Sunday, October 16, 2011

DIE RECKIE IN DIE LONGDROP

Mev. Doeminie het blykbaar nie veel om oor te kla nie, behalwe dat ek hierdie fenominale, fantastiese, oulike fiktiewe storietjie van my so 'n paar maande gelede vir 'n kompetisie ingeskryf het en nie eers die finale gehaal het nie: dis Afrikaans, my taal, my asemhaal en ek doen dit so maklik... maar dis weereens geweeg en te lig gevind. Ou Drucilla die Dromer hierbinne in my wat altyd so optimisties en vol onwerklike drome is, het gedink dit moes wen, natuurlik! Ek het aan dié storie gedink toe ons gister die teaterstuk, Tree Aan, van Deon Opperman gaan kyk het in die Staatsteater. Dit gaan oor die grensoorlog en ek dink dit het tog vir 'n hele paar ou army-manne 'n pynlike era opgeroep en afgesluit wat dalk nog iewers diep binne gebroei het en gebloei het. Ekself het die dae herroep toe my man Anton sy diensplig gedoen het. (Op die foto is Anton in sy dienspligjare toe ons op vakansie in Botswana was en hy so week of wat af gehad het) Tydens sy eerste dienspligjaar het ek vir hom 'n brief 'n dag geskryf - ek kan mos darem skryf, man, en ek moet sê na 'n jaar van briewe skryf is ons twee toe getroud! Dit wou gedoen wees vir twee mense wat net baie goeie universiteitsvriende was om te vorder tot by 'n huwelik! (Okay, ek het hom dalk meer gelaaik as net 'n vriend, maar ek was ook maar dom, geen vroulike lus of lis nie, maar helaas: Geen man is bestand teen soveel aandag en soveel briewe nie. Ek het na die Tree Aan vertoning bietjie daardie briewe gaan opdiep, maar o, weë, wat 'n soetsappige spul liefdesbriefies - ek het dit na die vyfde brief neergegooi. Dit was soos om dieselfde 'n Mills and Boon liefdesverhaal oor en oor te lees!! Ek het my doodgelag.
My fiktiewe storietjie hieronder oor die Reckie is egter liewer komies en nie so ernstig soo
s Tree Aan nie. En soos gewoonlik verwys ek na niemand spesifiek nie, so as jy jouself herken... jammer, dis per ergere toeval...!!!
(Op die foto is Anton in sy universiteitsdae, toe hy nog bekend was as Paraffien!! - okay - ook hy het niks met my storie te doen nie... net toeval!)

Die Rekkie in die Longdrop

Deur René van Zyl

Stormvoëlrylaan. Dis Spekkies se straat in Pretoria. Dis die enigste sober gedagte wat deur my kop skiet, toe ek vir Spekkies so van die buite-toilet af sien terugrammel plaashuis toe, kompleet soos ’n weghol-trekker. Die angs in sy oë is moontlik opreg. Ek is nie besonders bekommerd oor hom nie. Die hoë gille wat uit sy keelgat ryg is dalk uit vrees gebore, maar ek is min gepla.

“Is dit Spekkies?” vra Paraffien hier langs my met ’n kalmte wat kom van jare in die Bediening. Hy teug ook rustig aan sy Wit Perd en eish.

“Ja,” se ek wat Bokbeen is.

“Moet ons worry?” vra Paraffien. Sien, Spekkies sit al maande lank met ’n penarie wat hy met ons wil bespreek. Hierdie onstuimige gedrag van hom het dalk iets daarmee te doene.

“Nee. Hy’t dinge onder beheer, lyk dit my.” Ek hoop so. Wat vreet so aan Spekkies? En nog ’n beter vraag: Wil ons werklik hierdie duistere geheim ken?

Jy sien, Spekkies, is eintlik ’n heldhaftige ou. ’n ‘Rekkie’. Of hy was ’n Rekkie toe hy nog in die armie was. “Rekkies is bang vir niks,” aldus ekke.

Ons ander studente-pêlle was sommer so uitgespoeg deur die skole en het die Universiteit en kroeë se gestoeltes warm gefuif met lawwe grappies en Klippies.

Maar nie Spekkies nie. Hy is een van daardie ouens wat nog ’n barshou kan kyk. Hy kan ’n masjiengeweer toe-oë uitmekaar haal met sy hande vasgebind agter sy rug en met sy bene, albei gewond, en sy ... het ek gesê met toe oë? Ek bedoel met beide oë uitgesteek met ’n panga, kan hy ’n masjiengeweer uitmekaar haal en weer aanmekaar sit. Ek weet nie eers hoekom 'n ou dit sal wil doen nie, maar Spekkies kan dit doen.

Spekkies trekker teen die stoeptrappies op en ploeg verby ons twee ‘n pad regdeur slaapkamer toe. Ons teug die soete stilte van die plaasmiddag in. Stilte, soos in sonbesies se gezieng bo ons koppe en beeste se gebulk doer naby die tone van die Magaliesberge. Rustig is ons hier. Ek bedoel, ons is nie meer jonk nie; almal is al oor veertig. Ons bly in Pretoria. Die City of Tswane. Ons werk ons dood vir ons daaglikse brood en drinkgoed. Dis hoekom ons hier kom ontspan op Paraffien se naweekplasie. Dan is ons weer sorgvrye studente. Spekkies, Paraffien, Bokbeen. Manne met groot planne. Loslyf. Hakuna Mutata.

Ons en ons vier laerskool seuns wat ook nou van die krale af terug drentel stoep toe.

“Pa, ons gaan kleilat gooi daar by die dam,” sê my klein Bennie. Sy tweelingboetie, Charl, is reeds besig om die latte bymekaar te maak.

Copy that, Bravo, Charly! Ons sal die basiskamp hier op die stoep beman!” sê ek generaal-agtig.

Spekkies kom weer uit die huis uit. Soos ’n man wat van die oorlogsveld af kom, drink hy die laaste bietjie van die Wit Perd sommer so uit die bottel. Hy gaan sit, nog blosend en blasend van die skielike oefening. Sy Rekkie lyfie is ook nie meer wat dit was twintig jaar gelede nie. Sy spiere was toe gepomp en sy hare woes en met ‘n kopband soos Rambo. Deesdae lyk hy meer soos die ronde Griek daar onder by die groentewinkel. Ons ander twee kan ook nie juis klippe gooi nie want ons borskaste het ook al lankal hangkaste geword.

Spekkies se seun Jaco kry ’n plan: “Pa! Vertel ons gou eers daai storie van die grens toe julle bataljon daai Gorilla fighters opgef...”

“Opgefrommel het, ja!” Spekkies sug diep, asof die herinnering se wonde nog te diep lê.

“Ja, oom, jy was mos ’n Rekkie. My pa se jy was die beste!” se die klein predikantjie, Tonie.

Spekkies lyk vir my nog bietjie rooi in die gesig van die hollery, maar hy trek weg met sy beminde storie: “Dit was middernag, Oujaarsaand. Windstil. Niemand het iets verwag nie. Die maan was vol en ons moes ekstra versigtig wees daardie nag, want die geringste beweging sou die vyand waarsku ons is oppad. Julle weet, dis soos lantern bekruip by die veldskool. Ek en die manne lê in die veld... asemloos... elkeen ’n AK 47 teen die ken vasgeknyp...”

“Een verkeerde beweging en jy word uitgehaal...” Dis Jaco wat die storie al goed ken.

Hey! Wie vertel die storie?” sê Spekkies gemaak ernstig: “Ons gly toe amper bewegingloos, soos Ninjas op ons pense nader en nader aan die vyand se kamp. Ons kon die vier uitkykpunte sien met hul spioene wat waghou. In die kamp self was die manne om die kampvuur besig met partytjie hou. Dis mos Oujaarsaand. Almal hou partytjie.”

Jaco stop hom: “Vertel van die kamoflering!”

“Ons was perfek gekamoefleer soos altyd. Ons gesigte geverf, ons hoede vol takke en ons was slaggereed. Ek het Pseudo-oorlogvoering toegepas. Ek het een van die wagte oorrompel, sy klere aangetrek en die kamp infiltreer. Toe klits ek een vir een die wagte op die uitkykpunte. My manne het soos swart luiperds nader gekruip... elkeen kry vir hom ‘n teiken en toe is alles verby. Ons het daardie aand ’n hele bataljon van ons eie mense bevry uit daardie kamp. Hulle was Nuwejaarsdag by hul families terug in Suid-Afrika,” eindig Spekkies sy legendariese storie.

Wow! En as julle hulle nie gekry het nie?” vra Bennie.

“Dan was almal kissies. Missing in action,” sê Jaco.

Charl lyk of hy getoor is: “Wow... jou pa is cool, Jaco!”

“Dis my pa daai! Kom, ons gaan gooi kleilat!” skree Jaco terwyl hy dam toe hardloop. Die ander string agterna om oorlog te gaan maak teen die riete.

Ek kyk vol respek na Spekkies. Hy is enig van sy soort. ’n Ware pel. ’n Goeie pa. ’n Ou wat nie toegelaat het dat die oorlog hom ’n knou gee nie. Hy het die oorlog ’n knou gegee. En soos hy daar sit, nederig, sal jy nooit sê hy was ‘n oorlogsheld nie. Spekkies is deesdae ’n kranige entrepreneur. Hy verkoop vetkoeke daar langs Stormvoëlrylaan. Sy straat. Jy moet weet, hy is ’n man van vele talente, soos Rekkies maar is. Hy het self vir hom ‘n vernuftige sleepwa gebou. Nee, dis meer as ’n sleepwa, dis ’n vlinder wat elke oggend haar vlerke oopsprei en ’n lieflike afdak en stoepie bied vir moeë siele wat dalk regsadvies nodig het, so vir die dag se moeilikhede. Jy moet weet Spekkies het nog boonop regte geswot na sy Rekkies dae. Hy kan so saam met die spuit van die chilli-sousie vir jou ’n vetkoek vol van die beste Latynse terme aanbied wat jou dalk net in ’n hofsaak die oorhand kan gee. Hy ken woorde soos Sub-jidicae en Compus-mentus en Sparticus.

“Het julle dit gesien?” vra Spekkies.

“Wat?” wonder ek onskuldig.

“Die longdrop petalje...” mompel Spekkies.

“Ons het dit helaas gesien, broer” sê Paraffien in sy Sondagstem.

“Dit was moeilik om te mis.” Ekke.

“En julle kyk net?” vra Spekkies.

“Ja. Jy is mos ’n Rekkie,” sê Paraffien wat al op Universiteit kroeggevegte gewen het sonder om een hou te slaan, net omdat hy ’n Rekkie se naam ken.

“Hoekom het jy nou jou overall aan?” vra ekke.

“Ek dag julle het gesien?” vra Spekkies.

“Jy ruik pure Old Spice,” sê Paraffien met sy neus opgetrek.

“En julle het my hoor gil?” Spekkies klink effens meer nederig.

“Ja, maar jy’s mos ’n Rekkie. Rekkies skree seker maar so midde in die geveg.” Dis weer Paraffien wat blykbaar sy hele lewe op die Rekkie-fenomeen gebou het.

Die sonbesies skreeu opeens effens meer senuweeagtig. Daar is skielik ’n bitter reuk in die lug, die klank van iets groot wat gaan kom. Dis meer as net ’n reuk. Dit het ook die fyn nuanse van verraad in, maar ons ander twee op die stoep kom dit nog nie agter nie.

“Hoe lank ken ons mekaar al?” vra Spekkies: “Twintig? Twee-en-twintig jaar?”

“Ja.”

“En ek is soos ’n ouer boetie vir julle twee?” sê-vra Spekkies weer en hy klink bietjie soos ‘n skoolseun wat sigarette gesteel het.

“Wat is dit nou? Hoekom klink jy nou so gewigtig? Dis ons chill-naweek, onthou jy?” vra ek maar in my hart klop die angs dik soos suurmelk. Hier kom iets... iets wat ons lewens radikaal gaan verander. Ek is nie verniet ’n man met my eie scrap yard nie. Ek kan dié dinge aanvoel.

“Iets het gebeur in daardie longdrop...” Spekkies lyk ontsenu. “My lewe het verby my geflits en dit was in diepe donkerte gehul...”

“Dit is maar donker in so ’n longdrop,” meen Paraffien met die insig wat net ’n Predikant kan hê. Sien, hy is nogals ’n respektabele lid van die gemeenskap as hy nie op die plaas uithang nie.

“Donker en alleen...” meen ek met die insig van iemand wat genadiglik Sielkunde 1 deurgekom het.

“Dis meer as dit. As jou lewe voor jou verbyflits en daar is onafgehandelde sake, is dit baie erg om te skuif van die hede na die ewige,” sug Spekkies.

“Praat jou hart uit, Spekkies,” sê Paraffien. “Ons is jou pêlle. Hoe donker was dit daar?”

“En hoe erg kan dit nou wees, jy was dan ’n Rekkie?” meen ek wat blykbaar ook onderbewustelik my lewe op dié feit gebou het.

“Julle weet, toe ons netnou van die swemgat af terugkom en ek so vinnig afgesit het na die longdrop toe... Ek het ’n helse pyn in my ondergestoeltes gekry. Ek het geweet ek moet roer en ek’s daar in met die spoed van wit lig. Die verligting het deur my are gedruis soos my dikderm homself...”

“Ja, ja, spaar ons die fynere detail...” keer Paraffien.

“Maar toe ek so ontspan, voel ek ’n dingetjie tik so in my binneboud... eers net liggies, sodat ek dink dis net ’n spiertjie wat ek dalk verrek het met die skielike loslaat, julle weet... Maar toe hou dit aan en ek besef hier gebeur iets makaber vandag...” Hy sidder soos iemand wat sukkel om sy emosies te onderdruk omdat die herinnering te vars is.

“En dis toe dat jy ’n donker doodservaring kry?” vra ek ongeduldig.

“Ja, ek het skielik aan julle veiligheid gedink, en aan wat onder die sitplek van die longdrop kan skuil. En ek het besef daar is dinge van my wat julle moet weet...” worstel Spekkies voort.

“Wat was in die longdrop?” vra Paraffien ongeduldig. Ek kan sien hy het reeds ’n preektema vir volgende Sondag in gedagte.

“Ek het so versigtig ingeloer in die donker ewigheid daarbinne... toe ek skielik twee reptielhandjies gewaar wat van onder af my twee binnebene so uit mekaar uit dwing. Daar skiet ’n meneer van ‘n likkewaan toe tussen my bene uit! Reguit oppad deur toe. Ek weet nie wie was eerste by die deur uit nie; ek of hy...”

“Hy het seker bedreig gevoel...” lag Paraffien nou.

“Of hy het asemnood gehad!” lag ek saam.

Spekkies kyk ons uitdrukkingloos aan en sy oë lyk vir my vlymskerp en gefokus soos dié van ‘n skerpskutter voordat hy ’n hele linie van die vyand afmaai.

“Ek bedoel, jy het special-ops training gekry... jy was seker onmiddellik paraat en in beheer van die situasie,” wurg ek my lag terug in my maag in.

Spekkies lanseer homself uit sy stoel uit. “Dis die hele punt wat ek wil maak!” Hy gooi die leë bottel Wit Perd stukkend teen die stoepmuurtjie en toe gryp hy sy kop vas. “Ek was nooit ’n Rekkie nie!”

Stilte. Verraad. Stille verraad. Verraderlike stilte. Die sonbesies se zoem smoor dood. Die beeste se gebulk suig in die aardkors weg. Die wind blaas hortend sy laaste asem uit. Die aarde briek dood in sy wentelbaan. Morsdood. Doodstil.

“En die hele belydenis is as gevolg van ’n likkewaan in ’n longdrop?” vra Paraffien en ek sien hy sukkel om sy preek se los slierte bymekaar te trek en om nog ’n toepaslike teksvers uit die Nuwe Vertaling ook in te katrol.

“Ek weet julle het my altyd bewonder omdat ek ’n Rekkie was... maar nou is die waarheid uit!” Spekkies gaan sit weer. Die klank van jare se leuens lê nou soos ’n hoop klam beesmis tussen ons kaal voete op die stoep. Die oupa-horlosie in die huis slaan sy verraderlike dong. Drie keer.

Dit lyk tog of hierdie driemanskap van eeu-oue verloëning Paraffien se preek skielik in plek laat val. “Twee-en-twintig jaar... Weet Katryn? Sy is darem jou vrou... ek bedoel jy is in jou Rekkie uniform getroud is jy nie? En Jaco? Hy dink jy is ‘n oorlogsheld!”

“Ek dink sy vermoed iets... ek praat min oor daardie dae... en wat nie gebeur het nie...” skerm Spekkies.

“Dink aan die kind! Dis beter dat hulle niks weet nie...” My hart krimp ineen. My derms pyn. Ek voel ek moet vlug... longdrop toe...

Spekkies slaan oor na taktiese selfverdediging: “Dis ook nie of dit glad nie gebeur het nie. Ek was gekies vir die Rekkie kursus. Ek het saam ge-parrabat en gehindernis en ge-oorleef in die wildernis. Maar daai vrot pote wat ’n man oorhou na elke vasbyt. Julle moet weet, dis nat voete en mufkouse vir weke aaneen. Min kos. Jy moet goggas vreet; wurms, sprinkane en krieke, as jy gelukkig is... Die ouens se ewige gesnork! Die stres was een te veel. Ek bedoel, man, ek is ’n lover nie ‘n fighter nie... Die dag voor uittreeparade het ek halt geroep en gaan Regte swot. En vandag is ek ’n suksesvolle entrepreneur... die Deli-Dude van Stormvoël rylaan.”

Dis soos ’n slaggereed handgranaat wat in ons skote lê. Spekkies se lewe flits nou ook verby ons twee se geestesoë. Hoeveel rou, onskuldige respek het ons nie gehad vir Spekkies nie? Hoeveel respek het ons drie studente nie afgedwing as ons by ’n kroeg instap nie, veral as Spekkies sy Rekkie t-hemp aangehad het. Dit was asof ek en ou Parries ook in die Rekkies was. Spekkies se stories was ons stories. Ons was Rambo, Chuck Norris en Takuza!

“Julle sê niks?” vra Spekkies benoud.

Ek sien hom weer daar by die longdrop uitstorm, gillend soos ‘n vroumens. Sy verbleikte Rekkie t-hempie opgetrek oor sy bierpens. Sy oë wild in sy kop soos hy aangeswaai kom stoep toe.

Redding kom uit ‘n onverwagse oord. Dis ou Salomo Jantjies met sy opgefrommelde gesig en twee uitgevrotte voortande wat oor die grasperk aankom. Aan sy kierie se punt hang ’n gestreepte sebra-rige lappie met verdagte ‘moddervlekke’ op wat hy woes in ons rigting beduie.

“Hierts, sê ek! Die kjinners dag mos hulle sien ’n lekkewaan se kjend daar verby die kaia kattaza met ’n sebra-speedo-gedoentetjie aan sy bas! En daai deng stink soes die dood!” lag hy sy asma-hoesie.

Paraffien lag hom pap: “Daai likkewaan weet iets van Pseudo-oorlogvoering! Jy trek mos die vyand se gewaad aan, of hoe Spekkies?”

Ek wil nog kwaad wees oor die verloëning, maar sukkel om my lag binne te hou: “Vir die eerste keer in my lewe maak jou straat se naam vir my sin! Dis al wat ek aan kon dink toe jy broekloos by daai longdrop uitstorm: Stormvoëlrylaan!”



No comments:

Post a Comment