Mev. Doeminie met haar wroegings trek nou al by hoofstuk 28! Soos ek nou alreeds vasgestel het, het elke jaar maar genoeg Annus Horibilis in hom om ’n blog op sy eie te regverdig. So het ek dié jaar reeds genoeg emosionele houe in die maag gekry om enige tawwe bokser plat te trek in die kryt. Die diepste gat van my trauma vind ek in Brits, die ‘Social Services’ kantore langs Hagels. Nou laat ek Gielie Galbraak (my aggressiewe alterego) los. (Op die foto is 'n gewone dag by Social Services.)
(Ek wil byvoeg dat ek streng uit die oogpunt van ’n blanke semi-agtergeblewene vrou praat met ’n breingestremde kind wat nooit vir homself sal kan sorg nie en wat die breinkapasiteit van ’n driejarige het – ek kan my nie eers indink wat die res van die uitgeworpe agtergeblewene ellendige groep ander mense deurmaak wat ook daar sit nie – die wat met Taxi’s daar aangery word of nie eers geld het vir vervoer nie maar wat met rolstoele aangestoot word!)
Verlede jaar November het die horribale proses begin. Ek en my vriendin Lize wil vir ons breingestremde kinders wat nou al oor 18 is aansoek doen vir ongeskiktheidspensioen. Vroegoggend jaag ek en sy na die gewraakte kantore, ’n asemteug ver van die hel homself. Ons skuif van lank sit in eerste verdieping kantore na lang rye voor die gebou op die stoep, waar elke tipe mens sit van Aids-victims, boemeltipes tot sukkelende Suid-Afrikaners (wit en swart) want hierdie is die pot met geld aan die einde van die reënboognasie. Ek wil byvoeg, ek het nie gedink die pot lyk so nie – ek het meer ’n cute kabouter met ’n goue pot vol skatte in gedagte gehad. En as ek daar kom is ek die enigste een wat kabouter moet uitoorlê. En weghol met die skat. Toe nie. Daar sit ons uur na uur na uur. As een ou voor in die ry gehelp word, skuif die res van die bevolking een stoel vorentoe... stoel vir stoel. Sweterig, stinkerig, smeulend rustig. So nou en dan kom ’n suurgesig sosiale werker daar verby en dan skree sy iets wat klink soos ‘grienaiedie’. Na ons die stommes en dowes om ons met allerlei handgebare en ’n mengsel van Afrika tale gevra het wat aangaan kom ons agter die vrou soek die ‘green id’. Ke a le boga!
Lize is so verbouereerd met haar gebrekkige Noord-Kaap Engels dat sy nie eers die kind se greenaiedie daar het nie! Dis ’n ander lelike storie wat liefs nie hier in volle detail bespreek kan word nie!
Ek kan net sê eks bly dat ek vooraf ’n paar pakkies cheap koekies in my sak gegooi het vir tye soos hierdie... die Afrika manier van dinge doen: wees bonatuurlik vriendelik, nederig, vol komplimente en deel ’n presentjie uit hier en daar... so kry ons na ’n lang dag ’n afspraak vir die 1ste Februarie, met die verdere bonus dat ons hierdie spesiale kinders van ons moet saambring.
1 Februarie 2012:
07.30: Ons jaag Brits toe.
08.00 Ons arriveer: rye en rye en rye mense smeul alreeds met hul greenaiedies daar voor die kantoor.
08.05 Ons jaag terug Hartbeespoort toe: na House of Coffees. Die trauma is te erg.
10.00 Absa bank: bankrekenings vir die kinders want netnou jaag hulle ons weg as ons net daar aankom met ons greenaidies. Angs sit wit op ons gesigte. Wat kort ons nog? Ons het ons doktersbriewe, greenaiedies, bankrekeninge. Wat nog?
11.30 Jaag terug Brits toe.
12.00 Op met trappe met ons gestremde kinders na eerste verdieping waar die laaste slurpie van die ry sit (so 6 mense) en wag op beweging – van 08.00 die oggend af!! Sean doen nie die trappe ding goed nie – nie op nie en veral nie af nie, maar ons moet dit doen.
12.30 Af met trappe na GROOT wagkamer met baie stoele. Wag, wag wag en skuif op na volgende stoel elke keer wat iemand gehelp word. (Op die foto is Sean: soos altyd happy, selfs in die lang rye waar hy hom met sy lang arms besig hou met al die mense wat om hom sit.)
13.00 Ry beweeg nie. Etenstyd vir die amptenare. Lize se Amie wag soos ’n tere engel op haar stoel en skuif te mooi. Maar Sean se hande moet menslike vleis voel: Őf sy eie of iemand anders s’n. So, hy vat en trek en torring en speel met elke dooie, stomme, kreupele, blinde en dowe wat elke keer voor hom land. En hul verergde reaksie is vir hom te pragtig. Hy kry naderhand ’n jong meisietjie langs hom wat hom na-aap en entertain en hy raak besete van opgewondenheid en gil en skreeu al die woorde wat hy ken wat insluit: move, shit, hallo, go, kom en nee! Die hele ry voor ons is nou al geïrriteerd en oorweeg om hom met dolosse te stenig. Toe hul uiteindelik Sean se greenaidie soek, noem ek dit aan die vriendelike vroutjie dat my kind die hele saal nou al woedend het en is dit nie moontlik om ons gouer te help nie.
14.00 Sy druk ons in die ry in by die staatsdokter wat Sean moet evalueer. ’n Groot oorwerkte suur man wat nie boe of ba sê nie en nie eers opkyk nie. So dit is nou die kabouter aan die einde van die reënboog? Die een wat die deksel van die staatspot vir jou persentasiegewys so effens kan lig sodat jy ’n handjievol skatte kan vat vir jou kind se ongeskiktheidspensioen. Kabouter skryf net terwyl ek senuweeagtig aanhou praat oor wat die kind als makeer. Toe sê hy die towerwoorde: “Die kind moet nou hieronder aan die verslag teken of sy duim se vingerafdruk
gee.” Een ding van Sean: hy doen nie handtekeninge nie. Hy doen veral nie vingerafdrukke nie. Vra vir enige werker by Binnelandse sake (en omliggende winkeleienaars) wat twee jaar gelede vir sy id-boek dit probeer het. Hy het sy vuiste gebal en die duime diep daar ingedruk en op die vloer gaan lê en skop en skree asof die duiwel hom beet het. (Hier op die foto wag ons in die rye van die Social Services kantore in Brits.)
Maar hierdie dokter is groot en hy vat nie k@k van kabouters nie – hy is immers die hoofkabouter. So hy gryp vir Sean vas en stoei ’n gesmeerde vingerafdruk uit hom uit. Die dowes en dooies buite moes sy gille hoor en moes met angs en bewing daarna die spreekkamer binnegaan. Dit het my so ontstel – nie soseer die mishandeling nie maar die ongeskiktheid en onmenslikheid en onsimpatiekheid daarby. Sean is weer happy daaruit want hy vergeet gou.
14.10 Ek sê vir die goeie vrou wat my ingelaat het. Ek kom nie volgende week met my kind terug nie want ek sien daar is ’n volgende afspraak. Sy kry my bitter jammer want sy sien seker die vrou is naby aan: ‘spontaneous freaking combustion’! Sy druk twee vorms in my hand en sê as ek voor vieruur by die bank en polisie die vorms laat teken en sy duimafdrukke daarop kry, en terugbring, hoef ek nie terug te kom nie! Lize en Amie sit nog soos engele in die ry.
14.30 Anton kom kry ons en jaag bank toe. Ek bars in trane uit van ellende en selfsmart en selfbejammering en vir al die ellendige gestremdes wat hierdie hel moet deurmaak. Wat volgende gebeur het by die bank kan ek nie in detail ‘onthou’ nie. Maar die Here stuur hier twee engele op my pad waarvan een ’n kommissaris van ede is. Al wat ek kan sê is dat ek en Sean binne tien minute daaruit is met vingerafdrukke op al die papiere...
15.00 Terug by Social services. Die mense is drasties minder en ek moet met Sean wag by die laaste ry van die pot goud. Hy het heeldag nie geëet nie want hy wou nie so vroeg ontbyt eet nie – en behalwe vir ’n Kentucky burger in die kar tussen die bank en hier. Lize en Amie is nog nie by die dokter in nie.
16. 00 na die uur word ons vorentoe geroep word vir nog so vyftien plus vorms wat ingevul word deur een van die manne wat nie praat nie; net skryf. Wat hy daar skryf weet geen mens nie. Ek word eenkeer gevra hoeveel vertrekke is in my huis. What the ffffffrikkadel? Sean is tjoepstil van hongerte en moegheid. ’n Jong netjiese Indiërman kom ingestap en Sean groet hom soos die 756 voor hom: Hallo! Die man kom na hom toe, beduie hom met die vinger en sê: “Ek ken jou! Ek werk by binnelandse sake en jy wou my nie jou vingerafdrukke gee nie!” Hehehe...
16.45 Die vorm-man is klaar en lyk of hy oppak. Dis mos nou tjailatyd. Ek vra of ons kan gaan. Hy sê: Ja, Sean moet net sy vingerafdruk op ELKE vorm gee! Ek raak byna berzerk! Soos daai Viking Berzerkers in die flieks wat besete word voor ’n geveg en honderde mense dood-bl@ls@m voor hul bebloed tot bedaring kom. Twee swart mans en die vorm man takel Sean. Ek hou die linkerhand vas, kry ’n vuishou of twee deur die gesig en bril, Sean skuur homself ’n blou-massakol teen die bobeen soos hy stoei om weg te kom. Hy gil en veg soos daai Vikings.
17.00 Ry huistoe. Sean is weer happy. (Soos op die foto - hy is altyd happy, behalwe as jy hom vasdruk en dwing om iets teen sy sin te doen!)
Ek is gedaan. Ek wens vir die eerste keer in my lewe ek kan Kanada toe trek. Of Ierland. Of Australië. Hoe kan sekere sektore van ons land so ellendig, korrup, versukkeld, vertraag en breindood wees (soos ons dié armsalige Riaan-van-Jakaranda mos kwytraak.) Al wat ek wil sê is dit: as iemand aan die einde van ’n bladsy of kontrak sy handtekening moet gee, waarvoor is dit? Is dit dalk om te erken jy was by met die ondertekening en verstaan wat hierin staan en stem saam of iets in dier voege? My kind het die breinvermoë van ’n driejarige. Hy het geen idee wat hy daar onderteken nie. Moet ek, sy ouer nie dit teken vir sy onthalwe nie? Belaglik. Pateties. Wreed.
In geen eerstewêreldse land sou so iets gebeur het nie. Maar nouja, more voel ek weer beter en dan is ek bly oor my seun darem 80% van sy social services grant kry – hoekom tagtig? Wie de fffrikadel weet? Die suur dokterkabouter wat sy duim seergemaak het in die duimveg-proses? Dink hy die kind kan 20% se werk doen. Hy is drie jaar oud. Dink hy sy wit vel maak hom minder werd? Maar mens mag nie kla nie. Die ander arme stukkende mensies wat volgende week weer daar sit met hul twee volgende vorms, wat in ellendige plakkershutte leef sonder water en krag en wie ver moet loop vir taxi’s met kreupel bene en kieries, dis hulle wat die eintlike victims is van ons land se wonderlike dêrdewereldse ongeorganiseerde korrupte instansies en hul ongevoelige amptenare. Maar ek moet bysê dat ek wel die Here se hand in die proses sien in elke persoon wat die dag leefbaar gemaak het, van die vrolike lawwe Lize en engel Amie tot die vrou wat Sean jammer gekry het en in die ry ingedruk het, en die bankamptenare en die gewone vriendelike mense in die rye wat ook maar net probeer om ’n skeppie van die krummels in die skatpot te kry aan die einde van ons nasie se swart en wit reënboog.
Ek dink nou aan Antoine De Saint 'n fransman en outeur wat geskryf het: He who is different from me does not impoverish me - he enriches me... Our unity is constituted in something higher than ourselves - in Man... Daarom dat in hierdie donker dag engele en lag tog op jou pad gekom het, om vir jou te spieel die engel wat jy is en die lag wat jy in so baie van ons lewens indra! Mag Die Vader jou en Sean-Jacques net vreeslik verskriklik bless en Sean ALTYD happy hou!
ReplyDelete