Monday, February 7, 2011

MEV DOEMINIE SE ANNUS HORIBILUS: HOOFSTUK 5 . 'N ONBEPLANDE KINDERWERKER

WAT GAT HIER AAN?
Dié is nou die 5de deel van die lewe van die wroegende en vloekende Mev. Doeminie... vir die ouens wat nou net inskakel! Julle is gewaarsku... My 2 volgelinge wat van dag een af met my was ken nou vir Griekie galbraak wat so nou en dan 'n bittere ding te sê het! Ek besef ek sit met nog vele persoonlikhede in my: daar is Drucilla die Dromer, wat net te groot droom vir haar eie saligheid, en daar is Svetlana die Swetser, en Sara Sukkelgat en dan is daar Rene' die Mev. Doeminie wat al die persoonlikhede moet tem soos 'n wegholperd.

Op die foto is ek en my dogters, Chantal en Michelle, in 2002 in my vroeë jare as kinderwerker by die Kerk - ek was hier Pippie Langkous in 'n konsert tydens kinderweek. Hier was ek nog vol hoop en geloof... gedink ek kan 'n verskil maak en oorleef...

So wroeg ons voort... Met ‘n breingestremde kind in die huis (wat jy as super-ma moet oefen en roer sodat hy darem van sy oorblywende heel breinselle weer kan begin gebruik), word jou lewe vinnig omskep in die wêreld van ‘n terapeut. Dit beteken jou sitkamer is ‘n permanente terapiekamer met bont balle wat rondhang, driehoekkussings, snaakse poppe wat kan praat, boublokkies wat rondlê en kindermusiek wat heeldag dieregeluide uitblêr. Jyself blêr en moee en kloek en probeer enigiets om ‘n geluid of effense beweging uit jou breingestremde kind te kry. Jy voel meeste van die tyd nie lus vir die toertjies nie want depressie hang soos ‘n swart lappop met knopiesoë oor jou skouer, maar jy flippen ‘moee’ en blêr voort. Dis wat jy doen, anders lê jy dalk permanent vir Days of our Lives en kyk, dan kan jy maar jouself oorgee aan werklike depressie! Jy plak naamplakkers op die tv, die mat, die kas, die koppie, die toilet en hoop alles word iewers deur jou kind se stukkende brein ingeneem. Dit is dus geen wonder nie, dat ek uiteindelik na jare se kreatiewe terapie toepas, beland in ‘n kinderbediening.
Eerstens, begin ek dink na my bekering in 1994, hoekom het my goeie dierbare moeder wat voor in die koor gesing het, of my pa met sy sterk afsku in die mispersepsies van kerkwees, nooit met ons oor geloof of oor Jesus gepraat nie. Jy sal katkisasie toe gaan, al is dit in die lewensbelangrike Night Rider se tydgleuf. Die dominee sal jou voorstel en aanneem al dink hy jy is te dom om die tien gebooie en die belydenisgeskrif te onthou. (Ter verdediging wil ek net sê: ek dink in prentjies, mense soos ek is in daardie jare gesertifiseer as iemand met ‘n IK van net meer as ‘n wolfhond s’n en wat in die spesiale klas moet wees, want jy is WEIRD man! Ek bedoel almal weet mos die verskil tussen die wet en die geloofsbelydenis en die Onse Vader! Ter verdediging wil ek net sê dit was 'n onvoorbereide toets... en in die kerk boonop... ek was onder geweldige druk... jy weet?!)
Ek wonder toe oor my ouers se kennis van die Bybel. Wat het hulle en hul tydgenote meer geweet van die Bybel of geloof as dit wat aan hul opgedis is op ‘n Sondag deur ‘n man met ‘n besondere formele stem van doer bo vanuit die hoogste plek in die kerk, m.a.w. die leraar (hetsy bevoeg of onbevoeg, geroepe of ongeroepe, ‘n engel of ‘n ‘vark’? – jammer, ek ken te veel dominees en pastore – hul is in my oë of die een of die ander. Hul steek dit partykeer net goed weg en ek ken dalk op hierdie stadium van my lewe dalk meer varke... Sies mev. Doeminie!)
Ek wonder voort: Het my ouers ooit aan hul eie redding gedink? Aan ander se redding? Het hul ooit gewonder oor wat daardie papiertjie met volle aanwesigheid vir katkisasiebywoning of die dooppapiertjie of die voorstellingspapiertjie vir hulself of hul kind beteken?
Daar is nooit oor geloof in ons huis gepraat nie. Ek het geweet ons gaan almal hemel toe. Ek bedoel ons sit sondag vir sondag in die kerk. Ma sing in die koor. Pa is darem nagmaal daar. Ons is nie moordenaars, skelms of iets anders viesliks nie. Maar tydens my en Anton se wroeging met ons kind se siekte en goeie Christene se mening daaroor (dis ‘n flippen interessante hoofstuk op sy eie!) het ons begin wroeg oor geloof en ons gebrek of misverstaan daarvan. Dus, met my kreatiewe brein wat so op die mat met ‘n breingestremde in eerste rat weggetrek het, ontdek ek die oplossing: Ek gaan ‘n opvoedkundige bordspel maak oor Jesus se lewe en sy leer, Kruispad. Dit gaan gesinne om ‘n tafel laat saamsit, saam milo drink en saam praat oor netelige kwessies en interessante goeters wat in die Bybel gebeur. Nee kyk, ek en die Here self gaan dit doen. Ons twee saam! Ek het ‘n visie! Ek voel ek gaan die wêreld nou omkeer. Met my God spring ek oor ‘n muur...
Maar, helaas...
MY ANUS HORIBILUS MET MY KRUISPAD

Ek wil net sê: Almal wat so kerm en kla oor Harry Potter en wat nie vir hul kinders iets in die plek daarvan kan koop/gee nie, moet ophou kerm. Jy kan nie die kind verbied om iets te los omdat dit vir jou (met jou bonatuurlike gawe van onderskeiding!) demonies voorkom, en niks in ruil gee nie. Kinders wil bonatuurlike avonture en fantasie beleef. Nou vertel die juffrou by die kleuterskool vir my kind feetjies is van die duiwel. Ag asseblief. Hou nou op lees as jy dink feetjies gaan jou kinders in die hel laat beland. Ek dink nie so nie, maar soos ek sê, ek is nie IEMAND nie.
Ek dink: Ouers wat in eng boksies sit in die fetusposisie en duim suig, met verkrampte idees en geen verbeelding gaan kinders in die hel laat beland. Ek was as kind verveeld in die sondagskool, in die kerk en in die skool. Ek was ‘n leser en het alles gelees van Trompie tot Saartjie tot Verna Vels se Liewe Heksie en kan jy glo: die Broeders Grimm (vir die ouens agter die spoor: dis die manne wat verhale soos Sneeuwitjie en Doringrosie geskryf het. Wrede stories. Kabouters. Hekse. Feëtjies! Drake! Appels! En as jy jou kinders van bose goed soos Geel Kabouters en ‘towenaars’ wil weghou, moet ek jou vertel watse karakters ek al op kerkrade sien dien het! Ek sou graag my kinders teen sulke skepsels beskerm. Hul noem dit Shapeshifters in die storieboeke! Die afrikaanse term is dalk tweegatjakkals of psigopaat! Maar dis net my eie verkrampte waarneming en nie die norm nie... vir die mense in die kerk is hierdie manne dalk vroom en ‘Godvresend’, vir my: skynheilige bliksems. (Jammer, Griekie Galbraak kry ‘n woord in.) En natuurlik is daar die ware Christene ook in die kerk en op die kerkraad, maar weet julle, dis die nederige mense wat vrede soek en waarlik Christus wil leef, maar: omdat hulle sag is, word hulle vertrap, verkrag en verjaag. En kry baie seer. Ek ken soveel van hulle. En vandag is ek een van hulle. Die verjaagdes. (Maar die storie hou ek vir laaste... – dis te seer om nou al oor te praat.)
Noudat ek op die onderwerp van die bonatuurlike is: Ons as mens (en kinders ingesluit) wil nie alles in die wêreld kan verstaan nie. Daar moet ‘n misterieuse ietsie wees wat soos ‘n tameletjie te taai is vir ons gedagtes om te kan fynkou. Dis hoe God is. Hy is te groot om te verstaan of uit te pluis. As kind, dink ek, leer ons dit deur te glo aan tandemuise, feëtjies en superheroes om ons filosofiese of kreatiewe breine te ontwikkel om eendag ook oor ‘n onverstaanbare en almagtige God te kan filosofeer. Alles op aarde kan nie net realisties en direk verstaanbaar wees nie. God is beslis nie – as jy so dink, het ek vir jou nuus. God is groter as jou gedagtes. Hy is groter as wat ons kan bid of dink. En net as jy dink jy verstaan iets daarvan, besef jy jy verstaan niks.
Terug by my horibale bordspel. Die Martie martelgatte wat so kla oor alles wat boos is in die media. Waar was julle toe ek al my pa se erfgeld op die Kruispad bordspel-projek spandeer het sodat gesinne saam om die Woord kan leer van Jesus en van mekaar se geloof? Die spel was lekker pret: allerhande prentjiespeletjies en woordraaisels en stomstreke. Ek het my erfgeld gebruik om 2000 van hierdie bordspel, wat ek onwrikbaar in glo en wat pragtig en duursaam geïllustreer is en ten duurste gedruk is, te ontwikkel en te bemark. Die handjievol mense wat dit gekoop het orals waar ek moontlik kon bekostig het om te gaan verkoop en te bemark, was woes beïndruk. Dis tien jaar later en ek sit met maklik 1000 van die 2000 van die goed oor. Ek sukkel selfs om dit gratis vir die flippen tronke weg te gee! Want, iemand kan homself dalk ophang aan my riempies en kraletjies of ‘n dobbelsteen skerpmaak en as wapen gebruik, of die Christelike werker in die tronk besluit dalk dis nie die moeite werd nie, want sien, hulle het ook bonatuurlike onderskeidingsvermoë en weet wat is goed vir wie.
Dom vraag: Hoekom het ek dit self gedruk en probeer verkoop? Ek kry natuurlik nie ‘n uitgewer nie. Ek het my as af probeer om iemand te oortuig dis oulik. Te duur, sê hulle, en buitendien speel niemand meer bordspeletjies nie. Doen dit liewer vir die rekenaar. Een tot een. Ek wil mos flippen juis hê die gesin moet saam vir Jesus ontdek. Ek betaal toe alles met pesier met my erfgeld. Ek, ‘n groot gelowige, ek en Jesus gaan mos die ding nou verkoop dat mense kan wakkerskrik, dink ek, en in my verbeelding sien ek hoe die hele wêreld hierdie bordspel, Crossroad, gaan opraap en hoe dit gesinne gaan saamsnoer.
Ek storm kop eerste in die ding in met die drukkersbedryf. As ek ‘n kat was, kan ek jou sê ek het hier my tweede lewe verloor (die eerste een het ek verloor met Sean-Jacques se siekte). My man sterf byna regtig. Hy ry af Kaap toe om my klomp bokse te gaan optel. Twee ritte na mekaar met ‘n groot sleepwa en te midde van ‘n abnormale reënstorting. (Ek wil net sê dat onnatuurlike groot natuurrampe my en my pogings volg om die Woord te versprei: vandag aanvaar ek dit koes-koes as deel van my bediening.) Toe Anton na die tweede rit terugkom, val ‘n groot muur (‘n tipe baksteen keerwal by ons oprit) as gevolg van die reën inmekaar en val bo-op ons motor, sekondes nadat Anton uitgeklim het. Ek bedoel, waar in die lewe...? ‘n Wonderwerk darem: my bokse en speletjies oorleef te midde van al die reën. Ek haal die speletjies droog uit sopnat verpakkings. Party dae dink ek die goed moes maar daar en dan versuip het want dan sou dit my jare se hoop, teleurstelling, energie en bemarking gespaar het.
Ek werk ‘n jaar daaraan om alles wat ek by verskillende drukkers (weens die groot prysverskille) self gepak te kry en kaartjies uit te sorteer en begin met alle ywer verkoop. Ek skryf artikels oor my verhaal met my gestremde kind en hoe dit my uiteindelik by die Here gebring het; hoe my geloof en my kind my geïnspireer het om hierdie fantastiese bordspel te ontwerp en my hoe ek al my geld daarin gestort het met een motief in my kop: om gesinne saam om die Bybel te laat sit. Ek stuur die artikels na Christen tydskrifte, koerante, kerke, ens. Ek probeer iewers inkom, iewers ‘n oop deur vind sodat gesinne hul hande op die wonderlike Christen bordspel kan kry en so speel-speel leer van Jesus.
Maar ek is niemand, word vir my gesê. As ek nou maar ‘n bekende was wat die tydskrif kan gebruik om meer eksemplare te kan verkoop... Vrouekeur het darem ietsie geplaas, dankie. En finesse nadat ek 'n duur advertensie moes plaas. Ek vra kerke om my getuienis te gee en dan sommer die dag daar te verkoop. ‘n handjievol, regtig nie meer as 5 nie, het my toestemming gegee, want sien: wie is hierdie niemand wat met iets so vreemd soos ‘n bordspel die Here se Woord kom belaglik maak? ‘n Ou pragtige Christen-vriendin, van ons het daardie tyd vir my gesê dat sy met die Here hieroor gepraat het en sy wil net vir my sê dat die Here nie so ‘n bordspel nodig het om sy Woord te verkondig nie. God is te groot om in so iets gebruik te word en verneder te word. Dis dan ook die rede hoekom dit nie verkoop nie, sou sy meen.
Dog, veg ek voort, want met my God spring ek oor die muur, nie waar nie? Dis ook in dié tyd wat Anton voltyds begin studeer het. Ek gaan na skoue, Christen seminare waar ek stalletjies betaal en my longe uitpraat met soveel entoesiasme oor die oulike manier om die Here vir jou kinders te leer. Soms verkoop en 1, soms 5 en soms niks en soms tien. Ek sê weer vir die ouers wat hul kinders van feëtjies en towenaars af weghou: waar was jy toe ek (en mense soos ek) my alles in hierdie spel gesit het en toe jy dit met minagting afgeskiet het, omdat dit R80 (te duur?) gekos het? Dit het my R80 gekos om te laat druk. Net die drukkerskoste. Ek wou net die Here se woord lekker vir ons kinders opdien. (Jammer, Griekie Galbraak neem oor.)
Bemarking is ‘n duur ding. En as jy niemand is nie, is jy niemand. ‘n Niemand is iemand wat nog nie naam gemaak het met boeke wat die Uitgewer-god goed genoeg ag om te publiseer nie. Uitgewers vat ook nie sommer ‘n kans met ‘n nuwe ding nie. Jy kan selfs niemand wees wat ‘n spookskrywer is vir ‘n ou langtand omie wat al honderd jaar geestelike boeke ‘skryf’ maar dan is jy darem niemand wat daaruit geld maak. Dis ook oraait, blykbaar. Maar niemand gaan ook hier van jou weet nie... (Ek’s nou self deurmekaar...)

(Op die foto is ek en Anton in 2002, toe ons nog vol hoop was om 'n verskil te maak in die T-kerk (die tradisionele een) om mense meer oor die Bybel te leer. Hy't voltyds Teologie geswot en ek was voltyds kinderwerker met baie idees en planne en moed en geloof en hoop...!)

Daarom sit ek nou, 10 jaar later nog met van die bokse vol speletjies. Ek is toe moedeloos gesukkel. Die mense wat wel koop, sê dis ‘n heerlike spel vir die gesin en hul word deel van mekaar se geloofsreis. Dit bring nie troos vir my nie. Wat beteken dit vir my wat twee dogters en ‘n gestremde seun moet grootmaak en ‘n man voltyds op universiteit het? En baie geld verloor het met my geloofoortuiging en my geloof in my bediening. Die mislukking wat ek voel in myself, my bediening en my God is groot. Ons sou mos oor 'n muur spring met die bordspel, ek en God... ek hoef mos nie iemand te wees nie? God is aan my kant...
Ek belowe myself om NOOIT weer self enigiets te publiseer nie. Ek het jou nog nie eers vertel van die hoeveelheid van die bordspel se kaartjies wat die drukker nooit verskaf het nie en goed wat verlore was en waarvoor ek moes betaal. En die ure en ure en dae en maande se uitsorteer van kaartjies en in bokse pak nie. Vergeet dit. Griekie Galbraak begin weer loer vir my.
Die Horibilus gedeelte:
Ek het hard hieraan gewerk. Ek sukkel ‘n paar jaar met verkope, vertroue in mense wat jou net afskiet, selfs vriende, wat jou nie ondersteun nie, te midde van die feit dat jy sukkel om jou kinders kos te gee. (Dankie vir die paar wat wel ondersteun het!) Onthou hierdie poging was na ons ons groot besigheid verloor het. Ek het in geloof die projek aangepak, natuurlik baie naïef, maar ek en God gaan mos oor ‘n muur spring. Ek glo mos in ‘n God wat GROOT goed doen? Maar nie vir my nie... nie nou nie... Dis ‘n groot teleurstelling. ‘n Groot letsel op my emosionele brein

2 comments:

  1. Ek lees lekker en ek wil net laat weet dat ek altyd tyd maak om in te teken op jou blog. Hou so aan. Ek glo dat "Aanhouer Wen".

    ReplyDelete