Wednesday, July 27, 2016

NOG TWEE WEEKLIKSE BLOGS SOOS GESKRYF VIR www.VOELGOED/BLOG VAN FINESSE: 

MEV DOEMINIE BLAF VIR DIE SWART HOND:

Die wat nie die swart hond ken nie, is besonder gelukkig. Hy bekruip jou stilletjies in die nag en as jy weer sien sit hy snoesig saam met jou in die bed, op jou skoot as jy TV kyk, op jou rug as jy in die dorp is. Daai hond van depressie wat nie luister vir voertsek nie.

Toe my seuntjie op 15 maande breinskade opdoen en byna leweloos gelaat is, het die ou swart brak by my kom waak. Ek’t hom eers nie raakgesien nie; ek was so moeg van elke oggend opstaan na ‘n nag waarin nie ek of hy geslaap het nie. Boonop is ek swanger met my tweede kind en die hormone mal. Ek was gefokus om elke oggend te begin met my seuntjie se strawwe oefen-en-fisioterapie-program, dat ek swart brak misgekyk het. Vir lank. Opstaan, oefen. 8 ure per dag. Min vordering.
Ek wou na so jaar of twee nie meer opstaan nie. Daai swart hond se groot lyf het my platgelê: elke dag se geoefen en roetine het my en my regterbrein lamgelê. Dae het emosieloos, energieloos en hopeloos voortgestap. Ek sê een aand vir my man ek is so moeg vir oefen. Hy sê los dit. Die Here verwag dit nie van my nie. ’n Groot las is van my gelig. Steeds volg swart hond my getrou met skuldgevoelens en gedagtes van mislukking. Slegte ma. Ek het begin pretgoed met die kinders doen. Meer gestap, meer plekke besoek – met moeite. Hond stap saam. Toe begin ek dink aan almal wat ek afgeskeep het en begin weekliks ’n geskenkie koop vir ou vriendinne en vat dit vir hulle. Hond is verbaas. Toe begin ek saans dink aan een positiewe ding van die volgende dag. Net een ding. En wanneer ek soggens opstaan het daardie ding my laat beweeg. Swart hond het toe weggeloop. Vandag nog doen ek dit. Soms sien ek hom nog daar buite die heining sit, maar dan soek ek net daai een positiewe ding vroegoggend en ek kan deur die dag kom. Vrede.

MEV. DOEMINIE EN DIE #WURM


‘Happy days’ is my foto-lêer waarin ek my en my man se foto’s bêre van toeka tot nou, van universiteit af toe ons soos jong, lieflike, energieke skoenlappers was. As jong getroudes het ons albei lekker werk gehad; besig, besig, vlieg nog hoër.
Ons eerste baba word geboorte. Ons beker loop oor! Slim en woelig. Die wêreld is ons speelplek. Ons is buitelewe mense en reis rond in Afrika. Terug tuis word ons seuntjie op 15 maande dodelik siek. Oombliklik verander jou sonskynlewe handomkeer. Die skoenlappervlerke verkrummel in die volgende fase in – ons is skielik elkeen in sy eie donker eiertjie. Ongemaklik, in ’n spasie ingedruk waarin ons nie kan beweeg of asemhaal nie. Pynlik. Dis hier waar God stil met ons kan werk en ons aandag het.   
Die sonskynseun wat ons geken het, is ‘dood’. ’n Klein skaduwee van hom kom terug uit die hospitaal – net sy glimlaggie is oor. Hy kan skaars sluk. Elke spier is pap. Die brein moet nuwe paaie vorm. Ma moet hom heeldag oefen. Pa vlug werk toe. Ons word wedergebore in hierdie tyd. Klein wurmpies kruip uit die donkerte uit, wriemel om te oorleef in ’n harde wêreld, maar al sien ons Hom nie, sorg die Here selfs vir die kleinste wurmpie.
Dae word weke, maande, jare vol trane, oefen, depressie, hoop, lag, wanhoop en bid. Sean ontwikkel so stadig, dis skaars sigbaar. Jy stoei met God, met jou man en met jou eie demone. Jy bid vir genesing, besoek gebedsgenesers, GLO dat God die onmoontlike KAN. Niks gebeur nie. Twee pragtige dogtertjies word gebore. Elke dag is ’n unieke uitdaging/oorlewing. Die wurmpie-gesin groei, kruip, word fris wurms, begin selfs spin. Selfs Sean groei; 22 jaar later vertel ons foto’s ’n storie van ’n pap wurmpie, nou ’n lieflike happy skoenlapper, al is hy net 3 jaar oud in ’n 23 jarige lyf. Sy susters is beautiful, kleurvolle skoenlappers. En sy ouers het iewers langs die pad ook weer hul vlerke gekry. ’n Gedaanteverwisseling. ’n Ingrypende verandering van vorm/struktuur/karakter. Ons waardeer elke dag wat God ons gee. Ons kan weer vlieg.







No comments:

Post a Comment