Thursday, February 28, 2013

MEV DOEMINIE HAAL DIE KOERANT: NOORDWES BEELD!


Dis met groot bewoënheid dat ek kan sê ek het al die koerante gehaal: mag
 'n uitgewer of agent my talente raaksien en my kontak - want self uitgee
 sit nie in my broek nie! Ek haat proeflees, bemarking, pakkies opmaak
 en pos, boekhou en alles wat daarmee gepaard gaan! Maar ek is maar
 te nederig bly as iemand 'n cd bestel! Dankie vir almal wat al een besit
 - ek dink dis awesome!!!
Dankie Carla van der Spuy vir die beriggie!
Nuus Dié mev. dominee se pen is nooit stil nie
’n Mens sal René van Zyl, predikantsvrou van die gewilde Kuierkerk in Hartbeespoort, 
nie sommer agter ’n basaartafel kry nie.
Nee, hierdie “mev. dominee”, wat bekend daarvoor is dat sy en haar man, 
ds. Anton van Zyl, “buite die boks” dink, toor eerder met woorde.
Daar is net geen einde aan die skeppende talente van dié eertydse joernalis nie.
Van Zyl, wat ook ’n kinderwerker en skrywer is, se jongste projek wat spruit uit haar 
behoefte om “in te lig, op te voed en te vermaak”, is om kinders op ’n lekker manier 
te leer hoe om al 66 boeke van die Bybel te ken. Sy het al die Bybelboeke in 
“geheuesketse” opgesom en leidrade, asook ’n Bybelse tydlyn, op ’n CD saamgestel.
Van Zyl verduidelik dat hierdie bonte mengelmoes van prente in kleur sowel as 
swart-en-wit die produk van jare se navorsing, versameling van inligting en van 
sketse ontwerp is waarin die kern van elke Bybelboek letterlik “opgeteken” is.
Die illustrasies is deur haar suster, Esmé Walker, gedoen.
Dié het al ’n ATKV Veertjie vir ’n vorige kinderboek se illustrasies ontvang. 
Die CD kom boonop saam met ’n geheuespeletjie.
“Ek wil die kinderkerk hervorm,” verduidelik sy. Daarom leer sy die kinders by 
hul kinderkerk ook om hierdie Bybelboeke in volgorde te leer deur middel van 
interaktiewe lesse wat sy weekliks skryf.
Daar lê vir haar min waarde daarin om die kinders, soos oor al die jare, van 
Bybelkarakters te leer met slegs ’n morele les daarby.
Van Zyl skryf reeds jare stories vir die jongspan op die webtuiste van die 
kuberkerk wat deur prof. Stephan Joubert gestig is. Die verhale, wat tweeweekliks
 op die webwerf verskyn, word vertel deur ’n kat met die naam Kristof en dit handel
 oor sy dierevriende uit die Bybelse tyd. Die stories wemel van donkies, kraaie, 
duiwe, akkedisse, kamele, visse en insekte wat elk op ’n aksieryke manier met 
Bybelse karakters te doen gekry het.
“En so leer die kinders die Bybelse waarhede sonder dat hulle dit besef.”
Van Zyl het ook met poppeteater begin. Sy het in 1998 ’n bordspel, Kruispad, 
ontwikkel en self uitgegee. In 2011 het sy ’n Christelike jeugboek, 
Wee Monk’s Tale, the Secret of Immortality, wat in Middeleeuse Ierland 
afspeel, uitgegee.
Nou droom sy ’n uitgewer sal haar passie deel sodat vele uit haar Bybelboeksketse
 kan leer.
Rig navrae aan rene@kuierkerk.co.za of skakel 0082 396 4100.

No comments:

Post a Comment