Tuesday, May 3, 2016

MEV. DOEMINIE EN DIE MOERASPADDAS!


 Min dinge kan die mevrou Doeminie se alterego, Gielie Galbraak, so opklits soos mense wat wragtig alles weet: daardie super-wesens wat arrive het terwyl ons ander ellendige Christene nog wriemel in strome vol van dampstank swanger soos een oorwerkte dominee eendag preek: “Ons is soos paddas wat kwaak uit die moeras van ellende vir God se genade doerbo...”
Ek kon my paddaboudjies nie gou genoeg by daardie kerk uitspring nie. Maar gelukkig is daardie ander Christene nie so laag soos ons wat in die paddaplaag-brigade vasgevang is nie. Nee, hulle weet wat is reg en verkeerd. Hulle het daardie boom-van-kennis-van-goed-en-kwaad se vrugte gepluk, ’n super-smoothie gemaak, gedrink en ’n super-Christen-ek-weet-nou-alles fase bereik.

Hulle glo hul is gebless met meer geestelike seeninge as moerasmense; hulle voldoen aan al die vereistes om uit daardie modder gelig te word na ’n fase van algehele kennis en dus, voorspoed. Hulle vertel graag vir die paddas hoekom húlle gebede nie verhoor word nie en hoe sonde en ongeloof hul dieper die modder insuig. Jy weet, daardie vloekwoordjie soms, daardie sigaret, glas wyn en daardie Oosterse Bonzaiplant op jou stoep! En behoede jou as jy ’n televisie besit, iets wat ’n Super-Christen lankal afgelê het, want hierdie aardse verleidings kan jou insluk. Hul glo die duiwel is in alles te vinde, van Oprah (die ‘anti-chris’) tot die Teletubbies; selfs in die Christen bordspel wat ek opgestel het om gesinne meer oor Jesus te leer. God het dit nie nodig om tot ’n bordspel verlaag te word nie, vertel een my: Hy’s te heilig. Een super-Christen verbied my Middeleeuse storieboek haar winkel: Wee Monk’s Tale, wat handel oor Christentieners wat Vikings en Druïdes moet uitoorlê terwyl hulle ’n kosbare altaar-Bybel beskerm. Die voorblad lyk kwansuis duiwels! Regtig? Moet ons Christene mekaar se unieke geloofspad en gawes afkraak terwyl ons almal spartel om te oorleef? Daai ouens is oorgewig brulpadda-boelies wat mede-Christene met verwaendheid dieper die moeras indruk. Kwaak liewer liefde as jy jou ou platbek MOET oopmaak! DALK as jy so moeraspadda liefde gee (soen!) verander hy in die prins wat hy is!  

No comments:

Post a Comment