Thursday, August 11, 2011

DIE VETGEMAAKTE KALF WORD GESLAG!

Hierdie lyk soos die 22ste hoostuk van die spannende lewe van mev. Doeminie en haar Annus Horibilis. Geen blog in my lewe is volledig sonder hierdie hoofstuk nie. Dit is op sy eie 'n tema wat elke jaar horribaal maak, vir mev. Doeminie en ek is seker vir miljoene vroue wêreldwyd. Die kwessie van flippen vet! Die mans wat DALK hier lees, kan maar ophou: hierdie is 'n vroue-ding en is nie sodanig geestelik nie. Julle mans sien mos 'n sexy ou in die spieël al lyk julle hoe oorgewig of sleg. Ons vrouens sien net 'n dik trol voor ons in die spieël met dik boude en 'n dik pens en 'n krom neus. Ek glo dat net tydens die romantiese Middeleeue toe vet vrouens nakend geskilder is en dit seker toe hoogmode was, was hierdie ding aanvaarbaar vir vroue in die samelewing. Maar met Hollywood, Bollywood, Hellcats en ander cheerleading movies, en Desperate Housewifes en Melrose Place, en elke soapie wat jy aan kan dink, selfs 7de laan, is die dik enetjie die lelike enetjie, al is sy hoe mooi, slim en bekwaam, want ons dink al nes Hollywood.
(Op die foto is my sus Esmé en sy stoot my klein dik baba-lyfie in 'n pram rond.)
Van ek maar kan onthou, as derde dogter in die gesin, voor die vierde kind, 'n seun (die kroonprins) nog gekom het, was ek die groot baba! Ja, ek was drillend vet en so oulik. (Op hierdie foto is ek mooi aangetrek vir 'n fotosessie as baba.) Ek was later die lang lomp ene, die tomboy (want sien, meisieklere het nie lekker gesit nie – net seunsklere kon om my heupe kom en het seker genoeg verberg van wat ek gedink het vet was!) En nee, ek was as kind nie vet nie, kan ek vandag met eerlikheid sê! Maar ek was langer as my twee ouer susters en my ma het in haar wysheid en liefde my probeer troos deur te sê ek is net groot gebou en ek het 'n growwe beenstruktuur! My ma het nie geweet my verbeelding was net so groot nie en dat hierdie woorde my in 'n reus verander het nie, een wat my die res van my lewe soos 'n groteske skaduwee sou volg nie. Om sake te vererger was my een suster, Elsa, nog boonop ’n kranige balletdanser en het selfs aan 'n modelkompetisie of twee deelgeneem. My ander sus, Esme’ was lekker kort en het te pragtig in 'n skinny jean of bikini gepas. In daardie dae was daar nie vreeslik baie televisie nie, so ek kan nie my dik selfbeeld aan iets anders koppel nie. Ja ek was besotterd op The New Avengers en Purdey met haar wilgerlatlyf wat kon fight soos geen vrou in die geskiedenis nog nie! Ons almal wou mos toe Purdey haarstyl gehad het. Dit was so bob-bakkie om die kop tipe styl. Ek het dit ook probeer met my kroeshare en dis my ander rede tot swak selfbeeld tot vandag toe nog! (Ek moet dalk maar gaan vir berading, noudat ek daaraan dink, voordat ou Griekie Galbraak hier binne in my weer begin brom.) En boonop was byna alle meisies op skool heel paslik skraal en kort en hul hare het nie gekroes nie!
En die feit dat my kleiner broer Josua met wie ek 'n Dawid en Jonathan verhouding gehad het, my elke keer ‘ou vetgat’ of ‘dikkes’ noem as ons baklei, het ook nie gehelp vir 'n goeie selfbeeld nie. Op Universiteit was ek baie aktief met muurbal, onderwater hokkie en kaskar ry vir my koshuis en sokkie. Ek was super-sokkie-fiks. (Op die foto's links en regs is ek op universiteit tydens 'n staptoer en 'n dinee - met my man Anton. Ek het toe gedink ek is dik en sou altyd iets voor my vet maag probeer voorhou op 'n foto!) Ek was in 'n dames dorpskoshuis (jy studeer uit jou huis maar is deel van 'n ‘koshuis’ in naam) en daarom was ons trapkar spanne klein (mense onbetrokke) en moes jy meer rondtes ry as die ander koshuise waarvan daar tientalle ryers opdaag! Ek het byna elke vakansie op staptoere gegaan. Ek was in goeie kondisie maar het gedink en is oorgewig. Na my troue en drie kinders wat gevolg het moes ek maar veg teen die skaal om die swanger gewig telkens af te bring... en nooit regtig geslaag om weer te kom by my universiteitlyf nie. So word liggaamsbeeld nog vrotter. Elke keer probeer mens maar ’n nuwe dieet, oefen bietjie (ek hou nie juis van oefen nie!); jy verloor bietjie maar die vetjies om die middel bly maar dik sit. Ek het al dinge probeer soos daardie elektriese kontrapsies wat hulle op jou sit dan trek dit jou spiere so styf dan word dit so geoefen (ja, het gewerk toe dit moes maar was soveel moeite!) en ek was al gewrap – selfs deur my eie vriendin wie se naam ek nie mag noem nie... sy het so tuisgemaakte chilli-pepper mengsel op my vel gesmeer en my naakte liggaam met plastiek toegedraai, maar minute later is ek so aan die brand dat ek net so in die kar spring en huistoe jaag om te stort – en dit toe net vererger. Die vriendin, kom ons noem haar mev. Chilli, is verbied om ooit weer aan my liggaam te vat in hierdie lewe en die volgende! Ter verdediging wil ek net sê dat ek nooit tot dade oorgegaan het soos verslankingsmiddels gebruik, of vinger in keel gedruk of gevas nie en veral nie ge-weighless nie, want soveel kos kan geen mens laat gewig verloor nie (so dink ek mos)! Die ergste wat ek gedoen het, was asynpille drink toe dit mode word, maar ek was so hardlywig dat ek dit na 'n week moes staak. (Op die foto is ek -na universiteit - op 'n besoek aan Anton wat met sy eerste weermagjaar besig was.)
En hier sit ek plomp in die veertig met 'n skildklier wat nie saamwerk nie en 'n metabolisme so stadig soos 'n kreupel skilpad. Op my oudag probeer ek dikwels weer diëet of reg eet, maar gewig verloor ek nie. En met my 2010 Annus Horribilis en die groot spanning en pyne van die Tradisionele kerk-rugsteek-komplot en my droom-vernietigingstoer na die London boekskou (hiervan kan jy lees op 'n ander bloginskrywing as jy nou so agter is en nie weet waarvan ek praat nie!) – toe sit ek in een jaar tien kilogram aan. Ag dis maklik. Jy steur jou net nie aan wat is gesond en wat nie, jy gee vrye teuels aan eet en jy het geen krag vir oefen of bene in die lug sit in die gim waar al die goeie kerkmense heen gaan nie. En jy drink liewer rooiwyn as water as daar gebraai word! En daarby moet ek sê – ter verdediging - dat depressie self ook swaar weeg. Mens dra swaar daaraan en dit vat al jou energie. Ek is seker dit weeg ook ten minste 10 kg op sy eie!
En wat help dieet, wonder ek tog? Jy eet minder en mooier, lyk goed vir 'n rukkie en blaas op soos 'n blaasoppie sodra jy stysel en suiker terugbring in jou dieet. Of in my geval as jy net dink daaraan! Dit was my lewenspatroon en daar sit ek toe met my plompe self, en die laaste paar pogings tot minder eet het niks gehelp nie. Wat ook teen my tel is my O-bloedgroep, besluit ek want net hierdie groep moet “Excersize vigorously”. Kan jy glo, die ander bloedgroepe moet ligte oefening doen en joga! En ek hou Niks van oefening nie. Ek dwing myself om op die plot te loop. Ek is amptelik te oud vir gewig verloor besluit ek. Ek beplan om al hoe dikker te word, tot ek so dik is dat hul my nie meer uit my bed of by die deur uit kan kry nie, soos daai vrou in die fliek: What’s eating Gilbert Grape. En as ek sterf moet hul die huis om my afbrand want dit lyk na die goedkoopste opsie! (Op die foto is ek en my vriendin Atha in Rome, toe ons en ons manne daar getoer het in 1988 ek dink? Al het ek shorts gedra het ek altyd gevoel ek is dikker as almal om my. En ek moes koel goed dra want ek kry mos maar altyd warmer ook as almal om my!)
So gaan ek toe vir my jaarlikse check-up dokter toe. My cholestrol en insulien en wat als toets bietjie hoog (geen verrassing vir my nie!) en die dokter kyk my plompe self so en besluit ek moet maar dieetkundige toe. Bla bla bla! Dink ek. Ek kan die dieetkundige iets vertel van eet en dieet. Wat de hel kan sy my leer wat ek nie in 45 jaar geleer het nie? Maar daar gaan so baie mense om my dood aan hartaanvalle, beroertes en wat als, dat ek besef ek moet nou iets aan my eie gesondheid doen, ek is nie meer jonk nie. So kom ek toe uit by die maer jong vroutjie in 'n onindrukwekkende kantoortjie in Brits. Sy gee my so 'n stabiliserings dieet vir die eerste week: iets soos 'n eier, koppie outs pap en vrug in die oggend en vir middag en aandetes hoender of vis met groentes/slaaie. En so ewe 'n vrug tussen etes en laataand. En geen koffie of tee want kafeïen is gif. Bla bla bla. Net 8 glase water per dag plus nog twee. Ek sê vir haar dis te veel kos. Ek gaan gewig optel. Ek weet. Ek ken my lyf. 4 Vrugte per dag? You must be joking! Al hoe ek in die verlede ooit gewig verloor in my lewe is as ek geen vrugte eet nie vir ten minste drie weke. En die koffie? Geen probleem. Ek drink 5 of so koppies per dag en om 'n week uit te hou sal my niks doen nie. My lyf hou van sy koffie en kan dit hanteer. Ek sal haar wys my lyf gaan nie hou van hierdie sogenaamde stabilisering nie. So eet ek mooi daai week, maar teen Woensdag en Donderdag is ek so siek soos 'n hond van onttrekkingsimtome van die kafeïen! Ek is naar, gooi op en voel vrot. Ek is bedlêend!
En dis nie al nie. Toe ek die volgende week by haar kom is ek 3.3 kg af! Ek is verras maar skepties. Sy gee my die opvolg plan: wat toe baie klink soos die weighless tipe eetplan. Sy druk goetertjies aan my voete en hande en meet iets op ’n masjientjie – soos my vet of waterinhoud en wat als en die rekenaar spoeg ’n eetplan uit wat insluit: 5 stysels per dag, 6 proteïene. 3 vrugte, 3 vette, 3 groente en ’n halwe glas laevet melk. En 8 glase water plus 2. Nog steeds geen koffie en tee. Gif. Ek, meer nederig as die vorige keer, smeek vir een in die oggend. Ja goed. En verder net rooibostee en water! Jekkie! Ek sê vir haar ek kan nie op hierdie plan gewig verloor of enigiets regruk soos insulien en suikers en cholestrol nie, want die KOS IS TE VEEL! Sy sê ek moet so eet want ek gaan die res van my lewe so eet. Sy gee my 'n lys kosse en hoeveelhede; daar is selfs koek en drank op, wat ek kan uitruil onder my stysels en vette. Ek besluit ek sal elke krummel eet en haar wys my liggaam kan en kon nog nooit gewig verloor met so baie kos nie. Al is die porsies klein, daar gaan soveel skuldgevoel by my mond in saam met die kos wat oor jare gevorm het uit onkunde en van al die ‘gesonde’ diëte volg. En elke hap skuldgevoel alleen weeg seker 10 kg!
Ek is al 'n maand besig met die eetplan. Ek koes elke week vir die skaal want my lyf kan mos nie met al die kosse tevrede wees en nog gewig verloor nie??? Dit is toe al wat my lyf nodig het. Ek is elke week nog 300g of 500g af. Al gaan ek uiteet en al eet ek ’n sny koek (die koek is nie goed vir die cholestrol en insulien nie, maar as ek dit uitruil met my stysels en vette, dan kan ek soms wegkom daarmee! Selfs soms 'n glas rooiwyn!). Na 'n maand se vasbyt weet ek nou watter porsies is toelaatbaar, watter kosse is beter wat lae GI aanbetref en watter is nie goeie keuses nie. En wat nog? Ek slaap soos 'n engel, waar ek vroeër gedink het my gedagtes hou my wakker of my depressie of wat ook al. Dit was seker maar die kafeïen, ja verseker. Elke koppie koffie steel twee glase water uit jou lyf. Water wat goed is vir suurstof in jou brein, vir skoonmaak van jou liggaam en wat als. Ek glo dit nou. En ek het sowaar 'n plaasvervanger gekry vir koffie: Chikree. Meeste koffiedrinkers gaan hul neuse optrek vir suiwer sigorei, maar dit proe vir my soos manna, want dit is wat ek die res van my lewe kan drink, saam met rooibostee (Jêkkie!).
Op my oudag het ek nou besef, ek kan my kos geniet, weet net wat jy in jou mond prop en hoeveel daarvan. Ek kan enige plek gaan uiteet maar met kennis en slim keuses kan ek dit net so geniet soos ander. Die baie water kry my onder maar ek vat 'n Pump (750ml) saam in die kar as ek kids op en aflaai vir skool en voor ek tuis is, is dit op: 3 glase! As ek dit kon leer en dit kan doen, kan enigiemand. Maar moenie dink die kinders wil so eet soos ek nie. Hulle glo wat ek geglo het: dis die kos wat evil is en jou wil vet maak. Dit gaan my lank vat om hulle die waarheid hiervan te laat insien, of ek gaan dit dalk nooit regkry nie. Al vertel ek hul elke dag van hul lewe hoe mooi en oulik hulle is, is dit nie goed genoeg nie want die wêreld daarbuite vertel iets anders. Hulle moet hul eie pad stap met hul selfbeeld en liggame. Hulle het 'n groter geveg om te wen, want die duisende rolprente en tv waaraan hul blootgestel is, wys nie hoe die filmsterre dag en nag hulself uithonger en heeldag gim nie.

(Op die foto is ek in 2006 in Ierland en het maar lekker dieet om te gaan lekker vakansie hou. Ek het toe ook gedink, sjoe, kyk net hoeveel kilo's het ek opgetel van ons troue af. En was ook maar nie tevrede nie. En as ek nou terugkyk, lyk ek heel skaflik!)
Met dié dat ek hierdie jaar nog rus van my stresvolle 2010 Annus Horibilis, is ek rustiger, koester nie groot verwagtings nie, kom nie baie uit die huis nie, werk rustig aan die kinderkerklesse vir die Kuierkerk, en ek het besluit om meer gesonde tyd met die dogters te spandeer: ons speel nou in die middae muurbal. Ek leer hulle, kry dalk nie soveel oefening in nie, maar hul word elke dag beter en gaan my binnekort ore aansit. Ek voel op 'n goeie plek met my lyf en my lewe...(ja, sê Griekie Galbraak, tot ek my kop by die deur uitsit en party mense my energie steel met hul onopgeloste issues en haat vir hulself en die lewe.) Maar ook hiermee moet mens seker kalm deel. En ook hiermee moet hulle eendag deel. Vir nou, op hierdie oomblik, is ek oraait. Die Here lei mens mos maar so met die berge op en weer af. Hy stap saam; na waters waar rus is, lei Hy my heen. En ja, al gaan ek ook deur 'n dal van doodskaduwee, is Hy met my en vertroos my. As mens dit net so kalm kan insien as jy wel in daardie dal van doodskaduwee vasgekoek raak. Maar dit is weer 'n heel ander storie! Ek sien God nogal in 'n arend. Hier op ons plot is so 'n witbors slangvanger arend met so hoekige kop soos 'n Bataleur en elke nou en dan sit hy in 'n boom so in die middel van 'n oopte en dan weet ek, God is met my. En so nou en dan vlieg hier 'n visarend oor die plot en roep sy mooi roep, dan weet ek ook God is met my. Dit help nogal vir 'n mens in donker tye om so herinner te word. Kry gerus vir jou ook so 'n teken wat jou kan verras as jy dit nodig het. Mag jy elke dag God se nabyheid beleef, in die slegte en goeie tye! En as jy dit nie voel nie, WEET net dit is daar.

No comments:

Post a Comment