Monday, June 11, 2012

Hoofstuk 29: MEV. DOEMINIE, GOLIAT EN DIE REUSE KONING!


Mev. Doeminie gaan blykbaar deesdae met minder storm en drang en Bliksemstrale deur die lewe. Die redes is: 2012 is dalk toe nie so sleg soos ek vermoed het nie of ek raak te oud vir al die storms en het besluit om in my grot weg te kruip. Ek sê mos dikwels ek moet eintlik ‘n non word wat iewers in Tibet bo-op ‘n berg sit en staar na die sneeu op die ander berge. En ja, ek sal facebook en internet en ‘n laptop moet hê. Okay, die non-ding is ’n slegte idee.
(OP DIE FOTO IS 'N VOET VAN 'N SKILDERY VAN DIE SKILDER RAFAEL WAT EK IN DIE VATIKAAN MUSEUM GENEEM HET. DIT IS VIR MY 'N VOORBEELD VAN WAAR ONS CHRISTENE MOET BESIG WEES - OP 'N GEBROKE PAD IN 'N GEBROKE WêRELD MOET ONS VOETE 'N SAGTE SPOOR TRAP.)

Die bitterbek Gielie Galbraak, een van my alterego’s, het dalk ‘n paar belangrike lesse geleer so tussen die horribale 2010 en vandag. (Ek moet noem dat hierdie lesse nie geleer word sonder bloed, pyn, gil, skree, vloermoere, kopverloor, gewig verloor en optel, en natuurlik, die drink van duisende rande se anti-depressante en soms rooiwyn nie. Die wyn is Bybels – Paulus het dit self gesê in 1 Tim. 5:23: Moenie langer net water drink nie. Gebruik ’n bietjie wyn vir die maag en vir jou herhaalde ongesteldhede  –  Ek verstaan onder ongesteldhede: ook angs, depressie, woede, emosionele pyn, ens!!!)

Voor ek by die lesse uitkom: Ek het sedert Februarie na my aggressiewe, dog traanbesnotte, besoek aan Social Services op Brits, toe nie ‘n non geword in Tibet nie. Ek het darem in Januarie so met hikke en snikke en ‘n pynigende gesukkel, ‘n nuwe musiekblyspel geskryf – my sesde sedert 2009. King David and His 8 Wives.  Die probleem met die toneelstukke is nou as volg: elke jaar sê die mense: Sjoe, dis die beste een nog! (Of hulle vergeet van die ander goeies of die nuwe een is so vars en nuut dat hulle nie anders kan as om dit te sê nie!) Dit bring nogal stres mee want self weet ek nie waar ek die idees kry nie – nee, ek weet, die Here self gee my inspirasie en idees. Maar elke keer wonder ek hoe ek die vorige toneelstuk kan oortref, want ek is mos maar net mens. Maar soos die Here wil en soos hy kalm en geduldig die idees vir my voer, so skryf ek toe weer ‘n play. Met min energie om die jaar mee te begin, lê selfs die beplanning en die oefening en die entoesiasme toe soos ‘n Titaniese ysberg voor hy.  Ek weet mos nou al teen die tyd hoeveel werk gaan in so blyspel in. En as die entoesiasme en positiewe energie nie blymoedig en oorvloedig uit jou vloei nie, dan vloei dit ook nie in die dierbare mense in wat jy moet mobiliseer nie – mense wat self vuisvoos van hul eie probleme en werk is en wat die musiekblyspel doen in die paar sekondes vrye tyd wat hul wel in ‘n week oorhet.
So, gebeur dit toe dat my vriendin – ook Rene’, se dogter, Doreen (of Dolla) einde verlede jaar klaar drama studeer aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy is vars, blond, bruisend van energie en vol idees. Sy gooi haar 30kg gewiggie by ons span en sy bring met haar die entoesiasme wat soos ‘n golf oor die spelers spoel. Met haar drama-kennis stoot sy almal in ‘n nuwe rigting en die oefening begin. Ons veg en dreig wel om ‘n paar mansrolle vol te maak, want veral die manne het maar vol lewens en werk laat. Maar ons kry ‘n paar nuwe gesigte en die bal is aan die rol. En hy rol. En hy flippen rol! (OP DIE FOTO IS DAWID EN BATSEBA - LINKS - EN MY DOGTER MICHELLE REGS WAT DANS - TYDENS ONS MUSIEKBLYSPEL OOR DAWID)
Hierdie naweek het ons die opvoering by Kuierkerk in Hartbeespoort gedoen. Daar was seker so altesaam 900 mense wat kom kyk het oor twee aande. Die Here se seën het soos ‘n warm wolkombers oor ons gehang, die hele naweek, nieteenstaande die feit dat die eerste koue front ons dorp getref het nie. En nieteenstaande die feit dat die Bokke rugby gespeel het Saterdagmiddag nie. Die mal Koning Saul (Bruce McKay) het ‘n meesterlike gebroke dog mal, koning vir ons gewys wat nooit werklik opgewasse was vir die rol as eerste koning van Israel nie. Gilliaume Strydom, ’n briljante sanger en akteur het Dawid van sy jongdae laat groei van ’n Giant-killing-superhero tot ‘n reuse koning wie se mag hom laat vlieg het maar ook laat struikel het. Elke speler was meer as voorbereid en ek glo hul was ook bonatuurlik geseën vir hul onbaatsugtige diens aan die gemeenskap. Elke helper agter die skerms het sy plek volgestaan en die gehoor was oorstelp. My hart loop oor van trots op ons mense. Ek het op die laaste aand gesê dat ek mos alewig Hollywood toe wil gaan om die wêreld te red, maar watse mense kry ek dan daar? Hierdie pragtige opregte mense wat in die blyspel gespeel het, mense met sagte Jesus-oë en die Gees wat deur hul dade jou omhels, sal jy nie in die warboel en geldbehepte nes van Hollywood kry nie.
As ek dink aan my horibilale 2010 en die 'sagte' vyande van net ’n ander Christen kerk - as ek dink aan hul messe wat in my rug afgebreek is, en hoe dit my en my gesin byna geknak het, dan besef ek dat ek hier in my gemeenskap gelukkig en relatief  veilig is. Die emosionele moord en -verkragting en verwerping van ‘n plek soos Hollywood, sal erger wees as wat ander Christene aan my doen. Dit sal meer wees as wat ek kan verwerk. Dis seker God se manier om my te beskerm as ek  nêrens deurbrake kry met my boeke en draaiboeke nie. Ja, ja, die slim goeie Christene sal sê, nee, wag bietjie, God gun ons sukses en geld en dat ons ons talente op die hoogste vlak uitleef: Gaan vir daardie groot droom. Ek is mos nou te moeg gedroom aan daardie groot droom. As God dink ek is reg en Hy dink ek kan dit vat, sal Hy self die deure oopmaak. En Hyself sal my ook daarin moet instoot. En Hy kan, wanneer, en as Hy wil. Ek kan dit nie forseer as EK WIL nie.
Dalk was die ge-droom van die groot droom om my draaiboek, Wee Monk's Tale, te kan verfilm in Ierland, of net dat 'n uitgewer die boek aanvaar, my Goliat. Die feit dat ek oor die obsessie van die droom gekom het, het ek my Goliat verslaan. God kan my steeds 'n reuse koning maak in die land van sy keuse, maar een wat nie naarstiglik al haar energie in 'n obsessie in voer nie. God sal die Goliat verslaan en die sukses bring wat hy dink nodig is. Ek hoef nie al my energie in te sit om by Goliat uit te kom nie. My energie moet gaan om elke dag 'n seën vir ander te wees: of dit nou my kinders, my man, my vriende of die gemeenskap is - en of dit nou ekself is. (Ek hoop dit maak sin vir iemand in die kuberruimte!) 
   
My musiekblyspel is ‘n seën vir my (en ander), al maak ek geen sent, soos gewoonlik, met dit nie. Die wins - as daar is gaan mos aan liefdadigheid. Dit bring mense van verskillende kerke saam en bind hulle in hegte vriendskappe saam op ’n plek waar dogma en mensgemaakte reëls terugstaan vir diensbaarheid en liefdeswerk. Dis ‘n plek waar die Woord van God op ‘n gemaklike en genotvolle teatermanier oorgedra word en waar die Gees vir mense Bybelse waarhede leer sonder dat hulle dit eers besef. Dis ‘n plek waar ek sien hoe my storie ‘n lewe kry en waar mense dit eenvoudig geniet. 


Al raak ek net 900 mense aan met ‘n lewensveranderende boodskap, is dit genoeg. Al raak ek net een aan. God is tevrede hiermee en Hy glimlag liefdevol vir my en vir elkeen wat deel was op welke manier ook al. Ek is trots op my mensies – van die beste sangers tot die hakkelendste akteurs wat ‘n hoofstuk in hul lewensverhaal kon byvoeg met hierdie hemelse ervaring. Ek is trots op my dogters wat saam met my hiervan deel kon wees. Die 14jarige Chantal (OP DIE FOTO LINKS) raak elke dag meer die aktrise wat sy wil wees en haar selfvertroue ken geen perke nie, danksy Dolla se nederige, diensbare, sexy voorbeeld en haar oneindige energie! Die 17jarige Michelle het hierdie jaar ingespring en haarself as ‘backstage manager’ aangestel. Sy organiseer en pak reg en hiet en gebied almal. Sy het selfs die mikrofoonruilings verfyn tot ‘n kuns. Ek is trots op my breingestremde seun, Sean, wat met hart en siel tydens die hele toneelstuk saampraat en dit uit sy hart geniet soos geen ander mens kan nadoen nie. Ek is trots op my man, wat net inval waar ek hom nodig het. Ek is trots op my.  (OP DIE FOTO IS EK EN ANTON WAT MY BYSTAAN MET GEDULD MET AL MY DINGE)

Now having said that . . . daardie wyshede wat ek die jaar al ontdek het:
1.       Doen wat jy talent voor het. Los die ander goed vir die ander ou wat ander talente het. Hy weet beter, al dink jy jy kan dit ook beter doen (ons almal dink mos so . . .) Al is dit nie soos jy dit wou hê nie, en dit werk, dan werk dit en almal is gelukkig.
2.       ‘n Sagte woord keer die grimmigheid af. Al moet jy eers huistoe gaan en in jou kussing gaan skree en vir die kat die hele aaklige storie met bypassende vieslike handgebare oorvertel - om dit te prosesseer, natuurlik, moet jou volgende reaksie wees: ‘n sagte, vriendelike, liefdevolle woord. Dit bring vrede, nie oorlog nie. Daar is genoeg oorlog in die wêreld. En dit keer dat die ander ou viesliker terug antwoord en die hele ding ontaard in ‘n boheemse viesliker bekgeveg.
3.       Wees die minste. Sê jammer. Sê ek is lief vir jou. Dis nie moeilik nie. Jy kan dit sms as jy hakkel of stotter of bloos.
4.       Geniet jou talente en skep vir jouself geleenthede en sit energie daarin. Hiermee saam gaan die volgende: meng met entoesiastiese mense wat jou inspireer en jou energie verdubbel. Die lewe is moeilik genoeg. Moenie dat ander jou energie steel nie, veral as jyself veg om jou energievlakke hoog te hou in ‘n besete wêreld wat vat wat hy wil.
5.       ’n Jong ma het die week selfmoord gepleeg. Haar drie klein kinders sit sonder ‘n ma. Ek glo sy was verseker depressief en het nie geweet wat sy doen nie. Maar vir iemand om op so ‘n moeilike plek te kom, moes sy gedaan, gedreineer en sonder hoop gewees het. Maak tyd vir Jesus, al sit jy net tydens jou tye in die kar met hom en gesels, dan spandeer jy baie tyd met jou beste vriend, die een wat jou kan inspireer en genoeg positiewe energie gee om te kan hoop op beter dae.
6.       Jy moet ware vriendinne (vriende) hê met wie jy weekliks koffie drink. Dis die plek waar jy hoop kry, aanvaarding en liefde. As jy nie vriendinne het nie, kry hulle, gaan soek hulle: by kerkaksies, blommeklubs, kunsklasse, tennisspelery, enige sosiale plek. Doen net iets anders as voor die tv sit of in jou huis wegkruip. As jy ‘n non moes weet in Tibet, sou jy al daar gewees het, glo my. Jy is nie gemaak om alleen jou laste te dra nie.
Nou begin ek soos ’n lekeprediker klink. Ek stop dadelik! Sela!

No comments:

Post a Comment