Thursday, October 13, 2016

MEVROU DOEMINIE SE NUUTSTE WROEGINGS!

MEVROU DOEMINIE EN DAAI WEDUWEE

Daar is ’n weduwee in die Bybel wat vir my al jare se slapelose nagte besorg het.

Sy het mos aanhou karring aan ’n onregverdige regter om aan haar saak aandag te gee en dan word hy so moeg vir haar dat hy haar gee wat sy wil hê. Dis magic.
Jesus het mos doerie tyd vir ons die gelykenis vertel om duidelik te maak dat 'n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word. Jare gelede het ek hierdie storie vir myself gegryp en myne gemaak. Kyk, ek kan aan die Here karring soos daardie weduwee, want ek glo wat Hy sê: Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie? Sal Hy hulle lank laat wag? Hy sal hulle help, en gou ook! “Maar sal die Seun van die mens by sy koms nog geloof op die aarde vind?” (Luk. 18)
Ja, dis ek daardie, ek glo mos maklik die Here sal na my gebede en smekinge luister. As Hy nie luister nie, maak my eie verwagtinge my skoon depressief. Ek het al hierdie ding oor en oor beleef: gehuil, in ’n hopie van hartseer en depressie gaan sit en God bevraagteken as hy nie doen wat ek so mooi en aanhoudend vir hom vra nie. Edele gebede: vir my man, my kinders, vir die beswil van die mensdom, man, ek is nie net selfsugtig nie!
Ek glo as ek genoeg aan God karring, Hy die aarde sal beweeg om my gebed te verhoor. Hy kan mos. Ek wil so graag soms voel, die groot Regter het net my kant gekies. En as Hy sy eie plan het, voel dit of ek aan die agterspeen suig, nie belangrik genoeg is in God se oë nie, nie waardig genoeg nie. EK WEET dis nie so nie. EK WEET Hy wil alles vir my ten goede laat meewerk (Rom 8:28). EK WEET dit na jare se lewenservaring. Dit maak egter nie dat ek ophou karring en glo en bid nie. Soms is ek in die kol en Hy gee my daardie ekstra magic. 

                                            ----------------------------------

MEVROU DOEMINIE EN DIE VREDE-STELERS

So hier en daar, so nou en dan, dan kry jy dit: ’n mens wat positief en sonder kritiek of vooroordeel jou pad kruis.

Hoe lekker is dit nie? Soos warm sjokolade op ʼn koue reëndag of soos ʼn koffie melkskommel op ʼn kraai-gaap somerdag. As jy so een kry, troetel haar.
Dis mos deesdae met die facebookies, tweeties en wat’s-aap groepies maklik om kritiek te gee – sonder om jou brein in te span. JY is mos die alwetende, die enigste een met raad en insig. Dink asseblief voor jy jou vingers vryheid gee op daardie ‘reply’ knoppie. Jy ken NIE die hele situasie nie. Jy kán verkeerd wees. Jy ís nie noodwendig reg nie of jy hét nie die reg nie. Fokus daarop om positief en sonder vooroordeel te antwoord of LOS DIT. Moenie iemand skop wat reeds lê nie: Onthou, jou tong het mag oor lewe en dood. Moet om hemelsnaam nie ’n dweperige Jobstrooster wees nie! Ons aardlinge sukkel genoeg om deur ’n dag te kom, net om te oorleef tussen al die pyn, kritiek en negatiwiteit in die wêreld. Wees jy die een wat liefde spreek in ’n donker wêreld, die een wat vriende se besluite en menings respekteer. Hulle is al deur genoeg. Jy behoort te weet. Jý is al deur genoeg. DINK. Moenie iemand se kosbare vrede steel omdat jy ʼn ongevraagde, oningeligte mening het nie.
Lidi de Waal plaas op facebook opbouende, mensvriendelike gedigte met pragtige prente. Sien jou mede-aardlinge só, want dis hoe jy gesien wil word:   
na baie jare van leef
het ʼn mooigeit in jou kom lê
waarmee jy nie gebore is nie
die plooie om jou mond
is geskrifte van omgee en deernis
van opstaan en aangaan
jy ken verlies op sy naam
verraai en verlang ook
en struggle en suffer 
was vir lank jou companion
en nou het ʼn mooi in jou kom nesmaak
in jou oë in jou hande
in jou hele wese
want by alles ken jy ook nou 
uiteindelik vrede
(Ek vra mooi: Moenie hierdie brose vrede steel nie.)


                                                     -----------------------------------

Mevrou doeminie en die daggarokers.

Daggarokers, tronkvoëls, uit-die-kas-mense, depressielyers, opgeneukte predikantskinders en smartdeurdrenkte, misverstaande siele wat moeilike vrae vra, dis wie ek en my man as vriende reken.
Hierbo teen die Witteberg op Hartbeespoort waar ons bly, kom min gewone mense kuier – dit kan wees omdat ons as predikantspaar dalk gesien word as die tipiese ‘sondelose herders van God se kudde’ – regtig, ek sê sommer bl@ksem-tog as ek dit hoor. Ons het immers net soveel en meer sondes as enige ou. Die vriende wat ons aantrek, is vreemde mense. God stuur vir ons die interessante mense, die randfigure waarvoor die tradisionele kerk soms wegskram. Dis ook die rede waarom ons ʼn klompie jare gelede ʼn onafhanklike kerk begin het, Kuierkerk, juis vir die ‘uitgeworpenes’, die kerklos en kerkseer mense wat nie maklik in die gewone kerk aanvaar word nie, daar waar almal Sondae ekstra breed glimlag, hulle duurste klere aanhet en vroom voorkom voor die aangesig van die gemeenskap.
Ons vriende is mense wat deur die stelsel verniel is, soos predikantskinders wat in boksies gedruk is, van wie verwag is om sosiaal aanvaarbaar te wees, soos die kerk se norm dikwels voorskryf. Hulle is buite-die-boks denkers, sensitiewe kunstenaars, slim wetenskaplikes, kreatiewe denkers, rebelle wat die grense met mag verskuif, verveelde mense wat nie in die kerk kan stilsit nie, wat vir die predikant moeilike vrae vra, wat verskil van die amptelike siening van ’n kerk en wat ander lewenstyle het: vreemde, onnodig ‘moeilike’ mense: ‘Alien life forms’. ʼn Tradisionele predikant sê eenkeer vir my man (wat ʼn vernuwende, oopkop predikant is wat Jesus se genade en verlossingsdaad probeer verstaan):  ‘Die kerk is ʼn plek waar skape ʼn veilige tuiste het, dis nie ’n plek vir die wilde bokke wat kies om op die bergpieke rond te kerjakker nie.’ Ek en my man het toe besluit: ons sal die veilige, hawe wees vir die wilde bokke. Geen vooroordeel, net liefdevolle aanvaarding.  En wát ʼn interessante mallemeule-rit is dit nie om saam met die tollenaars, sondaars, post-moderne denkers/kunstenaars en suiplappe te kuier nie. God se genadige liefde sluit juis die wildsbokke in. 
______________________________________________________

MEVROU DOEMINIE OOR SEëN, SOEN EN SIEKTES.


’n Kinderpastoor vra eenkeer: hoe seën mens kinders, wie weet? En hy gryp ’n vierjarige kind voor in die kerk en druk hom vas en soen hom sommer orals - op die kop, wange en hande.

Dit was vir my so eenvoudig en mooi en ek het besluit om meer my eie kinders so te seën.
Dis mos die mooiste uiting van liefde en aanvaarding, is dit nie? Nou is my breingestremde seun, Sean, van 23 (met die verstand van ’n 3-jarige) se een missie in die lewe, om mense te seën: hy druk alle mense en soen hulle – op die wang, of nek, net waar hy bykom. By die kerk is hy die voorste groeter en die mense ken hom al goed – meeste gee nie om nie en aanvaar die oorvloedige seën uit sy eenvoudige siel.
Maar dan is daar mense, nogal ’n man wat ons goed ken, wat hom hardhandig wegstoot en sê: Nee, mans druk en soen nie, ons skud hand. (Die ou het nogal die meeste van almal liefde nodig as gevolg van ’n seer verlede.) Sean gee nie om nie. Hy skud hand en takel die volgende mens met sy liefde. Hy gee nie om of die ou wit, groen of swart is nie. Hy gee nie om of die ou Vigs, Ebola-virus of melaatsheid het nie. Hy seën met oorvloed, onvoorwaardelik, sonder voorbehoud. Dis al gawe wat hy het – hy kan nie juis praat of iets anders doen nie.
Vroeër jare sou ek nog probeer keer as iemand nou wragtig siek is, maar Sean beur voort. Nou los ek hom want God sal hom beskerm. Wie is ek om soveel seën van mense af weg te hou? Mense kreun onder die las van pyn, verdriet en eensaamheid. As daar iemand is wat onvoorwaardelik liefde wil uitdeel, hoe kan ek hom keer, of die ou wat vrees dat ’n man hom druk of soen? Aanvaar dit asseblief met oop arms. Jy het dit nodig. Ek het dit nodig. Sean deel net Jesus se volmaakte liefde uit aan ’n seer wêreld. 
______________________________________________________-

MEVROU DOEMINIE EN DIE AGTERGEBLEWENES

Ons maak lekker grappies oor vergeet en Alzheimer’s-light, net omdat ons breine lui en oorlaai is met nonsens van die televisie.

Ek het vandag gesien hoe erg dit is: Hoe mense wat wel met dementia-verwante kondisies sukkel, weggesluit word in ’n plek van sorg, want dis te moeilik om hiermee te deel. Ek en my man kuier by ’n voormalige dokter, ’n intelligente, gerespekteerde Christen sakeman, wat mense gedokter en ge-evangeliseer het. Hy bly in ’n klein studio-kamertjie by ’n sorgoord waar sy vrou met dementia in ’n ander hospitaalkamer versorg word.
Na ’n klein beroerte onthou hy ook nie meer lekker nie. Veral, onthou hy nie meer sy Bybelverse en -feite nie. Dit pla hom vreeslik. Hy wonder oor verdienste en Jesus se onvoorwaardelike liefde en redding want hy kan nie onthou wat die Bybel sê nie. Hy luister televisiepreke en verskillende denominasies verwar hom. Dis vir my angswekkend, iets wat ons as vanselfsprekend aanvaar, is vir hom van vooraf ’n krisis, want hy onthou nie wat Jesus gesê het nie. As ons na twee ure loop, huil hy van dankbaarheid oor die besoek.
Sy pragtige gryskopvroutjie is net ’n skaduweetjie, dementia het sy tol geëis. Sy sit in haar sorgoord-kamertjie met haar deurmekaar en onuitgesproke gedagtes, televisie is aan maar sy kyk nie. Die oom gaan kuier ’n paar keer ’n dag, maar die gesprek is eensydig. Middagetes sit twintig vroutjies om die etenstafel, nie honger nie, maar hulle moet eet. Hulle drink aan bekertjies met strooitjies wat ons vir ons eenjariges gee, want dis te moeilik om te drink. Weggooidoeke staan opgestapel op die trollie, met elkeen se naam opgeskryf. Iemand kom sing vir hulle, al die volksliedjies en party probeer saamsing of hande klap. Ander staar net. Soms kom doen iemand hulle tone en naels of versorg hul hare en dan lyk hulle soos hul ou self van buite. Hulle kort soveel liefde en menswaardigheid. Doen jou deel, gaan kuier, versorg of bederf iemand met Dementia. Wie weet, jy kan oor ’n paar jaar een van hierdie agtergeblewenes wees...
________________________________________________

MEVROU DOEMINIE EN DIE BLOEDSUIERS.

Ek is opgeskeep met 'n besondere beneukte, beduiwelde buurman wat as hy verby jou ry altyd soos 'n afgeleefde suurpruim lyk: fronsend, grommend en brommend.

Gister ry hy weer verby my. Ek glimlag van oor tot oor en waai, maar nee, meneer Pruim se lippe is teen die klippe. En ek wonder hoekom party mense so nors is.
Ekself het nou nie juis ʼn sprokieslewe nie, niks van happily-ever-after nie want gemors gebeur mos maar heeltyd en soms kom dit in donderbuie. Sommige ellendes gaan nooit weg nie en sit aan jou soos ʼn bloedsuier. (Selfs dit is blykbaar goed vir jou: dan maak jou liggaam vars, nuwe bloed).
Maar as ek nie bly glimlag nie, gaan ek ook heeldag lê en klippe kou. Ek het gaan google wat ’n glimlag nou juis vir jou doen: dit voorkom hartsiektes, maak dat jy beter slaap, dis ’n natuurlike pynverdower, help jou selfs gewig verloor, verminder stres en laat jou jonk lyk. Elke 15 sekondes wat jy lag, sit jy 2 dae by jou lewe! Boonop maak dit dat mense meer van jou hou en verbeter dit verhoudings.
Blykbaar, selfs as jy net maak of jy glimlag, trek daardie spiere saam en jou liggaam skei ‘happy hormone’ af. Gou-gou voel jy sommer beter. ’n Glimlag het dieselfde effek op jou liggaam as om sjokolade te eet (maar dis net gesonder!) – is dit nie al genoeg rede om te glimlag nie?
Die grootste waarheid is: ’n glimlag is aansteeklik. Jy kan iemand se dag opvrolik deur te glimlag – al voel jy nie self na glimlag nie – en op die ou einde is almal gelukkiger. Ek weet net nie hoe om dit vir die buurman te leer nie. Ek sal bly probeer.
Die Here het ons met so baie goed geseën, elkeen ’n rede om te glimlag. Kyk net om jou rond. Kom ons maak elke dag ’n ‘wêreld-glimlag-dag’ en ek is seker ons gaan ’n wêreldse verskil maak in mense se lewens en ons eie.
____________________________________________________

MEVROU DOEMINIE BESIN OOR MARTHA EN SUPERMAN!

’n Goeie vrou wag mooi aangetrek, sonder klagtes en ekstra vrolik vir haar manlief, met alle huiswerk afgehandel, kinders gebad/gevoer/tjoepstil en boonop met ’n koue drankie AS hy tuiskom, want hy mag mos sonder jou by sy vriende kuier so laat hy wil.
Hy werk hard en jy as onderdanige vrou, mag NOOIT sy integriteit of besluite bevraagteken nie. As hoof van die huis, moet sy wil geskied: hy is immers altyd regverdig en betroubaar. (Aldus: Housekeeping Monthly, 13 May 1955.)

1955. Ai, in ’n perfekte wêreld? Vandag se vrou moet dikwels werk (weg of tuis). Menige man verwag van haar om soos Supervrou hierbo op te tree. Oor niks te kla nie. Hom totaal te vertrou al bly hy saans hoe laat uit en kom hoe gesuip huis toe. Dis so van voor-Bybelse tye af. En dit terwyl niks van die onberispelike man verwag word nie. O ja, hy bring geld huis toe en hou dit soos ’n swaard oor haar kop.
Ek ken sulke mans wat dink hulle is die über-kroon van die skepping: Superman met bonatuurlike insig. Sy moet spring as hy praat, hom nooit bevraagteken nie en kos reg hê as hy honger is. Never mind die Bybel wat die man beveel om sy vrou lief te hê en te versorg soos sy eie liggaam (soos Jesus!) Dié man sal eerder meen die vrou moet hom respekteer al doen hy WAT. Hy hoef haar nooit te komplimenteer nie, of bederf of met huistake of kinders se skoolprogram by te staan nie. MAAR sy moet respek toon, spog met sy goeie kwaliteite en hom ophemel.
Indien nie, is sy ’n vrot vrou en poplap by die werk is anyway meer onderdanig en lieftallig. En bewonder vir Superman. Sy verdien dus meer aandag en geskenke. Ek wens party mans wil oor hulself kom. As jy respek wil hê, gee liefde, sê en doen mooi goed, waardeer die vrou wat alles vir jou en jou kinders gee: sy SAL jou outomaties respekteer (en jou diensbare Martha wees). Dankie, as jy só Jesus-man is.  
_________________________________________