Wednesday, February 16, 2011

POPSPEEL IS NIE KINDERSPELETJIES NIE!

OFTEWEL, DIT KAN GROOTMENSSPELETJIES OOK WEES!
Hierdie is die sesde deel van die super-neurotiese-dog-op-en-af-pad van 'n moerige mev. Doeminie, met etlike onderdrukte persoonlikhede, wat oorleef in 'n wêreld vol oordeel, Super-Christene en 'n verbeelding wat homself nie wil uitwoed nie! (Die ander gedeeltes het al in Januarie begin as jy 'n eerste leser is!)

(Op die Foto is ek met een van my poppe, Spike in 2002 - hy is seker ook een van my alter-ego's. Hy het 'n wil van sy eie en 'n baie stoute uitkyk op die lewe! Maar sy hart is pure goud.)

Met my kinders in die kleuterskool, ook Sean-Jacques, begin ek my vriendin wat kinderwerk doen, Sonet, help met haar poppeteater. Ons werk naderhand so lekker saam dat ons sonder enige voorbereiding na ‘n skool of kerk toe kan gaan en ‘n hele Bybelse show opsit wat oud en jonk laat skater van die lag en baie laat leer van die Bybel. Onsself lag partykeer so erg vir ons eie simpel grappe dat die kinders dink die poppe huil. Ons poppe, Spike, Stoffel en Bienkie (en nog ‘'n paar obskure ander karakters: ape, sterre, blomme, paddas, donkies) is groot treffers by die kinderkerk, skole en ander kerke waar ons so aan en af optree. Hulle kry 'n lewe van hul eie en tree vir tree kry ek selfvertroue. Skielik besef ek dat ek 'n storieverteller is. Dit is my gawe. Dit is waarvoor die Here my al die jare opgelei het. Drucilla die Dromer begin-begin groot drome droom. (Sy is mos een van my undercover alter-ego’s wat net nie wil gaan lê nie, al tref orkane, aardbewings en vloede al my kreatiewe pogings. As ek weer sien, duik sy uit die moeras van verwoesting op en skep nuwe asem. Partykeer wil ek haar net doodwurg en klaarkry met haar belaglike idees. Sy gaan nog my dood beteken! Nie Gielie galbraak wat so kan bitterbek kla nie. Nie Sara-sukkelgat wat van armoede kan omkom nie en beslis nie Svetlana die swetser wat haar emosies oor almal uitwoed nie. Die gevaarlike een is: Drucilla die flipen dromer.) Ekself, wat moet oorleef tussen al my alter-ego’s deur, besef ek moet die Bybel vir kinders (en grootmense wat net so lekker saam poppekas kyk en lag) maklik maak. Die wonderlike idees in my kop draai en draai en maak my mal.

Meanwhile back at the range...
(Op die foto is my dogter Chantal, in 2003, by ons perd Vicky wat ons gebruik het tydens my plaaspartytjies)
Maar kinderwerk (my bordspel en poppeteater) bring nie juis goeie geld in nie. My man studeer en werk deeltyds om ons pot aan die kook te hou en ek moet ook iets doen om meer geld in te bring. Ek begin ‘n plaaspartytjie area met ‘n paar plaasdiere op ons plot, kry ‘n klompie Jungle Gims by vriende en verf dit, kry ‘n stokou perd om die kinders rond te lei en ek begin ‘n Survivor Partytjie besigheid. Die kos is maklik. Daar is wel ‘n tipe spinnekopkoek aan die einde van ‘n oorlewings-veldroete wat hul moet volg en waartydens hulle sekere vreeslike goed moet eet. En intussen leer hulle sommer bietjie van oorlewing. Ek laat hulle gedroogde mopaniewurms en bokkoms eet, warm rooi partytjiekoeldrank drink (dis kamstig die boerbok se bloed) en hul kry lekkertjies wat soos insekte lyk. Hulle skiet kettie, spoeg bokdrolle, klim deur en oor en onder snaakse hindernisse deur en geniet hul gate uit. Dis nou die wat nie naar word van die interessante spyskaart nie. Aan die einde van die roete moet hul hul eie vuur maak en hul eie rooiworsies braai aan ‘n stok en dan eet hul warmbrakke so in die veld.
Die res van die dag hol die kinders op en af met die kliprantjie en spring oor klippe soos wafferse bosvarke en geniet elke oomblik, sonder dat ek veel meer doen. My eie kinders het gedink dit is baie cool en ek het agtergekom ek verstaan so ‘n bietjie van ‘n kind se verbeelding. Ek noem die goed omdat ek besef het die Here het ‘n manier om ‘n mens op te lei om by ‘n sekere doel uit te kom sonder dat jy dit raaksien. Eendag sien jy net jou lewensprentjie is meer in fokus wat jy gedink het. In hierdie tyd van my lewe is ekself ook minder kompleks. Eks gefokus op oorlewing, kos op die tafel en om kinders groot te kry.
Kyk, maar ons bly maar arm en die koskaste bly leeg. Met die partytjies saam, moet ek elke dag verlepte groente gaan oplaai by n padstalletjie op die dorp sodat my bergbokkies, hoenders, hase en ganse kan vreet. En hulle kan vreet, glo my. Onsself eet nie juis wat wonders nie, want met ‘n voltydse student (wat eintlik die broodwinner is) en drie honger kinders, is dit moeilik om elke dag almal se pense vol te kry. Gou sien ek toe iets. Tussen die klomp ou groente en blare is daar altyd ‘n pakkie pattipans of ‘n mielie of twee of tamaties wat heel eetbaar is. Elke dag grawe ek dus relatief ‘vars’ groente uit die boks voor ek die plaasdiere voer. Dit het gekeer dat ons skeerbuik kry in daardie sewe maer jare. Ander mense kan dalk gril hiervoor, maar ek dink ‘n engel het die groente vir my en my gesin daarin weggesteek. Ek vermoed die engel se naam was dalk Liesbet.
(Op die foto is Michelle, my dogter, (en Chantal in die hoekie) met 'n jong bergbokkie, by ons plaaspartytjie area in 2003.)
Ons vriende, wat in daardie tyd nie altyd geweet het van ons koskrisis nie, spot tot vandag toe nog met ons wat die bokke se kos geëet het. Vandag is dit beslis ‘n snaakse storie, veral toe ons musikantvriende nog ‘n Grafsteensanger-lied oorskryf en sing tydens Anton se verjaardag. Oor mev Doeminie wat die bokke se kos eet. Dit eindig iets soos: “...en seën my ma en seën my pa en mev doeminee se kinders wat moet bokkos vreet.” So lag ‘n mens seker maar altyd later oor die groot krisisse in jou lewe. Ek moet bysê dat ons altyd kos op die tafel gehad het, al was dit nie iets wat die Naked Chef sou uitdink nie. En soms het iemand Woolworths kos wat verval het in ons yskas gesit as net my bediende tuis was. Ons was dan so dankbaar en het soos konings gevoel.

EK LOER TOE UIT DIE LINKERBREIN BOKS
Ek het al gesê dat ek as kind (en vandag nog!) skool en onderwysers gehaat het. Ek besef vandag dit was omdat ons skoolopleiding en selfs Universiteite baie linkerbrein ingestel was. Ek leer hiervan toe ek by my goeie vriendin, Elsa, ‘n krusus oor linker en regterbreindenkers doen, juis om nog 'n geldjie te probeer maak om die koskaste vol te kry. Ons bied toe krususse aan vir gr. 9 en gr. 11 kinders om te help met vak- en beroepskeuses. Ek besef toe ek is so regs as kan kom: kreatief, verbeeldinryk, kunstig, rebels, sien ‘n groter prentjie, lief vir mense, het empatie en simpatie, ens ens, maar ek raak ook gou verveeld met iets en sukkel om take af te handel. Is so, is so. En ek dog altyd ek is maar net aandag-afleibaar, sonder ambisie of dom. Al het my pa altyd gesê ek is uniek. Ek kon byna nooit 'n preek van 'n tradisionele dominee deurluister nie, want gou-gou raak my verbeelding aan die weghol en ek dink oor plekke ver en onbekend. Dan dink ek maar ek is 'n swak Christen. Ek het later agtergekom dat as ek 'n prentjie van die preek sit en teken tydens die diens, ek makliker luister, maar vir die goeie Christen wat langs my sit, lyk ek of ek uit die hel uit is. Ek bedoel, sies man, jy kan nie prentjies sit en teken as die dominee preek nie!
Ek raak toe wel een goeie dag moeg vir die partytjie besigheid en die lesings oor linker-en regterbreine. Nie dat dit juis sakke vol geld inbring nie. Op ‘n stadium het ons selfs hoendermis-kompos begin verkoop en ek moes menige bakkievrag met ons Nissan 1300 in die dorp gaan aflaai vir min vergoeding. Ek het ook muurskilderye begin verf op kinders se kamermure vir ekstra geld, want ek is nogal kunstig, iets wat ook maar altyd onderdruk was.
Vir ekstra geld het Anton nagskof gewerk by ‘n plaaslike motorhawe en soggens in die huis ingestap en na slaptjips geruik. Hy moes dan gou stort en deurjaag Tukkies toe vir sy klasse. Gelukkig het hy ’n meestelike brein en het met min studeer baie goed gedoen. Ek dink God het hom ‘n natuurlike verstaan en aanleg vir die Bybel gegee. Dit maak ongelukkig dat hy sommige kerktradisies sien vir wat dit is, slegs gewoontes wat deur mense uitgedink is, en daarom bring dit hom soms direk in konflik met die super-tradisionele kerkganger en predikant, wie se denk-boksie baie klein is.
Wat ek wel agterkom is dat gelowiges begin wakker word onder Anton se lering want hulle begin vir hulself dink. Of eerder, kom hul agter HULLE MAG VIR HULSELF DINK! Hulle begin kyk wat die Bybel sê oor sekere gebruike en feite en dit bring ‘n ongelooflike vryheid in mense se harte. Hulle kom agter hul mag oor hul eie geloof ook ‘n mening hê want dieselfde Gees wat die leraar lei, werk ook binne in hulle. Mense het oor honderde jare lekker gewoond geraak daaraan dat die dominee en die kerkraad (en bowenal die untouchable BESTUURSPAN!) ‘n mening moet hê en jy moet net daarby inval. Mense wat na Anton luister begin besef hul eie geloofservaring is sowaar ook reg en jy mag wel van die leraar verskil. Juis dit laat ‘n mens praat en dink oor jou eie geloof. En groei.
(Op die foto is Anton met Sean, ons breingestremde seun, in 2002, toe Anton in sy tweede jaar op Tukkies was, besig om Teologie te studeer)
Ek kan vandag nog na Anton luister en hy kom met die mees geniale insig in die Bybel vorendag. Dit laat my verder dink oor gewone Bybelse konsepte en verhale en mense. Mens kom skielik agter dat die Bybel wel vandag net so relevant is as in die Bybelse tyd en dat die Bybel mens nie in 'n tronk vaskluister nie, maar jou denke vleuels gee. Jesus het ons denke kom vrymaak van tradisie, van 'n heilige gebou en van skuldgevoelens oor jou eie drome en gawes. Bietjie vir bietjie kom ek toe ook by my gawe uit. Ongelukkig is ek met my verbeelding toe ook bietjie erg voor my tyd, want sien: Ek kan skryf. Ek kan my in die lewe van my karakters inleef – veral as ek Bybelse verhale nuut probeer weergee in hedendaagse terme. Mense wil graag in die Bybelse tyd vashaak, want daar is jy veilig. Jy durf net geen jota of tittel verander aan die Bybel nie, want dan braai jy in die hel, ou maat. (en verseker het die Bybelskrywers dit nie letterlik punt en komma bedoel nie, maar oor die betekenis gepraat) En 'n tradisionele denker sal eerder jou nuwe idees kelder of boikot as wat hulle dit 'n kans wil gee en sien wat die Gees aan jou geopenbaar het. Jy mag nie in 'n jeugverhaal met 'n Christelike boodskap praat van 'n heks of druïde (al het hul bestaan in die middeleeue) want dan sal geen Christen uitgewer vat aan jou werk nie. Jy mag nie van feetjies praat nie! Jy mag nie 'n trol beskryf nie of behoede jou as jy van legendes en gode praat van ander lande. Sies, mev. Doeminie, jy verlei ons kinders. En dis toe net hier waar my volgende groot teleurstelling in oningeligte dierbare Christenmensies kom. Ek trap weereens honderd persent in elke slaggat denkbaar. Ek het die Here gevra om my hierdie drama te spaar, om vir my maklik 'n uitgewer te gee, asb. Om nie weer dieselfde sukkel en foute te maak nie, want ek het so min tyd in 'n dag om aan al sulke drama af te staan. Ek is mos reeds deur die trauma, drama, pyn, verwerping, en ure se sukkel met my Bordspel wat ek probeer uitgee het. My hande is nou vol met pot aan die kook hou, kinders groot maak, 'n gestremde kind potty-train en voer, 'n voltydse student se drama te hanteer. Kon die Here maar nie net vir my oor hierdie volgende muurtjie help nie? Dit was my gebed. Was dit toe maklik...? Was dit maar maklik...

No comments:

Post a Comment