Sunday, January 9, 2011

HOOFSTUK 2: Mevrou Doeminie se Annus Horibilus

Dankie aan my drie volgelinge... waarvan ek een is. Hier is vir julle nog 'n spannende aflewering in die wroegings van 'n Mevrou Doeminie.

(NS op die foto is ek en my Mnr. Doeminie wie se grootste sonde is - volgens die 'Super Christene' - dat hy dink ons is hier op aarde om 'n seën te wees vir ander - soos Jesus was.)
IEMAND WAT NIEMAND IS
Ek dink nie regtig ek is niemand nie, ek het darem ook ‘n lewe. Maar ek is beslis nie ‘n eks-sportstêr of paaldanser met lang bene wat ‘n boek skryf oor my vurige romanse met ‘n sanger of tv-nuusman nie. Ek is ook nie ‘n vrou van ‘n bekende wat ‘n vurige minnaar was van sulke vroue nie. My storie is ook nie normaal nie, alhoewel daar baie soos ek is wat in ellende voorsukkel met hul eie demone en abnormale lewens wat net nie soveel moed het om die flippen storie op papier te sit nie. Ek was al ryk en arm. Ek was nog nie so arm dat ek in ‘n koffieshop hierdie blog sit en skryf nie... soos die Harry Potter tannie nie, want sy was kwansuis so arm sy moes in ‘n koffieshop sit en skryf. Ek is tans nie so ryk nie. Ek suig maar tuis aan my een gebruikte Black-Forest teesakkie.

Ek is egter in so ‘n swartgallige plek in my lewe dat humor nou al is wat my uit my gat van vrot demone en hormone gaan kry, daarom kyk ek terug op my jaar. Ek wil eintlik nog ‘n kursus skryf om jong, onskuldige predikantsvroue te waarsku om eerder glad nie te trou nie, iets soos:
Predikantsvrou 101: Hoe om predikantskap te oorleef en vroom, dog skynheilige, mense te bly vertrou. En te glo God is in beheer al lyk dit of die kerkraad en ryk lidmate in beheer is. Of om te bly glimlag al praat jy met die grootste ou bitterbek-omie in die kerk wat net kritiek het op alles wat jou man sê en doen. Of om jou bek te hou as ‘n juffrou wat nie van jou man se moderne kerksiening hou nie, jou kind onregverdig afkraak by die skool.

Of om mense te vergewe wat ketels in die kerk vir jou toesluit omdat jy die ander dag ‘n vuil koppie in die kerk vergeet het tydens jou ellendige onwelkome bediening se bymekaarkoms. Of om aan te hou met daardie bediening al besluit die bestuurspan om almal teen jou op te steek en jou aksies te boikot. En natuurlik, die mees uitdagende tema: Hoe om ‘n skynheilige *Super-Christen uit te ken en te vermy. (Want hulle trek jou af tot op hul vlak dan wen hul jou met ervaring!)

*Net vir ingeval jy nie weet wat ‘n Super Christen is nie: Dis ‘n persoon met of sonder aansien (geld) wat volgens hom al die pad waaragtig gestap het: jy moet nog ‘arrive’, want kyk, meneer Super-Christen is al deur elke denkbare doop, elke denbare taal, elke denbare seminaar (of kamp of katkisasie), elke denkbare Geestelike ervaring en beproewing – en hy was al ten minste drie keer in Israel. Hoe weet jy dit? Hy vertel jou met vrome smaak hoe geestelik gevorderd hy is en hoe ver jy nog tekortskiet. Hy het geen sonde nie want hy het daarmee gedeel soos elke sondaar moet, anders gaan jy hel toe. (Christus se kruisdood is nie heeltemal so belangrik as die feit dat Superman/woman hier, self sy sonde oorwin het en met ‘n leliewit gewete die hemelpoorte gaan insweef nie). Sommige van hulle kan jou ook allerlei geestelike dvds in die hand stop omdat die goed wat jy lees of luister nie op die vlak is van Super Christenskap nie. (Hierdie dvd’s sluit alles in van hoe Oprah die anti-chris is en hoe die Illuminati alles van Aids tot melk gebruik om die mensdom se getalle in toom te hou – ja werklik.) En natuurlik: hy of sy hoor gewoonlik direk God se stem, wat dag en nag heeltyd met HOM alleen praat (omdat hy sulke gevorderde ore het), hy weet ook wat is reg en verkeerd – wie is reg en verkeerd. En o, ja: Hierdie meneer Super Christen het natuurlik ook alleen die Gees van onderskeiding. As jy nou wil minderwaardig voel en ‘n super-vrot Christen, meng graag met hierdie Superwese, want jou mening en belewenis met God sal nooit op die regte vlak kom nie. En behoede jou as jy 'n tatoo iewers op 'n ongekende plek op jou liggaam het of selfs 'n belly-button ringetjie. Ag nee, dan is jy slegter as koffiemoer.
Nota aan ‘vrot’ Christene: Vir hierdie Super-Christene wil ek net sê dat die moordenaar aan die kruis geen een van hierdie dvd’s gesien het nie, geen doop deurgemaak het nie, geen papiertjie met seëls op of van suksesvolle (volgens die dominee/pastoor) katkisasie voltooiing, of geen ander taal gepraat het, behalwe die taal van: ‘Jesus, onthou my, arme sondaar, as jy in die hemel kom.’
NS. Ek het niks teen dope, tale, papiere, tradisies en rituele nie – behalwe as jy dit gebruik om ander te dwing om soos jy te wees. Ek glo elke mens het die reg om God deur Jesus Christus te dien op sy EIE UNIEKE MANIER.
(Ek wou ook nog sê dat die super-Christen kom uit enige denominasie – al hoe jy weet jy het met een te doen, is as jy daardie gevoel kry dat jy nie goed genoeg is nie. My raad: hardloop weg en vinnig ook. Jy hoef nie met hierdie skepsel te praat nie – jy kan ook nie – gaan praat liewer met iemand nederig, soos Christus.)

Jammer, dis nou weer ou Griekie Galbraak wat aan die woord is (het ek al gesê ek is dalk bietjie skisofrenies want ek het ‘n ou Griekie Galbraak wat elke nou en dan uitspring en haar lippe dik pomp?) Eintlik is ek ‘n ou softie, die regte ek is ‘n dierbare, glimlaggende, hulpvaardige ou swakkeling wat nie vir haar regte kan opstaan nie. Daarom werk skryf nogal vir my.

WIE IS EK NOU JUIS DAT EK IETS KAN Sê?
Die regte ek is gebore in Pretoria in ‘n Sunnyside woonstel in 1965 toe dinge nog anders was. My pa, Josua, ‘n landbouvoorligter, was ‘n man van imbors en my ma, Alta, ‘n helpende hand soos min en het voor in die kerkkoor gesing en het nog gedink dominees is vroom, sondeloos en opreg. In haar oë was die dominee iemand met wysheid en ‘n godheid wat min mense besit. My pa was vies vir dominees omdat hy met een so godsman ‘n fight in die kerkraadsvergadering gehad het oor wie weet wat. Daarna het hy net met nagmaal kerk toe gegaan en het dit verpes as die dominee en ouderling kom huisbesoek doen terwyl hy televisie wil kyk. Huisbesoeke was onaangenaam en spanningsvol. Voor die koppies koud was en die ink op sy tjek teenbladjie droog was, was my pa al met een voet in die TV kamer, besig om Columbo te kyk (Columbo was ook meer aantreklik as ons dominee, moet ek bysê!)
My siening van ‘n dominee was as gevolg van my ouers dus so 50/50. Dit het versleg toe my finalejaar katkisasieklas in die tyd van Knight Rider geskeduleer was. Ek was ‘n rabedoe wat geleef het vir aksieflieks en TV (die bietjie televisie wat ons toe gehad het in doerie jare. Ek dink die Brady Bunch sou ook getel het onder ‘aksie’ in daardie dae!). En om vir Kitt en David Hasselhoff (oftewel: the Hoff) week na week op te offer vir ‘n vervelige les oor die wet en die belydenis, was SO nie reg nie! Ek het die onvoorbereide toets oor die tien gebooie en die belydenisskrif gepluk en die dominee was oortuig ek is ongered. Dit het my min gepla. Al waaraan ek kon dink was nog ‘n avontuur van Night Rider wat ek misloop.
Skool was boonop aaklig. Ek was nie cool nie en het ‘n bos kroes hare gehad in ‘n tyd toe Purdey van New Avengers met haar satynagtige bob-haarstyl die inding was (en GHD haar- straightners was daar nie). My pa het my altyd gespot en gesê ek lyk soos Leo Sayer (weereens ‘n naam en bos hare wat net die langtanne sal onthou). Dit het nie goed afgegaan by my nie.
My pa het egter altyd gesê ek is uniek want ek kon dinge nogal op ‘n vreemde manier doen en beskryf. Dit was vir my goed genoeg dat ek uniek is (al het ek kroeshare gehad). Ek was nooit dapper of het uitgestaan met sport of akademie nie. Ek het probeer perdry maar was meer afgegooi as wat ek bo gebly het. Oom Mof met die wit bakkie en turksvyplaas het ons op ‘n Saterdag opgelaai by die groot boom op die hoek en dan het ons daar gaan perdry. Dit was die eerste les in vertroue op God se genade wat ek werklik verstaan het. Ek moes maar altyd meer klou as ander om bo te bly. In my kop het ek egter gelyk soos Lara Croft of Zena, die warrior prinses. En een belangrike lewensles het ek daar geleer: om bo te bly – al kan ek vandag steeds nie ‘n perd beheer nie. ‘n Perd sal vir my nie afgooi nie; ek kan klou. Dis buitendien te flippen seer om af te val.
So worstel ek deur Duits en Wetenskap en Wiskunde op die Hoër Volkskool Potchefstroom. Ek gaan studeer Kommunikasiekunde met joernalistiek net omdat die Voorligting juffrou my met my kroeshare en skaamgeit suur uitgekyk het en gesê het ek sal nooit ‘n joernalis kan wees nie. Te stil en te flippen stupid, het sy seker gedink, om nie te praat van die hare nie!
(Ander keer meer oor my universiteit belewenis oppie PUK! (Potchefstrooms Universiteit vir Coke, Hamburgers en Ontug het ons dit genoem!) En jy mag nie gedans het nie, en ook nie gestaan en vry het nie want dan dink hulle jy dans. So, jy moes maar lê en vry... Ag ja, die goeie ou dae...

5 comments:

  1. Ja ek onthou nou ook die PUKKE dae. Ons het by die Landbou Kollege gaan dans, elke Vrydagaand. Ek en Esme' was 'n bietjie ouer as jy, en ons het nie gedink daar is enige iets verkeerd met jou hare nie. Ons het maar ons eie worstelinge deurgemaak - soos jy grootword. Hier waar ons woon is daar so baie verskillened kulture en gelowe, die mense loop nie met hulle neuse in die lug en dink hulle is beter as ander nie - jy doen jou eie ding, gaan na die kerk wat jy wil en niemand vertel jou dat jy sleg is omdat jy nie 'n super christen is nie. As jy hier rondloop en vertel dat jy 'n super christen is sal mense heel waarskynlik vir jou lag! Ek will ook vir jou se^ dat ek die grootste respek vir jou het vir al die harde werk, deernis, liefde en geduld wat jy en Anton getoon het met Sean Jacques. Ek dink nie dat ek al die sukses sou behaal het as ek in jou skoene was nie. Geen mens het die reg om vir jou se^ dat jy hulpeloos en 'n swakkeling is nie. Hou so aan suster.

    ReplyDelete
  2. Dankie - ja ons het die Pampoentradisie voortgesit entoe later in die Impala gedans. Daar was die kroeg sommer naby en het nie vir die morele waardes van die Puk enigsins iets gedoen nie. Die jaar toe ek waai het hul dans gewettig op die puk! Rene'

    ReplyDelete
  3. Ek onthou mos nou daai goeie ou dae... Die Impala, die Elgro, die Pampoene, those were the days... Die Mooirivier...

    ReplyDelete
  4. Rene.... ek het nog net die waarskuwings gelees en ek hou klaar van wat ek lees.......wanneer kry ons weer 'n blog inskrywing??????

    ReplyDelete
  5. Hou so aan. Ek het ook nou vir nog nuwe blog inskrywings gesoek en wonder wanneer ons weer lekker kan lees.Ons followers wil nog meer stories lees!

    ReplyDelete