Thursday, December 22, 2016

Mevrou Doeminie Voelgoed blogs

MEV. DOEMINIE VERKEER VREETSAAM

Kersfees van my kleintyd was altyd ’n heerlike tyd van kuier met familie en lekker eet en, natuurlik, geskenke oopmaak. Daardie gebakte hoender en aartappels, jellie-vorm wortelslaai en trifle poeding proe ek nog tot vandag toe as ek aan daardie familie-kuiers dink.

As ek terugdink aan my kinderdae onthou ek nie een present wat ek gekry het nie, net die lekker gevoel van saamwees en gelukkig wees. ’n Tyd van vrede en liefde. Nou is ek oor vyftig en ek begeer geen geskenke nie, net om tyd met my geliefdes te spandeer – al is dit nou net ’n braai en knoffelbrood (want ek het nie my ma se gawe van kosmaak geërf nie, en die Spar se trifle-poeding is net so lekker!). Maar met die dat gesinne oor die wêreld versprei is en met almal wat besige programme en werke het, is dit al hoe moeiliker vir gesinne om Kersfees saam te kuier.
Veral die ouers of grootouers spandeer dikwels alleen Kersfees. Ek sou wat wou gee om ’n Kersfees met my oorlede ouers te kon spandeer. As jy die voorreg het om ouers te hê, moenie hulle afskeep nie. Gun jou kinders die geleentheid om daardie lekker samesyn en opwinding van Kersfees te beleef – saam met geliefdes – soos ons in die ou dae gedoen het. Al is die geskenke klein, dis die TYD wat jy gee wat die eintlike geskenk is. Hoe ouer mens word, hoe minder beteken geskenke en hoe meer beteken tyd saam.
Kyk asseblief die video wat hieraan aangeheg is – dit is ongelooflik pragtig en bewys net hoe kosbaar tyd met geliefdes is terwyl hulle nog daar is. Luister maar weer geduldig na die ou stories wat die oumense oor en oor vertel en kyk deur foto-albums, onthou kosbare tye saam, want as dit verby is, is net die herinnering oor. Jesus se groot geskenk aan ons van liefde en vrede kom tot sy volle uiting as ons as geliefdes saam is.    
MEVROU DOEMINIE EN DIE MOEILIKE MOEDERS 

Liefde tussen ma en kind. So maklik, so moeilik? Twee van die belangrikste mense in jou lewe, twee wat jy die liefste moet hê, is dit nie?

Ek sien soveel moeilike ouer-kind-situasies. My ma, Alta, het my onvoorwaardelik liefgehad deur my storm-en-drang-tienerjare. Sy’t NOOIT kritiek gegee nie. Net raad AS ek gevra het. Sy het my kreatiewe, vreemde persoonlikheid vertrou. Of eerder: vir God met my vertrou. En gebid.
Ek ken twee ongelooflike vrouens. Een (Lina) se ma is so vol kritiek dat sy in elke woord, komma en hoofletter van haar foutvind. Lina is volgens my ’n Spreuke 31 vrou: onder uitsonderlike omstandighede het sy haar kinders grootgemaak, soos geen ma kan nie. Sy het alles gegee, elke druppel liefde. En haar man en huwelik met grasie en liefde geseën. Haar plek in die hemel is met rose besaai, maar haar ma se aanvaarding en liefde is wat sy begeer. En totale vertroue. Dis wat ’n ma mos is?
Die ander vrou, Lena, loop net soveel oor van onvoorwaardelike liefde vir haar kinders. Een kind het haar (en haar man) verwerp a.g.v. ’n paar belaglike misverstande. Die ander kind het ’n breindisfunksie. Dis hier waar ’n ma se liefde werklik getoets word. Sy kan hóéveel liefde gee, maar wat sy terugkry is gereelde ‘melt-down’, huis afbreek, verwerping en onverstaanbare tantrums. Maar sy beur voort, gee liefde, vat die pak slae, want dis hoe ’n ma mos is. Ook sy moet God vertrou met hierdie kinders (al kos dit baie trane). Kritiek gaan hier nie werk nie.




Hoe onvoorwaardelik is jóú liefde vir jou kind? Jy wat dalk ’n gewone (soms onverstaanbaar vir JOU) kind het wat sy/haar plek in ’n uitdagende wêreld probeer oopveg? Is jy heeldag soos ’n verwoestende tsunami oor jou kind oor sy/haar besluite/vriende/keuses? Jy MOET net liefde gee, al is dit moeilik. Vader-God se onvoorwaardelike liefde moet die norm wees. Vertrou God met jou kind. Bid vir hom/haar. Hou jou mond. Al praat jy die tale van mense en engele en jy het nie liefde nie, is jy NIKS.

MEVROU DOEMINIE EN DAAI HOLLYWOODERS

Niks goed kan mos uit Hollywood kom nie, of so het ons oumas en oupas gedink toe hulle woes gekeer het dat ons as kinders enigiets erger as Brady Bunch, Wielie-Walie of Heidi kyk, uit vrees dat ons siele verwoes gaan word.

Ons almal het steeds baie kritiek oor die Hollywood-monsters wat ons huishoudings so hijack. Maar tog, jy kry deesdae soveel goedhartige ‘Hollywooders’, en ja, hulle kry ook net soveel kritiek te midde van die feit dat hulle derduisende rande gee vir rampslagoffers of vir opvoeding, soos die legendariese Oprah (wat ook al haar motiewe, wonder jy natuurlik). Wie my regtig beïndruk, is die beskeie 57-jarige Ellen DeGeneres, aanbieder van haar eie geselsprogram, wenner van 29 Emmys, 17 People's Choice Awards, en nog ’n spul toekennings vir haar liefdadigheidswerk. Hierdie jaar het sy ook die Presidential Medal of Freedom van President Barack Obama ontvang, ’n groot eer.
Ja, ja baie mense kan haar nie vergewe vir haar ‘alternatiewe’ leefstyl nie, maar regtig, die vrou is ’n sagmoedige reus met ’n hart vol liefde. Kyk maar net na enige van haar programme. Haar woorde toe sy die 2016 toekenning vir Gunsteling Humanitêre persoonlikheid ontvang is: “Ek het my beroep as ’n komediant begin want ek wou mense laat lag en lekker voel ... Dit is vreemd om ’n toekenning te kry omdat ’n mens gaaf, goedhartig en vrygewig is. Dis mos wat alle mense veronderstel is om te wees teenoor mekaar? Ek wil graag hê dat almal mekaar liefde bewys, is dit nie wat ons elkeen wil hê nie: liefde?
Is dit nie woorde so reg uit Jesus se mond nie? Hy sou dieselfde vra as iemand hom die toekenning gegee het. Hy sou graag vir ons elkeen so ’n toekenning wou gee, ’n liefdestoekenning. Al het jy nie geld om aan liefdadigheid te gee nie, gee liefde en respek aan alle mense, of jy hou van hulle of hul lewenstyl of kultuur of nie, dis mos wat menswees beteken. Liefde is gratis.  

MEV. DOEMINIE EN GOD SE VERSKRIKLIKE SKEPPINGS

Dalk is jy soos ek: weet net genoeg van kuns om gevaarlik te wees. Ekself het al my hand aan ʼn skilderkwas gewaag, maar dis vrek moeilik om mense te beïndruk met kuns. Elkeen is mos ’n absolute kenner!

Maar wat my troos is dit, selfs skoolkinders leer dít oor kunskritiek: Jy mag nooit oombliklik sê wat jy dink as jy na ’n kunsskepping kyk nie, veral nie negatiewe kritiek nie. Jy MOET: 1. Probeer jou indink wat die kunstenaar met die werk wou oordra/kommunikeer; 2. Vind iets daarbinne wat vir jou mooi is. DIS AL. Verder beteken jou opgesmukte-selfgesentreerde-misplaaste-oningeligte mening niks. Ons spog mos maklik oor ONS ‘beskeie’ opinie, maar kunstenaars is immers diep filosowe, wroeg deur fases/seisoene in hulle lewens en bedink allerhande sosiale of emosionele kwessies. Soms kom uit dieselfde hand die mooiste, realistiese prent en soms donker, vreesagtige kwashale. Om iets meer van die kunstenaar te verstaan, leer hom dalk eers goed ken?
Ons leke kritiseer dikwels God se kunswerke, Sy skepsels, wat Hy in die moederskoot met ’n plan gevorm het. Wie is ek om met beperkte insig kritiek/oordeel te fel? Die kunswerk is dalk in ’n spesifieke fase of seisoen geskep, of die Skepper het hom met ’n spesifieke funksie geskep wat ons nie verstaan nie. Ek kan nie met een kyk net besluit dis gemors, duiwels of vieslik nie. Kyk dieper: wat het die Skepper hiermee bedoel? Dink wyd, klim uit jou konserwatiewe boksie, want kunstenaars dink veel verder as wat jy kan verstaan. Soveel te meer die Almagtige Skepper.
Kyk wat in daardie skepping vir jou mooi is. As jy niks kry nie, spandeer tyd met die skepping en KYK dieper as ander se wrede, veroordelende kritiek. As ons hou by hierdie twee kriteria, kan ons nie ’n fout maak nie. Dan sal ons nie in die strik trap van vooroordeel en beswaddering nie. Dikwels is die kunswerk onvoltooid, ’n werk in wording en ons sien nie die hele prentjie nie. Net God, die geduldige, liefdevolle skepper, sien die eindresultaat. Vir Hom is elke skepping kosbaar, uniek en werd om voor te sterf.

MEVROU DOEMINIE WROEG OOR HAAR SONDES

Terwyl ek nou in 'n lekker vrot bui is, laat ek praat ‘or forever hold my peace’! Ek wil net vir die oningeligtes noem: Predikante en mevrou Doeminies het sondes. Wragtig!

Net soos jý ook (wraggies!) in sonde gebore en ontvang is, so is predikante en hulle gesinne. Ons kan ook kwaad word, vloek en skree, ongeduldig wees, selfs iets drink, soms skinder, geloofskrisisse beleef, depressie hê, sukkel met verhoudings, versoek word op die vreeslikste maniere en WAT ALS. Dikwels val ons, nes elkeen in die Bybel!
My probleempie: Ek’s iemand wat (tot my skaamte) passievol ’n gebeurtenis/krisis onmiddellik OORDADIG beleef, oorvertel en prosesseer, dan is ek weer okay. My paar goeie vriendinne loop dikwels deur onder my emosionele vertellings en gebare. Ek glo hulle verstaan my; ek hoop. Maar nie altyd nie. Soveel makliker sal ander my verkeerd verstaan.
Vandag besef ek weereens met diepe hartseer: As jy in die bediening is, mag jy nie sonde hê of wys nie. Jy en/of jou man word onmiddellik veroordeel/gekruisig, terwyl ander vergewe word, want, flip man, die lewe is rof. Maar wraggies, die predikantspaar moet darem moeilike dinge/mense beter hanteer; hulle verhoudings moet perfek wees en hulle moet ALTYD in ’n goeie bui wees; ons wil asseblief NIKS van hul persoonlike, opgeneukte lewens/persoonlikhede/krisisse weet nie. Want die troontjie waarop ons hulle geplaas het, is doerbo, naby aan volmaak; hul ken mos vir God beter as ander, hul leer-en-lewe moet SUIWER wees!
Hoe kan predikante goeie boodskappe bring as hulle nie self krisisse en versoekings moet beveg nie? Prediker 7:20: Daar is geen regverdige mens op die aarde wat goed doen sonder om te sondig nie.
Gelukkig is daar EEN wat selfs predikantsgesinne nie veroordeel nie, wat by ons staan, al val ons daagliks. Hy’t Sy Seun gestuur: NIE om my te veroordeel nie, maar om my (en jou) te midde van ons sondes te red/help. Hou asseblief op om enigiemand te oordeel sodat jy nie geoordeel word nie (Mt. 7). Ek vergewe jou dus mede-Christen, al veroordeel jy vir my en my man, want Jesus verwag dit immers.

No comments:

Post a Comment