Wednesday, February 15, 2012

MEV. DOEMINIE EN DIE POT AAN DIE EINDE VAN DIE REëNBOOGNASIE!

Mev. Doeminie met haar wroegings trek nou al by hoofstuk 28! Soos ek nou alreeds vasgestel het, het elke jaar maar genoeg Annus Horibilis in hom om ’n blog op sy eie te regverdig. So het ek dié jaar reeds genoeg emosionele houe in die maag gekry om enige tawwe bokser plat te trek in die kryt. Die diepste gat van my trauma vind ek in Brits, die ‘Social Services’ kantore langs Hagels. Nou laat ek Gielie Galbraak (my aggressiewe alterego) los. (Op die foto is 'n gewone dag by Social Services.)

(Ek wil byvoeg dat ek streng uit die oogpunt van ’n blanke semi-agtergeblewene vrou praat met ’n breingestremde kind wat nooit vir homself sal kan sorg nie en wat die breinkapasiteit van ’n driejarige het – ek kan my nie eers indink wat die res van die uitgeworpe agtergeblewene ellendige groep ander mense deurmaak wat ook daar sit nie – die wat met Taxi’s daar aangery word of nie eers geld het vir vervoer nie maar wat met rolstoele aangestoot word!)

Verlede jaar November het die horribale proses begin. Ek en my vriendin Lize wil vir ons breingestremde kinders wat nou al oor 18 is aansoek doen vir ongeskiktheidspensioen. Vroegoggend jaag ek en sy na die gewraakte kantore, ’n asemteug ver van die hel homself. Ons skuif van lank sit in eerste verdieping kantore na lang rye voor die gebou op die stoep, waar elke tipe mens sit van Aids-victims, boemeltipes tot sukkelende Suid-Afrikaners (wit en swart) want hierdie is die pot met geld aan die einde van die reënboognasie. Ek wil byvoeg, ek het nie gedink die pot lyk so nie – ek het meer ’n cute kabouter met ’n goue pot vol skatte in gedagte gehad. En as ek daar kom is ek die enigste een wat kabouter moet uitoorlê. En weghol met die skat. Toe nie. Daar sit ons uur na uur na uur. As een ou voor in die ry gehelp word, skuif die res van die bevolking een stoel vorentoe... stoel vir stoel. Sweterig, stinkerig, smeulend rustig. So nou en dan kom ’n suurgesig sosiale werker daar verby en dan skree sy iets wat klink soos ‘grienaiedie’. Na ons die stommes en dowes om ons met allerlei handgebare en ’n mengsel van Afrika tale gevra het wat aangaan kom ons agter die vrou soek die ‘green id’. Ke a le boga!

Lize is so verbouereerd met haar gebrekkige Noord-Kaap Engels dat sy nie eers die kind se greenaiedie daar het nie! Dis ’n ander lelike storie wat liefs nie hier in volle detail bespreek kan word nie!

Ek kan net sê eks bly dat ek vooraf ’n paar pakkies cheap koekies in my sak gegooi het vir tye soos hierdie... die Afrika manier van dinge doen: wees bonatuurlik vriendelik, nederig, vol komplimente en deel ’n presentjie uit hier en daar... so kry ons na ’n lang dag ’n afspraak vir die 1ste Februarie, met die verdere bonus dat ons hierdie spesiale kinders van ons moet saambring.

1 Februarie 2012:

07.30: Ons jaag Brits toe.

08.00 Ons arriveer: rye en rye en rye mense smeul alreeds met hul greenaiedies daar voor die kantoor.

08.05 Ons jaag terug Hartbeespoort toe: na House of Coffees. Die trauma is te erg.

10.00 Absa bank: bankrekenings vir die kinders want netnou jaag hulle ons weg as ons net daar aankom met ons greenaidies. Angs sit wit op ons gesigte. Wat kort ons nog? Ons het ons doktersbriewe, greenaiedies, bankrekeninge. Wat nog?

11.30 Jaag terug Brits toe.

12.00 Op met trappe met ons gestremde kinders na eerste verdieping waar die laaste slurpie van die ry sit (so 6 mense) en wag op beweging – van 08.00 die oggend af!! Sean doen nie die trappe ding goed nie – nie op nie en veral nie af nie, maar ons moet dit doen.

12.30 Af met trappe na GROOT wagkamer met baie stoele. Wag, wag wag en skuif op na volgende stoel elke keer wat iemand gehelp word. (Op die foto is Sean: soos altyd happy, selfs in die lang rye waar hy hom met sy lang arms besig hou met al die mense wat om hom sit.)

13.00 Ry beweeg nie. Etenstyd vir die amptenare. Lize se Amie wag soos ’n tere engel op haar stoel en skuif te mooi. Maar Sean se hande moet menslike vleis voel: Őf sy eie of iemand anders s’n. So, hy vat en trek en torring en speel met elke dooie, stomme, kreupele, blinde en dowe wat elke keer voor hom land. En hul verergde reaksie is vir hom te pragtig. Hy kry naderhand ’n jong meisietjie langs hom wat hom na-aap en entertain en hy raak besete van opgewondenheid en gil en skreeu al die woorde wat hy ken wat insluit: move, shit, hallo, go, kom en nee! Die hele ry voor ons is nou al geïrriteerd en oorweeg om hom met dolosse te stenig. Toe hul uiteindelik Sean se greenaidie soek, noem ek dit aan die vriendelike vroutjie dat my kind die hele saal nou al woedend het en is dit nie moontlik om ons gouer te help nie.

14.00 Sy druk ons in die ry in by die staatsdokter wat Sean moet evalueer. ’n Groot oorwerkte suur man wat nie boe of ba sê nie en nie eers opkyk nie. So dit is nou die kabouter aan die einde van die reënboog? Die een wat die deksel van die staatspot vir jou persentasiegewys so effens kan lig sodat jy ’n handjievol skatte kan vat vir jou kind se ongeskiktheidspensioen. Kabouter skryf net terwyl ek senuweeagtig aanhou praat oor wat die kind als makeer. Toe sê hy die towerwoorde: “Die kind moet nou hieronder aan die verslag teken of sy duim se vingerafdruk

gee.” Een ding van Sean: hy doen nie handtekeninge nie. Hy doen veral nie vingerafdrukke nie. Vra vir enige werker by Binnelandse sake (en omliggende winkeleienaars) wat twee jaar gelede vir sy id-boek dit probeer het. Hy het sy vuiste gebal en die duime diep daar ingedruk en op die vloer gaan lê en skop en skree asof die duiwel hom beet het. (Hier op die foto wag ons in die rye van die Social Services kantore in Brits.)

Maar hierdie dokter is groot en hy vat nie k@k van kabouters nie – hy is immers die hoofkabouter. So hy gryp vir Sean vas en stoei ’n gesmeerde vingerafdruk uit hom uit. Die dowes en dooies buite moes sy gille hoor en moes met angs en bewing daarna die spreekkamer binnegaan. Dit het my so ontstel – nie soseer die mishandeling nie maar die ongeskiktheid en onmenslikheid en onsimpatiekheid daarby. Sean is weer happy daaruit want hy vergeet gou.

14.10 Ek sê vir die goeie vrou wat my ingelaat het. Ek kom nie volgende week met my kind terug nie want ek sien daar is ’n volgende afspraak. Sy kry my bitter jammer want sy sien seker die vrou is naby aan: ‘spontaneous freaking combustion’! Sy druk twee vorms in my hand en sê as ek voor vieruur by die bank en polisie die vorms laat teken en sy duimafdrukke daarop kry, en terugbring, hoef ek nie terug te kom nie! Lize en Amie sit nog soos engele in die ry.

14.30 Anton kom kry ons en jaag bank toe. Ek bars in trane uit van ellende en selfsmart en selfbejammering en vir al die ellendige gestremdes wat hierdie hel moet deurmaak. Wat volgende gebeur het by die bank kan ek nie in detail ‘onthou’ nie. Maar die Here stuur hier twee engele op my pad waarvan een ’n kommissaris van ede is. Al wat ek kan sê is dat ek en Sean binne tien minute daaruit is met vingerafdrukke op al die papiere...

15.00 Terug by Social services. Die mense is drasties minder en ek moet met Sean wag by die laaste ry van die pot goud. Hy het heeldag nie geëet nie want hy wou nie so vroeg ontbyt eet nie – en behalwe vir ’n Kentucky burger in die kar tussen die bank en hier. Lize en Amie is nog nie by die dokter in nie.

16. 00 na die uur word ons vorentoe geroep word vir nog so vyftien plus vorms wat ingevul word deur een van die manne wat nie praat nie; net skryf. Wat hy daar skryf weet geen mens nie. Ek word eenkeer gevra hoeveel vertrekke is in my huis. What the ffffffrikkadel? Sean is tjoepstil van hongerte en moegheid. ’n Jong netjiese Indiërman kom ingestap en Sean groet hom soos die 756 voor hom: Hallo! Die man kom na hom toe, beduie hom met die vinger en sê: “Ek ken jou! Ek werk by binnelandse sake en jy wou my nie jou vingerafdrukke gee nie!” Hehehe...

16.45 Die vorm-man is klaar en lyk of hy oppak. Dis mos nou tjailatyd. Ek vra of ons kan gaan. Hy sê: Ja, Sean moet net sy vingerafdruk op ELKE vorm gee! Ek raak byna berzerk! Soos daai Viking Berzerkers in die flieks wat besete word voor ’n geveg en honderde mense dood-bl@ls@m voor hul bebloed tot bedaring kom. Twee swart mans en die vorm man takel Sean. Ek hou die linkerhand vas, kry ’n vuishou of twee deur die gesig en bril, Sean skuur homself ’n blou-massakol teen die bobeen soos hy stoei om weg te kom. Hy gil en veg soos daai Vikings.

17.00 Ry huistoe. Sean is weer happy. (Soos op die foto - hy is altyd happy, behalwe as jy hom vasdruk en dwing om iets teen sy sin te doen!)

Ek is gedaan. Ek wens vir die eerste keer in my lewe ek kan Kanada toe trek. Of Ierland. Of Australië. Hoe kan sekere sektore van ons land so ellendig, korrup, versukkeld, vertraag en breindood wees (soos ons dié armsalige Riaan-van-Jakaranda mos kwytraak.) Al wat ek wil sê is dit: as iemand aan die einde van ’n bladsy of kontrak sy handtekening moet gee, waarvoor is dit? Is dit dalk om te erken jy was by met die ondertekening en verstaan wat hierin staan en stem saam of iets in dier voege? My kind het die breinvermoë van ’n driejarige. Hy het geen idee wat hy daar onderteken nie. Moet ek, sy ouer nie dit teken vir sy onthalwe nie? Belaglik. Pateties. Wreed.

In geen eerstewêreldse land sou so iets gebeur het nie. Maar nouja, more voel ek weer beter en dan is ek bly oor my seun darem 80% van sy social services grant kry – hoekom tagtig? Wie de fffrikadel weet? Die suur dokterkabouter wat sy duim seergemaak het in die duimveg-proses? Dink hy die kind kan 20% se werk doen. Hy is drie jaar oud. Dink hy sy wit vel maak hom minder werd? Maar mens mag nie kla nie. Die ander arme stukkende mensies wat volgende week weer daar sit met hul twee volgende vorms, wat in ellendige plakkershutte leef sonder water en krag en wie ver moet loop vir taxi’s met kreupel bene en kieries, dis hulle wat die eintlike victims is van ons land se wonderlike dêrdewereldse ongeorganiseerde korrupte instansies en hul ongevoelige amptenare. Maar ek moet bysê dat ek wel die Here se hand in die proses sien in elke persoon wat die dag leefbaar gemaak het, van die vrolike lawwe Lize en engel Amie tot die vrou wat Sean jammer gekry het en in die ry ingedruk het, en die bankamptenare en die gewone vriendelike mense in die rye wat ook maar net probeer om ’n skeppie van die krummels in die skatpot te kry aan die einde van ons nasie se swart en wit reënboog.

Monday, January 30, 2012

MEV. DOEMINIE 'IS SO HOT RIGHT NOW!'

Min diere gaan in 'n somerslaap in. Ek was sedert die salige Desembervakansie in 'n somerslaap, want my 2011 was mos my jaar van rus van te veel eise en skryfwerk wat verwerp word of deur vuurspuwende berge in die lug op geblaas word.
Ek het 2011 rustig op my hoop gesit (soos op die foto) en gekyk hoe die lewe gebeur en in my huis gewerk aan goed wat ek moet doen: kinderkerk lesse en storietjies vir die ekerk. Ek moes mos herstel van my rede vir my blog: my Annus Horibilis 2010. Ek was rustig. Ek was koel. So koel dat toe ek wakkerskrik in Januarie 2012 skrik ek in nagsweet en gloede wakker! Ek, wat van geboorte af 'n klein sweter en warm meisie is, ek gaan in gloede in!! Jammer om te sê maar 2012 lyk my is my volgende Annus Horibilis! I am going where no man has gone before... no, really, men do not know what hot flushes are! They have never been there!

Laat ek terugval op die lesse van die verlede: Wat ek wel geleer het uit my vorige Annus horibilis is die volgende:
1. God doen wat Hy doen wanneer Hy dit doen. Dit gaan duidelik nie oor ons gerief nie maar oor Sy groter plan. As Hy jou gebruik in daardie plan moet jy dankbaar wees en weet: God laat alles ten goede meewerk vir die wat hom liefhet.
2. Mense gaan jou altyd en elke dag teleurstel. Jy kan of dat dit jou pla, of jy kan met jou lewe
aangaan en 'n seën bly vir ander want dit gaan nie oor hulle of oor jou nie: dit gaan oor 'n groter plan. Al wat jy vir hulle kan sê is: God vergewe hulle asseblief want hulle weet nie wat hulle doen nie. En dis waar want hulle gaan dalk nooit weet wat hul doen nie, of dalk deur jou optrede agterkom wat hul doen en verander. Maar dis nie jou probleem nie. Jou probleem is om te bly vergewe en te bly glo dat Christus ook in ander leef - nie net in jou nie - al lyk dit nie altyd so nie.
3. Elke uur, elke dag, elke week elke jaar gaan Annus Horibilisse oplewer: Horribale dinge wat op ons pad kom en wat ons nie voor kans sien of voor reg is nie: Maar ons moet bly glo dat God daar is en jou hand vashou in jou krisis. Hy weet reeds jy sal dit oorleef en daar is 'n uitkoms. Sonder hierdie hoop is jy in jou m@@r in.
4. Dis van onskatbare waarde om te midde van jou Annus Horibilis te probeer kalm bly. Gebruik elke denkbare ding wat jy kan: van gebed tot antidepressante, angspille, joga, meditasie,
berading, terapie, oefeninge, vakansie of 'n nuwe stokperdjie. Jy MOET jou geestelike en fisiese gesondheid in ag neem. Dit is vir jou en vir jou gesin doodsbelangrik. Ek sê doodbelangrik, want as jy op die afgrond wankel, trek jy almal saam met jou. Die gevolge kan erg wees. Ek lees al hoe meer van mense wat selfmoord of selfs gesinsmoord pleeg: 'n dominee en 'n radio Kansel werker
het nou in die week selfmoord gepleeg volgens die koerante. Dis die mense wat ons hoop moet gee en wat self in 'n doodloopstraat land. Soms dink mense dis sonde of belaglik om raad of pille te gebruik... ek dink dit gaan help met oorlewing. Alles is God se dinge wat hy ons gee om te oorleef. Soms is ons bagasie te erg en ons stres te erg. Kyk na jouself. Jy is dit aan jou mense skuldig. God het nog 'n lang pad met jou... moenie uit die bus val nie.
5. Na alles kan ek nou soos die Queen van Engeland sê dat my 2010 sleg was en aaklig vir my, maar die feit dat ek en my gesin dit oorleef het, dit eintlik 'n Annus Mirabilis gemaak het (Wonderful/miracle year). Ek en Anton kon ewe maklik gevou en gebreek het en op selfmoord of hartaanvalle geeindig het. Ek is dankbaar dat ons uit die tradisionele kerkstelsel is - dit
was ons oorlewing. Anders het ons daar geland waar die ander dominee geland het. Stelsels het nogal die manier om mense se hoop en geloof dood te maak, dink ek, veral as die Here vir jou ander insig gee as die tradisionele en die gewone. Ek is dankbaar oor al die wonderwerke wat sedertdien gebeur het: met kuierkerk, met ons emosionele gesondheid en ons vrede wat ons behou het na alles. En ja, ek kry nog bietjie lekker as ek hoor hoe een van die hoofman in die tradisionele kerk nou in sy eie kieringkies braai! Blykbaar nou die kerk verlaat - en dit alles oor sy eie vrot keuses en selfsugtige besluite namens 'n gemeente wat nou nog salig onbewus is van wat hy werklik aangevang het en wat werklik aan die gebeur is. Maar steeds moet ek bly glo dat God ook met hulle 'n plan het - die hoofman en die kerk. Ek wil net nie weer daardie pad loop nie. Ek sien die mense nie en ek het hul vergewe vir die meswonde in my en Anton se rug. Mag God hulle ook vergewe vir wat hul doen en nog gaan doen aan ander.
NS: Oor Annus Mirabilis: Lyk my Einstein het die term volgens Wikipedia gebruik in die jaar 1905 toe hy 'n skrywe
gepubliseer het: the Annus Mirabilis papers (from Latin annus mīrābilis, "extraordinary year"). These are the papers of Albert Einstein published in the Annalen der Physik scientific journal. These four articles contributed substantially to the foundation of modern physics and changed views on space, time, and matter. The Annus Mirabilis is often called the "Miracle Year" in English or Wunderjahr in German.

Nou Einstein het dalk baie diepsinnige wetenskaplike bedoelings met "space, time and matter" bedoel, maar ekself gaan dit nou eenvoudig op my van toepassing maak: Space: Ek het my plek of spasie gevind, vir nou, waar ek in vrede leef met mense en ja so hier en daar spring Gielie Galbraak uit en wil iemand dood-bl@ksm. Time: Ek weet God het Sy tyd met alles, so ek hou my besig met dinge wat ek van hou: my plays, my kinderkerklesse... dinge wat ek weet ek mee goed is en waar ek myself uitleef (my boeke sal weer eendag iewers uitkom, as die tyd reg is en ek krag het vir die bose wêreld van skrywers-verwerping). Matter: Ek hou my besig met "matter" wat vir my belangrik is: om my kinders en my man se lewe te probeer vergemaklik en om die vrede te bewaar. Because that is what matters. Die ander dinge en drome is daar om my kop mal te maak. Dit kan 'n obsessie raak en dan moet jy dit stop. Dan is die droom te groot vir nou. Dalk het God 'n ander plek en tyd in gedagte. Maar my energie alleen kan nie die droom aan die lewe hou nie, daarvoor is die elke dag se lewe en eise te vol van sy eie eise en spanning.

(Op die foto is my dogters Chantal en Michelle: my geliefdes, dis die dinge wat saakmaak...)
So, more gaan sit ek by die Welsynskantore in Brits in lang donker sweterige rye met my gestremde 19jarige seun, Sean-Jacques om vir hom aansoek te doen vir ongeskiktheids-pensioen. Ek sien so op daarteen, maar nouja, ek moet dit doen. Daar is erger goed wat my kop kon besig hou. Daar is dood en kanker en pyn en hartseer. Ek is ten minste vir nou vir vandag op 'n oraait plek. En dit is 'n wonderwerk op sy eie. En my kinders se verstandtande moet getrek word die jaar. MAAR: ons gaan vir twee weke Italië toe einde Maart! Dis 'n langverwagte wonderwerk wat 'n klein polis van my bewerkstellig het! Prys die Here!
Slotgedagte!!! Die geheim dink ek, is om te fokus op wat goed is en mooi is vir jou en nie op die frustrasies, angs en bekommernis nie. Maar nou-ja dis mos makliker gesê as gedaan - maar dit is 'n keuse. Doen dit!
(Op die foto is my seun Sean en 'n huisvriend van ons, Christo, by die see. Dit is hoe Sean is: Happy)
As jy nog iets wil lees: ek kry hierdie stukkie van my vriendin Glendine se pa, Oom Dieks af. Dit is basies 'n opsomming van wat ek wou sê:

GOD LIVES UNDER THE BED


I envy Kevin. My brother Kevin thinks God lives under his bed. At least that's what I heard him say one night.


He was praying out loud in his dark bedroom, and I stopped to listen, 'Are you there, God?' he said. 'Where are you? Oh, I see. Under the bed...'


I giggled softly and tiptoed off to my own room. Kevin's unique perspectives are often a source of amusement. But that night something else lingered long after the humor. I realized for the first time the very different world Kevin lives in.


He was born 30 years ago, mentally disabled as a result of difficulties during labor. Apart from his size (he's 6-foot-2), there are few ways in which he is an adult.


He reasons and communicates with the capabilities of a 7-year-old, and he always will. He will probably always believe that God lives under his bed, that Santa Claus is the one who fills the space under our tree every Christmas and that airplanes stay up in the sky because angels carry them.

I remember wondering if Kevin realizes he is different. Is he ever dissatisfied with his monotonous life?

Up before dawn each day, off to work at a workshop for the disabled, home to walk our cocker spaniel, return to eat his favorite macaroni-and-cheese for dinner, and later to bed.

The only variation in the entire scheme is laundry, when he hovers excitedly over the washing machine like a mother with her newborn child.


He does not seem dissatisfied.

He lopes out to the bus every morning at 7:05, eager for a day of simple work.

He wrings his hands excitedly while the water boils on the stove before dinner, and he stays up late twice a week to gather our dirty laundry for his next day's laundry chores.

And Saturdays-oh, the bliss of Saturdays! That's the day my Dad takes Kevin to the airport to have a soft drink, watch the planes land, and speculate loudly on the destination of each passenger inside. 'That one's goin' to Chi-car-go! ' Kevin shouts as he claps his hands.

His anticipation is so great he can hardly sleep on Friday nights.

And so goes his world of daily rituals and weekend field trips.

He doesn't know what it means to be discontent.

His life is simple.

He will never know the entanglements of wealth of power, and he does not care what brand of clothing he wears or what kind of food he eats. His needs have always been met, and he never worries that one day they may not be.

His hands are diligent. Kevin is never so happy as when he is working. When he unloads the dishwasher or vacuums the carpet, his heart is completely in it.

He does not shrink from a job when it is begun, and he does not leave a job until it is finished. But when his tasks are done, Kevin knows how to relax.

He is not obsessed with his work or the work of others His heart is pure.

He still believes everyone tells the truth, promises must be kept, and when you are wrong, you apologize instead of argue.

Free from pride and unconcerned with appearances, Kevin is not afraid to cry when he is hurt, angry or sorry. He is always transparent, always sincere. And he trusts God.

Not confined by intellectual reasoning, when he comes to Christ, he comes as a child. Kevin seems to know God - to really be friends with Him in a way that is difficult for an 'educated' person to grasp. God seems like his closest companion.

In my moments of doubt and frustrations with my Christianity I envy the security Kevin has in his simple faith.

It is then that I am most willing to admit that he has some divine knowledge that rises above my mortal questions

It is then I realize that perhaps he is not the one with the handicap . I am. My obligations, my fear, my pride, my circumstances - they all become disabilities when I do not trust them to God's care

Who knows if Kevin comprehends things I can never learn? After all, he has spent his whole life in that kind of innocence, praying after dark and soaking up the goodness and love of God.

And one day, when the mysteries of heaven are opened, and we are all amazed at how close God really is to our hearts, I'll realize that God heard the simple prayers of a boy who believed that God lived under his bed.

Kevin won't be surprised at all!


Saturday, November 5, 2011

DIE KROON VAN DIE SKEPPING...

Age restriction: 45. (Moenie lees as jy maklik ontsteld raak nie. Of gaan drink jou angspil en kom lees verder. Jy is gewaarsku.)

Mev Doeminie het mos nie baie te sê deesdae nie – net as ou Griekie Galbraak haar kop uitsteek – en hier steek sy nou haar kop uit en sy steek haar neus in ‘n ding waaroor niemand mag praat nie, want ons vroue is onderdanige wesens wat genadiglik deur ons mans ‘n skaflike lewe gegun word, solank ons nie te emosioneel of paranoïes voorkom nie en solank ons nie hulle wonderlike besluite en menings bevraagteken nie. In kort, ons vroue sal ‘n skaflike lewe en behandeling gegun word, solank ons nie ons eie mening of emosies wys nie, want sien, mans kan dit glad nie hanteer nie. As jou man anders is, is een van die volgende waar: 1. Hy is gay. 2. Hy is ‘n zombie. 3) Hy is 'n wonderwerk (en daarvan is min, vrek-bitter-min op aarde.) 4. Jou anti-depressante is te sterk en jy is dus ‘n zombie.

Ja, ek wil oor die kroon van die skepping praat: MANS. Kom ons besluit ek praat nie oor my eie man nie, maar oor die honderde mans wie se vrouens op anti-depressante is en wat die huweliksberaders se hoë rekenings maar so brom-brom betaal net om die ou “ball-and-chain” se

bek stil te hou. Ek is nie verniet mevrou doeminie nie: ek praat met vrouens en ek help partykeer stukke van hul waardigheid en frustrasies optel as hulle weereens in die grond in getrap is deur mnr. Eggenoot die GROTE wat die beuel blaas in die huis. Soms huil ons net saam, want daar is nie raad nie. Dis seker maar die straf van die vrou waarvan die Bybel praat daar in Genesis toe Eva mos vir die slang geluister het en toe verlei sy die arme Adam en so aan. Sien die Bybel praat heeltemal te min van die vrou wat met respek behandel moet word... o, ja, dit staan in Efesiers. In een hoofstuk. En o, ja, daar in 1 Korintiers 13 waar van die liefde gepraat word: maar ek dink die kleinskrif in Grieks sê dat hierdie hoofstuk spesifiek vir vroue geskryf is om aan hul mans onderdanig te wees. Want solank jou man gelukkig is, sal jy ‘n waardige lewe lei. Anders...

My eie dierbare pa was ‘n goeie staatsamptenaar wat in swart en wit konsepte geglo het. Hy was ‘n wonderlike pa en ons het nooit iets gekort nie, en hy was die baas in die huis. Sy woord was wet. My ma was ‘n wonderlike sagte huishoudster wat gedroom het van eksotiese vakansies en selfs net om meer by haar familie te kuier. Ons het hoofsaaklik by my pa se familie gekuier. My pa het ook die weeklikse inkopies gedoen want my ma was te spandabelrig volgens hom. Sy was. Geld het min vir haar beteken. Sy sou alles wat sy besit vir die bediende weggee of vir iemand wat sukkel. Haar hart was net te goed. Dit was ‘n groot rede vir geveg tussen hulle. Ek dink sy het groot drome gehad om dalk oorsee te gaan of meer met lekker vakansies. Hy was ‘n huishen en het sy sente omgedraai. Ons het een keer ‘n jaar heerlik vakansie gehou – maar dit was waar hy wou, onthou ek nou. Dit was maar die stoere Afrikaner ding. Vrouens moet in die kombuis besig wees, verkieslik swanger en verder kinders grootmaak. En veral moet hul nie spandabelrig wees nie. En ons kinders was heel gelukkig. Ons het lekker vakansie gehou en is goed versorg en min het ons geweet van drome of gevoelens wat nooit uitgeleef is nie. Ek het altyd geglo uit my hart dat ons nuwe generasie mense die huwelik anders benader. Die twee is spanmaats met gelyke regte en menings. Maar, vandag moet ek erken – met die hulp van Griekie Galbraak hierbinne my: dit is nie so nie.

Ek woon baie troues by. My man preek wonderlik motiverend vir die nuutgetroudes en vertel hulle onder andere: Die man en vrou is gelyke wesens, gelyk voor God. Ja, die man verlaat mos sy ouers daar in Genesis en hy en sy vrou is dan een. (Gelukkig is hierdie ‘n blog vir grootmense, daarom kan ek sê waar die ‘een’-storie inpas vir mans – en dit is uit en uit net my eie mening vandag, terwyl ek nou lekker benodderd is: dit is net ‘n seksding. Daar word mense glorieryk EEN en dis wonderlik, ja ek moet erken, maar nou is die moderne mens meer as net ‘n seksmasjien. Kan jy glo daar is emosies en gees by betrokke?)

Maar terug by die huweliksplegtigheid: In hierdie preke word gepraat van dinge wat man en vrou mekaar moet gun: 1. Wederkerigheid – doen aan die ander een wat jy aan jouself gedoen wil hê. 2. Gun mekaar ruimte om hulself te wees en hul droom uit te leef (en ou Griekie Galbraak wil byvoeg: probeer mekaar se droom verstaan en toon belangstelling daarin, al is die droom so belaglik en so groot dat niemand anders dit kan verstaan nie.) 3. Die huwelik is ‘n plek van veiligheid, waar albei partye moet voel dit is hul veilige plek teen die wêreld daarbuite en dat hul emosies veilig is daarbinne. (En ek wil byvoeg: hier moet jou mening ook veilig wees en aangehoor word sonder dat jy verskree word, omdat die ander party dink jy gaan nou direk teen sy wil en mening in. Waarom moet die man se wil altyd geskied? Gelyke partye? Bog. Wie is die beoordelaar van wie se mening reg is? Die man? Want natuurlik sal gedoen word wat die man goed dink, al verskil die vrou reëlreg van hom. Want sien, deur al die eeue heen, is die vrou as die onderdaan beskou en die man se besluite sal eerbiedig word. Ja, voorwaar gelyke partye. Een. Wonderlik. Al wat dit beteken is dat die vrou die dom enetjie is, die een wat geen behoorlike mening het nie, en veral moenie dink hulle het ‘n aanvoeling of intuisie vir dinge - wat mans nie het nie – nee dis ouvroustories. Terug kombuis toe met jou!)

Waar was ek laas. Kom ons kom terug by die huwelikspreek. Mans word in Efesiers genoem in die Griekse taal: die kop - die Kefale. Of so iets. Dit beteken hy is soos Jesus die inisieerder van die verhouding. Dit beteken blykbaar dat hy bepaal die rigting van die verhouding. Hy het dit begin soos Jesus sy gemeente (kerk) begin het, met woorde en dade wat vir die vrou aanneemlik was en wonderlik en so romanties, dat sy geval het vir hom. Hy kon van die begin af al sy emosies ‘overide’ en sy beste kant wys sodat jy dink hy is die wonderlikste ding op Gods aarde. En jy is soos klei in sy hande. Wat die preek verder vertel is dat die man die verhouding aan die gang hou met sy woorde en dade – so as daar ‘n probleem/onmin is, dan sal die man maklik sy gevoel kan overide en met sy mooi woorde en oulike dade die vrou se hart weer vermurwe en siedaar: sy is weer soos klei in sy hande. En ja, dit werk so. Want dis soos Christus en die kerk. Hy het dit lief – so baie – dat hy sy lewe daarvoor sal aflê. Mans kan dit blykbaar doen, want dis hul opdrag. Te goed om waar te wees. Te goed om waar te wees.

Dan kry ons vrou ook hul beurt: Die vrou word genoem in Grieks: die lyf - die Hipotaso. Sy is die hulp wat die man ondersteun. Die woord beteken sy is die paaltjies onder die jetty by die dam. Dit ondersteun as druk daarop toegepas word. Mans druk op ons en ons kan hul bystaan en ondersteun want ons is sterk, standvastig, betroubaar, diep geplant en ons kan storms hanteer. En die manier waarop hul ons behandel – soos Christus die kerk behandel – maak dat ons met al die liefde in ons hart hulle respekteer soos die gemeente vir Jesus respekteer. En die gevolg: die vrou gaan deur die dorp trippel van House of Coffees tot by Chameleon village en vir die ander vroue vertel hoe wonderlik is haar man want sy woorde en dade vermurwe ons harte. Sy dade gaan op haar lippe wees. Net soos die kerk Jesus se dade op hul lippe het.

Iets hier is nie haalbaar nie. Selfs my man sal in die preek vir die jong verliefdes sê dis moeilik haalbaar maar al hoe jy dit kan doen is om in Christus te bly en sy woorde en dade na te volg.... Wys my een huwelik waar dit so werk, asseblief. Die vrou kan in haar kannon in vir almal vertel hoe oulik haar man is en hoe wonderlik hy haar behandel, en sy kan vir haarself jok en dink dit gaan vanself regkom. Sy kan dalk vir hoeveel jare lank haarself bedrieg en dink hy gaan verander en haar begin in ag neem en haar mening begin respekteer, en haar drome respekteer en haar harde werk in en om die huis en die gesin respekteer, maar eendag gaan sy die waarheid moet erken. Dan kan sy of besluit die huwelik is dit werd want daar is meer goed as sleg in hierdie verhouding of sy kan landuit vlug. Dis die moeilikste besluit op aarde. Vra enige vrou wat al by daardie punt gekom het. Dié wat ly is die kinders. Manlief het vinnig ‘n ander pop wat hom verstaan en sy vloerlap sal wees. Party kry selfs ‘n Russiese vrou wat die vloere kan was en skoongeskrop in die bed wag.

Die vrouens wat ek mee praat, dié wat deur hul mans vertrap, verneuk en verskree word, het nog nooit hierdie euforie van ‘n verhouding beleef waar albei partye gelyk is nie. Ek is jammer maar ou Griekie Galbraak hierbinne in my is dik in die wange vandag. Sy braak erg gal. Die meeste vroue staan by hul mans deur dik en dun: Deur mans se besluite wat hul lewe opmors en met tye wel ook opbou. Hoeveel vroue wat ek ken se mans het hul erfporsies, hul opgeboude sakeryke of hul goeie lewe opgemors as gevolg van drank- of ander misbruike. Ek kan hoeveel name opnoem. Oud en jonk. En hoeveel vroue staan maar by die man, want ja, ons is mos die hulp wat by hul pas.

Ja, sal party mans redeneer. Hulle werk hul gatte af vir die wonderlike gesin en wat kry hulle: net ‘n gemoan. Nee, ek ken nie ‘n man wat sy gat af werk vir sy gesin nie. Hy doen dit vir homself, sy speelgoed en sy eie selfbeeld. As ek verkeerd is, los maar ’n vieslike boodskap. Ek praat van huwelike wat ek ken. Ek moet darem hier vir my man intree. Hy gee nie om vir geld nie. Hy sal dit weggee of afskryf ter wille van vrede. Hy doen hoeveel goed gratis vir mense. Hy sal dit ook doen ten koste van sy gesin; so min voel hy vir geld. Ons het deur al ons ellende en besighede verloor en sy voltydse studies, nog nooit honger gaan slaap nie. Ek dank die Here daarvoor.

Dan kry jy mans wat hul vrouens afpers met geld en die geld hanteer asof dit hul eie is. Jou vrou gee haar alles vir jou en die gesin. Sy offer haar drome, haar liggaam en haar emosies op om die groot geldheer te dien, en hy dink dit is SY GELD? Mag God hierdie mans genadig wees. Ek het die grootste afsku in hierdie mans. Dis net nog ‘n teken dat hul niks verstaan van die huwelik nie. Ek kry hierdie vroue jammer uit my hart. Een van hulle vertel my dat haar man haar nie ‘n sent meer as ‘n klein toelaag gee nie om die hele huishouding te beheer, en as sy nie uitkom met die geld nie, is die hel los. Sy word selfs gestraf as sy hom teëgaan, dan gee hy nie geld nie en sy moet

sien kom klaar. Maar hy, hy sit voor in die kerk en die vergaderings en sal haar selfs doktershulp weerhou as sy iets makeer om haar te straf. Dit walg my. En die groot grap is dit – die kinders glo dat hy reg is want oor die jare is hul so ge-brainwash dat van die ma niks oorgebly het as ‘n hopie hopeloosheid nie. Geen selfbeeld, geen droom en geen selfrespek nie. Sjoe, dit vat nou 'n MAN om dit reg te kry.

En die groot grap is dit. Hierdie situasie gaan nie verander nie. Nie al die preke in die wêreld of al die jare wat ons verwyderd is van die Ou Testament se tyd nie – toe is vroue mos gesien as op dieselfde vlak as ‘n hond. ‘n Hond het nie ‘n mening nie, wys nie emosie nie, behalwe as die baas op die werf kom en hy sy stert moet swaai en huppel van plesier. Die man was mos alles in daardie tyd. Wel, ek neem aan mans moes toe die gesin beskerm teen die vyand en het bietjie respek verdien. Hoe verdien hul vandag respek? Suip in die kroeg? Slaan hul vrouens, verneuk hul vrouens, verskree hul vrouens, neem niemand anders in ag behalwe hul eie begeertes en mening nie? Ek ken nie baie mans vir wie ek respek het nie. Dalk kan ek hul op een hand tel. Sean, my breingestremde seun, is een van hulle. Hy verstaan iets van 1 Korintiërs 13. Hier haal ek so stuk stuk aan uit die Bybel@kinders van Hennie Stander:

“Die heel belangrikste ding wat ons moet doen, is om mekaar leif te hê. Dalk dink ek dat ek darem maar oulik is omdat ek ‘n klomp verskillende tale kan praat, maar as ek nie vir ander mense liefhet nie, beteken al hierdie dinge absoluut niks nie. Dalk preek ek baie mooi, of dalk verstaan ek God se geheime beter as enigiemand anders in die hele wereld, dalk ken ek die bybel van voor tot agter uit my kop uit, dalk kan ek met behulp van God dinge doen wat geen gewone mens kan doen nie. dit maak nie saak of ek al die wonderlike dinge kan doen nie. As ek nie vir mense liefhet nie, dan beteken al hierdie dinge niks nie.... Sê nou ek gee al my geld en al my klere weg vir mense wat dit nodig het, en sê nou mense maak my dood omdat ek Jesus se kind is, maar dit gaan nog steeds niks beteken as ek nie vir ander mense lief is nie. As ‘n mens regtig lief is vir Jesus en vir mense dan:

Sal jy nie lelik wees met iemand wat vir almal ‘n pyn gee nie; sal jy altyd gaaf wees met mense; sal dit nie vir jou sleg wees as ander mense dinge het wat jy nie het nie; sal jy nie oor jouself loop en praat nie; sal jy nie dink dat jy darem baie belangrik is nie; sal jy nie met ander mense lelik maak nie; sal jy nie altyd net aan jouself dink nie; sal jy nie oor elke ding kwaad raak en dan net wil stry of baklei nie; sal jy nie altyd terugdink aan wat ander verkeerd teen jou gedoen het nie.... Mens wat ander liefhet sal altyd probeer om hulle te beskerm, hulle sal ook altyd net die mooiste dinge van ander mense glo. Hulle is altyd seker dat ander mense net mooi dinge sal doen. ... ens.

....En natuurlik is die belangrikste dinge dat ons aan God bly vashou (geloof);... dan moet ons glo dat God alles vir ons gaan gee wat hy belowe het (hoop)... en ons moet natuurlik vir God en alle mense lief wees – dis die belangrikste.... (liefde)”

Ek neem aan ons gaan tot ons dood maar kyk in daardie spiëel wat ‘n raaisel is, want antwoorde en oplossings gaan ons nie kry nie. Ons moet maar net aanvaar dat die liefde bedek alles, glo alles en verdra alles. Dit is iets wat meeste van ons vrouens seker in ons leeftyd leer verstaan. Want dis moeilik om mans aldag te verstaan of lief te hê. Dis seker hoekom God ons gemaak het: om ‘n hulp te wees wat by hul pas. En dis hoekom Hy net gevra het om hul te respekteer en nie om hul lief te hê nie!!! (Grappie...) Hulle word wel gevra om ons lief te hê - soos hul eie liggaam!

Ek neem aan dat as enige man hier lees, sy eerste reaksie nie sal wees: “Dankie, Here, hier is waarheid in hierdie onsamehangende gekyf hierbo: ek gaan nou na my vrou toe en ek gaan haar vasdruk en soen en vir haar vertel sy is die beste ding wat nog ooit met my gebeur het en ek sal van nou af haar mening en gevoelens in ag neem.” Nee, die gewone man se woorde sal eerder wees: “Ja, maar Here... hierdie vrou wat U my gegee het... dis mos haar skuld dat ek...” net soos wat Adam se woorde was toe hy en Eva oortree het. Watter man sal hier opstaan en sy vrou nou gaan soen en vashou en sê: “Ek waardeer jou. Ek neem jou gevoel in ag. Ek kan nie hierdie lewe leef sonder jou nie.” En ja, vra gerus om verskoning as jy haar tenagekom het. Sy moes al genoeg kere agter jou deur skoonmaak en jou gevoel in ag neem. Toe, wees ‘n man soos God jou opdrag gegee het! Dan sal jy dalk hierdie wonderlike vrou ontdek... in jou eie huis.

Ek dink: ons vrouens is nou eenmaal so geskep dat ons uitdagings kan hanteer, dat ons druk kan hanteer en dat ons vir iets wil sorg... selfs al is daardie iets dikwels ondankbaar en selfsugtig. Ons sal steeds daarvoor wil sorg. Het ek al dit voorheen genoem dat ek gehoor het dat die enigste ander persoon wat dieselfde naam gegee word as die Heilige Gees in Hebreeus, is die woord vrou: Hulp en Trooster. Dis wie ons is, of ons mans ons nou waardeer of nie.

Sunday, October 16, 2011

Tree aan!

Mev. Doeminie het blykbaar nie veel om oor te kla nie, behalwe dat ek hierdie fenominale, fantastiese, oulike fiktiewe storietjie van my so 'n paar maande gelede vir 'n kompetisie ingeskryf het en nie eers die finale gehaal het nie: dis Afrikaans, my taal, my asemhaal en ek doen dit so maklik... maar dis weereens geweeg en te lig gevind. Ou Drucilla die Dromer hierbinne in my wat altyd so optimisties en vol onwerklike drome is, het gedink dit moes wen, natuurlik! Ek het aan dié storie gedink toe ons gister die teaterstuk, Tree Aan, van Deon Opperman gaan kyk het in die Staatsteater. Dit gaan oor die grensoorlog en ek dink dit het tog vir 'n hele paar ou army-manne 'n pynlike era opgeroep en afgesluit wat dalk nog iewers diep binne gebroei het en gebloei het. Ekself het die dae herroep toe my man Anton sy diensplig gedoen het. (Op die foto is Anton in sy dienspligjare toe ons op vakansie in Botswana was en hy so week of wat af gehad het) Tydens sy eerste dienspligjaar het ek vir hom 'n brief 'n dag geskryf - ek kan mos darem skryf, man, en ek moet sê na 'n jaar van briewe skryf is ons twee toe getroud! Dit wou gedoen wees vir twee mense wat net baie goeie universiteitsvriende was om te vorder tot by 'n huwelik! (Okay, ek het hom dalk meer gelaaik as net 'n vriend, maar ek was ook maar dom, geen vroulike lus of lis nie, maar helaas: Geen man is bestand teen soveel aandag en soveel briewe nie. Ek het na die Tree Aan vertoning bietjie daardie briewe gaan opdiep, maar o, weë, wat 'n soetsappige spul liefdesbriefies - ek het dit na die vyfde brief neergegooi. Dit was soos om dieselfde 'n Mills and Boon liefdesverhaal oor en oor te lees!! Ek het my doodgelag.


Saturday, September 24, 2011

AG TRANE UIT DIE HEMEL, MOEDERLIEFDE TOG!

Mev Doeminie se Annus Horibilis 2011 se pyne wys mos net as sy werklik in ellende verkeer. Daarom is die inskrywings maar min die afgelope tyd. Die pyne is wonderbaarlike minder en verder uit mekaar! Hier trek ons nou by hoofstuk 24 van die pyne. Maar nou net gesels ek met my vriendin en ek wil huil saam saam met haar oor die grootste pyn in haar lewe tans: Moederskap! Ja, ek weet ons moeders het soveel om voor dankbaar te wees en ons mag nie kla nie, maar wragtig! Kinders! Ja, die dierbare bloedjies wat ons gebaar het met pyn en lyding en vir wie ons enige dag ons lewe voor sal aflê, kan naas mans seker die meeste pyn vir ons moeders veroorsaak. En ja, ons bring dit oor onsself... ons en ons skuldgevoel, en ons oordadige liefde, en die feit dat ons so graag superma’s wil wees wat ons kinders die waarhede van die bose lewe wil leer, voor hulle dit self aan hul bas voel, of voor hulle hul eie lewens en dus ook ons lewens vernietig. (Ek praat nou baie lighartig want ek weet soos ek hier sit van my vriendinne met soveel pyn oor moederskap omdat hulle kinders verloor het. Ek weet dis erger as enigiets wat ek hier oor skryf en ek is jammer as ek lighartig oorkom.)

Vir voornemende of jong onskuldige ouers wil ek graag bietjie raad gee, so uit die woonkamer van Mev. Doeminie. Myself het nou net drie kinders: die (special needs) breingestremde agtienjarige wat sy lewe lank 2 gaan bly en hopelik binnekort sal leer om te poef in die toilet! En dan twee pragtige (special needs!) werklik oulike, volwasse tiener dogters (14 en 16).

(Op die foto is my ma, Alta, wat ons met liefde oorlaai het, sonder 'n dag se klagte of sonder om

ooit haar eie drome te verwesenlik. Sy was altyd daar vir ons, geen offer was te groot nie. Ek verstaan dit vandag eers met my eie kinders. Ek kla natuurlik soms maar is so lief vir die goeters dat ek maar kla met so bietjie trots!)

Ma’s is van geboorte af geprogrammeer om hul kinders te versmoor met aandag, liefde en simpatie. Jy sal 'n leeu aanvat, jou man aanvat, die onderwysers aanvat – enigiets wat hul rustige bestaan bedreig, want jy kan nie help nie, dit is in jou. En terwyl jy nog jou huilende bloedjie kan optel en wegdra, is alles oraait. En terwyl jy nog die klere kies en kos en beddegoed, is alles oraait, maar as daai klein mensie hul eie wil en stem ontdek is jy in jou m@$r in. Van daardie dag af, het jy geen mening meer nie, want dit is nie welkom nie. Al wanneer dit welkom is, is wanneer jy moet sê hulle lyk mooi, fantasties, ongelooflik maer en werklik sexy! Ook dan dink hulle jy oordryf, al dink jy sowaar hulle is die mooiste goed wat leef. Jy i smos net die ma - dis jou werk om vir hulle mooi goed te sê sal hul jou toesnou - en ander klere gaan aantrek...

Kyk, so lief as wat 'n mens 'n kind het, so wil jy hul verdomp wurg as hulle hul tienerjare bereik en alle grense van beskaafdheid en ordentlikheid oorboord gooi om hulself te vind in die uitdagende wêreld van die volwassene. Dis omtrent in hierdie tyd wat jy besef al die tyd energie en geld en liefde wat jy op hul gestort het, is jou eie skuld en jy het dit mos uit liefde gedoen, so moet nie iets terugverwag nie.

Want sien, 'n ma mag nie 'n persoonlike mening hê nie, want dit suck, 'n ma mag nie persoonlike uitlatings maak nie, veral nie as dit die waarheid behels nie, 'n ma mag nie OOIT nie, vir jou vertel van 'n puisie wat ryp is op jou gesig of 'n rok wat te kort is of BEHOEDE my, van 'n rolletjie om die heup of die boud of waar dit ook al uitpeul onder 'n te stywe broek nie. Jeans kan nie te styf wees nie of te laag sit nie... of te nou wees nie... - aldus die tieners.

'n Ma mag net komplimente gee want selfs al sou jy met stotterende eerlikheid en sweet wat jou aftap en met sagte woorde jou kind probeer keer om uit te gaan met daardie stywe dingetjie wat alle rolle beklemtoon, dan is jy verkeerd. “So, jy sê ek is te vet?” Nooit nooit nooit mag jou kind 'n slegte selfbeeld kry oor jy raad gee nie.

Jou werk is net om selfbeeld te bou! En sou jy in 'n oomblik van waansin en moedeloosheid en woede die kind iets toesnou soos: “Hoe kan jy dit vir jou broer/suster sê? Dis vieslik!” Dan word die woorde geinterpreteer: “Jy is vieslik. Alles aan jou is vieslik. Ek wens ek het jou nooit gehad nie!” Al antwoord wat jy dan kry is 'n deur wat toeslaan.

Ek wil vir jou sê, onskuldige ma van klein kinders, dat moederskap die ondankbaarste ding is wat jy ooit sal doen. En nee, jy is nie opgewasse nie. En ja, jou hele lewe draai om hierdie kinders wat jy so lief het, wat jy so wil help met elke seerkry, met elke teleurstelling. En al is dit hoe seer, jy sal dit weer en weer doen as jy jou lewe oor kan hê, want as jy eers 'n ma was, dan weet jy wat is liefde, opoffering en trane. En moenie dink jou man gaan dit insien nie... mans oor die algemeen saljou vinnig vertel dat dit jou opvoeding en versmoring en oorbeskerming is wat die kinders so maak... dit het niks met hormone, televisie, groepddruk of Lady Gaga te doen nie.

(Op die foto is ek en my vriendinne 'n paar jaar gelede, almal ma's wat al so baie sakke sout so saam met die Bybel onder die arm moes opeet, om te kan oorleef, met ons kinders se siektes, groeipyne, mislukkings, oorwinnings, vrese, drome, en ongelukkig selfs die dood van kinders. 'n

Ma se enigste troos, hulp en verstaan op aarde is haar vriendinne. Ek dank God vir my ma-vriendinne wat my huil en my lag verstaan.)

'n Ma vertel my nou die dag dat haar kind in die tronk sit, as gevolg van haar. Hy het haar rot en kaal gesteel vir sy dwelmgewoonte, totdat sy als probeer het en later teen hom in die hof moes getuig. Wie kan verstaan dat sy dit uit liefde gedoen het, behalwe 'n ander ma?

'n Paar ander ma’s vertel my hoe hul kinders hul lewe op drank en los seksuele verhoudings weggooi. Ek praat van oulike kinders van in die twintig en dertig. Die ma’s huil soos hul my vertel van hul bekommernis en van hul pyn vir hul kinders wat op hul oudag gaan agterkom hulle het hul lewe weggegooi. Sy mag nooit inmeng nie, en as dit gebeur is sy die alewig negatiewe een wat nooit iets goed kan glo van haar kind of dié se drankverslaafde vriendin/vriend nie. Hoe kan 'n ma wat 'n leeu sal aanvat om haar kind te beskerm, net sit en toekyk hoe bietjie poeier (dwelms) of onskuldige bottel brandewyn haar kind se lewe vernietig? Ja, ons bid natuurlik. Maar die Here hou ook nie 'n towerstaf vas wat hy swaai net as jy bid nie. Die kind moet self 'n wil hê om sy/haar lewe reg te ruk. Wie moet die kind vertel hy’t ‘n probleem? Die tronkbewaarder? Nee, die ma, wat dan outomaties die vark is, en ja, negatief oor alles in die lewe is.

(Op die foto is my pa Josua en sy tweelingbroer Stefaans. Ek het veral respek vir ma's met tweelinge!!)

Behalwe vir die kinders, moet die ma ook altyd die verhoudings in die huis probeer kalm hou, niemand weet van haar ure se gebed, wakkersit, skuldgevoelens, kommer, trane en kop-redenasies wat haar mal maak, want sy sien wat gebeur, meer as die pa, en sy weet wat gaan kom. Want, ons vrouens het 'n sesde sintuig en ons ken ons kinders se harte, ons weet hoe seer die lewe kan maak, maar ons mag nie inmeng nie.

Ek wil net vandag vir alle ma’s sê: God het ons so gemaak, dat ons moet inmeng, met liefde natuurlik, want ons het die Heilige Gees se rol in die kleine gekry: vertrooster, bemoediger,

raadgewer en die een wat sagkens leiding gee. Iemand het eenkeer gesê dat die woord vir helper wat God vir Eva gegee het in die begin, is dieselfde as die woord waarmee die Heilige Gees ook beskryf word.

Die Heilige Gees tree vir ons in by God met woorde as onsself nie woorde het om ons pyn of behoefte mee te beskryf nie. Dis wat 'n ma doen: ons tree in by God as ons kinders/mans met krom en skewe woorde (of skelwoorde) na ons toe kom en ons liefde in ons gesig teruggooi. Feit is, hul verstaan nie hul eie onvermoeë of behoeftes of verdriet nie, en nou reflekteer hulle dit op ons – so ons kan of kies om dit persoonlik te vat en ons oë uit te huil, of ons kan kies om dit net so aan die Heilige Gees oor te dra, sodat Hy dit in die regte woorde/intensie kan oordra aan God. Want, raad het ons nie.

Toe jou eerste ellendige klein bondeltjie-mens sy/haar koppie op 'n ongemaklike plek uitgedruk het, en ons oombliklik ewige liefde en beskerming gesweer het, het ons nie tussen die nageboorte 'n klein handleiding gekry met al die antwoorde oor hoe om kinders groot te maak in 'n onvolmaakte wêreld nie. Ons het nie 'n direkte twitter-lyn hemel toe om ons te help met ons probleme, skuldgevoelens en vrese nie. Ons het net 'n wêreld vol probleme wat ons (met die

beste van ons vermoë en met baie kritiek van ons mans en raad van Oprah en dr. Phil) kan probeer hanteer soos dit kom. Paty lyk dalk of hul dit makliker regkry, maar glo my, as jy 'n ma is dan wroeg jy in jou eie ellende voort en bid dat jy krag kry om elke dag te oorleef of dat jou kinders jou oorleef.

Maar ek glo hierdie ding WERKLIK: Jy is die beste ma wat daardie gebroedseltjie kon kry: al is jy vol twak, oormatige liefde, onbeholpe beskerming en vrot raad. Al is jy vol stupid skuldgevoelens en hartseer trane en oordadige simpatie, en al trek jy oudmodies aan en maak geluide as jy gaap, en trek een kind kwansuis voor, en jok blykbaar as jy sê jou dogter is mooi en al sê jy in 'n bloedige geveg dat jy party dae lus het en vlug die berge uit. NIEMAND op hierdie aarde sal jou kinders ooit so liefhê soos jy nie. Niemand op hierdie aarde sal hul nonsens so lekker kan opvreet soos jy nie. Niemand sal ooit vir hulle so kan bid soos jy nie. Niemand sal hul ooit so kan verstaan soos jy nie. En ja, die tragiese is, eers as hul self groot kinders het sal hul hierdie dinge verstaan.

Die oumense sou maklik vir iets ouliks en dierbaar soos 'n klein baba of diertjie sê: Moederliefde tog! Dis egter nie 'n woordjie wat ek so ydelik sal gebruik nie: dis 'n swaar woord, gelaai met baie liters intense trane van pyn maar beslis ook van vreugde; liters trane wat ons weer en weer sal drink as ons 'n keuse het, want wonderbaarlik, het die Here vir ons vrouens die hart van 'n leeu gegee, die vel van 'n renoster, die grasie van 'n swaan en die broosheid van 'n konyn. (Party het wel die boude van 'n olifant ook gekry, maar dit is 'n heel ander hoofstuk daardie!)

(Op die foto is my pa, Josua, sy tweelingbroer Stefanus, hul sus Mariska, hul ouer broer Chris en hul pa se suster Peggy wat hul moes grootmaak want my ouma is dood met die tweeling se geboorte. My hart breek vir die kinders wat so sonder ma moes groot word. en vir die pa wat al die lief en leed alleen moes hanteer. 'n Ma is net 'n liewe ding wat onmisbaar is vir 'n kind.)

Hierdie liefdesliedjie van Ronan Keating is waar van 'n ma (en van God) se liefde. Lees dit bietjie uit 'n kind se oogpunt wat vir sy ma dit sê en vat dit vir jou asof jou kind dit vir jou sê (al sê hul "nothing at all"):

You say it best, when you say nothing at all

It's amazing how you can speak right to my heart
Without saying a word you can light up the dark
Try as I may I can never explain
What I hear when you don't say a thing

The smile on your face let's me know that you need me
There's a truth in your eyes saying you'll never leave me
The touch of your hand says you'll catch me wherever I fall
You say it best, when you say nothing at all

All day long I can hear people talking out loud (oh…)
But when you hold me near (oh, hold me near)
You drown out the crowd (drown out crowd)
Try as they may, they can never defy
What's been said between your heart and mine

The smile on your face let me know that you need me
There's a truth in your eyes saying you'll never leave me
The touch of your hand says you'll catch me wherever I fall
You say it best, when you say nothing at all…oh


Nou, as jou ma nie so is nie…

As jy tot hiertoe gelees het en jou ma is nie so nie – jou ma kan niks goed van jou sê nie en sy verkleineer jou en vind fout met elke ding wat jy of jou man doen, of sy trek een kind van jou voor en verkleineer die ander, of sy wil jou lewe vir jou lei, dan kan ek die storie vertel. (Ek wil net sê dat dit soms so is, dat jou arme ma weens omstandighede en dinge wat kleintyd met haar gebeur het, nie kan liefde wys nie, maar net kritiek, hoe weet mens hoekom sy so is…?!?) My ander vriendin wat dalk nie genoem wil word nie, vertel op haar 50ste verjaardag nou die dag dat sy as baba aangeneem is. Sy wonder haar lewe lank waar is haar regte ma, hoe lyk sy, hoekom het sy haar weggegee, hoekom soek sy nie na haar nie, hoekom probeer sy na al die jare – as sy nog leef, nie kontak maak met haar nie? So baie vrae… Sy sê sy kon die nag voor haar verjaardag nie slaap nie want hierdie vrae spook by haar, veral noudat sy al 50 word. Sy gaan lees toe maar Bybel en slaan die Bybel oop op ‘n plek en haar oog val op hierdie teks: En dit, my liewe vriendin of vriend, is vir jou, as jou ma jou emosioneel of fisies weggegee het en nie omgee nie… Vir God is jy sy kosbare kind.

Jes 49:15: Kan ‘n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie. Ek het jou naam in my handpalms gegraveer…

My pa se ouer suster, tannie Mariska (85), skryf vir my 'n briefie vandag, so hartseer, oor my pa en sy tweelingbroer se geboorte - baie baie jare gelede. Dit het my aan die hart geruk. Sy was drie en haar ouer broer Chris was 6 toe die tweeling gebore is. Hul ma is toe weens nierversaking oorlede met die geboorte en hul pa was tot op die ouderdom van 75 sonder die vrou aan sy sy wat al die kinders se pyne en emosies en behoeftes en plesiere saam met hom moes deel. Die een mens sonder wie 'n kind nie kan leef nie. Hul tannie Peggy het ingestaan vir die versorging, maar die verlies aan jou eie ma, kan geen kind seker oorvertel nie. Ek wil dus maar weer sê: Wees so dankbaar as jou ma nog lewe. My ma sou nou in September verjaar het, maar
sy is 14 jaar gelede oorlede. Ek mis haar liefde, haar raad en haar omgee, so baie.

(Op die foto is my oupa wie se vrou dood is die dag toe die tweeling gebore is - Josua en Stefaans. Hy moes ook ma speel, 'n rol wat vir enige pa so moeilik is, maar tot op 75 het hy sy taak volgehou, met die hulp van sy sus wat haar lewe opgeoffer het om die ma se rol te speel vir die kinders.)

Monday, September 5, 2011

DIE PYNLIKE DOG BLOEDIGE GEBOORTE VAN SUPERWOMAN

Mevrou Doeminie se Annus Horribilis woeker voort in 2011 en moet nou weer 'n intense selfondersoek deurgaan in hierdie 23ste hoofstuk van my blog. Nadat ek en my liewe man, Anton, 'n helse geveg deur is die week (Ek skat dit was 'n 9.5 op die rigterskaal!) ontdek ek weer 'n dieper en donkerder kant van my lewe. Dit is iets wat my met oorlewing gehelp het tot op hede, maar wat my ook gaan vernietig as ek nie briek aandraai nie. Ek het agtergekom dat ek aan die Superwoman-sindroom ly. Nou ja, vir die oningeligtes wat nie weet wat my gekloonde woord beteken nie, gaan ek nou die derms uitryg.

My ma was die ewige dienaar. Sy het almal en alles gered en gehelp en versorg ten koste van haarself, so, my sindroom is dalk bietjie oorerflik en nie alles my eie skuld nie! Ek ontmoet vir Anton op Universiteit en besef dalk onbewustelik dat ek hom moet red: sy kar het nooit petrol in nie, en ek moet hom met my Mini lifts gee van bakboord na stuurboord. Ek sorg selfs soms dat hy veilig tuiskom na 'n woeste party (wat self 'n tien op die rigterskaal kon stoot!). Maar my verliefdgeit het dalk gesorg dat ek dit as heel normaal en deel van my lewe gesien het. Later (toe ons nog jonk getroud was en onbesonne) sou ek ook sy aan en af drinkery wegpraat of verdedig of goedpraat of wegsteek want ek moet hom red van 'n slegte naam dalk? Hy was immers 'n jong en dinamiese ingenieur oppad boontoe. Later is ons seun, Sean-Jacques, gebore en voor ek my kon kry is hy 15 maande en platgetrek met 'n virus wat hom los met ergere breinskade. (Op die foto is ons gesin so paar jaar gelede, 'n goeie 15 jaar na Sean se breinskade.)


In die hospitaal sê die fisioterapeute: Dit hang van die ma van 'n breingestremde kind af in hoe 'n mate die kind se brein weer gaan herstel of nuwe bane vorm. Ek dink hier is die Superwoman werklik gebore. Ek gooi my alles in om die kindjie te oefen en reg te kry. Ek is swanger met Michelle, maar ek werk my dood in die dag (van 8uur tot 8 uur) om elke spier van sy pap lyfie te probeer oefen en te herstel. Saans is ek hondmoeg en sit wakker omdat ek bang is Sean gaan dood in sy slaap – nie dat hy ooit eintlik geslaap het nie. So gaan dit aan vir jare en jare. Ek is naderhand byna mal van bekommernis oor hy weer 'n stuipe aanval kan kry en doodgaan of oor hy dalk nie gaan regkom nie. Ek het daardie tyd net vir die Here gevra: Ek kan nie meer nie, ek soek vrede! Ek het elke dag gehaat wat ek dieselfde oefeninge oor en oor moes doen want van vordering was daar baie min sprake. Dit het bietjie vir bietjie gebeur en soms nie. En intussen probeer ek Michelle beskerm (en later Chantal) van mense se aanmerkings oor Sean of hul ophef oor Sean wat so oulik en dierbaar is en so mooi vorder. Hulle twee het nooit so baie aandag gekry nie, want die gestremde enetjie wat nooit grootword nie, kry alles. Amper soos 'n nuwe baba in die huis, maar hy bly altyd nuut. Hy bly altyd 'n baba. En as familie of vriende kom kuier, dan oooe en aaaa hulle oor hy so oulik is. Ek moes omtrent my meisies voorstoot en met hul spog om hul te red van verwerping. Want sien, ek moes mos sorg dat hul selfbeeld ongeskonde bly en dat hulle 'n relatiewe normale grootword gaan hê en nie met verwerping sukkel nie. Of nie sukkel met die

tipiese ding van 'n breingestremde in die huis: jou huismense raak skaam vir die lewe en vir die gestremde se snaakse gedrag in die publiek en raak al hoe meer kluisenaars. Of hulle raak al hoe meer afgeskeep want ma en pa gee heeltyd aandag aan die gestremde omdat hy soveel verg en die ander in die huis voel afgeskeep of onbelangrik. Ek kan vandag sê dat ek pragtige dogters het wat goed aangepas is en eintlik as gevolg van die gestremde in die huis heeltemal te volwasse is vir hul ouderdom. Dit is 'n goeie ding.

(Op die foto is ek en Anton toe hy nog in die weermag was en ek hom nog van homself wou red het! Ek dink ek het op die ou einde!) Toe ek eenkeer 'n vrouekamp bygewoon het van ons kerk, het ek vrede gevind wat die daaglikse 8 tot 8 oefening-ritueel aanbetref. My man het mos 'n motto: 'n Mens doen wat jy kan en mens gee wat jy het. Ek het besef dat my gestremde kind se redding en herstel nie van my afhang nie maar van God alleen. Vir Sy geliefde gee Hy dit in sy slaap het ek besluit en begin om my meisies (en Sean) meer te geniet en lekker goed te doen, soos buite stap, by die dam te gaan sit of dieretuin toe te gaan: eenvoudige goed wat natuurlik baie energie verg met die gestremde enetjie saam maar wat ek stadig en met so min moeite probeer aanpak as moontlik. Selfs winkels toe gaan was 'n missie. Ek het met Sean op die rug in 'n rugsakkie gestap, met een kind in die winkeltrollie se sitplek en een in die trollie se laaiplek. 'n Vrolike groepie.

Omdat ons verhouding met Christus meer intens geraak het met ons gestremde kind saam, begin ek toe wonder hoekom mense nie meer in hul gesinne oor Jesus praat nie. Dis mos net 'n kerkding meen almal. Ook in my grootwordhuis is daar min oor ‘diep’ sake gesels. Toe begin ek werk aan 'n Christen bordspel, Kruispad, wat die gesin rondom Jesus se woorde en dade gaan saambring. Ek het gedink: Ek en die Here gaan hierdie ding doen. Ons gaan uiteindelik gesinne rondom die Woord bymekaarbring en hierdie speletjie gaan nog wêreldwyd opslae maak omdat dit so lekker en eenvoudig die Bybelse waarhede by die gesin tuisbring. Ek gaan die wêreld mos nou red. Na 'n paar jaar se navorsing, harde werk (so tussen die kinders se kleuterjare deur) en baie bloutjies wat ek met uitgewers en drukkers geloop het, het ek die spel self finansier, laat druk en begin bemark – met die kosbare tyd wat ek gehad het tussen die kinders se versorging en voorskooljare deur. Groot gesukkel en groot teleurstelling in die wêreld wat ek nie kon red nie. Ek sit nou nog met speletjies in 'n stoortjie al het ek regtig probeer woeker, hoor. Ouers stel blykbaar min belang om met kinders oor Jesus goed te praat of te speel.

So gaan my lewe voort. Op skool probeer ek my kinders red van aaklige onderwysers of situasies waar ek dink hul word onregverdig behandel. Anton gaan studeer voltyds Teologie en ek moet die huishouding red van ondergang, besluit ek. Ek moet sorg dat ons kos in die huis het. Ek doen poppeteater wat bietjie geld inbring, en hou Survivor partytjies op die plot wat bietjie geld inbring. Ek verf muurskilderye vir mense wat bietjie geld inbring. Ek laat ons wonderbaarlik oorleef met die minimum, want ek moet die redder wees. Een ding moet ek van myself sê: ek het besluit om nie 'n werk te doen wat my energie steel nie. Energie was een ding waarvan ek min gehad het en as ek in 'n 9-5 job moes sit en 'n baas se nonsens opvreet, sou ek lankal Groendakkies se hoofdogter gewees het! My redding was (en is waarskynlik steeds) dat ek doen wat my gawes is en daarmee werk en weet dat die Here op een of ander manier die geld inbring vir kos en klere en meer.

So gaan my lewe aan. Ek skryf vir 'n tydskrif, Vonk, artikels oor meestal sukkelende kunstenaars, want ek moet mos hul loopbane en selfbeeld red. En ek is goed hiermee wat ek skryf 'n prentjiemooi storie van elkeen soos ek hulle sien. Ek skryf my boek Wee Monk’s Tale, the Secret of Immortality want ek en die Here moet die mensdom red van onkunde oor die Bybelgeskiedenis en van die demoniese rolprente wat vir ons kinders opgedis word. Die boek hou my besig vir 'n paar jaar, want dis navorsing, skryf, oorskryf, foute regmaak, laat proeflees, uitgewers soek, drukkers kry, naderhand maar self uitgee, want ek moet die wêreld se kinders red al glo min ander in my boek of gawe. Ek en die Here gaan dit doen.

Ek gryp in as ek dink my man word mishandel deur die Tradisionele kerk se Mafia-bestuuspan, want ek moet red. Nou nog sal ek my man wil reghelp as ek dink hy hanteer iemand of 'n situasie verkeerd, want ek moet hom en daardie ouens beskerm. Ek moet die kinders beskerm as ek dink hul kry nie genoeg aandag van Anton nie, ek moet worry oor ons finansies wat wie gaan dit red as ek dit nie doen nie? Tot nou toe het my reddingswerk dalk goeie vrugte afgewerp, maar ek moet nou besef ek kan nie meer red nie en my pos as redder bedank, want dit maak my mal, vreesbevange en neuroties.

So, ek het nou besef ek kan nie meer red nie. Ek kan nie eers my kinders of my man of die wêreld red nie. Ook nie vriende wat hulself vernietig met wat ook al nie, ook nie die hele arm bevoling wat nie kos het nie, want ek kan nie. Die Here kan uit klippe mense voortbring wat sy werk kan doen as my energie op is. Die Here gebruik ander om te help as ek nie meer kan nie. Want Hy is in beheer, nie ek nie. Dankie tog.

Ek probeer nou ontspan oor dinge waaroor ek nie beheer het nie. Laat God’s water oor God’s akker loop. Dit is nie elke dag so maklik nie. Dis net 'n verligting, dink ek. Ek moet minder doen en God meer toelaat om sy eie ding te doen. Of dit is wat ek wil hê of nie. Of my vriende daarvan hou of nie. Ek moet hierdie jaar na myself kyk en dit rustig vat. As ek dus minder energie het vir ander se probleme, is dit goed so. Ek beteken vir niemand iets as ek uitbrand nie. Ek het byna uitgebrand. Nou red ek maar weer: ek werk aan ons Kuierkerk se kinderkerkstelsel. Ek werk 85 lesse uit oor drie jaar. Dit gaan oor die boeke van die Bybel. Ek kan dit maklik doen, want dis my gawe en my ervaringsveld. Ek skryf nog my storietjies vir e-jongspan (www.ekerk.co.za) en as ek agter raak, so be it! Die wêreld gaan nie vergaan nie. My 200 boeke wat ek self laat druk het, is goed genoeg vir die 200 mense wat ek dit al voor gegee of verkoop het. Die feit dat ek nie 'n sent geld maak met enige skryfwerk wat ek doen of ooit gedoen het nie, is nie my probleem nie, want dis koninkrykswerk. Dis die Here se probleem of ons oorleef met Anton se salaris. Ek is nie 'n normale 8-5 werker nie, ek is 'n sendeling in my wese, neem ek aan: iemand wat met die Here se goed besig is, en Hy sal vir my sorg. Ek doen dit nie oor ek so heilig is of oor ek iets wil bewys nie, ek doen dit want ek wil. My leuse in die lewe is inlig, opvoed en vermaak. Dis hoekom ek ook die Bybelse plays skryf vir ons gemeenskap. Laat die wat dit wil kyk, kom kyk, die ander kan maar deur die 'opgewekte klippe' gered of ingelig word. Net verlede naweek vertel 'n ouerige en nog effens tradisionele egpaar vir my dat hul elke show van my gesien het en elke keer verwonderd is oor hoe ek die hedendaagse musiek inspan om God se woord te verkondig. Ek waardeer sulke mense intens.

Ek moet net nie begin wonder hoekom sien ek nie die ‘sukses’ van enigiets nie: God doen wat Hy moet doen om mense te red. En ek glo hy gebruik my klein pogings. Ek moet net nie oor die sin van alles te begin wonder nie. Dan word ek mal. Ek hoef nie die perfekte man te hê of perfekte kinders groot te maak nie of die perfekte gelukkige (volgens my) gesin te hê wat in 'n perfekte wêreld gaan instap nie. Geniet wat jy het en wat jy doen. Wees minder krities op jouself. Hou op redder wees. Dis Jesus se werk. Dankie tog.

So nou en dan gebeur iets om my te herinner die Here is besig: soos toe ek in die Pick and Pay loop eergister en 'n nie-blanke werker van die winkel kom na my toe. Hy sê: “Good morning, mrs. Van Zyl.” Ek is dadelik verdag en wonder wat soek hy van my en sê nie te vriendelik nie: “Goeiemore...” (want hoe op aarde ken hy my van?) Hy sê: “I want to tell you that I have read your book. I work with the kids in my township. We play soccer and I have meetings with them and we talk. And your book has inspired me very much. Have you finished the next one?” Ek is verstom en vra waar hy dit gekry het. Toe sê hy by sy baas se vrou.

Nou ja toe. Die Here doen wat Hy wil met wat jy vir Hom doen. Moenie verder worry nie. Ek sal probeer vir die volgende 50 jaar van my lewe. Gaan ek dit regkry? Who knows? Die ander opsie is om jou dood te bekommer oor alles: die kinders, hul toekoms, jou opvoeding van jou kinders, jou huwelik, jou man, jou vriende, jou geldsake. My vrese sal my mal maak, want ek dink in prentjies en dis nie mooi as dit met vrees gevul is nie. Ek is nie superwoman nie, ek het vroeër so gedink maar dit was in 'n ander lewe. Onthou jy nog die liedjie met die wyse woorde: Que Sera, Sera (Whatever Will Be, Will Be)

Que Sera, Sera

When I was just a little girl
I asked my mother, what will I be
Will I be pretty, will I be rich
Here's what she said to me.
Que Sera, Sera,
Whatever will be, will be
The future's not ours, to see
Que Sera, Sera
What will be, will be.
When I was young, I fell in love
I asked my sweetheart what lies ahead
Will we have rainbows, day after day
Here's what my sweetheart said.
Que Sera, Sera,
Whatever will be, will be
The future's not ours, to see
Que Sera, Sera
What will be, will be.
Now I have children of my own
They ask their mother, what will I be
Will I be handsome, will I be rich
I tell them tenderly.
Que Sera, Sera,
Whatever will be, will be
The future's not ours, to see
Que Sera, Sera
What will be, will be.