2021 is hopelik 'n beter jaar as 2020! Ja, ek weet ons moes almal n bietjie rus van onsself en die wêreld en die virus, maar nou kan ons hopelik weer n bietjie leef!
Sover kom daar twee van my Romanzas in 2021 uit:
(Beskikbaar by lapa.co.za - as boek of e-boek of by Graffitiboeke.com of Amazon.com)
LIEFDE IN DIE BOENDOES (Maart 2021)
Tydens ʼn werkekskursie na
Botswana moet die
bleeksiel joernalis, Jani Kleinhans, besluit of sy jag gaan
maak op die
aantreklike toergids, Ruan, wat haar emosies lelik deurmekaar
krap. Of moet sy liewer
veilig in haar groef bly en tevrede wees met die perfekte
lewensmaat wat tuis
vir haar wag? Daar is egter ʼn meer ervare broekjagter in die
geselskap, Tersia,
wat lyk of sy al die truuks ken om ʼn man te vang. Vraag is:
gaan sy Jani se
hand in die as slaan of gaan Jani genoeg waagmoed hê om te veg
vir wat sy wil hê? Verder is daar genoeg misverstande aan die
broei wat dreig om haar hele plan omver te werp en sy besef
dit nie eens nie.
STRANDWOLF (JUNIE/JULIE 2021)
Tala Robberts, met
haar donker hare, vreemde rituele en Rooi Indiaanse bloed,
vlug van vreeslike herinneringe en mense wat haar jongmenslewe
gesteel het. Sy land met haar vyfjarige seuntjie op ʼn
Wes-Kaapse stranddorpie, Strandloper, waar sy net alleen gelos
wil word. Die jong predikant op die dorp is gefassineer met
haar vreemdheid en spiritualiteit, terwyl ʼn regte
wildewragtig-strandloper haar nuuskierigheid aanwakker en haar
hart bokspronge laat maak. Voor sy haar kan keer, is sy stewig
gewikkel in almal se wel en weë en haar emosies is 'n
warboel. Watter keuse sal sy maak om vir haar en veral haar
seun die regte toekoms te verseker? Gaan sy die foute van die
verlede herhaal of gaan daardie verlede haar eendag inhaal?
En net miskien kom daar later vanjaar nog n Romanza uit... hou duim vas ...
en dalk nog n verrassing of twee..