Monday, May 9, 2011

'N OOP GRAF EN "ALL YOU NEED IS LOVE..."



'n Ongelukslag in die nag. Metaal teen metaal. En ek het skielik nie meer rede om oor enigiets te kla nie. My Annus Horribilis het amptelik in duie gestort. My beste vriendin se seun is in 'n ongeluk dood Sondagoggend. Niks wat ek in 2010 deurgemaak het kan enigsins hierby kers vashou nie. Ek onttrek nou my slegte jaar amptelik.


Wat kan ek sê van Glendine se pyn? Om by 'n oop graf van 'n kind te staan, is die ergste trauma wat 'n ouer kan deurgaan. Niks van ons vergete drome, vriende wat jou in die rug steek of afskuwelike vyande wat jou wil afbreek, kom hierby nie. Nou noem ek nie eers die vergifnis wat moet volg vir die dronk drêl wat in die tronk sit as gevolg hiervan nie en wat nog probeer weghol het nadat hy by 'n rooi robot deur die stilstaande Volkswagen waarin Dean en sy twee vriende was, gejaag het nie. Dean en sy vriend Henno is dood. Johan Botha, sy ander vriend leef wonderbaarlik. (Op die onlangse foto is Glendine en Dean.)











Toe ek die oproep voor sonop van Glendine kry daardie Sondagoggend, wou ek nie die foon optel nie. Sy sal my nie daardie tyd bel nie. Ek het met 'n loodswaar hart opgetel en die nuus was skrikwekkend. Ek kan nie weet wat sy deurgaan nie.





Ek kerm en kla oor simpel goed al vir weke lank op my blog en nou dit. Ek skaam my. Ek weet niks van pyn en seer en verwerping nie. Ek weet niks van God se planne nie (dit weet ek darem al 'n geruime tyd) en daar is geen troos in der ewigheid op hierdie aarde wat daardie seer van Glendine kan wegvat nie. En die groot vrees wat dit agterlaat: hoe lank is my kids nog by my? Hoe lank is ek nog by hulle? Gelukkig weet niemand nie.





Oor Dean kan mens kleurvolle boeke skryf. Hy is maar negentien maar het die manier waarop ek en my kinders en baie baie mense dink, beïnvloed. Van kleins af is hy die kunstige vreemde weird ene met BAIE nou skinny jeans en hoedjies. Menige kuns onderwyser het gesidder by aanskoue van sy totaal eerlike verbeeldingsvlugte wat hy op canvas vasgelê het. En dit kon hom min skeel. Ja, hy was seker een of twee keer in trane oor mense hom verkeerd verstaan en skeef uitkyk. Maar hy het nie opgehou nie. Hy is van daardie siele wie se kuns, insig en verbeelding ver voor sy tyd en ons denke was. In Pro Arte skool het hy geblom. Uiteindelik mense wat hom verstaan het. Hy het 97% vir ontwerp gekry, iets wat in jare nog nie gebeur het by die skool nie. Plus nog drie onderskeidings verstaan ek.
(OP die foto is een van Dean se vele ontwerpe)

En soos alle goeie kunstenaars was sy kuns 'n weerspieëling van ongeregtighede wat hy om hom raaksien. Ons almal kyk mos maklik oor dit. Hy sien dit met velle intensiteit en weerspieel dit met suiwer kreatiwiteit. Soos 'n diep gedig. Jy moet mooi kyk om alles raak te sien en liewer nie te veel sê nie want jy gaan aanvanklik nie alles verstaan nie.







Sy begrafnis was op 'n Vrydagmiddag, terwyl ander mense rustig werk of kroeg toe ry. Sy vriende, meeste kunssinniges soos hy wat jy op 'n afstand kan uitken met hare, hoede en noupyp broeke, het geruk van die trane. My kinders het gehuil soos ek hul nog nie sien huil het nie. Sy ma het besluit om vir hom 'n eenman kunsuitstalling te reël op dieselfde dag van sy begrafnis. Sy eerste uitstalling. Die kerksaal was vol van sy besondere verbeeldingryke werke.





Hy was iemand wat 'n mens beïndruk het. 'n Legende. My man, Anton het die diens gedoen, en vir Dean met Josef vergelyk wat ook voor sy tyd was en anders was en kleurvol. En wie se kreatiewe drome vir min mense (ook homself) verstaanbaar was. Hy moes net uiting daaraan gee, maar baie het hom verkeerd verstaan, en op die ou einde het dit groot verdriet maar ook groot redding meegebring. Maar deurentyd het hy gedoen wat hy moes, gegaan waar God hom gelei het.





Ek het 'n skyfievertoning gemaak van Dean met die liedjie: I had the time of my life (and I owe it all to You!) van Black-eyed Peas. Dit was wie hy was. Hy het die tyd van sy lewe gehad en so ook ons wat hom geken het. God het hom die tyd van sy lewe toegelaat op hierdie aarde. Hy het holderstebolder geleef, soos Koos Dup sê: leef holderstebolder want die kis staan op die solder... Ons almal kan leer by Dean. Leef holderstebolder. Moenie dat iets jou onderkry nie. Laat mense ook op jou begrafnis kan sê: I had the time of my life and I owe it all to you! Dean het 'n hart vol barmhartigheid gehad. Hy het tyd spandeer met mense of hy hul ken of nie en hy het nie velkleur raakgesien nie.





Is God se nuwe reël nie vir ons: Wees barmhartig want ek is barmhartig nie? Ons klou so maklik vas aan die ou Testament se reëls en regulasies en waar God vir sy volk gesê het: Wees heilig want Ek is heilig. Jesus het daardie ou reël met 'n nuwe kom vervang en ons lees dit so maklik mis: Wees barmhartig want ek is barmhartig (Lukas 6). Dit was Dean. Hy het mense aangeraak.


Lysie van goed wat ek oor die 13 jaar wat ek hom geken het, by hom geleer het:


Wees jouself.


Volg jou drome.


Wees barmhartig.


En hy het nooit kwaad geword nie. (Okay, ek sukkel nog met daai ene...)


All You need is love (Sy beste liedjie ooit van die Beatles)


(Ons het net liefde nodig. Ek dink dis wat Jesus vir ons probeer vertel het!)




Glendine vertel my op moedersdag , die Sondag na sy begrafnis. Dean het vir haar gesê al die kinders kla en kerm so oor hul ma's, maar hy het die coolste ma wat enige kind kan hê. Sy laat hom toe om homself te wees. Sy het hom lief soos hy is en probeer hom nie verander nie.




My hart breek as ek aan Glendine dink, aan alle ma's wat 'n kind verloor het. Maar ek moet myself herinner dat ons net in 'n tydelike woning is. Een van die dae is ons almal bymekaar in die hemel, dan sal ons Dean sien waar hy lang stukke gesels met Salvador Dali, John Lennon, en Picasso en met die groot Kunstenaar en Skepper wat alles so kleurvol op hierdie aarde geskep het.





Mag God ons vergewe dat ons Hom, in boksies druk van ons eie verstaan. Mag God ons vergewe dat ons so maklik na ander mense vingers wys sonder dat ons hulle hart of hul gawe verstaan. Mag God ons help om met 'n barmhartige hart na mense en die skepping om te sien. Ons weet so min. Al wat ek weet is: leef holderstebolder terwyl jy kan.





Ons hou hierdie week 'n musiekblyspel by die kerk wat ek geskryf het, Simson, God se leeu, met die musiek van Queen, ook begaafde mense wat dalk maar voor hul tyd was (al was hul bietjie woes vir die meeste van ons se ouers!). Maar hul gawe, hul musiek, wat vandag nog van die gewildste is op aarde, sal ons altyd by ons hê. Ons dra ons show aan Dean op want so baie van ons wat deelneem, het hom goed geken. Dis die verhaal van Simson wat 'n leeuhart gehad het en wat God op die aarde gebruik het om met sy gawe (krag) die volk se lewens te verander en te verbeter. Hulle en ons verstaan ook nie lekker vir Simson nie, maar dit maak juis dat hy met sy andersheid uitstaan en 'n verskil maak, net soos Dean. Mag jy in vrede rus, Dean, soos die groot Godsmanne voor jou! Ons hou vir jou 'n sitplek oop Saterdagaand! Geniet dit! (Al haat jy die gewone tipe musicals - hierdie een is anders...! We will rock you!) Peace out!

3 comments:

  1. Beautiful Renè!!!! Liefde Riëtte

    ReplyDelete
  2. Rene, dis absoluut fantsties- dis soos ek my kleinkind geken het-vir hom gegee het wat ek kon: liefde, aanvaarding,tyd, ruimte maar ook skinny jeans en snaakse klere as hy wou he...ek treur en ween en sug van smart want hy het sy laaste twee jaar op skool by my gebly en ek het hom deur en deur leer ken. My liefling kleinkind met die sagte hart en stem. Wat soms tot 3 uur in die nag gewerk het aan n taak wat moes klaarkom (ek dink aan die een hierbo) Koffie aangedra en aangemoedig. J
    ys veilig in Jesus se boesem. Ouma Frances

    ReplyDelete
  3. My hart breek vir julle. Mag jul krag kry. Dean was gelukkig om 'n ouma en oupa soos jul te hê. liefde Ren'e

    ReplyDelete