Tuesday, July 5, 2011

VLIEGKAARTJIES VIR DISNEY WORLD MAAR ONS LAND IN NIGERIë!

Mev. Doeminie se Annus Horribilis-verhaal is nie volledig as ek nie hierdie verhaal vertel nie. Dis ‘n heel ander Annus Horribilis... 1994. Nee, dit het so niks met Mandela se vrylating te doen of die eerste demokratiese verkiesing nie; dit het niks te doen met ons almal wat ‘n arsenaal koeëls longlife melk en blikkieskos versamel het vir die groot swart oordeel wat kom nie. Inteendeel. Ek het dit heeltemal gemis toe my eie vrot jaar my vaskoek en begin versmoor. Was dit erger as my 2010 annus horribilis? Ja. Beslis. Maar ek het toe nie geweet ek moet skryf om die vrot uit my gestel te kry nie. Ek het toe nie geweet dat God eintlik regtig in beheer is nie.
Verbeel jou jy beplan ‘n gesinsvakansie: Disney world! Vir weke, maande, jare beplan jy dit. Jy weet al wat jy gaan dra, wat jy als gaan besoek. Jou visums is reg, jy kan die taal praat selfs, jy weet dag en datum waar jul gaan wees en wat jul gaan besoek, waar jul gaan bly en watter kar jul gaan huur om als te sien. Almal is gepak. Die vliegtuig styg op. Jy kyk movies bo in die lug en eet lekker vliegtuigkos, voel so nou en dan of jou Kaartjies na Universal studios en die Disney Theme park nog veilig in jou sak is. Die vliegtuig land. Die vlienier heet jou welkom in Nigerie. Nigerie? Jy proe aan die woord maar dit smaak nie reg nie. Jou brein registreer nie mooi nie. Jy klim uit die vliegtuig en dit lyk nie soos Disney World nie. Dis woes warm. Dit lyk boomloos, vol geboue, vol misdadigers en erg derdewêrelds. Dit neem jou ‘n ruk om te registreer dat jou bestemming verander is sonder jou medewete. Die onregverdigheid, die teleurstelling en die vreemde taal en gebruike wat jy nie verstaan nie, wil jou oorweldig, maar jy sit nou daar. ‘n Gesinsvakansie in Nigeriê. Jy bid dat die nagmerrie verbygaan. Jy bid weer en weer. As die skok oor die fout wat ingesluip het tot jou deurdring en jy klaar jou vloermoere gegooi het in elke denkbare kantoor waar jy kan, moet jy berus. Jy is nou in Nigerië. Vir die volgende hoe lank moet jy jou aanpas by hierdie lewe. Dis moeiliker want als is anders as wat jy gewoond is, maar as jy die toeristekantoor besoek, dan besef jy, sowaar, hier is ook interessante plekke en dinge om te besoek. Disney World was jou eerste keuse, maar hoe langer jy in Nigerië sit, hoe interessanter en makliker raak dit.
Die lang inleiding is nodig om te vertel van ‘n kind wat normaal gebore is, wie se toekoms rooskleurig was en wat ‘n breinvirus opgedoen het. Ons as ouers het ‘n ander bestemming en droom vir hom gehad, maar ons vliegtuig het op ‘n ander plek geland en ons moes aanpas, 180 grade omdraai, radikaal, onomkeerbaar, onvergeetlik, pynlik en tog nie onaanvaarbaar of totaal onaangenaam nie. Ek het al genoem dat Sean-Jacques (op die foto in 2005) wat nou 18 is, het op 15 maande ouderdom ‘n breinvirus opgedoen, twee weke in die hospitaal was wat vir ons hel was en toe word hy die wêreld ingelaat in ‘n vegetatiewe staat. Ek hoor ek is swanger met Michelle in die hospitaal terwyl ek by hom waak. Ek kan nie in menslike taal oorvertel wat daardie jaar alles deur my gewonde kop gegaan het nie. Ek was soos ‘n zombie en het dag vir dag oorleef op niks. Nee, nie niks nie: daar was die normale daaglikse gevoelens en roetine: Geen hoop, voer die slap pap teelepel vir teelepel in sy keelgat af, groteske vrees vir God, gee hom bottel en vryf sy keel sodat hy kan sluk, vrees vir mense, vee die kwyl en kos af wat nie ingegaan het nie, vrees vir my toekoms, maak doek skoon, vrees vir my gesondheid, oefen die pap spiere, vrees vir die lewe en die geboorte van die ongebore Michelle, onbeholpenheid wat jou wil oorweldig. Jy wil nie opstaan in die oggend nie. Daar was slapelose nagte waartydens jy die asempie van ‘n kind wat in jou seun se bed lê, sit en dophou omdat jy bang is hy hou op asem haal of hy kry ‘n ergere epilepsie aanval. Hy het nie geslaap nie, die dingetjie. As hy aan die slaap raak, ruk hy homself wakker en sy spiere (wat agv die skade op daardie deel van die brein, geen beheer het nie) kom nie tot rus nie.
(Op die foto is ek en Sean in 2002, 8 jaar nadat hy breinskade gekry het. 'n Leeftyd later.)
God was die groot een wat ek gevrees het. Hy was vir my toe onbetroubaar, hard, ongenaakbaar, wreed, ondeursugtig, onbarmhartig, sonder liefde, sonder simpatie, en veral was Hy onbereikbaar. Ek het gevra: Hoe kon Hy nie my nagtelike versugtinge hoor nie. My gesmeek om een nag te kan slaap. Dat my kind net ‘n nag deurslaap. Dat ek hom genoeg en reg oefen sodat hy met die ses maande doktersbesoek darem self kan sit (wat nie gebeur het nie en wat tot gevolg gehad het dat die dokter ons vertel dat dit omtrent die hoeveelheid is wat sy brein en liggaam sal vorder!). My sitkamer word ‘n terapiekamer. Ek oefen met my moëe swanger lyf my kindjie dag en nag. Hy smile net van al die dosisse Epinuton (swaar medikasie vir epilepsie). Ons ry maandeliks van Pietersburg af na Pretoria om ‘n Neorologiese Fisio terapeut te besoek. Sy gee ‘n maand se oefeninge en ons moet elke oefening met elke spiertjie 2000 keer herhaal. Nee, hy moet dit 2000 keer herhaal. Ek mag nie vir hom dit doen nie. Ek moet sy spiere knyp, mooipraat en smeek en bid dat hy sy arm optel... 1... 2... 3... 4... skryf dit neer. Mooi, 4 keer. Voor die maand om is moet dit 2000 keer gebeur want dan vorm die brein weer sy neurobane of what-the-friggen-ever. Ek moet man alleen sorg dat die beskadigde breinselle weer leer wat om te doen. Dis die ma se werk, vertel almal wat weet en nie weet nie. Dit is nag. Dit is donkernag. Ek is swanger. Ek kan nie anti-depressante, angspille en chemiese gemors in my en my ongebore kind se liggaam injaag nie. Want wat as... sê nou net...? En Anton vlug werk toe, met sy anti-depressante. Sy ma help my so ver sy kan met haar seer gewrigte. Sy is 'n engel in die tyd. Ouma Martie. Sy maak kos en is net haar rustige self. Sy en Oupa Piet.
Ek is vreesbevange met Michelle se geboorte maar alles loop toe wonderlik reg. Dankie Vader. En so ook tussen die geoefen en gestoot van looprame, so maak Chantal ook haar opwagting twee jaar later. (Ja, die huwelik het dit toe oorleef, Dankie Here.)







(Op die foto is ek en Chantal links en Michelle in 2002 in Hartbeespoort.)
Maar ek wil nie vertel van die jare se gebede, se hoop en geestelike groei en val en opstaan en stoei wat gevolg het nie. Ek wil nie nou vertel van hoe Sean se halwe lewetjie vir ander mense besielend was nie en hoe hy ander se lewens geraak het in sy 18 jaar nie. Ek wil vertel van die snaakse goed wat toe gebeur met ons daar in die vreemde plek waar ons ons bevind. Waar ons die vreemde taal moes aanleer van breingestremdheid, die plek waar ons moes leer om alles te hanteer: die vreemde kyke en opmerkings, mense wat ons vermy, kinders wat my kind terg en seermaak, vreemde situasies wat ons op die ou einde maar net laat lag het.
My kind is nou 18, sy maats skryf hierdie jaar matriek. Hul ma’s jaag op en af skooltoe vir ekstra matriekklasse want die onderwys boikotte en baie vakansiedae en dinge is eens te veel vir ‘n normale moeder en moenie die matriekafskeid vergeet nie. Want kyk, mevrou se pragtige dogter of seun moet net volgens die nuutste modes geklee wees. Parys se modehuise is selfs nie goed genoeg nie. Intussen probeer ek vir my seun die goedkoopste broekiedoeke in die land opspoor, want hy dra nog doek op 18. En ek moet daagliks skoonmaak: ja, nr. Een en twee en soms als gelyk in tornadiese proporsies. As ek die dag ‘n mooi baadjie of hemp spesiaal vir hom koop, vroetel sy dom en altyd besige vingertjies die goed so onder sy borskas in dat jy naderhand nie meer weet wat het hy aan nie. Hy torring sy doeke, skoene en baadjies stukkend want sy hande moet vroetel en torring. Maar hy kan darem sy hande gebruik, so effens. Nou wel nie om matriek te skryf nie. Hy loop darem. Ek onthou die dae toe hy nog (tot op 8 jaar) op sy boude geseil het en ek leerbroeke moes maak want ‘n materiaal broek hou net ‘n uur. Die leerbroek het darem ‘n dag of twee of week gehou voor ek moes patch.
Ons leer ons kinders, moenie met vreemdes in die dorp praat nie, ja, ignoreer sommer die bekendes ook, mens weet nooit wat gaan in hul huise aan nie. My kind kan nie in die dorp loop sonder om te babbel (want dis nie gesels nie) met elke vreemde mens op straat nie. Hy gooi sommer by: ‘n soen, ‘n kielie (op vreemde plekke soms) en ‘n druk, as dit lyk of die angs die arme vreemdeling nie heeltemal onderkry nie.
Eendag gaan ons gesin, ek en Anton, Sean en Michelle en Chantal, na ‘n buitelug restaurant hier naby Hartbeespoort (ek mag nie die naam noem nie, anders spoor hul ons op!) – ons bestel pizza en die kinders speel op die klimrame. Sean kon toe al bietjie loop en so waggel hy daar rond met sy lang lyf. Hy maak toe sy doek heeltemal sopnat en ek moes dit uittrek by die kar, maar trek toe net sy kortbroek weer aan aangesien ek nie ‘n skoon doek ingepak het nie. Ons gaan mos net pizza eet en huistoe gaan. Wat is die kans... Hy staan nog so en winddroog word... en ek sien toe skielik hoe hy sy een been so skeef draai en skud en so wrintiewaar val daar ‘n goedgevormde kluit uit op die grasperk. Vir ‘n breukdeel van ‘n sekond weet nie ek of hy wat om te doen nie. Maar met my kennis van James Bond se seepgladde bewegings, spring ek uit my stoel, lig my kind weg van die gedoente en plaas ‘n lekker plat klip bo-op die kluit. Alles het so vinnig gebeur dat niemand ‘n oog geknip het nie, behalwe dalk ek. (Op die foto is ek en Sean tydens so eetsessie...)
‘n Ander keer probeer ons gesin die Aardklop kunstefees in Potchefstroom bywoon. (Op die foto is Anton en Sean by Aardklop in Potchefstroom). Ons kan nie die teatergoed bywoon nie, want Sean is te luidrigtig. Ons sit so in Huisgenoot tent rond of loop deur die stalletjies wat ‘n uitdaging is met hom want hy groet almal en vat aan almal. En dwaal weg as jy hom nie aan sy arm agter jou aansleep nie. Maar heeltyd trek hy sy broek aan die een kant op want die ding lyk my is te groot en pla hom. Ek besluit in my wysheid as moeder dat sy broek ‘n belt kort. My handsak het net die regte belt aan en Anton moet nou die belt aan Sean se broek kry. Sean hou niks van die nuwe verwikkelinge nie. Kyk hy is dood-happy as dinge loop soos hy wil maar as jy iets doen wat vreemd is, dan gil hy. Sean val op die grond neer en begin skreeu en skop en wurm. En hoe meer hy skreeu hoe meer probeer Anton hom wys wie is baas en uiteindelik is die belt aan. Die toeskouers het toegeneem en ek wou begin geld vra vir die unieke vertoning. Want daar lê Sean toe en skreeu en tantrum gooi so op die gras en lig sylyfie so op met sy voete. Vloermoer by uitstek. Hy was toe 10. So dans hy op die grond rond en gil vir nog tien minute. “Ek dink jy moet maar die belt weer afhaal,” besluit ek en Anton takel hom weer. Die Sekuriteitsmanne het nadergestaan, maar die afhaal was genadiglik makliker as die aansit. En daar is Sean weer happy. Ons stap voort en hy groet en soen almal wat wil en nie wil nie. (Op die foto is Sean tydens 'n besoek aan 'n wildplaas - dit is hoe hy met 'n verkyker kyk.)
So gaan ons lewe voort. Hy is nie soveel anders as ander tieners nie. Hy kan nie mixit op ‘n foon nie – dit doen hy orals op straat sommer so in jou gesig. Hy is lief vir fliek. Hy kan nie ‘n 3D fliek kyk nie, want die bril is een te veel vir hom. Hy kyk alles: aksie, animasie, komedie, bangmaakflieks – nie dramas nie, en hy gil en gesels uit sy hart saam, tot my tienerdogters se groot verleentheid in die teaters. Mr. Bean is sy hero; en Tom en Jerry en Scooby Doo (met laasgenoemde twee skreeu hy uit volle bors van angs vir die spoke of van angs vir Jerry wat moet wegkom). Hy kan amper al mr. Bean (van die tv) se woorde praat. Dis maar min. Hy loop soos mr Bean en lyk sommer soos Bean. Ek wens ek kan hom eendag London toe vat om mr. Bean te ontmoet! Hy sal flou val: ek bedoel Mr. Bean! Sean sal hom opsoen! Hier is hoeka 'n vriend van ons, Wikus Hatting met sulke groot oê wat vir Sean groet soos Bean. "helloo!" dan raak Sean mal. Hy glo vas Wikus is Bean.


Hy kan bulle skree en scrum roep, en skreeu uit sy keelgat vir alle rugby. As daar 'n mooi meisie op tv is of 'n fashion show wat my dogters kyk, dan sê hy: Mooi. Deesdae is Doreen Coetzee, Rene' my vriendin, se drama-dogter vir hom die mooiste!
Hy is gelukkig. Hy staan met sy twee voete in die hemel. Ek het hom lief soos hy is, want dis wie hy is. Hy is volmaak. ‘n Super Christen (jul onthou mos dis die ouens wat geen sonde of foute het nie, wat heiligmaking onder die knie het en graag ander vertel hoe om die status te bereik) sê eenkeer van 'n gay persoon: ‘God het hom nie so gemaak nie. God maak nie foute nie. Hy skep mense perfek.’ Wel, weet jy: Shit happens. Die wêreld is nie perfek nie. Kyk na die brein- en fisies gestremdes om jou. Foute sluip in. God werk met foute. God raak mense aan met ander se foute. Met jou foute. Met jou kind se foute. God slaan reguit houe met krom stokke. (Ek dink buitendien dat alle mense met breinskade grootword: die wêreld en ons ouers doen ons bes om 'n ongeskonde leliewit kinderbrein in 'n boksie vol sekere denkepatrone en fobies en reëls in te forseer sodat daar besliste breinskade is voor die kind nog uit die laerskool uit is.)
Ek wil dus graag moed in praat vir jou mevrou en jou meneer wie se vliegtuig nie gearriveer het op die regte lughawe nie. Joune het dalk geland in Gay-town of in Baby-ville. Jou seun of dogter het vir jou kom vertel hul is homoseksueel, of hul verwag ‘n buite-egtelike kindjie of hul trou met iemand van ‘n ander ras. Weet jy, gooi jou vloermoer, kom oor jouself en jou skok en jou vrese, geniet die nuwe land en taal en besienswaardighede. Jy het ‘n keuse om dit te doen of andersins kan jy in sak en as sit en jou kind verloor. God maak nie foute nie. Jy is reg. Hy werk met foute. As jy foutloos is kan Hy nie met jou werk nie. Of met die mense om jou nie. Jou kind is perfek, maak nie saak, wat die wêreld of jou eie sienings dalk aan hom gedoen het nie. Aanvaar hom of haar 100% met poefdoeke en al. Eintlik het jy nie ‘n keuse nie. Jy doen dit of jy verloor. Vir God is hy perfek met sy foute. God het hom lief net soos hy jou liefhet - vir jou wat dalk volgens jou bogemiddelde intelligensie geen foute of breinskade het nie.

En ek wil bysê: Gestel jou vliegtuig land nie eers in 'n ander land nie, gestel hy stort neer iewers in 'n woestyn en jy is die enigste oorlewende... Dan het jy darem nog foto's en herinneringe van vorige vakansies wat absoluut asemrowend was!

No comments:

Post a Comment