As
mevrou Doeminie so donderstorm-stil raak, beteken dit net een ding: ek het tyd
vir myself en skryf ‘n muis uit ‘n gat uit of ‘n hond uit ‘n bos of ‘n voël uit
sy nes! Met ander woorde, dit gaan of baie goed met my sensitiewe siel, of ek
skryf om weg te probeer hol van een of ander moeilikheid en vermy mense. Dis
seker bietjie van altwee, want ek skryf lekker aan my nuwe boek, ‘n Afrikaanse
een (aksie/spanning) wat in Kaapstad begin en eindig maar wat eintlik gaan oor ‘n
Mega moderne new age kerk wat die wêreld oorneem en eintlik dans die duiwel
onder rond . . . hmmmmm ja, jy sal die boek moet koop. Daar is geheime, moorde,
raaisels, menseroof, verkragting, liefde, verraad en baie ander nonsens in wat
ek uit my eie vrot kop dink. Ek is so twee derdes weg en geniet elke sekond.
MAAR
dan is daar my pragtige dogter, Michelle wat steeds worstel met die vreemde
toestand van naar en moeg wees - al vir ‘n jaar lank. Langer. Dokters,
sielkundiges, elektroniese klankgolf en vibrasie en wat als terapeute, homopate
en Interniste speel raai-raai riepa en kyk wie kan die grootste rekening stuur.
En sy voel steeds so. En sy worstel deur gr. 11 want sy moet. Dit maak my
mal!!! Maar soos dit ‘n goeie vrou en ouer betaam mag jy nie te ontsteld
voorkom nie, want dan ontstig jy die Pax Romana (oftewel die beleid van vrede en geen
geweld en stoornisse) in die huis want jy as ma (en jy ALLEEN) bepaal die
gemoedstoestand in die huis . . . dis ‘n hoofstuk op sy eie en Gielie Galbraak,
my suurpruim alterego, kan baie hieroor sê.
Maar tussen al my skryf en kla deur gebeur interessante dinge wat nooit
met ander mense gebeur nie. Het jy al ‘n Franse Meesters Kunsuitstalling by die
Standard Bank Galery in Johannesburg bygewoon met jou dogters . . . en met jou
breingestremde 19jarige wat eintlik emosioneel 2 jaar oud is? (Dit gebeur net
omdat jy ‘n (dom?) goeie vrou is en liewer nie toelaat dat jou man op ‘n reëndag
jou einste gestremde kind saamsleep na ‘n veiling en ‘n potjiekos kompetisie
toe nie.) En jou goeie bediende is weg na ‘n begrafnis, en daarom is die klompie
van ons, vergesel deur my suster, Esme’, toe die middestad van Johannesburg in
op ‘n rëendag.
Eintlik
is ek ‘n baie dapper (of dom) mens, want ek dink ALTYD dat dit nie so erg gaan
wees as die prentjie wat ek vooraf in my kop het nie. En ek het ‘n goeie
verbeelding, maar ek dink altyd Sean gaan hom gedra en maklik saam met my
trappe op en af klim en mooi na al die prentjies kyk of by ‘n tafel sit, terwyl
ek kyk of nie die mense te erg gaan pla nie. Ek dink altyd so. Wanneer ek die
les gaan leer, weet die hemele alleen. So.... hier gaan ons. . . eers die
spanning van Johannesburg en ek wat van die platteland af kom. En reën. Ja,
danksy my man se goeie padkaart is ons uiteindelik daar. Parkeer. Hysbak,
dankie tog. Ingangsportaal, alles gaan goed. Ag tog . . . twee stelle trappe .
. . ons is bo met ‘n besondere gesteun en gesukkel (Sean kan loop maar nie
hardloop nie, hy kan ook nie trappe klim nie, nie sonder ‘n goeie
ondersteuningstelsel nie, en veral nie afklim nie en hy is langer as ek – darem
is ek dikker as hy en dus sterker, dink ek.)
Bo.
Ag hoe mooi! Die Franse meesters van die 20ste eeu wat die menslike liggaam
herontdek en beverf en als is te pragtig. Daar is GROOT name soos Matisse,
Monet, Renoir, Picasso, Grüber, en nog wat ek nie ken nie. Ons oeee en aaa oor
die balans, die kleur, die verfhale, die antieke rame, en is in vervoering.
Daar is ‘n jong bewonderenswaardige ma wat haar driejarige dogter na die
uitstalling gebring het en verduidelik vir haar elkeen se naam, tegniek en
styl. Te mooi . . .
BBBBIIIIIEEEEEEEPPPPPP! Skreeu ‘n alarm hier naby ons. Natuurlik is dit
toe my kind wat te na aan die skilderye getrap het, want hy wil my mos nou vir
die tannies wys daar is mooi mensies op die doeke. En as jy oor die masking
tape streep trap wat jou van die tydlose meesters skei, dan gaan alarms af!! En
die room van die elite van Johannesburg kyk almal in jou rigting asof jy
probeer het om ‘n kosbare kunswerk te steel of nog erger . . . aan dit te raak met
jou 21ste eeuse besmette vingers . . . of nog erger: as Sean daaraan raak met
sy vingers wat nou net in sy neus was . . . Nodeloos om te sê hoe die res van
ons oggend verloop het:
Matisse
. . .
Sean,
nie oor die streep nie!
Flippen
hel, Sean! Kyk vir die streep!
Jammer, die kind verstaan nie, sorry, he
doesn’t understand . . .
Renoir
. . .
Maaa!
Kyk vir Sean, hy gaan by die trappe afneuk!
Los
vir Sean, ek is sy ma! Gaan kyk op ‘n ander plek dan pla hy julle nie!
Picasso
. . . (nogal ‘n ou kleintjie . . . en net een van hom? Kaal tannie . . .
Sean,
moenie vat nie!
Biiieeeeppp!
Sean
los die security guard uit!
BBBIIIIEEEEP!
(almal kyk)
Sean!
Nie oor die streep nie!
Monet . . .
Sean, los die mense!
Ma!
Daar gaat hy streep toe!
BBBIIIEEEP! (almal kyk)
Los
die kind! Ek’s sy ma! Ek sal hom dophou!
O,
en hoekom is hy doer anderkant!
BBBIIIEEEPPP!! (Almal kyk)
Grüber
. . .
Sean,
Flippen hel, wil jy kar toe gaan?
Los
die tannie!
BIIIEEEPPP (almal kyk, o, die keer is die nie Sean nie, maar ‘n ou
tannie. Dankie tog!)
Roger
de la Fresnaye . . .
BIEEEPPP!
Jacques
Monore . . .
Sean,
kom sit hier! Los die mense!
Sean
wil jy huistoe gaan?
Verdomp! Kom ons gaan huistoe!
Maaaa . . . .
Oppas vir Sean by die trappe, ma!
Kom
Sean, sit, jy kan nie trappe klim nie! (Hy seil gewoonlik so by trappe af omdat
dit vir my te moeilik is om sy groot-kind-swaar gewig en ongebalanseerde lomp lyf
met die trappe af te help. Vele ongelukke het al amper so gebeur. . .)
Neeeeee! Klim! (dis Sean se harde stem, harder as die alarms – en nou
weier hy om te sit)
Ma, sit
langs hom op die trap dan sal hy sit. (Ma doen dit onder aanskouiing van die
room van die Johannesburgse Elite - Sean sit nie vandag nie. Hy wil staan en
afklim.)
Sean, sit verdomp (ek pluk hom af na sy boude toe)
Neeee!!
(ja, nou sit hy, en ek sleep hom aan die voete af met die eerste stel trappe)
Sean,
sit! (Hy pluk my aan my baadjie van my balans af)
(Vreemde vrou:) Are you allright?
Neeeeeee! (skree Sean, En ek voel ook : Neeeeee! Ek’s so nie orraait
nie, maar wil jy die hele storie hoor? Nee, ek dink nie so nie! Flippen hel,
los ons uit!)
Yes,
thank you. I am allright . . .
(En regop
is Sean en ek het nie genoeg krag om hom weer af te trek op sy boude nie. Ek
moet hom die tweede stel trappe laat afklim, sukkel, sukkel sukkel en dit neem
ure.) Ek bring jou nooit weer iewers heen nie! Stoute blerrie kind!
Boeta happy. Mamma kwaad . . .
Ja,
mamma moerig! Blerrie meisiekinders, pleks hulle op hul eie gaan skilderye kyk.
Nou probeer hulle ma wees vir die klein wetter. (Bla-bla-bal tot by die kar.)
(Nou:
almal moerig, slaan kardeure.)
Dis ‘n
verkorte weergawe van ‘n twee-uur lange kyk na skilderye in die Standard Bank
Kuns galery.
Kom by die huis. En my man kan nie verstaan
hoekom ek so dikbekkerig lyk nie. En ek kan nie te erg dikbek wees nie want ek
alleen moet die stemming in die huis bepaal: lig en happy verkieslik. Ek moet
my frustrasies terugbyt en my glimlag opsit. En dankie sê dat ek veilig in die
reën tuis is met my kinders en ek moet dankie sê dat ek wel na die 20ste eeuse
meesters kon gaan kyk in ons eie land skaars ‘n uur se ry van my huis af. En
dat my man my soveel vryheid gee om myself uit te leef. Ek bedoel, wie ken
julle wat hulle gesinne aan hierdie besondere kunsuitstalling blootgestel het?
My kinders is bevoorreg om ‘n ma te hê wat hulle aan kultuur blootstel. Verdomp
dankie.
(Op die foto is Michelle en Chantal my twee dogters tydens 'n danskonsert. Hulle moet ook maar op hul tande byt as Sean iewers saam met ons gaan, want dis 'n klein sirkus op sy eie.)
NASKRIF: Ek moet bylas dat ek vir Sean so twee weke gelede na die sirkus toe gevat het en dit het veel beter gegaan. Narre, poedels, ponies en sterkmanne wat swaar ysterballe ronddra is eerder sy koppie tee, al het hy die nar in die maag geboks toe die mannetjie hom kom kies het om saam te gaan optree . . . Ja, daar was al tye wat ek gedink het om vir Sean maar by die sirkus in te skryf . . . Of dalk moet ek self wegloop saam met die sirkus . . . o, nee, ek't vergeet! Ek het my eie sirkus tuis!