Showing posts with label Mev. Dominee. Show all posts
Showing posts with label Mev. Dominee. Show all posts

Sunday, January 9, 2011

HOOFSTUK 2: Mevrou Doeminie se Annus Horibilus

Dankie aan my drie volgelinge... waarvan ek een is. Hier is vir julle nog 'n spannende aflewering in die wroegings van 'n Mevrou Doeminie.

(NS op die foto is ek en my Mnr. Doeminie wie se grootste sonde is - volgens die 'Super Christene' - dat hy dink ons is hier op aarde om 'n seën te wees vir ander - soos Jesus was.)
IEMAND WAT NIEMAND IS
Ek dink nie regtig ek is niemand nie, ek het darem ook ‘n lewe. Maar ek is beslis nie ‘n eks-sportstêr of paaldanser met lang bene wat ‘n boek skryf oor my vurige romanse met ‘n sanger of tv-nuusman nie. Ek is ook nie ‘n vrou van ‘n bekende wat ‘n vurige minnaar was van sulke vroue nie. My storie is ook nie normaal nie, alhoewel daar baie soos ek is wat in ellende voorsukkel met hul eie demone en abnormale lewens wat net nie soveel moed het om die flippen storie op papier te sit nie. Ek was al ryk en arm. Ek was nog nie so arm dat ek in ‘n koffieshop hierdie blog sit en skryf nie... soos die Harry Potter tannie nie, want sy was kwansuis so arm sy moes in ‘n koffieshop sit en skryf. Ek is tans nie so ryk nie. Ek suig maar tuis aan my een gebruikte Black-Forest teesakkie.

Ek is egter in so ‘n swartgallige plek in my lewe dat humor nou al is wat my uit my gat van vrot demone en hormone gaan kry, daarom kyk ek terug op my jaar. Ek wil eintlik nog ‘n kursus skryf om jong, onskuldige predikantsvroue te waarsku om eerder glad nie te trou nie, iets soos:
Predikantsvrou 101: Hoe om predikantskap te oorleef en vroom, dog skynheilige, mense te bly vertrou. En te glo God is in beheer al lyk dit of die kerkraad en ryk lidmate in beheer is. Of om te bly glimlag al praat jy met die grootste ou bitterbek-omie in die kerk wat net kritiek het op alles wat jou man sê en doen. Of om jou bek te hou as ‘n juffrou wat nie van jou man se moderne kerksiening hou nie, jou kind onregverdig afkraak by die skool.

Of om mense te vergewe wat ketels in die kerk vir jou toesluit omdat jy die ander dag ‘n vuil koppie in die kerk vergeet het tydens jou ellendige onwelkome bediening se bymekaarkoms. Of om aan te hou met daardie bediening al besluit die bestuurspan om almal teen jou op te steek en jou aksies te boikot. En natuurlik, die mees uitdagende tema: Hoe om ‘n skynheilige *Super-Christen uit te ken en te vermy. (Want hulle trek jou af tot op hul vlak dan wen hul jou met ervaring!)

*Net vir ingeval jy nie weet wat ‘n Super Christen is nie: Dis ‘n persoon met of sonder aansien (geld) wat volgens hom al die pad waaragtig gestap het: jy moet nog ‘arrive’, want kyk, meneer Super-Christen is al deur elke denkbare doop, elke denbare taal, elke denbare seminaar (of kamp of katkisasie), elke denkbare Geestelike ervaring en beproewing – en hy was al ten minste drie keer in Israel. Hoe weet jy dit? Hy vertel jou met vrome smaak hoe geestelik gevorderd hy is en hoe ver jy nog tekortskiet. Hy het geen sonde nie want hy het daarmee gedeel soos elke sondaar moet, anders gaan jy hel toe. (Christus se kruisdood is nie heeltemal so belangrik as die feit dat Superman/woman hier, self sy sonde oorwin het en met ‘n leliewit gewete die hemelpoorte gaan insweef nie). Sommige van hulle kan jou ook allerlei geestelike dvds in die hand stop omdat die goed wat jy lees of luister nie op die vlak is van Super Christenskap nie. (Hierdie dvd’s sluit alles in van hoe Oprah die anti-chris is en hoe die Illuminati alles van Aids tot melk gebruik om die mensdom se getalle in toom te hou – ja werklik.) En natuurlik: hy of sy hoor gewoonlik direk God se stem, wat dag en nag heeltyd met HOM alleen praat (omdat hy sulke gevorderde ore het), hy weet ook wat is reg en verkeerd – wie is reg en verkeerd. En o, ja: Hierdie meneer Super Christen het natuurlik ook alleen die Gees van onderskeiding. As jy nou wil minderwaardig voel en ‘n super-vrot Christen, meng graag met hierdie Superwese, want jou mening en belewenis met God sal nooit op die regte vlak kom nie. En behoede jou as jy 'n tatoo iewers op 'n ongekende plek op jou liggaam het of selfs 'n belly-button ringetjie. Ag nee, dan is jy slegter as koffiemoer.
Nota aan ‘vrot’ Christene: Vir hierdie Super-Christene wil ek net sê dat die moordenaar aan die kruis geen een van hierdie dvd’s gesien het nie, geen doop deurgemaak het nie, geen papiertjie met seëls op of van suksesvolle (volgens die dominee/pastoor) katkisasie voltooiing, of geen ander taal gepraat het, behalwe die taal van: ‘Jesus, onthou my, arme sondaar, as jy in die hemel kom.’
NS. Ek het niks teen dope, tale, papiere, tradisies en rituele nie – behalwe as jy dit gebruik om ander te dwing om soos jy te wees. Ek glo elke mens het die reg om God deur Jesus Christus te dien op sy EIE UNIEKE MANIER.
(Ek wou ook nog sê dat die super-Christen kom uit enige denominasie – al hoe jy weet jy het met een te doen, is as jy daardie gevoel kry dat jy nie goed genoeg is nie. My raad: hardloop weg en vinnig ook. Jy hoef nie met hierdie skepsel te praat nie – jy kan ook nie – gaan praat liewer met iemand nederig, soos Christus.)

Jammer, dis nou weer ou Griekie Galbraak wat aan die woord is (het ek al gesê ek is dalk bietjie skisofrenies want ek het ‘n ou Griekie Galbraak wat elke nou en dan uitspring en haar lippe dik pomp?) Eintlik is ek ‘n ou softie, die regte ek is ‘n dierbare, glimlaggende, hulpvaardige ou swakkeling wat nie vir haar regte kan opstaan nie. Daarom werk skryf nogal vir my.

WIE IS EK NOU JUIS DAT EK IETS KAN Sê?
Die regte ek is gebore in Pretoria in ‘n Sunnyside woonstel in 1965 toe dinge nog anders was. My pa, Josua, ‘n landbouvoorligter, was ‘n man van imbors en my ma, Alta, ‘n helpende hand soos min en het voor in die kerkkoor gesing en het nog gedink dominees is vroom, sondeloos en opreg. In haar oë was die dominee iemand met wysheid en ‘n godheid wat min mense besit. My pa was vies vir dominees omdat hy met een so godsman ‘n fight in die kerkraadsvergadering gehad het oor wie weet wat. Daarna het hy net met nagmaal kerk toe gegaan en het dit verpes as die dominee en ouderling kom huisbesoek doen terwyl hy televisie wil kyk. Huisbesoeke was onaangenaam en spanningsvol. Voor die koppies koud was en die ink op sy tjek teenbladjie droog was, was my pa al met een voet in die TV kamer, besig om Columbo te kyk (Columbo was ook meer aantreklik as ons dominee, moet ek bysê!)
My siening van ‘n dominee was as gevolg van my ouers dus so 50/50. Dit het versleg toe my finalejaar katkisasieklas in die tyd van Knight Rider geskeduleer was. Ek was ‘n rabedoe wat geleef het vir aksieflieks en TV (die bietjie televisie wat ons toe gehad het in doerie jare. Ek dink die Brady Bunch sou ook getel het onder ‘aksie’ in daardie dae!). En om vir Kitt en David Hasselhoff (oftewel: the Hoff) week na week op te offer vir ‘n vervelige les oor die wet en die belydenis, was SO nie reg nie! Ek het die onvoorbereide toets oor die tien gebooie en die belydenisskrif gepluk en die dominee was oortuig ek is ongered. Dit het my min gepla. Al waaraan ek kon dink was nog ‘n avontuur van Night Rider wat ek misloop.
Skool was boonop aaklig. Ek was nie cool nie en het ‘n bos kroes hare gehad in ‘n tyd toe Purdey van New Avengers met haar satynagtige bob-haarstyl die inding was (en GHD haar- straightners was daar nie). My pa het my altyd gespot en gesê ek lyk soos Leo Sayer (weereens ‘n naam en bos hare wat net die langtanne sal onthou). Dit het nie goed afgegaan by my nie.
My pa het egter altyd gesê ek is uniek want ek kon dinge nogal op ‘n vreemde manier doen en beskryf. Dit was vir my goed genoeg dat ek uniek is (al het ek kroeshare gehad). Ek was nooit dapper of het uitgestaan met sport of akademie nie. Ek het probeer perdry maar was meer afgegooi as wat ek bo gebly het. Oom Mof met die wit bakkie en turksvyplaas het ons op ‘n Saterdag opgelaai by die groot boom op die hoek en dan het ons daar gaan perdry. Dit was die eerste les in vertroue op God se genade wat ek werklik verstaan het. Ek moes maar altyd meer klou as ander om bo te bly. In my kop het ek egter gelyk soos Lara Croft of Zena, die warrior prinses. En een belangrike lewensles het ek daar geleer: om bo te bly – al kan ek vandag steeds nie ‘n perd beheer nie. ‘n Perd sal vir my nie afgooi nie; ek kan klou. Dis buitendien te flippen seer om af te val.
So worstel ek deur Duits en Wetenskap en Wiskunde op die Hoër Volkskool Potchefstroom. Ek gaan studeer Kommunikasiekunde met joernalistiek net omdat die Voorligting juffrou my met my kroeshare en skaamgeit suur uitgekyk het en gesê het ek sal nooit ‘n joernalis kan wees nie. Te stil en te flippen stupid, het sy seker gedink, om nie te praat van die hare nie!
(Ander keer meer oor my universiteit belewenis oppie PUK! (Potchefstrooms Universiteit vir Coke, Hamburgers en Ontug het ons dit genoem!) En jy mag nie gedans het nie, en ook nie gestaan en vry het nie want dan dink hulle jy dans. So, jy moes maar lê en vry... Ag ja, die goeie ou dae...

Sunday, January 2, 2011

MEVROU DOEMINIE SE ANNUS HORIBILUS: Hoofstuk 1

Die koningin van Engeland het so ‘n klompie jare gelede dit beleef toe haar seuns se huwelike opbreek en 'n stuk van haar kasteel nog boonop afbrand. Sjame. Elke mens beleef dit sonder uitsondering. Jy verwag dit nie, dit tref jou soos ‘n tsunami en nog een en nog een... en voor jy jou kom kry het jy dit:
'n 'Annus horibilus'.
(Dis ‘n Latynse term vir ‘n slegte jaar of soos die Engelse sal sê:
a Horrible year.)
(NS: op die foto is ek en my Sweedse vriendin by 'n Robert McKee 'Story' Seminaar in Londen in 2008. Ja, ek's dalk agter die brug, maar ek weet iets van skryf af. Ek skryf. Dis wie ek is.)

Waarskuwing: Redes waarom jy nie die Blog moet lees nie... (Dis in rooi geskryf, sien jy?)
Hierdie blog is die gevolg van die wroegings en ervarings van net myself en enige verwysing na enige mens of gebeurtenis is heel waarskynlik net uit my wroegende verbeelding gesuig. Aangesien ek al oor veertig is, is die geheue ook nie so goed nie, en kan sekere gebeure dalk baie weird en selfs pateties voorkom.


Hierdie blog is nie vir mense met swak harte of wat glo dat ‘n doeminee se vrou nie mag vloek nie. Ons kan en ons doen, wel, party van ons doen (die ander beleef nooit ‘n annus horribilus nie!). Ek gebruik wel eufemismes soos: flippen en twak (vir die wat anderkant die spoor grootgeword het en weet wat ek bedoel. Vir die ander klompie: ‘n Eufimisme is ‘n versagtende vorm van ‘n woord sodat mense nie beledig voel nie.)
Hierdie blog is nie ‘n wetenskaplike verhandeling nie en daarom gaan ek my taal mix sonder om aanhalingstekens te gebruik of skuinsskrif.


Nou ja, mag die nie-wetenskaplikes en nie-taalpuriste en die vloekendes met sterk harte wat nog oorbly dit geniet want jy vind dalk dat dit jou makliker help deur jou annus horibilus.

Hierdie blog is die gevolg van spesifiek vier krisisse in my lewe:
1. Sonder dat ek dit gevra het of verdien het, sit ek vir ‘n week in Oslo in Noorweë vas, een van die duurste stede in die wêreld, as gevolg van ‘n vulkaan in Ysland met ‘n onuitspreeklike naam wat vuur spoeg en die lugruim besoedel met as. En dit maak dat ek die belangrikste afspraak van my lewe in London mis. ‘n Afspraak wat ek al vir ‘n jaar voor beplan en voorberei en bid (en die hoogtepunt van jare se worstel, swoeg en sweet aan my storieboek.)
2. ‘n Paar leiers in ons kerkgemeenskap maak dit hul besigheid om my man te vernietig. My man, 'n opgeleide predikant (met M-grade en al in Teologie aan Tukkies verwerf) is iemand wat nie tradisioneel glo dat die Bestuur van die kerk die hoogste gesag in die Tradisionele kerk (Ons noem dit die T-Kerk) is nie, maar wel God. Onder hulle is ‘n paar mense wat hulself goeie vriende genoem het. En elke kerkvergadering wat gehou word, openlik en agteraf, word gehou asof God nie deel is van die beplanning nie – en mense se agterbakse en selfsugtige planne vier hoogty (soos ek sê – dis net my eie verwronge persepsie. Dalk is dit nie waar nie.) Die deel van die vriende verloor is wel waar. Goeie Christenmense... Ek stem saam met Ghandi... Your Christ I like, but your Christians I don't.
3.Ek vrees ‘n hospitaal en diegene wat daarin werk as gevolg van my ouers wat ek verloor het weens swak behandeling en my gesonde seun wat breinskade opgedoen het op 15 maande ouderdom as gevolg van dokters se swak diagnoses. Dus: My twaalfjarige dogter moes ‘n rugoperasie van agt ure lank kry. En ek weet nie meer as gevolg van punt 1 en 2 hierbo of ek God hiermee wil vertrou nie. (En ek sê dit met vrees en bewing, want ek is in ‘n gat van vertwyfeling en wroeging, en ek is net eerlik. Al weet ek diep, diep, baie diep, binne in my dat God wel in beheer is... My Annus Horibilus sê anders!) (Hierdie operasie is suksesvol voltooi in 2010, dankie Here, vir daardie genade!)
4. Ek sukkel met mense vertrou, met kritiek hanteer elke keer wat ek my kop uitsteek met my skryfwerk (en so bietjie buite die boksie dink) dit gebeur baie omdat ek gemeenskap musiekblyspele skryf - Bybelse verhale met moderne musiek, soos Abba, Celine Dion, Elvis en Queen. (Sies, mev. Doeminie, jy van alle mense kan mos nie so iets doen nie - ek bedoel - jy is tog MEV. DOEMINIE!). As jy dink Queen is nie uit die hel nie, wat van ons kinders? Sjame, man.)
Ek hoop my pad van twyfel, kommer, woede, vreugde, humor, pyn en angs kan jou dalk op een of ander manier help deur jou eie geloofspad. Soos ek hier skryf is al hierdie dinge aan die gebeur in my lewe en ek weet nie wat die uiteinde van my boek gaan wees nie. Maar ek worstel met God... dalk soos daai engel met Jakob gestoei het. (Ek het dalk 'n gewigsvoordeel wat Jakob nie gehad het nie...)

Mag God my deur my geloofs-geveg help en verras.

René van Zyl
*Predikantsvrou (nie uit vrye keuse nie, maar die Here vertrou my blykbaar hiermee.)
*Eks-joernalis
*Eks-PUK Kommunikasiekunde (Honeurs) student
*Kinderwerker, -poppemeester (Puppetmaster!) en stemkunstenaar.
*Sukkelende skrywer (wat niks kan skryf wat die suiwer Suid Afrikaanse mark kan bevredig nie. Verhale met historiese agtergrond wat in ander lande soos Ierland en Noorweë afspeel, is blykbaar nie op ons tieners se leeslysie nie, aldus 'n groot Afrikaanse uitgewer. )

NOG WAARSKUWINGS
(Of redes hoekom jy liewer nou moet ophou lees...)
As jy tot dusver nog nie van verveling ophou lees het nie, kan die volgende bekentenisse oor myself jou dalk verder afskrik en laat afsit na die naaste Drankwinkel om jouself aan Johnny Walker te gaan vergryp. (Moet net nie die hele blog sit en deurwroeg en aan die einde sê jy’t nie geweet ek is so ongekultifeerd en ongeskik nie!) So...
Ek lees (en geniet) die Huisgenoot.
Ek is mal oor fliek. Ek is mal oor fliek. Ek sien geestelike (Christelike) lesse in flieks - wel nie die ergste Tarrentino-bloedspat-moord-en-doodslag nie - die res.
Ek kyk televisie. Ek’s mal oor Survivor, Chuck en Desperate housewifes en Geraldina die Tweede.
Ek lees tans net Deon Meyer (Afrikaans) en Terry Pratchett.
Ek geniet TMAS (The most amazing show op SABC TWO!) onnatuurlik baie. Ek is verstom oor Twakkie en Corné se flymskerp, dog totaal natuurlike, toneelspel. (As jy nie weet wie hulle is, moet regtig nie worry nie. Regtig nie... dit het my ook vriende laat verloor.)
Ek het ‘n bruin beld in karate, JKA. Ek’t opgehou op universiteit want, ek bedoel, wie gaan twee keer ‘n week klas toe om dik getik te word deur ‘n ou met die naam Stoffel en met ‘n derde rooi strepie op sy swart beld? Have a heart! (Ek moet erken, en dis die moeilikste bekentenis: dat ek verlief was op Chuck Norris vir die grootste gedeelte van my skoolloopbaan. Ek is jammer.) Ek is nou verlief op die wolfman in die Twilight sage: Jacob. Sjoe, mevrou Doeminie!
Ek kan ‘n beter vloermoer gooi as ‘n tweejarige (dis nou as ou Griekie Galbraak diep uit my onderbewussynse galblaas horibilus uitspring). Dis nie verstandig nie, want jy verloor vriende. En ek't nogal baie verloor in 2010. Sies, mev. Doeminie!
Ek is mal oor Nataniël. Hy’t dan al selfs ons mevrou doeminies in Pretoria toegespreek!
Ek (wel, nie ek nie, dit was my alter-ego, Spike, ‘n blou seuntjiepop met kroeshare) het al op ‘n radioprogram vir onskuldige Christenkindertjies die woord Platipus genoem in ‘n storie oor die skepping. Ek (en Spike) is nie weer genooi nie. Ek moes dalk die woord: eendbekdier gebruik het. Maar, dis nie ek nie. Ek glo aan inlig, opvoed en vermaak - het dit in Joernalistiek geleer.
Ek het al tydens ‘n poppeteater vertoning by ‘n klein ordentlike teater die gediggie van: Dis die groen dis die blou, dis die brooklax wat ek kou... ens. ens... tot die ou toilet toe hol... en als, opgesê – al het ek dit nie tot op die besonder morsige einde geken nie. En al het ek nooit tot op die einde vertel nie, is ek ook nie weer teruggenooi nie. (Dit was ook nie ek nie, maar my alter-ego, Stoffel, ‘n wollerige grys hond met tennisballe vir oë). ‘n Bekommerde moeder het na die tyd gaan kla oor die gedig dalk haar kind kan ontstel. (Ek vra die vraag: Ek wil net weet hoe sy die gedig ken en hoe weet sy hoe dit eindig? Ek weet nie eers nie... wel, ek weet vandag van die ‘twak’ in die broek en so aan, maar ek het nie toe geweet nie!) Sies Mev. Doeminie.
Ons mag nie ‘n Leon Schuster fliek in ons huis kyk nie. Ek is mal oor Leon en dink Mama Jack en Mr. Bones is van die beste Suid-Afrikaanse flieks ooit, maar Sean, my breingestremde, het die woord ‘p**pol’ in al sy gebrekkige sinne begin gebruik. Dit sê so lekker en alhoewel ek nie dink dis so ‘n danige vloekwoord nie, het ‘n vorige juffrou van hom gedink die duiwel self val haar aan as Sean by die skool kom en haar links en regs P****l. Ek verstaan haar punt, want skielik sê al die gestremde kindertjies dit ook, selfs die wat nog nooit kon praat nie!
Ek het nooit gevloek nie, maar my amp as Mev. Doeminie het my genoodsaak om sekere woorde onder die knie te kry sodat ek die prentjie van ‘n heilige doeminee en sy vrou vir eens en vir altyd die nek in kan slaan. Ek bedoel, ek het met ‘n ingenieur getrou, die feit dat hy daarna dominee gaan swot het, het my nie moeder Theresa gemaak nie. En dit maak ook nie iets van my vriende nie. Ek het wierd vriende (die wat oor is). Ek sukkel om met skynheilige, sondelose mense vriende te wees. Hulle mix nie hul taal nie, laat nie 'n windjie nie en drink nie eers 'n wyntjie nie. Hulle waardeer nie my woordeskat nie. Ook nie my ellendige gebrek aan respek vir titels soos professor of dominee of doktor nie. Ek bedoel: ‘n mens is ‘n mens. Hy het ‘n naam. En buitendien as hy nie respek verdien nie, gaan sy grade dit nie doen nie.
En laastens: ‘You touch my husband, my kids, my friends... you touch me... Don’t go there.’
Ek kan nie nou nog aan spesifieke verswarende getuienis teen my dink nie, maar ek is seker dit sal stuk-stuk in die blog uitkom. Hierdie is nog ‘n kans om die blog toe te maak. Moenie deurworstel en later sê jy hou nie van my of my swak taal nie (Ek gaan beslis die woord: “doodbliksem” gebruik die een of ander tyd, jammer, en heel waarskynlik “an(n)us”.)

(Word vervolg...)