KONTAK MY

Kontak my gerus by: 

renevanzyl101@yahoo.com

of 
imaginemoonstones@gmail.com

rene@skemerberg.co.za

Posadres: Posbus 563, Hartbeespoort 0216, RSA

My boeke is beskikbaar by:

GROOT boekwinkels soos CNA, Uppercase, Bargain Books, Graffiti (ook online), Jasmyn Harties, ens ens. - jy kan hul ook vra om die boeke vir jou te bestel.

Bestel direk by: 

Lapa.co.za uitgewers (jy kan die boek by hulle onlinel bestel en hul lewer af - ook e-boeke)

Graffitibooks.co.za

Amazon.com (e-boeke).

Kyk gerus na my ander blogs:

www.bybelboekwurm.blogspot.com

www.weemonkstale.blogspot.com

https://voelgoed.co.za/tag/mevrou-doeminie/

WEES 'N GESKENK VIR ANDER.

Die wêreld is so ʼn morsige plek met soveel negatiewe pyle vol gif wat jou heeldag tref.

Dit is nie net die nuusgebeure wat ons negatief maak nie, maar selfs die mense om jou wat jou maklik vertel wanneer jy ʼn fout maak.
Dis asof jy net nie iets goeds kan doen nie. Of liewer: niemand sien dit raak nie. Jou man en kinders verwag te veel, jou vriende en jou werksmense. Jy doen jou bes om goed en gaaf te wees. Net om te oorleef elke dag en nie te sleg oor jouself te voel nie. Jy doen jou bes om ander tevrede te stel, ten koste van jouself soms. Jy doen dalk een verkeerde ding, spel een woord verkeerd, maak een foutiewe keuse in jou werk en almal sien NET dit raak. Dit voel soms of selfs God sy kop skud en net jou foute raaksien.
Ek skryf deesdae liefdesverhale en in ʼn boek met 44 000 woorde maak ek dalk een fout en die kritiese leser haal dit uit om te spog oor hulle fantastiese vermoë om jou op ʼn fout uit te vang. En hulle laat weet jou ook. Asof jy nóú iets daaraan kan doen? Daar is dan reeds 3000 boeke gedruk. Die feit dat die ou byvoorbeeld ʼn wit hemp aangehad het en tagtig bladsye later ʼn bruine, moet absoluut onder my neus gevryf word. Dis ʼn vieslike fout.  Kan mense nie maar net sê: man, dit was ʼn lekker boek. Weet jy wat het ek geniet: dit en dat en sus en so. Ek wil vra: As iemand iets mooi doen, vertel hom of haar. Of soek iets moois om vir iemand te sê, want waaragtig is die lewe so ʼn morsige plek wat ons net wil afbreek.
Soms gebeur ʼn klein wonderwerk. Iemand, uit die bloute sonder persoonlike gewin sê vir jou iets persoonlik en wonderlik opbouend of doen vir jou iets ongelooflik fantasties sonder om iets terug te verwag. Dit help jóú as mens groei en om te voel jou lewe het ʼn doel. Doen dit. Wees daardie persoon. Wees ʼn geskenk vir ander. Jy sal ook beter voel.
xxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxx

MEVROU DOEMINIE EN DIE HAATPRATERS

Lyk vir my dat dit nou hoogmode is om jou stem nie net op stemdag te laat geld nie, maar sommer net waar jy lus het op sosiale media, want jy kan mos.
 Ek weet nie wie voel nog so nie maar ek is dikker as dik vir die ewige haatpraters. Dis die ouens met ʼn selfsugtige, onnoemenswaardige, onnodige en onkundige mening oor alles: van hoe om jou kat se sandbak skoon te maak tot wie het die reg om die hemelpoorte te bewandel. Regtigwaar, ek is nou keelvol.

Iemand adverteer byvoorbeeld op die koerant se blad dat sy ʼn nuwe huis soek vir ʼn mooi opregte hondjie. Voor jy jou kon kry, is almal met messe en swaarde op die arme vrou. Weet sy nie ʼn hond het ʼn siel nie? Hoe kan sy so sleg wees om ʼn hond soos ʼn stuk niks weg te gee? Niemand weet eens haar omstandighede of redes nie. Net kritiek en aanvallende woorde. Uiteindelik het sy ʼn wonderlike huis gekry by iemand met dieselfde hond as die een wat sy moes weggee.
Aggenee man mense, wie gee jou oor sosiale media die reg om ʼn mening te lug oor EEN sin wat iemand anders uiter? Jy het GEEN idee waaroor dit gaan nie of hoe ʼn tipe mens dit is nie, nee, net jou hoogdawerende siening wat alles oorheers. Niemand stel daarin belang nie. Glo my. Jy kan jou negatiewe praatjies maar eerder in iets positiefs omskep en jy sal sien hoe jou eie lewe ook verbeter.
Wat van ons probeer in die nuwe jaar ʼn slag EERSTE soek na iets positiefs om te sê eerder as om onmiddellik negatief te reageer? Ons land het oorgenoeg negatiewe mense wat op hol gaan met enige storie. Kom ons wees deel van die oplossing. Wat van jy soek sommer elke dag vyf mense vir wie jy sommer net ʼn mooi kompliment gee – op sosiale media maar ook sommer net so in die verbyloop. Elke mens wat jy sien smag na aanvaarding, om raakgesien te word en om opgebou te word. Kom ons probeer net.
XXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXXX

MEVROU DOEMINIE SOEK DAAI MOOI DING

Man, maar ons mense kan lekker krities of eerder negatief wees oor mekaar, die weer, die mense om ons en wat ook al.

Ons het ʼn mening oor alles en nog wat, maak nie saak wat en wie onder jou nydige tong lei nie. Jy is mos geregtig op jou mening.
Ek is net so, maar ek onthou altyd toe die kinders nog op skool was en hulle oor kunskritiek moes leer. Hoe gee jy goeie kritiek vir ʼn kunswerk soos ʼn skildery sonder om soos ʼn leek te klink en sonder om net jou ou vrot mening te gee? Die kritiek moes basies dit wees: Wat het die kunstenaar bedoel toe hy die kunswerk geskep het? (m.a.w. watter boodskap wou hy oordra?) Die ander kriteria is dit: Wat sien jy in die kunswerk wat vir jou mooi is. Dit is dit.
Jip. Daar is nie plek vir jou eie negatiewe mening en onderdrukte aggressie en belaglike min insig nie. Dis moeilik. Ons ʼn wil so graag vir almal vertel wat ons alles weet en hoeveel kennis ons het. Dis belaglik, want ons elkeen weet bitter min van enigiets of iemand.
Ek het besluit om hieruit te leer. Ek probeer hard. Wanneer jy met ʼn persoon te doen kry, of ʼn instansie of wat ook al, besluit om jou kritiek so toe te pas soos hierbo. Wat bedoel die persoon (in ag genome sy HELE prentjie) met hierdie woorde of dade? Wat het hom gedryf om so iets te doen of te sê? Dan belangrikste van alles, soek iets positief in sy woorde, dade of persoonlikheid om raak te sien. Daar moet wraggies iets wees. En hou daarby. Los die negatiwiteit. Daar is so baie negatiewe menings wat die wêreld eenvoudig ʼn slegter plek maak.
Wees deel van die positiewe revolusie. Ek gaan ten minste probeer.


1 comment: