Monday, March 24, 2025

Jeugroman: Tuimeltrein by IEB-skole voorgeskryf!

 Plaaslike skrywer se boek in skole voorgeskryf

13/02/2025

News (Kormorant) 

Plaaslike skrywer se boek in skole voorgeskryf – Kormorant

(Lees ook oor die jeugroman, Die monster in my melkskommel (René van Zyl), reg onder hierdie artikel.)

“Ek is baie opgewonde. Dit is ‘n eer wat min mense te beurt val, maar wanneer een mens in jou en jou boek glo, is dit al wat jy nodig het, sê René, wat in 2024 ‘n ATKV-Woordveertjie gewen het.

Haar jeugboek, Tuimeltrein, is vir graad-12 leerders (eerste addisionele taal, EAT) van IEB-skole (onafhanklike eksamenraad) voorgeskryf.

Tuimeltrein is reeds in sy tweede drukproses. “Dit is ‘n besondere groot voorreg,” sê sy. René skryf in verskillende genres, van samesweringsromans tot jeugboeke en romanse. Haar idee met die skryf van die boek was om tieners daarop voor te berei dat die hele lewe basies ‘n holderstebolder tuimeltreinrit is, nie net ‘n gemaklike en voorspoedige reis nie. “Daar sal hoogte- en laagtepunte wees, maar jy moet net vashou en die rit gate uit geniet. Die boek handel oor drie graad-11 leerders met niks in gemeen nie, maar wanneer hulle moet saamwerk aan ’n groeptaak en dan die ooggetuies is van ’n moord, word hulle saamgegooi op ’n wilde tuimeltreinrit. Sonder selfone en met niemand wat in hulle onskuld glo nie, moet hulle op mekaar staatmaak om te oorleef.”


Humor en spanning is vervleg om nog meer leesplesier te verskaf. Boonop speel die jeugroman in Hartbeespoort af en lesers sal die plekke wat daarin voorkom, herken. 

Volgens die bekende resensent, Anschen Conradie, is Tuimeltrein ‘n heerlike aweregse avontuurroman vir lesers van 14 jaar en ouer. “Ten spyte van die ligte aanslag lewer die roman kritiese sosiale kommentaar op die verhoudings tussen ouers en kinders, sowel as tussen tieners met uiteenlopende persoonlikhede en agtergronde, en ondersoek die basis van vertrouensverhoudings en selfaanvaarding teen die agtergrond van ‘n avontuur wat teen die tempo van ‘n tuimeltrein voortsnel. Elkeen van die drie hoofkarakters se perspektiewe word ‘n vertelruimte gegun en verseker sodoende dat die leser empatie met al drie ontwikkel – geeneen van hulle is ‘n individuele held nie, en hulle oorlewing is juis afhanklik van hulle samewerking.”

Daar word reeds beplan aan skoolopvoerings en onderwysershandleidings gebasseer op die jeugroman.

“Om te weet dat so baie tieners die boek uiteindelik gaan lees en dieper kwessies in klasverband sal bespreek, is enige skrywer se droom,” sê René.

Die boek wat reeds in sy tweede druk is, is beskikbaar by vooraanstaande boekwinkels asook by NB uitgewers.

********

DIE MONSTER IN MY MELKSKOMMEL 

(Vyf sterre gekry by #Uitdieperdsebek)

*Haar jeugboek by Lapa uitgewers, Die monster in my melkskommel, is in dieselfde jaar, 2023, uitgegee en is net so gewild onder tieners - en selfs hul ouers - die 'comic' prentjies wat op sekere bladsye verskyn verskaf aan die leser 'n lekker leeservaring en gee soms die idee dat 'n mens 'n strokiesverhaal lees. 

Hierdie verhaal vertel die storie van Lexi wat trauma moet hanteer nadat 'n inbreker haar gesin in die huis oorval het. Lexi se verbeelding ken geen perke nie terwyl sy probeer om die situasie te verwerk wat haar gesin met baie trauma gelaat het. Met humor, lekker aksietonele en 'n bietjie misterie lei René haar heldin om die situasie te kan hanteer.

#DieMonsterInMyMelkskommel – Renè van Zyl (Resensie deur Anschen Conradie) #Lapa

Monsters word nie afgeskud deur te vlug nie; hulle agtervolg jou, en herverskyn met triomfantlike verskrikking wat jou gewaande veiligheid op sy kop keer. 

Twee dae. Net twee dae na hulle aankoms in ‘n nuwe dorp om die trauma van ‘n zombie-aanval te ontvlug, verskyn daar sowaar weer ‘n monster in hulle tuin. Lexi sien hom; die 16-jarige wat haarself as hulle gesin se selfaangestelde lyfwag in die geval van ‘n zombie-aanval sien. Haar gesinslede kan hulleself nie beskerm nie; nie ten tye van Die Insident nie, en ook nie daarna nie. haar pa bestuur ‘n belaglike pers tuk-tuk as ‘n buurtwaglid; haar ma is pilbedinges en sweef op ‘n pienk wolkie wanneer sy wel wakker is, en haar boetie, Jona, was nog altyd swygsaam en op die outisme-spektrum, maar het nou bykans opgehou praat en verskyn glad nie sonder sy wolfkeps en Supermanmantel nie. 

Daarom het Lexi haar apokalips-rugsak met ‘n flits, watersuiweringstablette, batterye, ruimtekomberse, en ‘n noodhulpkissie gereed onder haar bed; gaan sy skool toe met ‘n mes en pepersproei; luister nie meer musiek nie, sodat sy kan hoor as ‘n zombie haar bekruip, en maak nie eers haar oë toe onder gebed nie. Hulle veiligheid is haar verantwoordelikheid en sy bely: ‘Ek voel nêrens veilig nie.’ (37)

Wat op die oog af lyk soos ‘n variasie op die ‘Stranger Things’-tema, is inderwaarheid ‘n diep menslike en broodnodige roman vir jong volwassenes waarin die manifestasies van post traumatiese stres-sindroom ondersoek word. Lexi se pa openbaar reeds vroeg aan die leser dat Die Insident ‘n huisroof deur ‘n rower met ‘n zombie-masker was, maar Lexi se reis om die realiteit daarvan te aanvaar, is die hart van hierdie roman. 

Die erns van hierdie tragiese situasie word afgewissel met subtiele humor. Lexi skets graag die monsters in haar kop en die roman reflekteer haar vrese deur middel van illustrasies deur Anja Venter. Die keuse van eiename is eweneens vernuftig uitgeoefen; Lexi se van is die Ingrid Jonker-bekende Valkenburg, die invloedrykste gesin se van is Rijkmann, daar is ‘n sangoma genaamd Mama Muti, en die traumasensitiewe skool waarheen sy gestuur word, is Privaat Skool Ysterplaat, akroniem PSY.

Die roman is eietyds en uiters relevant in die huidige tyd en ruimte en word sterk aanbeveel vir lesers van veertien jaar en ouer, maar ook vir hulle ouers en onderwysers.

⭐️⭐️⭐️⭐️⭐️ #Uitdieperdsebek

********

Wee Monk's Tale, the Secret of Immortality

René van Zyl - 2012 (Youth/ Action/ Adventure)

(Contact me or buy on amazon as an eBook.)


A MYSTERY, A QUEST, A COUPLE OF GUTSY TEENAGERS AGAINST ALL ODDS 795 AD: A time of superstitious beliefs and dangerous forces. When Viking marauders burn the monastery on the Scottish Island, Iona, the orphaned Shaughn (14) is forced to flee the only home he ever knew in a desperate attempt to save a precious altar Bible. Not willing to be left behind, his cripple stepbrother Connor (14) (with grand illusions of becoming a knight) and Heather (13), a superstitious, streetwise gypsy girl, accompany him on the adventure of a lifetime. Hot on the heels of the relic follows the fierce Viking, Thorvald, who is convinced that the Bible contains a secret recipe (a potion for eternal life). The escaping teenagers are cast into every imaginable medieval drama, from a bewitched castle to an encounter with a nasty Druid and even weird


Parys Gazette: Boekpraatjie -René en Anton van Zyl (Motiveringssprekers/ Skrywers)







Oud-Parysenaar en haar teoloog man gesels oor beide se nuutste pennevrug.

October 6, 2022 Liezl Scheepers, Parys Gazette 

Een van haar getroue lesers noem haar die vroulike weergawe van die skrywer, Dan Brown, koning van samesweringsrillers. Dit is vir haar ʼn besondere groot kompliment, erken sy. Maar oud-Parysenaar René van Zyl se suksesverhaal as skrywer het begin toe News sy as tuisbly ma kreatief moes begin dink om te oorleef kort ná ʼn lewenskrisis, toe haar oudste seun as peuter met breinskade gelaat is. Met die bietjie vrye tyd wat sy gehad het, het sy haar in haar skryfwerk uitgeleef, en het in 2012 ’n kinderboek gepubliseer. Daarna het 12 romans gevolg wat sy deur Lapa Uitgewers uitgegee het. Maar dit is veral vir die samesweringsriller, Die Alfadokument wat deur Lapa se Wenkbrou-been uitgegee is, wat René bekendheid voor verwerf het. Haar nuutste samesweringsriller, Die Omegakomplot, volg op Die Alfadokument, en is pas uitgegee. 


Skrywer Zelda Bezuidenhout, self ook ’n Parysenaar, het in ’n boeiende gesprek met René en haar skrywersman, Anton, die vinger op die pols gesit oor beide se nuutste pennevrug, tydens ’n gesellige middag oor ’n glasie wyn by La Vie en Rose. René het as nooi Joubert diep spore in Parys se strate getrap toe haar pa, Josua Joubert as Landbouvoorligter hier gewerk het. Haar pa is later na Potchefstroom verplaas waar René skoolgegaan en BA Kommunikasiekunde studeer het. Sy en Zelda het mekaar in 2017 by ’n Slypskool in Potchefstroom ontmoet. Oor Omegakomplot René waarsku dat hierdie gatskop heldin, Michaela Cohen, in Die Omegakomplot, ʼn taai ratel is wat haar nie laat afskrik deur ʼn psigopatiese godsdiensleier wat die wêreld wil vernietig nie. In Die Omegakomplot ontlont geloof en waansin ’n dodelike tydbom en net twee mense kan die bloedbad keer. Michaela, oftewel, Kayla, is die onortodokse leier van ʼn internasionale Christen-organisasie. Sy en haar man, Josh, ʼn oudsoldaat, is die enigste mense wat deur die nuwe Babilon-orde se bose intensies sien. As jy die eerste boek, Die Alfadokument, gelees het, weet jy dat Kayla reeds met sakke vol emosionele bagasie van ʼn surrealistiese, sektariese kleintyd sit. Nagmerries hiervan en ook van haar vyf onmenslike jare in ʼn Thaise tronk, spook snags by haar. Asof dit nie genoeg is nie, staan ‘n reïnkarnasie van haar nagmerries kamma uit die graf op, en nou wil hy haar kind gebruik in sy nuwe, berugte wêreldorde. 

Die gaste wat by René se onlangse boekbekendstelling was, is dit eens dat René, soos haar anderster heldin, uithouvermoë en vrouemoed het om so ʼn ingewikkelde tema aan te pak. Veral in ʼn tyd waarin misdaadromans die gewilde genre is. Nie net hanteer sy temas soos eindtyd-sameswerings nie, maar ook hedendaagse gevare soos virusse en psigopatiese leiers wat net in mag en geld belangstel, ongeag menselewens wat vernietig word. ʼn Leser het opgemerk dat hy veral beïndruk was met hoe sy die leser met Die Omegakomplot intrek in ʼn parallelle doolhof tussen fiksie en historiese feite. Asook hoe belangrike elemente van die vroegste beskawings sentraal aangewend word in die skep van ʼn fiktiewe, hedendaagse organisasie. Hy het ook genoem hoe René met deernis elke karakter se geloofsoortuiging, ambisie en emosionele veldslae in die boek hanteer. Ook Zelda se indrukke van Die Omegakomplot is dat René ’n verbeelde werklikheid skep wat rillings by die leser se ruggraat afstuur. Hoe ver is die mens bereid om te gaan wanneer hy of sy totaal magsbeheb word? “Die verhaal neem die leser op ’n wilde avontuur wat begin in Kaapstad en dan draai in Dubai en Kaïro. Ware feite oor die geskiedenis van verskillende gelowe is regdeur die roman verweef, en agterin die boek is daar insiggewende agtergrondnotas wat ’n ekstra dimensie aan die fiksionele verhaal gee.” “Soos alle skrywers, dink René ook aan Google as ‘haar beste pel’. Anton se kennis as teoloog was van onskatbare waarde toe sy feite oor geloofsgeskiedenis moes verifieer.” “René het ’n ryk verbeelding en skryf vreesloos en geloofwaardig oor uitdagende onderwerpe soos marteling, seks en verkragting. Die slegte ouens is régtig ontstellend sleg en die stryders van die goeie stryd het amper superhero-kwaliteite. Haar aksie- en ruimtebeskrywings is vol fyn detail en laat mens voel asof jy na ’n fliek kyk. Maak vas jou sitplekgordel, want daar is baie kinkels en draaie, en bitter min wat voorspel kan word,” skryf Zelda.

Van Kakiebos tot Kremetart Anton het as oud-Klerksdorper sy unieke lewensverhaal: Van Kakiebos tot Kremetart! gepubliseer As die seun van ’n myner pa het hy met ʼn skamele beurs en vakansiewerk op die myne, ingenieurswese in Potchefstroom gaan studeer. Kort na sy twee jaar in die weermag het hy by Yskor begin werk, en toe opgang gemaak as distriksingenieur in Eskom. Vinnig het hy sy eie konstruksiemaatskappy gestig, en vir Eskom hoogspanningslyne opgerig. Na sy seun, Sean-Jacques se virus-infeksie as peuter – en uiteindelike breinskade – het hy sy lewe drasties verander en op 40-jarige ouderdom voltyds Teologie op Tukkies gaan studeer. Vandag spog hy met ses grade, is hy ʼn predikant, Bybelkenner, entrepreneur, wêreldreisiger en skrywer. Tydens Covid-19 inperking skryf hy sy lewensverhaal – Van Kakiebos tot Kremetart. In die verhaal van sy holderstebolder lewe, en die soms té groot dinge wat hy al aangepak het, maar ook oor sy worstelings met sy lewe, sy soms té voortvarende persoonlikheid en sy God, lees jy ook iets van jou eie storie raak. Jou eie worstelinge. Dit is ’n gewone verhaal van wat gewone mense beleef. Anton self som dit raak op as hy sê – “dit is nie ’n hoofseun-boek nie. Dit is ’n lewensverhaal waarmee jy kan assosieer – met sy opdraandes en afdraandes om uiteindelik God se groter prentjie te sien waarvan jy net ’n klein deeltjie is. En uit hierdie raakplekke voel jy nie meer veroordeel nie. Sy storie is baie van ons se stories. Anton doen ook praatjies by mannekampe en kerke. 

Beide René en Anton se boeke, asook die skrywers Zelda Bezuidenhout en Leonard le Hanie se boeke is by La Vie en Rose in Parys beskikbaar. René en Zelda.