Monday, September 12, 2016

EEN VOëL IN DIE HAND...

KORMORANT BLOG: 8 SEPTEMBER 2016
Een voël in die hand.

Ons mense ry so maklik deur ons dorp, elke dag dieselfde pad, dieselfde spitsverkeer, gooi petrol dieselfde plek in, koop takeaways by dieselfde plek. Dit voel later vir jou of die wêreld jou deur ’n drukgang druk waaruit jy net wil spring om te oorleef. Ek staan soos gewoonlik by die vulstasie, oop venster, wag, soos ’n voël op ’n tak dat die petroljoggie my motor volmaak. Hy lyk heel vrolik al het hy seker ’n laagbesoldigde beroep, werk lang ure en loop vêr om by die huis te kom, dink ek. Oorleef net.


’n Arend vlieg redelik laag in die lug rond, naby ons. Ek wys vir die petroljoggie die mooi voël. Hy is skielik nog vroliker. “Black-chested Snake eagle,”  sê hy.
“En hoe weet jy dit,” vra ek. “Is jy ’n voëlkyker?”
“Ja, ek het ’n voëlboek en werk aan ’n die lys voëls wat ek al gesien het.”
Ek is verbaas en beïndruk. Ek ken ryker voëlkykers wat vêr ry om sekere skaars voëls op te soek. Hierdie ou, in sy eenvoud loop werk toe en terug, deur die veld en sien dalk meer voëls as my vriend. Hy sal dalk nooit die skaarste voëlsoorte kan volg en bekyk nie, maar hy kyk. Hy het ’n stokperdjie en ’n boek. Dis meer as genoeg om jouself uit die drukgang te lig, dis meer as net oorlewing. Een voël in die hand is vir hom beslis meer as tien in die lug. Hy is tevrede; hy het ’n lysie.
Ek kyk met nuwe oë na die petroljoggie. Elkeen wat ’n mens se pad kruis het ’n storie wat jou sal verbaas. Vra mense rondom jou bietjie uit: in die ry by Spar, by die kitsbank, by die werk, gesels met almal om jou en elke dag gaan beslis interessanter uitdraai as gister. Of kry ’n stokperdjie. Dis klaar meer as net oorlewing. 

Sunday, September 11, 2016

MEV DOEMINIE EN MUISE EN SUPERMANNE

MEV. DOEMINIE BESIN OOR MARTHA EN SUPERMAN

’n Goeie vrou wag mooi aangetrek, sonder klagtes en ekstra vrolik vir haar manlief, met alle huiswerk afgehandel, kinders gebad/gevoer/tjoepstil en boonop met ’n koue drankie AS hy tuiskom, want hy mag mos sonder jou by sy vriende kuier so laat hy wil.

Hy werk hard en jy as onderdanige vrou, mag NOOIT sy integriteit of besluite bevraagteken nie. As hoof van die huis, moet sy wil geskied: hy is immers altyd regverdig en betroubaar. (Aldus: Housekeeping Monthly, 13 May 1955.)
1955. Ai, in ’n perfekte wêreld? Vandag se vrou moet dikwels werk (weg of tuis). Menige man verwag van haar om soos Supervrou hierbo op te tree. Oor niks te kla nie. Hom totaal te vertrou al bly hy saans hoe laat uit en kom hoe gesuip huis toe. Dis so van voor-Bybelse tye af. En dit terwyl niks van die onberispelike man verwag word nie. O ja, hy bring geld huis toe en hou dit soos ’n swaard oor haar kop.
Ek ken sulke mans wat dink hulle is die über-kroon van die skepping: Superman met bonatuurlike insig. Sy moet spring as hy praat, hom nooit bevraagteken nie en kos reg hê as hy honger is. Never mind die Bybel wat die man beveel om sy vrou lief te hê en te versorg soos sy eie liggaam (soos Jesus!) Dié man sal eerder meen die vrou moet hom respekteer al doen hy WAT. Hy hoef haar nooit te komplimenteer nie, of bederf of met huistake of kinders se skoolprogram by te staan nie. MAAR sy moet respek toon, spog met sy goeie kwaliteite en hom ophemel.
Indien nie, is sy ’n vrot vrou en poplap by die werk is anyway meer onderdanig en lieftallig. En bewonder vir Superman. Sy verdien dus meer aandag en geskenke. Ek wens party mans wil oor hulself kom. As jy respek wil hê, gee liefde, sê en doen mooi goed, waardeer die vrou wat alles vir jou en jou kinders gee: sy SAL jou outomaties respekteer (en jou diensbare Martha wees). Dankie, as jy só Jesus-man is.
                                                         
                                              ************************************


MEV. DOEMINIE WURG DAAI MUIS!


Watter muis? Die tandemuis? Mickey Muis? Die rekenaarmuis? Nee, man daardie verdekselse kerkmuis. Ek lees iets oor wat ’n mens genoegdoening en tevredenheid gee. En ek, as kerkmuis, ken die antwoord, maar as jy gewonder het, hier is ’n opsomming.

Mense hardloop blykbaar winkels toe as hulle beursies vol is. Elke aankoop maak jou gelukkiger, maar o, wee, na ’n paar dae is daardie plesierigheid wat jy gevoel het skoon weg. Wat gee mens dan aanhoudende gelukkige gevoelens? (Ek praat nou nie heeltemal net godsdiens nie.) Blykbaar is aanpassing die grootste probleem vir geluk. Sodra ons gewoond raak aan iets is ons nie meer gelukkig nie. Die vlak van plesier verdwyn na ’n ruk en ons word basies gedwing om verdere aankope te doen om net weer daardie plesier te smaak. ’n Bose kringloop dus. (Selfs in jou huwelik, as jy te gewoond raak aan mekaar of ‘die nuwigheid’?)
’n Slim professor het nou bewys dat ons dieselfde geluk ervaar wanneer ons op REIS gaan as wanneer ons iets nuuts koop. Waar die plesierige ervaring verdwyn nadat ons iets gekoop het, is dit nie so met reis nie. Die herinnering van die reis-ervaring voorsien ons permanent met ‘happy hormones”. ’n Nuwe motor, rok of gholfstel word baie gou net ’n gewone item, maar as ons unieke reise, geleenthede, selfs ekstreem sport aanpak of selfs nuwe vaardighede aanleer, is dit vir ons die ideale manier om gelukkig te wees. Elke nuwe herinnering word ’n bron van geluk wat jou bybly die res van jou lewe.
God het ons ’n wonderlike wêreld gegee om te ontdek. Hy gee ons boonop ’n huweliksmaat, gesin en vriende om saam met ons dit te ervaar. Ek as selferkende kerkmuis wil ’n permanente wêreldreisiger wees, maar het nie altyd geld nie. Hoe nou gemaak? Doen net iets. Moenie by die huis sit nie. Gaan kuier by vriende en familie op ver plekke. Hou piekniek. Besoek ander dorpe naby jou, stap ’n staproete, doen iets! Jy en jou huweliksmaat gaan soveel gelukkiger wees. Klim uit jou groef. Los die televisie en die winkels. Trek daardie tekkies aan. JUST DO IT!