Sunday, January 2, 2011

MEVROU DOEMINIE SE ANNUS HORIBILUS: Hoofstuk 1

Die koningin van Engeland het so ‘n klompie jare gelede dit beleef toe haar seuns se huwelike opbreek en 'n stuk van haar kasteel nog boonop afbrand. Sjame. Elke mens beleef dit sonder uitsondering. Jy verwag dit nie, dit tref jou soos ‘n tsunami en nog een en nog een... en voor jy jou kom kry het jy dit:
'n 'Annus horibilus'.
(Dis ‘n Latynse term vir ‘n slegte jaar of soos die Engelse sal sê:
a Horrible year.)
(NS: op die foto is ek en my Sweedse vriendin by 'n Robert McKee 'Story' Seminaar in Londen in 2008. Ja, ek's dalk agter die brug, maar ek weet iets van skryf af. Ek skryf. Dis wie ek is.)

Waarskuwing: Redes waarom jy nie die Blog moet lees nie... (Dis in rooi geskryf, sien jy?)
Hierdie blog is die gevolg van die wroegings en ervarings van net myself en enige verwysing na enige mens of gebeurtenis is heel waarskynlik net uit my wroegende verbeelding gesuig. Aangesien ek al oor veertig is, is die geheue ook nie so goed nie, en kan sekere gebeure dalk baie weird en selfs pateties voorkom.


Hierdie blog is nie vir mense met swak harte of wat glo dat ‘n doeminee se vrou nie mag vloek nie. Ons kan en ons doen, wel, party van ons doen (die ander beleef nooit ‘n annus horribilus nie!). Ek gebruik wel eufemismes soos: flippen en twak (vir die wat anderkant die spoor grootgeword het en weet wat ek bedoel. Vir die ander klompie: ‘n Eufimisme is ‘n versagtende vorm van ‘n woord sodat mense nie beledig voel nie.)
Hierdie blog is nie ‘n wetenskaplike verhandeling nie en daarom gaan ek my taal mix sonder om aanhalingstekens te gebruik of skuinsskrif.


Nou ja, mag die nie-wetenskaplikes en nie-taalpuriste en die vloekendes met sterk harte wat nog oorbly dit geniet want jy vind dalk dat dit jou makliker help deur jou annus horibilus.

Hierdie blog is die gevolg van spesifiek vier krisisse in my lewe:
1. Sonder dat ek dit gevra het of verdien het, sit ek vir ‘n week in Oslo in Noorweë vas, een van die duurste stede in die wêreld, as gevolg van ‘n vulkaan in Ysland met ‘n onuitspreeklike naam wat vuur spoeg en die lugruim besoedel met as. En dit maak dat ek die belangrikste afspraak van my lewe in London mis. ‘n Afspraak wat ek al vir ‘n jaar voor beplan en voorberei en bid (en die hoogtepunt van jare se worstel, swoeg en sweet aan my storieboek.)
2. ‘n Paar leiers in ons kerkgemeenskap maak dit hul besigheid om my man te vernietig. My man, 'n opgeleide predikant (met M-grade en al in Teologie aan Tukkies verwerf) is iemand wat nie tradisioneel glo dat die Bestuur van die kerk die hoogste gesag in die Tradisionele kerk (Ons noem dit die T-Kerk) is nie, maar wel God. Onder hulle is ‘n paar mense wat hulself goeie vriende genoem het. En elke kerkvergadering wat gehou word, openlik en agteraf, word gehou asof God nie deel is van die beplanning nie – en mense se agterbakse en selfsugtige planne vier hoogty (soos ek sê – dis net my eie verwronge persepsie. Dalk is dit nie waar nie.) Die deel van die vriende verloor is wel waar. Goeie Christenmense... Ek stem saam met Ghandi... Your Christ I like, but your Christians I don't.
3.Ek vrees ‘n hospitaal en diegene wat daarin werk as gevolg van my ouers wat ek verloor het weens swak behandeling en my gesonde seun wat breinskade opgedoen het op 15 maande ouderdom as gevolg van dokters se swak diagnoses. Dus: My twaalfjarige dogter moes ‘n rugoperasie van agt ure lank kry. En ek weet nie meer as gevolg van punt 1 en 2 hierbo of ek God hiermee wil vertrou nie. (En ek sê dit met vrees en bewing, want ek is in ‘n gat van vertwyfeling en wroeging, en ek is net eerlik. Al weet ek diep, diep, baie diep, binne in my dat God wel in beheer is... My Annus Horibilus sê anders!) (Hierdie operasie is suksesvol voltooi in 2010, dankie Here, vir daardie genade!)
4. Ek sukkel met mense vertrou, met kritiek hanteer elke keer wat ek my kop uitsteek met my skryfwerk (en so bietjie buite die boksie dink) dit gebeur baie omdat ek gemeenskap musiekblyspele skryf - Bybelse verhale met moderne musiek, soos Abba, Celine Dion, Elvis en Queen. (Sies, mev. Doeminie, jy van alle mense kan mos nie so iets doen nie - ek bedoel - jy is tog MEV. DOEMINIE!). As jy dink Queen is nie uit die hel nie, wat van ons kinders? Sjame, man.)
Ek hoop my pad van twyfel, kommer, woede, vreugde, humor, pyn en angs kan jou dalk op een of ander manier help deur jou eie geloofspad. Soos ek hier skryf is al hierdie dinge aan die gebeur in my lewe en ek weet nie wat die uiteinde van my boek gaan wees nie. Maar ek worstel met God... dalk soos daai engel met Jakob gestoei het. (Ek het dalk 'n gewigsvoordeel wat Jakob nie gehad het nie...)

Mag God my deur my geloofs-geveg help en verras.

René van Zyl
*Predikantsvrou (nie uit vrye keuse nie, maar die Here vertrou my blykbaar hiermee.)
*Eks-joernalis
*Eks-PUK Kommunikasiekunde (Honeurs) student
*Kinderwerker, -poppemeester (Puppetmaster!) en stemkunstenaar.
*Sukkelende skrywer (wat niks kan skryf wat die suiwer Suid Afrikaanse mark kan bevredig nie. Verhale met historiese agtergrond wat in ander lande soos Ierland en Noorweë afspeel, is blykbaar nie op ons tieners se leeslysie nie, aldus 'n groot Afrikaanse uitgewer. )

NOG WAARSKUWINGS
(Of redes hoekom jy liewer nou moet ophou lees...)
As jy tot dusver nog nie van verveling ophou lees het nie, kan die volgende bekentenisse oor myself jou dalk verder afskrik en laat afsit na die naaste Drankwinkel om jouself aan Johnny Walker te gaan vergryp. (Moet net nie die hele blog sit en deurwroeg en aan die einde sê jy’t nie geweet ek is so ongekultifeerd en ongeskik nie!) So...
Ek lees (en geniet) die Huisgenoot.
Ek is mal oor fliek. Ek is mal oor fliek. Ek sien geestelike (Christelike) lesse in flieks - wel nie die ergste Tarrentino-bloedspat-moord-en-doodslag nie - die res.
Ek kyk televisie. Ek’s mal oor Survivor, Chuck en Desperate housewifes en Geraldina die Tweede.
Ek lees tans net Deon Meyer (Afrikaans) en Terry Pratchett.
Ek geniet TMAS (The most amazing show op SABC TWO!) onnatuurlik baie. Ek is verstom oor Twakkie en Corné se flymskerp, dog totaal natuurlike, toneelspel. (As jy nie weet wie hulle is, moet regtig nie worry nie. Regtig nie... dit het my ook vriende laat verloor.)
Ek het ‘n bruin beld in karate, JKA. Ek’t opgehou op universiteit want, ek bedoel, wie gaan twee keer ‘n week klas toe om dik getik te word deur ‘n ou met die naam Stoffel en met ‘n derde rooi strepie op sy swart beld? Have a heart! (Ek moet erken, en dis die moeilikste bekentenis: dat ek verlief was op Chuck Norris vir die grootste gedeelte van my skoolloopbaan. Ek is jammer.) Ek is nou verlief op die wolfman in die Twilight sage: Jacob. Sjoe, mevrou Doeminie!
Ek kan ‘n beter vloermoer gooi as ‘n tweejarige (dis nou as ou Griekie Galbraak diep uit my onderbewussynse galblaas horibilus uitspring). Dis nie verstandig nie, want jy verloor vriende. En ek't nogal baie verloor in 2010. Sies, mev. Doeminie!
Ek is mal oor Nataniël. Hy’t dan al selfs ons mevrou doeminies in Pretoria toegespreek!
Ek (wel, nie ek nie, dit was my alter-ego, Spike, ‘n blou seuntjiepop met kroeshare) het al op ‘n radioprogram vir onskuldige Christenkindertjies die woord Platipus genoem in ‘n storie oor die skepping. Ek (en Spike) is nie weer genooi nie. Ek moes dalk die woord: eendbekdier gebruik het. Maar, dis nie ek nie. Ek glo aan inlig, opvoed en vermaak - het dit in Joernalistiek geleer.
Ek het al tydens ‘n poppeteater vertoning by ‘n klein ordentlike teater die gediggie van: Dis die groen dis die blou, dis die brooklax wat ek kou... ens. ens... tot die ou toilet toe hol... en als, opgesê – al het ek dit nie tot op die besonder morsige einde geken nie. En al het ek nooit tot op die einde vertel nie, is ek ook nie weer teruggenooi nie. (Dit was ook nie ek nie, maar my alter-ego, Stoffel, ‘n wollerige grys hond met tennisballe vir oë). ‘n Bekommerde moeder het na die tyd gaan kla oor die gedig dalk haar kind kan ontstel. (Ek vra die vraag: Ek wil net weet hoe sy die gedig ken en hoe weet sy hoe dit eindig? Ek weet nie eers nie... wel, ek weet vandag van die ‘twak’ in die broek en so aan, maar ek het nie toe geweet nie!) Sies Mev. Doeminie.
Ons mag nie ‘n Leon Schuster fliek in ons huis kyk nie. Ek is mal oor Leon en dink Mama Jack en Mr. Bones is van die beste Suid-Afrikaanse flieks ooit, maar Sean, my breingestremde, het die woord ‘p**pol’ in al sy gebrekkige sinne begin gebruik. Dit sê so lekker en alhoewel ek nie dink dis so ‘n danige vloekwoord nie, het ‘n vorige juffrou van hom gedink die duiwel self val haar aan as Sean by die skool kom en haar links en regs P****l. Ek verstaan haar punt, want skielik sê al die gestremde kindertjies dit ook, selfs die wat nog nooit kon praat nie!
Ek het nooit gevloek nie, maar my amp as Mev. Doeminie het my genoodsaak om sekere woorde onder die knie te kry sodat ek die prentjie van ‘n heilige doeminee en sy vrou vir eens en vir altyd die nek in kan slaan. Ek bedoel, ek het met ‘n ingenieur getrou, die feit dat hy daarna dominee gaan swot het, het my nie moeder Theresa gemaak nie. En dit maak ook nie iets van my vriende nie. Ek het wierd vriende (die wat oor is). Ek sukkel om met skynheilige, sondelose mense vriende te wees. Hulle mix nie hul taal nie, laat nie 'n windjie nie en drink nie eers 'n wyntjie nie. Hulle waardeer nie my woordeskat nie. Ook nie my ellendige gebrek aan respek vir titels soos professor of dominee of doktor nie. Ek bedoel: ‘n mens is ‘n mens. Hy het ‘n naam. En buitendien as hy nie respek verdien nie, gaan sy grade dit nie doen nie.
En laastens: ‘You touch my husband, my kids, my friends... you touch me... Don’t go there.’
Ek kan nie nou nog aan spesifieke verswarende getuienis teen my dink nie, maar ek is seker dit sal stuk-stuk in die blog uitkom. Hierdie is nog ‘n kans om die blog toe te maak. Moenie deurworstel en later sê jy hou nie van my of my swak taal nie (Ek gaan beslis die woord: “doodbliksem” gebruik die een of ander tyd, jammer, en heel waarskynlik “an(n)us”.)

(Word vervolg...)

7 comments:

  1. Ag dankie tog daar is nog geleerde mense wat skryf soos ek dink. Bravo! ek het dit geniet. Ongelukkig is ek nie geseën met 'n skryf talent of 'n praat talent nie, maar ek voel jy verwoord wat ek nie kan nie. Ek hoop jy skryf meer gereëld. Geniet 2011!!!!

    ReplyDelete
  2. Jy is reg! Dit laat my nogal baie lag!

    ReplyDelete
  3. ja my liefste mevrou dominee vriendin!!, na ek in n pastorie grootgeword hetwaar n tiener ook nie mag se flippen nie en nie make-up of jeans mag dra nie kan ek helemal met jou identifiseer!! wat n heerlike storie vol humor wat ek baie graag wil volg!!
    glendine

    ReplyDelete
  4. Ek weet net nie hoe dikwels skryf mens op 'n blog nie. Wie weet? Ek bedoel my een volgeling gaan moeg raak om elke dag of week te lees!

    ReplyDelete
  5. Ek het nou telke male probeer om in te teken op jou blog. Ek hoop dit werk nou.
    Ek stem heelhartig saam met jou idees. Ek hou niks van mense wat met hulle neuse in die lug loop en dink dat hulle beter is as ander mense nie. Ek ondersteun Anton in sy idees en wat hy probeer bereik - hou so aan!
    Ek volg jou interresante stories en moenie ophou probeer nie!

    ReplyDelete
  6. Dis presies hoekom ek jou maatjie is: eerlik, openlik en opreg. Hoekom wil mens iemand wees wat mense wil he jy moet wees? God het ons elkeen uniek geskape en dis eintlik 'n klap in Sy gesig as ons nie daai persoon wil wees nie. Hier praat ek nounet met myself. My grootste begeerte bly nog steeds om te vergeet van myself en wat mense dink en om te doen wat Hy van my wil het.
    Soos jy weet, weet ek nog minder van blogs as jy, maar ek sou se dis 'n goeie uitlaatklep, so skryf wanneer jy lus is. Mens lees mos maar alles wanneer jy ingaan.

    ReplyDelete
  7. Well done! Ek geniet elke sin, lag heerlik & ontspan. Blogs word gewoonlik daagliks ge-update. Maar ek veronderstel jy kan mos met jou blog doen, wat jy wil. Dus, when ever jy iets post, lees ons volgers. Good luck!

    ReplyDelete