-situasies. My ma, Alta, het my onvoorwaardelik liefgehad deur my storm-en-drang-tienerjare. Sy’t NOOIT kritiek gegee nie. Net raad AS ek gevra het. Sy het my kreatiewe, vreemde persoonlikheid vertrou. Of eerder: vir God met my vertrou. En gebid.
Ek ken twee ongelooflike vrouens. Een (Lina) se ma is so vol kritiek dat sy in elke woord, komma en hoofletter van haar foutvind. Lina is volgens my ’n Spreuke 31 vrou: onder uitsonderlike omstandighede het sy haar kinders grootgemaak, soos geen ma kan nie. Sy het alles gegee, elke druppel liefde. En haar man en huwelik met grasie en liefde geseën. Haar plek in die hemel is met rose besaai, maar haar ma se aanvaarding en liefde is wat sy begeer. En totale vertroue. Dis wat ’n ma mos is?
Die ander vrou, Lena, loop net soveel oor van onvoorwaardelike liefde vir haar kinders. Een kind het haar (en haar man) verwerp a.g.v. ’n paar belaglike misverstande. Die ander kind het ’n breindisfunksie. Dis hier waar ’n ma se liefde werklik getoets word. Sy kan hóéveel liefde gee, maar wat sy terugkry is gereelde ‘melt-down’, huis afbreek, verwerping en onverstaanbare tantrums. Maar sy beur voort, gee liefde, vat die pak slae, want dis hoe ’n ma mos is. Ook sy moet God vertrou met hierdie kinders (al kos dit baie trane). Kritiek gaan hier nie werk nie.




Hoe onvoorwaardelik is jóú liefde vir jou kind? Jy wat dalk ’n gewone (soms onverstaanbaar vir JOU) kind het wat sy/haar plek in ’n uitdagende wêreld probeer oopveg? Is jy heeldag soos ’n verwoestende tsunami oor jou kind oor sy/haar besluite/vriende/keuses? Jy MOET net liefde gee, al is dit moeilik. Vader-God se onvoorwaardelike liefde moet die norm wees. Vertrou God met jou kind. Bid vir hom/haar. Hou jou mond. Al praat jy die tale van mense en engele en jy het nie liefde nie, is jy NIKS.

MEVROU DOEMINIE EN DAAI HOLLYWOODERS

Niks goed kan mos uit Hollywood kom nie, of so het ons oumas en oupas gedink toe hulle woes gekeer het dat ons as kinders enigiets erger as Brady Bunch, Wielie-Walie of Heidi kyk, uit vrees dat ons siele verwoes gaan word.

Ons almal het steeds baie kritiek oor die Hollywood-monsters wat ons huishoudings so hijack. Maar tog, jy kry deesdae soveel goedhartige ‘Hollywooders’, en ja, hulle kry ook net soveel kritiek te midde van die feit dat hulle derduisende rande gee vir rampslagoffers of vir opvoeding, soos die legendariese Oprah (wat ook al haar motiewe, wonder jy natuurlik). Wie my regtig beïndruk, is die beskeie 57-jarige Ellen DeGeneres, aanbieder van haar eie geselsprogram, wenner van 29 Emmys, 17 People's Choice Awards, en nog ’n spul toekennings vir haar liefdadigheidswerk. Hierdie jaar het sy ook die Presidential Medal of Freedom van President Barack Obama ontvang, ’n groot eer.
Ja, ja baie mense kan haar nie vergewe vir haar ‘alternatiewe’ leefstyl nie, maar regtig, die vrou is ’n sagmoedige reus met ’n hart vol liefde. Kyk maar net na enige van haar programme. Haar woorde toe sy die 2016 toekenning vir Gunsteling Humanitêre persoonlikheid ontvang is: “Ek het my beroep as ’n komediant begin want ek wou mense laat lag en lekker voel ... Dit is vreemd om ’n toekenning te kry omdat ’n mens gaaf, goedhartig en vrygewig is. Dis mos wat alle mense veronderstel is om te wees teenoor mekaar? Ek wil graag hê dat almal mekaar liefde bewys, is dit nie wat ons elkeen wil hê nie: liefde?
Is dit nie woorde so reg uit Jesus se mond nie? Hy sou dieselfde vra as iemand hom die toekenning gegee het. Hy sou graag vir ons elkeen so ’n toekenning wou gee, ’n liefdestoekenning. Al het jy nie geld om aan liefdadigheid te gee nie, gee liefde en respek aan alle mense, of jy hou van hulle of hul lewenstyl of kultuur of nie, dis mos wat menswees beteken. Liefde is gratis.  

MEV. DOEMINIE EN GOD SE VERSKRIKLIKE SKEPPINGS

Dalk is jy soos ek: weet net genoeg van kuns om gevaarlik te wees. Ekself het al my hand aan ʼn skilderkwas gewaag, maar dis vrek moeilik om mense te beïndruk met kuns. Elkeen is mos ’n absolute kenner!

Maar wat my troos is dit, selfs skoolkinders leer dít oor kunskritiek: Jy mag nooit oombliklik sê wat jy dink as jy na ’n kunsskepping kyk nie, veral nie negatiewe kritiek nie. Jy MOET: 1. Probeer jou indink wat die kunstenaar met die werk wou oordra/kommunikeer; 2. Vind iets daarbinne wat vir jou mooi is. DIS AL. Verder beteken jou opgesmukte-selfgesentreerde-misplaaste-oningeligte mening niks. Ons spog mos maklik oor ONS ‘beskeie’ opinie, maar kunstenaars is immers diep filosowe, wroeg deur fases/seisoene in hulle lewens en bedink allerhande sosiale of emosionele kwessies. Soms kom uit dieselfde hand die mooiste, realistiese prent en soms donker, vreesagtige kwashale. Om iets meer van die kunstenaar te verstaan, leer hom dalk eers goed ken?
Ons leke kritiseer dikwels God se kunswerke, Sy skepsels, wat Hy in die moederskoot met ’n plan gevorm het. Wie is ek om met beperkte insig kritiek/oordeel te fel? Die kunswerk is dalk in ’n spesifieke fase of seisoen geskep, of die Skepper het hom met ’n spesifieke funksie geskep wat ons nie verstaan nie. Ek kan nie met een kyk net besluit dis gemors, duiwels of vieslik nie. Kyk dieper: wat het die Skepper hiermee bedoel? Dink wyd, klim uit jou konserwatiewe boksie, want kunstenaars dink veel verder as wat jy kan verstaan. Soveel te meer die Almagtige Skepper.
Kyk wat in daardie skepping vir jou mooi is. As jy niks kry nie, spandeer tyd met die skepping en KYK dieper as ander se wrede, veroordelende kritiek. As ons hou by hierdie twee kriteria, kan ons nie ’n fout maak nie. Dan sal ons nie in die strik trap van vooroordeel en beswaddering nie. Dikwels is die kunswerk onvoltooid, ’n werk in wording en ons sien nie die hele prentjie nie. Net God, die geduldige, liefdevolle skepper, sien die eindresultaat. Vir Hom is elke skepping kosbaar, uniek en werd om voor te sterf.

MEVROU DOEMINIE WROEG OOR HAAR SONDES

Terwyl ek nou in 'n lekker vrot bui is, laat ek praat ‘or forever hold my peace’! Ek wil net vir die oningeligtes noem: Predikante en mevrou Doeminies het sondes. Wragtig!

Net soos jý ook (wraggies!) in sonde gebore en ontvang is, so is predikante en hulle gesinne. Ons kan ook kwaad word, vloek en skree, ongeduldig wees, selfs iets drink, soms skinder, geloofskrisisse beleef, depressie hê, sukkel met verhoudings, versoek word op die vreeslikste maniere en WAT ALS. Dikwels val ons, nes elkeen in die Bybel!
My probleempie: Ek’s iemand wat (tot my skaamte) passievol ’n gebeurtenis/krisis onmiddellik OORDADIG beleef, oorvertel en prosesseer, dan is ek weer okay. My paar goeie vriendinne loop dikwels deur onder my emosionele vertellings en gebare. Ek glo hulle verstaan my; ek hoop. Maar nie altyd nie. Soveel makliker sal ander my verkeerd verstaan.
Vandag besef ek weereens met diepe hartseer: As jy in die bediening is, mag jy nie sonde hê of wys nie. Jy en/of jou man word onmiddellik veroordeel/gekruisig, terwyl ander vergewe word, want, flip man, die lewe is rof. Maar wraggies, die predikantspaar moet darem moeilike dinge/mense beter hanteer; hulle verhoudings moet perfek wees en hulle moet ALTYD in ’n goeie bui wees; ons wil asseblief NIKS van hul persoonlike, opgeneukte lewens/persoonlikhede/krisisse weet nie. Want die troontjie waarop ons hulle geplaas het, is doerbo, naby aan volmaak; hul ken mos vir God beter as ander, hul leer-en-lewe moet SUIWER wees!
Hoe kan predikante goeie boodskappe bring as hulle nie self krisisse en versoekings moet beveg nie? Prediker 7:20: Daar is geen regverdige mens op die aarde wat goed doen sonder om te sondig nie.
Gelukkig is daar EEN wat selfs predikantsgesinne nie veroordeel nie, wat by ons staan, al val ons daagliks. Hy’t Sy Seun gestuur: NIE om my te veroordeel nie, maar om my (en jou) te midde van ons sondes te red/help. Hou asseblief op om enigiemand te oordeel sodat jy nie geoordeel word nie (Mt. 7). Ek vergewe jou dus mede-Christen, al veroordeel jy vir my en my man, want Jesus verwag dit immers.

MEVROU DOEMINIE EN DIE KERSFEES HEILIGES

Min dinge laat my so na my kinderdae verlang soos die opgewondenheid van Kersfees en die kuiers en lekker kos. Veral die geheime Kersgeskenkie wat onder die boom gelos is.

Dis vir my dus hartseer om te dink daar is ouers wat hulle kinders hierdie stukkie misterie misgun omdat hulle probleme met Kersfeesvieringe het. Regtig, man. Die gedagte self is tog mooi: ons vier Jesus se liefde en sy groot geskenk aan ons en terselfdertyd is dit ʼn gewoonte wat uit die vierde eeu van die Christendom dateer. Al is dit nie die REGTE historiese datum van Jesus se geboorte nie. Hier is niks duiwels aan die arme ou Sinterklaas nie. Dit is nie iets wat die ‘geldgod’ uitgedink het om ons Christene te verlei nie.
Die verhaal van Saint Nicolas is bekend onder Rooms Katolieke Christene. Hy was die Biskop van Myra in Klein-Asië. Hierdie heilige het vroeg in die derde eeu geleef en is bekend vir sy goeie werke, sy wonderwerke en sy vrygewige hart. Hy is bekend daarvoor dat hy (in Desember) in die geheim geskenke en geld uitgedeel het aan kinders wat dit nodig gehad het. Ja en sowaar: hy het dit selfs al deur ’n skoorsteen gegooi sodat die mense nie weet dit was hy nie, anders sou hy dit in skoene gelos het wat voor die voordeure van huise gestaan het.
Die hele legende van Kersvader/Sinterklaas/Saint Nicolas kom hiervandaan. Dis nie deur Checkers en WallMart uitgedink om geld uit ons te maak nie. Dis ’n mooi Christen tradisie wat ons met liefde kan toepas want dis wat Christus van ons verwag: om vrygewig te wees en ander te bevoordeel – ja, jy kan dit anoniem doen maar ek glo nie daar is iets mee verkeerd om vir mekaar geskenke te gee oor Kersfees nie. Ons vier mos die grootste geskenk aan ons: Christus.
Ek dink tog ons kan hierdie jaar bietjie meer aan ander dink en miskien aan armes in ons omgewing waarvan ons weet in die geheim ’n geskenkie gee? Selfs die boemelaar of bedelaar langs die pad. Draai pakkies toe en hou in jou kar en deel uit soos jy werk toe ry? Hoekom nie? Deel Jesus se liefde uit aan ’n honger wêreld.