Ek kry toe die idee om juis ‘n boek te skryf vir tieners wat in die Middeleeue afspeel maar wat Christelike bonatuurlike elemente bevat. (Die boek wil ek natuurlik in ‘n fliek omskep, want kyk, die alter-ego: Drucilla die Dromer in my, slaap nooit nie. Sy is besig om te dink en te droom oor ver plekke en opwindende dinge...)
‘n Nuwe wêreld gaan vir my oop. Ek glo die idee kom van Jesus self af (ja, alweer ek en Jesus wat die wêreld gaan verander en oor die muur gaan spring!) Toe ek eers die idee raaklees van ‘n sekere altaarbybel (The Book of Kells oftewel The Gospel of Colmcille) wat in die jaar 795 in Skotland uit die hande van die Vikings gered is, is ek hoek, lyn en sinker in hierdie wêreld vasgevang. Ek sit elke beskikbare oomblik en navorsing doen hieroor en ek droom hoe ek kinders gaan leer van ‘n stukkie Bybelgeskiedenis uit die donker middeleeue waarvan bitter min mense weet. En daarmee saam die wonderlike wêreld van die Kelte, die Vikings, die destydse Druïdes en sowaar, daar was regte hekse in daardie tyd! En skelm Monnike, prinse, prinsesse, bygelowige mense en groot gelowige mense en kinders. Daar was legendes wat gewone mense geglo het oor feëtjies en reuse en supermense of gode wat redding bring vir die versukkeldes.
So tussen my kinders se skoolwerk en dansklasse, kosmaak Sean-Jacques se grootmensdoeke en terwyl Anton nog besig is met sy laaste jaar of twee van Teologiese studies, begin ‘n nuwe lewe vir my. Ek leef my roeping uit, dink ek. Ek geniet elke oomblik. Die drang in my om te skryf en daarmee saam mense te leer oor die Bybel en ook God se werking in die lewens van gewone mense wat moes oorleef in die Middeleeue, is ‘n droom wat verwesenlik word voor my oë.
Ek skryf elke dag 'n bietjie, doen baie navorsing, lees, lees en lees oor Ierland, Skotland, Noorweë en legendes. Ek trap in elke flippen skrywer-strik wat daar is, maak foute, maak dit reg, kry nog foute, kry proeflesers, en nog ‘n proefleser en moet goeie mense se bose kritiek en menings hanteer. Maar ek weet ek is gemaak hiervoor. Skryf kan ek skryf. Stories kan ek vertel. My hele lewe het tot by hierdie punt saamgewerk: van my seun se terapie, my bordspel, my kinderwerk, my storievertelling met die poppe, my Survivor partytjies, my linker en regter-brein kursus, my joernalistieke graad en ondervinding, elke rolprent wat ek al na gekyk het.
Ek dog toe ek sien voor my oë hoe my droom lewe kry. Ek en die Here saam gaan ‘n nuwe era inlei... Uiteindelik gaan mense sien dat jy ‘n Christelik aksie-avontuur verhaal kan skryf oor gewone mense wat met Jesus loop en val en oorleef... en daar sal genoeg bonatuurlike elemente aanwesig wees wat kinders kan laat droom oor God en al sy skepsels... Wee Monk’s Tale, The Secret of Immortality, ‘n aksie-avontuur verhaal (nie fantasie nie!) oor hoe drie kinders (2 koorknapies en 'n sieguner meisietjie) in die middeleeue ‘n altaarbybel red en vlug voor Vikings, Druïdes en wat nog als, en hoe hul die Book of Kells veilig in die dorpie Kells kry. Al die elemente van 'n gewilde moderne fliek is daar en dis vir die oorgangsmark (kinders tot grootmense) ens ens.
Ek weet een ding: Ek sal nie self my boek druk en verkoop nie. Ek sal nie. Ek kan nie. Ek kan nie. Ek wil nie. Ek hoef mos nie. Ek het mos die lig gesien. Ek en die Here... die Here self sal vir my ‘n uitgewer stuur as ek begin soek. Hy gaan my paaie gelyk maak. Vir sy geliefde gee Hy dit in die slaap. Met my God spring ek oor die alewige uitgewersmuur. Ek is goed genoeg om ‘n boek te skryf van wêreldgehalte. Ek gaan die wêreld wys dat die nie net Harry is wat kinders se verbeelding aangryp nie, maar ook die Bybel en God se mense. Ek kan vir die Christenmark iets jonk en jeugdig en vol woema gee. Ek weet ek kan.
Die skryfwerk gaan vlot. Ek kry nie writer’s block nie. In my stiltetyd vra ek die Here om my boek te seën, om my idees te gee en my kreatief te maak en die idees stroom deur my kop. As ek bid vir idees en vir inspirasie kry ek dit nog voor ek opstaan van my kniekoppe af! Die Here is goed. Nou is ek en hy op dieselfde plek! Nou hoor ek mos Sy stem, of hoe? Ek moet partykeer vir die Here vra om minder idees te gee, my kop gaan bars! Ek laai kinders op en af, help met huiswerk, vat buitemuurse aktiwiteite toe en ek kan nie wag om by die rekenaar te kom nie, want die idees maak my mal van opgewondenheid. Vakansies kan ek min werk want kinders wil dinge doen, plekke gaan. Na die vakansie plak en weer voor die rekenaar neer en skryf my hart uit.
Hier en daar woon ek ‘n skrywers- of draaiboekkursus by om seker te maak ek is op die regte pad. My supergeloof in my talent, my visie en my Here ken geen perke. Ek weet al verdien ek tans geen geld om die huishouding uit te help nie, kom my dag nader van boek publiseer en ‘n inkomste uit my gawe te verdien.
Ek is ook nou nie heeltemal stupid nie. Ek praat met mense wat boeke skryf en wat wel gepubliseer word. Hulle kry maar min geld per boek wat deur ‘n groot uitgewer uitgegee word, maar dit pla my min. Ek weet soos ek weet my boek gaan nie nasionaal nie, maar internasionaal uitgegee word, want dis ‘n boek oor wat afspeel in Ierland en Skotland en die Vikings en sodra dit klaar is gaan ‘n uitgewer (Christen of nie) dit opraap en uitgee. Ek gaan mos nie weer self die ding van uitgewery doen nie. Sowaar, die Here sal dit nie aan my doen nie... Die swoeg en sweet, die proeflees, die drukgereed kry, die ingedoen word deur drukkers, die bemarking... ek kan nie weer daar gaan soos met my bordspel nie. Ek kan nie weer en weer probeer om almal te oortuig en kan skryf nie. Ek kan skryf.
Maar helaas... Na twee jaar se navors en skryf en nog twee jaar se slyp en proeflees en vriende wat lees vir foute kom my meesterstuk einde se kant toe (Ek kan nog 15 bladys skryf oor foute en proeflesers). Ek begin inskryf vir oorsese skrywerskompetisies en begin navraag doen by literêre agente en uitgewers. Dis mos nou hier waar die Here my gaan uithelp. Of nie...
Anus Horibilus. Horribilus. Horibilus. Ek kry ‘n agent. Die eerste een wat ek kontak op die internet. Writer’s Literary Agency in Amerika. Terwyl ek die brief in die eerste plek vir die agent skryf, nogals Mary Bluestone (indrukwekkend), bid ek en vra vir die Here se leiding. Moenie asseblief, moenie my weer deur die drukkershel sit van my Kruispad bordspel sit nie. Asseblief, lei my gees om te hoor wie om te vertrou in die bedryf en waar om nie te gaan nie. Ek is niemand. Ek is nie wêreldwys met hierdie sake nie. Ek het net soveel energie oor op ‘n dag na my kinders en man als gevat het. Spaar my die pyn van sukkel en sukkel en sukkel om myself te bemark. Amen.
Na ‘n jaar van luister na die agent se aanbevelings (van die inligting was seker bruikbaar) en lees van briewe wat aan al hul skrywers geskryf word, om te help met die soek van ‘n rolprentmaker, beleef ek toe eendag die wrede waarheid. Hulle wil geld uit my hê vir ‘n webblad vir myself en nog geld vir bemarking. Ek ruik ‘n rot. Ek vind toevallig deur iemand uit dat die agent nie bestaan nie maar slegs ‘n persoon is met ‘n rekenaar wat kyk hoeveel geld hy uit ‘n arme stupid skrywer kan maak. My wêreldtjie stort in duie. Ek het vir almal vertel van my agent. Ek het visite kaartjies laat druk met my agent se besonderhede op en dit orals versend in my pogings om ‘n rolprent Regisseur/uitgewer se aandag te trek.
Ag, ek was verpletter. Ek het selfs in die plaaslike koerant ‘n artikel gehad van my en my agent en my droom wat waar word en my krusus. Hollywood hier kom ek, arme sot. Stupid, stupid, stupid. Ek gaan soek op die internet en lees dat dieselfde lot wat my oorgekom het, baie skrywers al oorgekom het met dieselfde agentskap. Daar is ‘n webtuiste wat mense waarsku teen die mense. Stupid.
My moed gaan lê maar ek soek voort na ‘n agent, skryf in vir boekkompetisies wêreldwyd, gebruik elke denbare kontak wat ek het en nie het nie. Dit is pure hel. Dis ‘n bose kringloop van voor die rekenaar sit, soek, soek, soek, briewe skryf vir uitgewers, agente, kry briefies terug wat sê: jammer ons gee nie so boek uit nie; jammer, ons soek nie nuwe skrywers nie, jammer jy skryf baie oulik maar nee ons stem nie almal saam om dit boek uit te gee nie, jammer, maar sterkte en vlieg in jou kanon in want jy is niemand. Hierdie is ‘n bose wêreld van verwerping. Dit dwing jou om jouself te probeer bemark al is jy nie ‘n bemarker nie, en al wil jy net sit en skryf, want niemand glo in jou nie. Jy tel jou versplinterde selfbeeld op na elke brief wat jy terugkry en jy weet jy is nooit goed genoeg nie. Jou bediening is nie welkom nie. En uiteraard dink ‘n mens: God ag jou nie goed genoeg nie, anders sou Hy mos... God spring nie net saam met jou oor ‘n muur nie. Jy val jouself meeste van die tyd bloedneus. En ek sukkel om te verstaan. Ek sukkel om God te verstaan. Ek sukkel om te verstaan hoekom ek hierdie bediening, hierdie droom en hierdie oortuiging het. Dit voel vir my of ek God vir ‘n vis vra en ek kry elke keer ‘n slang.
GROOT PLANNE WORD GROTER... (Dit laat my dink dis amper soos 'n ballon wat jy blaas en blaas en dit word te groot, maar jy wil nog bietjie wind daarin kry want jy wil sien hoe groot dit kan word voor dit bars... en as dit bars, dan is jy in jou moerin... en so' afgehaal...)
Moet nou nie dink ek sit net voor die flippen rekenaar nie. Ek het planne, hoor, groot planne om hierdie boek onder iemand se aandag te kry. Anton het intussen sy studies klaar gemaak en met ‘n meestersgraad in Gemeente-ontwikkeling begin. Ons eie kerk op die dorp wou hom nie aanstel nie (meer daaroor later as ek krag het) wat hom toe laat dink daaraan om ‘n uitreik te doen na kerklos en kerkseer mense. Dit was iets soos ‘n selgroep waar mense hul vrese, pyn en vrae kon verwoord sonder veroordeling of kritiek. Dit begin as ‘n klein groepie mense en groei later so dat ons in ‘n skoolsaal moet bymekaarkom en later in ‘n nog groter saal by Oppidam in Hartbeespoort. Anton kry nie salaris nie, maar ons werk op klein bydrae wat mense by die koffietafel in die blik gooi. Die Kuierkerk ontstaan, ‘n informele kerk, waar Anton slegs die verhaal van God in die Bybel vertel en ‘n lekker bespreking na die tyd, en natuurlik drink ons koffie voor, tydens en na die tyd. Geen dogma, tradisies en oordeel nie. God self sorg vir ons vir kos en klere, dis al wat ek kan sê van daardie jare. (Op die foto is Anton tydens ons besoek aan London in 2008 in die underground, by 'n teksvers-advertensie... so waar...)
So stuur ek my cd met my boek op moi in koeverte saam met Anton na Amerika en hy pos die briefies daar aan sekere uitgewers en agente wat ek vooraf gegoogle het. Ag man, hy is nog nie terug in Suid-Afrika nie of die briefies kom terug: niemand soek “unsolicited” boeke of draaiboeke nie, wat beteken, as hulle jou nie vra vir die ding nie, moenie dit stuur nie. Nou hoe kan iemand dit ooit flippen raaksien?
Ek besluit dat dit tyd is om die plekke te sien waar my boek afspeel: Skotland en Ierland. En om die lug in te drink en inspirasie te kry vir my volgende boek wat natuurlik hierop volg. Daar moet op die ou einde drie flieks wees, glo ek. Die volgende een speel af in Noorweë in die middeleeue en die laaste een in Frankryk. Hierdie ouens het Bybelgeskiedenis en legendes wat niemand van weet nie. So beplan ek oor die internet ‘n redelike goedkoop trippie (in Youth Hostels en Travelodges) na Engeland vir ons gesin en vat ons twee dogters (8 en 11) saam. Sean wat nie so ‘n toer sal kan byhou nie, bly by my suster. Ek vat weer my koevertjies met cd’s van my boek saam en soos ons van kasteel na klooster rondtoer en die lieflike plekke in Skotland en Ierland beleef, samel ek uitgewers se name in, sommer in die toeriste winkels en pos briefies sover ek gaan. Ek het probeer afsprake kry by uitgewers maar hulle wil my glad nie sien nie. ‘Stuur ‘n brief en doen navraag en AS ons jou boek wil lees sal ons VRA!’ Maar ek glo mos steeds dat God my pogings sal seën want dis mos ‘n edele saak dié bediening van my. Daar het ook niks van gekom nie, behalwe dat ons ‘n heerlike vakansie gehad het! Absoluut heerlik. Daardie plek praat met my hart! Flippen hoekom? Ek weet nie! Die ou kerkies en mosbedekte grafte en ruïnes ruk my siel tot in die hemel!
Dis deel van my pobleem, want Suid-Afrikaanse uitgewers het my al goed vertel dat ons kinders nie boeke wil lees wat in ander lande afspeel nie of wat selfs ‘n geskiedkkundige agtergrond het nie! Hallo??!! Maar... las een groot uitgewer by: ek skryf goed, en as ek besluit om iets in Afrikaans oor Suid-Afrika te skryf, sal hulle dit DALK gebruik. Het hierdie mense enige idee hoeveel energie en tyd gaan daarin om iets te skryf wat hulle DALK gaan oorweeg as hul lus het? Dis seker ‘n flippen siek sel in my brein wat my so laat dink, maar ek wil net oor die middeleeue skryf en die wonderlike onontdekte geskiedenis van die Bybel in daardie tyd. My kinders is mal oor my boek. Al die kinders wat dit al gelees het is gek daarna. En grootmense hou daarvan want die boek se lesers is ‘n oorgangsgehoor van tieners tot grootmense.
Vir die volgende twee jaar vervolmaak ek my boek en my draaiboek want ek het mos nou baie te siene gehad in Engeland en geproe en geruik en gevoel. ‘n Moeilike tyd met die kerk wat vir Anton alle hel gegee het omdat hy die Kuierkerk uitreik begin het, het nogal emosionele las op my gelaai en energie gesteel, moet ek sê, maar die lewe gaan ook aan. Kinders, kinderkerk by die kuierkerk, mense, gemeentelede, navorsing. En intussen surf ek die internet plat na agente en uitgewers (baie tydrowend en niksbetekenend).
En rolprentmakers. Ek woon ‘n Suid-Afrikaanse kursus in draaiboekskryf by maar voel onvomaak. Ek woon selfs in 2008 'n krusus in London by van die groot Amerikaanse draaiboekskrywer guru: Robert McKee (Story Seminar). Ek verslind sy boek, Story, en sit voor in gestoeltes van die lokaal by die West Minster University.
En ek kom terug en verander en kap en breek en brou aan my storie. Nou is die boek en die draaiboek volmaak, meen ek. In hierdie twee jaar tussen 2008 en 2010 gebeur baie in ons lewe rakende die tradisionele kerk en Kuierkerk. Asof my geveg om myself tot skrywer te verhef nie groot genoeg is nie, lê 'n bose slang en wag vir ons... hy is eintlik reeds daar, maar ons besef nog nie hoe groot hy is nie. Arme Harry Potter sou gehol het as hy gesien het hoe lyk die slang wat in die kerk lê en wag op hoopvolle siele wat die Woord wil verkondig op anderster maniere as die Tradisionele manier... Dit meer as iets anders, trek my in ‘n grafkelder van depressie in... ‘n hartseer verhaal met baie Christenlyke. Maar die geskiedenis lê gesaai hiermee... Christenlyke (en baie ander) wat deur Christene nagelaat is, verbrand, verskroei, verkrummel, vermoor, vernietig, verwoes... verneder, verag, verraai, verkrag... Dit is waaroor die Annus Horibilus gaan... daarom moet jy deurworstel saam met my na my ellendige opbou tot die GROOT 2010! Maar so tussen al my treurmare en ellende, weet ek tog die liggie aan die einde van die tonnel is nie die duiwel met 'n flitsie nie... maar wel HOOP... of ek dink ek glo dit nog? Ek doen mos? Doen ek?