Tuesday, June 7, 2011

'N HANDVOL VRESE, TITANIUM-SKROEWE EN PRINSE!

Hoofstuk 16. Dis nog steeds Mevrou Doeminie se Annus Horribilis wat klop: Ek onthou met angs my horribale Junie 2010: die groot rugoperasie wat my twaalfjarige dogter, Chantal, toe moes ondergaan. Dit was een van my pynlike groot vrese van 2010 wat ek aan die begin van my blog noem (Begin Januarie 2011). Ons kom agter hier teen begin 2010 dat haar rug lekker skeef begin trek. Sy is ‘n fikse dansertjie wat tot onlangs toe nog akrobaat truuks uitgehaal het met daardie einste skewe rug. Sy disko en bellydans en tap en ballet. Skoliosis, sê die Ortopeet en ons moet binne die volgende paar maande die operasie doen. Maklik: hulle sny haar rug oop, skroef met 18 titanium skroewe en nog ‘n lang stuk langs die ruggraat af, en haar rug is mooi reguit in plek in. Want die krom rug is iets soos 64 grade krom en gaan soos sy ouer word net krommer trek. Of so iets. Terwyl die dokter dit sê, spring al my hospitaal-‘triggers’ van die verlede in rat in en marsjeer oor my brose gemoed dat die bloed spat.
Ek wil in trane uitbars, my hare uitpluk en histeries in die hospitaalgange op en af hardloop en gil dat ek alle dokters wantrou en haat!! Maar ek moet kalm glimlag soos 'n goeie moeder sou en vir haar laat dink dit is 'n wonderlike ding wat haar gaan oorkom. Sy moet net nie my vrese aanvoel nie, want sy is die een met die woeste verbeelding wat 'n sonbesie in 'n alien spaceship kan omskep – of dan nou ‘n berg van 'n molshoop maak. (Wonder waar erf sy dit?)








(Op die foto is Chantal nou in Junie 2011 'n jaar na die operasie.)
Hospitale, dokters. Ons grootste nagmerrie. Ek kan op my een hand opnoem hoeveel familielede in hospitale gesterf het as gevolg van hospitale of dokters se nalatigheid. Ons 18jarige seun Sean-Jacques is op 15 maande met 'n koorstuipe opgeneem in Pietersburg in 'n hospitaal en is daar uit met ergere breinskade as gevolg van goeie dokters se nalatigheid (wat ons nooit ooit sal kan bewys nie). Ons gesonde kind se lewe is vernietig. Ons lewe is vernietig in daardie week. Ja, die Here het ons stukkie vir stukkie weer opgetel en ons leef. Maar dit is my ervaring van hospitale. Nou moet ek my gesonde meisiekind daar instuur. Wat gaan ek terugkry? En ek moet voor haar maak asof dit die natuurlikste en wonderlikste ding is wat sy ooit kan oorkom. Sy gaan 'n titanium rug kry. Maar haar rug pyn dan nie eers nie, wonder sy. Dit lyk nie vir haar so vreeslik krom nie.
En dit alles gebeur in die middel van 2010 terwyl my geloof aan 'n draadjie hang, geloof dat God vir 'n mens luister as jy bid. Dat God jou 'n vis gee as jy een vra en nie 'n slang nie. Dit voel teen hierdie tyd of ek met 'n paar slange in die hand staan. My London Boekskou en my soeke na 'n uitgewer wat Meimaand so geflop het toe die vuurspuwende berg in Ysland my lewe en my hoop en drome geskaak het – en dit na jare se diepsinnige gebed en gepleit by God om saam met my hier in te gaan en my reis en my boek te seën; en nog iets: hoeveel jare en maande bid ons vir die tradisionele kerk se vendetta teen my man, Anton, en ons gesin en dat God hul harte sal verander en versag en sal rede laat insien. (Ja, nou sien ons dat ons daar moes uit en ons eie kerk begin, maar toe was ons nog vas oortuig dat God ons paaie gaan gelykmaak en ek wou glo dat God ons pyn gaan minder maak en ons meer beskerm). Hierdie goed was te vars in my gemoed. Ons het in die vars varkmis gestaan, man, hoe kan jy nou rede sien? Ek sien steeds nie regtig rede nie en verstaan steeds nie hoe 'n groot God dink en doen nie.



(Die foto is van Chantal se rug met die titanium skroewe in.)
Hier stuur ek my kind in 'n hospitaal in sodat haar lewe vir 8 ure lank van 'n dokter se betroubaarheid afhang, want dit lyk toe nie vir my of God 'n hand bysit by ons groot krississe nie. Dinge het net te verkeerd geloop en te pynlik. Kyk, ek weet mos dat God by 'n mens is, of dinge goed of sleg gaan. Jy sal maar oorleef. Ons het 18 jaar van Sean-Jacques se breinskade oorleef. Jy dink mos jy gaan vrek van ellende en smart, maar elke dag staan jy maar weer van voor af op en God gee mens krag vir die dag of jy dit wil vat of nie. Sover het ons so val-val en opstaan deur ons lewe gekom, al klouende aan God. Wat ek wel geleer het, is dat God nie alles laat gebeur soos ons pleit nie. Hy is nie daar om ons lewe gemaklik te maak nie. Ons moet bid en vertrou dat Hy ons sal ophelp. En met 'n kind in die operasiesaal, is dit nie die tipe geloof wat 'n mens wil hê nie. Jy wil weet dat God sag en dierbaar is en al jou gebede verhoor soos jy vra, want sowaar, jy het nie krag vir nog 'n reuse krisis nie, veral nie in Junie 2010 nie!
En ja, ons het die dag oorleef. Met vriende soos Greame Peplar en Marinda van Zyl wat die hele dag saam met ons in die koffiewinkel van die hospitaal gesit het, en ons hande letterlik vasgehou het en nonsens saam met ons gepraat het totdat die kafeïene by ons ore uitgeloop het. En die feit dat niemand van die T-kerk eers die moeite gedoen het voor, tydens en na die operasie om vir ons te bel en moed in te praat of te bid nie, maak nie nou saak nie, maar dit was toe net nog 'n bewys dat daardie mense wat hulself ons vriende genoem het, niks vir ons voel nie. Ek bedoel, dis darem net goeie maniere om jou dominee en sy gesin wat deur die hel gaan, te ondersteun, of te maak of jy hul ondersteun? Toe nie. Dit was maar net nog 'n beplande manier van die groep bestuurspanlede om ons duidelik te laat verstaan: julle is nie ons energie werd nie. Verdwyn net voor ons oë. (Op die foto is Chantal -12 jaar oud - 'n paar pynlike dae na die operasie in haar stut.)



Kuierkerk se mense het ons geweldig ondersteun en bemoedig. Dankie tog daarvoor. En sowaar, God was goed vir ons. Hy het ons gebede verhoor en daardie muur saam met my oorgespring. Chantal was met pyne en pille binne 'n week by die huis, 5 cm langer en trots daarop, en met genade het sy die ses maande met die stut wat gevolg het, haarself rustig kon gedra en sy is nou piekfyn. Behalwe dat sy nie so heeltemal al haar hip-hop truuks regkry nie, maar sy speel hokkie, dans weer bellydans, disco en ballet en tap. Ons is so dankbaar. As ek kon kies watter gebed van 2010 verhoor moes word, dan was dit die een, die een wat te doen het met my kinders se gesondheid. Dankie Here daarvoor.



Ek het 2011 suutjies ingesluip met die wete dat ek nie meer groot verwagtings gaan hê nie. Dis maar 'n perd wat ek moet tem elke dag van my lewe, want my geaardheid is om groot te droom en groot te glo. Die groot-droom-ding is in 2010 grootliks uit my uit gemartel. Ek is nogal uitgewoed. Ek is uitgeput gedroom. Na my vriendin Glendine se seun so jonk dood is in Meimaand 2011, en my ander vriendin Linda skielik aan kanker dood is in dieselfde maand, het ek mos nou besef, ek is net hier om te troos en 'n seën te wees op hierdie aarde. Ja, ek kan maar my talent aanwend vir kinderkerkprogramme en stories vir die ekerk – klein goetertjies wat my besig hou en so ietsie hier en daar, maar solank ek fokus op my drome en my ambisie, is ek in my m**rin.
Of jy saam stem of nie. Dis die plek waar ek myself nou bevind. Enigiets wat jou energie en tyd so in beslag neem, hoe edel of hoe evangelies ook al, kan nie reg wees nie. Jy brand jouself uit. My kinders is gesond. Sean is happy. Almal is happy. Dus is ek ook happy.



Ja ek weet baie mense sal sê nou sal dinge gebeur as ek "let go and let God". Selfs dit het ek al jare gelede gedoen, weer geskryf aan nog goed, weer probeer, weer gebid, weer gedroom, want hoe lank kan mens nou sit en wag. Ek glo buitendien dat wag beteken jy bly besig met jou roeping terwyl jy wag. En die ding van wees positief, dis die geheim van als. Dink dit dan gebeur dit. Ja 'been there, done that for many many years; sometimes it works sometimes not.' Alles hang af van wat God wil doen. Wat Sy plan is. Geloof is seker om Sy plan te volg sonder vrae en verder besig te bly met jou roeping sodat ander geseën kan word. (Op die foto is ek en my breingestremde agtienjarige seun Sean in sy gewone goeie bui.)
Ek kyk vir my seun, Sean-Jacques, nou die dag in die kerk terwyl ons sing: My pa is die Koning en ek wil skielik huil. Ek smag na wat hy het. Hy gooi sy hande in die lug en lag en probeer selfs 'n woord of twee saamsing soos ‘Jou’ (want sien, hy kan nie juis praat nie) en ek dink: die lied is net vir Sean geskryf. Hy staan met beide voete op aarde en in God se koninkryk. Niks jaag hom nie. Hy vat elke dag soos dit kom en is happy. As jy hom vra hoe hy voel, sê hy: Happy. Hy het dit wat ons almal na smag: Vrede. Flippen vrede. Niks dryf hom behalwe liefde, vrede, geduld, en vriendelikheid nie. Hy ken nie oordeel, kerklike dogmatiek en tradisies, skynheiligheid, selfverwyt, drome, velkleur of skuldgevoelens nie. Hoe smag ons almal nie daarna nie.
Hier is Sean se lied: My Pa is die Koning
Jy glimlag so breed as jy my vriendelik groet,
Jy lyk tog so selfversekerd,
Met die wêreld aan jou voete,
Voel jy soos 'n reus, bly die lewe 'n fees,
As teespoed jou tref, dan skeel dit jou min,
Dit lyk of jy dans as jy loop, ek kon dit nooit verstaan nie,
Moes die antwoord hê toe hoor ek jou sê:
*My Pa is die Koning van die heelal jy weet, en kom wat wil ek sal dit nooit vergeet nie, die wind kan waai die berge kan val, Hy’t gesê Hy voorsien en Hy sal!
Ek’s die koning se kind, ja dit maak my 'n prins, my lewe is Christus, selfs die dood is 'n wins! Vir niks is ek bang nie, dit sê ek jou nou, my Pa is die Koning onthou.
Hoe moes ek nou voel, ek wens ek was jy maar eks net 'n gewone ou!
Dit klink so onregverdig om 'n Koning te hê vir wie jy Pa kan sê! Toe het jy my genooi en sê kom luister nou mooi: hoe kan jy so gou vergeet, ons is mede-erfgename;
Toe ek my kon kry, toe se jy vir my.
*Jou Pa is die Koning van die heelal jy weet, en kom wat wil jy sal dit nooit vergeet nie, die wind kan waai die berge kan val, Hy’t gesê Hy voorsien en Hy sal! Jy’s die koning se kind, ja dit maak jou 'n prins, jou lewe is Christus, selfs die dood is 'n wins! Vir niks is jy bang nie, dit sê ek jou nou, jou Pa is die Koning onthou.



Amen.