Saturday, November 5, 2011

DIE KROON VAN DIE SKEPPING...

Age restriction: 45. (Moenie lees as jy maklik ontsteld raak nie. Of gaan drink jou angspil en kom lees verder. Jy is gewaarsku.)

Mev Doeminie het mos nie baie te sê deesdae nie – net as ou Griekie Galbraak haar kop uitsteek – en hier steek sy nou haar kop uit en sy steek haar neus in ‘n ding waaroor niemand mag praat nie, want ons vroue is onderdanige wesens wat genadiglik deur ons mans ‘n skaflike lewe gegun word, solank ons nie te emosioneel of paranoïes voorkom nie en solank ons nie hulle wonderlike besluite en menings bevraagteken nie. In kort, ons vroue sal ‘n skaflike lewe en behandeling gegun word, solank ons nie ons eie mening of emosies wys nie, want sien, mans kan dit glad nie hanteer nie. As jou man anders is, is een van die volgende waar: 1. Hy is gay. 2. Hy is ‘n zombie. 3) Hy is 'n wonderwerk (en daarvan is min, vrek-bitter-min op aarde.) 4. Jou anti-depressante is te sterk en jy is dus ‘n zombie.

Ja, ek wil oor die kroon van die skepping praat: MANS. Kom ons besluit ek praat nie oor my eie man nie, maar oor die honderde mans wie se vrouens op anti-depressante is en wat die huweliksberaders se hoë rekenings maar so brom-brom betaal net om die ou “ball-and-chain” se

bek stil te hou. Ek is nie verniet mevrou doeminie nie: ek praat met vrouens en ek help partykeer stukke van hul waardigheid en frustrasies optel as hulle weereens in die grond in getrap is deur mnr. Eggenoot die GROTE wat die beuel blaas in die huis. Soms huil ons net saam, want daar is nie raad nie. Dis seker maar die straf van die vrou waarvan die Bybel praat daar in Genesis toe Eva mos vir die slang geluister het en toe verlei sy die arme Adam en so aan. Sien die Bybel praat heeltemal te min van die vrou wat met respek behandel moet word... o, ja, dit staan in Efesiers. In een hoofstuk. En o, ja, daar in 1 Korintiers 13 waar van die liefde gepraat word: maar ek dink die kleinskrif in Grieks sê dat hierdie hoofstuk spesifiek vir vroue geskryf is om aan hul mans onderdanig te wees. Want solank jou man gelukkig is, sal jy ‘n waardige lewe lei. Anders...

My eie dierbare pa was ‘n goeie staatsamptenaar wat in swart en wit konsepte geglo het. Hy was ‘n wonderlike pa en ons het nooit iets gekort nie, en hy was die baas in die huis. Sy woord was wet. My ma was ‘n wonderlike sagte huishoudster wat gedroom het van eksotiese vakansies en selfs net om meer by haar familie te kuier. Ons het hoofsaaklik by my pa se familie gekuier. My pa het ook die weeklikse inkopies gedoen want my ma was te spandabelrig volgens hom. Sy was. Geld het min vir haar beteken. Sy sou alles wat sy besit vir die bediende weggee of vir iemand wat sukkel. Haar hart was net te goed. Dit was ‘n groot rede vir geveg tussen hulle. Ek dink sy het groot drome gehad om dalk oorsee te gaan of meer met lekker vakansies. Hy was ‘n huishen en het sy sente omgedraai. Ons het een keer ‘n jaar heerlik vakansie gehou – maar dit was waar hy wou, onthou ek nou. Dit was maar die stoere Afrikaner ding. Vrouens moet in die kombuis besig wees, verkieslik swanger en verder kinders grootmaak. En veral moet hul nie spandabelrig wees nie. En ons kinders was heel gelukkig. Ons het lekker vakansie gehou en is goed versorg en min het ons geweet van drome of gevoelens wat nooit uitgeleef is nie. Ek het altyd geglo uit my hart dat ons nuwe generasie mense die huwelik anders benader. Die twee is spanmaats met gelyke regte en menings. Maar, vandag moet ek erken – met die hulp van Griekie Galbraak hierbinne my: dit is nie so nie.

Ek woon baie troues by. My man preek wonderlik motiverend vir die nuutgetroudes en vertel hulle onder andere: Die man en vrou is gelyke wesens, gelyk voor God. Ja, die man verlaat mos sy ouers daar in Genesis en hy en sy vrou is dan een. (Gelukkig is hierdie ‘n blog vir grootmense, daarom kan ek sê waar die ‘een’-storie inpas vir mans – en dit is uit en uit net my eie mening vandag, terwyl ek nou lekker benodderd is: dit is net ‘n seksding. Daar word mense glorieryk EEN en dis wonderlik, ja ek moet erken, maar nou is die moderne mens meer as net ‘n seksmasjien. Kan jy glo daar is emosies en gees by betrokke?)

Maar terug by die huweliksplegtigheid: In hierdie preke word gepraat van dinge wat man en vrou mekaar moet gun: 1. Wederkerigheid – doen aan die ander een wat jy aan jouself gedoen wil hê. 2. Gun mekaar ruimte om hulself te wees en hul droom uit te leef (en ou Griekie Galbraak wil byvoeg: probeer mekaar se droom verstaan en toon belangstelling daarin, al is die droom so belaglik en so groot dat niemand anders dit kan verstaan nie.) 3. Die huwelik is ‘n plek van veiligheid, waar albei partye moet voel dit is hul veilige plek teen die wêreld daarbuite en dat hul emosies veilig is daarbinne. (En ek wil byvoeg: hier moet jou mening ook veilig wees en aangehoor word sonder dat jy verskree word, omdat die ander party dink jy gaan nou direk teen sy wil en mening in. Waarom moet die man se wil altyd geskied? Gelyke partye? Bog. Wie is die beoordelaar van wie se mening reg is? Die man? Want natuurlik sal gedoen word wat die man goed dink, al verskil die vrou reëlreg van hom. Want sien, deur al die eeue heen, is die vrou as die onderdaan beskou en die man se besluite sal eerbiedig word. Ja, voorwaar gelyke partye. Een. Wonderlik. Al wat dit beteken is dat die vrou die dom enetjie is, die een wat geen behoorlike mening het nie, en veral moenie dink hulle het ‘n aanvoeling of intuisie vir dinge - wat mans nie het nie – nee dis ouvroustories. Terug kombuis toe met jou!)

Waar was ek laas. Kom ons kom terug by die huwelikspreek. Mans word in Efesiers genoem in die Griekse taal: die kop - die Kefale. Of so iets. Dit beteken hy is soos Jesus die inisieerder van die verhouding. Dit beteken blykbaar dat hy bepaal die rigting van die verhouding. Hy het dit begin soos Jesus sy gemeente (kerk) begin het, met woorde en dade wat vir die vrou aanneemlik was en wonderlik en so romanties, dat sy geval het vir hom. Hy kon van die begin af al sy emosies ‘overide’ en sy beste kant wys sodat jy dink hy is die wonderlikste ding op Gods aarde. En jy is soos klei in sy hande. Wat die preek verder vertel is dat die man die verhouding aan die gang hou met sy woorde en dade – so as daar ‘n probleem/onmin is, dan sal die man maklik sy gevoel kan overide en met sy mooi woorde en oulike dade die vrou se hart weer vermurwe en siedaar: sy is weer soos klei in sy hande. En ja, dit werk so. Want dis soos Christus en die kerk. Hy het dit lief – so baie – dat hy sy lewe daarvoor sal aflê. Mans kan dit blykbaar doen, want dis hul opdrag. Te goed om waar te wees. Te goed om waar te wees.

Dan kry ons vrou ook hul beurt: Die vrou word genoem in Grieks: die lyf - die Hipotaso. Sy is die hulp wat die man ondersteun. Die woord beteken sy is die paaltjies onder die jetty by die dam. Dit ondersteun as druk daarop toegepas word. Mans druk op ons en ons kan hul bystaan en ondersteun want ons is sterk, standvastig, betroubaar, diep geplant en ons kan storms hanteer. En die manier waarop hul ons behandel – soos Christus die kerk behandel – maak dat ons met al die liefde in ons hart hulle respekteer soos die gemeente vir Jesus respekteer. En die gevolg: die vrou gaan deur die dorp trippel van House of Coffees tot by Chameleon village en vir die ander vroue vertel hoe wonderlik is haar man want sy woorde en dade vermurwe ons harte. Sy dade gaan op haar lippe wees. Net soos die kerk Jesus se dade op hul lippe het.

Iets hier is nie haalbaar nie. Selfs my man sal in die preek vir die jong verliefdes sê dis moeilik haalbaar maar al hoe jy dit kan doen is om in Christus te bly en sy woorde en dade na te volg.... Wys my een huwelik waar dit so werk, asseblief. Die vrou kan in haar kannon in vir almal vertel hoe oulik haar man is en hoe wonderlik hy haar behandel, en sy kan vir haarself jok en dink dit gaan vanself regkom. Sy kan dalk vir hoeveel jare lank haarself bedrieg en dink hy gaan verander en haar begin in ag neem en haar mening begin respekteer, en haar drome respekteer en haar harde werk in en om die huis en die gesin respekteer, maar eendag gaan sy die waarheid moet erken. Dan kan sy of besluit die huwelik is dit werd want daar is meer goed as sleg in hierdie verhouding of sy kan landuit vlug. Dis die moeilikste besluit op aarde. Vra enige vrou wat al by daardie punt gekom het. Dié wat ly is die kinders. Manlief het vinnig ‘n ander pop wat hom verstaan en sy vloerlap sal wees. Party kry selfs ‘n Russiese vrou wat die vloere kan was en skoongeskrop in die bed wag.

Die vrouens wat ek mee praat, dié wat deur hul mans vertrap, verneuk en verskree word, het nog nooit hierdie euforie van ‘n verhouding beleef waar albei partye gelyk is nie. Ek is jammer maar ou Griekie Galbraak hierbinne in my is dik in die wange vandag. Sy braak erg gal. Die meeste vroue staan by hul mans deur dik en dun: Deur mans se besluite wat hul lewe opmors en met tye wel ook opbou. Hoeveel vroue wat ek ken se mans het hul erfporsies, hul opgeboude sakeryke of hul goeie lewe opgemors as gevolg van drank- of ander misbruike. Ek kan hoeveel name opnoem. Oud en jonk. En hoeveel vroue staan maar by die man, want ja, ons is mos die hulp wat by hul pas.

Ja, sal party mans redeneer. Hulle werk hul gatte af vir die wonderlike gesin en wat kry hulle: net ‘n gemoan. Nee, ek ken nie ‘n man wat sy gat af werk vir sy gesin nie. Hy doen dit vir homself, sy speelgoed en sy eie selfbeeld. As ek verkeerd is, los maar ’n vieslike boodskap. Ek praat van huwelike wat ek ken. Ek moet darem hier vir my man intree. Hy gee nie om vir geld nie. Hy sal dit weggee of afskryf ter wille van vrede. Hy doen hoeveel goed gratis vir mense. Hy sal dit ook doen ten koste van sy gesin; so min voel hy vir geld. Ons het deur al ons ellende en besighede verloor en sy voltydse studies, nog nooit honger gaan slaap nie. Ek dank die Here daarvoor.

Dan kry jy mans wat hul vrouens afpers met geld en die geld hanteer asof dit hul eie is. Jou vrou gee haar alles vir jou en die gesin. Sy offer haar drome, haar liggaam en haar emosies op om die groot geldheer te dien, en hy dink dit is SY GELD? Mag God hierdie mans genadig wees. Ek het die grootste afsku in hierdie mans. Dis net nog ‘n teken dat hul niks verstaan van die huwelik nie. Ek kry hierdie vroue jammer uit my hart. Een van hulle vertel my dat haar man haar nie ‘n sent meer as ‘n klein toelaag gee nie om die hele huishouding te beheer, en as sy nie uitkom met die geld nie, is die hel los. Sy word selfs gestraf as sy hom teëgaan, dan gee hy nie geld nie en sy moet

sien kom klaar. Maar hy, hy sit voor in die kerk en die vergaderings en sal haar selfs doktershulp weerhou as sy iets makeer om haar te straf. Dit walg my. En die groot grap is dit – die kinders glo dat hy reg is want oor die jare is hul so ge-brainwash dat van die ma niks oorgebly het as ‘n hopie hopeloosheid nie. Geen selfbeeld, geen droom en geen selfrespek nie. Sjoe, dit vat nou 'n MAN om dit reg te kry.

En die groot grap is dit. Hierdie situasie gaan nie verander nie. Nie al die preke in die wêreld of al die jare wat ons verwyderd is van die Ou Testament se tyd nie – toe is vroue mos gesien as op dieselfde vlak as ‘n hond. ‘n Hond het nie ‘n mening nie, wys nie emosie nie, behalwe as die baas op die werf kom en hy sy stert moet swaai en huppel van plesier. Die man was mos alles in daardie tyd. Wel, ek neem aan mans moes toe die gesin beskerm teen die vyand en het bietjie respek verdien. Hoe verdien hul vandag respek? Suip in die kroeg? Slaan hul vrouens, verneuk hul vrouens, verskree hul vrouens, neem niemand anders in ag behalwe hul eie begeertes en mening nie? Ek ken nie baie mans vir wie ek respek het nie. Dalk kan ek hul op een hand tel. Sean, my breingestremde seun, is een van hulle. Hy verstaan iets van 1 Korintiërs 13. Hier haal ek so stuk stuk aan uit die Bybel@kinders van Hennie Stander:

“Die heel belangrikste ding wat ons moet doen, is om mekaar leif te hê. Dalk dink ek dat ek darem maar oulik is omdat ek ‘n klomp verskillende tale kan praat, maar as ek nie vir ander mense liefhet nie, beteken al hierdie dinge absoluut niks nie. Dalk preek ek baie mooi, of dalk verstaan ek God se geheime beter as enigiemand anders in die hele wereld, dalk ken ek die bybel van voor tot agter uit my kop uit, dalk kan ek met behulp van God dinge doen wat geen gewone mens kan doen nie. dit maak nie saak of ek al die wonderlike dinge kan doen nie. As ek nie vir mense liefhet nie, dan beteken al hierdie dinge niks nie.... Sê nou ek gee al my geld en al my klere weg vir mense wat dit nodig het, en sê nou mense maak my dood omdat ek Jesus se kind is, maar dit gaan nog steeds niks beteken as ek nie vir ander mense lief is nie. As ‘n mens regtig lief is vir Jesus en vir mense dan:

Sal jy nie lelik wees met iemand wat vir almal ‘n pyn gee nie; sal jy altyd gaaf wees met mense; sal dit nie vir jou sleg wees as ander mense dinge het wat jy nie het nie; sal jy nie oor jouself loop en praat nie; sal jy nie dink dat jy darem baie belangrik is nie; sal jy nie met ander mense lelik maak nie; sal jy nie altyd net aan jouself dink nie; sal jy nie oor elke ding kwaad raak en dan net wil stry of baklei nie; sal jy nie altyd terugdink aan wat ander verkeerd teen jou gedoen het nie.... Mens wat ander liefhet sal altyd probeer om hulle te beskerm, hulle sal ook altyd net die mooiste dinge van ander mense glo. Hulle is altyd seker dat ander mense net mooi dinge sal doen. ... ens.

....En natuurlik is die belangrikste dinge dat ons aan God bly vashou (geloof);... dan moet ons glo dat God alles vir ons gaan gee wat hy belowe het (hoop)... en ons moet natuurlik vir God en alle mense lief wees – dis die belangrikste.... (liefde)”

Ek neem aan ons gaan tot ons dood maar kyk in daardie spiëel wat ‘n raaisel is, want antwoorde en oplossings gaan ons nie kry nie. Ons moet maar net aanvaar dat die liefde bedek alles, glo alles en verdra alles. Dit is iets wat meeste van ons vrouens seker in ons leeftyd leer verstaan. Want dis moeilik om mans aldag te verstaan of lief te hê. Dis seker hoekom God ons gemaak het: om ‘n hulp te wees wat by hul pas. En dis hoekom Hy net gevra het om hul te respekteer en nie om hul lief te hê nie!!! (Grappie...) Hulle word wel gevra om ons lief te hê - soos hul eie liggaam!

Ek neem aan dat as enige man hier lees, sy eerste reaksie nie sal wees: “Dankie, Here, hier is waarheid in hierdie onsamehangende gekyf hierbo: ek gaan nou na my vrou toe en ek gaan haar vasdruk en soen en vir haar vertel sy is die beste ding wat nog ooit met my gebeur het en ek sal van nou af haar mening en gevoelens in ag neem.” Nee, die gewone man se woorde sal eerder wees: “Ja, maar Here... hierdie vrou wat U my gegee het... dis mos haar skuld dat ek...” net soos wat Adam se woorde was toe hy en Eva oortree het. Watter man sal hier opstaan en sy vrou nou gaan soen en vashou en sê: “Ek waardeer jou. Ek neem jou gevoel in ag. Ek kan nie hierdie lewe leef sonder jou nie.” En ja, vra gerus om verskoning as jy haar tenagekom het. Sy moes al genoeg kere agter jou deur skoonmaak en jou gevoel in ag neem. Toe, wees ‘n man soos God jou opdrag gegee het! Dan sal jy dalk hierdie wonderlike vrou ontdek... in jou eie huis.

Ek dink: ons vrouens is nou eenmaal so geskep dat ons uitdagings kan hanteer, dat ons druk kan hanteer en dat ons vir iets wil sorg... selfs al is daardie iets dikwels ondankbaar en selfsugtig. Ons sal steeds daarvoor wil sorg. Het ek al dit voorheen genoem dat ek gehoor het dat die enigste ander persoon wat dieselfde naam gegee word as die Heilige Gees in Hebreeus, is die woord vrou: Hulp en Trooster. Dis wie ons is, of ons mans ons nou waardeer of nie.