Showing posts with label annus horibilus. Show all posts
Showing posts with label annus horibilus. Show all posts

Monday, February 7, 2011

MEV DOEMINIE SE ANNUS HORIBILUS: HOOFSTUK 5 . 'N ONBEPLANDE KINDERWERKER

WAT GAT HIER AAN?
Dié is nou die 5de deel van die lewe van die wroegende en vloekende Mev. Doeminie... vir die ouens wat nou net inskakel! Julle is gewaarsku... My 2 volgelinge wat van dag een af met my was ken nou vir Griekie galbraak wat so nou en dan 'n bittere ding te sê het! Ek besef ek sit met nog vele persoonlikhede in my: daar is Drucilla die Dromer, wat net te groot droom vir haar eie saligheid, en daar is Svetlana die Swetser, en Sara Sukkelgat en dan is daar Rene' die Mev. Doeminie wat al die persoonlikhede moet tem soos 'n wegholperd.

Op die foto is ek en my dogters, Chantal en Michelle, in 2002 in my vroeë jare as kinderwerker by die Kerk - ek was hier Pippie Langkous in 'n konsert tydens kinderweek. Hier was ek nog vol hoop en geloof... gedink ek kan 'n verskil maak en oorleef...

So wroeg ons voort... Met ‘n breingestremde kind in die huis (wat jy as super-ma moet oefen en roer sodat hy darem van sy oorblywende heel breinselle weer kan begin gebruik), word jou lewe vinnig omskep in die wêreld van ‘n terapeut. Dit beteken jou sitkamer is ‘n permanente terapiekamer met bont balle wat rondhang, driehoekkussings, snaakse poppe wat kan praat, boublokkies wat rondlê en kindermusiek wat heeldag dieregeluide uitblêr. Jyself blêr en moee en kloek en probeer enigiets om ‘n geluid of effense beweging uit jou breingestremde kind te kry. Jy voel meeste van die tyd nie lus vir die toertjies nie want depressie hang soos ‘n swart lappop met knopiesoë oor jou skouer, maar jy flippen ‘moee’ en blêr voort. Dis wat jy doen, anders lê jy dalk permanent vir Days of our Lives en kyk, dan kan jy maar jouself oorgee aan werklike depressie! Jy plak naamplakkers op die tv, die mat, die kas, die koppie, die toilet en hoop alles word iewers deur jou kind se stukkende brein ingeneem. Dit is dus geen wonder nie, dat ek uiteindelik na jare se kreatiewe terapie toepas, beland in ‘n kinderbediening.
Eerstens, begin ek dink na my bekering in 1994, hoekom het my goeie dierbare moeder wat voor in die koor gesing het, of my pa met sy sterk afsku in die mispersepsies van kerkwees, nooit met ons oor geloof of oor Jesus gepraat nie. Jy sal katkisasie toe gaan, al is dit in die lewensbelangrike Night Rider se tydgleuf. Die dominee sal jou voorstel en aanneem al dink hy jy is te dom om die tien gebooie en die belydenisgeskrif te onthou. (Ter verdediging wil ek net sê: ek dink in prentjies, mense soos ek is in daardie jare gesertifiseer as iemand met ‘n IK van net meer as ‘n wolfhond s’n en wat in die spesiale klas moet wees, want jy is WEIRD man! Ek bedoel almal weet mos die verskil tussen die wet en die geloofsbelydenis en die Onse Vader! Ter verdediging wil ek net sê dit was 'n onvoorbereide toets... en in die kerk boonop... ek was onder geweldige druk... jy weet?!)
Ek wonder toe oor my ouers se kennis van die Bybel. Wat het hulle en hul tydgenote meer geweet van die Bybel of geloof as dit wat aan hul opgedis is op ‘n Sondag deur ‘n man met ‘n besondere formele stem van doer bo vanuit die hoogste plek in die kerk, m.a.w. die leraar (hetsy bevoeg of onbevoeg, geroepe of ongeroepe, ‘n engel of ‘n ‘vark’? – jammer, ek ken te veel dominees en pastore – hul is in my oë of die een of die ander. Hul steek dit partykeer net goed weg en ek ken dalk op hierdie stadium van my lewe dalk meer varke... Sies mev. Doeminie!)
Ek wonder voort: Het my ouers ooit aan hul eie redding gedink? Aan ander se redding? Het hul ooit gewonder oor wat daardie papiertjie met volle aanwesigheid vir katkisasiebywoning of die dooppapiertjie of die voorstellingspapiertjie vir hulself of hul kind beteken?
Daar is nooit oor geloof in ons huis gepraat nie. Ek het geweet ons gaan almal hemel toe. Ek bedoel ons sit sondag vir sondag in die kerk. Ma sing in die koor. Pa is darem nagmaal daar. Ons is nie moordenaars, skelms of iets anders viesliks nie. Maar tydens my en Anton se wroeging met ons kind se siekte en goeie Christene se mening daaroor (dis ‘n flippen interessante hoofstuk op sy eie!) het ons begin wroeg oor geloof en ons gebrek of misverstaan daarvan. Dus, met my kreatiewe brein wat so op die mat met ‘n breingestremde in eerste rat weggetrek het, ontdek ek die oplossing: Ek gaan ‘n opvoedkundige bordspel maak oor Jesus se lewe en sy leer, Kruispad. Dit gaan gesinne om ‘n tafel laat saamsit, saam milo drink en saam praat oor netelige kwessies en interessante goeters wat in die Bybel gebeur. Nee kyk, ek en die Here self gaan dit doen. Ons twee saam! Ek het ‘n visie! Ek voel ek gaan die wêreld nou omkeer. Met my God spring ek oor ‘n muur...
Maar, helaas...
MY ANUS HORIBILUS MET MY KRUISPAD

Ek wil net sê: Almal wat so kerm en kla oor Harry Potter en wat nie vir hul kinders iets in die plek daarvan kan koop/gee nie, moet ophou kerm. Jy kan nie die kind verbied om iets te los omdat dit vir jou (met jou bonatuurlike gawe van onderskeiding!) demonies voorkom, en niks in ruil gee nie. Kinders wil bonatuurlike avonture en fantasie beleef. Nou vertel die juffrou by die kleuterskool vir my kind feetjies is van die duiwel. Ag asseblief. Hou nou op lees as jy dink feetjies gaan jou kinders in die hel laat beland. Ek dink nie so nie, maar soos ek sê, ek is nie IEMAND nie.
Ek dink: Ouers wat in eng boksies sit in die fetusposisie en duim suig, met verkrampte idees en geen verbeelding gaan kinders in die hel laat beland. Ek was as kind verveeld in die sondagskool, in die kerk en in die skool. Ek was ‘n leser en het alles gelees van Trompie tot Saartjie tot Verna Vels se Liewe Heksie en kan jy glo: die Broeders Grimm (vir die ouens agter die spoor: dis die manne wat verhale soos Sneeuwitjie en Doringrosie geskryf het. Wrede stories. Kabouters. Hekse. Feëtjies! Drake! Appels! En as jy jou kinders van bose goed soos Geel Kabouters en ‘towenaars’ wil weghou, moet ek jou vertel watse karakters ek al op kerkrade sien dien het! Ek sou graag my kinders teen sulke skepsels beskerm. Hul noem dit Shapeshifters in die storieboeke! Die afrikaanse term is dalk tweegatjakkals of psigopaat! Maar dis net my eie verkrampte waarneming en nie die norm nie... vir die mense in die kerk is hierdie manne dalk vroom en ‘Godvresend’, vir my: skynheilige bliksems. (Jammer, Griekie Galbraak kry ‘n woord in.) En natuurlik is daar die ware Christene ook in die kerk en op die kerkraad, maar weet julle, dis die nederige mense wat vrede soek en waarlik Christus wil leef, maar: omdat hulle sag is, word hulle vertrap, verkrag en verjaag. En kry baie seer. Ek ken soveel van hulle. En vandag is ek een van hulle. Die verjaagdes. (Maar die storie hou ek vir laaste... – dis te seer om nou al oor te praat.)
Noudat ek op die onderwerp van die bonatuurlike is: Ons as mens (en kinders ingesluit) wil nie alles in die wêreld kan verstaan nie. Daar moet ‘n misterieuse ietsie wees wat soos ‘n tameletjie te taai is vir ons gedagtes om te kan fynkou. Dis hoe God is. Hy is te groot om te verstaan of uit te pluis. As kind, dink ek, leer ons dit deur te glo aan tandemuise, feëtjies en superheroes om ons filosofiese of kreatiewe breine te ontwikkel om eendag ook oor ‘n onverstaanbare en almagtige God te kan filosofeer. Alles op aarde kan nie net realisties en direk verstaanbaar wees nie. God is beslis nie – as jy so dink, het ek vir jou nuus. God is groter as jou gedagtes. Hy is groter as wat ons kan bid of dink. En net as jy dink jy verstaan iets daarvan, besef jy jy verstaan niks.
Terug by my horibale bordspel. Die Martie martelgatte wat so kla oor alles wat boos is in die media. Waar was julle toe ek al my pa se erfgeld op die Kruispad bordspel-projek spandeer het sodat gesinne saam om die Woord kan leer van Jesus en van mekaar se geloof? Die spel was lekker pret: allerhande prentjiespeletjies en woordraaisels en stomstreke. Ek het my erfgeld gebruik om 2000 van hierdie bordspel, wat ek onwrikbaar in glo en wat pragtig en duursaam geïllustreer is en ten duurste gedruk is, te ontwikkel en te bemark. Die handjievol mense wat dit gekoop het orals waar ek moontlik kon bekostig het om te gaan verkoop en te bemark, was woes beïndruk. Dis tien jaar later en ek sit met maklik 1000 van die 2000 van die goed oor. Ek sukkel selfs om dit gratis vir die flippen tronke weg te gee! Want, iemand kan homself dalk ophang aan my riempies en kraletjies of ‘n dobbelsteen skerpmaak en as wapen gebruik, of die Christelike werker in die tronk besluit dalk dis nie die moeite werd nie, want sien, hulle het ook bonatuurlike onderskeidingsvermoë en weet wat is goed vir wie.
Dom vraag: Hoekom het ek dit self gedruk en probeer verkoop? Ek kry natuurlik nie ‘n uitgewer nie. Ek het my as af probeer om iemand te oortuig dis oulik. Te duur, sê hulle, en buitendien speel niemand meer bordspeletjies nie. Doen dit liewer vir die rekenaar. Een tot een. Ek wil mos flippen juis hê die gesin moet saam vir Jesus ontdek. Ek betaal toe alles met pesier met my erfgeld. Ek, ‘n groot gelowige, ek en Jesus gaan mos die ding nou verkoop dat mense kan wakkerskrik, dink ek, en in my verbeelding sien ek hoe die hele wêreld hierdie bordspel, Crossroad, gaan opraap en hoe dit gesinne gaan saamsnoer.
Ek storm kop eerste in die ding in met die drukkersbedryf. As ek ‘n kat was, kan ek jou sê ek het hier my tweede lewe verloor (die eerste een het ek verloor met Sean-Jacques se siekte). My man sterf byna regtig. Hy ry af Kaap toe om my klomp bokse te gaan optel. Twee ritte na mekaar met ‘n groot sleepwa en te midde van ‘n abnormale reënstorting. (Ek wil net sê dat onnatuurlike groot natuurrampe my en my pogings volg om die Woord te versprei: vandag aanvaar ek dit koes-koes as deel van my bediening.) Toe Anton na die tweede rit terugkom, val ‘n groot muur (‘n tipe baksteen keerwal by ons oprit) as gevolg van die reën inmekaar en val bo-op ons motor, sekondes nadat Anton uitgeklim het. Ek bedoel, waar in die lewe...? ‘n Wonderwerk darem: my bokse en speletjies oorleef te midde van al die reën. Ek haal die speletjies droog uit sopnat verpakkings. Party dae dink ek die goed moes maar daar en dan versuip het want dan sou dit my jare se hoop, teleurstelling, energie en bemarking gespaar het.
Ek werk ‘n jaar daaraan om alles wat ek by verskillende drukkers (weens die groot prysverskille) self gepak te kry en kaartjies uit te sorteer en begin met alle ywer verkoop. Ek skryf artikels oor my verhaal met my gestremde kind en hoe dit my uiteindelik by die Here gebring het; hoe my geloof en my kind my geïnspireer het om hierdie fantastiese bordspel te ontwerp en my hoe ek al my geld daarin gestort het met een motief in my kop: om gesinne saam om die Bybel te laat sit. Ek stuur die artikels na Christen tydskrifte, koerante, kerke, ens. Ek probeer iewers inkom, iewers ‘n oop deur vind sodat gesinne hul hande op die wonderlike Christen bordspel kan kry en so speel-speel leer van Jesus.
Maar ek is niemand, word vir my gesê. As ek nou maar ‘n bekende was wat die tydskrif kan gebruik om meer eksemplare te kan verkoop... Vrouekeur het darem ietsie geplaas, dankie. En finesse nadat ek 'n duur advertensie moes plaas. Ek vra kerke om my getuienis te gee en dan sommer die dag daar te verkoop. ‘n handjievol, regtig nie meer as 5 nie, het my toestemming gegee, want sien: wie is hierdie niemand wat met iets so vreemd soos ‘n bordspel die Here se Woord kom belaglik maak? ‘n Ou pragtige Christen-vriendin, van ons het daardie tyd vir my gesê dat sy met die Here hieroor gepraat het en sy wil net vir my sê dat die Here nie so ‘n bordspel nodig het om sy Woord te verkondig nie. God is te groot om in so iets gebruik te word en verneder te word. Dis dan ook die rede hoekom dit nie verkoop nie, sou sy meen.
Dog, veg ek voort, want met my God spring ek oor die muur, nie waar nie? Dis ook in dié tyd wat Anton voltyds begin studeer het. Ek gaan na skoue, Christen seminare waar ek stalletjies betaal en my longe uitpraat met soveel entoesiasme oor die oulike manier om die Here vir jou kinders te leer. Soms verkoop en 1, soms 5 en soms niks en soms tien. Ek sê weer vir die ouers wat hul kinders van feëtjies en towenaars af weghou: waar was jy toe ek (en mense soos ek) my alles in hierdie spel gesit het en toe jy dit met minagting afgeskiet het, omdat dit R80 (te duur?) gekos het? Dit het my R80 gekos om te laat druk. Net die drukkerskoste. Ek wou net die Here se woord lekker vir ons kinders opdien. (Jammer, Griekie Galbraak neem oor.)
Bemarking is ‘n duur ding. En as jy niemand is nie, is jy niemand. ‘n Niemand is iemand wat nog nie naam gemaak het met boeke wat die Uitgewer-god goed genoeg ag om te publiseer nie. Uitgewers vat ook nie sommer ‘n kans met ‘n nuwe ding nie. Jy kan selfs niemand wees wat ‘n spookskrywer is vir ‘n ou langtand omie wat al honderd jaar geestelike boeke ‘skryf’ maar dan is jy darem niemand wat daaruit geld maak. Dis ook oraait, blykbaar. Maar niemand gaan ook hier van jou weet nie... (Ek’s nou self deurmekaar...)

(Op die foto is ek en Anton in 2002, toe ons nog vol hoop was om 'n verskil te maak in die T-kerk (die tradisionele een) om mense meer oor die Bybel te leer. Hy't voltyds Teologie geswot en ek was voltyds kinderwerker met baie idees en planne en moed en geloof en hoop...!)

Daarom sit ek nou, 10 jaar later nog met van die bokse vol speletjies. Ek is toe moedeloos gesukkel. Die mense wat wel koop, sê dis ‘n heerlike spel vir die gesin en hul word deel van mekaar se geloofsreis. Dit bring nie troos vir my nie. Wat beteken dit vir my wat twee dogters en ‘n gestremde seun moet grootmaak en ‘n man voltyds op universiteit het? En baie geld verloor het met my geloofoortuiging en my geloof in my bediening. Die mislukking wat ek voel in myself, my bediening en my God is groot. Ons sou mos oor 'n muur spring met die bordspel, ek en God... ek hoef mos nie iemand te wees nie? God is aan my kant...
Ek belowe myself om NOOIT weer self enigiets te publiseer nie. Ek het jou nog nie eers vertel van die hoeveelheid van die bordspel se kaartjies wat die drukker nooit verskaf het nie en goed wat verlore was en waarvoor ek moes betaal. En die ure en ure en dae en maande se uitsorteer van kaartjies en in bokse pak nie. Vergeet dit. Griekie Galbraak begin weer loer vir my.
Die Horibilus gedeelte:
Ek het hard hieraan gewerk. Ek sukkel ‘n paar jaar met verkope, vertroue in mense wat jou net afskiet, selfs vriende, wat jou nie ondersteun nie, te midde van die feit dat jy sukkel om jou kinders kos te gee. (Dankie vir die paar wat wel ondersteun het!) Onthou hierdie poging was na ons ons groot besigheid verloor het. Ek het in geloof die projek aangepak, natuurlik baie naïef, maar ek en God gaan mos oor ‘n muur spring. Ek glo mos in ‘n God wat GROOT goed doen? Maar nie vir my nie... nie nou nie... Dis ‘n groot teleurstelling. ‘n Groot letsel op my emosionele brein

Sunday, January 2, 2011

MEVROU DOEMINIE SE ANNUS HORIBILUS: Hoofstuk 1

Die koningin van Engeland het so ‘n klompie jare gelede dit beleef toe haar seuns se huwelike opbreek en 'n stuk van haar kasteel nog boonop afbrand. Sjame. Elke mens beleef dit sonder uitsondering. Jy verwag dit nie, dit tref jou soos ‘n tsunami en nog een en nog een... en voor jy jou kom kry het jy dit:
'n 'Annus horibilus'.
(Dis ‘n Latynse term vir ‘n slegte jaar of soos die Engelse sal sê:
a Horrible year.)
(NS: op die foto is ek en my Sweedse vriendin by 'n Robert McKee 'Story' Seminaar in Londen in 2008. Ja, ek's dalk agter die brug, maar ek weet iets van skryf af. Ek skryf. Dis wie ek is.)

Waarskuwing: Redes waarom jy nie die Blog moet lees nie... (Dis in rooi geskryf, sien jy?)
Hierdie blog is die gevolg van die wroegings en ervarings van net myself en enige verwysing na enige mens of gebeurtenis is heel waarskynlik net uit my wroegende verbeelding gesuig. Aangesien ek al oor veertig is, is die geheue ook nie so goed nie, en kan sekere gebeure dalk baie weird en selfs pateties voorkom.


Hierdie blog is nie vir mense met swak harte of wat glo dat ‘n doeminee se vrou nie mag vloek nie. Ons kan en ons doen, wel, party van ons doen (die ander beleef nooit ‘n annus horribilus nie!). Ek gebruik wel eufemismes soos: flippen en twak (vir die wat anderkant die spoor grootgeword het en weet wat ek bedoel. Vir die ander klompie: ‘n Eufimisme is ‘n versagtende vorm van ‘n woord sodat mense nie beledig voel nie.)
Hierdie blog is nie ‘n wetenskaplike verhandeling nie en daarom gaan ek my taal mix sonder om aanhalingstekens te gebruik of skuinsskrif.


Nou ja, mag die nie-wetenskaplikes en nie-taalpuriste en die vloekendes met sterk harte wat nog oorbly dit geniet want jy vind dalk dat dit jou makliker help deur jou annus horibilus.

Hierdie blog is die gevolg van spesifiek vier krisisse in my lewe:
1. Sonder dat ek dit gevra het of verdien het, sit ek vir ‘n week in Oslo in Noorweë vas, een van die duurste stede in die wêreld, as gevolg van ‘n vulkaan in Ysland met ‘n onuitspreeklike naam wat vuur spoeg en die lugruim besoedel met as. En dit maak dat ek die belangrikste afspraak van my lewe in London mis. ‘n Afspraak wat ek al vir ‘n jaar voor beplan en voorberei en bid (en die hoogtepunt van jare se worstel, swoeg en sweet aan my storieboek.)
2. ‘n Paar leiers in ons kerkgemeenskap maak dit hul besigheid om my man te vernietig. My man, 'n opgeleide predikant (met M-grade en al in Teologie aan Tukkies verwerf) is iemand wat nie tradisioneel glo dat die Bestuur van die kerk die hoogste gesag in die Tradisionele kerk (Ons noem dit die T-Kerk) is nie, maar wel God. Onder hulle is ‘n paar mense wat hulself goeie vriende genoem het. En elke kerkvergadering wat gehou word, openlik en agteraf, word gehou asof God nie deel is van die beplanning nie – en mense se agterbakse en selfsugtige planne vier hoogty (soos ek sê – dis net my eie verwronge persepsie. Dalk is dit nie waar nie.) Die deel van die vriende verloor is wel waar. Goeie Christenmense... Ek stem saam met Ghandi... Your Christ I like, but your Christians I don't.
3.Ek vrees ‘n hospitaal en diegene wat daarin werk as gevolg van my ouers wat ek verloor het weens swak behandeling en my gesonde seun wat breinskade opgedoen het op 15 maande ouderdom as gevolg van dokters se swak diagnoses. Dus: My twaalfjarige dogter moes ‘n rugoperasie van agt ure lank kry. En ek weet nie meer as gevolg van punt 1 en 2 hierbo of ek God hiermee wil vertrou nie. (En ek sê dit met vrees en bewing, want ek is in ‘n gat van vertwyfeling en wroeging, en ek is net eerlik. Al weet ek diep, diep, baie diep, binne in my dat God wel in beheer is... My Annus Horibilus sê anders!) (Hierdie operasie is suksesvol voltooi in 2010, dankie Here, vir daardie genade!)
4. Ek sukkel met mense vertrou, met kritiek hanteer elke keer wat ek my kop uitsteek met my skryfwerk (en so bietjie buite die boksie dink) dit gebeur baie omdat ek gemeenskap musiekblyspele skryf - Bybelse verhale met moderne musiek, soos Abba, Celine Dion, Elvis en Queen. (Sies, mev. Doeminie, jy van alle mense kan mos nie so iets doen nie - ek bedoel - jy is tog MEV. DOEMINIE!). As jy dink Queen is nie uit die hel nie, wat van ons kinders? Sjame, man.)
Ek hoop my pad van twyfel, kommer, woede, vreugde, humor, pyn en angs kan jou dalk op een of ander manier help deur jou eie geloofspad. Soos ek hier skryf is al hierdie dinge aan die gebeur in my lewe en ek weet nie wat die uiteinde van my boek gaan wees nie. Maar ek worstel met God... dalk soos daai engel met Jakob gestoei het. (Ek het dalk 'n gewigsvoordeel wat Jakob nie gehad het nie...)

Mag God my deur my geloofs-geveg help en verras.

René van Zyl
*Predikantsvrou (nie uit vrye keuse nie, maar die Here vertrou my blykbaar hiermee.)
*Eks-joernalis
*Eks-PUK Kommunikasiekunde (Honeurs) student
*Kinderwerker, -poppemeester (Puppetmaster!) en stemkunstenaar.
*Sukkelende skrywer (wat niks kan skryf wat die suiwer Suid Afrikaanse mark kan bevredig nie. Verhale met historiese agtergrond wat in ander lande soos Ierland en Noorweë afspeel, is blykbaar nie op ons tieners se leeslysie nie, aldus 'n groot Afrikaanse uitgewer. )

NOG WAARSKUWINGS
(Of redes hoekom jy liewer nou moet ophou lees...)
As jy tot dusver nog nie van verveling ophou lees het nie, kan die volgende bekentenisse oor myself jou dalk verder afskrik en laat afsit na die naaste Drankwinkel om jouself aan Johnny Walker te gaan vergryp. (Moet net nie die hele blog sit en deurwroeg en aan die einde sê jy’t nie geweet ek is so ongekultifeerd en ongeskik nie!) So...
Ek lees (en geniet) die Huisgenoot.
Ek is mal oor fliek. Ek is mal oor fliek. Ek sien geestelike (Christelike) lesse in flieks - wel nie die ergste Tarrentino-bloedspat-moord-en-doodslag nie - die res.
Ek kyk televisie. Ek’s mal oor Survivor, Chuck en Desperate housewifes en Geraldina die Tweede.
Ek lees tans net Deon Meyer (Afrikaans) en Terry Pratchett.
Ek geniet TMAS (The most amazing show op SABC TWO!) onnatuurlik baie. Ek is verstom oor Twakkie en Corné se flymskerp, dog totaal natuurlike, toneelspel. (As jy nie weet wie hulle is, moet regtig nie worry nie. Regtig nie... dit het my ook vriende laat verloor.)
Ek het ‘n bruin beld in karate, JKA. Ek’t opgehou op universiteit want, ek bedoel, wie gaan twee keer ‘n week klas toe om dik getik te word deur ‘n ou met die naam Stoffel en met ‘n derde rooi strepie op sy swart beld? Have a heart! (Ek moet erken, en dis die moeilikste bekentenis: dat ek verlief was op Chuck Norris vir die grootste gedeelte van my skoolloopbaan. Ek is jammer.) Ek is nou verlief op die wolfman in die Twilight sage: Jacob. Sjoe, mevrou Doeminie!
Ek kan ‘n beter vloermoer gooi as ‘n tweejarige (dis nou as ou Griekie Galbraak diep uit my onderbewussynse galblaas horibilus uitspring). Dis nie verstandig nie, want jy verloor vriende. En ek't nogal baie verloor in 2010. Sies, mev. Doeminie!
Ek is mal oor Nataniël. Hy’t dan al selfs ons mevrou doeminies in Pretoria toegespreek!
Ek (wel, nie ek nie, dit was my alter-ego, Spike, ‘n blou seuntjiepop met kroeshare) het al op ‘n radioprogram vir onskuldige Christenkindertjies die woord Platipus genoem in ‘n storie oor die skepping. Ek (en Spike) is nie weer genooi nie. Ek moes dalk die woord: eendbekdier gebruik het. Maar, dis nie ek nie. Ek glo aan inlig, opvoed en vermaak - het dit in Joernalistiek geleer.
Ek het al tydens ‘n poppeteater vertoning by ‘n klein ordentlike teater die gediggie van: Dis die groen dis die blou, dis die brooklax wat ek kou... ens. ens... tot die ou toilet toe hol... en als, opgesê – al het ek dit nie tot op die besonder morsige einde geken nie. En al het ek nooit tot op die einde vertel nie, is ek ook nie weer teruggenooi nie. (Dit was ook nie ek nie, maar my alter-ego, Stoffel, ‘n wollerige grys hond met tennisballe vir oë). ‘n Bekommerde moeder het na die tyd gaan kla oor die gedig dalk haar kind kan ontstel. (Ek vra die vraag: Ek wil net weet hoe sy die gedig ken en hoe weet sy hoe dit eindig? Ek weet nie eers nie... wel, ek weet vandag van die ‘twak’ in die broek en so aan, maar ek het nie toe geweet nie!) Sies Mev. Doeminie.
Ons mag nie ‘n Leon Schuster fliek in ons huis kyk nie. Ek is mal oor Leon en dink Mama Jack en Mr. Bones is van die beste Suid-Afrikaanse flieks ooit, maar Sean, my breingestremde, het die woord ‘p**pol’ in al sy gebrekkige sinne begin gebruik. Dit sê so lekker en alhoewel ek nie dink dis so ‘n danige vloekwoord nie, het ‘n vorige juffrou van hom gedink die duiwel self val haar aan as Sean by die skool kom en haar links en regs P****l. Ek verstaan haar punt, want skielik sê al die gestremde kindertjies dit ook, selfs die wat nog nooit kon praat nie!
Ek het nooit gevloek nie, maar my amp as Mev. Doeminie het my genoodsaak om sekere woorde onder die knie te kry sodat ek die prentjie van ‘n heilige doeminee en sy vrou vir eens en vir altyd die nek in kan slaan. Ek bedoel, ek het met ‘n ingenieur getrou, die feit dat hy daarna dominee gaan swot het, het my nie moeder Theresa gemaak nie. En dit maak ook nie iets van my vriende nie. Ek het wierd vriende (die wat oor is). Ek sukkel om met skynheilige, sondelose mense vriende te wees. Hulle mix nie hul taal nie, laat nie 'n windjie nie en drink nie eers 'n wyntjie nie. Hulle waardeer nie my woordeskat nie. Ook nie my ellendige gebrek aan respek vir titels soos professor of dominee of doktor nie. Ek bedoel: ‘n mens is ‘n mens. Hy het ‘n naam. En buitendien as hy nie respek verdien nie, gaan sy grade dit nie doen nie.
En laastens: ‘You touch my husband, my kids, my friends... you touch me... Don’t go there.’
Ek kan nie nou nog aan spesifieke verswarende getuienis teen my dink nie, maar ek is seker dit sal stuk-stuk in die blog uitkom. Hierdie is nog ‘n kans om die blog toe te maak. Moenie deurworstel en later sê jy hou nie van my of my swak taal nie (Ek gaan beslis die woord: “doodbliksem” gebruik die een of ander tyd, jammer, en heel waarskynlik “an(n)us”.)

(Word vervolg...)