Monday, May 23, 2011

'n HORRIBALE KORTVERHAAL...

Net om julle bietjie te treat... 'n kortverhaal oor iemand wat ek glad nie ken nie... enige ooreenkomste is bloot toeval... nee regtig... hierdie is grootliks fiksie.... gemeng met die bloed en verbeelding van die skrywer... (Ek het dit vir 'n kortverhaal kompetisie ingeskryf...)


Op die foto is die soldate in my regte Simson, God se Leeu, opvoering wat ons in Mei by die Kuierkerk opgevoer het. Dit het natuurlik niks met my fiktiewe storie hieronder te doen nie!)


KORTVERHAAL: Mevrou Doeminie se Annus Horribilis
My asem stink na laatnag se rooiwyn en knoffelpasta. Die enigste ordentlike rok in my kas sit skeef aan my bas want ek was te haastig om die ding aan my lyf te dwing. Ek moes minder geëet het dié langnaweek. Ek sleep my liggaam moeisaam voort tot op die vyfde van die tien trappies van die kerksaal. My stink asem hyg. Pleks ek nie al drie daai Lord of the Rings flieks gelyk probeer kyk het nie. Kon niemand my waarsku dit gaan my nege ure vat om deur te werk nie?
Die drie ure se slaap wat ek ingekry het, hang onder my ooglede soos vrot sokkies.
“Mevrou Dominee! Voel jy sleg?” 'n skril stem kom van iewers bo my af. Ek kyk op, in 'n verblindende sonstreep in, dan sien ek haar, die dinamiese mev. Rita Waldenaar. Nee, ek sien eers die über-modieuse puntskoene, die skraal kuite en bypassende ontwerpers-minirok, die ontwerpersborste en dan die skerp neusie wat my uit die hoogte uitkyk. Vir 'n oomblik lyk haar blou oë groot en onskuldig soos Smeagol s'n van die Lord of the Rings fliek wat nog kleef aan my hele wese.
“Ek is reg, dankie...” Ek sleep myself tot bo langs haar en probeer my krulhare wat punt in die wind staan, plat forseer. Ek trek my rok effens reg en sien dat ek nog boonop my krok-sandale aanhet. Ek het darem oorbelle en lipstiffie aan, hoop ek.
Ek word binnegelei deur mev. Smeagol. Is dit die min slaap wat my verstand aantas? Want hierbinne sit die gryskop Gandalf (ou mevrou Griekie Steenkamp) en die dwerg Gimli (mev. Kotzé) en ’n paar van daardie skewe-tand Orcs uit my laataand fliek. Ek skud my kop om al my varkies bymekaar te kry.
Nog iemand kom in. “Is ek laat? Jammer tog, dames!” Dit is een van daardie Elfie-vroue, die Lady of the Lake, Sandra Potgieter. Dankie tog, ’n vriendelike gesig.
Die agenda word gelees. Dis die wyse Gandalf the Grey met haar grys rok. Ek voel naar. Ek voel beslis nie soos een van hierdie lekkerruik Vlindervroue van die kerk nie. Ek proe nog gisteraand se knoffel.
“Mevrou Dominee, ons wil u welkom heet by ons Vlindervrou groepie. Vandat Dominee begin van die jaar aangestel is, het ons besluit om u ’n kans te gee om aan te pas by die nuwe... hmmm titel, maar nou is dit tyd om u volstoom te begin gebruik. Ons vertrou u het nou al u voete gevind?” vra mev. Gandalf.
Ek staan by die ketel en skep koffie met bewerige vingers. Ek probeer onsigbaar lyk met die all-seeing evil eye op my. Het Frodo so gevoel toe hy opgesaal is met die lewensbelangrike ring. Klein en onbevoeg. “Ja, dankie mev. Steenkamp,” wurg ek.
“U sal ook agterkom dat ons ’n paar oulike klerewinkels het op die dorp wat stylvolle pakkies aanhou. Gaan maak gerus daar ’n draai...” Dis Smeagol wat my op en af kyk met ’n fyn glimlag en aandui dat my enigste precious rok nie in haar smaak val nie. Ook nie my vlooimark oorbelle nie.
Wat verwag sy? My ingenieurman het net voor veertig besluit om voltyds predikant te gaan swot. Waar moes ek en die kinders geld kry vir klere? Vryskut joernalistieke werk het nou nie juis die pot of my bas heeltyd aan die kook gehou nie. En die feit dat ons al tien jaar lidmate in die gemeente is, maak blykbaar ook nie dat hierdie Fellowship van vroue verstaan watter hel ek met twee dogters en ’n breingestremde seun deur is in die ses maer jare nie. Nee, nou is ek die formidabele mev. Doeminie wat hulle deur ’n ring wil trek.
Dankie tog vir oom Gielie wat nou die dag die ewigheid in is, en ’n paar ordentlike pakke klere nagelaat het, anders het Doeminie ook met sy kroks en bokser op die preekstoel geklim. Vir wat moet mens nou so wonderlik aantrek as jy voor die Here of dié vlindergroepie verskyn? Het Jesus nie ook maar met plakkies en ’n kaftan rond geloop nie? Hoekom sal Hy nou verwag ons spul boere moet in 2011 in die hitte van die stryd met warm pakke klere rondloop? Hy ken immers van warm kry.
“... ek sê, mev. Dominee? Het jy dalk voorstelle waar jy betrokke wil raak in die gemeente?” Dit is die onvriendelike rooikop dwerg met haar rasperstem. Seker al daai pakkies Lexinton wat ek haar al skelm sien rook het.
Asof ek nie al tien jaar lank in die gemeente betrokke is by fondsinsameling vir die breingestremde skooltjie op die dorp nie. En wat die feit dat ek al jare lank op my knieë agter die poppekas staan op Sondae vir die kinderkerk?
Ek gryp verwoed na die agenda en my oë hardloop oor die lysie bedienings. Armesorg. Basaarkomitee. Gebedsgroep. Enkellopende vroue. Ouetehuis. Doodsbegeleiding. My kop spin. Waar kry mens flippen tyd vir nog ’n uitreik? Wat van my dogters se sport, my gestremde seun se skooltjie, troues en begrafnisse en gemeenskapsfunksies bywoon saam met my man? En wat van my Jeugverhaal wat ek in elke vry minuut probeer voltooi. Ek wil weghardloop van hierdie vroue Fellowship. Ek hoort nie hier nie. Ek is nie opge-dress vir dit nie.
Heel onder aan die lysie is iets aanvaarbaar. Toneelstuk vir die jeug. “Ek sal die toneelstuk vat.” Ek sidder van verligting en verstik aan ’n vuurwarm sluk koffie.
Dis die Elfie wat my rug byna afklap en my lewe red. Die dames gons onder mekaar terwyl ek my verbrande mond troetel.
“Ons sou verkies dat u betrokke raak by die vroue Bybelstudie en die gebedsgroep.” Dit is nou weer Smeagol met haar ewige ‘vriendelike’ glimlag.
Sandra die Elfie red my: “Ek dink weer mev. Steenkamp is uitgeknip vir hierdie besondere take. Sy is immers al jare in die gemeente en so volwasse in die geloof. Mev. Dominee is ’n opgeleide joernalis en skryf is in haar bloed. Ek sal haar help met die toneelstuk.” Ek stuur ’n dankgebed op. Ek dink Jesus met sy kaftan is dalk vandag bietjie aan my kant.




So trek my Annus Horribilis jaar in eerste rat weg. Die Queen van Engeland het al so horribale jaar gehad. Ek sou later die jaar in my swaar gemoed nogals bevoorreg voel om ook een te hê. Myne het nou wel nie te doen met my seun wat van Lady Diana wil skei nie of nog minder het dit te doen met my kasteel en kroonjuwele wat halfpad afgebrand het nie, maar myne is toe inderwaarheid net so pynlik.
Ek kry ’n oproep. Mev. Smeagol se matriekdogter is ’n kranige sangeres as ek haar kan gebruik in my toneelstuk. Sy het immers al in die skool operettes gespeel, sê Smeagol. Ons word selfs vir ete genooi na hul kasteel daar op die berg. Duur karre staan in oopdeur motorhuise. Die beste kos word voorgesit. Ek is heeltyd naar. Sê nou ek gebruik die verkeerde mes of vurk? Watter vurk sou Jesus kies? Nee, ek dink hy het sommer met die hand geëet. My gestremde sestienjarige seun, Johan, voel my angs aan en is ook skielik naar. Hy gooi op oor Persiese mat voor die televisie. Wie sit so ’n mat in die tv-kamer, verdomp? Die Smeagol tienerdogter word naar van die nare spul. Sy hol darem toilet toe.
“Ek dink ons moet trek,” sê ek vir my man oppad huistoe.
“Nee, man, ons bly al so lank hier. Al ons vriende is hier. Ons sal die klomp nog regkry.” Ek sien nuwe plooie om my man se oë en besef hy gaan met die ou manne op die kerkraad deur dieselfde horribale krisisse as ek. Hy is ook maar ’n verligte ou.
“Ja, kom ons trek Londen toe,” meen my veertienjarige dogter Miekie.
“Ja, cool!” meen die twaalfjarige, Chane’. Albei se ogies blink by die gedagte aan Camden mark en die fantastiese klerestalletjies. “Johan! Skuif op, jy stink na kots, man!” Sy stoot haar naargesig broer weg van haar op die agterste sitplek.
Londen met sy koue reënweer klink skielik vir my baie aanloklik. Net more gaan Google ek UK Immigration, besluit ek.




Die koffiepot sing soos ek daardie week aan my toneelstuk skryf. Simson, God se Leeu! Die volgende Saterdag bekyk ek en Sandra die spul ‘akteurs’ wat opgedaag het vir die oudisie met groot verwagting. Daar is Smeagol se dogter, Ansie, wat nie te sleg lyk as jy verby die groot blou Smeagol-ogies kyk nie. ’n Redelike aantreklike matriekseun, my twee dogters, en ses hoërskool seuns en meisies wat duidelik nie by ’n sportspan of ander kultuuraksies betrokke is nie. My seun Johan het ook saamgepiekel maar hy is redelik onbruikbaar in 'n toneelstuk. Ek besef hierdie is die uitgeworpenes, die anderster kinders wat nie juis ’n plek het nie. Die wat soos ek is. Die breingeremdes. Ouens wat in ’n mate breinskade opgedoen het as gevolg van die lewe se stelsels.
“Eks beïndruk!” probeer ek positief klink. Dis mos die groot geheim. Hoe sou Jesus die skaam spul binne drie maande in ’n toneelstuk omskep het? “Julle gaan hierdie gemeenskap aan julle voete hê! Ek en Sandra gaan julle wys hoe!”
“Tannie, my ma sê ek moet haar net sê watse musiek ons gaan gebruik?” Dis Ansie, natuurlik. Ek kan aan haar hele neus in die lig houding sien haar persoonlikheid en breintjie is maar goed verniel in daardie agtermekaar huis.
En daar word in my kop gebore, ’n vreeslose gedagte... ek wou mooi Christenmusiek gebruik het... ek wou Willie Joubert, Jan de Wet en Wanda de Kock ingespan het.... maar dis al so oor en oor gebruik, besef ek met klinkklare helderheid. Dis asof Smeagol self in my kop nesmaak. My alterego lê nog ’n paar eiers in daardie einste nessie. Ons gaan die gemeente iets nuuts gee, besluit ek.
“As jy deel wil wees van die groep, moet jy beloof, hier en nou, dat geen detail oor die play mag uitlek nie. Jy mag niemand vertel wat en hoe ons hier werk nie. Ons wil dit as ’n algehele verrassing hou... ook vir jou ma, Ansie. Reg so?” Ansie lyk verlep. Ek sê: “Jy kan vir jou ma sê sy moenie bekommerd wees nie. Die musiek is geskryf deur ’n groep opgeleide mense wat almal doktorsgrade in musiek het.” En dis die waarheid.
Almal knik hul koppe en is skielik deel van ’n geheime Fellowship. The Fellowship of the theatre!
"Goed! Wie kan sing? Dans? Enigiets?” Sandra verstaan wat aangaan en daar begin ons met ’n ding wat ons dorpie op sy kop gaan keer. Iets wat my lewe op sy kop gaan keer. Iets wat my jaar horribaal gaan verander...




Vlindervroue vergadering. Ek en Sandra troetel ons geheim tot die dood.
“Dis onaanvaarbaar, mev. Dominee. Dit is ons reg om te weet wat agter daardie geslote deure aangaan. Ons kinders is immers betrokke.” Dis mev. Smeagol.
"Ons kan nie praat nie, Rita. Dis ’n teaterding. Die een wat uitpraat is uit die play.” Ek kry lekker tot in my kleintoontjie.
“Sandra... Jy verstaan tog hoe ons hier werk...?” Sy takel die onskuldige Elfie.
“Jammer, Rita, jy sal moet wag tot die openingsaand soos al die ander.” Sandra glimlag vriendelik, soos van haar verwag word. En soos alle Elfies is sy getrou tot die dood. Ek vreet haar sommer op.




Rita praat met haar man, die voorsitter van die Kerkraad. ’n Spesiale kerkraadsvergadering word belê en daar word voorbidding gevra in Sondag se diens. My man word onder kruisverhoor geplaas.
“Dominee, u vrou weier om inligting oor die drama bekend te maak, ek bedoel, ons kerkraad moet goedkeuring gee vir hierdie tipe goed! U moet met haar praat.” Dis mnr. Smeagol met sy goue ketting om die nek en blink ringe. ’n Vername man in die dorp. Hy het ook al jare gelede ’n fantastiese personeelkursus in Londen bygewoon. Drie weke lank. Hy weet dus waarvan hy praat.
“Ek is jammer, maar dit is my vrou se bediening. Ek gaan nie daar inmeng nie. Is dit nie genoeg dat julle weet die drama gaan oor Simson nie?” My man is darem altyd aan my kant.
"Dit word nie so gedoen nie, Dominee. Die kerkraad is die hoogste gesag in die gemeente en moet te alle tye ingelig wees. Ons is die wakers oor die saligheid van ons mense...” Dis die grysbaard, mnr. Gandalf. Hy is ’n afgetrede weermagman. Hy is sy lewe lank al aan die regte kant: NP, NG, en wat nog als.
“Ek dink darem die Here is die hoogste gesag in die gemeente, broer,” meen my man.
“Iets is nie reg nie, Dominee. U sal mevrou onder hande moet neem. Sy speel nie volgens die reëls nie,” aldus mnr. Smeagol met sy goue ringe.

So gebeur dit toe dat broers Smeagol en Gandalf hul eie aksie teen mnr. en mev. Doeminie loods. Een wat die jaar nog meer in sy moerin gaan lanseer.
Ons drama word die teiken. As ons saans in die kerk oefen, word die amptelike ketel en koffie weggesluit in die kerk se kombuis. Selfs die toiletpapier verdwyn skielik. Ek kry die boodskap. So, wat sou Jesus doen? wroeg ek by my selwers. Koop maar jou eie flippen goed, besluit ek. Ek merk die krat met ’n swart kokiepen: LOS UIT!
Van die klere wat ons mee oefen verdwyn uit die krat en land in die armesorg se houers. Wie op aarde sou dekselse Bybelse rokke wou dra? Selfs armes het tog hul trots!
Ons oefen flink voort. My breingestremde seun sit in en klap hande en juig vir elke flou grappie en probeer selfs saamsing met ons ingewikkelde musiek. Hy is man alleen verantwoordelik vir my moraal wat hoog bly. Sandra slaan die klavier se klawers soos net sy kan en my mensies oefen woes. Ek sien dat selfs die grootste bleeksiel onder hulle begin blom. Ek voel vrek goed oor wat ek vermag. Openingsaand kom nader. Ek voel naar. Ek weet hier kom groot moeilikheid. Maar ons groepie geniet onsself.

Openingsaand. Die kerk is tjok en blok vol mense al het stories oor mev. Doeminie se gekonkel die hele dorp vol gelê. Almal is vrek nuuskierig; uitgevat in hul aandklere, ringe en oorbelle. Dominee het immers afgekondig dat almal asseblief die tieners se aksie moet ondersteun. Selfs al die katkisasieklasse is daar. Hulle is wel gedwing om te kom anders gaan hul nie hul papier die einde van die jaar kry nie. Almal se ouers is bang hul pluk katkisasie, daarom kom hul maar en hou hul bekke.
Mev. en mnr. Smeagol sit voor in die kerk op hul uitgekose plek, soos altyd. Langs hulle is die grys Gandalf egpaar. Langs hulle sit my Johan wat opgewonde en onophoudelik babbel. Hy ken net vyftien woorde. Agter die verhoog is almal in rep en roer. Man en muis word grimeer. Hare word gedoen en woorde vir oulaas deurgegaan. Die Fellowship van ons klein teatergroepie het ontwikkel in ’n hegte lewenslange vriendskap.
Ons openingstoneel. Simson en sy eerste vrou, Philista, verskyn op die verhoog met flambojante Bybelse trouklere. Hul lyk stunning en word gevolg deur ’n spul Filistyne wat kom bruilof hou. Simson en sy vrou trek weg met Queen se “We will Rock you”. My dogters doen 'n soort bellydans op die ritme van die lied. Hul is deksels goed. Hul dans nie verniet al van hul drie jaar oud is nie.
Die tieners in die kerk is onmiddellik op hul voete. Skielik is kerk nie so sleg nie. Hul ouers klap saam hande want kyk, Queen is waarmee ons groot geword het. Ons is wel gewaarsku dat jy nie hul liedjies agterstevoor om moet luister nie want daar is blykbaar allerlei Sataniese boodskappe op, maar niemand het gesê ons mag dit na die regte kant om luister nie! (En regtig, wie van ons kon nog ooit ’n plaat agteruit speel? Wie het dit uitgedink?)
Toe Simson oplaas vir die Filistyne sing, ‘I want to break free’, vlug ’n paar vooraanstaande lidmate snikkend uit die kerk. Die Smeagols is totaal verlam; die skok sit wit om hul kiewe, totdat hul dogter as Delila verskyn met oorbelle en bangles en abnormale welgevormde borste onder haar rooi rok. Ek meen, as die ma flippen ingeplante borste kan hê, hoekom nie die dogter nie? En Delila gooi haar lyf en sing ‘It’s a kind of Magic’ uit volle bors. Simson sing saam en die twee val neer op ’n bed met ’n french kiss. Dan is die Filistyne op hulle.
Mev Smeagol storm die kerk uit, gevolg deur mnr. Smeagol. Sy goue hangertjie blink in die donker. Ek wonder, was hulle nie ook eens gewone mense wat na gewone musiek geluister het nie? Wat verander ’n mens in ’n Smeagol? Geld? Mag? Godsdiens? Gelukkig is die kerk donker en Ansie is verdiep in haar rol. Ons groep eindig met ‘This could be heaven’ van Queen.
Ek is toe deur die kerkraad onder sensuur geplaas. Verskeie hoogs geleerde Sinodemanne het my probeer bekeer en my duiwels probeer tem. As hulle my brein met elektriese skokke kon herprogrammeer, het hulle. Maar ek is nou maar ek. Kommin en weird. Beslis nie ’n fenomenale mev. Doeminie nie. My man is deur die kerkraad, Sinode en die Broederbond onder hande geneem. Ek dink die Vrye Messelaars, die Nasionale party en Interpol het ook ’n anonieme sê gehad. My Annus Horribilis was in volle swang. Ansie is na ’n ander hoërskool, maar ek hoor sy en Simson vry nog die mixit-lyne vuurwarm.




Die gewone mense het darem by ons gestaan. Die ouens wat kyk na flieks soos Oh, Shucks it’s Shuster, die ouens wat luister na liedjies soos die Leeuloop, dié wat kyk na ‘bose’ flieks met towenaars en trolle in, soos Lord of the Rings... Die ouens wat ’n bier drink saam met braaivleis en na Queen luister. Wat sou Jesus doen? wonder ek altyd. Ek dink hy het in Smeagol se plek ingeskuif en die show enduit geniet met sy woestynrok en sy plakkies aan.











(Fluit fluit my storie is uit - maar regtig - ons het 'n Simson show op die planke gebring: Ek en my vriendin Marlene, maar by Kuierkerk, dit was so lekker. Die eerste keer - en dis ons 5de show, was alles so maklik. Van die klankingenieur, die klank, die atmosfeer. Daar was geen spanning nie. Dit was 'n plesier om 'n show te kan oefen en opvoer, sonder die negatiewe energie wat ons opgetel het in die Tradisionele kerk. Dankie Here vir 'n wonderlike opvoering en dankie dat ons die Bybel kan verkondig met selfs die musiek van Queen!) Op die foto bo is Simson na sy oë uitgesteek is: Gilliaume Srtydom. Regs is my dogters: Michelle en Chantal (bo regs) wat ook rolle in die show gehad het. Ek is so trots op hulle. Mag hulle ervaring van kerkwees ontspanne, genotvol en 'n heerlike avontuur wees, en mag hul nooit skuldig voel oor hul belewenis van God nie. God is uniek in ons elkeen want Sy Gees werk uniek met ons elkeen. Dankie daarvoor.

No comments:

Post a Comment