* Wenner ATKV-Woordveertjie 2024 (Romanse) * Wenner 2020 ROSA Imbali prys: skryf van Romanse. * Tuimeltrein jeugboek (NB) voorgeskryf vir gr. 12 - IEB skole/ AET vanaf 2026. * Wee Monk's Tale, the Secret of Immortality * Die Alfadokument (Wenkbrou) & Die Omegakomplot (Samesweringsrillers) * 16 Romanses (Lapa/PRH) * Die Monster in my Melkskommel (PRH) * Ontwerper: interaktiewe kinderkerkmateriaal Bybelboekwurm * Skrywer van 12+ musiekblyspele
Thursday, February 28, 2013
MEV DOEMINIE HAAL DIE KOERANT: NOORDWES BEELD!
Thursday, November 15, 2012
MEV. DOEMINIE SE ANNUS MIRABILIS!
1. Die vassit in Oslo, Noorweë, wat gemaak het dat ek die London Boekskou mis waar ek persoonlik my boek en draaiboek (na jare se werk en maande se bid en hoop) aan agente wou voorlê. En wat ek toe mis as gevolg van ‘n vulkaan en aswolk in Ysland. Dit sou die hoogtepunt wees van jare se swoeg en sweet.
2. ‘n Tradisionele kerk in ons dorp se leiers wat my predikantman en ons gesin wou vernietig met skynheilige planne en agterbakse verdagmaking. Die kerkmanne wat glo dat die Bestuur van die kerk die HOOGSTE GESAG in die Tradisionele kerk is en nie God self nie. Geheime kerkvergaderings en aksies teen ons gesin het gemaak dat ek gewonder het waar God inpas as mense se eie planne seevier. Onder hulle was goeie Christenvriende . . . wat ons met skynheilig glimlagte vertrap het.
3. My dogter Chantal moes ‘n groot rugoperasie kry. Na my ouers se dood in goeie dokters en hospitale se hande en my seun Sean-Jacques se swak behandeling in hospitale wat gelei het tot sy breinskade, het ek ‘n vrees vir die soort plekke. Ek is bang vir wat God beplan met haar en die operasie. My vrese en vertwyfeling oor of God regtig my gebede verhoor, maak my mal want baie goed in my geskiedenis bewys die teendeel. Ek was in ’n gat van vertwyfeling en wroeging, en ek is net eerlik. Al weet ek diep, diep, baie diep, binne in my dat God wel in beheer is... My Annus Horribilis 2010 sê anders!
4. Ek sukkel met mense vertrou, met kritiek hanteer elke keer wat ek my kop uitsteek met my skryfwerk (en so bietjie buite die boksie dink). Dit gebeur baie omdat ek gemeenskap musiekblyspele skryf - Bybelse verhale met moderne musiek, soos Abba, Celine Dion, Elvis en Queen. (Sies, mev. Doeminie, jy van alle mense kan mos nie so iets doen nie - ek bedoel - jy is tog MEV. DOEMINIE!). As jy dink Queen is nie uit die hel nie, wat van ons kinders? Sies, man.)
Die wonderwerk is dit: ek bly heeltyd
skryf en nuwe idees uitdink. Dis meer as wat baie ander mense kan sê, dié wat
slegs op hierdie aarde is om ander te kritiseer en te briek. Met die genade van
die Here hou ek aan glo in myself en my idees en ek bly my goed op grondvlak publiseer.
Ek bly glo in myself, ten spyte van alles. Ek bly glo dat God hiermee tevrede
is, al is dit op klein skaal. As ek met my prentjiebrein te groot begin droom,
slaan ek die gedagtes plat, voordat dit weer my lewe wil oorneem. Droom is
goed, maar soos alles, mag dit nie jou vrede en jou verhoudings beïnvloed nie.
Jou energie moet positief aangewend word, anders vernietig jy jouself en ander.
6. Ek moet doen wat ek kan om my gesondheid te hou sodat ek
vir my gesin iets kan beteken. Eet gesond, kry oefening, drink jou pille
(Homopaties of chemies) as jou liggaam dit nodig het. Alles kom uit God se hand
en het sy plek. Ek leef in God se vrede, maar ek drink my antidepressante en so
kan ek deel met ‘n senutergende mallemeule rit van ‘n lewe. Ek is dan ‘n beter
vrou en ma wat daagliks poef-onderbroeke takel sonder te veel gekerm! Saturday, October 20, 2012
MEVROU DOEMINIE SE KOP VOL BONT PRENTE!
Monday, September 17, 2012
RENOIR . . . MATISSE . . . PICASSO . . . FLIPPEN HEL, LOS!
Sunday, July 29, 2012
DEMONE, HORMONE EN TOORDOKTERS
Now having
said that: Met 'n
breingestremde 19jarige in die huis wat die breinkapasiteit en emosies van 'n
3-jarige het, is daar nie plek vir my kop om Hollywood toe te staan nie. My
siel drup-drup wel kwylend as ek Michael Flatley se Riverdance of Feet of
flames op televisie sien, of enige rolprent waar die spelers 'n Ierse of Skotse
aksent het. . . want om een of ander rede wil ek berzerk raak net deur aan
Ierland of Skotland te dink . . . wat is fout met my? Dis of daar tienduisend
klein demoontjies of ‘leperchaurns’ opspring in my en my kop en hart uitmekaar
uit ruk as ek net hieraan dink... ek klap hulle dan met 'n harde realiteits-‘check’
plat en uit my lewe uit en gaan aan met my alledaagse take: kosmaak, doek
skoonmaak (want Sean is nog op doeke omdat hy eenvoudig nie die bollie-ding in
die toilet verstaan nie), ry kinders skool toe, ry kinders na dans-aksies,
skoolfunksies of haarskou-aksies of redenaars of wat ook al rond. Onthou daai
storie wat party van ons op skool vir 'n voorgeskrewe werk gehad het: Andries, die verdomde robot? ... Aanhou
beweeg en geraas maak, Andries, dit is die sin van die lewe . . (Dit voel partykeer so!). Maar verlede jaar het 'n ding my oudste dogter begin onderkry... 'n ding wat ek geen beheer oor het nie, en sy ook nie. . . Eers meer oor my dogters:
Ek is so bekommerd oor Michelle se vreemde siekte-toestand maar kan niks vir haar doen nie. Nie Red-Bull of vitamien B-inspuitings help nie. Ons bid. Ons bid. Ons bid. Dis geen lewe
vir ’n tiener nie. Tog bly sy vriendelik, aktief en sosiaal. Ek besef nou hoekom sy so aangedring het op homeschool vanaf middel verlede jaar. Die drie verdiepings trappe by die dorp se Hoërskool was
daagliks te erg uitputtend vir haar. En dan nog die onuitputlike bron van onderwysers wat
met alles foutvind, wat kleinlik die vensters van die klas toe hou as die
kinders te veel praat om hul in 'n sauna-uitputtende omgewing te straf vir hul
sondes. Of onderwysers wat heeldag teenoor die kinders kla oor hul eie onstabiele
huislike en emosionele omstandighede of 'n onbevoegde onderwyseres wat glad nie
in 'n klas hoort nie en soos 'n magsbehepte tiran die kinders uit haar klas
laat vlug omdat sy net kans sien om 'n handjievol deur te vat matriek toe. Dit
alles het Michelle totaal energieloos gelaat en ons moes haar inskryf by Impak
tuisonderrig. Ek is nou bly hieroor want sy doen goed tuis met relatief min
energie wat gemors word op iets anders as skoolwerk. Sy dans nog haar danse en
neem orals deel aan sosiale geleenthede. Ek bid net dat sy gesond word. Wat ook
al fout is. Sy steek haar siekte goed weg en niemand kom dit agter nie, behalwe
ek. Sy leef haar uit in haar kuns en haar kreatiwiteit en haar droom is om in
Kaapstad te studeer 'n internasionale modeontwerper te word. My gebed is dat God hulle sal bewaar terwyl hy hul drome waar maak en dat Hy hul sal laat sien hoe groot en wyd sy liefde en genade is vir hulle en vir ander. Ek bid dat hul 'n seën sal wees vir ander, orals waar hulle kom en dat hul God se genade en liefde ook aan ander sal oordra. Hierdie is dinge wat hul broer, in sy eenvoud en in sy gestremdheid alreeds ontdek het, maar dis iets wat 'n gesonde jongmens nog ver en wyd sal moet soek om te ontdek.
Monday, June 11, 2012
Hoofstuk 29: MEV. DOEMINIE, GOLIAT EN DIE REUSE KONING!
So, gebeur dit
toe dat my vriendin – ook Rene’, se dogter, Doreen (of Dolla) einde verlede
jaar klaar drama studeer aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy is vars,
blond, bruisend van energie en vol idees. Sy gooi haar 30kg gewiggie by ons
span en sy bring met haar die entoesiasme wat soos ‘n golf oor die spelers
spoel. Met haar drama-kennis stoot sy almal in ‘n nuwe rigting en die oefening
begin. Ons veg en dreig wel om ‘n paar mansrolle vol te maak, want veral die
manne het maar vol lewens en werk laat. Maar ons kry ‘n paar nuwe gesigte en
die bal is aan die rol. En hy rol. En hy flippen rol! (OP DIE FOTO IS DAWID EN BATSEBA - LINKS - EN MY DOGTER MICHELLE REGS WAT DANS - TYDENS ONS MUSIEKBLYSPEL OOR DAWID)Dalk was die ge-droom van die groot droom om my draaiboek, Wee Monk's Tale, te kan verfilm in Ierland, of net dat 'n uitgewer die boek aanvaar, my Goliat. Die feit dat ek oor die obsessie van die droom gekom het, het ek my Goliat verslaan. God kan my steeds 'n reuse koning maak in die land van sy keuse, maar een wat nie naarstiglik al haar energie in 'n obsessie in voer nie. God sal die Goliat verslaan en die sukses bring wat hy dink nodig is. Ek hoef nie al my energie in te sit om by Goliat uit te kom nie. My energie moet gaan om elke dag 'n seën vir ander te wees: of dit nou my kinders, my man, my vriende of die gemeenskap is - en of dit nou ekself is. (Ek hoop dit maak sin vir iemand in die kuberruimte!)
My musiekblyspel
is ‘n seën vir my (en ander), al maak ek geen sent, soos gewoonlik, met dit nie. Die wins - as daar is gaan mos aan liefdadigheid. Dit bring
mense van verskillende kerke saam en bind hulle in hegte vriendskappe saam op ’n
plek waar dogma en mensgemaakte reëls terugstaan vir diensbaarheid en
liefdeswerk. Dis ‘n plek waar die Woord van God op ‘n gemaklike en genotvolle
teatermanier oorgedra word en waar die Gees vir mense Bybelse waarhede leer
sonder dat hulle dit eers besef. Dis ‘n plek waar ek sien hoe my storie ‘n lewe
kry en waar mense dit eenvoudig geniet. Al raak ek net 900 mense aan met ‘n lewensveranderende boodskap, is dit genoeg. Al raak ek net een aan. God is tevrede hiermee en Hy glimlag liefdevol vir my en vir elkeen wat deel was op welke manier ook al. Ek is trots op my mensies – van die beste sangers tot die hakkelendste akteurs wat ‘n hoofstuk in hul lewensverhaal kon byvoeg met hierdie hemelse ervaring. Ek is trots op my dogters wat saam met my hiervan deel kon wees. Die 14jarige Chantal (OP DIE FOTO LINKS) raak elke dag meer die aktrise wat sy wil wees en haar selfvertroue ken geen perke nie, danksy Dolla se nederige, diensbare, sexy voorbeeld en haar oneindige energie! Die 17jarige Michelle het hierdie jaar ingespring en haarself as ‘backstage manager’ aangestel. Sy organiseer en pak reg en hiet en gebied almal. Sy het selfs die mikrofoonruilings verfyn tot ‘n kuns. Ek is trots op my breingestremde seun, Sean, wat met hart en siel tydens die hele toneelstuk saampraat en dit uit sy hart geniet soos geen ander mens kan nadoen nie. Ek is trots op my man, wat net inval waar ek hom nodig het. Ek is trots op my. (OP DIE FOTO IS EK EN ANTON WAT MY BYSTAAN MET GEDULD MET AL MY DINGE)
Wednesday, February 15, 2012
MEV. DOEMINIE EN DIE POT AAN DIE EINDE VAN DIE REëNBOOGNASIE!
Mev. Doeminie met haar wroegings trek nou al by hoofstuk 28! Soos ek nou alreeds vasgestel het, het elke jaar maar genoeg Annus Horibilis in hom om ’n blog op sy eie te regverdig. So het ek dié jaar reeds genoeg emosionele houe in die maag gekry om enige tawwe bokser plat te trek in die kryt. Die diepste gat van my trauma vind ek in Brits, die ‘Social Services’ kantore langs Hagels. Nou laat ek Gielie Galbraak (my aggressiewe alterego) los. (Op die foto is 'n gewone dag by Social Services.)

(Ek wil byvoeg dat ek streng uit die oogpunt van ’n blanke semi-agtergeblewene vrou praat met ’n breingestremde kind wat nooit vir homself sal kan sorg nie en wat die breinkapasiteit van ’n driejarige het – ek kan my nie eers indink wat die res van die uitgeworpe agtergeblewene ellendige groep ander mense deurmaak wat ook daar sit nie – die wat met Taxi’s daar aangery word of nie eers geld het vir vervoer nie maar wat met rolstoele aangestoot word!)
Verlede jaar November het die horribale proses begin. Ek en my vriendin Lize wil vir ons breingestremde kinders wat nou al oor 18 is aansoek doen vir ongeskiktheidspensioen. Vroegoggend jaag ek en sy na die gewraakte kantore, ’n asemteug ver van die hel homself. Ons skuif van lank sit in eerste verdieping kantore na lang rye voor die gebou op die stoep, waar elke tipe mens sit van Aids-victims, boemeltipes tot sukkelende Suid-Afrikaners (wit en swart) want hierdie is die pot met geld aan die einde van die reënboognasie. Ek wil byvoeg, ek het nie gedink die pot lyk so nie – ek het meer ’n cute kabouter met ’n goue pot vol skatte in gedagte gehad. En as ek daar kom is ek die enigste een wat kabouter moet uitoorlê. En weghol met die skat. Toe nie. Daar sit ons uur na uur na uur. As een ou voor in die ry gehelp word, skuif die res van die bevolking een stoel vorentoe... stoel vir stoel. Sweterig, stinkerig, smeulend rustig. So nou en dan kom ’n suurgesig sosiale werker daar verby en dan skree sy iets wat klink soos ‘grienaiedie’. Na ons die stommes en dowes om ons met allerlei handgebare en ’n mengsel van Afrika tale gevra het wat aangaan kom ons agter die vrou soek die ‘green id’. Ke a le boga!
Lize is so verbouereerd met haar gebrekkige Noord-Kaap Engels dat sy nie eers die kind se greenaiedie daar het nie! Dis ’n ander lelike storie wat liefs nie hier in volle detail bespreek kan word nie!
Ek kan net sê eks bly dat ek vooraf ’n paar pakkies cheap koekies in my sak gegooi het vir tye soos hierdie... die Afrika manier van dinge doen: wees bonatuurlik vriendelik, nederig, vol komplimente en deel ’n presentjie uit hier en daar... so kry ons na ’n lang dag ’n afspraak vir die 1ste Februarie, met die verdere bonus dat ons hierdie spesiale kinders van ons moet saambring.
1 Februarie 2012:
07.30: Ons jaag Brits toe.
08.00 Ons arriveer: rye en rye en rye mense smeul alreeds met hul greenaiedies daar voor die kantoor.
08.05 Ons jaag terug Hartbeespoort toe: na House of Coffees. Die trauma is te erg.
10.00 Absa bank: bankrekenings vir die kinders want netnou jaag hulle ons weg as ons net daar aankom met ons greenaidies. Angs sit wit op ons gesigte. Wat kort ons nog? Ons het ons doktersbriewe, greenaiedies, bankrekeninge. Wat nog?
11.30 Jaag terug Brits toe.

12.00 Op met trappe met ons gestremde kinders na eerste verdieping waar die laaste slurpie van die ry sit (so 6 mense) en wag op beweging – van 08.00 die oggend af!! Sean doen nie die trappe ding goed nie – nie op nie en veral nie af nie, maar ons moet dit doen.
12.30 Af met trappe na GROOT wagkamer met baie stoele. Wag, wag wag en skuif op na volgende stoel elke keer wat iemand gehelp word. (Op die foto is Sean: soos altyd happy, selfs in die lang rye waar hy hom met sy lang arms besig hou met al die mense wat om hom sit.)
13.00 Ry beweeg nie. Etenstyd vir die amptenare. Lize se Amie wag soos ’n tere engel op haar stoel en skuif te mooi. Maar Sean se hande moet menslike vleis voel: Őf sy eie of iemand anders s’n. So, hy vat en trek en torring en speel met elke dooie, stomme, kreupele, blinde en dowe wat elke keer voor hom land. En hul verergde reaksie is vir hom te pragtig. Hy kry naderhand ’n jong meisietjie langs hom wat hom na-aap en entertain en hy raak besete van opgewondenheid en gil en skreeu al die woorde wat hy ken wat insluit: move, shit, hallo, go, kom en nee! Die hele ry voor ons is nou al geïrriteerd en oorweeg om hom met dolosse te stenig. Toe hul uiteindelik Sean se greenaidie soek, noem ek dit aan die vriendelike vroutjie dat my kind die hele saal nou al woedend het en is dit nie moontlik om ons gouer te help nie.
14.00 Sy druk ons in die ry in by die staatsdokter wat Sean moet evalueer. ’n Groot oorwerkte suur man wat nie boe of ba sê nie en nie eers opkyk nie. So dit is nou die kabouter aan die einde van die reënboog? Die een wat die deksel van die staatspot vir jou persentasiegewys so effens kan lig sodat jy ’n handjievol skatte kan vat vir jou kind se ongeskiktheidspensioen. Kabouter skryf net terwyl ek senuweeagtig aanhou praat oor wat die kind als makeer. Toe sê hy die towerwoorde: “Die kind moet nou hieronder aan die verslag teken of sy duim se vingerafdruk

gee.” Een ding van Sean: hy doen nie handtekeninge nie. Hy doen veral nie vingerafdrukke nie. Vra vir enige werker by Binnelandse sake (en omliggende winkeleienaars) wat twee jaar gelede vir sy id-boek dit probeer het. Hy het sy vuiste gebal en die duime diep daar ingedruk en op die vloer gaan lê en skop en skree asof die duiwel hom beet het. (Hier op die foto wag ons in die rye van die Social Services kantore in Brits.)
Maar hierdie dokter is groot en hy vat nie k@k van kabouters nie – hy is immers die hoofkabouter. So hy gryp vir Sean vas en stoei ’n gesmeerde vingerafdruk uit hom uit. Die dowes en dooies buite moes sy gille hoor en moes met angs en bewing daarna die spreekkamer binnegaan. Dit het my so ontstel – nie soseer die mishandeling nie maar die ongeskiktheid en onmenslikheid en onsimpatiekheid daarby. Sean is weer happy daaruit want hy vergeet gou.
14.10 Ek sê vir die goeie vrou wat my ingelaat het. Ek kom nie volgende week met my kind terug nie want ek sien daar is ’n volgende afspraak. Sy kry my bitter jammer want sy sien seker die vrou is naby aan: ‘spontaneous freaking combustion’! Sy druk twee vorms in my hand en sê as ek voor vieruur by die bank en polisie die vorms laat teken en sy duimafdrukke daarop kry, en terugbring, hoef ek nie terug te kom nie! Lize en Amie sit nog soos engele in die ry.
14.30 Anton kom kry ons en jaag bank toe. Ek bars in trane uit van ellende en selfsmart en selfbejammering en vir al die ellendige gestremdes wat hierdie hel moet deurmaak. Wat volgende gebeur het by die bank kan ek nie in detail ‘onthou’ nie. Maar die Here stuur hier twee engele op my pad waarvan een ’n kommissaris van ede is. Al wat ek kan sê is dat ek en Sean binne tien minute daaruit is met vingerafdrukke op al die papiere...
15.00 Terug by Social services. Die mense is drasties minder en ek moet met Sean wag by die laaste ry van die pot goud. Hy het heeldag nie geëet nie want hy wou nie so vroeg ontbyt eet nie – en behalwe vir ’n Kentucky burger in die kar tussen die bank en hier. Lize en Amie is nog nie by die dokter in nie.
16. 00 na die uur word ons vorentoe geroep word vir nog so vyftien plus vorms wat ingevul word deur een van die manne wat nie praat nie; net skryf. Wat hy daar skryf weet geen mens nie. Ek word eenkeer gevra hoeveel vertrekke is in my huis. What the ffffffrikkadel? Sean is tjoepstil van hongerte en moegheid. ’n Jong netjiese Indiërman kom ingestap en Sean groet hom soos die 756 voor hom: Hallo! Die man kom na hom toe, beduie hom met die vinger en sê: “Ek ken jou! Ek werk by binnelandse sake en jy wou my nie jou vingerafdrukke gee nie!” Hehehe...
16.45 Die vorm-man is klaar en lyk of hy oppak. Dis mos nou tjailatyd. Ek vra of ons kan gaan. Hy sê: Ja, Sean moet net sy vingerafdruk op ELKE vorm gee! Ek raak byna berzerk! Soos daai Viking Berzerkers in die flieks wat besete word voor ’n geveg en honderde mense dood-bl@ls@m voor hul bebloed tot bedaring kom. Twee swart mans en die vorm man takel Sean. Ek hou die linkerhand vas, kry ’n vuishou of twee deur die gesig en bril, Sean skuur homself ’n blou-massakol teen die bobeen soos hy stoei om weg te kom. Hy gil en veg soos daai Vikings.
17.00 Ry huistoe. Sean is weer happy. (Soos op die foto - hy is altyd happy, behalwe as jy hom vasdruk en dwing om iets teen sy sin te doen!)
Ek is gedaan. Ek wens vir die eerste keer in my lewe ek kan Kanada toe trek. Of Ierland. Of Australië. Hoe kan sekere sektore van ons land so ellendig, korrup, versukkeld, vertraag en breindood wees (soos ons dié armsalige Riaan-van-Jakaranda mos kwytraak.) Al wat ek wil sê is dit: as iemand aan die einde van ’n bladsy of kontrak sy handtekening moet gee, waarvoor is dit? Is dit dalk om te erken jy was by met die ondertekening en verstaan wat hierin staan en stem saam of iets in dier voege? My kind het die breinvermoë van ’n driejarige. Hy het geen idee wat hy daar onderteken nie. Moet ek, sy ouer nie dit teken vir sy onthalwe nie? Belaglik. Pateties. Wreed.
In geen eerstewêreldse land sou so iets gebeur het nie. Maar nouja, more voel ek weer beter en dan is ek bly oor my seun darem 80% van sy social services grant kry – hoekom tagtig? Wie de fffrikadel weet? Die suur dokterkabouter wat sy duim seergemaak het in die duimveg-proses? Dink hy die kind kan 20% se werk doen. Hy is drie jaar oud. Dink hy sy wit vel maak hom minder werd? Maar mens mag nie kla nie. Die ander arme stukkende mensies wat volgende week weer daar sit met hul twee volgende vorms, wat in ellendige plakkershutte leef sonder water en krag en wie ver moet loop vir taxi’s met kreupel bene en kieries, dis hulle wat die eintlike victims is van ons land se wonderlike dêrdewereldse ongeorganiseerde korrupte instansies en hul ongevoelige amptenare. Maar ek moet bysê dat ek wel die Here se hand in die proses sien in elke persoon wat die dag leefbaar gemaak het, van die vrolike lawwe Lize en engel Amie tot die vrou wat Sean jammer gekry het en in die ry ingedruk het, en die bankamptenare en die gewone vriendelike mense in die rye wat ook maar net probeer om ’n skeppie van die krummels in die skatpot te kry aan die einde van ons nasie se swart en wit reënboog.






