Sunday, July 29, 2012

DEMONE, HORMONE EN TOORDOKTERS


     In hierdie 30ste hoofstuk lyk dit of bliksemstrale en vreemdsoortige demone nieg om mev. Doeminie se wonderlike wêreld aan flarde te laat spat. Ek wou mos dink die jaar is rustiger, maar voor Junie nog sy gatkant gesien het, is my jaar omgedop en uitgepeul en so ook my derms.
     Dit het laasjaar begin, hierdie ding, maar ek het my oë toegeknyp want 2011 was mos my af jaar. My Sabbatical soos die Super-Christene dit noem. Nie heeltemal so rustig nie, want ek was net semi-sabbaties. Ek het nie groot skryfwerke aangepak nie – net die jaarlikse drama by die kerk (King David and his eight Wives, 'n rolprent vir ’n vriend van my: The Nazarite (oor Simson) en die kinderkerk se weeklikse lesse wat ek self skryf en wat oor elke Bybelboek gaan... en o-ja, die e-jongspan stories vir die ekerk webkerk van Prof Stephan Joubert. Sien, ek was rustig. Ja ek het begin skryf aan ’n boek... niks belangriks nie . . . net 'n storie oor ’n internasionale semi-Christelike kerk wat bo blink en onder stink en mense vermoor en regeer so onder die radar . . . en ’n Bybelsmokkelaar wat hulle aan die kaak moet stel en 'n . . . Nee, niks . . . NIKS. . . groot stories vir Hollywood of drome dat my boek deur ’n agent opgeraap gaan word nie of dat 'n uitgewer uit Engeland my een nag gaan bel as ek lekker slaap nie. . . Bliep-bliep – dis my ‘silent alarm’ dat ek moet terugkom aarde toe, na die realiteit van ma-wees en mev. Doeminie wees in Hartbeespoort. Hier is die plek waar mense doodgaan, siek word en in ellende verkeer rondom my, 'n plek vanwaar ek nooit sal ontsnap nie, 'n plek waar my wortels stewig lê. Dis die realiteit. Nie Hollywood nie. 
(Op die foto is my breingestremde seun, Sean-Jacques en sy fantastiese terapeut, Yolanda, by die Kuierkidz leersentrum.)
     Now having said that: Met 'n breingestremde 19jarige in die huis wat die breinkapasiteit en emosies van 'n 3-jarige het, is daar nie plek vir my kop om Hollywood toe te staan nie. My siel drup-drup wel kwylend as ek Michael Flatley se Riverdance of Feet of flames op televisie sien, of enige rolprent waar die spelers 'n Ierse of Skotse aksent het. . . want om een of ander rede wil ek berzerk raak net deur aan Ierland of Skotland te dink . . . wat is fout met my? Dis of daar tienduisend klein demoontjies of ‘leperchaurns’ opspring in my en my kop en hart uitmekaar uit ruk as ek net hieraan dink... ek klap hulle dan met 'n harde realiteits-‘check’ plat en uit my lewe uit en gaan aan met my alledaagse take: kosmaak, doek skoonmaak (want Sean is nog op doeke omdat hy eenvoudig nie die bollie-ding in die toilet verstaan nie), ry kinders skool toe, ry kinders na dans-aksies, skoolfunksies of haarskou-aksies of redenaars of wat ook al rond. Onthou daai storie wat party van ons op skool vir 'n voorgeskrewe werk gehad het: Andries, die verdomde robot? ... Aanhou beweeg en geraas maak, Andries, dit is die sin van die lewe . .  (Dit voel partykeer so!). Maar verlede jaar het 'n ding my oudste dogter begin onderkry... 'n ding wat ek geen beheer oor het nie, en sy ook nie. . . Eers meer oor my dogters: 

Dis baie uitdagend om 2 pragtige, talentvolle, kreatiewe dog hormonale dogters te hê. Dis meer uitdagend as om 'n breingestremde 3jarige tiener te hê - vir my. Sean is rustig, praterig, lomperig, liefdevol, passievol oor ander mense (dit sien mens in die paniekerige uitdrukking in elke mens in die dorp se oë as hy hul oor-vriendelik groet en wil soen of druk). Sean is my vrolike lot op aarde. Ek het lankal daarmee vrede gemaak dat hy soos my ‘happy’ Siamese tweeling met my gaan wees solank ek of hy lewe. Gelukkig is hy happy. Altyd. Hy verstaan mos nie ongeluk, probleme of drome nie. Hy is die een wat my nederig hou, wat my laat besef dat droom vir ander oulike mense beskore is. Hy laat my besef dat die realiteit (soos 'n vrot doek in jou gesig) jou anker op 'n veilige roetine plek waar drome ruik soos stront en in die toilet afspoel soos ... ja-wel, daardie einste drol.
     Maar voor my alterego, Gielie Galbraak, haar sê inkry, laat ek net my realiteit bietjie opvrolik. My man, Anton is mos dominee. Ek het ook al vrede gemaak dat ons, willens of wetens, deel is van 'n gebroke wêreld waar ellende soos riool uitspoel orals in die strate en ook in ons mooi dam hier op Hartbeespoort. En dit loop: dik en drillend duidelik uit die huise van ryk en arm. Van Skotstraat doerbo in Schoemansville wat so van ver uitkyk oor die dam, tot in die Popo Molefe plakkerskamp hier oorkant ons plot. Niemand word ellende gespaar nie. Selfmoord, kanker, armoede, verkragting, verwerping, egskeiding, verslawing en beskindering: dis deel van elkeen. Dis veral deel van 'n dominee se huishouding, want as dit jou mense raak, dan raak dit jou en jou gesinslede. My man is ’n baie goeie berader en kan oplossings uitdink so vinnig soos die riool uitloop in die dam. Maar juis daarom moet ek redelik altyd my eie oordramatiese gevoelens en derm-uitrygende worries eenkant toe skuif, want dit kan te veel raak vir hom. Dis iets waarmee ek moes vrede maak. Dis waarom ek ook my antidepressante daagliks drink, want ek kan sowaar nie met die Bybel alleen onder my arm, my weghol emosies en verbeelding, heeltyd kalm hou of aan my man ontbloot nie. Dit plaas hom onder geweldige spanning. Ek bedoel, dit plaas my onder geweldige spanning om die goed te droom en uit te dink, en dit plaas dan almal om my onder spanning. Dis soos 'n wegholperd as ek dit nie beheer nie. En 'n ma moet kalm wees. Te alle tye. Vir die behoud van die gesin.
     Gelukkig het ek goeie vriendinne ('n malle, 'n rustige, 'n suksesvolle, 'n kunstige, 'n terapeutiese en 'n eksotiese) wat met groot oë en die regte geluide na al my verwonde drome en bloedvergietende verhale luister - en sterk koffie skink sodat ek my trane daarin kan verdrink. Maar dan het ek ook twee pragtige tienerdogters wat my weer van voor af laat drome droom: vir hulle (maar dit doen ek saggies - versigtig soos 'n skoenlapper fluistering, want nooit wil ek op hul die las van te groot drome plaas nie). Hulle kan natuurlik droom. Hulle eie drome op hul eie tyd. (Op die foto is Chantal, ons veertienjarige dogter in 2012)
     Ek wou eintlik oor dié twee wondermensies praat wat te midde van hul eie demone en hormone, ook deel is van die probleme en realiteite van 'n predikantshuis - en nog 'n huis met 'n gestremde in, daar is dus ellende van alle kante, maar ek dink tog die twee dogters van ons oorleef tans nog al die aanslae... net-net: 
     Hier is hulle, ons twee dogters: Die mooie Michelle (17) die slim, kunssinige, kreatiewe modeontwerper met haar sagte gees en altyd vriendelike glimlag wat groot drome droom van die modehuise van Milaan, Parys en London; en die ewe mooie Chantal (14), die ewe slim, vurige, emosieryke volbloed aktrise met haar klein seerkry hartjie en groot aspirasies van Hollywood, Broadway en West-end. (Op die foto is Michelle tydens 'n Goldwell haarskou in 2012)
      Met twee sulke uiterste en passievolle dog hormonale siele in die huis, kan ek nie juis baie tyd spandeer aan my vergete drome nie. Hulle vol lewe hou my besig en jonk. Dis 'n wonderlike voorreg om hul te sien grootword: (as ek die beeld van wurmpies kan gebruik - ) om te sien hoe hulle van klein wurmpies ontwikkel en stewig toegespin in hul gekoesterde menswees (soos binne in 'n veilige kokon – hul ouerhuis) – hulself hierbinne rondwikkel, skop en stoei totdat hul self 'n opening uit die kokon krap en 'n stukkie van die toekomslig sien van waarheen hul oppad is. (Dit klink nou woes dramaties, maar byt vas . . )
     Ouers veg soms saam met hul kinders om die kokon oop te kry en te help ontdek waar die lig inkom. Dan stoei die skoenlappers verder en ontwikkel hul vlerkies en druk die koppies deur die gate en uit die kokon, pynlik maar dapper en uiteindelik druk hul lyfies en papgedrukte vlerkies deur en kan hul hul vlerkies saggies oopmaak, eers net klein en dan al hoe groter totdat hulle dit woes kan rondflap. Die nuwe vlerke klap 'n ouer seker maar dikwels in die gesig of onderstebo, want die passie en vreugde waarmee die nuwe skoenlapper haar vlerke bewonder en oopsprei, is selfs vir die skoenlapper self soms te oorweldigend. Sy stamp haarself ook soms in haar lompheid onderstebo. En dan is daar net een pad vorentoe: Daardie vlerke moet geoefen word. Soms wil mens die skoenlapper terugdruk in die kokon en haar beskerm, maar jy besef dat sy nooit weer terug gaan pas in daardie veilige boksie nie. Al wat oorbly is om die vlerke wyer en wyer te sprei totdat sy wegvlieg. Die groot wegvlieg lê voor vir my en ek wag met opgehoude asem daarvoor. Die dag as my twee mooi gekoesterde skoenlappers die wêreld invlieg en hul eie lewe gaan lei.
     Maar eers sit ons met die PROBLEEM wat iewers laasjaar aan my Michelle se kokon begin krap het:  Michelle is al ’n jaar kronies moeg en naar. Ek was al by al wat 'n dokter, homopaat en internis is. Nog net nie by 'n toordokter nie! Sy is net sonder energie en selfs bewerig – heeldag – en naar. Die rande vloei in daardie ewige rivier van doktersrekenings in en steeds is dit het einde niet. Ek betaal met ’n glimlag alles wat ons het aan dokters – as iets net wil help. En met my geskiedenis van dokters en homopate met ons breingestremde, is dit 'n woeste toets net om een van hierdie spesies te vertrou. Ten einde laaste is ons nou by 'n sielkundige. Ek wil nou dink dat die naar en moeg begin het na haar goeie vriend, Dean Steyn se dood in Mei 2011, want die simptome het net daarna begin. Post Traumatic Stress Disorder, noem die slimmes dit, maar selfs daaroor wonder ek: hierdie mensies kry lae bloeddruk, nagmerries oor die voorval wat stres veroorsaak, slegte nagrus, raak onsosiaal, ens ens, en niks hiervan is Michelle nie. Ek wil mal word. Ek bid vir haar. Erg. Daar was al iemand wat 'n duiwel wou uitbid en 'n ander het my vertel van heksery en wat als. Ek het haar al selfs beetgehad en enige toordery weggedryf! (Dis 'n hoofstuk op sy eie daardie, asof ek of sy so iets gewoond is!). (Op die foto is 'n vriendin Anastacia links, Michelle in die middel en Chantal regs tydens 'n Goldwell haarskou by Kuierkerk )
     Ek is so bekommerd oor Michelle se vreemde siekte-toestand maar kan niks vir haar doen nie. Nie Red-Bull of vitamien B-inspuitings help nie. Ons bid. Ons bid. Ons bid. Dis geen lewe vir ’n tiener nie. Tog bly sy vriendelik, aktief en sosiaal. Ek besef nou hoekom sy so aangedring het op homeschool vanaf middel verlede jaar. Die drie verdiepings trappe by die dorp se Hoërskool was daagliks te erg uitputtend vir haar. En dan nog die onuitputlike bron van onderwysers wat met alles foutvind, wat kleinlik die vensters van die klas toe hou as die kinders te veel praat om hul in 'n sauna-uitputtende omgewing te straf vir hul sondes. Of onderwysers wat heeldag teenoor die kinders kla oor hul eie onstabiele huislike en emosionele omstandighede of 'n onbevoegde onderwyseres wat glad nie in 'n klas hoort nie en soos 'n magsbehepte tiran die kinders uit haar klas laat vlug omdat sy net kans sien om 'n handjievol deur te vat matriek toe. Dit alles het Michelle totaal energieloos gelaat en ons moes haar inskryf by Impak tuisonderrig. Ek is nou bly hieroor want sy doen goed tuis met relatief min energie wat gemors word op iets anders as skoolwerk. Sy dans nog haar danse en neem orals deel aan sosiale geleenthede. Ek bid net dat sy gesond word. Wat ook al fout is. Sy steek haar siekte goed weg en niemand kom dit agter nie, behalwe ek. Sy leef haar uit in haar kuns en haar kreatiwiteit en haar droom is om in Kaapstad te studeer 'n internasionale modeontwerper te word.
     Chantal is 'n passievolle uitdaging op haar eie: Sy is tipies drama-Queen te hard op haarself en op haar toneelspel, dans, kleredrag, voorkoms en persoonlikheid. Ek bid dat sy balans sal vind in haar kreatiewe gees en haarself sal aanvaar vir die pragtige talentvolle meisie wat sy is. Sy het pas 5 voordrag/drama/gedig items gelewer op die Harties kunstefees en vir alles A++ gekry. Sy het my asem weggeslaan met haar voordrag en volwassenheid.
     Ek sien myself so 100% in hierdie twee dogters van my: ek sien elke swakheid maar ook elke sterkpunt van my wat hul by my geërf het. My swakhede is dalk hulle sterk punte en kan hul ander sterk punte net versterk. Ek sien ook Anton se intellek, sy passie vir mense, en al sy ander goeie en slegte eienskappe in hulle. Mag God alles van ons – sterk en swak – wat in hulle is, in een wonderlike toekoms vir hulle inweef sodat hulle skoenlappervlerke hulle nog ver oor die wêreld heen kan dra waar hulle 'n kleurvolle verskil gaan maak. 
     My gebed is dat God hulle sal bewaar terwyl hy hul drome waar maak en dat Hy hul sal laat sien hoe groot en wyd sy liefde en genade is vir hulle en vir ander. Ek bid dat hul 'n seën sal wees vir ander, orals waar hulle kom en dat hul God se genade en liefde ook aan ander sal oordra. Hierdie is dinge wat hul broer, in sy eenvoud en in sy gestremdheid alreeds ontdek het, maar dis iets wat 'n gesonde jongmens nog ver en wyd sal moet soek om te ontdek.   

No comments:

Post a Comment