NOG TWEE WEEKLIKSE BLOGS SOOS GESKRYF VIR www.VOELGOED/BLOG VAN FINESSE:
MEV DOEMINIE BLAF VIR DIE SWART HOND:
Die wat nie die swart hond ken nie, is besonder gelukkig. Hy
bekruip jou stilletjies in die nag en as jy weer sien sit hy snoesig saam met
jou in die bed, op jou skoot as jy TV kyk, op jou rug as jy in die dorp is. Daai
hond van depressie wat nie luister vir voertsek nie.
Toe my seuntjie op 15 maande breinskade opdoen en byna
leweloos gelaat is, het die ou swart brak by my kom waak. Ek’t hom eers nie raakgesien
nie; ek was so moeg van elke oggend opstaan na ‘n nag waarin nie ek of hy
geslaap het nie. Boonop is ek swanger met my tweede kind en die hormone mal. Ek
was gefokus om elke oggend te begin met my seuntjie se strawwe oefen-en-fisioterapie-program,
dat ek swart brak misgekyk het. Vir lank. Opstaan, oefen. 8 ure per dag. Min
vordering.
Ek wou na so jaar of twee nie meer opstaan nie. Daai
swart hond se groot lyf het my platgelê: elke dag se geoefen en roetine het my
en my regterbrein lamgelê. Dae het emosieloos, energieloos en hopeloos
voortgestap. Ek sê een aand vir my man ek is so moeg vir oefen. Hy sê los dit.
Die Here verwag dit nie van my nie. ’n Groot las is van my gelig. Steeds volg
swart hond my getrou met skuldgevoelens en gedagtes van mislukking. Slegte ma.
Ek het begin pretgoed met die kinders doen. Meer gestap, meer plekke besoek –
met moeite. Hond stap saam. Toe begin ek dink aan almal wat ek afgeskeep het en
begin weekliks ’n geskenkie koop vir ou vriendinne en vat dit vir hulle. Hond
is verbaas. Toe begin ek saans dink aan een positiewe ding van die volgende
dag. Net een ding. En wanneer ek soggens opstaan het daardie ding my laat
beweeg. Swart hond het toe weggeloop. Vandag nog doen ek dit. Soms sien ek hom
nog daar buite die heining sit, maar dan soek ek net daai een positiewe ding
vroegoggend en ek kan deur die dag kom. Vrede.
MEV. DOEMINIE EN DIE #WURM
‘Happy days’ is my foto-lêer waarin ek my en my man se foto’s
bêre van toeka tot nou, van universiteit af toe ons soos jong, lieflike,
energieke skoenlappers was. As jong getroudes het ons albei lekker werk gehad;
besig, besig, vlieg nog hoër.
Ons eerste baba word geboorte. Ons beker loop oor! Slim en
woelig. Die wêreld is ons speelplek. Ons is buitelewe mense en reis rond in
Afrika. Terug tuis word ons seuntjie op 15 maande dodelik siek. Oombliklik
verander jou sonskynlewe handomkeer. Die skoenlappervlerke verkrummel in die
volgende fase in – ons is skielik elkeen in sy eie donker eiertjie. Ongemaklik,
in ’n spasie ingedruk waarin ons nie kan beweeg of asemhaal nie. Pynlik. Dis
hier waar God stil met ons kan werk en ons aandag het.
Die sonskynseun wat ons geken het, is ‘dood’. ’n Klein skaduwee
van hom kom terug uit die hospitaal – net sy glimlaggie is oor. Hy kan skaars
sluk. Elke spier is pap. Die brein moet nuwe paaie vorm. Ma moet hom heeldag
oefen. Pa vlug werk toe. Ons word wedergebore in hierdie tyd. Klein wurmpies
kruip uit die donkerte uit, wriemel om te oorleef in ’n harde wêreld, maar al
sien ons Hom nie, sorg die Here selfs vir die kleinste wurmpie.
Dae word weke, maande, jare vol trane, oefen,
depressie, hoop, lag, wanhoop en bid. Sean ontwikkel so stadig, dis skaars
sigbaar. Jy stoei met God, met jou man en met jou eie demone. Jy bid vir
genesing, besoek gebedsgenesers, GLO dat God die onmoontlike KAN. Niks gebeur
nie. Twee pragtige dogtertjies word gebore. Elke dag is ’n unieke uitdaging/oorlewing.
Die wurmpie-gesin groei, kruip, word fris wurms, begin selfs spin. Selfs Sean
groei; 22 jaar later vertel ons foto’s ’n storie van ’n pap wurmpie, nou ’n
lieflike happy skoenlapper, al is hy net 3 jaar oud in ’n 23 jarige lyf. Sy
susters is beautiful, kleurvolle skoenlappers. En sy ouers het iewers langs die
pad ook weer hul vlerke gekry. ’n Gedaanteverwisseling. ’n Ingrypende verandering
van vorm/struktuur/karakter. Ons waardeer elke dag wat God ons gee. Ons kan weer
vlieg.