Tuesday, July 19, 2011

MAGIC, MOSTERDSAAD EN MALVAPLANTE!

Mev Doeminie is steeds besig om die ou koeie uit die sloot te grawe wat met Sean-Jacques te make het. Sean is die gesonde seun wat ons op 15 maande verloor het aan 'n virus wat hom met breinskade gelaat het. Ek sê verloor want die seun wat hy voor dit was, is dood in die hospitaal en die enetjie wat ons huistoe gebring het was maar 'n skaduweetjie van Sean. Soos 'n mens seker 'n kind se dood probeer verwerk, het ons deur hierdie ‘dood’ van ons seun geworstel, en worstel seker steeds. Ons moes worstel met die dood van ons drome vir hom en worstel met die dood van 'n sorgvrye lewe, gemaklike gesinsvakansies, ongekompliseerde skoollewe, gesondheid en toekomsplanne en ja selfs die dood van 'n nageslag wat die Van Zyl naam kan voortdra, dink ek. Klomp goed is daardie dag dood, maar wat nie dood is nie, is 'n klein wonderwerkie wat teen alle doemprofete se prognoses in toe nie op 'n hopie bly lê het en net verder spasties geraak het nie. Wat wel oorgebly het was die vrolike en gelukkige kind wat diep binne in die beseerde breintjie toe tog oorleef het... ‘And that has made all the difference’ (to us, and to the road we were forced to take...) Ons kan dieselfde sê oor ons lewenspad, soos Robert Frost in 1920 gesê het: I shall be telling this with a sigh, Somewhere ages and ages hence: Two roads diverged in a wood, and I-- I took the one less traveled by, And that has made all the difference.
Ek wil vertel van ons geloofspad vol dorings; 'n pad van geloof in 'n God wat gee en neem soos Hy goeddink, in geloof wat berge versit of nie en in geloof in mens se eie geloof wat gevaarlik is. (Op die foto is Sean-Jacques twee weke nadat hy breinskade opgedoen het as 15maande oue baba a.g.v. 'n breinvirus. Al wat oor was van hom, was sy glimlag.)
Na die ergste skok en stof gaan lê het en ons tuis sit met 'n breingestremde kind wat niks kan doen nie en vir wie ek heeldag met fisioterapie na die lewe toe moet teruglok, begin mens mos maar oor jou geloof dink. Het God ons gestraf vir iets? Gaan hy ons binnekort weer straf vir daardie selfde iets wat ons nog nie mooi weet wat nie? Het ons te min kerk toe gegaan? Te min gebid? Te min geld gegee vir die kerk? Nie ons ouers geëer nie? As jy agterkom shit happens en jy is maar een van die met wie dit ge-happen het, dan begin jy wonder of jy iets aan die situasie kan verander. Jy is eers in so 'n gemorsput van depressie dat jy nie die krag het om in jou kar te klim om Pick-a-Pay toe te gaan om die nodige kos vir die gesin te koop nie. Jy lyk sleg en vermy almal want jy het gefaal. Iemand het jou gefaal. Dit moet God wees, want jy is darem nie so sleg nie. Mense kom bid vir jou en jy sien geen sin daarin nie. By die kerk bid hulle vir jou en die kind. Jy weet dit gaan nie help nie, hoekom sal dit? Watse magic gaan jou kind vir jou teruggee?
Dan sit jy eendag in die kerk en 'n preek praat net met jou: “Heb. 11:1: Geloof is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie... 19 (Abraham) was daarvan oortuig dat God by magte is om uit die dood op te wek, waaruit Abraham vir Isak ook, om dit so te stel, terug ontvang het...” Jy sit regop want wat wil die Here vir jou sê? Nee, dink ek, ek hoor verkeerd. Sulke goed gebeur nie. Hoekom sal God die kind so laat siek word en hom dan weer so genees? Sinneloos. Buite die kerk sê my man, Anton: “God gaan vir Sean-Jacques genees.” Dis wat hy gehoor het. Ek wonder nog hieroor, wil nie te gou vertrou nie. Daardie week kry ek oorweldigende boodskappe, sommer op tv by iemand waar ons braai waar ek toevallig voor die tv verbyloop en die aanbieder sê: “God het my kind se breinskade genees as gevolg van my geloof en gebede...”. Ek ry Pretoria toe met Sean vir 'n doktersondersoek en die nuus is gewoon: geen verbetering, epilepsie neiging. Op die radio speel 'n lied net toe ek by die huis indraai: “God will do miracles when you believe... when you believe, when you believe...” tot ek stop. En die aanbieder sê: “Het jy gehoor? God wil vir jou 'n wonderwerk doen deur jou geloof. Glo jy dit?” Ek moes toe nou sê: “Okay, okay, ek glo dit! Dankie Here!”

(Op die foto is ons sitkamer na Sean se siekte, ingerig as 'n permanente terapie-kamer sodat ons dag en nag kan oefen om sy beseerde breinselle weer reg te help.)
En soos menige gelowiges voor my en na my, beland ek in 'n mallemeule maalkolk van geloofsgedagtes wat basies insluit: Ek moet dit net glo, en God sal my geloof beloon; Jy moet net geloof soos 'n mosterdsaad hê en dit sal gebeur; spreek dit en dit sal gebeur want jy herinner God aan sy beloftes; laat elke ou wat 'n geloof- of gebedsgeneser is vir hom bid, dit verbeter sy kanse op genesing; dit wat jy glo, sal gebeur (Die ewige SECRET!); ons bou 'n huis met trappe want jy moet weet, een van die dae klouter hy nes enige ander peuter daar op en af; ek trek sommer sy doeke uit en sy onderbroeke aan en glo dat die doeke nou oorbodig is want as jy dit glo, moet jy tot die daad oorgaan... (groot fout... onderbroeke vat nie nommer twee goed nie... ja, ook nie nommer een nie). Hiermee saam sal enige super-Christen vir jou vertel dat jy jou lewe moet skoon kry: bely jou sondes, ook die wat jy nie eers van weet nie, jy weet soos toe jy daardie jaar karate geneem het, of toe jy daardie dag in 'n Moskee was in Turkye of toe jy Queen geluister het op skool; smyt enige voorwerpe uit jou huis wat dalk demonies kan wees: dit sluit in alles van Egiptiese skilderye tot die bonsaiplant of is dit die malvaplant (soos Koos Kombuis tereg gesê het?). (Op die foto is Anton en Sean en Michelle - pas gebore, sowat agt maande na sy siekte.)
Nou ja, as jy al die takies afgehandel het en jy voel so skoon soos 'n engel, dan moet jy ook waak oor elke keer wat jy dalk bietjie swak word in jou geloof oor die genesing. Want, jy en jy alleen is verantwoordelik daarvoor as God nie jou gebed verhoor nie, want sien, jou ongeloof bepaal die uitkoms. En hieroor is Super-Christene baie duidelik. As genesing nie plaasvind nie, is dit nie God se skuld nie, dit is jy wat twyfel of jy wat onbeleide sondes het! Nie? O, nee, dan moet jy gaan soek, suster, want jou voorouers het dalk onbeleide sondes gehad of vloeke op hulle... Gaan soek, gaan soek... Jy soek jou malle verstand af en elke keer as jy na jou kind kyk, dan wonder jy hoekom jy so sondig is en onrein want dis jou skuld dat jou kind so krepeer. Jy gaan van Stilfontein na Stanger vir gebede by groot manne... jy wil met alle geweld by TB Joshua uitkom, want hy genees. Ons is uiteindelik bespreek op 'n vlug Nigerië toe en die kaartjies is betaal en Geelkoors inspuitings is gekry. Ons het soos ons moes ons name deurgestuur sodat TB Joshua kan bid vir die name en wie moet kom, maar toe is Sean nie op die lys wat moet kom nie, net ek en Anton. Maar ons besluit om ons kind saam te neem na die haglike omstandighede en slaapplekke by die TB Joshua kerk. God sal mos sorg. Hy wil dalk net ons geloof toets. Als sal uitwerk. God is in beheer. Ek bid en bid dat God ons nie op 'n 'wild goose chase' moet stuur nie.
Als wat ek van TB Joshua gelees en gesien het, glo ek is waar en rein en edel. Hy is beslis 'n Godsman. Nie soos ons gewoond is nie, maar daar in Nigerië werk God beslis anders met gelowiges as hier aan die Suidpunt van donker Afrika. Ek vra almal om te bid, want hierdie is ‘n groot en ongerieflike stap in geloof met 'n klein breingestremde seuntjie so op die vliegtuig in vuil Afrika in. Ek vra God om my geloof sterk te hou, want jy moet jouself behoorlik opsweep en positief hou sodat jy kan bly glo in wat jy doen, veral as Super-Christene hul snaters oor alles oop en toe maak. Twee dae voor die vlug word die toer gekanseleer. Dit was tien teen een ouens wat net uit ons arme gelowiges wou geld maak en dit werk toe nie uit nie. My teleurstelling in God ken geen perke nie. Anton aanvaar dit so as deel van die geloofspad. Dit neem my weke om hieroor te kom. Kan God nie net een ding laat uitwerk nie? Ek bedoel, my geloof staan soos 'n ligtoring, my geloof is nie eers meer so groot soos 'n mostertsaad nie, dit het gegroei tot 'n hele boom. Ek bedoel, mense sit onder die boom, en ek getuig en vertel vir almal wat wil hoor en nie hoor nie wat God alles gaan doen met my geloof en met Sean. Vernedering is seker maar deel van mens se geloofspad. Ek staan weer op en besef dat God ons wel gespaar het van heelwat ongemak en mislukking dalk? Hy het seker ander planne.
Dis maar een storie in 'n boek vol van my planne wat ek al gemaak het om God se arm te buig om te doen wat ek wil – en ja, natuurlik glo ek ook dis wat Hy wil, want ek en Hy gaan mos berge verskuif met hierdie wonderwerk. Intussen gaan elke dag soos die vorige, ons oefen Sean se onwillige spiere en breintjie wat bitter bitter stadig vorder, sien die dokters en terapeute, versorg my twee dogters, ruil Sean se doeke, maak kos, koop kos, en so aan. Niks verander nie. Ek stoei voort met God. (Op die foto bo is ek en Sean en Michelle - ons moes almal die beste maak van 'n baie uitdagende situasie, ook Michelle en Chantal wat later bygekom het. Op die foto regs is Sean in 'n tipe loopraam wat ons gebou het om hom te help om weer te kan loop. Links tydens 'n dieretuin uitstappie in 2004.)
Ek en Anton het in 1998 en 99 die Lynwoodrif Bybelskool oorsigkursus en diepte kursusse gedoen en so bietjie meer geleer oor God en sy plan met die mens. Mens kom seker maar agter op jou geloofspad dat alles nie gaan oor jou eie gemak nie en nie gaan oor die sterkte van jou geloof nie. Daar is baie voorbeelde in die Bybel van groot geloofsmense en kleintjies wat nie geglo het nie en tog het God gedoen wat Hy moes. God doen wat Hy wil soos hy wil. Ja, jy moet glo dat Hy alles ten goede sal laat meewerk, nogtans nie soos jy wil nie. Mens kom seker maar mettertyd agter dat jou eie gebede net soveel krag het soos die volgende geloofsgeneser s'n, want God kan werk deur wie Hy wil. Jy kom agter dat dit nie vir God saak maak watse skilderytjies in jou huis hang nie. Hy doen wat Hy wil. (Op die foto is Michelle by Sean op 'n tipe kruipraam om hom te help kruip. Hy het meestal net daarop gelê en geglimlag. Ek moes die kruipwerk doen, so kan die eelte wat nou nog aan my kneukels is getuig.)
Ek glo God waardeer ons geloofsdade, want dit wys ons herken hom as God en Vader. Maar Hy gaan nie die heelal laat onstpoor omdat jy ongerieflik is nie of omdat jy tien uit tien gekry het vir 'n skoon huis nie. Ek dink Hy wil maar net hê ons moet weet Hy weet die beste. Hy sal sorg, in die goeie en slegte tye. Ek glo nie meer die duiwel spring op jou omdat jy 'n Oosterse plant in jou huis het of 'n Oosterse gevegskuns beoefen nie. Ek soek deesdae eerder die Here in alles voor ek die duiwel in alles soek. Almal is nou die joos in vir Lady Gaga se Judasliedjie. Sy is 'n kreatiewe siel wat maklik misverstaan word. Ek gaan lees self wat Lady Gaga skryf in haar liedjie oor Judas. En vir my lyk dit net of sy 'n stryd het met die Judas kêrel, en sy weet Jesus is haar virtue (haar reinheid, haar redding), maar soos baie van ons, kan sy nie wegbly van die slegte nie, net soos Paulus gesê het: "Die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die slegte doen ek!" As Gaga sing van die ‘King with no crown’, dan praat sy van Judas. Hy is net so bekend soos Jesus oor al die eeue heen, maar was nooit 'n koning van enige aard nie - dalk die koning van verraad; almal ken die Jesus verhaal en ken dus die Judasverhaal net so goed.
EK WENS... Ek wens Christene wil ophou om die duiwel in alles en almal te sien. Sien Christus se kreatiwiteit, sy grootheid en sy genade in alles. Ek wens Christene wil ophou om ander mense en ander Chrsitene te veroordeel: elkeen is op sy eie geloofspad en as jy dit nie verstaan nie, moenie jou onkunde en gebrek aan insig so aan die groot klok hang nie. Ek wens Christene wil ophou om hul geloof te verdien: Jesus het dit reeds gedoen aan die kruis. Ontspan nou en gaan wees 'n seën vir die wêreld soos Jesus was. Ek glo dis al begeerte wat hy vir ons het. As jy heeltyd fokus op hoe om beter, skoner en heiliger te word, gaan jy jouself en almal om jou mal maak. En jy gaan niks vir die koninkryk beteken nie.
Na al my gestoei met gebed, met my geloof in genesing, en my daaglikse roetine van oefen, terapie en slim toestelle bou, is Sean nie genees soos ons wou nie. Hy het nie een oggend opgestaan, soos ek baie gebid het, en skielik is al sy breinselle 100% reg en werkend nie. Hy is vandag 18, dra nog doeke, en hy is vroliker en gelukkiger as geen ander mens wat ek ken nie. Hy dink hy is wonderlik en dat almal altyd bly is om hom te sien. Hy het geen inhibisies nie, geen geloofsvrae nie, geen worsteling met God nie, en hy is net 'n seën vir almal om hom. Hy is gasvry, laat almal altyd goed voel, hyself voel nooit verneder of onvergenoeg of in die gesig gevat nie. Hy glo hy is goed genoeg net soos hy is. Dit is hoe ons moet wees. Hy is volkome genees van alle aardse emosies, kwellings en waansin - in sy menswees en in sy gees. Ek ken niemand wat dieselfde kan sê nie. Ek wens hierdie genesing vir alle mense op aarde.
Ek het al gewonder wat mens vir jou kinders kon wens in die lewe: 1. 'n Gesonde selfbeeld wat gegrond is op wat Jesus van jou dink en nie die skewe beeld van wat jy of ander van jou het nie. 2. En 'n onvoorwaardelike liefde vir mense om jou, sodat jy hul kan verstaan en liefhê sonder vooropgestelde idees of oordeel. Beide die twee goed, het my seun. Ek bid dit vir my dogters, Michelle en Chantal, toe in die lewe. Ek dink dis al hoe 'n mens ooit jou volle potensiaal kan bereik. En ek bid dit vir al my vriende. (En ja, vir wat dit werd is, ek dink nog verjaarsdae en kersfees daaraan dat ek dalk gaan wakker word en die Here het wonderbaarlik vir Sean-Jacques in die nag genees, soos wat ek diep-diep in my hart nog altyd hoop... maar ek verstaan, ons aanbid nie 'n God wat magic doen nie, maar een wat die beste vir ons beplan en gee. En ek sien uit met alles in my na eendag in die hemel as ons almal volkome genees gaan wees en geen pyn meer ken nie.)
Intussen is ons elkeen op ons eie geloofspad...
THE ROAD NOT TAKEN. Robert Frost. 1920.
Two roads diverged in a yellow wood, And sorry I could not travel both, And be one traveller, long I stood, And looked down one as far as I could To where it bent in the undergrowth; Then took the other, as just as fair, And having perhaps the better claim, Because it was grassy and wanted wear; Though as for that the passing there, Had worn them really about the same, And both that morning equally lay In leaves no step had trodden black. Oh, I kept the first for another day! Yet knowing how way leads on to way, I doubted if I should ever come back. I shall be telling this with a sigh Somewhere ages and ages hence: Two roads diverged in a wood, and I-- I took the one less traveled by, And that has made all the difference...

No comments:

Post a Comment