MEVROUE DOEMINIE SPOEG LAWA!
Hemele behoed my, ek is so moedeloos met Christene wat die duiwel agter elke bos uitskop (nee, twee duiwels agter een bos).
Ek sien op facebook ’n video-uittreksel van ’n vulkaan op Hawai wat uitbars en die byskrif is “Smiling volcano”. As die helikopter oor die rokende gat van die vulkaan vlieg, lyk die gebrande area aan die binnekant soos ’n glimlaggende gesiggie. Ek glimlag want dis so oulik; die Here het die aarde darem wonderlik geskep en dan gee Hy ons nog ’n glimlag by iets wat so verwoestend kan wees.
Die kommentaar onderaan lees: “SJOE!” Of: “Wonderlik!” Of: “Mother Earth smiling!” En een antwoord daarop: “Of course! She finds herself able to dump her hot flash in the ocean!” En dan is daar die ewige doemprofete wat opmerk: “Of is dit die duiwel wat vir ons wink?” ’n Ander een sê: “Hell is calling!”
Kan ons Christene nie ten minste probeer om in ALLES God se grootheid te sien nie? Hoekom moet die duiwel soveel aansien en aandag kry? As ek byvoorbeeld ’n mooi Oosterse dans sien, dan sien ek die talent wat God die mens gegee het om ander mee te seën. Ek sien nie dat die dans vir ’n Oosterse God uitgewerk is nie. Is ek heeltemal stupiden naïef? As ek sien die skatryk Oprah (of ander bekendes) skenk ’n spul geld vir liefdadigheid, dan sien ek God se grootheid – dat hy enigeen se hart kan versag om ’n seën te wees. Die doemprofeet Christene sien haar as die anti-Chris wat ons oë wil verblind. Of die Illuminati wat probeer beheer kry.
Regtig man, begin die wêreld, selfs die minder mooi of suspisieuse dade van ander deur die kleurvolle bril van God bekyk. Hy is in beheer. Hy is immers die almagtige, die skepper van als, die een wat die mooi en die goeie geskep het. Sien Sy skepsels en Sy wêreld ’n slag vir die mooi wat dit is. AS jy dit nie dadelik sien nie, soek die mooie daarbinne. En vinnig-vinnig gaan jy God in alles sien.
MEVROU DOEMINIE EN DIE BUMPER STICKER CHRISTENE
Ou Gielie Galbraak hier binne my is weer op die oorlogspad: As jy nou 'n sticker op jou motor plak wat byvoorbeeld sê: ‘Die Here is my herder.’ Wat sê dit presies van JOU? O, beslis is jy 'n Christen.
Jy maak immers staat daarop dat God jou deur ’n bekende Bybelversie gaan beskerm en jy is nie skaam om te wys dat jy Jesus ken nie. Maar as jy so ’n statement maak, moet jy woord by daad voeg, of nie? Put your money where your mouth is?
’n Meneer-bumper-sticker-Christen jaag vanoggend woes met sy selfoon teen sy oor verby ’n spul motors wat in lyn wag by ’n stopstraat reg op my af wat van vooraf aankom, want hy is mos haastig, man. Hy gooi amper sy kar om en myne. Vyf minute later staan ek en wag dat ’n mevrou-bumper-sticker-Christen uit haar parkeerplek trek sodat ek kan inry. Geduldige karwag beduie vir haar om mooi uit te ry en keer my om verby te ry, want dis immers sy daaglikse werk. Sy ignoreer hom en jaag weg. Regtig, jy besit ’n duur motor en jy kan nie eens vir die karwag ’n rand of vyf gee nie? Hy probeer op ’n eerlike (EN ondankbare) manier geld verdien en sy gesin versorg. En glo my, ek weet, soos almal, uit ondervinding wat gebeur as daar nie ’n karwag is nie: Skelms vat jou motor of steel jou selfone, laptops, radio’s en wat als. Jesus gebruik immers ook die karwag om JOU te beskerm.
Ons moet mos Jesus se werk op aarde doen. As jy staatmaak op ‘Die Here is my Herder’se beskerming en versorging dan MOET jy dieselfde vir jou naaste doen. Dis al wat Jesus van jou verwag. God het immers lankal vir Abram die opdrag gegee: ‘Ek seën jou sodat jy ’n seën vir ander kan wees.’ Ek het niks teen bumper stickers nie. Maar as jy jou Christenskap adverteer, doen ’n slag die liefdeswerk wat ’n Christen moet doen. Dit geld vir ons almal – sticker of te not.
MEVROU DOMINIE DOEN MOOCHAS GRASSIAS!
Lippe teen die klippe! Dis hoe baie Suid-Afrikaners voel oor hierdie verkiesing – party wil nie stem nie, party wil die land verander of verlaat, maar mens hoor so baie kla-stories.
Dit werk nie, dat is stukkend, dit is fataal, dat is onmoontlik, die is hopeloos. Daai is flippen nog erger!
Mense trek mekaar in hierdie gat van hopeloosheid in. As jy jouself toelaat om te begin praat oor alles wat in ons land verkeerd is en wat die regering verkeerd doen en watter Minister weer bedrog gepleeg het, dan het jy binnekort die hele dorp negatief. En ek hoor slegte goed, hoor. Ek ken mos baie mense in staatsdienskantore wat suffer om te oorleef tussen al die korrupsie, so ek weet dit is alles waar en gebeur meer as wat ons dink.
Dan lees ek die stukkie van Nataniël wat iemand op Facebook geplaas het. En ek WEET dat ek WEET dat mens positief moet praat. Dankie sê, heeldag vir alles wat jy sien en nie sien nie.
“Kry elke dag iets om voor dankie te sê, al is dit die gang – wat jou yskas toe vat. Of jou nek wat keer dat jou kop op jou bors hang. En as jy nou wraggies niks het om voor dankie te sê nie, koop vir jou ’n hond en doop hom DANKIE sodat jy ’n paar keer per dag dankie sê.” (aldus Nataniël)
Dwing jouself, breinspoel jouself. Jy moet iets kry om voor dankie te sê, elke dag. En jy gaan begin om ’n positiewe mens te word wat ’n positiewe verskil in ander se lewens kan maak. Besluit om elke dag thanksgiving te hou. En vinnig-vinnig is dit ’n gewoonte en steek jy ander mense aan. God is ons hoop in hopelose omstandighede. Hy kan meer doen as wat ons kan bid of dink. Gee jy net liefde en ’n positiewe gees – God sal dinge verander.
MEVROU DOEMINIE EN DIE SUCKER PUNCH
Sucker Punch is wanneer ’n woeste hou jou uit die bloute tref. Dit gebeur orals met almal – en dis vrek seer.
’n Ou vriendin, ‘Santie’, vertel my hoe dit haar getref het, tussen die oë. Die een oomblik geniet sy nog (wat sy dink) ’n heerlike huwelik van 20-plus jare met haar beste vriend en sielsgenoot. Jare se sakke sout en suiker opgevreet, met die genade oorleef en gegroei.
Superwoman gewees en kinders en man bygestaan.
Toe verskyn ’n Poplap uit die dorre verlede en teiken haar man, gee hom skielik onvoorwaardelike liefde en aandag en ALS. Man kan dit nie weerstaan nie. Neem sy eie middeljarige lewe in oënskou en besef skielik: Ek het nooit reg gekies nie, nooit my vrou liefgehad nie, nooit besef wat’s liefde nie. Tot hiertoe, vertel hy sy vrou. Trane, berading, baklei, angs, vrees, woede, praat, praat, praat, smeek die Here vir hulp.
Die Here gryp in. Hierdie huwelik oorleef gelukkig. Poplap teiken ander mans. Ja, vertel Santie, die huwelik het seker so ’n regskud nodig gehad. Mens waardeer mekaar se gevoelens meer, doen weer moeite, spandeer tyd en wys meer liefde vir mekaar.
Maar te midde van positiewe gedagtes, sit Santie onbewustelik/bewustelik met daardie ewig knaende monster diep in haar siel: ONSEKERHEID. Gaan dit weer gebeur? Wanneer? Wanneer is sy WEER nie meer goed genoeg nie? Was haar man nie reg nie? Is hierdie huwelik die moeite werd om te red? Is dit, is dit nie? Sy pluk elke dag daai blommetjie se kleurvolle blaartjies stukkend om antwoorde te kry: He loves me, he loves me not?